Die jeugboek Anna Atoom, wetenskapfiksie en omgewingsgesprekke

  • 0

Jeugboeke moenie vlak gekyk word nie. Boeke kan jongmense laat nadink oor hul eie identiteit en die planeet wat ons almal bewoon. 'n Jeugboek hoef ook nie net in een kategorie geprop te word nie, maar kan deur onderwysers van verskillende vakgebiede ingespan word om met die leerders in hul klas oor die wêreld rondom hulle te praat

In hierdie gesprek tussen Estelle Kruger en Henriëtte Loubser, gesels hulle oor Henriëtte se artikel:

Omgewingsdiskoers in wetenskapfiksie vir kinders met verwysing na die Anna Atoom-reeks deur Elizabeth Wasserman

Jy fokus in hierdie artikel op wetenskapfiksie (WF) vir kinders. Hoe het jou belangstelling daarin ontwikkel?

In 2012 is ek genader om iets vir LitNet Akademies se Kuberklas te skryf oor WF. Ek het begin navors oor die opvoedkundige waarde van wetenskapfiksie en was verstom oor die leergeleenthede wat hierdie genre kan bied. Vandaar dan die belangstelling.

Dit is interessant dat jy WF met ekokritiek verbind. WF gaan (dalk) meestal oor tegnologie en die fisiese wetenskappe as deel van die beskawing. Wat is vir jou die verband van tegnologie met die natuur?

Vir my lê die verband tussen tegnologie en die natuur in moontlikhede. Dit is bykans voor die hand liggend dat natuur en tegnologie as onversoenbare teenpole beskou kan word. Tog kan tegnologie op kragtige wyses tot voordeel van die natuur ingespan word. Die unieke samewerkingsvennootskap tussen University College London en Technology for Nature, waar dierkundiges en tegnoloë nou saamwerk met betrekking tot globale bewaringskwessies, is so ’n voorbeeld. Lucas Joppa, een van die stigterslede van hierdie navorsingsgroep, meen: “Technology has impacted most positively on nature in the past ten years through our emerging ability to achieve near constant monitoring of valuable natural assets. We are creating a powerful nexus of information.”1

Tegnologie kan dus aangewend word in bewusmaking oor, die aansny van en die vind van oplossings vir omgewingskwessies. Die ekokritiek vra vir nuwe maniere van dink oor die natuurlike wêreld en oor die mens-natuur-verhouding. Die vernietigende gevolge van menslike doen en late op die natuurlike omgewing word tydens ’n ekokritiese studie belig. Nuwe maniere om omgewingsdegradering aan te pak word bedink. WF kan, deur kreatiwiteit en in die skep van ’n gevoel van verwondering by die leser, groter bewustheid oor omgewingskwessies bring, want hierdie genre prikkel die verbeelding en dit lok die leser om uit voorgeskrewe, antroposentriese konstruksies van kennis na ’n nuwe manier van beleef en van dink te beweeg. WF bied ’n alternatiewe blik op tegnologiese prosesse. Dit is hier waar die raakpunte tussen die ekokritiek en WF lê.

Kan jy asseblief vir ons meer vertel van Elizabeth Wasserman en die ontwikkeling van haar Anna Atoom-reeks?

Op Elizabeth Wasserman se webwerf2 staan die volgende geskrywe: “Elizabeth Wasserman kry kinders aan die lees en haar stories neem hulle op verbeeldingsvlugte na wêrelde vol aksie en avontuur. Sy glo dat leer pret is en dat die wetenskap meer wonderlik is as towerkuns.”

Elizabeth Wasserman se wetenskaplike agtergrond as patoloog en as professor in geneeskundige mikrobiologie het, veral met die Anna Atoom-reeks (2011 en 2012), vir ’n vervloeiing van feit en fiksie gesorg. Die ontwikkeling van die Anna Atoom-verhale was deel van Wasserman se strategie om haar dogter (en meisies oor die algemeen) in die wetenskappe geïnteresseerd te kry. Die reeks is ’n kombinasie van WF, wetenskaplike feite en avontuur, en dit lewer ook ’n waardevolle bydrae tot omgewingsbewusmaking, die identifisering van omgewingskwessies en ’n herbesinning oor die mens-natuur-verhouding.

Die Anna Atoom-reeks is nie net fiktiewe verhale nie – voortdurend is daar blokkies met wetenskaplike inligting. Kan dit nie steurend wees in die leesproses van tieners nie?

Dit kan dalk deur sommige lesers as steurend ervaar word, ja. Ek dink egter dat dit juis daardie lesers sal prikkel wat eerder in feite as in fiksie geïnteresseerd is, terwyl dit die leser wat agter die avontuurlike storie aanlees, met die keuse laat of hy/sy daardie inligting wíl lees. Dit vorm nie deel van die vloeiende verhaalgebeure nie en daarom kan die feiteblokke bloot oorgeslaan word. Tog bied hierdie inligting interessante feite vir die meer leergierige leser en kan dit dien as aanknopingspunte tot klasgesprekke.

Hoe sou jy die konsep omgewingsdiskoers in 25 woorde aan ’n belangstellende onderwyser verduidelik?

Omgewingsdiskoers is gesprekvoering oor die mens-natuur-verhouding wat nuwe insigte bied oor ’n harmonieuse saambestaan en wat as bevraagtekening van uitbuitverhoudings met die natuur kan dien.

Wat is die verband tussen vroue en die natuur en hoe word dit in groen teorieë gemanifesteer?

Vroue word allerweë, vanuit ’n patriargale perspektief, as sinoniem met die natuur beskou – as minderwaardig, alles gedogend, alles opofferend en daar om misbruik te word. Feministe en ekofeministe trek ’n parallel tussen die vrou en Moeder Natuur as die mishandelde, marginale vroulike liggaam. Volgens die ekofeminisme lei patriargie tot hiërargisering en tot uitbuiting van vroue en van die natuur. Sommige ekofeministe beskou ook wetenskap en tegnologie as aandadig aan hierdie dominansie.

Vertel kortliks vir ons wat die ekofeministiese temas in die Anna Atoom-reeks is.

Dit sluit temas in soos die reeds genoemde uitbuiting van die natuurlike omgewing vir menslike vooruitgang en gewin. In hierdie geval kom die bedreiging van en die skade aan die natuur deur die toedoen van ’n bose, manlike antagonis. Die natuur kom voor as weerloos en as uitgelewer aan die genade van die mens (soos byvoorbeeld met die uitwissing van spesies). Daar is egter ook die voorstelling van vroulike karakters as selfgeldend en met eie waarde. Professor Sabatina is byvoorbeeld ’n sterk, slim, onafhanklike vrou wat allesbehalwe die selfopofferende vroulike onderdaan representeer. Dit is dan ook telkens deur die daadwerklike optrede en slim vernuftigheid van Anna en haar ma (dikwels deur die inspan van tegnologie!), dat die natuurlike omgewing, en so ook die mens, uit die verknorsing gehelp word.

Die woord tegnologie laat ’n mens dadelik dink aan vooruitgang wat dalk verband kan hou met die “reproduktiewe omgewingsdiskoers”. Hoe word dit uitgebeeld in die Anna Atoom-reeks – is daar ook “weerstandsdiskoers” wat bevraagtekening van tegnologie behels? Kan jy dit kortliks vir ons verduidelik?

In die Anna Atoom-reeks kom albei hierdie vorme van omgewingsdiskoers voor. Daar is byvoorbeeld ’n verheerliking van tegnologie in die tekste, wat met reproduktiewe omgewingsdiskoers resoneer, wat manifesteer in byvoorbeeld gedeeltes soos die bou van ’n magneet wat die aarde se aantrekkingsvelde kan versteur. So ’n wonderbaarlike tegnologiese uitvindsel is ’n voorstelling van menslike voortreflikheid. Daar is egter ook voorbeelde van weerstandsdiskoers, waar tegnologie juis aangewend word om dreigende natuurrampe af te weer en waar tegnologiese uitvindsels tot voordeel van die natuurlike omgewing aangewend word. In die Anna Atoom-reeks kom die waarde van tegnologie, maar ook die verantwoordelike aanwending daarvan, ter sprake.

Wat dink jy – is dit die taak van die taalonderwyser om dmv wetenskapfiksie, of die taak van die wetenskaponderwyser om dmv wetenskaplike feite die leerder oor ekokritiek in te lig?

Die ekokritiek vra ’n interdissiplinêre benadering en dit vereis onderlinge samewerking oor vakgebiede heen. Die ideaal sou dus wees dat omgewingsopvoeding en ontwikkeling van ekokritiese leesstrategieë deel sal uitmaak van elke skoolvak, maar die logiese opvoeder oor die ekokritiek mbv wetenskapsfiksie sal seker maar die taalonderwyser wees, waar fiksietekste ondersoek, ontleed en bespreek kan word vir ekologies-georiënteerde kritieklewering. Niks verhoed egter die wetenskaponderwyser om fiksietekste soos die Anna Atoom-reeks, met die talle feiteblokke, in die klaskamer in te span nie.

Jy skryf: “Die WF-skrywer se rol is om in te lig, bewus te maak, dialoog te skep en die mens se verhouding met die natuurlike omgewing te ondersoek.” Watter kreatiewe hipoteses oor die toekoms van die mens kan dmv die Anna Atoom-reeks ondersoek word?

Lewe in ’n “Ruimte-Ark” byvoorbeeld! Dat die mens ’n alternatiewe leefruimte buite die aarde kan bedink en kan skep sodra voortbestaan hier nie meer moontlik is nie. Regtig, dit is wat in die reeks voorgestel word. Ek dink wat waarskynlik die aanloklikste kreatiewe hipotese oor die toekoms van die mens op aarde verteenwoordig, is die voorstelling van ’n harmonieuse saambestaan van die mens en die niemenslike. Dit bied hoop binne die realiteit van omgewingsdegradering. Die lewe op Mon Petit-eiland, waar die natuur haar rustige gang kan gaan en waar die mens tegnologie so vernuftig inspan dat dit nie skade aan die ongerepte omgewing aanrig nie, waar uitgestorwe dodo’s weer lewe en op die strand saam met ’n half-mens-half-robot en ’n robothond baljaar – dáár lê die krag van fiksie.

Hoe pas hierdie artikel in die trilogie van jou navorsing oor ekogeletterdheid?

Hierdie artikel oor omgewingsdiskoers in WF is die tweede in die reeks artikels oor ekogeletterdheid en die rol van fiktiewe kinder- en jeugtekste in die omgewingsbewusmakingsproses. Artikel een3 bied ’n agtergrond oor die potensiële opvoedkundige waarde van ekotekste en in artikel drie word die waarde van ’n leesreeks wat spesifiek vir die ontwikkeling van ekologiese geletterheid geskep is, ondersoek.

Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op jou horison?

Ek is tans besig met die bogenoemde derde navorsingsartikel oor ’n leesreeks wat deur ’n omgewingswetenskaplike, Danie Schreuder, ontwikkel is om jong lesers oor ekologie, biodiversiteit en skade aan die ekosisteem in te lig. Soos wat die geval met die Anna Atoom-reeks is, is hierdie tekste ook ’n versmelting van fiksie en feite, wat ’n opwindende geleentheid bied om leerders tot ’n groter mate van omgewingsbewustheid en ekogeletterdheid te begelei.

Eindnotas

1 http://www.bbc.com/earth/story/20150703-can-nature-and-technology-be-friends.

2 http://www.elizabethwasserman.co.za

3 http://www.litnet.co.za/die-opvoedkundige-waarde-van-ekoliterere-tekste

Foto van Elizabeth Wasserman: http://www.elizabethwasserman.co.za/biografie/

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top