Die igloe op Buffelskop: 'n Persoonlike terugreis (II)

  • 0

 

Terwyl die konvooi die pad vat teen die Visrivier af na Halesowen-stasie digby ons plaashek by Beulahlands en ons “station of choice”, waar Olive en Cronwright-Screiner ook moes trein vang, dink ek aan die toeval. Nie net het ek hier grootgeword ’n kilometer of drie van haar graf nie, maar my oumagrootjie Gird – my ma se ouma, Jessica Gird – het langs Samuel Cronwright-Schreiner gewoon in ’n straatjie in Melkbaai, die Strand, digby die see. Dit was sy gewoonte om na sy tyd met Olive op Krantzplaats verskeie van sy latere wonings dieselfde naam te gee, en hy’t daar in Krantzplaats, die Strand, langs my Granny-grootjie beland – en, het sy aan ons vertel, hulle het heerlik gestry oor haar vyeboom wat vye drup in sy tuin.

Ons konvooi jaag stowwerig verby Beulahland se bordjie. Stop! wil ek roep, want my hart ruk altyd bietjie as ek hier kom. Maar ons stoot aan, ’n kilometer verder verby Halesowen, nou ’n stasiegebou oorgegee aan die veld en die verval, na Krantzplaats.

Etienne van Heerden by die ingang na die plaas waar hy grootgeword het. Beulahland het eers Beulah of Gerriehoek geheet, en is drie kilometer van Krantzplaats en Olive Schreiner se klipsarkofaag geleë.

Daar klim ons op ’n hoogtetjie bokant die Groot Vis uit. Rivierriet en doringbome omsoom die water en daar, by ’n klipplaat, haal ons die ikoniese foto uit van Olive Schreiner wat oënskynlik vredig op ’n klip sit. Langs haar, macho en wydsbeen, staan haar jong bruidegom, Cron.

Op Krantzplaats: Crocodile Cradock en twee feesgangers (agter) en in die voorgrond Samuel Cronwright en Olive Schreiner. Die ikoniese foto is in die Visrivierbedding agter die besoekers geneem, en oorkant die rivier lê Beulaland.

Cronwright-Schreiner – “Cron” – is onteenseglik ’n interessante man, en hy’s (dalk is ek die eerste en enigste wat dit sê) ook skrywer – en wel van boeiende egodokumente. Hy’t homself as literêre impresario van Olive se lewe, en veral haar dood, deeglik by die Schreiner-teks ingeskryf. Hy skryf soms boeiend – oor treinreise deur die Karoo, of oor ’n swerm skoenlappers wat om ’n rooi aalwynkandelaar saamtros bo-op Buffelskop terwyl ’n jong Olive sy hand vashou en aan hom verklaar: hier wil ek eendag begrawe word. Sy verhaal oor hoe swerms sprinkane treine tot stilstand bring omdat die sappe van hul lywe die wiele laat gly, bly my by. En dan is daar sy fassinasie met foto’s en sy stipte dokumentering van dinge by wyse van die dienste van ene Lidbetter, fotograaf van Cradock, of sy eie getroue “kodak”, soos hy sy primitiewe kameratjie noem. Deesdae is ons hom dankbaar vir hierdie visuele egodokumentasie. Die geskrewe verslae van sy lewe saam met Olive is dikwels onbetroubaar, en tog juis om daardie rede outentiek: ’n doodsdromer, wat die regie van sy voormalige eggenoot se begraafplek en die mitologie wat daaruit sou voortspruit, wonderbaarlik hanteer het: waarlik ’n literêre impresario van formaat.

Samuel Cronwright-Schreiner se boek The Reinterment on Buffelskop
Foto geneem op Klein Gannahoek

“Vertekenings, verdraaiings, verswygings en reëlregte foute of waarhede, die tendensieuse en eensydige beeld ... van Schreiner” is hoe Karel Schoeman oor Cronwright-Schreiner se nagelate dokumente oordeel – en tog, juis wanneer jy begin tob oor die redes agter die hiate en die verbeeldings, is sy geskrifte en foto’s interessant as aanvullende teks tot die Schreiner-romans, die polemiese tekste uit Schreiner se pen (ook briewe, tot drie per dag aan haar vriend Havelock Ellis), trouens, die hele Schreiner-industrie-as-teks. Hy dra by tot ’n dikwels onvaspenbare historie en juis die feit dat hy emosioneel en subjektief is, skryf mee aan die komplekse nalatenskap – solank ’n mens bewus is van ’n kenner soos Schoeman se waarskuwings oor hiate en fabulasies. Dalk moet ons hom en sy storie lees as ’n soort roman, as verhaal binne ’n groter verhaal. Van die krag van die primitiewe media van sy tyd - sy eie dagboek, die koerantjie die Midland News, die private brief, die kamera – was hy baie bewus en hy’t hard gewerk aan sy eie storie.

Op Krantzplaats: Dramaturg Tony Jackman kiek vir Crocodile Cradock en Feesorganiseerder Darryl Earl David – op die presiese plek waar Olive en Cronwright destyds gefotografeer is.

Onder ’n kalkoen is ek nie uitgebroei nie, en voordat ons wegstap van Krantzplaats, laat ek ’n foto neem van my en Darryl David daar by die fondamente van Olive en Cron se huis. Agter Darryl se linkershouer is die bome om die Beulahland-opstal waar ek grootgeword het, en die landerye van my kindertyd. Die geheue is ’n groot regisseur, weet ek, maar die toeval is dalk die grootste krag van die geskiedenis. Min romansiers sal hul hand so geredelik aan die toeval waag soos wat die geskiedenis skynbaar so moeitevry doen.

Na die besoek aan Krantzplaats (waar ons op die rotsplaat in die Visrivier sit waar Olive en Cron destyds gefotografeer is) en Gannahoek ry ons Klein Gannahoek toe. Ons tob oor wat ons by die murasies van Krantzplaats aangehoor het. Ontseteld, op vlug na asemhaal-plek omdat haar asma haar gejaag het, was Olive gedurig op trek – Cradock, De Aar, Hanover, Londen, Kaapstad. Stoomtreine en kapkarre, perde en voetslaan, en later is eers haar baba en toe sy in doodkiste gekarwei.

Feesgangers op Krantzplaats, met Beulahland se landerye in die agtergrond

So, bespiegel ek, vestig sy dié tema van die Suid-Afrikaanse letterkunde - iets wat ek sou beskryf as vervreemding; ’n durende ontheemding en rusteloosheid, die onophoudelike stryd van skrywers om self met plek te versoen. En in haar geval, die spanning tussen lyf en omgewing, wat Paul Walters eggo wanneer hy vir DH Lawrence aanhaal: “We shed our illnesses in books.” Spanning tussen haarself as vrou binne ’n macho wêreld, as wit en boonop Engelse vrou met ’n skerp sintuig vir die politiek.

Ons Afrikaanse mense hou van haar, want sy had instink vir die boere, vir andersheid en marginaliteit. Sy’t die Engelse hoofstroom by tye koppig uitgedaag, en alhoewel gerugte dit wil hê dat sy Cecil John Rhodes begin haat het eers nadat hy haar huweliksaanbod onder ’n perperboom op Matjiesfontein van die hand gewys het, was sy daarna in polemiese geskrifte baie negatief oor Rhodes.

Die argetipiese skrywer dus, wat steekvlieg in die lies van die keiserlike perd is.

Op die walle van die Groot Vis: Crocodile Cradock en Schreiner-kenner Stephen Gray

Vir my as kind was Olive Schreiner die moontlikheid om ánders te wees, om te ontsnap aan die droogtes en stowwerigheid van die sestigerjare, die vervelende skooldae, die saai dorpslewe. Hier was mitologie, storie, spokery. Ek eien haar as die vroedvrou van my oeuvre. Of as dit dan te seksisties klink: die stasiemeester van my fiksionele treine. Voordat ek enigiets wat sy geskryf het, gelees het, het sy met my gepraat. Sy was die vrou met die vermanende oë in die Schreiner-kamer in die Cradockse biblioteek. Dit het nogals gehelp dat sy – nes ek as kind - swaar asma gehad het.

Laat ons haar egter nie te veel romantiseer nie, merk iemand in die motor op. Sy’t deeglik vasgeheg in haar tyd, en ideologies fynbesnaardes sal kan torring aan haar uitbeelding van swart karakters en die Afrikaner – en met reg!

Maar wat ons wel kán sê, is dat sy nie vasgesit het in die klein, Engels-koloniale wêreldjie van haar tyd – wat ’n comfort zone sou gewees het met voor die hand liggende formules van verset en dissidensie – nie. Sy’t uitgebreek en as goewernante by Afrikaanssprekende boeregesinne gaan werk, en haar later as simpatisant vir die Boere-saak tydens die oorlog bemoei. Sy’t nagedink oor die toe reeds komplekse Suid-Afrikaanse ruimte van haar tyd – iets wat nou nog voelbaar is in kontemporêre Cradock. Want met hierdie besoek kom ek weer eens onder die indruk van Cradock as pioniersruimte – ’n frontier town op die grens tussen die westelike Karoo en die sukkelende Oos-Kaap.

Crocodile Cradock, ’n TV-kameraman en Paul Walters van die National English Literary Museum te Grahamstad. Agter is die murasie van Olive Schreiner se huis op Krantzplaats

By Krantzplaats se hek swaai ons links, ry in ’n stowwerige streep na Lime Bank (eens Ongeluksfontein, maar die “g” was te moeilik vir Engelssprekendes om te bemeester), waar ons regs swaai om die stowwerige kom tussen Vanheerdenskop en die Gannahoekberge te bereik.

Ons ry verby oorlewering en mites en bakens soos Vanheerdenskop, waar Olive glo ene Malan se hand in die as geslaan het, met die gevolg dat hierdie verlate vallei van toe af meewarig “Olive’s Loss” genoem is.

Darryl Earl David, Etienne van Heerden en André Knoetze

Vanaf die mooi Groot Gannahoek-opstal, waarvandaan die Cawoods deesdae ’n jagplaas bedryf, volg ons ’n tweespoorpaadjie tussen doringbome deur. Die bakkie met Crocodile Cradock agter die stuur en die slaperige Duke agterop word deur ander viertrek-voertuie gevolg. Die konvooi brul en skud deur opgedroogde lope, vleg tussen pendoringtakke deur, verby springboktroppe wat spoggerig die wind drink. Ons sien skugter blesbokke en ’n volstruis wat op komieklike hakskene wieg asof hy ’n wafferse kapkar is.

Ons hou stil en begin agter Crocodile Cradock stap. As jy Olive destyds sou vertel het dat ’n man met so ’n bynaam in die jaar 2010 ’n geselskap na die ruïnes van haar woonplek op Klein Gannahoek sou lei, sou sy jou nouliks geglo het.

Maar altemit miskien, soos hulle in hierdie wêreld sê, sou sy met haar asmabors en meelewing met die underdog nie te meewarig gewees het oor die troepie stedelinge wat die steiltes oor gruisklippers en verby pendoringtakke moet uitstruikel nie.

Hier by Klein Gannahoek is net ’n fondament en ’n paar stoeptrappies oor. Vir ses lange maande het Crocodile Cradock hierdie argeologiese terrein verken en snags onder ’n doringboom geslaap. Die ruïnes is vir baie jare as skaap- en bokkraal gebruik, en eers moes die mislae weggeskraap word, toe is die fondamente stadig blootgelê en elke skerfie porselein of medisynebotteltjie is met ’n kwassie skoongeveeg, gefotografeer en aangeteken. Uiteindelik kon ’n vloerplan opgestel word, met presiese aanduidings waar Olive se kamer was.

Ons klouter en sloeg oor klippe en versprei in verskillende grade van stilte. Iemand loop ’n ver draai en luister na die niks en kom terug en sê: “Ongelooflik dat mense hier, juis hier so ver van als, ’n huis opgerig het; kans gesien het.”

Van Heerdenskop en Olive’s Loss: Feesgangers by Kleingannahoek se murasie

Sy sou darem geglimlag het oor hierdie “motley crew”, sê ek aan dramaturg Tony Jackman terwyl ons met die slingerpaadjie by Vanheerdenskloof opsukkel. Sy reaksie: Laat ons dankbaar wees dat sy nie in hierdie eeu van Facebook, Twitter, blogs en e-pos lewe nie, want met daardie woelgees van haar sou ons nooit ophou hoor van haar nie.

Ons gaan staan almal vir ’n rukkie tussen die fondamente van wat Olive se kamer was, hier aan die sykant van die huis. Ja, hier het sy – volgens literêre impresario Samuel Cronwright-Schreiner – aan The Story of an African Farm begin skryf.

Of dalk is dit sy wat hierdie feit vir die nageslag bekook het - mens weet nie. In hierdie stowwerige kom met sy doringbome en spoelslote gaan dit swaar om anekdote van historiese feit te onderskei.

Stephen Gray, lid van die geselskap en ’n kenner wat jare lank al uitpluis aan die Schreiner-nalatenskap en vermaaklik oor Schreiner gesels, stap eenkant. Ek hou hom dop - ook hy is onder die indruk: hoe oneindig die afstande en gehard die veld.

Darryl Earl David en Stephen Gray, wat besig is om ’n satiriese Schreiner-teks voor te lees

Vintage Rhodes-professor Paul Walters spreek ons toe. Hy is van Kwaker-afkoms en ken die Schreiner-geskiedenis op die punte van sy vingers. Hy is mederedakteur van Olive Schreiner, her Reinterment on Buffelskop, waarin Cron die herbegrafnis van Olive tesame met haar babadogtertjie en die foksterriër Nita in die sarkofaag suidwes van Cradock beskryf. Jare later is hierdie regisseur van literêre mitologie self die igloe in.

Crocodile Cradock, uitgevat vir die aand, en (agter met die snor) Brian Wilmot

Die derde NELM-afgevaardigde is Brian Wilmot, wat deesdae die gerestoureerde Schreiner-huis (nou ’n museum met opvoedkundige fasiliteite en – interessant – Schreiner se boekery) bestuur. Die huisie lê onder die 1976-vloedlyn, daardie jaar toe die Groot Vis sy walle oorstroom het, en hierdie feit is ’n paslike herinnering aan die verganklikheid van dinge.

Die geesdrif van NELM se Groot Drie inspireer my ook, en ’n prentjie spring in my kop: van Olive wat vir jare met haar dooie babatjie in ’n kis onder haar bed leef. Op kapkarre en treine, deur die droewe land van stof, eindelose paaie en driwwe en sonbesies en snerpende son hop die kissie saam met ketels en opgerolde beddegoed, ’n leersakkie boeke en ’n boksie medisyne vir haar asma.

Die skrywer-joernalis Tony Jackman is ook hier, want hy’t pas ’n toneelstuk oor Olive en haar (in sy woorde) “loathing” van Cecil John Rhodes geskryf, Bloody Britannia. Dit wil ’n blik vanuit kontemporêre Suid-Afrika gee op haar lewe en werk.

Tony Jackman vertel van sy toneelstuk oor Olive Schreiner.

Die geselskap op Klein Gannahoek. Heel regs is Paul Walters en Crocodile Cradock van NELM in Grahamstad

Aan al hierdie dinge staan ek en dink terwyl Paul Walters en Basil Mills Klein Gannahoek-bakens uitwys. Dáár is die dam waarvan Cron skryf, en dis waarskynlik die groot rots wat uit die kranse losgewoel het waarvan hy melding maak. Dalk het Olive hier op die klip gesit nadat sy haarself in die dam gaan was het. Die piekniekmandjies word uitgehaal en ons luister na die sonbesies. Die kameraspan neem lang, verlangende skote. Die verlede is ’n ander land, het einste Karel Schoeman immers verklaar.

Die TV-span kyk uit oor Olive’s Loss

Daar word bespiegel of Olive werklik hier aan die beroemde The Story of an African Farm begin skryf het. Soos Schoeman in sy biografie verduidelik, het Olive dikwels die woord skryf gebruik wanneer sy bloot verhale sit en uitdink het, lank nog voordat sy hulle neergepen het. Uit haar geskrifte is dus moeilik af te lei of geskryf het beteken dat iets reeds op papier bestaan, want al handswaaiend het sy daar op Klein Gannahoek tonele uitgespeel, en wie weet, daar is dalk baie verhale wat so geskep is maar wat nooit op papier bestendig is nie. Is African Farm hier uitgedink, of het sy al hier daaraan begin skryf in die ware sin van die woord?

Die ekspedisie dra swaar aan die dalke en die miskiens, die waarskynlike en die moontlikhede van die verlede; ons struikel oor klippe en koes vir doringboomtakke terwyl ons verby die anekdotiese, wat onafwendbaar deel vorm van die literêre toerisme, probeer verstaan hoe sy hier, en toe, op Klein Gannahoek kon bly: in hierdie klein gehuggie teen ’n berghang, as - in Karel Schoeman se woorde - “ongechaperoneerde jong vrou”. ’n Goewernante vir boerekinders. “De kleine schoolmisses” het die Afrikaanssprekende boeregemeenskap van hierdie geweste haar destyds genoem.

Crocodile Cradock by die murasie van Klein Gannahoek, waar Schreiner glo begin skryf het aan haar beroemde roman The Story of an African Farm

Haar vervreemding en die onafwendbaarheid van vreemdheid binne landskap wat so deel is van hierdie wêreld, skerp my op vir twee tonele wat ek ure later, terug in Markstraat in Cradock, sien. Tydgenootlike historie binne veranderende tye. Terwyl ek daar op die stoepie voor een van die huisies in Markstraat sit, ry ’n Chinese man verby. Ek herken hom as lid van ’n welvarende Chinese familie met groot handelsbelange op die dorp. Uit my kinderjare onthou ek hierdie familie. Uitgestoot uit die wit gemeenskap het hulle in hierdie armer deel van die dorp op pad na die “lokasie” gewoon, daar waar wit dorp in bruin en swart buurt begin oorgaan het, daar waar apartheid besluiteloos was.

Terwyl ek hier sit, kom gesels ’n jong Zimbabwiër wat by die hotel werk, met my. Hy vertel dat hierdie Chinese familie welvarend geword het deurdat Cradock se bruin en swart gemeenskap tydens die latere apartheidsjare by hulle winkels gekoop het in plaas van by die wit besighede.

Die Zimbabwiër is my tweede voorbeeld uit tydgenootlike Cradock. Hy is een van drie Zimbabwiërs wat as vriendelike kelners die bediening waarneem tydens ons voordragte in die Victoria-hotel. Dis Wêreldbekertyd, en die koerante is vet van berigte oor xenofobiese geweld. Is julle bang en gaan julle terug? vra ek. Want ons lees van Zimbabwiërs wat weens die vrees vir hernieude Xenofobiese geweld die Wes-Kaap verlaat. Nee, sê hy, hier in Cradock is almal verdraagsaam.

Kaia van Heerden en Lisa Antrobus-Ker van die Antrobus-familie, wat hul fasiliteite vir die fees beskikbaar gestel het

Paul Walters en Lisa Antrobus-Ker

Iets lê vir my hier as les vir beplanning van toekomstige Gees van Schreiner-feeste. Wat nodig is, is nie ’n anekdotiese, beperkte huldiging nie, maar eerder ’n omvattende, ruime problematisering: Waar is ons nou, en hoe kan die Republiek van die Lettere bydra tot gesprek en besinning?

Darryl Earl David en Etienne van Heerden in gesprek

Etienne van Heerden, Stephen Gray en Paul Walters

Ons is hier, per slot van rekening, aan die Oosgrens, hier waar Engelse en Afrikaanse en Xhosa-tradisies al jare lank sake uitspook en die lug dik is van die geeste van gister.

 

Daar op die stoep van een van Markstraat se tuishuise, glas witwyn in die hand, wonder ek: Hoe kan ons, verby die doodsverlange en nekrofilie wat ons land skynbaar so dikwels in die greep het, streef? Dalk kan die Gees van Schreiner-fees in die toekoms ’n beskeie rol speel en skrywers uit alle taal- en verteltradisies bymekaarbring; skrywers uit die hele Oos-Kaap en Karoo.

’n Ingedagte Stephen Gray, Schreiner-kenner, op Klein Gannahoek

Mens hoop dus dat hierdie fees meer sal word as bloot ’n stasie op ’n literêr-toeristiese padkaart wat deur ’n bussie vol inisiante geraadpleeg word. Dit verdien om vanuit die Schreiner-industrie uit te groei tot ’n fees waartydens skrywers en lesers kan ondersoek hoe mens ánders kan wees, wat die waarde van dissidensie is, en hoedat die knorrige, vry gees à la Schreiner kan leef en groei.

  • Teks: Etienne van Heerden
  • Foto’s: Menán van Heerden

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top