Die igloe op Buffelskop: 'n Persoonlike terugreis (I)

  • 0

Etienne van Heerden het die eerste Gees van Schreiner-
fees
in die Karoodorp Cradock, waar hy grootgeword het, bygewoon, en lewer ’n persoonlike verslag van die fees en die Karoo van sy kinderjare. Menán van Heerden het die foto’s geneem.

Laatnag in die winter op die pad tussen Willowmore en Graaff-Reinet kloof die motor se ligte ’n gleuf oop. Weerskante is die bosse donker en blits rooi aalwyne verby. Ek ry behoedsaam, want sedert die winter-jagseisoen geopen het, het twee mense reeds op hierdie pad weens springkoedoes gesterf. Die groot gevaar is die stuiptrekkende, rukkende koedoe in die motor nadat hy deur die voorruit gebars het. Die horings en hoewe rig dan die grootste skade aan die passasiers aan.

’n Rooi maan hang oor Aberdeen se kerktoring, laag op die horison. Ek besef weer eens: geliefde land.

’n Ent verby Aberdeen vlek twee massiewe rooi kolle die teer. Groot bloed is hier gelaat en ons word opnuut gewaarsku: ons kom van ver, en hierdie wêreld het min genade met die haastiges van gees.

Darryl Earl David, Etienne van Heerden, Stephen Gray, Tony Jackman en Paul Walters, vyf van die sprekers by die Gees van Schreiner-fees

Die volgende oggend wonder ek: Is dit doodsverlange wat ons klompie wat hier versamel, saambind? Ek kyk na die geselskap wat in Markstraat, Cradock, by viertrekvoertuie en bakkies rondstaan voordat ons op ekspedisie vertrek. Dis Wêreldsokkerbeker-tyd, die hele land vuvuzela, doen die Fan Walk of juig in Jolkolle – en hier trek ons lotjie die vlaktes in agter die dooie skrywer Olive Schreiner aan.

Klein wolkies asem is op almal se lippe. Ons trap rond om die ergste koue af te weer. Dis ’n helder oggend; die tekstuur van die dag is iets waarop jy jou vinger nie kan lê nie: Oos-Kaapse Karoo, Cradock, frontier town. Geskiedenis het by die mure ingetrek en jy lees verhale van armoede en hoop af in die gesigte van werkers wat by ons verbystap en groet.

Daar is onder die lede van ons geselskap by die voertuie ’n stil, skaam vrou wie se blou oë onverwags onder ’n strooihoed uitblits wanneer iets interessants gesê word oor Olive se swaarkry. Sy is van Bloemfontein en wy haar dae aan navorsing oor die vrou wat op die berg begrawe lê. Sy spits haar ore wanneer twee mediese dokters oor Olive se asma en die allergene in die kenmerkende geel bloeiselpoffies van die doringbome bespiegel. Vir my is sy die argetipiese Schreiner-pelgrim.

Etienne van Heerden en Sandra Antrobus, eienaar van die Victoria Manor-hotel en die gerestoureerde Tuishuise in Markstraat, Cradock

’n Kameraman en twee dokkie-vervaardigers in wie se oë ek reeds nou al, hier voor die Victoria-hotel, lang, luierende skote van vlaktes en aalwee en dynserige vergesigte kan sien, laai hul toerusting op ’n bakkie. Vyf minute sal hierdie dag word op televisie.

’n Man met ’n hond aan ’n leiband staan nader. Hy word altyd in die pers as “van Indiese afkoms, uit Howick, Natal” beskryf, want dis skynbaar merkwaardig dat iemand met sy agtergrond hom met die Afrikaanse letterkunde – en nou ook die Engelse Suid-Afrikaanse literatuur – bemoei. Hy was verlede jaar die inspirasie agter die eerste Boekbedonnerd-fees in Richmond en hy is nou weer die ingewer van hierdie beskeie byeenkoms in die Oos-Kaapse Karoo.

Darryl Earl David en Stephen Gray in gesprek op Krantzplaats, waar Olive Schreiner en Samuel Cronwright gewoon het

Hy is Darryl David, dosent in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy praat Afrikaans soos ’n oorbeleefde Engelsman en kies sy woorde pragtig en sekuur. Saam met hom is sy basset hound, Duke, wat die hele gedoente met droewige oë gadeslaan. Duke maak die hele tog met lankmoedigheid mee en moet plegtig op en af die bakkie getel word wanneer ons by ’n historiese Schreiner-stasie arriveer.

Met sagte geduld het Darryl die geselskap aangepor, van ontbyt onder die pragtige kandelare en by die grasieuse tafels van die Victoria Manor-hotel na die wagtende voertuie. Die hotel is geleë aan die plein waar ek destyds ’n vlaggie geswaai het tydens premier Hendrik Verwoerd se besoek aan die dorp. Die twee dosyn gerestoureerde tuishuise wat aan die hotel heg, is nes die hotel die eiendom van Sandra Antrobus, nie-amptelike premier van Cradock. Sy het die huise een vir een aangekoop en gerestoureer en bestuur dit steeds saam met haar gesin. In my kinderjare was haar man, Michael, ons jerseystoet se milk recorder.

Vir geruime jare al handhaaf Sandra ’n mooi verhouding met die National English Literary Museum (NELM) in Grahamstad, wat jaloers oor die Schreiner-erfenis waak. NELM is dan ook die ruggraat van die dag se aanbiedinge.

Stephen Gray het ook as dirigent opgetree.

Crocodile Cradock, ook bekend as Likkewaan Mills, oftewel dan Basil Mills, NELM se opvoedkundige beampte, is ons toergids. Basil begelei graag toergeselskappe na Schreiner se graf en die plekke waar sy hoofsaaklik as goewernante gewoon het, en ook na die Schreiner-museum ’n straatblok of twee rivier se kant toe van die Victoria-hotel. As argeoloog is hy nou gemoeid met navorsing oor Schreiner-memorabilia.

Hy’s op Conway, ’n spoorwegstasietjie noord van Cradock, gebore, het wees geword, en het saam met sy ouma oor plase in distrikte in die omgewing geswerf. Sy ouma was, nes Olive Schreiner, ’n goewernante.

Crocodile Cradock by Krantzplaats se murasies

Terwyl ons by die bakkies wag, vertel hy my dat hy ’n aantal jare gelede Schreiner se ikoniese klipsarkofaag op Buffelskop met groot omsigtigheid herstel het. Hy’t elke klip genommer, die bros sement losgekap en die klippe versigtig uitgepak. Voetjie vir voetjie al om die klip-igloe. Die werkers wat hom bygestaan het, vertel hy, het op die eerste dag laat spaander toe hy die sluitsteen wat klipsnyer Joe Mann in 1921 gelê het, versigtig verwyder het en die kiste, mooi bewaar, se koperbeslag ineens glinster. Die son het op die koper geblits, vertel Crocodile Cradock, en dit het gelyk of ’n lig van binne af vanuit die duister buitentoe blits.

’n Gaatjie in sy macho mondering: hy lyk nog maar senuagtig wanneer hy vertel hoedat hy daardie dag die sluitsteen uitgeskuif en toe vinnig teruggestaan het – “You never know, all the bacteria and whatever stuff which may be in the grave …”

Wat sou ons almal hier soos motte na ’n kers aangetrek het toe ons gehoor het van die eerste Gees van Schreiner-fees? Nekrofilie, ’n fassinasie met die “furniture of death”; ’n soort doodsverlange? Ek is op pad om uit te vind, en herbevestiging te kry vir my fassinasie met die skrywer van The Story of an African Farm.

Die piekniekmandjies is op die bakkie, almal het ’n laaste draai in die pragtige Victoria-hotel geloop, en hup! - daar gaan ons. Die pad loop suid van Cradock al met die Visrivier langs, verby die plaas Beulahland (eens Gerriehoek) waar ek grootgeword het, dan Halesowen-stasie en twee kilometer verder Krantzplaats, waar Olive Schreiner as jong bruid by haar man, Samuel Cronwright-Schreiner, kom aansluit het. In my kinderdae het Krantzplaats Riverview geheet, maar waarskynlik weens die bloeiende Schreiner-industrie is die ou naam nou weer op die bordjie daar teen die grondpad.

Die aand kan begin. Victoria Manor-hotel

Gedekte tafel in die Victoria Manor-hotel
 

Vir my, wat op ’n persoonlike pelgrimstog is om uit te pluis aan my verseëlde kinderjare in hierdie vallei (afgesluit met my pa se dood in 1969), is die plaasborde vol “mooiklinkende name”, en in my leeswerk vooraf het ek weer al die bekende vanne uit my kinderjare aangetref:

Eers is daar die Barbers, die vakansieplaas-eienaars by wie ons in die jaar van my geboorte Beulah met sy rondawels en rye gastekamers gekoop het sodat ons merino-stoetramme in die rondawels kon aanhou – ’n ondersteuningsboerdery vir ons familieplaas, Doornbosch, teen die Toorberg anderkant Graaff-Reinet. Ons het Beulah nooit as vakansieplaas bedryf nie, maar was dikwels poste restante Halesown die ontvangers van nostalgiese poskaarte uit Engeland waarin verlangende vakansiegangers na hul wittebrode – soms jare tevore – of hul jeugvakansies op die kikoejoe tussen die rondawels terugverlang het. Dit was mooi, poëtiese poskaarte, en ek onthou van die handskrifte nog goed – dinge wat my roman Kikoejoe ingegee het.

Die Barbers was die oorsprong van Toorberg se spoke. Een nag is my pa buite met die waterleiery. Ek is twee jaar oud en slaap nog in ’n cot. My ma, alleen in haar kamer, hoor iets in my slaapkamer en kom kyk. Ek staan orent teen die relings van my cot en kyk na ’n kort omie en ’n dame, langer as hy. Albei is formeel geklee in drag uit die Victoriaanse era. Sy’t ’n streng gesig en ’n stywe bolla; sy lyk kwaai.

My ma bly maande lank stil oor hierdie vreemde verskynsel. As wiskunde-onderwyseres hou sy nie van spoke en fieterjasies nie. Toe sy uiteindelik een aand teenoor oud-Cradock-inwoner en buurman Billy Heathcote en my pa bieg dat sy twee spoke gesien het en dat “die kind” – ek – hulle ook aangestaar het en sy hulle beskryf, verklaar Billy Heathcote met stelligheid: dis ’n op ’n haar na ’n beskrywing van ou Mister en Missus Barber, wat albei jare gelede hier in die opstal oorlede is.

Historikus Paul Murray en Kaia van Heerden, Victoria Manor-hotel

Heathcote, en ek onthou klein Herman Heathcote had in my kinderjare blou lippies, en hygend en bleek gaan wys die tenger seuntjie vir my in daardie jaar tydens die groot droogte van die jare sestig hoe sy pa, Billly, turksvyblare opkerf en in melasse roer vir die vrekskape. Saans het Oom Billy die dongas deurgestruikel na ons plaashuis en verhale kom vertel van sy vlug deur die slagvelde van die Tweede Wêreldoorlog. Hy’t oor en oor dié één verhaal vertel: Dis nag, en hy’s al oorlewende aan die Geallieerde Magte se kant. Hy probeer strompelend sy weg terugvind na sy linies. Hy trap in die donker op ’n man se maag, en bulkend laat die sterwende lug uit. “Soos ’n Jerseybul in nood,” het hy altyd gesê. My ouers het diep in die vuur getuur, en ek het na my kamer gehardloop.

Voor in my roman Asbesmiddag het ek na aanleiding van die verliese van die verlede, die droogte van die jare sestig en bleek Billy Heathcote se aalwynblare, uit Bruce Springsteen se “Silver Palomino” op Devils and Dust aangehaal:

Summer drought came hard that year
Our herd grazed the land so bare
Me and my dad had to blowtorch the thorns off the prickly pear
And Mother, your hand slipped from my hair.

Daar is die Cawoods, destyds bekend as groot angorabokkenners en deesdae bedrywers van die safariplaas Gannahoek, met die seun Richard, wat sy minuut van faam gehad het as Big Brother-wenner. Cawood is natuurlik ook die naam van die Butler-seun in Die stoetmeester. In daardie roman het ek vir die boeregesin die naam Butler gekies omdat ek gemeen het dat dit ’n bekende Oos-Kaapse van was. Maar jare later, toe my ma sterf en ons haar kaste uitpak, kom ons af op ’n stel pragtige tafeldoeke en servette. Duur materiaal, versigtig gemaak, met die naam Butler op elke servet en tafeldoek uitgeborduur. Ons het nooit kon uitvind hoe of waar ons as gesin sou kom aan hierdie stel wat my ma al die jare nooit te voorskyn gebring het nie.

Schreiner-boeke wat Stephen Gray kom wys het

Die name kom een-een na my aangeloop op voetpaadjies uit die donker bos van die verlede, voetpaadjies wat vir my voorlê soos ek hulle op hierdie reis kom naloop. Ek het die voorgeslagte van hierdie vanne in die afgelope dae weer nagelees in Samuel Cronwright-Schreiner se geskrifte, asook in Karel Schoeman se groot studie, Olive Schreiner, ’n Lewe in Suid-Afrika 1855–1881. Vir my is hierdie name ook weer ’n soort naamgewing en inpalming van my verlede terwyl ek hier is om skouer agter die wiel te sit van hierdie eerste, lofwaardige poging om ’n skrywersfees op Cradock aan te bied.

In my geheue galm die Visriviervallei nog met die klank van stoomtreine wat van Golden Valley en Kookhuis in die suide verby Halesowen (Olive en Samuel Cartwright-Schreiner se “station of choice”) en Cradock dreun na Baroda en Conway en die verre noorde.

Drie strepe energie loop deur hierdie vallei waaroor die sarkofaag waak. So dink ek terwyl ons Cradock uitry en die pad suid vat. Aan die westekant loop die treinspoor wat in my kinderjare gekreun het onder stoomlokomotiewe wat hier by Halesowen kom water suip het. Die destydse stasiemeester, ’n meneer Wagner, het altyd gesê: “Olaf Schneider, ja, hy lê mos met sy hond daar bo begrawe.” 

Aan die oostekant van die vallei lê die Port-Elizabeth-Cradock-snelweg, waarna ek as kind gestaar het snags terwyl waterlanterns soos vuurvlieë in die landerye bons. Ons het die karre getel: met Pase een elke drie minute, ’n duiselwekkende bedrywigheid.

In die middel van die vallei, soos ’n lui, warm mes deur botter, vloei die Groot Vis. Tydens my kinderjare was dit ’n buierige rivier wat soms helder maar traag gekabbel het - ’n enkeldiep stroompie wat heen en weer tussen die diep walle en aappaadjies deur die riet geslinger het en in onweer bedonderd kon sleur met modderwater, los boomstompe en selfs dan en wan ’n verdrinkte bees of hond.

Terwyl ons ry, gesels ons in die motor oor die betekenis van Schreiner vir die lede van hierdie geselskap. Waarom is soveel mense nog so geboei deur haar? Is dit bloot die “smart career move” van haar dood en herbegrafnis hier op Buffelskop digby Halesowen, die merkwaardigheid van ’n klip-igloe alleen op ’n berg?

En waarom was sy so lief vir hierdie vir buitestanders dikwels barre wêreld? Hier suid van Cradock vou die Visriviervallei oop; die wêreld waar sy gewoon het. Dit terwyl sy sekerlik ’n loopbaan in Engeland kon gevolg het, of dan nader tuis: in Kaapstad?

Die Visriviervallei

Só beskryf ’n Amerikaanse joernalis – in die biografie aangehaal deur Schoeman – wat Olive in 1894 op Krantzplaats besoek het, die vallei waar ek meeste van my eerste 15 lewensjare spandeer het:

On one hand, the high, barren, ugly hills, which form one of the fascinations of the place for Mrs Schreiner, shut out the view. On the other is the Fish River, usually dry. Beyond this stretches the great “karroo”, wild, vast and awful, over which the wind sighs like a symbol of endless sorrow.

Olive was versot op hierdie omgewing. Ek dink aan my eie mitologisering, dalk selfs romantisering, van hierdie stuk aarde en my laaste besoek, jare gelede, aan Olive Schreiner se graf bo-op Buffelskop, 1 500 meter bo seespieël. Die geleentheid was die vervaardiging van ’n dokumentêre program vir die SAUK by die verskyning van die Schoeman-biografie. ’n Kameraspan sou vir Karel opneem na die graf en as jong dosent aan die Universiteit Rhodes ry ek en daardie beroemde Cradocker, Guy Butler (skrywer en destyds professor in Engels aan Rhodes) die oggend douvoordag van Grahamstad Cradock toe, waar die TV-span en Karel Schoeman ons sal inwag. Ek en Guy moet by die graf op kamera gaan gesels oor Schreiner se betekenis vir ons as skrywers. Oom Guy, Grahamstadse ikoon, se boek Karoo Morning beskryf sy kinderjare in Cradock. Ons klets in die motor lustig oor die pioniersdorp, en ek is opgewonde om die grote Karel Schoeman uiteindelik te ontmoet. Oom Guy se knieë pla, en die SAUK het dus ’n helikopter afgevaardig om ons op te neem Buffelskop toe.

Etienne van Heerden en Paul Walters

Ons twee Grahamstadders arriveer vroegoggend by die Masonic Hotel, waar die TV-span tuis is. Karel is egter soek. Oplaas sê Oom Guy: “He will be with Sandra.” Die TV-regisseur bel na Sandra Antrobus se huis. Daar’s ’n probleem, inderdaad: Karel weier om na die helikopter te gaan, wat reeds op die sportterrein wag daar waar ek as kind volksdansies voor die Republiek se eerste Staatspresident, die rysige CR Swart, gedoen het. Die feit dat die helikopter vanuit die Baai gehuur is vir x rand per uur (“and rising”), verleen – so begryp al die aanwesiges - ’n sekere dringendheid aan die situasie wat ver bo die literêre uitstyg.

“Let me speak to him,” sê oom Guy met al sy High Corner-selfvertroue. Maar koppig steek die biograaf vas: ons kan maar sonder hom opvlieg Buffelskop toe.

Toe ons by die rugbyveld kom, daar by die wagtende helikopter, sit Karel en Sandra Antrobus egter reeds op ’n kombersie met ’n koffiefles, vlak by die heli. Die ekspedisiefotograaf, TJ Lemon, probeer ’n foto van Karel neem, maar Karel vlieg op en weier woedend. Aan my, die jong skrywer wat so graag ’n geselsie wil aanknoop, sê hy die enigste sin wat hy ooit teenoor my gebesig het: “Ek het ’n boek oor haar lewe geskryf, nie haar dood nie, en julle moet maar alleen graf toe.”

Dus heli ons almal maar op, Karelloos, na die sarkofaag. By ons terugkeer sit hy steeds op die rugbyveld met die woerende heli-lemme wat die kombersie op die droë Oos-Kaapse rugbygras laat wip.


Etienne van Heerden en Guy Butler by Olive Schreiner se klip-igloe, 1991
Foto’s: TJ Lemon

Tot vandag toe wonder ek watter stelling Schoeman, wat sulke mooi romans oor die onvoorspelbaarheid van die verlede en die onagterhaalbaarheid van ons gisters geskryf het, met daardie gebaar wou maak – of is hy maar net bang vir vlieg? (Vervolg)

Lees Deel II hier!

  • Teks: Etienne van Heerden
  • Foto’s: Menán van Heerden

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top