Die herklassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël en die verdere ontwikkeling van die integrasiereël in die Suid-Afrikaanse kontraktereg

  • 0

Opsomming

In hierdie artikel word die moontlikheid van die herklassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël, of die moontlike ontwikkeling van die reël deur die Suid-Afrikaanse howe op een lyn met die ontwikkeling daarvan in die Engelse reg, ondersoek. In die eerste gedeelte van die artikel word daar derhalwe gefokus op die moontlikheid van die herklassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël as synde deel van die materiële of substantiewe reg in teenstelling met die huidige, duidelik verkeerde klassifisering van die reël as deel van die Suid-Afrikaanse bewysreg. Daar word aangevoer dat die ekstrinsieke-getuienis-reël onbekend was aan die Romeins-Hollandse reg en dat die herklassifisering van die reël noodwendig sal meebring dat die Romeins-Hollandse reg, in teenstelling met die Engelse reg, gevolg sal word by die beoordeling van die aanbieding van ekstrinsieke getuienis buite om ’n skriftelike kontrak. In die tweede gedeelte van die artikel word daar op ’n tweede moontlikheid gefokus, naamlik die aanpassing van die integrasiereël op een lyn met die moderne toepassing van die reël in die Engelse reg. Daar word aangevoer dat die integrasiereël in die Engelse reg sodanig ontwikkel het sedert 30 Mei 1961 dat die essensie van die reël vir alle praktiese doeleindes in so ’n mate afgewater is dat dit tans slegs oor simboliese waarde beskik. Hierdie moderne benadering van die Engelse reg staan dan ook in skrille kontras met die huidige toepassing van die reël in die Suid-Afrikaanse kontraktereg. Die gevolgtrekking word egter gemaak dat die beginsels van regsekerheid en kontinuïteit, asook die gedagtegang dat, vir sover dit nie deur wetgewing gereël word nie, ons bewysreg “bevries” is in die gedaante wat die Engelse bewysreg op 30 Mei 1961 aangeneem het, in die pad sal staan van ’n herklassifisering van die reël of ’n soortgelyke ontwikkeling in die Suid-Afrikaanse reg aan dié wat plaasgevind het in die Engelse reg. Dit wil derhalwe lyk of wetgewing die enigste werkbare oplossing bied om die ekstrinsieke-getuienis-reël, en meer spesifiek die integrasiereël, af te skaf of te aan te pas in die Suid-Afrikaanse kontraktereg.

Trefwoorde: Aanpas; afskaf; bevries; bewysreg; ekstrinsieke getuienis; ekstrinsieke getuienis-reël; Engelse reg; herklassifisering; integrasiereël; kollaterale ooreenkoms; kontinuïteit; kontraktereg; materiële reg; moderne toepassing; ontwikkeling; regsekerheid; Romeins-Hollandse reg; skriftelike kontrak; teenstrydig; voorafgaande ooreenkoms; wetgewing
 

Abstract

The reclassification of the parol evidence rule and further development of the integration rule in the South African law of contract

The parol evidence rule represents one of the most problematic legal doctrines in the South African law of evidence. This rule consists of two different components. The first component is known as the integration rule and essentially entails that where an agreement has been reduced to writing, no extrinsic evidence of any prior or collateral agreement may be given to contradict, alter, add to or vary the written terms of the written contract. The second component is known as the interpretation rule, which entails that when the terms of a written contract are clear and unambiguous no evidence may be given to alter such plain meaning. Both rules originated in England and have been distributed from there to the different common law countries as well as South Africa.

In the past there were several proponents that contended for the complete abolition of the parol evidence rule, or at least the component referred to in this article as the integration rule. In 1998 an extensive report was brought out by the South African law commission wherein certain recommendations were made to the minister of justice pertaining to, inter alia, the parol evidence rule, which essentially entailed that the rule should be abolished. But the recommendations by the law commission apparently died a slow death and there has been no attempt since to abolish or modify the rule in the South African legal system.

If it is clear that the rule should be abolished or modified, the question, of course, arises in what way this should be done. Legislation seems to be the logical solution. Legislation is, however, a drastic step which should serve only as a last resort and other, less drastic methods should first be considered. This article therefore focuses on the possibility of the reclassification of the parol evidence rule or the possible development of the integration rule by the South African courts in accordance with the development thereof in the English law.

The first part of the article focuses on the possibility of the reclassification of the parol evidence rule as part of material or substantive law, in contrast with the current, clearly incorrect classification of the rule as part of the South African law of evidence. The position had always been, and still is, that South African material or substantive law (in as far as it had not been amended by legislation), is based on Roman-Dutch law, but that South African formal or procedural law, including the law of evidence, is based on English law. The South African courts had, as far back as the early 20th century, already classified the parol evidence rule as part of formal or procedural law and therefore held that the application of the rule was governed by English law. There seems to be general consensus, however, between writers and courts alike that the parol evidence rule actually forms part of material or substantive law and not formal or procedural law. A reclassification by the South African courts of the parol evidence rule as part of material law would, therefore, automatically bring about the situation where Roman-Dutch law, as opposed to English law, would govern the presentation of extrinsic evidence apart from a written agreement. It is submitted that the parol evidence rule was unknown to Roman-Dutch law and that the reclassification of the rule would therefore result in the abolition of the rule and the situation where the presentation of any extrinsic evidence would be allowed in order to ascertain the true intention of the parties. The conclusion will, however, be made that the principles of legal certainty and continuity would in all probability prevent a reclassification of the parol evidence rule by the South African courts.

The second part of the article focuses on a second possibility, namely the modification of the integration rule in line with the modern application of the rule in English law. At first glance it seems as if there is no real difference between the current application of the integration rule in the South African and English legal systems. Both legal systems recognise that extrinsic evidence of a prior or collateral agreement may be adduced where there hasn’t been a total integration of the parties’ agreement in the written contract. The South African courts also recognise, to an extent, the English doctrine of the collateral agreement. There is however one very important difference between the two legal systems. The South African courts will allow only the presentation of extrinsic evidence (where of course the existence of a collateral agreement or collateral agreement which is not integrated in the written contract can be proven), where this separate agreement is not in contradiction with the terms of the written agreement. But the English courts do admit this evidence, even though it may contradict the terms of the written agreement.

It is therefore submitted that the integration rule developed in such a way in English law since 30 May 1961 that the essence of the rule has been watered down to such an extent that it has currently, for all practical purposes, only symbolic value. This modern approach of English law stands in stark contrast to the current application of the rule in the South African law of contract. The conclusion is, however, once again made that the principles of legal certainty and continuity, as well as the train of thought that, in so far as it is not governed by legislation, South African law of evidence is “frozen” in the guise which English law of evidence assumed on 30 May 1961, will stand solidly in the way of a similar development in South African law to what took place in the English law. It therefore seems that legislation would be the only workable solution to abolish or modify the parol evidence rule, and more specifically the integration rule, in the South African law of contract

Keywords Abolish; continuity; collateral agreement; contradicts; development; English law; extrinsic evidence; frozen; integration rule; law of contract; law of evidence; legal certainty; legislation; material law; modern application; modify; parol evidence rule; prior agreement; re-classification; Roman-Dutch law; written contract

 

1. Inleiding

Die ekstrinsieke-getuienis-reël1 verteenwoordig een van die mees problematiese regsfigure in die Suid-Afrikaanse bewysreg. Hierdie reël bestaan uit twee verskillende komponente. Die eerste komponent staan bekend as die integrasiereël en behels basies dat waar ’n ooreenkoms op skrif gestel word, geen ekstrinsieke getuienis van enige ander voorafgaande of kollaterale ooreenkoms wat die skriftelike kontrak wysig, daartoe byvoeg, verander of weerspreek, toelaatbaar is nie.2 Die tweede komponent staan bekend as die interpretasiereël en kom basies daarop neer dat geen getuienis aangebied mag word om die duidelike en ondubbelsinnige betekenis van ’n ooreenkoms, hetsy mondeling of skriftelik, te verander nie.3 Beide reëls het in Engeland ontstaan en is vandaar na die verskillende common law-lande en ook na Suid-Afrika versprei.

Daar was in die verlede talle voorstanders wat betoog het vir die algehele afskaffing van die ekstrinsieke-getuienis-reël, of dan ten minste die komponent daarvan waarna in hierdie artikel as die integrasiereël verwys word.4 In 1998 het die Suid-Afrikaanse regskommissie dan ook ’n omvattende verslag uitgebring waarin sekere aanbevelings aan die minister van justisie voorgelê is ten aansien van, onder andere, die ekstrinsieke-getuienis-reël, en wat daarop neergekom het dat die reël afgeskaf behoort te word.5 Die aanbevelings deur die regskommissie het klaarblyklik egter ’n stadige dood gesterf en daar is sedertdien nie weer ’n poging aangewend om die reël af te skaf of aan te pas nie.6

Indien dit vasstaan dat die reël wel afgeskaf of aangepas moet word, is die vraag natuurlik op welke wyse dit moet plaasvind. Wetgewing skyn die logiese oplossing te wees. Wetgewing is egter ’n drastiese prosedure wat slegs as ’n laaste toevlugsoord behoort te dien en ander, minder drastiese metodes sal eers oorweeg moet word. Hierdie artikel is derhalwe gemik op een van die moontlike wyses waarop die ekstrinsieke-getuienis-reël afgeskaf of aangepas kan word en fokus op ’n bespreking van die klassifikasie van die reël in die Suid-Afrikaanse reg en of die Suid-Afrikaanse howe die ekstrinsieke-getuienis-reël verder kan ontwikkel deur middel van die herklassifikasie van die reël of aanpassing van die integrasiereël op een lyn met die Engelse reg.

In die eerste gedeelte van hierdie artikel word daar derhalwe gefokus op die moontlikheid van die herklassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël as synde deel van die materiële of substantiewe reg in teenstelling met die huidige, duidelik verkeerde klassifisering van die reël as deel van die Suid-Afrikaanse bewysreg. Daar word aangevoer dat die ekstrinsieke-getuienis-reël onbekend was aan die Romeins-Hollandse reg en dat die herklassifisering van die reël noodwendig sal meebring dat die Romeins-Hollandse reg, in teenstelling met die Engelse reg, gevolg sal word by die aanbieding van ekstrinsieke getuienis buite om ’n skriftelike kontrak.

Die vraag is natuurlik of ’n herklassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël deur die Suid-Afrikaanse howe, en die gevolglike navolging van die Romeins-Hollandse reg, noodwendig sal meebring dat die reël outomaties afgeskaf sal word. Daar kan ’n argument uitgemaak word dat indien aanvaar word dat die reël deel van die materiële reg is (en ekstrinsieke getuienis derhalwe in elk geval uitgesluit word weens die werking daarvan aangesien die getuienis irrelevant is), die werking van die reël sal voortbestaan ongeag die herklassifisering daarvan. Dit is egter nie ’n algemene beginsel van die materiële reg dat ekstrinsieke getuienis van die bestaan van ’n afsonderlike ooreenkoms of betekenis van die bedinge daarvan uitgesluit word aangesien dit irrelevant is nie. Dit is juis as gevolg van die werking van die ekstrinsieke-getuienis-reël dat daar bepaal word dat hierdie getuienis inderdaad irrelevant is aangesien daar ’n integrasie van die partye se bedoeling plaasgevind het. Die navolging van die Romeins-Hollandse reg sal dan ook meebring dat die ekstrinsieke-getuienis-reël wel afgeskaf word en dat die getuienis wat voorheen as irrelevant beskou is weens die werking van die reël, deur die howe as hoogs relevant beskou kan word.7

Daar sal egter aangevoer word dat die beginsels van regsekerheid en kontinuïteit die herklassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël hoogs onwaarskynlik sal maak. In die tweede gedeelte van hierdie artikel word daar derhalwe op ’n tweede moontlikheid gefokus, naamlik die aanpassing van die integrasiereël op een lyn met die Engelse reg. Daar word aangevoer dat die integrasiereël in die Engelse reg sodanig ontwikkel het sedert 30 Mei 1961 dat die reël vir alle praktiese doeleindes in so ’n mate afgewater is dat dit slegs oor simboliese waarde beskik. Hierdie moderne benadering van die Engelse reg staan dan ook in skrille kontras met die huidige toepassing van die reël in die Suid-Afrikaanse kontraktereg. Die gevolgtrekking word egter weer eens gemaak dat die beginsels van regsekerheid, asook die gedagtegang dat, vir sover dit nie deur wetgewing gereël word nie, ons bewysreg “bevries” is in die gedaante wat die Engelse bewysreg op 30 Mei 1961 aangeneem het, in die pad sal staan van ’n soortgelyke ontwikkeling in die Suid-Afrikaanse reg en dat dit derhalwe lyk of wetgewing die enigste werkbare moontlikheid bied om die ekstrinsieke-getuienis-reël, en meer spesifiek die integrasiereël, af te skaf of te aan te pas in die Suid-Afrikaanse kontraktereg.8

 

2. Klassifikasie van die ekstrinsieke-getuienis-reël

Suid-Afrikaanse howe het reeds gedurende die vroeë 20ste eeu die ekstrinsieke-getuienis-reël as deel van die bewysreg geklassifiseer,9 en beslis dat die Engelse reg derhalwe daarop van toepassing was. Hierdie standpunt is deur die appèlafdeling bevestig in Cassiem v Standard Bank of SA Ltd,10 waar appèlregter De Villiers beslis het dat “[w]e are bound by the English rules of evidence and the question has therefore to be decided according to English law, the rule being that parol evidence is not allowed to alter, vary, or contradict a written instrument.”11

Die posisie was (en is nog steeds) dat die Suid-Afrikaanse materiële reg op die Romeins-Hollandse reg (vir sover dit nie deur statutêre reg gewysig is nie) gebaseer is,12 maar dat die formele reg, insluitend bewysreg, grotendeels op die Engelse reg gegrond is. Hierdie situasie het ontstaan na die kolonisasie van die verskillende voormalige provinsies van Suid-Afrika deur Brittanje gedurende die 19de en vroeë 20ste eeu en die vervanging van die Suid-Afrikaanse Romeins-Hollandse formele reg deur die Engelse formele reg. Dié proses het deur middel van die promulgering van verskeie wette, ordonnansies en proklamasies in die verskillende kolonies plaasgevind.13

Na republiekwording is die siviele prosesreg in die Wet op Bewysleer in Siviele Sake14 en die strafprosesreg in die Strafproseswet15 gekonsolideer. Vir sover sekere aangeleenthede nie spesifiek deur die bepalings van hierdie twee wette gereël word nie, meld hulle dat die reg wat op 30 Mei 1961 (die dag voor republiekwording) gegeld het, van toepassing is. Dit beteken dat daar in werklikheid terugverwys word na ouer wetgewing wat regstreeks die Engelse bewysreg inkorporeer, en weerspieël steeds die huidige posisie.16

2.1 Ekstrinsieke-getuienis-reël: materiële of formele reg?

Byna al die skrywers oor hierdie onderwerp is dit eens dat die ekstrinsieke-getuienis-reël onder die materiële of substantiewe reg ressorteer en dat dit verkeerdelik deur die howe as ’n reël van die formele bewysreg geklassifiseer is. Wigmore is byvoorbeeld van mening dat die howe dit as sodanig gebrandmerk het aangesien hulle geen plek daarvoor kon vind in die reëls ten aansien van pleitstukke ingevolge die “common law”-pleitsisteem nie en die reël gewoonlik eers toepassing vind as daar by die verhoor getuienis aangebied word.17

Thayer voer aan dat daar bloot (verkeerdelik) aanvaar word dat die ekstrinsieke-getuienis-reël deel van die bewysreg uitmaak aangesien dit te doen het met geskrewe dokumente wat in hulle aard bewys is van wat hulle uiteensit. Hy onderskei verder tussen ’n aantal konsepte wat bygedra het tot hierdie verkeerde klassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël.18 Eerstens onderskei hy tussen reëls van die materiële reg en reëls van die bewysreg. Hy voer oortuigend aan, net soos Wigmore, dat waar die reg sekere vereistes neerlê vir ’n handeling om regsgeldig te wees, soos opskrifstelling, dit baie dikwels nie vereistes ingevolge die bewysreg is nie. Dit is volgens hom vormvereistes wat nodig is vir die totstandkoming van ’n sekere regshandeling, soos ’n ooreenkoms vir die vervreemding van grond of ’n testament.19 In sodanige gevalle hoort hierdie vereistes tuis onder die materiële reg van die relevante dissipline, en wanneer getuienis, of feite wat in bewyslewering aangebied word, verwerp word aangesien daar nie aan hierdie vormvereistes voldoen is nie, is dit die materiële reg wat dit uitsluit en nie die bewysreg nie.20

Daar moet saamgestem word met hierdie standpunte van Wigmore en Thayer. ’n Baie vereenvoudigde voorbeeld kan gevind word in die Suid-Afrikaanse kontraktereg. Artikel 2(1) van die Wet op Vervreemding van Grond21 bepaal uitdruklik:

Geen vervreemding van grond na die inwerkingtreding van hierdie artikel is, behoudens die bepalings van artikel 28, van krag nie tensy dit vervat is in 'n vervreemdingsakte wat deur die partye daarby of deur hulle agente, handelende op hulle skriftelike gesag, onderteken is.

Getuienis van die bestaan van ’n mondelinge ooreenkoms oor die vervreemding van grond sal derhalwe deur die howe uitgesluit word – nie omdat die Suid-Afrikaanse bewysreg dit verbied nie, maar omdat die Suid-Afrikaanse materiële kontraktereg dit uitsluit aangesien daar nie aan die wetlike vormvereistes vir die totstandkoming van ’n geldige kontrak oor die vervreemding van grond voldoen is nie.

Tweedens onderskei Thayer tussen die verskillende gebruike van die woord bewys. Waar dit gebruik word in die konteks van bewysreg, beteken dit basies getuienis of die indiening van feite in ’n geregshof om die afleiding van ander feite daaruit te regverdig. Dit sluit nie alles in wat verband hou met die algemene konsep van bewys of regslogika, of die populêre gebruik daarvan, naamlik alle bewysregtelike aangeleenthede, nie. “Bewys” in hierdie konteks word gebruik slegs vir sover dit noodsaaklik is om getuienis in ’n geregshof aan te bied waar dit ’n feitelike aangeleentheid moet vasstel wat onbekend of in geskil is.22

Die reëls van die bewysreg reguleer hierdie forensiese proses en bepaal nie vraagstukke wat op blote logika of ondervinding berus nie. Om derhalwe te praat van “bewys” en om vraagstukke daaromtrent te beantwoord, in die blote sin van ’n logiese bewysregtelike kwaliteit of feit, is nie om te verwys na ’n gebied wat eiesoortig aan die bewysreg is nie. Dit is slegs wanneer daar verwys word na “bewys” in die konteks, en vir die doeleindes, van litigasie, waar daar van “bewysreg” in sy suiwer konteks gepraat kan word.23

Phipson sluit hierby aan deur sy stelling dat die materiële reg “rights, duties and liabilities” omskryf, terwyl die formele reg “the procedure, pleading and proof by which substantive law is applied in practice” omskryf.24 Salmond voer egter oortuigend aan dat ook die formele reg “regte” bepaal, soos die reg om getuienis af te lê, asook die feit dat die materiële reg nie alleen regte nie maar ook remedies omskryf.25 Hy beskryf derhalwe die formele of prosesreg eenvoudig as “that branch of the law that governs litigation”.26 Die onderskeid tussen die twee afdelings van die reg stel hy dan ook soos volg:

“Substantive law is concerned with the ends which the administration of justice seeks; procedural law deals with the means by which those ends are to be attained.”27 Van Apeldoorn deel hierdie sentiment waar hy verklaar: Het materiële privaatrecht regelt de private belangen. Het formele privaatrecht regelt de over private belangen gevoerde rechtsstrijd, m.a.w. de wijze waarop die regels van het materiële privaatrecht met hulp van de rechter worden gehandhaafd.”28 In Tregea v Godart29 verwoord die hof hierdie beginsel, met verwysing na die bewysreg, soos volg: “What must be proved is a question of substantive law, the manner of proving it is the concern of the rules of evidence.”

Derdens, waar daar deur die howe beslis word dat “getuienis toelaatbaar of ontoelaatbaar” is, hou hierdie “toelaatbaarheid” nie noodwendig verband met die bewysreg nie. Thayer verduidelik:

For, in such cases, not merely is it true that the admission or rejection of what is offered may turn wholly on a doubt as to the mere logical quality of what is offered, or as to the true limits of the governing propositions of substantive law, pleading, or procedure, which in every case must fix the character of what is put forward as being relevant or the reverse; but also, where a declaration as to the admissibility of evidence is clearly not of this sort, yet it is very often merely a single specimen, out of myriads that might be offered, of probative matter not excluded by the law of evidence.30

Vierdens wys Thayer daarop dat daar ’n onderskeid getref moet word tussen dokumente wat ’n kontrak daarstel en dokumente wat bloot bewys is van ’n eksterne feit, losstaande en onafhanklik daarvan.31 Die dokument is in so geval slegs skriftelike bewys van ’n transaksie of ooreenkoms wat reeds geldig en volledig daarsonder is.32

Talle skrywers is verder, heeltemal tereg, van mening dat die ekstrinsieke-getuienis-reël getuienis ontoelaatbaar maak aangesien sodanige getuienis weens die uitwerking van ’n reël van die materiële reg irrelevant is. Volgens Schmidt en Rademeyer is dit ’n reël dat wanneer ’n regshandeling eenmaal in ’n skriftelike stuk beliggaam is, slegs die inhoud van die stuk relevant is ten einde te bepaal wat die terme bepalings van die regshandeling is.33

Zeffertt en Paizes deel hierdie sentiment waar hulle verklaar: “Material is excluded by the rule, not because it is inherently untrustworthy or undesirable, but because the substantive law renders it legally ineffective, thus forbidding its proof.”34 Hulle vervolg:

If the document is conclusive as to the terms of the transaction, evidence of different or additional terms will be excluded because the rule of substantive law makes such evidence irrelevant. Similarly, if rules of construction require the meaning of a document to be decided without reference to certain extrinsic facts, evidence of those facts will also be irrelevant.35

Volgens hierdie skrywers het die howe, in plaas daarvan om bloot te beslis dat ekstrinsieke getuienis irrelevant is, van die standpunt uitgegaan dat ekstrinsieke getuienis ontoelaatbaar is. Die resultaat was dat die materiële reg as ’n bewysregtelike reël vermom is.36

Dit is egter interessant om te let op die beslissings van die Suid-Afrikaanse howe na die Cassiem-uitspraak37 met betrekking tot die klassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël. In Avis v Verseput38 is appèlregter Centlivres van mening dat die reël deel van die bewysreg uitmaak. Hy verklaar: “In this case the question of the admissibility of the evidence must be determined by the law in force in the Supreme Court of Judicature in England.”39 In Union Government v Vianini Ferro-Concrete Pipes (Pty) Ltd40 het appèlregter Watermeyer hom daarvan weerhou om standpunt in te neem, en obiter opgemerk:

This rule, or perhaps it would be more correct to say these rules, have always, so far as I am aware, been regarded in South African Courts as rules of evidence; but several writers upon the law of evidence such as Wigmore and others, quoted by Phipson in Chapter 45 of his book, hold the view that they are not strictly rules of evidence. These writers suggest that the exclusionary rule is merely consequential upon a substantive rule of law which makes the writing conclusive as to the terms contained in it and consequently regards as of no legal force and effect prior negotiations or promises relating to a matter expressly or impliedly settled and determined by the written terms. Whatever may be the correct view as to the nature of the rules …41

In Von Ziegler v Superior Furniture Manufacturers (Pty) Ltd42 was die hof ook versigtig om standpunt in te neem en regter Trollip beslis soos volg:

It is not clear whether the rule is strictly one of evidence regulating the admissibility of evidence, or a rule of substantive law … Wigmore on Evidence, 3rd ed. Vol. IX para. 2400, states unequivocally that it is not a rule of evidence but one of substantive law, but so far our Courts have regarded it as a rule of evidence, or at any rate a rule regulating the admissibility of evidence … This Court is bound by that authoritative view. Consequently it is obliged by secs. 55 and 56 of the Transvaal Evidence Proclamation, 16 of 1902, to follow the English law on the parol evidence rule, and not any rule of Roman-Dutch law or American law in so far as that might differ from the English law.43

In Schroeder v Vakansieburo (Edms) Bpk44 was regter Bekker (alhoewel obiter) egter onomwonde van mening dat die ekstrinsieke-getuienis-reël onder die materiële reg ressorteer: “The question whether or not a contract in writing may be varied by parol evidence is a question of substantive law …”45 Die hof het hom egter nie uitgelaat oor die presedent wat in Cassiem geskep isnie.

In Slabbert, Verster & Malherbe (Bloemfontein) Bpk v De Wet46 steun die hof klaarblyklik hierdie sentiment: “I agree with Mr. Schneider's submission that if parol evidence to contradict, vary or alter the terms of a written agreement is inadmissible by these rules of substantive law it would be a complete negation of these rules to admit that evidence by invoking the exceptio doli.”47

In National Board (Pretoria) (Pty) Ltd v Estate Swanepoel48 was die appèlafdeling egter meer uitgesproke (in ’n obiter dictum): “Because the parol evidence rules were thought, probably wrongly, to be a part of the law of evidence they have been received into the law of this country.”49

In Venter v Birchholtz50 het die appèlafdeling egter geen twyfel nie dat “[o]ndanks die feit dat die integrasiereël tot die materiële reg behoort …, het dit in sy Engelsregtelike gestalte ons stelsel onder 'n bewysregtelike dekmantel ingeglip … en word daar grootliks op Engelse presedente staatgemaak.”51

Daar moet in die algemeen kritiek uitgespreek word teen die howe se benadering ten aansien van die klassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël, aangesien dit aanleiding gegee het tot die aanname van ’n leerstuk wat nie in die Suid-Afrikaanse regstelsel tuishoort nie. Wat die Cassiem-saak aanbetref, het die hof bloot aangeneem dat die ekstrinsieke-getuienis-reël deel uitmaak van die bewysreg, en Engelse reg derhalwe daarop van toepassing gemaak sonder om enigsins ’n ondersoek te loods na die ware aard van die reël.

Die vraag wat natuurlik hier gestel kan word, is of die Suid-Afrikaanse howe die Engelse bewysreg in die geheel moet navolg, insluitend die Engelse klassifisering van wat ’n bewysregtelike reël uitmaak, en of slegs daardie Engelse bewysregtelike reëls toegepas word wat deur die Suid-Afrikaanse reg as sodanig geklassifiseer word.52

Zeffertt en Paizes is van mening dat laasgenoemde situasie behoort te geld, en staaf hierdie standpunt met verwysing na Trust Bank van Afrika Bpk v Eksteen,53 waar die hof beslis het dat die beginsels van die Suid-Afrikaanse reg van estoppel nie altyd aanleiding gee tot dieselfde gevolge as dieselfde reëls van die Engelse reg nie, en dat die Engelse reg nie as ’n formele bron van die Suid-Afrikaanse reg van estoppel beskou moet word nie.

Die beginsels wat bepaal welke metodes aangewend moet word by die klassifisering van regsreëls, ressorteer onder die internasionale privaatreg, en word algemeen beskou as een van die mees problematiese gebiede van hierdie afdeling van die reg.54 Die kritiek wat egter gelewer kan word teen die hof in die Cassiem-saak, is dat dit lukraak die Engelse klassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël oorgeneem het sonder enige oorweging van die vraag of die hof wel aan sodanige klassifisering gebonde was. Ook die latere uitsprake van die appèlafdeling moet in hierdie opsig gekritiseer word. Die voorsittende regters in die betrokke aangeleenthede het, ondanks die feit dat talle van hulle aanvaar het dat die ekstrinsieke-getuienis-reël verkeerdelik as ’n reël van die bewysreg geklassifiseer is, dit bloot goedsmoeds as sodanig aanvaar sonder om die moontlikheid van ’n herklassifisering van die reël te oorweeg.

Dit was ook nog altyd ’n tendens van Suid-Afrikaanse howe om oor die algemeen oorversigtig te wees om kritiek uit te spreek teen vorige hofuitsprake (veral dié van die appèlafdeling) wat klaarblyklik verkeerd beslis is. Die geskiedenis toon dat selfs die appèlafdeling slegs in sekere uitsonderingsgevalle afgewyk het van sy vorige uitsprake. Die onvermydelike gevolg hiervan was dat alle Suid-Afrikaanse howe, die appèlafdeling inkluis, in latere uitsprake hulself gebonde geag het aan die uitspraak en die gepaardgaande regsbron soos uiteengesit in die Cassiem-saak.

Dit is verder interessant om te let op die Suid-Afrikaanse regskommissie se standpunt in hierdie verband. In Oktober 1986 het die kommissie ’n verslag die lig laat sien waarin die totale Suid-Afrikaanse bewysreg hersien is. Die kommissie wou hom egter nie enigsins uitspreek oor die ekstrinsieke-getuienis-reël nie, aangesien “[p]arol evidence does not form part of the law of evidence and it was therefore not investigated.”55

2.2 Die estoppelvraagstuk

Wat die klassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël nog meer problematies maak, is Phipson se stelling dat die ekstrinsieke-getuienis-reël “is sometimes thought to be based … on the doctrine of estoppel, as the party is precluded by his acknowledgement in writing from disputing what is so acknowledged”.56 Volgens Zeffertt en Paizes kon Phipson estoppel slegs weens wanvoorstelling (“by representation”) in gedagte gehad het – A se voorstelling dat die bedinge van ’n ooreenkoms in ’n geskrewe dokument vervat is, verbied hom om ekstrinsieke getuienis aan te bied.57 Estoppel weens wanvoorstelling is in Engeland gekategoriseer as ’n reël van die bewysreg. In Avon County Council v Howlet58 beslis die hof dat “[e]stoppel by representation is a rule of evidence, the consequence of which is simply to preclude the representor from averring facts contrary to his own representation.”59 Zeffertt en Paizes vra hulle dan ook, heeltemal tereg, die vraag af: “If that be so, must we apply the English law of estoppel, and hence the parol evidence rule, because a South African statute enjoins us to apply the English law of evidence?”60

Volgens Dixon word estoppel ook in Australië beskou as ’n reël van die bewysreg.61 Sy aanvaar klaarblyklik die standpunt van De Wet dat estoppel nie ’n bewysregtelike reël kan wees nie aangesien dit nie versoenbaar sou wees met die vereiste dat estoppel gepleit moet word nie.62Zeffertt en Paizes is egter van mening dat dit ’n non sequitur is om te sê dat aangesien estoppel gepleit moet word, dit noodwendig beteken dat dit nie ’n bewysregtelike reël is nie.63

Daar kan nie met hierdie standpunt saamgestem word nie. ’n Kenmerk van prosesreg, waarby die bewysreg ingesluit is, is dat dit werking geniet slegs in die konteks van ’n verhoor self, terwyl dit die materiële reg is wat in die pleitstukke deur die partye gepleit word. Die bewysregtelike reël van res ipsa loquitur (“die feite spreek vanself”) kan as ’n voorbeeld geneem word. Die werking van hierdie reël word nie spesifiek gepleit in die pleitstukke nie, maar die hof kan, na al die getuienis aangehoor is, ’n sekere afleiding daaruit maak. Daar moet derhalwe met De Wet saamgestem word dat, weens die feit dat estoppel gepleit moet word, dit as ’n reël van die bewysreg gediskwalifiseer word. Ook Sonnekus is van mening dat estoppel ’n reël van die materiële reg is nieteenstaande die feit dat daar in enkele uitsprake verklaar is dat dit ’n bewysregtelike reël is.64

Wat die Engelse reg aanbetref, het Ewart reeds in 1900 die standpunt ingeneem dat dit onhoudbaar is om te verklaar dat estoppel deel van die bewysreg is.65 Daar was verskeie Engelse sake waarin hierdie standpunt ondersteun is.66 In Canada & Dominion Sugar Co Ltd v Canadian National (West Indies) Steam Ships Ltd67 voer Lord Wright dan ook aan:

Estoppel is a complex legal notion involving a combination of several essential elements, the statement to be acted upon, action on the faith of it, resulting detriment to the actor. Estoppel is often described as a rule of evidence, as, indeed, it may be so described. The whole concept is more correctly viewed as a substantive rule of law.68

In Moorgate Mercantile Co Ltd v Twitchings69 verklaar lord Denning MR dat estoppel nie ’n reël van die bewysreg is nie, maar ’n eisoorsaak. Dit is volgens lord Denning ’n beginsel van billikheid en geregtigheid ingevolge waarvan ’n kontraksparty wat ’n sekere indruk by ’n ander party gewek het, nie toegelaat sal word om sy woord te breek waar dit vir hom onbillik sou wees om dit te doen nie.70 Ook Halsbury en Hailsham voer aan dat estoppel dikwels beskryf word as ’n reël van die bewysreg, maar dat dit meer korrek is om die konsep as deel van die substantiewe reg te beskou.71

Sonnekus voer oortuigend aan dat daar tans in die Suid-Afrikaanse reg in beginsel aanvaar word dat estoppel deel van die materiële reg is, maar dat dit geen regsveranderende gevolge meebring nie.72

Dixon is verder van mening dat estoppel as ’n reël van die materiële reg beskou moet word aangesien ’n bewysregtelike reël slegs inter partes werking geniet, terwyl ’n reël van die materiële reg ook derde partye bind, soos in geval van estoppel.73 Schmidt voer aan dat aangesien estoppel die bewys of weerlegging van sekere feite belet, dit deur die meeste Engelse regsgeleerdes as ’n reël van die bewysreg beskou word. Volgens hom word die aanvoer van getuienis heeltemal tereg deur estoppel belet slegs in die opsig dat daardie getuienis irrelevant is weens die werking van die materiële reg. Hy verwoord hierdie sentiment soos volg: “As ’n party aldus belet word om ’n feit te bewys, beteken dit dat daardie feit nie ’n factum probandum in die saak is nie. Dit is dus nie ’n probans wat geraak word nie, maar die probandum self.”74 Zeffertt en Paizes vra hulle op grond hiervan dan die volgende relevante vraag af: “But, if we have categorized the rules of the English law of estoppel as not being imported into our law by our evidentiary statutes, why should we import one of the English rules of estoppel by representation – the integration rule – by virtue of those very statutes?”75

Hierdie skrywers voer verder aan dat, selfs indien die Suid-Afrikaanse howe korrek was in die klassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël as ’n reël van die bewysreg, en dat dit daarom op ons howe van toepassing is, daar nie noodwendig enige meriete daarin is om dit toe te pas nie.76 Hulle wys voorts daarop dat aangesien dit nie duidelik is of die ekstrinsieke-getuienis-reël op ’n korrekte wyse in ons regstelsel ingevoer is nie, ons regstelsel geen probleme behoort te ondervind om daarvan ontslae te raak indien dit bots met óf Romeins-Hollandse regsbeginsels, óf met ons sin van wat billik en prakties is nie.77 Hierdie standpunt kan egter nie ondersteun word nie. Die feit van die saak is dat daar wetgewing bestaan wat ons howe verplig om Engelse bewysreg toe te pas, en dat hulle derhalwe nie by magte is om die ekstrinsieke-getuienis-reël af te skaf bloot op grond daarvan dat dit bots met die Romeins-Hollandse reg of hulle sin van wat billik en prakties is nie.

2.3 Romeinse en Romeins-Hollandse reg

Die vraag wat gevra kan word, is wat die regsposisie sou gewees het indien die Suid-Afrikaanse howe in die verlede sou beslis het dat die ekstrinsieke-getuienis-reël deel uitmaak van die materiële (kontrakte)reg. Dit is duidelik dat die Romeins-Hollandse reg in so ’n geval van toepassing sou wees. Die posisie wat sou geld ingevolge die Romeins-Hollandse reg word derhalwe kortliks bespreek. Daar sal ook kortliks na die Romeinse reg gekyk word.

2.3.1 Romeinse reg

Gedurende die preklassieke periode78 van die Romeinse reg was regshandelinge in absolute vorme vervat. Daar is groot klem gelê op die letterlike betekenis van die woorde wat geuiter is en die eenvoudigste fout kon tot onverwagte of onwelkome resultate aanleiding gee.79

In die Romeinse reg het die grootste aantal verbintenisse uit ooreenkoms ontstaan.80 Die verbintenisskeppende ooreenkoms was egter onbekend aan die klassieke Romeinse reg81 en het geen plek in daardie regstelsel gehad nie. Daar het ook geen behoefte bestaan aan ’n abstrakte begrip van die ooreenkoms nie, aangesien daar geen regsgevolge uit sodanige ooreenkoms voortgevloei het nie. Daar is slegs ’n prosesformulier verleen aan duidelik omskrewe afsonderlike ooreenkomste.82 Gedurende die klassieke periode is daar egter begin om weg te beweeg van die streng formalisme en letterlike uitleg van die preklassieke periode.83 Die uitleg van ooreenkomste was minder streng aangesien regshandelinge uit die oogpunt van die goeie trou beskou is.84 Uiteindelik is selfs formele ooreenkomste uitgelê op die basis van individuele bedoeling eerder as die objektiewe betekenis van die woorde wat daarin vervat is.85 ’n Dubbelsinnige beding is so uitgelê dat dit die transaksie so effektief moontlik gemaak het.86

In die Bisantynse tydperk87 is die verbintenisskeppende ooreenkoms wel omskryf.88 Die latere Europese regswetenskap is op hierdie algemene leer van ooreenkomste gebou. ’n Ooreenkoms is beskryf as ’n tweesydige regshandeling wat bestaan uit die wilsooreenstemming van twee of meer partye wat dieselfde beoog.89 In hierdie tydperk het die ooreenkomsteleer, wat aan die klassieke Romeinse reg onbekend was, ontstaan. Wilsooreenstemming was derhalwe ’n vereiste wat beteken het dat die partye werklik moet wil, dat hulle hierdie wil moet verklaar, en dat die wil van die een party met die wil van die ander party moet ooreenstem.90

Thomas vat hierdie posisie soos volg saam:

These solemn words, however, were in use in olden times: but subsequently there was enacted the constitution of Leo which, abolishing the solemnity of words, sought only the meaning and meeting of minds of the parties, whatever the words in which it was expressed.91

Geen verbintenisskeppende ooreenkoms het tot stand gekom waar wilsooreenstemming nie teenwoordig was nie.92 Waar daar wel wilsooreenstemming was maar dit nie regsgeldig in die lewe geroep is nie (byvoorbeeld deur bedrog, dwang of dwaling), kon daar gedurende die Bisantynse tydperk in bepaalde omstandighede ’n regsmiddel teen die ooreenkoms verleen word.93 Dit was nie die geval in die klassieke Romeinse reg nie, waar dit voldoende was indien daar bloot aan die vorm van die ooreenkoms voldoen is,94 selfs al het wilsooreenstemming tussen die partye ontbreek.95

In Rood v Wallach96 som hoofregter Innes HR die verskillende kategorieë kontrakte in die tyd van Justinianus soos volg op:

In the time of Justinian, for instance, the conventions which could be enforced by action were the stipulatio, the four consensual contracts (sale, lease, partnership, agency), the real contracts (mutuum, commodatum, depositum, and pignus), the innominate contracts (do ut des, etc.), the pacts in respect of which a special remedy was given by the edict of the praetor (pacta praetoria), or by special statute (pacta legitima), or which were added to and formed part of other actionable contracts (pacta adjecta). All other conventions were nuda pacta.97

Verbintenisskeppende ooreenkomste (obligationes ex contractu) is weer onderverdeel in die volgende:98 obligatio re;99 obligatio verbis;100 obligatio litteris;101 en obligatio consensu.102

In die klassieke Romeinse reg was die stipulatio ’n abstrakte regshandeling. Dit beteken dat die promissor gebind word deur die spreek van ’n sekere woord en dat sy gebondenheid nie afhanklik was van die rede waarom hy hom verbind het nie (iusta causa promittendi). Aangesien die stipulatio ’n negotium stricti iuris was, kon ’n party hom gedurende hierdie tydperk op bedrog beroep slegs indien die afwesigheid van bedrog ’n uitdruklike beding van die ooreenkoms was.

Die instelling van die exceptio doli teen ongeveer 66 v.C. het egter ’n groot kentering teweeggebring. Joubert vertaal die formulering van die exceptio doli soos volg: “Indien in daardie aangeleentheid niks deur die bedrog van Aulus Agerius gedoen is of gedoen word nie.”103 Die exceptio doli het ’n tweeledige strekking gehad, naamlik eerstens waar die skuldenaar beweer dat die eiser hom skuldig gemaak het aan bedrog voor die instel van die vordering, wat bekend gestaan het as die exceptio doli specialis;104  en tweedenswaar die skuldenaar beweer dat die eiser iets eis wat hom regtens mag toekom, maar waarop hy volgens redelikheid en die goeie trou nie geregtig is nie – dit het bekend gestaan as die exceptio doli praesentis generalis.105

In Bank of Lisbon and South Africa Ltd v De Ornelas106 verklaar die appèlafdeling dat die exceptio doli generalis nooit deel uitgemaak het van die Romeins-Hollandse (en derhalwe ook die Suid-Afrikaanse) reg nie. Die hof voer aan dat dit in die klassieke Romeinse reg op mala fides gebaseer was.107 In Van der Merwe v Meades108 voer dieselfde hof aan dat ingevolge die gemenereg ’n verkoper hom nie op ’n voetstootsklousule mag beroep waar hy bedrieglik verborge gebreke in die koopsaak verswyg het nie. Die koper mag hom in so ’n geval op die exceptio/replicatio doli beroep.109 Joubert wys daarop dat hierdie remedie niks te doen het met die exceptio doli generalis nie.110 Hy kritiseer ook die standpunt van Kerr111 wat die twee regsmiddele as sinonieme beskou.112

Dit is interessant om daarop te let dat die Romeinse reg op presies die teenoorgestelde wyse as die Engelse reg oor die ekstrinsieke-getuienis-reël ontwikkel het. Waar die reël glad nie aan die primitiewe Engelse reg bekend was nie, was die woorde wat vervat is in die contractus verbis (stipulatio)113 van die vroeë Romeinse reg van primêre belang.114 Dit het daartoe aanleiding gegee dat die woorde letterlik uitgelê is en dat die bedoeling van die partye geheel en al ontken is.115 In die latere ontwikkeling van die Romeinse reg is die woorde wat in die contractus verbis vervat was, egter as minder belangrik beskou aangesien daar blykbaar in hierdie stadium aanvaar is dat die contractus verbis ook op ’n conventio berus het. Waar daar dus bewys kon word dat daar geen wilsooreenstemming was nie, was daar nie ’n bindende kontrak (stipulatio) nie.116

In geval van kontrakte wat op skrif gestel is, was die skrif steeds ’n bewysmiddel wat in sommige gevalle ’n selfs sterker bewyswaarde as die getuies tot die ooreenkoms self gehad het. Dit was egter teen hierdie tyd slegs ’n bewysmiddel wat weerlê kon word.117 Mondelinge getuienis van die betrokke getuies is derhalwe in sommige gevalle as meer betroubaar beskou as die geskrewe dokument.118 Selfs die onderhandelinge tussen die kontrakspartye was toelaatbare getuienis by die uitleg van die geskrewe ooreenkoms.119

Waar die skrif egter slegs as bewys gedien het van die onderliggende ooreenkoms, en nie ook ’n konstitutiewe vereiste was soos met die contractus litteris120 nie, het dit oor so ’n sterk bewyswaarde beskik dat dit in sekere gevalle as onweerlegbare bewys beskou is en in ander gevalle baie moeilik weerlegbaar was.121

Die volgende voorbeelde illustreer gevalle waar die skrif as onweerlegbare bewys beskou is. Waar ’n persoon op skrif verklaar het dat hy van iemand geld ontvang het, kan hy nie na die verloop van ’n lang tydperk die verweer opwerp dat hy inderdaad nie die geld ontvang het nie.122 Daar is ook gevalle waar die skrif na ’n tydperk van 30 dae as onweerlegbare bewys beskou is.123 ’n Verdere voorbeeld is dat die bewys van die ontvangs van ’n bruidskat, asook ’n bewys van bewaargewing van geld of sake, onmiddellik onweerlegbare bewys daargestel het.124

Die volgende voorbeelde weer illustreer gevalle waar die skrif moeilik weerlegbaar was. Waar daar ’n skriftelike skuldbewys is en die skuldenaar aanvoer dat hy die volle verskuldigde bedrag of ’n gedeelte daarvan betaal het, moes hy dit deur middel van vyf geskikte getuies bewys.125 Marcellus wys daarop dat die geskrifte van amptenare wat sekere heffings ontvang het, ’n groter bewyswaarde gehad het as mondelinge getuienis.126 Die basiese beginsel was egter nog steeds dat die skrif slegs bewys van die verbintenis was. Alhoewel die skrif ’n baie goeie bewys was, was dit nie noodwendig ’n beter bewys as byvoorbeeld die mondelinge getuienis van die getuies betrokke by die verbintenis nie.127 Die mening is gehuldig dat daar ’n groter bewyswaarde aan die getuies as aan die skrif self geheg moet word.128

Ter opsomming kan daar dus gesê word dat daar ’n gradering in die Romeinse reg plaasgevind het van die bewyswaarde wat aan die skrif verbonde aan ’n bepaalde verbintenis geheg moet word. Sekere dokumente is as konstitutief beskou of het as onweerlegbare bewys gedien van dit wat daarin vervat was. Ander weer was moeilik weerlegbaar, en ander kon redelik maklik deur middel van andersoortige getuienis weerlê word.129

2.3.2 Romeins-Hollandse reg

Die basiese beginsel van die Romeins-Hollandse reg was dat alle beloftes wat ernstig en doelbewus gemaak is, afdwingbaar was.130 Skriftelike ooreenkomste is dan ook uitgelê in ooreenstemming met die gemeenskaplike bedoeling van die partye.131

Die posisie was in baie opsigte dieselfde as in die Romeinse reg wat betref die aanbieding van ekstrinsieke getuienis.132 Die Romeins-Hollandse reg het egter ook ’n onderskeid tussen private en openbare dokumente gemaak.133 Die meeste skrywers was dit eens dat private dokumente weerlegbaar was.134 Die openbare dokument was volledige bewys van die inhoud daarvan,135 maar die skrywers het uiteenlopende menings gehad oor die vraag of dit weerlegbaar was of nie. Huber is van mening dat die dokument deurslaggewend was, maar dat bewys van getuies wel aangehoor kon word as die getrouheid van die dokument of die inhoud daarvan weerspreek is.136 Van der Keessel steun klaarblyklik hierdie standpunt, aangesien die skrif ook volgens hom bindend is, ten minste wat ’n skulderkenning betref wat nie uit ’n geldlening ontstaan het nie en die skuldenaar die dokument erken het of dit namens hom opgestel is.137

Alhoewel Merula van mening is dat die dokument altyd slegs ’n bewysmiddel daargestel het, verklaar hy dat die openbare dokument, behalwe in ernstige gevalle, onweerlegbare bewys van die inhoud daarvan was. Hy verklaar voorts dat die dokument ’n sterker bewys daargestel het as getuies.138 Matthaeus steun die standpunt dat skriftelike bewys sterker is as die bewys deur getuies. Hy voer dit egter nog verder wanneer hy verklaar dat die bewys deur getuies nie teen skriftelike bewys aangevoer kon word nie.139 Volgens De Groot is die dokument volledige bewys en onweerlegbaar, behalwe in die geval waar bedrog ter sprake is.140 Voet, daarenteen, volg die Romeinsregtelike tradisie en verklaar dat die geskrewe dokument in sy geheel weerlê kan word indien daar wesenlike teenstrydighede in die dokument self vervat is, indien daar teenstrydige geskrifte bestaan het, indien daar bewys kon word dat een van die kontrakspartye nie tydens kontraksluiting teenwoordig was nie, of dat daar getuienis aangebied is wat die skriftelike dokument weerspreek.141

Ook Lee gaan in sy bespreking van die Romeins-Hollandse reg van die standpunt uit dat die aanbieding van ekstrinsieke getuienis wel toelaatbaar is om die bedinge van ’n skriftelike ooreenkoms te bewys:

If an action is brought upon a contract, the plaintiff must prove its terms, and identify the defendant as the party liable. The proof of contract is part of the law of evidence and lies outside the scope of this work. Let it suffice to point to the general rule that in every case the best evidence must be produced. In the case of a written contract this means the original instrument together with so much parol evidence as is necessary to explain the circumstances of the contract and the nature of the liability alleged.142

Hierdie standpunt word klaarblyklik ook deur Van der Linden in sy kommentaar op Voet se Pandekte gehandhaaf: “Writing admitted but contents denied. – Plainly if he admits that he did the writing, but says that the things contained in the writing are false, the screed will have its full and proper weight until the contrary has been proved.”143

Ook uit Suid-Afrikaanse regspraak kan afgelei word dat die ekstrinsieke-getuienis-reël ’n onbekende verskynsel in die Romeins-Hollandse reg is. In Weinerlein v Goch Buildings Ltd144 bespreekdie hof kortliks Romeins-Hollandse regsbronne, veral in die opsig waar die exceptio doli en die verbod op ekstrinsieke getuienis oorvleuel. Die bronne wat die hof aanhaal, slaan egter meer op die uitleg van kontrakte, veral in geval van bedrieglike wanvoorstelling, as op die aanbieding van ekstrinsieke getuienis om die bedinge daarvan te bewys:

Semper veritati errorem cedere oportet, says Faber in his Code 4.16. def.10, the mistake must yield to the truth. “In contracts regard must be had rather to the truth of the matter (rei veritas) than to what has been written,” is laid down in C.4.22. L.1; and Gothofredus notes: “for there may be mistake in the writing.” (Cf.C.4.50.L.5 and L.6.).

The language of the Code is significant: “It has often been laid down that an error in computation which has been made in one contract or in more than one, does not prejudice the truth” (veritati non afferre praejudicium). From the above it is clear that the Romans did not allow the true agreement between the parties to be prejudiced by a slip of the pen or other inaccurate expression.145

In die lig van bostaande kan die Romeins-Hollandse reg ten aansien van die aanbieding van ekstrinsieke getuienis kortliks soos volg opgesom word:

  • Die skriftelike dokument dien slegs as bewysmateriaal.
  • Daar word ’n onderskeid getref tussen private en openbare dokumente.
  • Openbare dokumente het ’n sterker bewyswaarde as private dokumente.
  • Private dokumente het in sekere gevalle ’n bewyswaarde gelykwaardig aan openbare dokumente gehad, byvoorbeeld waar die private dokument deur drie getuies onderteken is.146
  • Die openbare dokument, asook die private dokument wat daarmee gelykstaan, verskaf volledige bewys van die inhoud daarin vervat. In uitsonderlike gevalle kon hierdie dokumente egter wel deur ekstrinsieke getuienis weerlê word.
  • Dokumente verskaf derhalwe slegs bewys in ’n meerdere of mindere mate van die bedoeling van die partye.
  • Die basiese beginsel is dat die dokument nie onweerlegbare bewys was van die inhoud daarin vervat nie.
  • In die praktyk is egter ’n al hoe groter bewyswaarde aan skriftelike bewys toegeken. Die dokument kon derhalwe in sommige gevalle, net soos in die Romeinse reg, onweerlegbare bewys van die inhoud daarvan daarstel.

Die basiese beginsel in die Romeins-Hollandse reg, ten minste wat gewone private dokumente aanbetref, was dat die bedoeling van die partye voorop staan en dat soveel ekstrinsieke getuienis aangebied mag word as wat nodig is om sodanige bedoeling vas te stel. In die lig van voorgaande bespreking blyk dit duidelik dat die integrasiereël en die interpretasiereël aan die Romeinse en Romeins-Hollandse reg onbekend was.

2.3.3 Gevolgtrekking

Die Romeins-Hollandse reg sou nie slaafs nagevolg kon word nie en daar sou voorsiening gemaak moet word vir veranderde moderne omstandighede. So sou dit byvoorbeeld absurd wees om te bepaal dat ’n sekere aantal getuies benodig word om ’n skriftelike kontrak in die huidige Suid-Afrikaanse reg omver te werp!

Dit wil egter nie sê dat die spesifieke beginsels van die Romeinse en Romeins-Hollandse reg geen waarde vir ons huidige reg kan hê nie. Inteendeel, hierdie beginsels kan ’n betekenisvolle waarde toevoeg tot die hervorming van ons reg ten aansien van die aanbieding van ekstrinsieke getuienis. Dit is veral die klem wat gelê is op die bewyswaarde van skriftelike kontrakte wat met vrug in ons reg aangewend kan word. Ook die gradering van verskillende kontrakte in die Romeinse en Romeins-Hollandse reg kan op ’n indirekte wyse ’n waardevolle bydrae lewer tot die huidige Suid-Afrikaanse kontraktereg, veral waar daar sprake is van standaardbedinge in ’n kontrak.

2.4 Die huidige posisie – is herklassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël moontlik?

Die huidige posisie met betrekking tot die bronne van die Suid-Afrikaanse bewysreg, en derhalwe die ekstrinsieke-getuienis-reël, is in ’n groot mate vasgestel deur die uitspraak van die appèlafdeling in Van der Linde v Calitz147 en kan kortliks soos volg opgesom word:

  • ’n Beslissing van die Geheime Raad voor 1950 moet beskou word asof dit ’n beslissing van die appèlafdeling self is en die appèlafdeling kan van sodanige uitspraak afwyk indien dit duidelik verkeerd is.
  • ’n Uitspraak van die Engelse hooggeregshof (Supreme Court of Judicature) (of die House of Lords wat, alhoewel dit nie deel gevorm het van die Engelse hooggeregshof nie, dit bind) voor 30 Mei 1961, is bindend op die appèlafdeling in die mate waarin dit beskou word as ’n korrekte uiteensetting van die Engelse reg.
  • ’n Reël van die Engelse reg kan so onvanpas wees vir die Suid-Afrikaanse regstelsel dat dit verkeerd sou wees om dit slaafs na te volg.
  • Uitsprake van die Engelse howe na 31 Mei 1961, asook ’n uitspraak van die Geheime Raad na 1950, bind nie ons howe nie, maar het oorredingswaarde.
  • Die gevolg is dat die Suid-Afrikaanse bewysreg klaarblyklik in ’n groot mate “bevries” is in die gedaante wat dit op 30 Mei 1961 aangeneem het.

Schmidt en Rademeyer voer op grond hiervan aan dat die Suid-Afrikaanse bewysreg soos wat dit op 30 Mei 1961 gegeld het, nie voortaan deur regspraak verder ontwikkel kan word nie.148 Ons howe sal egter nog steeds sodanige reg moet uitlê en by sodanige uitleg sal Engelse gewysdes wat na hierdie datum die lig gesien het, wel oorredingskrag hê, maar niks meer as dit nie.149 Soos later in hierdie artikel bespreek, het hierdie beginsel tot uiters ironiese gevolge aanleiding gegee.150

Schmidt en Rademeyer is van mening dat alhoewel Engelse bewysregtelike regspraak nie altyd noulettend deur ons howe gevolg hoef te word nie, daar nie van vaste reëls of beginsels van die Engelse bewysreg afgewyk mag word nie.151 Die vraag bly egter of ons howe gebonde is aan die duidelik verkeerde klassifisering van ’n regsreël as deel van die bewysreg deur die Engelse howe. Van der Linde v Calitz152 verskaf die gesag daarvoor dat die hoogste hof van appèl wél mag afwyk van die presedent van die Engelse howe indien dit duidelik blyk dat sodanige howe die Engelse reg verkeerd vertolk het.

Daar moet in gedagte gehou word dat die verkeerde klassifisering van die Engelse howe weinig, indien enige, invloed op die Engelse jurisprudensie gehad het. In Suid-Afrika het sodanige klassifisering egter ’n wesenlike invloed op die ontwikkeling van ons reg gehad met betrekking tot die bewys van die skriftelike bedinge van ’n ooreenkoms. Op grond van hierdie beginsels kan daar derhalwe gevra word of die hoogste hof van appèl enigsins oor die bevoegdheid beskik om af te wyk van die klassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël as ’n reël van die bewysreg, met die gevolglike uitwissing van regspraak wat oor ’n tydperk van meer as 80 jaar ontwikkel het.

Om hierdie vraag te beantwoord moet daar gekyk word na watter beginsels die hoogste hof van appèl sal toepas waar die afwyking van ’n uitspraak van die vorige appèlafdeling ter sprake is. In hierdie opsig het appèlregter Olivier153 in Brisley v Drotsky154 drie beginsels neergelê, naamlik waar die vorige beslissing(s) op ’n klaarblyklike oorsig of wanopvatting of fout berus het; waar die hof se aandag in die vorige beslissing(s) nie op relevante gesagsbronne gevestig was nie; en die beginsel van regsekerheid en kontinuïteit.

Ten aansien van die eerste beginsel verwys die hof met goedkeuring na die beslissing in Bloemfontein Town Council v Richter,155 waar soos volg verklaar word:

The ordinary rule is that this Court is bound by its own decisions and unless a decision has been arrived at on some manifest oversight or misunderstanding, that is, there has been something in the nature of a palpable mistake, a subsequently constituted Court has no right to prefer its own reasoning to that of its predecessors – such preference, if allowed, would produce endless uncertainty and confusion.156

Die hof vervolg dat die stare decisis-leerstuk derhalwe meer rigied deur die hoogste hof van appèl toegepas moet word as deur enige ander hof.157

In die Brisley-saak is die trefwydte van die sogenaamde Shifren-beginsel,158 ingevolge waarvan alle wysigings van die kontrak aan bepaalde formaliteite moet voldoen, aangeveg. Die hoogste hof van appèl verklaar dat daar voorheen ’n hele aantal teenstrydige provinsiale beslissings ten aansien van die bindende aard van ’n geen-wysigingsbeding was en dat daar, selfs nog voor die Shifren-uitspraak, ook van verskeie oorde akademiese kritiek daarteen gelewer is.159 Die hof bevind dan dat die debat tydens die Shifren-uitspraak geensins nuut was nie en dat die hof klaarblyklik weens beleidsoorwegings, doelmatigheidsfaktore en volgens die hof se insigte ’n bepaalde standpunt laat seëvier het.160

In die Brisley-saak kom die hof dus tot die gevolgtrekking dat daar nie met reg verklaar kon word dat die Shifren-uitspraak op ’n klaarblyklike oorsig of wanopvatting berus het nie, en die hof was nie bereid om op grond hiervan die stare decisis-leerstuk te omseil nie.161

Daar kan nie fout gevind word met hierdie redenasie van die hof nie. Die vraag is egter wat die posisie sou wees indien dit aan die hoogste hof van appèl gestel word dat die verkeerde klassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël op ’n klaarblyklike oorsig of wanopvatting van die vorige appèlafdeling berus het. So ’n argument beskik beslis oor meriete. Die appèlafdeling het nooit, waar die klassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël ter sprake gekom het, die verskillende standpunte oorweeg en ’n besliste standpunt, soos die hof in die Shifren-saak, ingeneem nie. Alhoewel die appèlafdeling in verskeie sake162 aanvaar dat die klassifisering van die reël op ’n klaarblyklike wanopvatting of fout berus, het die hof dit daar gelaat en nie verder ondersoek ingestel na die moontlike herklassifisering van die reël nie.

Die tweede beginsel op grond waarvan die hoogste hof van appèl mag afwyk van sy vorige uitsprake is indien die hof se aandag in die vorige beslissings nie op relevante gesagsbronne gevestig is nie.163 In die Brisley-saak wys die hof daarop dat daar geen negering van bindende gesag in die Shifren-beslissing voorgekom het nie. In Shifren was die hof deeglik bewus van die relevante gesagsbronne en die akademiese debat rondom geen-wysigingsbedinge.164 Wat die Cassiem-saak165 betref, wil dit voorkom of die hof se aandag nie op die relevante gesagsbronne en/of standpunte gevestig is nie en die hof derhalwe die ekstrinsieke-getuienis-reël op grond daarvan miskien verkeerd geklassifiseer het.166

Die derde, en miskien belangrikste, beginsel wat in ag geneem word waar die hoogste hof van appèl van sy vorige uitsprake wil afwyk, is die beginsel van regsekerheid en kontinuïteit.167 Daar is ’n hele aantal beslissings waarin hierdie beginsel deur die appèlafdeling beklemtoon en toegepas is. Die hof het in die Brisley-saak verklaar:

Om nou die Shifren-beginsel in sy geheel te begrawe, kan kommersiële chaos skep, ’n vraagteken plaas agter talle bestaande kontrakte, en, les bes, kontraproduktief wees ten aansien van beleggings en ondernemings wat op die lange duur almal se belange kan bevorder, soos die oprigting en verhuur van wooneenhede.168

Die hof is verder van mening dat indien die risiko van hofgedinge wat weens beweerde mondelinge ooreenkomste kan ontstaan, nie effektief uitgeskakel kan word nie, sakelui en privaat kontrakspartye hulle aan die handelsverkeer sal onttrek of hulle toevlug sal neem tot ander, minder-gewenste beskermingsmeganismes.169

Reeds in Harris v Minister of the Interior170 het die appèlafdeling verklaar dat die hof nie sommer sal afwyk van ’n vorige uitspraak op grond waarvan daar vir ’n aantal jare gehandel en regte verkry is nie.171 In John Bell & Co Ltd v Esselen172 verwys die hof met goedkeuring na Union Government (Minister of Lands) v Estate Whittaker,173 waar appèlregter Solomon verklaar dat die hof, weens regsekerheid, nie daarop geregtig was om die relevante vraagstuk te heropen of om terug te keer na die oorspronklike bronne van ons reg om te bepaal of die Romeins-Hollandse reg daar korrek vertolk is nie.174 In Cullinan v Noordkaaplandse Aartappelkernmoerkwekers Koöperasie Bpk175 moes die hof beslis of die leerstuk van die versweë prinsipaal nog enige bestaansreg gehad het. Die hof verklaar dat alhoewel die leerstuk inderdaad indruis teen die grondbeginsels van ons reg, dit nie oorboord gegooi kan word nie, aangesien die beginsel al vir bykans 100 jaar in die handelsverkeer toegepas is. In die verlede is daar volgens die hof talle transaksies aangegaan waar partye regte verkry en verpligtinge aangegaan het weens die werking van die leerstuk. Indien die hof sou beslis dat die leerstuk nie meer geldig is nie, sou hierdie regte en verpligtinge skielik nie meer bestaan nie.176 Die hof verklaar dat die leerstuk so ingeburger is in ons reg dat die hof verplig is om dit as geldende reg te aanvaar.177

Bogemelde sake is nagevolg in Tuckers Land and Development Corporation (Pty) Ltd v Strydom;178 Attorney General Northern Cape v Brühns;179 Barclays Western Bank Ltd v Ernst180en Thorougbred Breeders’ Association v Price Waterhouse.181

In die Brisley-saak het die hof verder verklaar dat die beginsel van regsekerheid des te meer geld waar die hoogste hof van appèl in onlangse tye na die Shifren-saak verwys en die betrokke beginsel toegepas het.182 Die toepassing van hierdie beginsel sal dan ook die grootste struikelblok in die moontlike herklassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël verteenwoordig. Waar daar moontlik in die toekoms aangevoer kan word dat die reël herklassifiseer moet word, sal die hoogste hof van appèl na alle waarskynlikheid na bogemelde gewysdes verwys en aanvoer dat die reël al vir meer as 80 jaar in ons reg toegepas is en dat daar talle regte daaronder verkry is wat nie deur ’n hof tot niet gemaak kan word nie. Daar kan selfs geargumenteer word dat selfs al herklassifiseer die appèlafdeling die reël, dit nie noodwendig beteken dat die toepassing van die reël sal verander nie. Die beginsel van regsekerheid behoort meer gewig te dra as enige potensiële nadeel vir ’n kontraksparty weens die toepassing van die ekstrinsieke-getuienis-reël.

’n Argument kan verder uitgemaak word dat die toepassing van die ekstrinsieke-getuienis-reël in die Suid-Afrikaanse regsmilieu so onvanpas is dat dit nie slaafs nagevolg behoort te word nie aangesien ons nie oor ’n juriestelsel beskik nie. McCormick stel in hierdie opsig ’n goeie punt, naamlik dat die ekstrinsieke-getuienis-reël ’n prosedurele instrument is met die doel om potensieel nadelige getuienis van die lede van die jurie te weerhou.183 Daarom word met Zeffertt en Paizes saamgestem dat die ekstrinsieke-getuienis-reël slegs in ’n juriestelsel ’n ware rol kan vervul en dat die reël derhalwe nie werklik tuishoort in Suid-Afrika, waar daar nie meer juries bestaan nie.184 Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat die hoogste hof van appèl die ekstrinsieke-getuienis-reël slegs op grond van hierdie argument sal afskaf, aangesien daar ook ander redes aangevoer kan word vir die behoud daarvan.185 Die weerhouding van potensieel nadelige getuienis van die lede van die jurie is slegs een van hierdie redes. Dit blyk dus duidelik dat die ekstrinsieke-getuienis-reël deel uitmaak van die substantiewe reg en verkeerdelik in ons reg ingevoer is onder die dekmantel van die formele bewysreg. Wetgewing verplig ons howe dan ook om die Engelse reg ten aansien van hierdie reël na te volg soos dit op 30 Mei 1961 was.

Dit wil voorkom of dit hoogs onwaarskynlik is dat die hoogste hof van appèl die ekstrinsieke-getuienis-reël in die nabye toekoms sal herklassifiseer. Die belangrikste rede hiervoor is die beginsels van regsekerheid en kontinuïteit. Zeffertt en Paizes steun hierdie gevolgtrekking waar hulle verklaar dat “[i]n South Africa the ‘parol evidence rule’ has been applied on the assumption that it forms a part of the English law of evidence, and however questionable this view may be, it is now too late for the courts to do anything about it.”186 Schwikkard en Van der Merwe sluit hierby aan: “As a matter of practicality, however, it must be accepted that English precedent has become so entrenched in South African law that it must now be regarded as an ineradicable part thereof. A return to Roman-Dutch sources is unlikely.”187

In Strydom v Coach Motors (Edms) Bpk188 verklaar regter Hiemstra dan ook:

Hierdie reël word in Engels die "parol evidence rule" genoem en hoewel daar ’n sterk saak voor uitgemaak kan word dat ons hier met substantiewe reg te doen het en nie met bewysreg nie, was die ontwikkeling in die praktyk sodanig dat die reël stewig in die bewysreg ingelyf is. Die oerbronne moet derhalwe Engels wees en nie Romeins-Hollands nie.189

Indien dit blyk dat die ekstrinsieke-getuienis-reël afgeskaf of gewysig behoort te word in die Suid-Afrikaanse kontraktereg, is dit duidelik dat herklassifisering nie ’n oplossing is nie.

 

3. Die integrasiereël

Die essensie van die integrasiereël word baie goed soos volg deur Wigmore opgesom:190

This process of embodying the terms of a jural act in a single memorial may be termed the integration of the act, i.e. its formation from scattered parts into an integral documentary unity. The practical consequence of this is that its scattered parts, in their former and inchoate shape, do not have any jural effect; they are replaced by a single embodiment of the act. In other words: When a jural act is embodied in a single memorial, all other utterances of the parties on that topic are legally immaterial for the purpose of determining what are the terms of their act.

Ons howe is grootliks deur die standpunte van Wigmore beïnvloed en het hierdie aspek van die ekstrinsieke-getuienis-reël as die toepassing van die relevantheidsteorie benader. Dit het ingehou dat die uiteensetting van ’n regshandeling in ’n geskrewe stuk alle vorige of gelyktydige uitinge van die partye regtens irrelevant gemaak het vir doeleindes van die vassteling van die bedinge van die ooreenkoms.

Hierdie benadering het aanleiding gegee tot die formulering van die sogenaamde integrasie- en gedeeltelike-integrasie-reëls, wat voorgegee het om aan die bedoeling van die partye betrokke by die ooreenkoms gevolg te gee. In die geval waar die partye bedoel het dat die geskrewe stuk finaal en volledig moes wees, het volle integrasie plaasgevind en was dit ontoelaatbaar om die dokument deur middel van getuienis van vorige of gelyktydige ooreenkomste aan te vul of te weerspreek. Waar die bedoeling egter was dat die geskrewe stuk finaal was, maar onvolledig, het gedeeltelike integrasie plaasgevind en, alhoewel die dokument nie weerspreek kon word nie, kon dit deur ekstrinsieke getuienis aangevul word.191

Uit die voorgaande blyk duidelik dat die totstandkoming van ’n integrasie geheel en al afhanklik is van die bedoeling van die partye. Wat egter minder duidelik is, is op welke wyse hierdie bedoeling vasgestel moet word.

Die beginsels wat toegepas moet word om die bedoeling van die partye vas te stel, het tot die totstandkoming van minstens twee denkskole aanleiding gegee. Die eerste denkskool, soos voorgestaan deur Corbin, is geskoei op die vasstelling van die ware bedoeling van die partye deur alle getuienis toe te laat wat vir hierdie vasstelling relevant is.192 Die tweede denkskool, soos voorgestaan deur Williston, plaas ook die bedoeling van die partye op die voorgrond van die ondersoek, maar deur ’n verbod op die aanbieding van sekere relevante getuienis te plaas, word daar in baie gevalle tot ’n kunsmatige of fiktiewe simulasie van sodanige bedoeling gekom.193 Daar moet saamgestem word met Zeffertt en Paizes se standpunt dat “[w]hether Corbin’s or Williston’s view is to be preferred is ultimately a matter to be determined by considerations of fundamental judicial policy.”194

Hierdie standpunt word baie goed verwoord deur Calamari en Perillo, wat verklaar dat daar twee verskillende beleidsrigtings is wat nagevolg kan word. Aan die een kant is daar die beleidsrigting wat bepaal dat die publiek beter gedien word indien daar uitvoering gegee word aan die partye se algehele ooreenkoms, mondeling en skriftelik, selfs al bestaan daar ’n risiko dat daar ongeregtighede weens bedrog kan plaasvind. Aan die ander kant is daar die beleidsrigting wat bepaal dat die sekerheid verbonde aan transaksies vereis dat die partye hulle algehele ooreenkoms op skrif moet stel, selfs al sal dit aanleiding gee tot ongeregtighede wat by geleentheid mag plaasvind.195

Daar word vervolgens deur ’n bespreking van die relevante gewysdes gekyk hoe die toepassing van die integrasiereël in die Engelse en Suid-Afrikaanse reg uitgekristalliseer het.196

3.1 Toepassing van die integrasiereël in die Engelse reg

3.1.1 Die inhoud van die reël

In Goss v Lord Nugent197 is die inhoud van die integrasiereël soos volg uiteengesit: “If there is a contract which has been reduced to writing, verbal evidence is not allowed to be given … so as to add to or subtract from, or in any manner vary or qualify the written contract.”198

In Jacobs v Batavia and General Plantations Trust199 beskryf regter Lawrence die reël soos volg:

It is firmly established as a rule of law that parol evidence cannot be admitted to add to, vary or contradict a deed or other written instrument. Accordingly, it has been held that … parol evidence will not be admitted to prove that some particular term, which had been verbally agreed upon, had been omitted (by design or otherwise) from a written instrument constituting a valid and operative contract between the parties.200

In Shore v Wilson201 is aangevoer dat regsekerheid die regverdiging vir die bestaan van die reël was, aangesien die afwesigheid daarvan tot gevolg sou hê dat geen regsgeleerde met sekerheid advies sou kon verleen op grond van die uitleg van ’n skriftelike ooreenkoms nie.

Ten einde die uitwerking van die integrasiereël te versag, het die Engelse howe egter reeds in ’n vroeë stadium begin om uitsonderings op die reël te ontwikkel. Hierdie uitsonderings kan kortliks soos volg saamgevat word:

  • Ekstrinsieke getuienis is toelaatbaar om ’n kollaterale ooreenkoms te bewys, tensy daar ’n beding in die skriftelike kontrak vervat is wat bepaal dat die kontrak die volle ooreenkoms bevat.202 Aanvanklik het die howe egter ’n onderskeid gemaak tussen ’n kollaterale ooreenkoms wat die skriftelike kontrak aanvul en een wat dit weerspreek.203 In Lysnar v National Bank of New Zealand204 bevestig die Privy Council hierdie standpunt, maar huldig die mening dat dit nie in alle gevalle maklik is om te onderskei tussen ’n kollaterale ooreenkoms wat die skriftelike kontrak aanvul en een wat dit weerspreek nie. Hierdie standpunt was in ooreenstemming met die beslissing in De Lasalle v Guildford.205 In City and Westminister Properties (1934) Ltd v Mudd206 en Brikom Investments Ltd v Carr207 is daar egter wegbeweeg van hierdie benadering en het die onderskeid tussen die twee tipes kollaterale ooreenkomste klaarblyklik verval.
     
  • Die aanbieding van ekstrinsieke getuienis is toelaatbaar waar die doel daarvan is om die geldigheid van die skriftelike kontrak aan te veg, soos in gevalle van dwaling of wanvoorstelling, asook in gevalle van rektifikasie.208


  • Ekstrinsieke getuienis is verder toelaatbaar om aan te dui dat ’n skriftelike kontrak nog nie van krag is nie weens die nievervulling van ’n opskortende voorwaarde. In Pym v Campbell209 het die partye ’n skriftelike ooreenkoms aangegaan ten aansien van die verkoop van ’n aandeel in ’n uitvindsel. Die koper is toegelaat om mondelinge getuienis aan te bied dat die ooreenkoms nie in werking sou tree alvorens die uitvindsel deur die koper se ingenieur goedgekeur is nie.
  • Getuienis is toelaatbaar om ’n handelsgebruik te bewys. In Hutton v Warren210 is ’n huurkontrak uitgelê op grond van die handelsgebruik dat die huurder geregtig was op redelike vergoeding vir saad en arbeid alhoewel dit nie in die skriftelike kontrak beding is nie.
     
  • In die afwesigheid van ’n “entire agreement”-klousule211 is getuienis toelaatbaar om aan te toon dat die skriftelike kontrak nie bedoel was om die algehele ooreenkoms van die partye te verteenwoordig nie. Lewison is van mening dat alhoewel dit voorkom of hierdie uitsondering destruktief is ten aansien van die integrasiereël, die party wat aanvoer dat die skriftelike kontrak nie die volle ooreenkoms bevat nie, ’n vermoede moet weerlê dat dit wel die geval is.212 In Gillespie v Cheney Egar & Co213 het die hof verklaar dat waar die partye ’n definitiewe skriftelike kontrak opgestel het, daar ’n vermoede bestaan dat die kontrak bedoel was om al die bedinge daarvan in te sluit. Dit is egter slegs ’n vermoede en dit staan ’n party vry om getuienis aan te bied dat daar ’n latere ooreenkoms was wat bedoel was om saam met die eerste skriftelike kontrak uitwerking te hê (aangesien die skriftelike kontrak nie bedoel was om al die bedinge van die ooreenkoms in te sluit nie).
     
  • Ekstrinsieke getuienis mag verder aangevoer word om die partye tot die ooreenkoms te identifiseer,214 of om die onderwerp daarvan te identifiseer,215 of om bykomende vergoeding te bewys.216

Nassar wys heeltemal tereg daarop dat hierdie uitsonderings ontstaan het omdat moderne gekompliseerde en uitgebreide regsverhoudings net soveel buigsaamheid vereis as regsekerheid.217 Die toepassing van die integrasiereël in die Engelse reg het oor ’n aantal dekades ’n aansienlike ontwikkeling ondergaan. Die howe het in die eerste plek gesteun op die feit dat ’n ooreenkoms deels mondeling, deels skriftelik aangegaan is en, tweedens, op die beginsel van die kollaterale ooreenkoms om die toepassing van die integrasiereël te omseil.

Die eerste beginsel word goed deur J Evans & Son (Portsmouth) Ltd v Andrea Merzario Ltd geïllustreer.218 Die eiser in hierdie saak was ’n invoerder van masjinerie wat ’n kontrak met die verweerder vir die vervoer van sekere masjiene na Engeland per boot gesluit het. Die kontrak is gesluit ingevolge die standaardhandelsgebruik waarvolgens die verweerder absolute vryheid oor die metode van vervoer sou hê. Die kontrak het die verweerder gevrywaar teen enige aanspreeklikheid vir skade of vernietiging van die betrokke masjiene.

Die verweerder het voor 1967 reëlings vir die vervoer van die masjiene in kratte en treilers onder die boot se dek getref, aangesien die masjiene kon roes indien dit op die dek vervoer sou word. In 1967 het die verweerder voorgestel dat daar na houers oorgeskakel word vir die vervoer van die masjiene en aan die eiser ’n mondelinge versekering gegee dat die houers onder die boot se dek vervoer sou word. Op grond hiervan het die eiser met die verweerder ooreengekom dat die masjiene in die betrokke houers vervoer sou word. As gevolg van ’n oorsig deur die verweerder is een van die houers op die boot se dek vervoer en het die houer oorboord geval. Die eiser het skadevergoeding van die verweerder geëis vir die tenietgaan van die houer op grond van kontrakbreuk van die vervoerkontrak. Die hof bevind dat die mondelinge versekering ’n uitdruklike beding van die ooreenkoms was en, aangesien die ooreenkoms deels mondeling, deels skriftelik, aangegaan is, getuienis van die mondelinge beding toelaatbaar was.

City and Westminster Properties (1934) Ltd v Mudd219 sit die beginsel van die kollaterale ooreenkoms goed uiteen. Die verweerder het ’n winkel gehuur en in die kantoor agter in die winkel geslaap. In 1947, tydens onderhandelinge tussen die eiser (verhuurder) en die verweerder, is daar ’n skriftelike konsep-huurooreenkoms aan die verweerder gestuur vir ondertekening. Die huurooreenkoms het ’n klousule bevat wat verklaar het dat die perseel nie aangewend kon word vir enige behuisings- of oorslaapdoeleindes nie. Die eiser se agent het egter aan die verweerder gemeld dat die eiser nie enige besware sou hê indien die verweerder in die winkelperseel woon nie. Die verweerder het die ooreenkoms op grond van hierdie versekering onderteken. In 1956 het die eiser die hof genader vir kansellasie van die huurooreenkoms op grond van ’n verbreking van gemelde beding deur die verweerder. Die verweerder het ontken dat hy kontrakbreuk gepleeg het en aangevoer dat die eiser afstand gedoen het van die relevante beding. Die hof het bevind dat aangesien die verweerder die ooreenkoms slegs as gevolg van die mondelinge versekering deur die eiser se agent onderteken het, hy geregtig was om staat te maak op die versekering vir so lank as wat hy die winkelperseel beset het.

Die leerstuk van die kollaterale ooreenkoms is deur die hof in die Evans-saak220 aangeneem. Poole wys daarop dat die bedinge van die kollaterale ooreenkoms selfs voorrang kan geniet bo teenstrydige bedinge van die geskrewe hoofkontrak.221

In Peirce v Corf,222 waar dit gegaan het oor die vraag of daar verwys kan word na ’n ander dokument om die skriftelike kontrak aan te vul, is die beginsel wat in Dobell v Hutchinson223 neergelê is, bevestig, naamlik dat “on the document itself there must be some reference from the one to the other, leaving nothing to be supplied by parol evidence …224 In die rigtinggewende beslissing van Long v Millar225 het die hof egter afgewyk van hierdie streng toepassing van die integrasiereël. In hierdie saak is ekstrinsieke getuienis toegelaat om ’n skriftelike kontrak wat deur die eiser onderteken is, te verbind met ’n skriftelike kwitansie wat deur die verweerder onderteken is. In Stokes v Whicher226 verklaar die hof dat waar daar in die skriftelike kontrak ’n verwysing is na ’n ander ooreenkoms, ekstrinsieke getuienis toelaatbaar is om aan te toon wat die ander ooreenkoms behels. Indien al die bedinge skriftelik vervat is in die ander ooreenkoms, word daar ’n voldoende memorandum van die volle ooreenkoms verkry deur die twee ooreenkomste saam te lees.

In Timmins v Moreland Street Property Co Ltd227 het die appèlhof met goedkeuring verwys na die beslissing in Long v Millar,228 maar nog ’n stap verder gegaan. Die hof verklaar dat waar twee of meer dokumente saamgelees kan word om ’n gesamentlike ooreenkoms te vorm, daar ’n dokument moet wees wat onderteken is waarin daar ’n uitdruklike of geïmpliseerde verwysing na sodanige ander dokument of ooreenkoms is. Waar daar sodanige verwysing is, mag ekstrinsieke getuienis aangebied word om die ander dokument te identifiseer en die ooreenkoms wat dit uiteensit te verduidelik. In so ’n geval kan al die dokumente wat as sodanig geïdentifiseer is, saamgelees word om die ooreenkoms te vorm.229 In Elias v George Sahely & Co (Barbados) Ltd230 het die Privy Council hierdie benadering as ’n korrekte uiteensetting van die moderne Engelse reg beskou. Die hof moes in hierdie saak beslis of ’n geskrewe dokument en ’n kwitansie saamgelees kon word om ’n ooreenkoms te vorm. Die hof verklaar dat die kwitansie in die onderhawige geval verwys het na ’n ander dokument of ooreenkoms, naamlik ’n koopooreenkoms van ’n bepaalde eiendom. Die hof was van mening dat ekstrinsieke getuienis derhalwe aangevoer kon word om die ooreenkoms te verduidelik en enige dokument te identifiseer wat daaraan verwant was.231

3.1.2 Die Engelse regskommissie

3.1.2.1 Inleiding

In 1965, toe die Engelse regskommissie tot stand gekom het, het dit voorgestel dat die Engelse kontraktereg ondersoek moet word met die oog op die hervorming en kodifikasie daarvan.232 In 1972, nadat aansienlike werk gedoen is ten aansien van die voorbereiding van ’n konsepkodifikasie, het die regskommissie tot die gevolgtrekking gekom dat die publikasie van sodanige kodifikasie nie die beste manier was om die openbare aandag te vestig op sekere gedeeltes van die Engelse kontraktereg wat hervorming genoodsaak het nie.233 Werk aan die produksie van sodanige kontraktuele kodifikasie is derhalwe opgeskort en die kommissie het verklaar dat dit beoog het om ’n aantal werkstukke ten aansien van sekere gedeeltes van die Engelse kontraktereg te publiseer. Die doelwit was om vas te stel of wysigings daarvan noodsaaklik was, en indien wel, in welke mate.234

3.1.2.2 Werkstuk 70 van 1976

In hierdie werkstuk, wat gehandel het oor die ekstrinsieke-getuienis-reël, het die kommissie tot die gevolgtrekking gekom dat daar soveel uitgebreide uitsonderings op die ekstrinsieke-getuienis-reël in die Engelse reg bestaan dat die vraag gevra kan word of die reël nie grootliks daardeur vernietig is nie.235 Die kommissie was van mening dat indien die reël afgeskaf sou word, die resultaat steeds dieselfde in talle sake sou wees, maar dat daar in sommige sake ’n ander (en meer regverdige) resultaat kon wees. Die kommissie het derhalwe voorlopig aanbeveel dat die ekstrinsieke-getuienis-reël afgeskaf moet word.236

3.1.2.3 Werkstuk 154 van 1986

Die kommissie het aansienlike kommentaar uit verskeie oorde ontvang op die aanbevelings wat in werkstuk 70 gemaak is,237 wat uitgeloop het op die publikasie van werkstuk 154 in 1986. Daar word vervolgens kortliks na die belangrikste aspekte van hierdie werkstuk gekyk.

(a) Die trefwydte van die reël

Die kommissie het dit duidelik gestel dat hulle slegs met daardie gedeelte van die ekstrinsieke-getuienis-reël gemoeid was wat bekend staan as die integrasiereël en nie met die interpretasiereël of beste-getuienis-reël nie.238

(b) Die aard van die reël

Die kommissie het aangedui dat sover hul kennis strek, geen Engelse hof dit ooit nodig gevind het om die integrasiereël in besonderhede ten aansien van sy toepassing, trefwydte en uitwerking te ontleed nie. Die kommissie het die volgende uiteensetting verskaf ten opsigte van die aanname dat die integrasiereël as ’n regsreël kwalifiseer:

We have now concluded that although a proposition of law can be stated which can be described as the “parol evidence rule” it is not a rule of law which, correctly applied, could lead to evidence being unjustly excluded. Rather, it is a proposition of law which is no more than a circular statement: when it is proved or admitted that the parties to a contract intended that all the express terms of their agreement should be as recorded in a particular document or documents, evidence will be inadmissible (because irrelevant) if it is tendered only for the purpose of adding to, varying, subtracting from or contradicting the express terms of that contract. We have considerable doubts whether such a proposition should properly be characterised as a “rule” at all, but several leading textbook writers and judges have referred to it as a “rule” and we are content to adopt their terminology for the purposes of this report.239

Na ’n volledige bespreking van talle standpunte oor die aard van die integrasiereël240 het die kommissie tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen regsreël bestaan waarvolgens getuienis ontoelaatbaar is of geïgnoreer moet word slegs omdat daar ’n dokument bestaan wat soos ’n volledige kontrak lyk nie. Of die dokument kwalifiseer as ’n volledige kontrak, hang af van die bedoeling van die partye, objektief beoordeel, en nie van enige regsreël nie.241

(c) Moderne toepassing van die integrasiereël

Die kommissie het die volgende drie voorbeelde (wat om doelmatigheidsredes verbatim aangehaal word) van die moderne toepassing van die integrasiereël in die Engelse reg verskaf:

(i) A proposes to enter into a contract with B under which he agrees to hire a car from B. The contract documentation provides that the minimum period of hire is to be twelve months. Just before signing the relevant document A says to B, “I take it that I can terminate this contract at any time on giving seven days’ notice.” B replies, “Certainly, you may.” After three months A gives B a week’s notice of termination and returns the car. B claims that the contract has another nine months to run and claims damages from A. The court should give judgment in A’s favour. Either there was a single contract made partly orally and partly in writing, the oral part overriding any inconsistent part of the writing, or the parties made an oral contract collateral to, and overriding, the written one. The parties’ expressed intention, as understood by the conversation, was that the contract could be terminated on a week’s notice. Evidence of the conversation would not be excluded by any parol evidence rule.

(ii) On 1 July 1985 A makes B a present of a cheque in B’s favour for £1,000 dated 31 December 1985. B endorses the cheque in favour of C. On 1 November 1985 C presents the cheque to A’s bank and, when it is unpaid, immediately issues a writ for £1,000 against A, claiming as endorsee of that cheque. C alleges that at the time A drew the cheque he orally agreed with B that although the cheque was dated 31 December, it could be presented and would be honoured on or after 1 November. Evidence of the conversation between A and B should not be admitted. It will, however, not be excluded because of the parol evidence rule but because under section 3 of the Bills of Exchange Act 1882 cheques must be in writing. C cannot sue on the cheque and rely upon evidence of oral terms.

(iii) A agrees “subject to contract” to sell his house to B for £50,000. Contracts are drawn up stating this price and are returned, signed, to the respective solicitors ready for exchange. Before exchange takes place, B complains to A that the price is too high and A agrees to reduce it by £5,000. Thinking that if they tell their solicitors of this reduction the legal fees will be increased, A and B agree to say nothing to the solicitors but confirm the reduction by exchange of letters. In due course, the solicitors exchange the contracts showing the price as £50,000. A then seeks to maintain that the price to be paid is £50,000, relying on B’s signed contract. He seeks to exclude evidence of the reduction by relying on the parol evidence rule. However, the court should admit this evidence and give effect to the agreed reduction. The clear intention of the parties was that the price would be £45,000, not £50,000. The situation may be analysed either as a single contract contained in two documents, one of which was inaccurate because inconsistent with the true agreement as reflected in the other, which was intended to prevail, or the parties entered into two contracts, the one collateral to the other but taking effect so as to override it because constituting the true intention of the parties.242

(d) Gevolgtrekking van die kommissie

Die Engelse regskommissie het derhalwe tot die gevolgtrekking gekom dat die integrasiereël, vir sover daar aangevoer kan word dat enige sodanige regsreël ’n onafhanklike bestaan voer in die Engelse reg, nie die uitwerking het om getuienis uit te sluit wat toegelaat behoort te word ten einde geregtigheid tussen die partye te laat geskied nie. Die gesag wat aangevoer kan word om die bestaan van ’n reël te ondersteun wat sodanige uitwerking het, sal, volgens die kommissie, deur moderne Engelse howe onderskei word en nie nagevolg word nie.

Getuienis sal gevolglik uitgesluit word slegs waar die aanhoor daarvan nie in ooreenstemming is met die (werklike of objektiewe) bedoeling van die partye nie. Die kommissie het dan ook ten aansien van die trefwydte van die integrasiereël verklaar dat terwyl dit voorkom of ’n wyer integrasiereël in ’n vroeër stadium bestaan het, daar nie volgens hulle aangevoer kan word dat sodanige wyer reël tans in die Engelse reg bestaan nie.243

(e) Aanbevelings van die kommissie

Die regskommissie het aan die einde van werkstuk 154 verskeie redes aangevoer waarom die promulgering van wetgewing om die werking van die integrasiereël te reguleer nie die aangewese roete was om te volg nie,244 en dat dit meer gewens was om, indien nodig, opvoeding aan die publiek ten aansien van die werking van die integrasiereël te verskaf.245

In Wild v Civil Aviation Authority246 en Haryanto (Yani) v ED & F Man (Sugar) Ltd247 is die kommissie se benadering nagevolg. In die Haryanto-saak het die hof, nadat getuienis aangehoor is, verklaar dat hy geen twyfel gehad het dat die partye nie bedoel het dat die skriftelike kontrakte hulle volle ooreenkoms verteenwoordig nie. Die hof het hom soos volg oor die integrasiereël uitgelaat:

If it be objected that there can scarcely be anything left of the parol evidence rule when this case is within an exception to it, so be it. The rule may once have been beneficial in discouraging litigation, but I do not see that as any tendency to promote justice.248

Die hof het verder verklaar dat die bewyslas op die eiser rus om te bewys dat die ooreenkoms anders is as dit wat in die skriftelike kontrak vervat is. Alhoewel die standaard van bewys op die gewone siviele beginsel van ’n oorwig van waarskynlikheid berus, is ’n belangrike faktor wat in die “skale” geplaas moet word, die feit dat besigheidsmense oor die algemeen nie ’n skriftelike kontrak sal onderteken indien die ooreenkoms nie in ooreenstemming met hulle bedoeling is nie.249

In die Nieu-Suid-Walliese saak State Rail Authority of New South Wales v Heath Outdoor Pty Ltd250 het die hof beslis dat die Engelse reg korrek deur die regskommissie uiteengesit is waar die kommissie verklaar het dat die blote feit dat daar ’n kontraktuele dokument voortgebring word (maak nie saak hoe volledig dit voorkom nie), dit nie ekstrinsieke getuienis van mondelinge bedinge kan uitsluit waar een van die partye aanvoer dat dit deel van die ooreenkoms vorm nie. Indien die mondelinge bedinge bewys kan word, kan getuienis daarvan nie uitgesluit word nie, aangesien ’n hof sal bevind dat die ooreenkoms gedeeltelik uit die skriftelike kontrak en gedeeltelik uit die mondelinge bedinge bestaan. In so ’n geval kan daar volgens die kommissie geen “integrasiereël” bestaan nie.

Ten slotte word die huidige posisie ten aansien van die toepassing van die integrasiereël in die Engelse reg goed opgesom deur Zuppi waar hy verklaar dat “[i]n the birthplace of the rule, the parol evidence principle has begun to show its rifts.”251

3.2 Toepassing van die integrasiereël in die Suid-Afrikaanse reg

Die uitwerking van die integrasiereël op die toelaatbaarheid van getuienis word in sy tradisionele formulering, soos uiteengesit in die veel aangehaalde saak Union Government v Vianini Ferro-Concrete Pipes (Pty) Ltd252 beklemtoon waar appèlregter Watermeyer beslis dat

… this Court has accepted the rule that when a contract has been reduced to writing, the writing is, in general, regarded as the exclusive memorial of the transaction and in a suit between the parties no evidence to prove its terms may be given save the document or secondary evidence of its contents, nor may the contents of such document be contradicted, altered, added to or varied by parol evidence …253

In Johnston v Leal254 beklemtoon die hof dat die doel en uitwerking van die integrasiereël is om te verhoed dat ’n geïntegreerde skriftelike kontrak gewysig, aangevul of deur middel van ekstrinsieke getuienis weerspreek word ten einde die bedinge van die kontrak te herskryf (“to redefine the terms of the contract”) om sodoende op die kontrak, soos gewysig, te steun.255

3.2.1 Gedeeltelike integrasie

Die sogenaamde “gedeeltelike-integrasie-reël” is slegs ’n uitvloeisel van die integrasiereël en is soos volg deur appèlregter Corbett in Johnston v Leal 256 uiteengesit:

Where a written contract is not intended by the parties to be the exclusive memorial of the whole of their agreement but merely to record a portion of the agreed transaction, leaving the remainder as an oral agreement, then the integration rule merely prevents the admission of extrinsic evidence to contradict or vary the written portion; it does not preclude proof of the additional or supplemental oral agreement.257

Die gedeeltelike-integrasie-reël laat derhalwe dieselfde vraag ontstaan as die integrasiereël, naamlik of die geskrewe stuk die “sole memorial” van die ooreenkoms tussen die partye was.258 Of, anders gestel, wat presies is in die skriftelike stuk geïntegreer?259 Indien daar enige twyfel hieroor bestaan, moet daar eerstens gelet word op die bedoeling van die partye wat die regshandeling verrig het. Die verbod se trefwydte is naamlik beperk tot slegs dit wat die partye bedoel het om in skrif uit te druk.260

In Du Plessis v Nel261 verklaardie hof dat partye die bedoeling kan hê om slegs ’n gedeelte van hul transaksie op skrif te stel, en dan is slegs daardie betrokke (skriftelike) gedeelte aan die integrasiereël onderworpe. Appèlregter van den Heever het hierdie opvatting soos volg verwoord:

But the parties are not by this rule compelled to reduce all their legal relationships, however remotely related to such subject matter, to writing. Even where the subject matter of an oral contract is so closely related to that of the written instrument that the conclusion of one is consideration for the other, the oral contract may be proved if truly extrinsic and therefore not in conflict with the written contract.262

Gemelde bedoeling van die partye word vasgestel uit die dokument self, maar ook uit die woorde en gedrag van die partye en die omringende omstandighede. Die hof het die wyse waarop hierdie bedoeling vasgestel mag word, soos volg in Johnston v Leal uiteengesit:263

[I]t is permissible for the Court to hear evidence of the surrounding circumstances, including the relevant negotiations of the parties, in order to determine whether the parties intended a written contract to be an integration of their whole transaction or merely a partial integration.264

3.2.2 Opskrifstelling ’n vereiste

Daar moet onderskei word tussen gevalle waar die reg opskrifstelling as ’n voorvereiste vir die geldigheid van ’n regshandeling stel en waar opskrifstelling uit eie keuse deur die partye tot die ooreenkoms plaasvind. Wat die integrasiereël aanbetref, het dit basies dieselfde werking vir albei soorte regshandelinge. Ten aansien van die eerste soort moet egter in gedagte gehou word dat die betrokke wet wat die opskrifstelling vereis, sekere mondelinge bedinge wat andersins ingevolge die integrasiereël bewysbaar sou wees, ongeldig kan verklaar.265

In hierdie opsig moet daar op die strekking van die betrokke wet gelet word. Waar die algemene formule geld, naamlik dat ’n sekere soort kontrak “nie geldig sal wees nie tensy dit skriftelik aangegaan en deur die partye onderteken is”, het dit die uitwerking dat geen voorafgaande,266 gelyktydige267 of latere268 mondelinge ooreenkoms as ’n toevoeging tot die betrokke skriftelike kontrak kan geld nie, selfs al sou getuienis daarvan ingevolge die integrasiereël toelaatbaar gewees het.269 Muller v Pienaar270 verskaf ’n goeie voorbeeld hiervan. Die hof beslis dat al verhoed die verbod op die aanbieding van ekstrinsieke getuienis nie dat getuienis aangevoer word om te bewys dat een van die partye namens ’n versweë prinsipaal opgetree het nie, sodanige getuienis waarskynlik ontoelaatbaar is waar daar ’n statutêre skrifvereiste is, soos in die geval van ’n koopkontrak van grond. Die rede hiervoor is volgens die hof:

... nie omdat dit ’n uitsondering is op die bewysreëls ten opsigte van mondelinge getuienis wat heet ’n skriftelike kontrak te weerspreek of wysig nie, maar omdat dit sou sondig teen die bepalings van art 1 van Wet 68 van 1957, aangesien daardie voorskrif vereis dat daar sekerheid moet bestaan omtrent die identiteit van die partye.271

Daar mag in so geval ook geen ekstrinsieke getuienis aangebied word om ’n beding aangaande die wyse van betaling ten aansien van sodanige kontrak te bewys nie, en die relevante beding moet in die skrif self vervat wees.272

3.2.3 “Uitsonderings” op die integrasiereël

3.2.3.1 Inleiding

Volgens Zeffertt en Paizes het die Williston-benadering,273 of dan ten minste die tradisionele benadering wat dit weerspieël, tot die onvermybare gevolg aanleiding gegee dat daar ’n algemene integrasiereël deur die Suid-Afrikaanse howe, waarop daar ’n aantal kategorieë uitsonderings bestaan, geformuleer is. Hierdie skrywers verklaar: “This is something that often happens when the courts, in attempting to determine whether evidence is relevant or supererogatory, fail to recognize that relevance does not exist in a vacuum.”274

Daar was ook kritiek vanuit verskeie oorde oor hierdie benadering van ons howe. Zeffertt en Paizes is van mening dat dit afgeskaf behoort te word275 en deel die standpunt van Calamari en Perillo wat verklaar dat die benadering aanleiding gee tot ’n gedwonge insluiting van feitesituasies in kategorieë waar die integrasiereël nie van toepassing is nie.276 Schmidt is ook van mening dat die verskillende kategorieë van toelaatbare getuienis nie kwalifiseer as egte uitsonderings op die integrasiereël nie, maar eerder as gevalle wat buite die werking van die reël val.277 Schwikkard en Van der Merwe deel hierdie standpunt: “Some of these are not truly exceptions, but rather instances which fall outside the scope of the rule.”278 Zeffertt en Paizes stem saam: “These cases are frequently regarded as exceptions to the general rule, but it is probably more accurate to say that if the rule is correctly formulated, they do not come within its scope at all.”279

Selfs van die Suid-Afrikaanse howe het die menings van gemelde skrywers op hierdie punt gesteun. In Strydom v Coach Motors (Edms) Bpk280 beslis regter Hiemstra byvoorbeeld: “Hulle word soms ‘exceptions to the parol evidence rule’ genoem, uitsonderinge op die reël teen ekstrinsieke getuienis, maar hulle is in werklikheid gebiede wat nie deur die reël gedek word nie en nie teen die reël aanstoot nie.”281

Hoe dit ook al sy, hierdie “reël-uitsondering”-benadering is deur die meeste van ons howe gevolg en daar word derhalwe, gerieflikheidshalwe, by hierdie klassifikasie gehou. Die volgende uitsonderingsgevalle is dan ook deur die howe geformuleer, naamlik memoranda,282 handels- en plaaslike gebruike,283 ongeldige regshandelinge,284 gesimuleerde kontrakte,285 kollaterale bedinge,286 latere kontrakswysigings,287 opskortende voorwaardes,288 bykomende partye289 en gevalle waar rektifikasie toepassing vind.290 Vir doeleindes van hierdie artikel word net die posisie ten aansien van kollaterale bedinge bespreek.

3.2.3.2 Kollaterale bedinge

Die geval van kollaterale of sydelingse bedinge is besonder problematies ondanks die feit dat hierdie beginsel redelik eenvoudig is. Die verbod op ekstrinsieke getuienis geld, soos reeds vermeld, nie ten aansien van aangeleenthede wat buite om die skrif gereël word nie.291 Dit dui dan op ’n geval van gedeeltelike integrasie.292 Die partye mag derhalwe ’n kollaterale ooreenkoms bewys, naamlik ’n ooreenkoms wat, selfs al handel dit in breë trekke met dieselfde onderwerp as die skriftelike “hoofooreenkoms”, bedoel is om langs dit te bestaan en nie daarmee strydig is nie.

Avis v Verseput293 dien as illustrasie hiervan. ’n Akte waarin die ontbinding van ’n vennootskap gereël is, het nie melding gemaak van ’n mondelinge ooreenkoms wat bepaal het dat een vennoot aan die ander vennoot ’n kwart van die wins sou betaal vir ’n tydperk van twee jaar nie. Die hof het getuienis van die mondelinge ooreenkoms toegelaat, aangesien die partye nie bedoel het om die ontbinding van die vennootskap uitsluitlik in die betrokke akte te reël nie, en aangesien die mondelinge ooreenkoms nie teenstrydig was met die skriftelike kontrak nie.294 Appèlregter Centlivres is van mening dat die mondelinge ooreenkoms nie teenstrydig was met die skriftelike kontrak nie, aangesien die bewys daarvan neergekom het op niks meer nie as die bewys van “bykomstige” (“further”), nieteenstrydige “teenprestasie” (“consideration”).

Hierdie aspek verg verdere verduideliking. In die Engelse reg lei die afwesigheid van teenprestasie daartoe dat ’n kontrak nietig verklaar kan word. Derhalwe mag die afwesigheid van “consideration” altyd in die Engelse reg deur middel van ekstrinsieke getuienis bewys word. Insgelyks, waar ’n akte nie van teenprestasie melding maak nie, of slegs ’n nominale teenprestasie uiteensit, is ekstrinsieke getuienis altyd toelaatbaar om die ware teenprestasie te bewys.295 In die Engelse saak Turner v Forwood296 toon lord Goddard aan dat hierdie beginsel nie beperk behoort te word tot gevalle waar ’n nominale teenprestasie in ’n akte uiteengesit word nie. Hy verwoord die toepassing van hierdie beginsel soos volg:

Now, the settled rule of law is, that you may prove a further consideration which is consistent with the consideration stated on the face of the deed. You cannot be allowed to prove a consideration inconsistent with it, but you may prove another which stands with it.297

Dit was dan ook hoe appèlregter Centlivres die Engelse reg verstaan het in Avis v Verseput.298 Dit blyk egter dat hierdie stelling van lord Goddard die Engelse reg te wyd gestel het. Die reël wat bepaal dat waar ’n sekere teenprestasie in ’n akte vervat is, ’n ander bestaande teenprestasie bewys kan word, moet in konteks beskou word.299 Tapper dui baie duidelik aan dat hierdie reël uit die Engelse aktevervaardigingspraktyk ontstaan het, en dat daar geen Engelse gesag bestaan wat bepaal dat ekstrinsieke getuienis toelaatbaar is om ’n egte teenprestasie in ’n akte te bewys nie:

As a matter of conveyancing practice, it became usual to insert a nominal consideration in many deeds in order to avoid the implication of a use, so it was reasonable to infer that, so far as the intention of the parties was concerned, these cases were the same as those in which no consideration was inserted in a deed. There is no authority dealing with the admissibility of extrinsic evidence to vary a real consideration stated in a deed.300

In Du Plessis v Nel301 het appèlregter Van den Heever ook na die reël as uniek aan die Engelse reg verwys. Zeffertt en Paizes is die volgende mening toegedaan:

That the rule does derive from principles quite foreign to our law has been submitted by us above; it has been conclusively shown by Van den Heever JA. That extremely learned judge has stressed that the term “additional consideration” is derived from English cases in which the extra, oral terms were supplementary to a nominal consideration which had been mentioned in a written deed for technical reasons peculiar to the English law.302

Bogemelde uiteensetting van die Engelse reg stem egter nie ooreen met die posisie in die Suid-Afrikaanse reg waar teenprestasie nie ’n vereiste vir die totstandkoming van ’n geldige ooreenkoms is nie.303 Volgens Zeffertt en Paizes kon appèlregter Centlivres in Avis v Verseput304 derhalwe slegs met “consideration” bedoel het “die rede vir”:

The only way to rationalise this, in a South African context, that does not require consideration in contract, is to assume that his lordship’s reasoning was based on a semantic shift in the meaning to be attributed to the term “consideration”, that is to say, to attribute to it the sense of “the reason for”. Otherwise his lordship’s remarks are difficult, if not impossible to construe. Looked at in this way, his lordship would seem to have reasoned as follows: A, in order to take over the business, undertook in writing that V be paid £X. The “additional consideration” (that is, the reason) why it was agreed that V was only to be paid £X was the fact that A had promised V a quarter of the profits. In this sense, the “additional consideration” did not “contradict” the writing. It could be proved precisely because it was the “consideration” (the reason) why it was agreed that V was to get £X.305

Indien hierdie skrywers korrek is, moet die woordkeuse van appèlregter Centlivres gekritiseer word, aangesien dit tot groot verwarring in die Suid-Afrikaanse regspraak aanleiding gegee het. Indien die regter met “consideration” bedoel het “die rede vir”, kon hy dit tog duidelik so gestel het deur bloot te verwys na “the reason for”. Daar word egter aan die hand gedoen dat appèlregter Centlivres wél in sy gebruik van die term “consideration” dieselfde betekenis daaraan geheg het as in die Engelse reg. Hierdie afleiding kan gemaak word uit die feit dat hy juis verwys het na gesag oor “additional consideration” soos in die Engelse reg verstaan. Die regter verwys byvoorbeeld na The King v The Inhabitants of Scammonden306waar die King’s Benchbeslis het dat “where the consideration expressed in a deed of conveyance was £28, parol evidence was admissible to prove that £30 was the real consideration.”307 Appèlregter Centlivres AR verklaar ook:

The rule is that, where there is one consideration stated in the deed, you may prove any other consideration which existed, not in contradiction to the instrument; and it is not in contradiction to the instrument to prove a larger consideration than which is stated.308

Die regter kon met die gebruik van die term “larger consideration” tog net teenprestasie (“consideration”) soos verstaan in die Engelse reg bedoel het. ’n Mens kan tog nie praat van ’n “groter” (“larger”) “rede vir” nie! Die enigste afleiding wat hieruit gemaak kan word, is dat hy homself gebonde geag het aan die Engelse presedent soos uiteengesit in die Turner-saak.309 Dit wil dus voorkom of die Suid-Afrikaanse howe weer eens ’n (klaarblyklik verkeerde) Engelse presedent in ons regstelsel oorgeneem het.

Daar kan derhalwe ook nie saamgestem word met Zeffertt en Paizes dat appèlregter Centlivres die Engelse reël uit sy konteks aangewend het waar hy verklaar dat die reël van toepassing op bykomende prestasie op die feite in Avis v Verseput310 van toepassing was nie. Ook word verskil met hierdie skrywers se standpunt dat hierdie saak die vreemde gevolge illustreer van ’n situasie waar volksvreemde beginsels oorgeneem word in ons reg en hierdie beginsels daarby aangepas moet word.311 Appèlregter Centlivres het nie ’n Engelse reël buite sy konteks toegepas of ’n vreemde konsep in ons reg oorgeneem nie, maar bloot ’n (verkeerde) Engelse presedent nagevolg en verkeerd uitgelê. In sy uitspraak verwys hy geensins na gevalle waar géén “consideration” of ’n “nominal consideration” ter sprake is nie, maar bloot na “’n verdere prestasie” (“a further consideration”) wat in ooreenstemming is met die “prestasie” (“consideration”) vervat in die akte.312

Wat derhalwe gekritiseer moet word, is nie die toepassing van Engelse reëls buite hulle konteks nie, maar die blote navolging van Engelse presedente sonder ’n behoorlike ondersoek na die korrektheid daarvan, asook ’n verkeerde uitleg van gemelde presedente. Indien appèlregter Centlivres sou toegee dat die Engelse presedent van Turner313 verkeerd was en dat die Engelse reg oor “additional consideration” slegs op gevalle van toepassing was waar daar sprake was van geen of ’n nominale “consideration”, sou hy dalk in staat gewees het om te beslis dat die “additional consideration”-leerstuk beperk moet word tot sy Engelse tuiste, en dat dit geen bestaansreg in die Suid-Afrikaanse reg het nie.

Hoe dit ook al sy, die “additional consideration”-leerstuk het ’n integrale rol in die Suid-Afrikaanse reg gespeel. Die resultaat hiervan was wat Zeffertt en Paizes na verwys as “the blackest confusion and case law that is impenetrable to the subtlest lawyer – let alone the ordinary men to whom it ought to relate”.314

Waar opskrifstelling ’n vereiste vir die geldigheid van ’n ooreenkoms is, het die “additional consideration”-beginsel volgens Zeffertt en Paizes ’n nog meer subtiele transformasie ondergaan.315 In Veenstra v Collins316 regter Schreiner dat waar die partye niks meer gedoen het as om mondeling ooreen te kom oor bykomende teenprestasie wat die teenprestasie vervat in die geskrewe hoofooreenkoms aanvul nie, getuienis van die mondelinge prestasie nie toelaatbaar is waar die hoofooreenkoms regtens op skrif gestel moet word nie. Waar die mondelinge ooreenkoms egter die vorm aanneem van ’n belofte waardeur een van die partye oorgehaal word om die hoofooreenkoms aan te gaan, mag hierdie mondelinge ooreenkoms bewys word, al word daar vereis dat die hoofooreenkoms op skrif gestel moet word.317

Zeffertt en Paizes vra egter waarom dit nodig moet wees vir die kollaterale, mondelinge ooreenkoms om ’n belofte te wees wat een van die partye oorreed om die hoofooreenkoms te sluit. Hulle is van mening dat dit vermoedelik noodsaaklik is in die Engelse reg. Anders sou die mondelinge ooreenkoms ongeldig wees weens ’n gebrek aan “teenprestasie”. Hulle is verder van mening dat dit nie enige relevansie in die Suid-Afrikaanse reg kan hê nie, behalwe in die verwronge sin dat die leerstuk beteken dat ’n party ’n belofte om ’n bykomende teenprestasie te lewer, kan bewys indien dit iets was wat die teenprestasie van die hoofkontrak raak. Volgens Zeffertt en Paizes sal die kontrak glo nie deur hierdie subtiele redenasie “weerspreek” word nie. Dit is volgens hierdie skrywers die gevolg waar die hof ’n ander betekenis aan “consideration” geheg het as wat dit in die Engelse reg gehad het. Hulle is derhalwe van mening dat dit hoogs onregverdig was van regter Colman R om te verklaar dat regter Schreiner se dictum nie die duidelikheid weerspieël wat normaalweg ’n kenmerk van sy regterlike stellings is nie, aangesien ons howe hierdie gebrek aan duidelikheid onmoontlik gemaak het.318 Zeffertt en Paizes verklaar dat hierdie gebrek aan duidelikheid die gevolg is van die ontoepaslike “oorplanting van ’n nier in plaas van ’n hart”.319

Die toets wat die moderne Suid-Afrikaanse howe in hierdie gevalle gebruik om die bedoeling van die partye vas te stel, is om te vra of die beweerde voorafgaande ooreenkoms teenstrydigis met die bedinge van die skriftelike dokument. In die 19de-eeuse Engelse saak Brown v Byrne320 is beslis dat die getuienis wat toegelaat word, nie van ’n aard moet wees wat teenstrydig met die skriftelike kontrak is nie. Die feit dat dit bloot die kontrak wysig, is egter nie genoegsame rede om die getuienis uit te sluit nie, aangesien dit moontlik is om ’n wesenlike beding by die geskrewe bedinge van die kontrak te voeg sonder om die kontrak se werking drasties te verander. In Joubert v Steenkamp321 het die hof, waar ’n koopooreenkoms bepaal het dat die koopprys van ’n sekere stuk grond £450 was, getuienis van ’n beweerde voorafgaande mondelinge ooreenkoms om ’n bykomende £100 te betaal, verbied.

Zeffertt en Paizes lig voorts talle probleemareas ten aansien van die “additional consideration”-leerstuk uit. Daar word egter aan die hand gedoen dat die benadering wat deur Christie voorgestaan word, die beste is om toe te pas in alle gevalle waar “additionalconsideration” ter sprake is. Volgens Christie moet daar heeltemal vergeet word van die verwarrende begrippe van “kollaterale kontrakte” en “additional consideration” en moet al hierdie gevalle hanteer word asof dit “voorafgaande oorredende kontrakte” (“prior inducing contracts”) is.322 Hy sit dan ook die benadering wat ten aansien van “voorafgaande oorredende kontrakte” gevolg moet word, soos volg uiteen:

Die vraag is of getuienis toelaatbaar is om ’n sogenaamde voorafgaande oorredende kontrak te bewys. Voorafgaande, aangesien dit die skriftelike kontrak voorafgaan, al is dit net vir ’n paar oomblikke, en oorredend, aangesien die uitvoer daarvan die sluiting van die skriftelike kontrak teweegbring. Die patroon van sodanige kontrakte is “Ek sal nie die kontrak onderteken nie, behalwe as jy my x belowe”; x word belowe en derhalwe word die kontrak onderteken. Kan die mondelinge belofte om x te presteer bewys en afgedwing word? Voor hierdie vraag beantwoord kan word, moet twee beginsels oorweeg word. Die eerste, naamlik pacta sunt servanda, vereis dat ooreenkomste afgedwing moet word maak nie saak hoe informeel nie. Die tweede, naamlik die integrasiereël, vereis dat geïntegreerde skriftelike kontrakte voorrang geniet bo voorafgaande onderhandelinge, en selfs ooreenkomste, en dit vervang. Die antwoord is derhalwe dat indien die skriftelike kontrak nie die afwesigheid van Xof X-1 belowe nie, die mondelinge belofte bewys en afgedwing kan word, aangesien daar geen konflik met die skriftelike kontrak is nie, maar as die skriftelike kontrak die afwesigheid van Xof X-1 belowe, kan die mondelinge belofte nie bewys en afgedwing word nie, aangesien daar ’n konflik bestaan en die skriftelike kontrak voorrang geniet.323

Met verwysing na “additional consideration” vra Christie hom af of die uitspraak in Avis v Verseput324 beteken dat waar ’n skriftelike koopkontrak die koopprys as R1 000 uiteensit, getuienis aangebied mag word van ’n voorafgaande of gelyktydige mondelinge ooreenkoms om die koopprys tot R1 500 te verhoog. Sy antwoord is ontkennend, behalwe waar die skriftelike kontrak ’n bedrieglike handeling daarstel, soos om die ontvanger van inkomste te mislei.325 Hy kom tot hierdie gevolgtrekking, eerstens aangesien die verwysing na die Engelse sake waarop in die Avis-saak staatgemaak is, aantoon dat elkeen ’n eenvoudige geval van ’n “voorafgaande oorredende” ooreenkoms was. In die tweede plek was die “additional consideration” vervat in die voorafgaande of gelyktydige ooreenkoms, nie in een van die gevalle van dieselfde aard as die “consideration” wat in die skriftelike hoofkontrak uiteengesit is nie. Met ander woorde, in geeneen van hierdie gevalle het die voorafgaande oorredende ooreenkoms X belowe terwyl die skriftelike hoofkontrak die afwesigheid van X, of X-1, belowe het nie.326 Dit was waar selfs in die geval van R v Scammonden327 wat hier bo bespreek is, al verklaar appèlregter Centlivres dat die beginsel wat in die kopstuk van hierdie saak vervat is, vermeld dat waar die prestasie vervat in ’n transportakte uiteengesit is as £28, ekstrinsieke getuienis toelaatbaar was om te bewys dat die prestasie inderdaad £30 was. Christie voer oortuigend aan dat die uiteensetting van die beginsel vervat in die kopstuk egter totaal en al verkeerd is. Die verhoorhof in hierdie saak het geweier om getuienis toe te laat oor die £30, maar het bevind dat vier ghienies wat deel gevorm het van ’n boete wat in die akte uiteengesit is, beskou moet word as deel van die “consideration”. Dit het derhalwe die koopprys van £28 onveranderd gelaat.328

Tweedens voer Christie aan dat, ten spyte van Centlivres AR se onkritiese aanvaarding van die kopstuk in die Scammonden-saak, die regters in die Avis-saak dit duidelik gemaak het dat die “additional consideration” bewysbaar was slegs omdat dit nie strydig met die skriftelike kontrak was nie. Volgens Christie het dit derhalwe die tipiese patroon van ’n voorafgaande oorredende kontrak aangeneem en die “koopprys” in die skriftelike hoofkontrak in effek onveranderd gelaat.329

Derdens, indien daar in die Scammonden-saak beslis is wat in die kopstuk staan, sal dit in direkte konflik wees met die Engelse beslissings in Meres v Ansell,330 Angell v Duke331 en Minton v Geiger.332

Vierdens het ons howe deurgaans geweier om die “additional consideration”-leerstuk te vertolk op ’n wyse wat getuienis van mondelinge ooreenkomste wat X belowe, toelaat in die geval waar die skriftelike hoofkontrak die afwesigheid van X, of X-1, belowe.333

Laastens verwys Christie na Du Plessis v Nel334 waar appèlregter Van den Heever verklaar:

If you wish to prove that anything less or more than that which is promised in the written contract was promised in an oral contract prior to or simultaneously with the execution of the former, you seek to contradict, vary, add to or subtract from the terms of the instrument, if words mean anything, and if that were permissible, the rule may as well be cast overboard since it would have become a delusion.335

Zeffertt en Paizes stel ’n ander alternatief voor. Met verwysing na Veenstra v Collins,336 waar die partye ’n skriftelike ooreenkoms vir die verkoop van ’n sekere eiendom aangegaan het en die hof beslis het dat bewys van ’n voorafgaande mondelinge ooreenkoms (wat bepaal het dat die verkoper belowe het om sekere herstelwerk aan die eiendom te verrig), toelaatbaar was aangesien daar geen teenstrydigheid was nie, verklaar hulle dat ‘n mens nie met die resultaat fout kan vind nie. Hulle is egter van mening dat die beginsel onnet en onnodig is. Volgens hulle behoort ’n verkoper wat ’n koper oorreed het om skriftelik ooreen te kom om ’n koopprys van RX te betaal aangesien die verkoper mondeling onderneem het om die koopsaak te herstel, gebonde te wees aan die “geloof” wat hy deur sy belofte gewek het. Die koper het onderneem om RX te betaal aangesien hy op die belofte staatgemaak het, die koper was redelik en bona fide deur daarop staat te maak, en die verkoper behoort derhalwe op grond daarvan gebonde te wees, selfs al vereis die reg dat al die wesenlike bedinge van die koopooreenkoms skriftelik moet wees. Zeffertt en Paizes vra dan ook heeltemal tereg waarom ons ’n Engelse kontrakteregreël wat vermom is as ’n bewysregtelike reël, moet toepas om tot hierdie gevolgtrekking te kom deur middel van ’n subtiele en kasuïstiese redenasie wat gebaseer is op beginsels wat nie op ons reg van toepassing is nie.337

Indien dit nie was vir die beperkings wat opgelê word deur die integrasiereël nie, kon daar met hierdie standpunt saamgestem word. Die probleem is egter dat ingevolge die integrasiereël getuienis van sodanige voorafgaande ooreenkomste toelaatbaar is slegs indien dit nie “teenstrydig”is met die bepalings van die skriftelike hoofkontrak nie. Alvorens hierdie benadering dus gevolg kan word, naamlik dat ’n party aan die voorafgaande ooreenkoms gebonde gehou moet word weens die redelike vertroue en geloof wat hy by die ander party gewek het, moet daar eers vasgestel word of die integrasiereël op die gegewe feite van die saak van toepassing is. Indien die bepalings van die voorafgaande ooreenkoms strydig is met die bepalings van die skriftelike hoofkontrak, is die integrasiereël van toepassing en mag gééngetuienis daarvan aangebied word nie. Getuienis mag selfs nie eers aangevoer word om aan te toon dat die een party deur ’n bona fide-en redelike vertroue oorreed is deur die voorstelling van die ander party om die hoofkontrak te sluit nie.

Daar word gedeeltelik saamgestem met hierdie skrywers vir sover hulle die standpunt huldig dat die integrasiereël afgeskaf moet word en daar in die plek daarvan (waar dit gaan oor “additional consideration”) eerder van ’n suiwerder kontraktuele benadering gebruik gemaak moet word. Indien Christie dus reg verstaan word, word daar aan die hand gedoen dat daar op die volgende wyse gehandel moet word met sake waar “additional consideration” ter sprake is:

Eerstens moet al sodanige gevalle hanteer word asof dit op ’n “voorafgaande oorredende ooreenkoms” (“prior inducing contract”) gebaseer is.

Tweedens moet daar gelet word op die aardvan die “teenprestasie” (“consideration”). Indien die aard van die teenprestasie wat in die voorafgaande ooreenkoms vervat is, dieselfde is as dit wat in die skriftelike hoofkontrak voorkom (byvoorbeeld die betaling van ’n geldsom), sal getuienis aangaande die voorafgaande ooreenkoms teenstrydig wees met die bepalings van die hoofkontrak, en derhalwe ontoelaatbaar. Indien die aard van die prestasie egter verskillend is van dit wat in die hoofkontrak vervat is (byvoorbeeld die betaling van ’n kwart van die winste van ’n vennootskap soos in die Avis-saak), sal getuienis van die voorafgaande ooreenkoms nie teenstrydigwees met die bepalings van die hoofkontrak nie en daarom toelaatbaar wees.

Daar word aan die hand gedoen dat indien hierdie benadering gevolg word, al kom dit volgens Zeffertt en Paizes neer op “subtle reasoning”, dit die meeste probleme wat uit die “additional consideration”-leerstuk voortspruit, sal oplos. Hierdie benadering is in werklikheid nie ’n uitsondering op die integrasiereël nie, aangesien die kollaterale beding deel uitmaak van die skriftelike “hoofkontrak” en derhalwe onlosmaaklik deel vorm van ’n “single memorial” en nie buite die trefwydte daarvan val nie. Die “hoofkontrak” stel derhalwe weer eens slegs ’n “gedeeltelike integrasie” daar.

3.3 Moontlike verdere ontwikkeling van die integrasiereël in die Suid-Afrikaanse reg

Met die eerste oogopslag wil dit voorkom of die huidige toepassing van die integrasiereël in die Suid-Afrikaanse reg nie soveel van die Engelse benadering verskil nie. Ons howe erken ook die beginsel dat ekstrinsieke getuienis toelaatbaar is in alle gevalle waar daar nie volledige integrasie in die skriftelike dokument plaasgevind het nie. Ons howe erken selfs in ’n mate die Engelse leerstuk van die kollaterale ooreenkoms.338

Indien die ontwikkeling ten aansien van die integrasiereël in die Engelse reg vergelyk word met die ontwikkeling van die reël in die Suid-Afrikaanse reg, blyk dit egter duidelik dat die huidige toepassing van die reël in die twee jurisdiksies drasties verskil. Daar is veral

een baie belangrike verskil wat uitstaan. Dit is dat die Suid-Afrikaanse howe ekstrinsieke getuienis sal toelaat (indien die bestaan van ’n kollaterale ooreenkoms of ’n kollaterale ooreenkoms wat nie in die skriftelike kontrak geïntegreer is nie, bewys kan word) slegs waar die afsonderlike ooreenkoms nie strydig is met die bedinge van die skriftelike kontrak nie. Die Engelse howe laat hierdie getuienis egter wel toe selfs al is dit strydig met die skriftelike kontrak.339

Soos Poole dit stel: daar is ’n aansienlike beweegruimte in die Engelse reg vir die howe om die integrasiereël te vermy indien hulle dit sou verkies.340 McKendrick wys daarop dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die ekstrinsieke-getuienis-beperking kontrakspartye tans in die Engelse reg sal verhoed om getuienis aan te bied van bedinge waarvan hulle bedoel het dat dit deel van hulle ooreenkoms moet vorm.341 Furmston voer aan dat die reël deur regspraak in so ’n mate verslap is dat die enigste beperking ten aansien van die aanbieding van ekstrinsieke getuienis is waar die betekenis van die woorde wat in die kontrak self vervat is, aangeveg word. Hy is van mening dat dit die geval is aangesien ekstrinsieke getuienis altyd voor ’n hof gebring kan word deur aan te voer dat die kontrak nie in sy geheel op skrif gestel is nie. Hy voer verder aan dat die howe in elk geval huiwerig is om die ooreenkoms te beperk tot ’n geskrewe dokument waar dit tot ongeregtigheid kan aanleiding gee.342 Beatson verklaar dat die huidige benadering wat in die Engelse reg gevolg word, uit ’n beleidsoogpunt aantreklik is, aangesien die integrasiereël die uitwerking kan hê dat ’n aansienlike hoeveelheid getuienis van die partye se bedoeling uitgesluit word sonder om die sekerheid te bereik wat die reël poog om te bewerkstellig.343

Die verskil tussen die Engelse en Suid-Afrikaanse benadering is baie belangrik aangesien dit die wese van die integrasiereël verteenwoordig. Indien getuienis van ’n kollaterale ooreenkoms toegelaat word wat die skriftelike kontrak kan weerspreek, maak dit vir alle praktiese doeleindes die reël tot niet, soos wat die Engelse regskommissie aangetoon het. Ontevrede kontrakspartye kan in alle gevalle dan slegs bloot staatmaak op die bepalings van die kollaterale ooreenkoms of die feit dat die ooreenkoms deels skriftelik, deels mondeling aangegaan is om die reël se werking te omseil.344

Die logiese vraag op grond hiervan is natuurlik waarom die toepassing van die integrasiereël in die Suid-Afrikaanse reg nie ’n soortgelyke ontwikkeling ondergaan het as sy Engelse eweknie nie. Daar kan ’n aantal redes hiervoor aangevoer word.

In die eerste plek is daar die gedagtegang dat, vir sover dit nie deur wetgewing gereël word nie, ons bewysreg “bevries” is in die gedaante wat die Engelse bewysreg op 30 Mei 1961 aangeneem het. Indien hierdie gedagtegang korrek is, beteken dit dat die integrasiereël tans in ons reg toegepas moet word op dieselfde wyse as wat dit in die Engelse reg op 30 Mei 1961 toegepas is. Schmidt en Rademeyer is voorstanders van hierdie gedagtegang. Hulle is klaarblyklik van mening dat die Suid-Afrikaanse bewysreg, waar dit nie deur wetgewing gereël word nie, soos wat dit op 30 Mei 1961 toegepas is, nie verder deur regspraak ontwikkel mag word nie.345 Volgens regspraak beskik Engelse gewysdes wat ná 30 Mei 1961 die lig gesien het, slegs oorredingswaarde om die Engelse bewysreg soos op 30 Mei 1961 uit te .346 Schmidt en Rademeyer verklaar verder dat alhoewel Engelse bewysregtelike regspraak nie altyd noulettend deur ons howe gevolg hoef te word nie, daar nie van vaste reëls of beginsels van die Engelse bewysreg soos dit op 30 Mei 1961 gegeld het, afgewyk mag word nie.347

Hierdie standpunt moet egter gekritiseer word. Dit kon nooit die wetgewer se bedoeling gewees het dat ons bewysreg “bevries” moet word soos op 30 Mei 1961 sonder enige geleentheid vir verdere ontwikkeling nie. Om anders te redeneer sou absurd wees. Die wetgewer kon slegs bedoel het dat daar ’n afsnypunt moet wees vanaf welke datum Engelse gewysdes nie meer bindend op ons howe sou wees nie.

Kerr se standpunt is in ooreenstemming met hierdie sienswyse. Hy is van mening dat die uitwerking van ’n beslissing van die House of Lordsna 30 Mei 1961 op ons howe afhanklik is van die vraag of die beslissing verklarend is van die Engelse reg en of dit nuwe reg skep. Indien die beslissing slegs verklarend van die Engelse reg is, is dit bindend op ons howe. Indien die beslissing egter nuwe reg skep, is dit nie bindend op ons howe nie, maar sal die besluit volgens Kerr nog steeds met aansienlike respek deur ons howe behandel word.348

In S v Desai349 onderskryf adjunkregter-president Flemming ook hierdie standpunt. Hy verklaar dat ons bewysreg “is essentially a part of the law which is tied to the law of England … That, of course, does not exclude different developments at a date subsequent to the end of the statutory tying of our law of evidence to that of the law of England.”350 Ons howe is derhalwe nie verplig om Engelse beslissings na 30 Mei 1961 na te volg nie, maar dit staan hulle vry om die reg na hierdie datum te ontwikkel. Dit is ook in ooreenstemming met die nuutste denkwyse in ons reg, naamlik dat die howe nie net reg spreek nie maar ook reg skep. Die feit bly egter staan dat die Suid-Afrikaanse reg ten aansien van die toepassing van die integrasiereël gestagneer het en dat daar geen teken in die regspraak te bespeur is dat die howe dit wil verslap nie.

Selfs al word daar egter aanvaar dat ons bewysreg “bevries” is, kan daar geargumenteer word dat die verandering in die toepassing van die integrasiereël in die Engelse reg reeds voor 30 Mei 1961 plaasgevind het.351 Indien hierdie argument korrek is, is die hele debat oor die status van ons bewysreg na 30 Mei 1961 heeltemal irrelevant, aangesien ons huidige toepassing van die integrasiereël dan in elk geval veronderstel is om met die huidige posisie in die Engelse reg ooreen te stem.

Wat verhoed ons howe om die huidige Engelse benadering na te volg? In die eerste plek wil dit voorkom of ons howe huiwerig is om hulle enigsins uit te laat oor die vorige presedent wat geskep is in sake soos Johnston v Leal,352 Avis v Verseput353 en Du Plessis v Nel.354 Daar is ook geen sake oor die kollaterale ooreenkoms en die deels skriftelike, deels mondelinge ooreenkoms in die afgelope dekade of twee in ons reg gerapporteer nie. Tweedens staan die beginsel van regsekerheid355 weer eens breed in die pad van enige radikale verandering in die toepassing van die integrasiereël in die Suid-Afrikaanse reg.

In hierdie opsig moet regsekerheid egter gebalanseer word met die verandering wat onlangs plaasgevind het in die Suid-Afrikaanse siviele reg. Daar kan spesifieke melding gemaak word van die verandering wat plaasgevind het oor die sogenaamde pacta de quota litis, “champerty”, “maintenance” en “gebeurlikheidsgeldeooreenkomste”.356 In die verlede was gebeurlikheidsgeldeooreenkomste nie geldig in die Suid-Afrikaanse reg nie, aangesien dit as contra bonos mores (teen die openbare belang) beskou is. In 1996 het die Suid-Afrikaanse regskommissie ’n verslag die lig laat sien wat gehandel het met spekulatiewe en gebeurlikheidsfooie.357 Die kommissie het aanbeveel dat dit moontlik moet wees vir regspraktisyns om, onder sekere voorwaardes, gebeurlikheidsgelde­ooreenkomste met hulle kliënte te sluit.358 In 1997 is die Wet op Gebeurlikheidsgelde359 gepromulgeer ingevolge waarvan gebeurlikheidsgeldeooreenkomste tussen regspraktisyns en hulle kliënte gemagtig en gereguleer is. Die wet bepaal onder andere dat sodanige ooreenkomste aangegaan kon word, maar dat die fooi betaalbaar deur die kliënt (indien sukses behaal is) nie honderd persent van die regspraktisyn se normale fooie mag oorskry nie.360

In Price Waterhouse Coopers Inc v National Potato Co-Operative Ltd361 beslis die hoogste hof van appèl dat ’n ooreenkoms ingevolge waarvan ’n persoon ’n litigant van fondse voorsien om ’n aksie voort te sit in ruil vir ’n aandeel in die opbrengs van sodanige aksie (’n sogenaamde “champerty”-ooreenkoms) nie indruis teen die openbare belang nie en derhalwe geldig is.362 Scott voer aan dat hierdie uitspraak verwelkom moet word.363 Sy is van mening dat die uitspraak ’n noodsaaklike ontwikkeling van die beginsel van die openbare belang, as ’n faktor in die vassteling van die geldigheid van hierdie tipe ooreenkomste, verteenwoordig.364

Die vraag is egter of daar ’n analogie getrek word tussen bogemelde tipe ooreenkomste en die integrasiereël. Met ander woorde, sal ’n hof kan bevind dat regsekerheid ten aansien van die toepassing van die integrasiereël oor etlike dekades die knie moet buig voor die beginsel van die openbare belang?

Die antwoord hierop is ontkennend. Die openbare belang het nog nooit ’n rol in die toepassing van die integrasiereël gespeel nie. Ekstrinsieke getuienis oor voorafgaande, gelyktydige of latere ooreenkomste word nie uitgesluit omdat hierdie getuienis contra bonos mores is nie, maar omdat dit as irrelevant beskou word waar dit bewys word dat die partye hulle volle ooreenkoms in een skriftelike dokument geïntegreer het. Daar word derhalwe aan die hand gedoen dat die howe nie die beginsel van die openbare belang sal kan aanwend om die toepassing van die integrasiereël te wysig nie.

 

4. Gevolgtrekking

Soos reeds aangetoon, is die ekstrinsieke-getuienis-reël verkeerdelik deur die Engelse howe geklassifiseer as deel van die bewysreg in plaas van die materiële (kontrakte)reg. Hierdie verkeerde klassifisering van die reël is dan ook, ten spyte van kritiek uit verskeie oorde, net so goedsmoeds aanvaar deur die Suid-Afrikaanse howe. Selfs in die gevalle waar die howe wel aanvaar het dat die reël verkeerd geklassifiseer is, is geen poging aangewend om ten minste ’n ondersoek in te stel na die herklassifisering van die reël as deel van die materiële reg nie. Hierdie versuim het aanleiding gegee tot die onwenslike resultaat dat, ten aansien van die klassifikasie van die reël, en soos Schwikkard en Van der Merwe dit treffend verwoord, “English precedent has become so entrenched in South African law that it must now be regarded as an ineradicable part thereof.” Dit blyk dan ook duidelik dat die herklassifisering van die ekstrinsieke-getuienis-reël nie enigsins ’n oplossing kan bied ten aansien van die moontlike regshervorming of aanpassing van die reël in die Suid-Afrikaanse reg nie.

Wat die verdere ontwikkeling van spesifiek die integrasiereël in die Suid-Afrikaanse (kontrakte)reg aanbetref, blyk dit dat die integrasiereël in so ’n mate in die Engelse reg verslap is dat die Engelse regskommissie aanbeveel het dat dit nie nodig was om die reël formeel af te skaf nie. Daar is egter geen teken van dieselfde verslapping van die integrasiereël na 1961 in die Suid-Afrikaanse reg nie en die toepassing van die reël het in ’n groot mate gestagneer. Die belangrikste redes hiervoor is die gedagte dat ons bewysreg “bevries” is soos dit was op die dag voor republiekwording, en die beginsels van regsekerheid en kontinuïteit. Hierdie situasie het dan ook aanleiding gegee tot die absurde resultaat dat die integrasiereël aansienlik strenger toegepas word in die Suid-Afrikaanse reg as in die Engelse reg, waar die werking van die reël maklik gesystap kan word deur die toepassing van die beginsels ten aansien van die deels mondelinge, deels skriftelike ooreenkoms en die kollaterale ooreenkoms.

In die lig van bogemelde lyk dit dan ook of wetgewing die enigste werkbare moontlikheid bied om die ekstrinsieke-getuienis-reël, en meer spesifiek die integrasiereël, af te skaf of aan te pas in die Suid-Afrikaanse kontraktereg.

 

Bibliografie

Beatson, J. 2002. Anson’s law of contract.28ste uitgawe. New York: Oxford University Press.

Bekker, P.M. 2009. Die ekstrinsieke getuienis-reël in die Suid-Afrikaanse kontraktereg. Ongepubliseerde LLD-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

Bekker, T. 2011. Die regsteoretiese grondslag van die integrasiereël in die Suid-Afrikaanse kontraktereg. Obiter, 32:341–54.

—. 2012. Die integrasiereël in die Suid-Afrikaanse kontraktereg. Stellenbosch Regstydskrif, 23:265–79.

Borkowski, A. en P. du Plessis. 2005. Textbook on Roman law.3de uitgawe. Oxford: Oxford University Press.

Bower, G.S. en A.K. Turner. 1977. Estoppel by representation.3de uitgawe. Londen: Butterworths.

Buckland, W.W. 1963. A textbook of Roman law from Augustus to Justinian. 3de uitgawe. Cambridge: Cambridge University Press.

Calamari, J.D. en J.M. Perillo. 1970. The law of contracts. Minnesota: West Publishing Co.

Christie, R.H. 2006. The law of contract in South Africa.5de uitgawe. Durban: Lexis Nexis Butterworths.

Collins, H. 2003. The law of contract.4de uitgawe. Londen: Lexis Nexis.

Corbin, A.L. 1960. Corbin on contracts. A comprehensive treatise on the rules of contract law. Vol. 3. Minnesota: West Publishing Co.

Cornelius, S.J. 1999. A reconsideration of the admissibility of extrinsic evidence in the interpretation of contracts. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 2:344–51.

Davids, J. 1967. State privilege and precedent in the law of evidence. South African Law Journal,84:245–50.

De Wet, J.C. 1939. “Estoppel by representation” in die Suid-Afrikaanse reg. Ongepubliseerde LLD-proefskrif, Universiteit van Leiden.

Dixon, M.L. 1985. Delegation of powers in South African administrative law. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg,3:310–7.

Eerste program, Law com. No. 1, item 1; Eerste jaarverslag, 1965–1966, Law com. No. 4; Agtste jaarverslag, 1972–1973, Law com. No. 58.

Ewart, J.S. 1900. An exposition of the principles of estoppel by misrepresentation. Chicago: Callaghan and Company.

Furmston, M. 2001. Cheshire, Fifoot and Furrmston’s law of contract.14de uitgawe. Durban: Lexis Nexis Butterworths.

Grotius (De Groot), H. 1631 (1767). Inleiding tot de Hollandsche rechtsgeleerdheyt. Amsterdam.

Halsbury, H.S.G en D.M.H. Hailsham. 1992. Halsbury’s laws of England.4de uitgawe. Londen: Butterworths.

Huber, U. 1742. Heedensdaegse rechtsgeleertheyt, soo elders, als in Frieslandt gebruikelyk. 4de uitgawe. Amsterdam.

Joubert, C.P. 2004. Romeinse reg vir regspraktisyns en akademici. Kaapstad: Tygervallei.

Kahn, E. 1965. Have certain English precedents binding force in South Africa? South African Law Journal, 82:526–38.

—. 1967. The rules of precedent applied in South African courts. South African Law Journal, 84:43–55, 175–93, 308–30.

Kaser, M. 1975. Das römische Privatrecht.10de uitgawe. Munich: CH Beck’sche Verlagsbuchshandlung.

Kerr, A.J. 1965. Rules in the law of evidence which were in force on the thirtieth day of May 1961. South African Law Journal, 82:169–77.

—. 1991. The replicatio doli reaffirmed. The exceptio doli available in our law. South African Law Journal, 108:583–6.

Leake, S.M. 1906. Principles of the law of contracts. 5de uitgawe. Londen: Stevens.

Lee, R.W. 1953. An introduction to Roman-Dutch law.5de uitgawe. Oxford: Clarendon.

Lewison, K. 2004. The interpretation of contracts.3de uitgawe. Londen: Sweet & Maxwell.

Malan, J.F. 1987. Aspekte van rektifikasie in die Suid-Afrikaanse kontraktereg. Ongepubliseerde LLD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Matthaeus, A. 1739. De probationibus liber JS Entrup recensuit et praefationem adjecit. Groningen: Apud J. Sipkes.

McCormick, C.T. 1932. The parol evidence rule as a procedural device for control of the jury. Yale Law Journal, 365.

McKendrick, E. 1990. Contract law. Basingstoke: MacMillan Press.

Merula, P. 1705. Manier van procederen, in de provintien van Holland, Zeeland ende West-Vriesland, belangende civile zaaken. Amsterdam.

Nassar, N. 1995. Sanctity of contracts revisited. A study in the theory and practice of long-term international commercial contracts. Dordrecht: Martinus Nijhoff Uitgewers.

Phipson, S.L. 1982. On evidence.13de uitgawe. Londen: Sweet & Maxwell.

Poole, J. 2006. Casebook on contract law.8ste uitgawe. New York: Oxford University Press.

Salmond, J.W. 1966. Salmond on jurisprudence. 12de uitgawe. Londen: Sweet & Maxwell.

Schmidt, C.W.H. 1982. Bewysreg.2de uitgawe. Durban: Butterworths.

Schmidt, C.W.H. en H. Rademeyer. 2000. Bewysreg. 4de uitgawe. Durban: Butterworths.

Schwikkard, P.J. en S.J. Van der Merwe. 2009. Principles of evidence.3de uitgawe. Kaapstad: Juta & Kie.

Scott, S. 2004. Encouraging the good samaritan – a different approach to pacta de quota litis, champerty and maintenance. South African Mercantile Law Journal, 16:477.

Sonnekus, J.C. 2000. Die estoppelleerstuk in die Suid-Afrikaanse reg.2de uitgawe. Durban: Butterworths.

Suid-Afrikaanse Regskommissie. 1986. Projek 6. Review of the law of evidence.  

—. 1998. Projek 47. Report on unreasonable stipulations in contracts and the rectification of contracts.

Tapper, C. 1995. Cross and Tapper on evidence. 8ste uitgawe. Durban: Lexis Nexis Butterworths.

Thayer, J.B. 1969. A preliminary treatise on evidence at the common law. South Hackensack: Rothman Reprints.

The English Law Commission (Law com. No. 154). Law of contract. The parol evidence rule (1986).

Thomas, J.A.C. 1975. The Institutes of Justinian. Kaapstad: Juta & Kie.

Van Apeldoorn, L.J. 1972. Inleiding tot de studie van het Nederlandse recht.16de uitgawe. Zwolle: W.E.J. Tjeenk Willink.

Van Bijnkershoek, C. 1752. Quastionum iuris privati. Amsterdam.

Van der Linden, J. 1861. Regtsgeleerd, practicaal en koopmans handboek. Amsterdam.

—, J. 1956. The selective Voet being the commentary on the Pandects of Johannes Voet.Vertaal deur Percival Gane.Vol. 3. Durban: Butterworths.

Van der Merwe, S.W.J. e.a. 2012. Contract general principles.4de uitgawe(2012) Kaapstad: Juta & Kie.

Van Leeuwen, S. 1780. Het Roomsch-Hollandsch recht. Amsterdam.

Van Warmelo, P. 1960. Die uitleg van kontrakte. South African Law Journal,77:69–78, 219–28.

Van Zyl, D.H. 1979. Geskiedenis van die Romeins-Hollandse reg. Durban: Butterworths.

Vinnius, A. 1679. Tractatus de pactis. Utrecht: Ultrajecti.

Voet, J. 1698-1704. Commentarius ad Pandectas. Den Haag.

Wigmore, J.H. 1935. A students’ textbook of the law of evidence. Brooklyn: Foundation Press.

Williston, S. 1961. A treatise on the law of contracts.Vol. 4. 3de uitgawe. New York: Baker Voorlis & Co.

Zeffertt, D.T. en A. Paizes. 1986. Parol evidence with particular reference to contract.Johannesburg: Centre for Banking Law. Randse Afrikaanse Universiteit.

—. 2009. The South African Law of Evidence. 2de uitgawe. Durban:Lexis Nexis Butterworths.

Zimmermann, R. 1990. The law of obligations – Roman foundations of civilian tradition. Kaapstad: Juta & Kie.

Zuppi, A.L. 2007. The parol evidence rule: a comparative study of the common law, the civil law tradition, and lex mercatoria. Georgia Journal of International and Comparative Law,35(2):233–76.

 

Eindnotas

1 Hierdie artikel is gebaseer op Bekker (2009).

2 Sien die bespreking hier onder by par. 3.

3 Die verwantskap tussen die twee reëls word as volg verduidelik deur Watermeyer WAR in Rand Rietfontein Estates Ltd v Cohn 1937 AD 317, 326: “The difficulty which arises in practice, however, is not connected with the aim of the enquiry but with the limitations imposed by the rules of evidence upon the conduct of the enquiry. These rules limit the material which can be placed before the Court in order to ascertain the intention of the parties. In the first place there is the well-known rule that when a contract has been reduced to writing no oral evidence may be given to contradict, alter, add to or vary the written terms, and in the second place there is another rule the effect of which is that when the terms of a contract are clear and unambiguous no evidence may be given to alter such plain meaning.

4 Na noukeurige oorweging is daar besluit om die terminologie oor te neem soos gebruik deur Van der Merwe e.a. (2012:149), d.w.s. om te verwys na die ekstrinsieke-getuienis-reël as ’n oorkoepelende begrip wat bestaan uit twee subreëls, naamlik die integrasiereël en die interpretasiereël. Van der Merwe e.a.(2012:149)verwys soos volg na hulle gebruik van die terminologie t.a.v. die reëls: “The parol evidence rule has been said to comprise two distinct rules, namely the ‘integration rule’ and the ‘interpretation rule’.” Daar is besluit dat die gebruik van hierdie terminologie al die verskillende standpunte en toepassings van die reëls t.a.v. die toelaatbaarheid van ekstrinsieke getuienis die beste sal verwoord.

5 Suid Afrikaanse regskommissie, Report on Unreasonable Stipulations in Contracts and the Rectification of Contracts.Projek 47.April 1998. Vir ’n meer volledige bespreking van hierdie verslag sien Cornelius (1999:344); Bekker (2009:290–317). ’n Goeie voorbeeld van hoe die integrasiereël onbillik kan inwerk teenoor ’n kontraksparty, kan gevind word in Du Plessis v Nel 1952 1 SA 513 (A). Vir ’n volledige bespreking van hierdie saak sien Bekker (2012:275–8).

6 Sien ook Bekker (2012:265–79), waar die standpunt ingeneem word dat die

integrasiereël nie op een lyn is met die huidige kontraktuele aanspreeklikheidsbenaderings soos toegepas in die Suid-Afrikaanse kontraktereg nie, en dat daar op grond van slegs hierdie feit alleen alreeds genoeg regverdiging behoort te wees vir die afskaffing of aansienlike aanpassing van die reël in die Suid-Afrikaanse kontraktereg.

7 Vir ’n teenoorgestelde standpunt sien Malan (1987:40). Malan verwys egter slegs na

die Romeinse reg in sy bespreking en geensins na die Romeins-Hollandse reg nie.

8 Sien ook in hierdie verband Bekker (2011:341–54), waar die standpunt ingeneem

word dat die integrasiereël wel kwalifiseer as ’n regsreël en derhalwe by wyse van

wetgewing vir afskaffing of aanpassing vatbaar is.

9 Sien Stiglingh v Theron 1907 TS 998; Orsmond v Steyn 18 SC 1.

10 1930 AD 366.

11 368.

12 Sien die Strafproseswet 51 van 1977.

13 Bv. Ordonnansie 72 van 1830 in die Kaap, Wet 17 van 1859 in Natal, Ordonnansie 11 van 1902 in die Oranje-Vrystaat, Proklamasie 16 van 1902 in Transvaal.

14 25 van 1965.

15 56 van 1955 en later 51 van 1977.

16 Vir ’n volledige bespreking van die geskiedenis van die bronne van die Suid-Afrikaanse formele reg sien Schmidt en Rademeyer (2000:11–22).

17 Wigmore (1935, par. 490).

18 Thayer (1969:390).

19 Thayer (1969:390–1).

20 Ibid. Wanneer ’n regter bv. die stelling maak dat “I found my judgment on one of the most useful rules in the law, namely, that when parties have put their contract into writing, that writing determines what the bargain is”, soos beslis in Langton v Higgins 4 H&N 402, gee hy nie ’n reël van die bewysreg weer nie.

21 68 van 1981.

22 Thayer (1969:391).

23 Ibid.

24 Phipson (1982, par. 1).

25 Salmond (1966, par. 128).

26 Ibid.

27 Ibid.

28 Van Apeldoorn (1972:182). Sien ook die bespreking van Schmidt en Rademeyer (2000:6).

29 1939 AD 16, 31.

30 Thayer (1969:392).

31 Thayer (1969:393).

32 Ibid.

33 Schmidt en Rademeyer (2000:8).

34 Zeffertt en Paizes (1986:1).

35 Zeffertt en Paizes (2009:345).

36 Ibid.

37 Sien supra n. 5.

38 1943 AD 331.

39 378.

40 1941 AD 43.

41 47.

42 1962 3 SA 399 (T).

43 403.

44 1970 3 SA 240 (T).

45 242.

46 1963 1 SA 835 (O).

47 839.

48 1975 3 SA 16 (A). 79.

49 18.

50 1972 1 SA 276 (A).

51 282.

52 Vgl. Zeffertt en Paizes (1986:12).

53 1964 3 SA 402 (A).

54 Vgl. Anderson v The Master 1949 4 SA 660 (OK) (steun vir die lex causae-benadering ingevolge waarvan klassifikasie kragtens die vreemde regstelsel geskied); Laconian Maritime Enterprises Ltd v Agromar Lineas Ltd 1986 3 SA 509; (D) (steun vir die lex fori-benadering ingevolge waarvan klassifikasie kragtens die regstelsel van die hof waarin die geding gevoer word, met ander woorde die plaaslike regstelsel, geskied); Laurens NO v Von Höhne 1993 2 SA 104 (W) (steun vir die via media- benadering ingevolge waarvan klassifikasie kragtens ’n middeweg tussen die lex fori en die lex causae geskied).

55 Suid-Afrikaanse Regskommissie, Projek 6. Review of the law of evidence.Oktober 1986.

56 Phipson (1982, par. 38-02).

57 Zeffertt en Paizes (1986:12).

58 1983 1 All ER 1073 (CA).

59 1087.

60 Zeffertt en Paizes (1986:12).

61 Dixon (1985:316).

62 De Wet (1939, par. 6).

63 Zeffertt en Paizes (1986:13).

64 Sonnekus (2000:17). Een van die sake waarna Sonnekus verwys, is Arthur v Central News Agency Ltd 1925 TPD 588, 595 waar Krause R verklaar: “Now it is perfectly true that estoppel is a matter of evidence …” Hy verwys ook na Sprinz v Rayton Diamonds Ltd 1926 WLD 23, 28 waar die hof verklaar: “From this statement it follows that estoppel by representation is part of the law of evidence.” Vgl. ook North Eastern Districts Association (Prop) Ltd v Surkhey Ltd 1932 WLD 181 186 en West v Pollak & Freemantle 1937 TPD 64, waar Greenberg R die vreemde omskrywing, nl. “the rule of evidence of estoppel”, gebruik.

65 Ewart (1900:188–95).

66 Sien in hierdie verband Bower en Turner (1977, par. 7).

67 1947 AC 46 (PC).

68 56.

69 1975 3 All ER 314 (CA).

70 326.

71 Halsbury en Hailsham (1992, par. 951).

72 Sonnekus (2000:19). Sonnekus verwys na Akojee v Sibanyoni 1976 3 SA 440 (W) om sy standpunt te staaf.

73 Dixon (1985:316).

74 Schmidt (1982:574). Schwikkard en Van der Merwe (2009:17) verduidelik dat die facta probanda daardie feite is wat ’n party moet bewys ten einde sukses te kan hê en dat die facta probantia daardie feite is wat neig om die feite in geskil te bewys of te weerlê.

75 Zeffertt en Paizes (1986:13).

76 Zeffertt en Paizes (1986:15).

77 Zeffertt en Paizes (1986:14–5).

78 Die periode vanaf ongeveer 753 tot 150 v.C. Sien Joubert (2004:2–10).

79 Zimmermann (1990:622–5).

80 Joubert (2004:262).

81 Die periode vanaf ongeveer 150 v.C. tot 250 n.C. Sien Joubert (2004:10); Van Zyl (1979:18).

82 Ibid.

83 Zimmermann (1990:625–8).

84 Kaser (1975, par. 8.2.2b).

85 Kaser (1975, par. 8.2.2c).

86 Borkowski en Du Plessis (2005:255–6).

87 306–337 n.C. Sien Joubert (2004:14).

88 Ibid.

89 D. 2.14.1.1, D. 2.14.1.2. “Pactum autem a pactione dicitur (inde etiam pacis nomen appellatum est) et est pactio duorum pluriumve in idem placitum et consensus.

90 Joubert (2004:262).

91 I. 3.15.1 soos vertaal deur Thomas (1975:207). Die oorspronklike teks lees soos volg: “Sed haec sollemnia verba olim quidem in usu fuerunt: postea autem Leoniana constitutio lata est, quae, sollemnitate verborum sublata, sensum et consonantem intellectum ab utraque parte solum desiderat, licet quibuscumque verbis expressus est.”

92 D. 2.14.1.3.

93 Joubert (2004:262).

94 Joubert (2004:262–3).

95 Joubert (2004:263).

96 1904 TS 187.

97 197.

98 I. 3.13.2; D. 44.7.1.1.

99 Wat ook ’n handeling, soos die lewering van ’n saak, vereis het: Gaius 3.90; I. 3.14.

100 Wat ook die spreek van formele woorde vereis het: Gaius 3.92; I. 3.15.

101 Wat ook formele skrif vereis het: Gaius 3.128; I. 3.21.

102 Waar blote ooreenkoms voldoende was: Gaius 3.135; I. 3.22.

103 Joubert 279; Gaius 4.119. Die oorspronklike teks lui soos volg: “Si in ea re nihil dolo malo Auli Agerii factum sit neque fiat.”

104 Joubert (2004:279).

105 Dit word so genoem aangesien die bedrog (dolus) aanwesig geag word by litis contestatio (praesentis) en daar in werklikheid nie sprake van bedrog is nie (generalis): D. 45.1.36, D. 44.4.2.3.

106 1988 3 SA 580 (A).

107 594, 595.

108 1991 2 SA 1 (A).

109 5, 6, 7, 41.

110 Joubert (2004:280).

111 Kerr (1991:583–6).

112 Joubert (2004:280).

113 ’n Streng, eenvoudige formele kontrak (stricti iuris) en belangrikste kontraktuele verbintenis (obligatio ex contractu) wat tot stand gekom het tussen teenwoordige persone (inter praesentes partes): I. 3.15; D. 45.1.5.1. Sien ook die bespreking van Joubert (2004:274).

114 D. 45.1.126.2; D. 45.1.99; D. 45.1.38.18; D. 34.5.26; Van Warmelo (1960:219).

115 Ibid.

116 I. 3.19.23; Van Warmelo (1960:219).

117 N. 6.2.3.

118 Ibid.

119 Buckland (1963:415).

120 ’n Ander kategorie van skriftelike ooreenkoms bekend aan die vroeë Romeinse reg waarvolgens die skrif nie net bewyswaarde van die onderliggende verbintenis gehad het nie, maar ook ’n konstitutiewe vereiste was waardeur die verbintenis in die lewe geroep is; sien Van Warmelo (1960:219–20).

121 Van Warmelo (1960:220).

122 I. 3.21; Van Warmelo (1960:220).

123 C. 4.30.14.2; Van Warmelo (1960:220).

124 C. 4.30.14.1; Van Warmelo (1960:220).

125 C. 42.0.18; Van Warmelo (1960:220).

126 D. 22.3.10.

127 C. 4.21.15.

128 N. 73.3.

129 Sien die bespreking van Van Warmelo (1960:221).

130 Huber (1742:3.1.20); De Groot (1767:6.6.2); Van Leeuwen(1780:4.2.2); Van der Linden (1861:1.14.2).

131 Vinnius (1679:20.1); Van Bijnkershoek (1752:2.15.7); Voet (1829:22.4.11).

132 Sien die bespreking van Van Warmelo (1960:222–4).

133 Voet 22.4 (waar hy die publica instrumenta omskryf); Huber (1689:22.4.2); Merula (1705:4.66.2); Van Warmelo (1960:222).

134 Sien Voet 22.4.11; Van Warmelo (1960:222).

135 Merula 4.66.2.3; Van Warmelo (1960:222).

136 Huber 22.4.11, 22.4.13; Van Warmelo (1960:222).

137 Van der Keessel Dictata ad Grotium 3.5.1; Van Warmelo (1960:223).

138 Merula (1705:4.66.2.5; Van Warmelo (1960:222).

139 Matthaeus (1739:3.132). Van Warmelo (1960:223).

140 De Groot 3.3.7.

141 Voet 22.4.14, 22.4.15.

142 Lee (1953:268), eie kursivering.

143 Van der Linden (1956:750) soos uiteengesit in C. 4.30, 13; D. 9.2.23 (eie kursivering).

144 1925 AD 282.

145 289.

146 Voet 22.4.6.

147 1967 2 SA 239 (A). Hierdie uitspraak, waarin die hof voorkeur aan ’n ouer Geheime Raad-beslissing bo ’n beslissing van die House of Lords gegee het, is redelik wyd gekritiseer. Sien Davids (1967:245); Kahn (1967:328–30); Kerr (1965:169).

148 Schmidt en Rademeyer (2000:18).

149 Van der Linde v Calitz 1967 2 SA 239 (A) 944–5; Papenfus v Transvaal Board for the Development of Peri-Urban Areas 1969 2 SA 66 (T) 69; Rusmarc SA (Pty) Ltd v Hemdon Enterprises (Pty) Ltd 1975 4 SA 626 (W) 630; S v Naicker 1965 2 SA 919 (N) 932–3, waar Caney R van mening is dat Engelse uitsprake van na 30 Mei 1961 wat dit duidelik stel dat hulle handel oor die reg soos dit altyd was, en derhalwe ook op 30 Mei 1961, van toepassing is ingevolge die 30 Mei-klousules. Volgens Schmidt word daar seker hiermee bedoel dat ons howe hulle “moet” toepas.

150 Sien die bespreking infra par. 3.3.

151 Schmidt en Rademeyer (2000:21).

152 Supra n. 144.

153 In die meerderheidsbeslissing van die hof is daar slegs na twee beginsels verwys, nl. waar ’n vorige saak verkeerd beslis is en regsekerheid. Olivier AR het in sy minderheidsuitspraak egter uitgebrei op hierdie twee beginsels deur ook na die stare decisis-leerstuk te verwys.

154 2002 4 SA 1 (HHA).

155 1938 AD 195.

156 232.

157 Ibid.

158 Soos uiteengesit in SA Sentrale Ko-op Graanmaatskappy Bpk v Shifren 1964 4 SA 760 (A).

159 25.

160 Ibid.

161 21, 25.

162 Venter v Birchholtz supra n. 50; National Board (Pretoria) (Pty) Ltd v Estate Swanepoel 1975 3 SA 16 (A).

163 John Bell & Co Ltd v Esselen 1954 1 SA 147 (A) 153; Brisley v Drotsky 25 supra n. 149.

164 Brisley v Drotsky 25 supra n. 154.

165 Supra.

166 In hierdie stadium was daar verskeie akademiese standpunte wat aangedui het dat die reël deel uitmaak van die substantiewe reg en nie die materiële reg nie. Thayer (1969:409) is van mening dat die reël en sy uitsonderings deel uitmaak van die substantiewe reg en vermom is as ’n bewysregtelike reël. Hy verklaar: “[I]t is the use of such matter, not the proving of it, which is objectionable; the averment of it in pleading, the having an issue on it, the going to the jury with it, that is forbidden”; en t.a.v. die uitsonderings: “[T]he true inquiry is whether certain claims or defences are allowable. If relief can be had in such cases the law of evidence has nothing to say as to any kind of evidence, good under the general rules, which may be offered to prove these things. In so far as extrinsic facts are a legal basis of claim or defence, extrinsic evidence is good to prove them.” Wigmore (1935) steun hierdie standpunt waar hy verklaar: “It is a rule of substantive law, because it deals with the question in what sources and materials are to be found the terms of a legal act, and not a rule of evidence dealing with the value of one fact as probative of another.” So ook Leake (1906:182–3).

167 Brisley v Drotsky 21, 25-6 supra n. 154.

168 26.

169 Ibid.

170 1952 2 SA 428 (A).

171 454.

172 1954 1 SA 147 (A).

173 1916 AD 194.

174 206.

175 1972 1 SA 761 (A).

176 767.

177 768.

178 1984 1 SA 1 (A) 16–7.

179 1985 3 SA 686 (A) 701.

180 1988 1 SA 243 (A) 253.

181 2001 4 SA 551 (HHA) 601.

182 26. Sien Randcoal Services Ltd v Randgold and Exploration Co Ltd 1998 4 SA 825 (HHA) 841; Golden Fried Chicken (Pty) Ltd v Sirad Fast Foods CC 2002 1 SA 822 (HHA) 826.

183 McCormick (1932:365).

184 Zeffertt en Paizes (1986:15–6).

185 Soos die feit dat die reël sekerheid tot gevolg het, dat dit die onskendbaarheid (“sanctity”) van die skriftelike kontrak beskerm, dat dit onnodige en tydrowende litigasie ontmoedig en dat dit bedrog verhoed.

186 Zeffertt en Paizes (2009:345).

187 Schwikkard en Van der Merwe (2009:39).

188 1975 4 SA 838 (T).

189 840.

190 Wigmore on evidence par. 2425 (eie kursivering). Met goedkeuring aangehaal in die bekende saak National Board (Pretoria) (Pty) Ltd v Estate Swanepoel 26 supra n. 162.

191 Zeffertt en Paizes (1986:2).

192 Corbin (1960:par 573).

193 Williston (1961:par. 610, 618).

194 Zeffertt en Paizes (1986:4).

195 Calamari en Perillo (1970:109).

196 Die Engelse en Suid-Afrikaanse reg word afsonderlik bespreek, aangesien die ontwikkeling van die toepassing van die reël in die twee jurisdiksies verskillend plaasgevind het.

197 1833 5 B&Ad 58.

198 64.

199 1924 1 Ch 287.

200 295.

201 1842 8 ER 450.

202 Lewison (2004:72).

203 Ibid.

204 1935 NZLR 129.

205 1901 2 KB 215.

206 1959 Ch 129.

207 1979 QB 467.

208 Lewison (2004:73).

209 1866 6 E&B 370.

210 1836 1 M&W 466.

211 Lewison (2004:80–1), met verwysing na McGrath v Shah 1987 57 P&CR 452,

Deepak Fertilisers and Petrochemical Corp v Davy McKee 1999 1 All ER (Comm) 69 en InntrepeneurPub Co v East Crown 2000 2 Lloyd’s Rep 611, wys daarop dat die insluiting van so ’n beding getuienis uitsluit van enige kollaterale ooreenkoms asook van enige getuienis om aan te toon dat die kontrak deels mondeling, deels skriftelik aangegaan is.

212 Lewison (2004:71).

213 1896 2 QB 59.

214 Fung Ping Shan v Tong Shun 1918 AC 403; Homburg Houtimport BV v Agrosin Ltd 2003 2 WLR 711.

215 Ogilvie v Foljambe 1817 3 Mer 53; Freeguard v Rogers 1999 1 WLR 375 (CA); Partridge v Lawrence 2003 EWCA Civ 1121.

216 Clifford v Turrell 1841 1 Y&C Ch Cas 138; Turner v Forwood 1951 1 All ER 746.

217 Nassar (1995:538).

218 1976 1 WLR 1078.

219 Supra n. 206.

220 Supra n. 218.

221 Poole (2006:211).

222 1874 LR 9 QB 210.

223 1835 3 Ad & El 355.

224 371.

225 1879 4 CPD 450.

226 1920 1 Ch 411.

227 1957 3 All ER 265.

228 Supra n. 225.

229 276.

230 1982 3 All ER 801.

231 807.

232 Eerste program, Law com. No. 1, item 1; Eerste jaarverslag, 1965–1966, Law com. No. 4, par. 31.

233 Agtste jaarverslag, 1972–1973, Law com. No. 58, par. 3–5.

234 The English Law Commission (Law com. No. 154) (1986) par. 1.1.

235 The English Law Commission (Law com. No. 70) (1976) par. 21.

236 Werkstuk 154 par. 1.3

237 Sien die bylaag tot werkstuk 154, 31 vir ’n lys van persone wat kommentaar gelewer het op werkstuk 70.

238 Werkstuk 154 par. 1.2.

239 Werkstuk 154 par. 2.7.

240 Sien die bespreking in par. 2.8–2.16 van werkstuk 154.

241 Werkstuk 154 par. 2.17.

242 Werkstuk 154 par. 2.44.

243 Werkstuk 154 par. 2.45.

244 Sien par. 3.1–3.6 van werkstuk 154.

245 Sien die opmerking in werkstuk 154 par. 3.7: “The above are but some examples of the impossibility, as we see it, of drafting unambiguous and helpful legislation in this field. If we had a comprehensive code of civil evidence, the simple absence of a parol evidence rule would solve the problem. But a single statement divorced from its context, as it needs must be in the absence of a statutory code, is likely, at best, to be as confusing as clarifying. We hope that this report will itself go some way towards clarifying the law and that a process of re-educating, if necessary, is a more satisfactory means of achieving justice than any attempt to legislate.”

246 CA 25 September 1987 (ongerapporteer).

247 1986 2 Lloyd’s Rep 44.

248 47.

249 Ibid. Alhoewel daar nie fout gevind kan word met hierdie redenasie nie, neem dit nie die werking van standaardbedingkontrakte voldoende in ag nie.

250 1986 7 NSWLR 170.

251 Zuppi (2007:243).

252 1941 AD 43.

253 47.

254 1980 3 SA 927 (A).

255 943.

256 Supra n. 254.

257 944.

258 Zeffertt en Paizes (2009:348).

259 Schmidt (1982:595). Sien ook Barnett v Van der Merwe 1980 3 SA 606 (T) 609.

260 Schmidt (1982:595).

261 1952 1 SA 513 (A).

262 539. Sien ook Avis v Verseput 1943 AD 331, 380 en, in die algemeen, Slabbert, Verster en Malherbe (Bloemfontein) Bpk v De Wet 1963 1 SA 835 (O) 837–8; Capital Building Society v De Jager 1963 3 SA 381 (T); Smit v Walles 1985 2 SA 189 (T) 196–8.

263 Supra n. 254.

264 945.

265 Schmidt (1982:594).

266 Sien bv. Du Plessis v Nel supra n. 261; Buckley v Vosloo 1970 4 SA 159 (OK); Prudential Shippers SA Ltd v Tempest Clothing Co (Pty) Ltd 1976 4 SA 75 (W) 82.

267 Vgl. Du Plessis v Nel 538 supra n. 261.

268 Sien bv. Schoeman v Botha 1968 1 SA 637 (T). Vgl. ook Louw v Central Motors (Vivgrey) (Pty) Ltd 1951 3 SA 461 (T).

269 Vgl. Barkhuizen v Jackson 1957 3 SA 57 (T) 58.

270 1968 3 SA 195 (A).

271 204. Sien ook art. 2(1) van die Wet op Vervreemding van Grond 68 van 1981 wat bepaal: “Geen vervreemding van grond na die inwerkingtreding van hierdie artikel is, behoudens die bepalings van artikel 28, van krag nie tensy dit vervat is in ’n vervreemdingsakte wat deur die partye daarby of deur hulle agente, handelende op hulle skriftelike gesag, onderteken is.”

272 Du Plessis v Van Deventer 1960 2 SA 544 (A) 551.

273 Sien die bespreking supra par. 3.

274 Zeffertt en Paizes (1986:5).

275 Ibid.

276 Calamari en Perillo 110.

277 Schmidt (1982:596–7).

278 Schwikkard en Van der Merwe (2009:39).

279 Zeffertt en Paizes (2009:351).

280 1975 4 SA 838 (T).

281 840.

282 Sien bv. Union Government (Minister of Finance) v Chatwin 1931 TPD 317; Baker v Afrikaanse Nasionale Afslaers en Agentskap Maatskappy (Eiendoms) Beperk 1951 3 SA 317 (A); Netherlands Bank of SA v Stern 1955 1 SA 667 (W); Reilly v Seligson and Clare Ltd 1977 1 SA 625 (A); Du Plessis v Van Deventer 1960 2 SA 544 (A); Slabbert, Verster en Malherbe Bpk v De Wet 1963 1 SA 835 (O); Otto v Heymans 1971 (4) SA 148 (T).

283 Sien bv. Frank v Ohlsson’s Cape Breweries Ltd 1924 AD 289.

284 Sien bv. Dawson v Cape Times Ltd 1962 CPD 144; Janowski v Evans 1978 3 SA 16 (O); Munnik and Munnik v Sydney Clow & Co Ltd 1965 4 SA 313 (T); Williams v Evans 1978 1 SA 1170 (K); Kok v Osborne 1993 4 SA 788 (SO) 796; Noffke v Credit Corporation of South Africa Ltd 1964 3 SA 451 (T).

285 Sien bv. Cohen v Commissioner for Inland Revenue 1948 4 SA 616 (T); Moodley v Moodley 1991 1 SA 358 (N); Fisher v Schlemmer 1962 4 SA 651 (T); Beaton v Baldachin Bros 1920 AD 312; Kroukamp v Buitendag 1981 1 SA 606 (W).

286 Sien bv. Avis v Verseput 1943 AD 331; Brink v Botha 1943 KPD 176; Lampbrechts v Burger 1955 1 SA 476 (T); Du Plessis v Nel supra n. 261; Veenstra v Collins 1938 TPD 458; Joubert v Steenkamp 1909 TS 169.

287 Sien bv. SA Sentrale Ko-op Graanmaatskappy Bpk v Shifren 1964 4 SA 760 (A); Pelser v Smith 1979 3 SA 687 (T); Oceanair (Natal) Pty Ltd v Sher 1980 1 SA 317 (D) 324; Brisley v Drotsky 2002 4 SA 1 (HHA); Impala Distributors v Taunus Chemical Manufacturing Co (Pty) Ltd 1975 3 SA 273 (T); Barnett v Van der Merwe 1980 3 SA 606 (T); Van As v Du Preez 1981 3 SA 760 (T).

288 Sien bv. Stiglingh v Theron; Philmatt (Pty) Ltd v Mosselbank Developments CC; Wilson v Cape Town Stevedoring Co 1916 CPD 540; Cohen & Sons v Lockett 1916 TPD 51; Thiart v Kraukamp 1967 3 SA 219 (T); Johnston v Leal supra n. 254; Sealed Africa (Pty) Ltd v Kelly 2006 3 SA 65 (W).

289 Sien bv. Steenkamp v Webster 1955 1 SA 524 (A); Bacon v Cooper 1910 WLD 311; Cook v Aldred 1909 TS 150; Kruger v Rheeder 1972 2 SA 391 (O); Mineworkers’ Union v Cook 1959 1 SA 709 (W); Muller v Pienaar 1968 3 SA 195 (A).

290 Sien bv. Tesven CC v South African Bank of Athens 1999 4 All SA 396 (A); Weinerlein v Goch Buildings Ltd 1925 AD 282; Venter v Liebenberg 1954 3 SA 333 (T); Mouton v Hanekom 1959 3 SA 35 (A); Schoeman v Nieuwoudt 1971 4 SA 161 (O); Vogel v Volkersz 1977 1 SA 537 (T); AXZS Industries v AF Dreyer (Pty) Ltd 2004 4 SA 186 (W).

291 Schmidt (1982:602).

292 Sien die aanhaling van Johnston v Leal supra n. 254. Sien ook Brink v Botha 1943 KPD 176; Lampbrechts v Burger 1955 1 SA 476 (T).

293 Supra n. 38.

294 ’n Soortgelyke saak was Lampbrechts v Burger supra n. 287 waar die hof getuienis toegelaat het van ’n mondelinge ooreenkoms dat’n bepaalde bedrag wat betaalbaar was op grond van ’n skriftelike ooreenkoms opeisbaar sou wees slegs indien die skuldeiser die skuldenaar se kinders gratis by hom sou laat loseer het.

295 Clifford v Turrel 1845 1 Y&C Ch Cas 138; Zeffertt en Paizes (1986:28).

296 1951 1 All ER 746.

297 397.

298 337-8 supra n. 38.

299 Zeffertt en Paizes (1986:28).

300 Tapper (1995:771).

301 1952 1 SA 513 (A) 535.

302 Zeffertt en Paizes (2009:354).

303 Conradie v Rossouw 1919 AD 279.

304 Supra n. 38.

305 Zeffertt en Paizes (2009:354).

306 100 ER 685.

307 Avis v Verseput 378 supra n. 38 (my kursivering).

308 379 (my kursivering).

309 Supra n. 296.

310 Zeffertt en Paizes (1986:29).

311 Zeffertt en Paizes (1986:30).

312 Avis v Verseput 379 supra n. 38.

313 Supra n. 296.

314 Zeffertt en Paizes (1986:30).

315 Zeffertt en Paizes (2009:355).

316 Supra n. 286.

317 461.

318 Zeffertt en Paizes (2009:355).

319 Zeffertt en Paizes (1986:32).

320 1854 All ER 1304.

321 1909 TS 169.

322 Christie (2006:201).

323 Christie (2006:198–9) (my vertaling).

324 Supra n. 38.

325 Sien bv. Joubert v Steenkamp supra n. 286.

326 Christie (2006:200).

327 Supra n. 306.

328 Christie (2006:200–1).

329 Christie (2006:201).

330 1771 95 All ER 1053 (aanvaar deur Van den Heever AR in Du Plessis v Nel 537-8 supra n. 261).

331 1875 32 LT 320 (aanvaar in Bodenstein v Frankfurth 1928 TPD 210, 214, 215–6; Cross v Ferreira 1950 3 SA 443 (K); Du Plessis v Nel 537-8 supra n. 261).

332 1873 23 LT 449 (aanvaar in Cross v Ferreira 451 supra n. 331).

333 Joubert v Steenkamp supra n. 286; Dunbar v Escombe Avenue Nursing Home 1921 WLD 45, 50–1; Le Riche v Hamman 1946 AD 648, 652–3; Cross v Ferreira supra n. 331; Gerber v Naude 1971 3 SA 55 (T); Bodenstein v Frankfurth supra n. 331; Den v Barnetson 1913 SR 165, 168.

334 Supra n. 261.

335 538.

336 Supra n. 286.

337 Zeffertt en Paizes (1986:32–3).

338 Sien die bespreking supra par. 3.2.3.2.

339 Sien die bespreking supra par. 3.1.

340 Poole (2006:212).

341 McKendrick (1990:113).

342 Furmston (2001:139). Collins (2003:225) steun hierdie standpunt waar hy verklaar dat die howe tans verskeie tegnieke aanwend om die werking van die integrasiereël te vermy en dat ’n party gevolglik byna nooit verhinder sal word om ekstrinsieke getuienis van ’n voorafgaande of gelyktydige ooreenkoms aan te bied nie. Met verwysing na die beslissing in J Evans & Son (Portsmouth) Ltd v Andrea Merzario Ltd supra n. 213 verklaar hy dan ook dat “the decision in practice eliminates the parol evidence rule from English law”.

343 Beatson (2002:133–4).

344 Sien die bespreking supra par. 3.1.

345 Schmidt en Rademeyer (2000:18).

346 Sien Van der Linde v Calitz 944-5 supra n. 149; Papenfus v Transvaal Board for the Development of Peri-Urban Areas 1969 2 SA 66 (T) 69; Rusmarc SA (Pty) Ltd v Hemdon Enterprises (Pty) Ltd 630 supra n. 149; S v Naicker 932-3 supra n. 149.

347 Schmidt en Rademeyer (2000:21).

348 Kerr (1965:170). Vir kritiek op Kerr se standpunte sien Kahn (1965:526).

349 1997 1 SASV 38 (W).

350 43.

351 Sien die bespreking supra par.3.1.1 van City and Westminster Properties (1934) Ltd v Mudd supra n. 206; Long v Millar supra n. 225; Stokes v Whicher supra n. 226en Timmins v Moreland Street Property Co Ltd supra n. 227.

352 Supra n. 254.

353 Supra n. 38.

354 Supra n. 261.

355 Sien die bespreking supra par. 2.4.

356 ’n Ooreenkoms tussen ’n regspraktisyn en sy kliënt ingevolge waarvan betaling van die regspraktisyn se fooi afhanklik is van die sukses van die ingestelde aksie. Indien die aksie suksesvol is, is die regspraktisyn gewoonlik dan geregtig op ’n hoër fooi as normaalweg, wat meestal as ’n persentasie van die eisbedrag wat suksesvol verhaal is, uitgedruk word.

357 Projek 93.

358 33–4 van die verslag.

359 66 van 1997.

360 Artt. 1 en 2.

361 2004 6 SA 66 (HHA).

362 82.

363 Scott (2004:477).

364 Ibid.


 

 


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top