Die gewildste Afrikaanse gedigte – in luistervorm

  • 1

Leserskring, BY en RSG het in 2012 hulle gehoor gevra om hul gunsteling Afrikaanse gedigte te nomineer. Uiteindelik was daar 6 000 name op die lys, vertel Margot Luyt op die CD-weergawe. Die top honderd is toe in boekvorm uitgegee, en deur stemkunstenaars op CD opgeneem.

Wat ’n vreugde! Ek het die CD’s op ’n lang pad in die kar geluister, en wat ’n absolute plesier was dit nie. Die plesier lê op soveel vlakke. Eers is daar die herken van ou vriende wat ’n mens vergeet het – hoeveel van ons lees as volwassenes gereeld gedigte? Dan is daar die inhoud self, die rykdom van taal en verwysing. En dan die interpretasie deur die kunstenaars.

Die herkenning: Onthou jy Rietfontein se leidam, waar die reier staan en droom? Onthou jy die hele verhaal, wat rillings teen jou ruggraat afstuur? Dis maar een … dink aan die kaalvoetklonkie, die doringboompie langs die wapad, Celliers se vlakte (wat hy in Switserland geskryf het), Ingrid Jonker se spieël wat gebreek het tussen my en jou …

Die inhoud: Ons hele geskiedenis lê in hierdie gedigte opgesluit, alles wat ons Afrikaanse mense gemaak en gevorm het. Die verbondenheid aan die grond en die plaas, met die afhanklikheid van die elemente; die verskuiwing stad toe; die ras- en klasverskille (hoe aangrypend is SV Petersen en Adam Small vanuit die blikhoek van 2013); geloof en die Bybel as inslag en skering.

Dan die taal: dit laat jou weer eens besef hoe ver Afrikaans in ’n skrale honderd jaar gekom het. Van FW Reitz se “Klaas Geswind en syn perd”, die oudste gedig in die versameling, na Van Wyk Louw se “Vier gebede”, na Breytenbach, Ingrid Jonker en Antjie Krog, groei en ontwikkel dit op skrif en op die oor, ryk en kleurvol.

En dan laaste maar hoegenaamd nie die minste nie: die klankopnames. Margot Luyt gee in een of twee sinne agtergrond of bietjie ekstra inligting by elke gedig (wie het geweet GA Watermeyer is op skool toegelaat om in die klas te rook omdat dit hom gehelp het om nie te hakkel nie?) Dis al ’n lekker bonus. Maar die stemkuns! Marthinus Basson met “Ballade van die Bose”, Nic de Jager met “Die gevalle Zoeloe-indoena”, ensovoorts, ensovoorts. Ek daag jou uit om sonder trane na Antoinette Kellerman te luister as sy die verhaal van Amakeia vertel, of nie te sidder met Joanie Combrinck se Mabalêl nie.

’n Mens kan net vir die mense agter hierdie versameling dankie sê. Hulle verryk ons lewe.

Die gewildste Afrikaanse gedigte
Human & Rousseau, 2013

ISBN: 9780798158374

 

 

Koop Die gewildste Afrikaanse gedigte by Kalahari.com.

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top