Die gelowige persoonlikheidstipe

  • 4

Hy kan nie anders nie, hy móét glo, niks anders maak vir hom sin nie. Hy is onverbiddelik krities en selfs beledigend teenoor ongelowiges. As kind het hy waarskynlik drome en visioene gehad van engele wat aan hom verskyn by sy bedjie. Hy voel dit is sy roeping om ander na sy geloof te lei en streng te veroordeel as hulle weier om te glo. Hy roep graag die beeld van 'n ewigdurende verdoemenis op vir ongelowiges. Hy sal selfs leuens vertel of feite verdraai om argumente oor sy geloof te versterk.

Die wetenskaplik/kritiese persoon daarenteen, kan net eenvoudig nie glo aan 'n ontasbare, mistieke goddelike figuur waarvan die bestaan nie volgens die wetenskaplike metode bewys kan word nie. Sy brein is net eenvoudig so gemáák, hy moet dit kan sien of eksperimenteel bewys.

"East is East and West is West and never the twain shall meet." Al redeneer hulle ook volumes vol wat die versamelde werke van die groot skrywers totaal oortref, sal hulle nooit tot 'n vergelyk kom nie.

Groete,

Ontleder

  • 4

Kommentaar

  • Hierdie is ’n hoogs eensydige en onredelike siening van die gelowige. Hoe's hierdie eerder:

    Die "wetenskaplike / kritiese" persoon glo aan geen godheid nie, maar kan dit ook nie verdra dat ander nie sy sienswyse deel nie. Eerder hy sal boeke vol skryf op LitNet om die gelowiges te "bekeer", al is dit hoe ongevraag en wil daar van die onderwerp aanbeweeg word. Hy roep die euwels van geloof op, die kruistogte en middeleeue, en in die proses openbaar hy dieselfde onverdraagsaamheid en vervolgingswaan as die einste middeleeuse heksejagters waarteen hy waarsku. In sy binnekamer klop hy homself op die skouer, want sou hy beter wees as die res wat hulself mislei en nog in feëverhale glo, netsoos gelowiges in hul binnekamer hulself op die skouer klop dat hulle tog hemel toe gaan en die ander na die hel.

    Die les hieruit is eerder dat ons almal mense is, en ander die ruimte moet gun om hul oortuigings en waarhede vir hulself moet ontdek.

    Naskrif : Ek het met opset wetenskaplike en kritiese in aanhalings gesit, wat die persone wat gewoonlik die hardste stry oor evolusie en dies meer, is hoegenaamd nie wetenskapliks van beroep nie, of enigsins krities nie. Gewoonlik het hulle een of twee boeke van Dawkins of Hawking gelees en ag hulself nou as kenners.

  • God is gees en dt is waar die Heilige Gees inkom. Geestelike dinge kan net deur die gees verstaan word – geopenbaar en verstaanbaar gemaak deur die Heilige Gees.

  • Ontleder: Wat jy daar beskryf is nie soseer die gelowige persoonlikheid nie as die fundamentalistiese persoonlikheid. Daar is ’n verskil, as jy my vra.

    Ek bodder nie juis met debatte oor godsdiens nie, want dit skeel my min wat ander mense glo of nie glo nie. Ek raak wel betrokke wanneer fundamentaliste begin twak praat oor die wetenskap, en my doel dan is nie om hulle te oortuig nie (hulle koppe is klankdig en niks van enige aard sal hulle ooit oortuig nie) maar bloot sodat min of meer neutrale waarnemers van die debat kan sien wat se twak hulle praat. Hoe meer hulle sê hoe meer skiet hulle hulself in die voet. Ek weet nie of hulle dit besef nie, maar soos jy self sê, hulle kan hulself nie eintlik help nie: hulle MOET eenvoudig preek.

    Ek raak ook senuagtig wanneer gelowiges van watter soort ook al die mag van die staat probeer gebruik om hulle geloof op ander mense af te dwing, of dit nou fanatiese Moslems is wat shariah-wetgewing probeer instel, en of dit bloot ’n spul betogers is wat die staat sover probeer kry om ’n popkonsert te verbied bloot omdat hulle self nie van die betrokke popster hou nie. 

    Behalwe vir daardie twee gevalle, het ek vrede met religie.

  • Ontleder, ek het ’n probleem met hierdie stelling van jou:
    "[Die wetenskaplik/kritiese persoon se] ... brein is net eenvoudig so gemáák, hy moet dit kan sien of eksperimenteel bewys"
    Dit is nie so nie. Die wetenskaplik/kritiese persoon het ’n ondersoekende gees en lank voor hy iets gesien of bewys het, is hy vas oortuig dat dit bestaan.  Hy voel sommer in sy water iets wat hy in gedagte het, of in sy brein rondmaal, is waar en hy gaan voort met ywer om dit bloot te lê of te bewys.  Baiekeer is hy verkeerd en soms is hy reg. 
    Daar is byvoorbeeld groot geeste in die wetenskapwêreld, gesiene wetenskaplikes, wat glo daar is so-iets soos ’n parallelle heelal.  Kennelik het nie een van hulle het dit gesien nie en niemand het dit nog bewys nie maar hulle glo vas daaraan, verkondig dit selfs op openbare forums.  En of die ou gelowig is of nie het niks met die saak te doen nie; soos Brianvds sê, geloof en godsdiens is nie onderling uitsluitend nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top