Die fundamentalisme van Angus Buchan en sy kritici: Oor die armoede van die Afrikaanse godsdiensgesprek

  • 44

Godsdiens bly ’n intense onderwerp van bespreking in die Afrikaanse wêreld. Dit kan gesien word in die reaksie op Angus Buchan se It’s Time-gebedsbyeenkoms, die komende hofsaak oor godsdiens in openbare skole en Vincent Brümmer se akademiese artikel oor uitverkiesing en evangelikaalse spiritualiteit in Suid-Afrika – om maar enkele voorbeelde uit die onlangse verlede te noem. In hierdie opstel sluit ek by hierdie gesprek aan deur te begin by Buchan se gebedsbyeenkoms, maar ook deur enkele breër temas in die Afrikaanse godsdiensgesprek aan te raak.

1. Buchan se gebedsbyeenkoms

Afgesien van ’n twis oor hoeveel mense nou eintlik die byeenkoms bygewoon het, is dit waarskynlik die grootste byeenkoms nog in die geskiedenis van die Vrystaat. Die byeenkoms was baie vinnig en besonder goed georganiseer en volgens berigte en getuienis daaroor ’n grootse ervaring vir die aanwesiges. Uit Buchan se oogpunt was die gebeure doodgewoon ’n wonderwerk, en dit mag inderdaad so wees. Op ’n klankgreep van sy boodskap wat Monitor op Maandagoggend 23 April op RSG uitgesaai het, het Buchan met die grootste sekerheid aangekondig dat Suid-Afrika eersdaags ’n Christelike regering sal hê. Die tyd sal leer of hy, met respek, reg gehoor het.

Anders as wat dikwels in openbare Afrikaanse godsdiensgesprekke te kenne gegee word, gaan die Christendom nie slegs oor geloof nie, maar ook oor die rede. Een van die klassieke Christendom se grootste prestasies was om die aansprake van die rede met die aansprake van die geloof te versoen. Talle klassieke Christelike filosowe wys dan ook daarop dat wanneer die mens sy of haar rede inspan, hy of sy ook besig is om die beeld van God te verwesenlik, aangesien die menslike rede ’n goddelike gawe is. Gevolglik behoort Christene dus ook nie daarvan terug te deins om redelik te besin oor Buchan se gebedsbyeenkoms nie.

Ongeag nodige kritiek op Buchan se byeenkoms wat hier onder aangeroer sal word, moet vanuit ’n Christelike oogpunt daarop gewys word dat om Christene van oor die hele land op inklusiewe wyse op te roep om byeen te kom en vir Suid-Afrika te bid, lofwaardig is. Ongeag presies hoeveel mense vir die byeenkoms opgedaag het, bly die feit dat slegs Christelike byeenkomste sulke getalle mense in Suid-Afrika trek, waaronder die jaarlikse ZCC-Paasbyeenkoms die knewel is. Of ’n mens nou gelowig is of nie, bly dit uit sowel ’n geloofsoogpunt as ’n liberale sekulêre oogpunt hoopgewend dat die meeste Suid-Afrikaners op so ’n vreedsame wyse uiting gee aan hulle frustrasies en vertwyfelinge oor die huidige stand van sake in die land.

Gepraat van die stand van sake in die land: ondanks die feit dat die byeenkoms eksplisiet deur Buchan as ’n godsdienstige gebeurtenis hanteer is, blyk dit uit die beweegredes vir die byeenkoms dat politieke faktore ’n groot rol gespeel het om mense te mobiliseer om die byeenkoms by te woon. In dié opsig vorm Buchan se byeenkoms deel van die reeks byeenkomste van verset teen die huidige regering en veral teen die huidige president as die versinnebeelding van dit wat in die land verkeerd is. Buchan se byeenkoms vorm dus deel van ’n golf van konstruktiewe energie wat danksy massadeelname in die land aan die opbou is, en is daarom ’n goeie ding.

Soos hier bo vermeld, moet daar ook vanuit ’n Christelike oogpunt en breër kritiese vrae oor Buchan se byeenkoms gevra word. Minstens twee kwessies kan hier genoem word, naamlik Buchan se teologie en sy opvattings oor die Kerk as Liggaam van Christus.

Wat Buchan se teologie betref, is al dikwels gewys op hoe simplisties hy die Bybel verstaan. Uit ’n Christelike oogpunt is die Bybel uiteraard die Woord van God, maar is dit ewe belangrik dat ons die Bybel nie slegs met ons beste redelike vermoëns vertolk nie, maar dat ons die Bybel eweneens vertolk in die lig van die heilige tradisie van Skrifvertolking en die klassieke liturgiese praktyke van die Kerk soos dit vanaf die vroegste Christelike tyd beslag gekry het. Vanuit ’n Christelike oogpunt is niks gevaarliker as een charismatiese prediker wat met ’n aanspraak van ’n regstreekse lyn na God die Bybel op eie houtjie vertolk nie. Vir die Woord van God behoort ’n gelowige ’n bietjie meer respek te hê, en ietwat versigtiger met die individuele vertolking van die Bybel om te gaan. Geen redelike Christen sal byvoorbeeld vandag sekere uitsprake in veral Levitikus, Numeri en Deuteronomium oor slawerny, vroue en vergelding deur geweld meer aanvaar nie – en nié soseer omdat hierdie uitsprake “kultureel” is nie, maar omdat Christus se vleeswording, kruisiging en opstanding ’n totaal nuwe bedeling ingelui het. Hiervan sien ek min in Buchan se teologie.

Wat Buchan se opvattings van die Kerk as Liggaam van Christus betref, is daar ewe ernstige vrae. Uit die oogpunt van die klassieke Christendom is die Kerk die Liggaam van Christus soos sy beslag kry in die Laaste Avondmaal. Oor sy dissipels, wat na sy hemelvaart die Kerk sou voortbou op die fondament wat Hy gelê het, het Christus gebid dat hulle een sou wees soos wat Hy en die Vader een is. Die Kerk het van meet af hierdie gebed nie slegs op die apostels nie, maar op die Kerk self van toepassing gemaak. Dit is waarom die sewe konsilies wat die verenigde Kerk voor die skeuring van 1054 tussen 325 en 787 gehou het, soveel gewig in die Ortodokse Kerk dra. Dit is ook waarom die heel belangrikste liturgiese aktiwiteit van die Kerk die viering van die kommunie (nagmaal) is, en waarom die kommunie elke Sondag gevier word in daardie kerkverbande wat die naaste aan die heilige tradisie staan, naamlik die Ortodokse en Katolieke kerke. Die beroemde Katolieke teoloog en eens amptelik die voorste openbare vyand van Adolf Hitler se Nazi-regime, Dietrich von Hildebrand, skryf daarom in sy klassieke boekie oor die liturgiese lewe van die Kerk, Liturgy and personality (1933): “The Liturgy is Christ praying” (Kindle-ligging 257).

Hiermee verwoord Von Hildebrand dat die Kerk as die Liggaam van Christus veral sentreer rondom die gereelde (minstens weeklikse) viering van die kommunie. In sy boekie wei hy verder uit oor hoe dit juis die gereelde deelname aan die liturgiese lewe van die Kerk is wat die gelowige veral beskikbaar stel om die lewensveranderende werk van die Heilige Gees te ervaar en hom en haar in staat stel om die diepste aardse gemeenskap te ervaar, naamlik die gemeenskap van die heiliges. Tekenend van kerkwees is dus om dag na dag, week na week, maand na maand en jaar na jaar as gemeenskap met mekaar op dieselfde tyd en plek byeen te kom en die immer verdiepende eenheid met mekaar in Christus te ervaar. Dit is waarom dit so bisar is om mense wat hulself as Christene beskryf te hoor sê: “Ek hou nie van die Kerk nie, maar ek het Jesus lief.” Uit ’n Christelike oogpunt is dit onbegryplik dat iemand wat beweer hy of sy het Christus lief, nie ook sy Liggaam lief kan hê nie. Waar anders ervaar ons sowel die enorme eise én gawes van die Christelike liefde as juis in die gemeenskap van die heiliges wat die Kerk nastreef?

Is dit dan toevallig dat Buchan en soveel van die mense wat sy byeenkoms bygewoon het Jesus so beklemtoon het, maar so min van sy Liggaam, die Kerk, gesê het? Stellig nie. Kan dit wees dat Buchan se byeenkoms(te) juis deur veral Afrikaners in sulke groot getalle bygewoon word omdat soveel Afrikaners se eie verstaan van kerkwees en die ryk liturgiese lewe van die Kerk so arm is? Een van die grootste skandvlekke op die geskiedenis van die Christendom is die gebrokenheid van die Liggaam van Christus in soveel denominasies – en diegene wat hulle eie “bedienings” en kerkverbande bly stig, doen ongeag moontlike goeie bedoelings net verder aan hierdie tragedie mee. Ja, helaas, ook “oom” Angus met sy selfgestigte “bediening”. (Niks in die lewe is natuurlik net goed of sleg nie, soos gedemonstreer deur die konkrete versorgingsaksies van Buchan se Shalom Ministries.)

Dit is goed en wel dat Buchan en sy aanhangers oor die grense van kerkverbande heen Christene verenig in gebed, al is dit net ’n dag lank. Uit ’n Christelike oogpunt kan sulke byeenkomste vertolk word as ’n konkrete uiting van die verlange na die herstel van die Liggaam van Christus tot “een heilige, katolieke en apostoliese Kerk”, soos die Geloofsbelydenis van Nicea aanvaar deur die eerste konsilie van die verenigde Kerk dit stel. Dog, die eintlike pad na kerkeenheid loop allereers deur die gesamentlike gereelde gebruik van die kommunie en die herstel van die liturgiese praktyke van die heilige tradisie soos dit in die verenigde Kerk voor 1054 beslag gekry het. Soos enigeen wat daardie pad bewandel het, kan getuig, is dit ’n lewenslange stryd in die arena, soos die heilige Ignatius Brianchaninov dit in sy boek The Arena beskryf.

Dit dan wat betref ’n beoordeling van die positiewe en negatiewe elemente van Buchan se It’s Time-gebedsbyeenkoms. Hiermee kan oorgegaan word na die bespreking van enkele breër onderwerpe in die Afrikaanse godsdiensgesprek, wat gedeeltelik deur bostaande ingelei is.

2. Enkele opmerkings oor die Afrikaanse godsdiensgesprek

’n Kwessie wat sowel met die Buchan-verskynsel as met die breër Afrikaanse godsdiensgesprek saamhang, is die felheid waarmee hierdie gesprek gevoer word. Een waarskynlike oorsaak daarvan is die reeds vermelde verlange na Kerkeenheid by liturgies verarmde Afrikaner-Christene. Nog ’n ander waarskynlike oorsaak is die enorme drakrag en betekenis van die Christendom vir die Afrikaanse wêreld.

Elders het ek al verwys na hoe die einde van apartheid en dié kunsmatige isolasie daartoe gelei het dat godsdienstige kwessies op ’n groter en meer populêre skaal as ooit tevore in die Afrikaanse wêreld bespreek is. Die opkoms van sosiale media en die moontlikhede wat dit aan gewone mense bied om aan die gesprek deel te neem, speel natuurlik ook ’n groot rol. Vir Afrikaanssprekendes van my geslag en ouer is ’n ander faktor die gesagskrisis waarin veral die sogenaamde drie Afrikaanse susterskerke (NG, Hervormde en Gereformeerde kerkverbande) beland het, deels weens hulle eertydse steun vir apartheid, deels weens die ietwat buitensporige impak van sekere liberale teologiese strominge. Oor eersgenoemde is al baie geskryf, maar oor laasgenoemde nie genoeg nie, en dit is waarby in die res van hierdie opstel stilgestaan sal word.

Hier bo is reeds verwys na die feit dat die Bybel in die oorspronklike Christelike Kerk gelees en vertolk is in die konteks van die heilige tradisie en die liturgiese lewe van die Kerk, en dat dit daarom juis gevaarlik is om op eie houtjie die Bybel buite hierdie liturgiese konteks te vertolk. Laasgenoemde moontlikheid is ongelukkig in die hand gewerk deur ’n tragiese gevolg van Martin Luther se geldige opstand teen vergrype in die destydse Katolieke Kerk. Luther wou nie die Kerk skeur nie, maar haar hervorm en van hierdie vergrype suiwer. Ongelukkig was een van die gevolge van Luther se opstand die skeuring van die Kerk en ’n groeiende neiging om af te wyk van die heilige tradisie en die liturgiese lewe van die Kerk. Brad S Gregory wys in sy uitstekende The Unintended Reformation: How a Religious Revolution Secularized Society (2012) hoe hierdie neiging om die Bybel los van die heilige tradisie en die liturgie te lees reeds by die eerste leiers van die Hervorming tot felle verskille oor Skrifvertolking gelei het. Soos hy in sy bespreking aantoon, was die uiteindelike gevolg hiervan dat saam met die gesag van die Kerk ook die gesag van die Bybel noodlottig ondermyn is. So het dit gekom dat van die leidende Europese denkers van die 17de en 18de eeu desperaat begin soek het na ’n alternatief vir geloof as bron van sekerheid, en gehoop het om dit in die rede te vind. Hiermee is die laat Middeleeuse vernietiging van die Christelike sintese tussen geloof en rede verdiep, en is die moderne wêreld met die onaantreklike alternatiewe van blinde geloof (fideïsme) en blinde rede (rasionalisme) gelaat. Gregory dui aan dat die laat Middeleeuse skeiding van geloof en rede die moontlikheid meegebring het om blinde geloofsaansprake op redelike gronde te betwis, en dit speel ’n sentrale rol in die sogenaamde Verligting waarin Immanuel Kant (1724–1804) so ’n belangrike rol gespeel het in sy oproep dat outonomie beteken om vir jouself te dink en jou rede in te span.

Die enorm geleerde en feitlik totaal onbekende dogmatikus voorheen verbonde aan die Universiteit van Pretoria, Conrad Wethmar, het in my eerste jaar in 1989 in ’n onderhoud aan my gesê dat die Afrikaners nooit die Verligting meegemaak het nie. Destyds was sy bedoeling vir my onduidelik, maar vandag is dit baie duidelik, want die konvensionele idees van die Verligting word vandag gedra deur die liberale en/of ateïstiese deelnemers aan die Afrikaanse godsdiensgesprek. Die Afrikaners is dus vandag deeglik besig met hulle eie weergawe van die Verligting. Voor hierdie verskynsel hier onder beoordeel sal word, word eers stilgestaan by die idees van die Verligting wat vandag deur liberale en/of ateïstiese deelnemers tot die Afrikaanse godsdiensgesprek bygedra word.

Die eerste idee is dié van rasionele outonomie, waarvolgens godsdiensoortuigings eintlik maar ’n irrasionale en privaat aangeleentheid is, en selfs in die ergste van gevalle ’n kruk wat mense daarvan weerhou om as’t ware rasionele mondigheid te bereik. ’n Liberale godsdienskritikus haal byvoorbeeld na afloop van Buchan se gebedsbyeenkoms die volgende uitspraak van die ateïstiese Britse filosoof Bertrand Russell op sy Facebook-blad aan:

There is something feeble and a little contemptible about a man who cannot face the perils of life without the help of comfortable myths. Almost inevitably some part of him is aware that they are myths and that he believes them only because they are comforting. But he dare not face this thought! Moreover, since he is aware, however dimly, that his opinions are not rational, he becomes furious when they are disputed.

Wat Russell en vele van sy liberale Afrikaanse geesgenote met ’n aanhaling soos hierdie doen, is om in navolging van Kant die rede die groot arbiter van die ware en die valse te maak, en voor te gee dat mense wat op mites steun om te leef, so ’n bietjie minderwaardig en onvolwasse is. Die eerste probleem met hierdie uitspraak is dat dit blind is vir een van die mites waarin dit self glo, naamlik die oppergesag van die rede. Hieroor het Blaise Pascal al in die 17de eeu geskryf: “Die hart het sy redes waarvan die rede niks begryp nie.” Anders gestel, dit is ’n mite om te beweer dat die mens sonder mites kan klaarkom. Watter mite is vandag invloedryker en onredeliker as die een dat die moderne wetenskap al ons probleme kan oplos en finaal kan bepaal wat waar en vals is? Lees ons nie gereeld elke nou en dan dat “die jongste navorsing” dit wat gister nog as wetenskaplik onbetwyfelbaar was, verkeerd bewys het nie? ’n Mens wil jou verstout om te sê wetenskaplikes verander hulle uitsprake oor die waarheid nog meer gereeld as sommige kerkverbande.

Die ander mite waaraan Russell se uitspraak blinde trou sweer, is juis die Verligting se mite van rasionele mondigheid. In sy magistrale boek A secular age (2007) het Charles Taylor hierdie mite aan ’n vernietigende kritiek onderwerp. Taylor toon aan dat voorstanders van hierdie mite voorgee dat hulle hulle op wetenskaplike feite beroep, terwyl hulle in werklikheid ’n stel bloot persoonlike voorkeure en waardes aanhang wat onder ’n lagie wetenskaplikheid toegesmeer word. Hierdie mite vorm deel van wat Taylor beskryf as ’n geslotewêreldstruktuur (“closed world structure”), byvoorbeeld Descartes (1596–1650) wat as grondlegger van die moderne wetenskap ’n subjektiewe waardeoordeel maak dat slegs dit wat waarneembaar en meetbaar is, tot die terrein van die wetenskap behoort, en dat slegs dit wat absoluut seker is, as die wetenskap kan tel. (Hier bo is reeds verwys na die ironiese verskynsel dat die moderne wetenskap, wat so verknog is aan absolute sekerheid, gereeld sy standpunte hersien, en hier word nie ingegaan op die welkome korrektief wat die teoretiese fisika op Descartes se eng wetenskapsbegrip gebring het nie, deur byvoorbeeld ook aan onsekerheid aandag te gee in die werk van Heisenberg en die kwantumteorie.)

Michael Allen Gillespie het in sy Nihilism before Nietzsche (1995) in ’n briljante bespreking van Descartes se denke aangetoon dat Descartes se hele projek begin deur die teoloog Willem van Ockham se beeld van God as donker en onkenbaar voorlopig te aanvaar en dan ’n kennismodel te ontwerp wat aan ons sekerheid kan bied as die tradisionele geloof dit kwansuis nie kan doen nie. In aansluiting hierby skryf Taylor hoe die mite van godsdiens as kruk en rasionele outonomie in die eerste plek nie wetenskaplik is nie, maar waardegebaseerd:

There is an ethic here, of independence, of self-control, self-responsibility, of a disengagement which brings control; a stance which requires courage, the refusal of the easy comforts of conformity to authority, of the consolations of an enchanted world, of the surrender to the promptings of the senses. The entire picture, shot through with “values”, which is meant to emerge out of the careful, objective, presuppositionless scrutiny, is now presented as having been there from the beginning, driving the whole process of “discovery”. (559–60)

Aangesien aanhangers van hierdie mite volgens Taylor gelowiges beskuldig van ’n “childish lack of courage” en aanvoer “[w]e need to stand up like men, and face reality” (561), motiveer hulle hul posisie verder soos volg:

The unbeliever has the courage to take up an adult stance, and face reality. He knows that human beings are on their own. But this doesn’t just cause him to cave in. On the contrary, he determines to affirm human worth, and the human good, and to work for it, without false illusions or consolation. (561–2)

In hierdie antigodsdienstige en veral anti-Christelike posisie skuil ’n aantal ironieë. In die eerste plek beroep hierdie posisie sig op ’n klassieke Christelike ideaal, naamlik die ideaal van die inherente waarde van die mens. Soos my een dosent in teologie aan die Universiteit van Pretoria, Cornél du Toit, eens ironies gevra het: “Wie is ’n groter humanis as God wat die mens gemaak het?” Op ernstiger trant wys die Ortodokse teoloog John Zizioulas in sy Being as Communion (1997) hoe die Kappadosiese Vaders die begrip van die persoon ontwikkel het as die grondslag van die inherente waarde van elke mens.

Nog ’n ironie van bogenoemde posisie is dat dit ’n karikatuur van die “lafhartigheid” van die Christelike lewe skep. Reeds in die middel van die 19de eeu het die Deense filosoof Søren Kierkegaard afgereken met dié onsinnigheid deur aan te toon dat niks meer moed van ’n mens verg as om die sprong van die geloof te neem en te bly glo teen soveel tragedie in die menslike lewe in nie. Hier bo is ook reeds verwys na die durf wat die Christen in die arena moet kultiveer.

’n Ander aspek van die antigodsdienstige en prowetenskaplike posisie is die spanning wat dit as gegewe tussen die wetenskap en die godsdiens aanvaar. In beginsel is daar geen spanning nie – die Ortodokse filosoof en teoloog David Bentley Hart wys in sy Atheist delusions: The Christian revolution and its fashionable enemies (2009) dat die vroeë Christendom aan die werklikheid die status van ’n waardige onderwerp van studie toegeken het wat dit nie by die antieke Grieke en Romeine geniet het nie, juis omdat die ganse werklikheid as beeld van God verstaan is.

Heelwat is al oor die gewaande spanning tussen wetenskap en godsdiens geskryf, maar hier word slegs stilgestaan by ’n grondige punt wat die Ortodokse teoloog Vladimir Lossky reeds in 1944 (!) in sy The mystical theology of the Eastern Church oor die saak maak, naamlik dat die Christendom gewoon gefokus is op die “wetenskap” betreffende die verlossing van die mens op hierdie aarde. Lossky skryf:

Waar die mensdom se beskouing van die heelal sedert die Renaissance die aarde uitbeeld as ’n atoom verlore in die oneindige ruimte te midde van ontelbaar ander wêrelde, het die teologie ewe min te verander aan die Genesis-verhaal as wat dit sig met die verlossing van die bewoners van Mars hoef besig te hou. Die [Christelike] Openbaring bly wesenlik geosentries omdat dit die mensdom aanspreek deur aan hom die waarheid toe te vertrou wat betrekking het op sy verlossing in die omstandighede eie aan die werklikhede van die aardse bestaan. (100, my vertaling uit die oorspronklike Franse uitgawe)

Dit is in die lig hiervan dat daar in die literatuur van die Christelike askese vanaf die vroegste Christelike era gepraat word van “die wetenskap van die gees”. Oor die konsekwentheid van hierdie wetenskap en sy bevindinge vanaf die Woestynvaders tot vandag skryf Diarmaid Maccullogh in sy magistrale A history of Christianity: The first three thousand years (2009): “That is another feature of mystical writing, which repeatedly sets up echoes of past works, many of which the author is unlikely to have known directly (while on occasion, the same mystical themes emerge quite independently in very varied settings)” (Kindle-ligging 8998).

Uit ’n Christelike oogpunt is die konsekwentheid van die mistiese literatuur te danke aan die feit dat dit waarheid van die Christelike verhaal betreffende menslike verlossing in hierdie aardse bestaan bevestig.

Hiermee word nie gesuggereer dat die liberale en/of ateïstiese deelnemers aan die Afrikaanse godsdiensgesprek nie soms ook waardevolle bydraes lewer nie. Inteendeel: wanneer hulle die Afrikaanse susterskerke kapittel omdat hulle nie konsekwent in hul standpunte oor byvoorbeeld apartheid of gay mense is nie, pas hulle inderwaarheid ’n Christelike maatstaf op die Kerk toe, naamlik dat die Liggaam van Christus konsekwent moet staan vir die liefde en geregtigheid.

Maar wanneer die liberale en/of ateïstiese deelnemers aan die Afrikaanse godsdiensgesprek die Christendom as sodanig veroordeel, begaan hulle ’n ernstige fout, naamlik om die baba van die Christendom saam met die badwater van swak teologie uit te smyt. Hoe ironies is dit nie van hierdie deelnemers om die Bybel eweseer buite die konteks van die heilige tradisie en die liturgiese lewe te lees as diegene wat hulle kritiseer nie? Dit is hoekom hulle dikwels geneig is om die Bybel volgens die standaarde van die moderne wetenskap te lees, pleks van in die lig van die standaarde van die “wetenskap van die gees” wat deur die Woestynvaders ontdek is en tot vandag konsekwent bly.

Hier bo is aangevoer dat die godsdiensgesprek wat sowat die laaste twee dekades in die Afrikaanse wêreld woed, aanduidend is daarvan dat ook die Afrikaners vandag deur die Verligting leef. Die vraag is hoe hierdie verskynsel beoordeel moet word.

In die eerste plek moet gewys word op die ironie dat hierdie belewenis ruim twee eeue ná die Duitse Verligting plaasvind – waarmee baie beslis nie gesuggereer word dat die Duitsers die Afrikaners voor is en in alle opsigte nagevolg moet word nie. Inteendeel: om die waarheid te sê het ’n stroom literatuur die afgelope drie dekades en meer vanuit ’n sogenaamde postsekulêre hoek die Verligting toenemend beoordeel as ’n naïewe beweging wat enorme kultuurpolitieke verliese vir Wes-Europa en Noord-Amerika meegebring het – hier word verwys na die werk van onder andere Ivan Illich, Charles Taylor, Louis Dupré, Brad S Gregory, Alasdair MacIntyre, John Milbank en Catherine Pickstock.

Ondanks die enorme invloed van Afrika op die vorming van die Afrikaners, is die Afrikaners se intellektuele wortels en bronne oorwegend Westers en Christelik (wat beslis nie altyd sinonieme van mekaar is nie). Régis Debray het onder meer in sy Media manifestoes (1996) daarop gewys dat ’n netwerk van literêre salons, vervoerweë en die boekdrukkuns die materiële voorwaardes gebied het vir die vrye vloei van idees wat tot die Verligting gelei het – vandag weet ons dat die tradisionele gemeenskapsetos van Wes-Europa die knie voor die liberale individualisme moes buig.

Dit wil voorkom asof iets soortgelyks die afgelope twee dekades met die Afrikaners gebeur het – die einde van die kunsmatige isolasie van apartheid tesame met die opkoms van die internet en ander inligtingstegnologie het daartoe bygedra dat die Afrikaners, wat tradisioneel ’n gemeenskapsgerigte etos had, ook met die liberale individualisme begin flankeer het. Die groot ironie hiervan is egter dat die liberale en/of ateïstiese godsdienskritici (en moontlik die meerderheid akademici in die geesteswetenskappe en die teologie) op bykans fundamentalistiese wyse hierdie Verligtingsidees oor die godsdiens omhels het, klaarblyklik salig onbewus van hoe hierdie idees al lankal aan grondige kritiek onderwerp is deur denkers wat in hierdie opstel aangehaal word.

Die grootste ironie is egter die volgende: soos wat Afrikaners se politieke onsekerheid na die verlies van staatsmag toegeneem het, en hulle godsdienstige liturgiese verarming verdiep het, het al hoe meer Afrikaners hulle gewend tot die maklike sekerhede en kitsemosies van die kwasiliturgiese praktyke van “oom” Angus en sy “charismatiese” eweknieë. Die liberale en/of ateïstiese godsdienskritici is heeltemal reg om hierdie fundamentalisme te veroordeel, maar hulle snap telkens nie hoe fundamentalisties hulle hul eie agterhaalde Verligtingsidees hanteer nie. Nog minder snap hulle dat blinde geloofsfundamentalisme en blinde liberale rasionalisme part en deel van dieselfde dialektiek is – hoe meer die gelowige fundamentaliste en die liberale rasionaliste mekaar veroordeel en kritiseer, hoe meer verhard elkeen sy posisie.

Die uitweg uit hierdie dialektiek is dat albei partye moet insien dat hulle inderwaarheid met ’n laat moderne karikatuur van die Christendom werk. As hulle hulle oopstel vir dit wat die Christendom tot stand gebring het in die eerste 15 eeue van haar bestaan, en hoe dit voortgeleef het in enorme geestelike, intellektuele en estetiese prestasies die afgelope vyf eeue in veral die Katolieke en Ortodokse Christendom, mag die Afrikaanse godsdiensgesprek in ’n totaal ander rigting beweeg, waar sowel die gelowige as sy of haar kritikus veel intelligenter en simpatiek op mekaar kan inspeel.

Want (om aan André Malraux: “die 21ste eeu sal geestelik wees, of dit sal nie wees nie” te ontleen): die Christendom van die toekoms sal opnuut liturgies wees, of dit sal nie wees nie.

  • Johann Rossouw is ’n dosent in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Lees meer van sy werk by johannrossouw.co.za.
  • 44

Kommentaar

  • Franco Scheffer

    I call Christianity the one great curse, the one great intrinsic depravity, and the one great instinct of revenge, for which no means are venomous enough, or secret, subterranean and small enough - I call it the one immortal blemish on the human race. - Friedrich Nietzsche

  • Mauritz Moolman

    Rossouw se denkfout is dat hy die mens met geloof vereenselwig - geloof is klaarblyklik 'n ingeskape werklikheid - 'n besondere en onbetwisbare ewige waarheid en daarom, aldus hom, redeneer en kritiseer die ateïs, soms onbewustelik, vanuit 'n eie dog verwronge ideologie, die een van sogenaamde rasionaliteit. Die ateïs se volle rede is egter op een van geen geloof toegespits. Daar is slegs een fundamentele benadering tot ongeloof maar dit word soms verskillend verwoord. Maar volgens die ateïs se ervaring en bewustheid van waarheid is daar nie so iets soos 'n superwese wat woestynvaders vervaardig het ten einde geloofswaarhede te ontdek nie ten einde die vervolmaking daarvan deur moderne teologie. Die kritiek wat ons teen aanhangers van kerke, sektes en gelowe in alle variasies uitspreek, waarvan Buchan die verskynsel van 'n bos-evangelis met 'n politieke gevolg verteenwoordig, is nie in 'n geloof aan ateïsme gefundeer nie. Ons kritiek word verhaal as rede en bewys waarom gedrag nie deur bonatuurlike magte gemanipuleer of bepaal word nie. Indien dit wel die geval was sou die optrede, voorkeure en afkeure van kerklikes meer rasionaliteit geopenbaar het. Ten opsigte van rede manipuleer die gelowige mens, deur die toepassing van sy geloof, in alle variasies elkeen na sy eie god en begrip daarvan volgens sy eie wense, vrese en na eie verbeelding. Gelowiges se verbeelding neig daartoe dat alle mense se etiek en norme van die diep gesetelde brandmerk, 'n geskenk van 'n godheid, naamlik geloof, afhanklik is, desnieteenstaande sommige mense, soos veral ateïste se ontkenning daarvan. Daar is volgens christendom nie wegkomkans nie en die onbewese, onsienbare skeppende christen god, nou eensydiglik verhef tot kundige ontwerper, is uiteraard in Afrikaner-verbeelding die heel beste van die spul.

    • Julle redenasies is verwarring van die gemoed. Wat is die alternatief wat jy dan kan bewys? Slimmer as God want jy kan Hom evalueer. Miskien moet ons jou aanbid. Jou lewe moet baie leeg wees.

  • Vir 'n Artikel oor 'n spesifieke geleentheid en prediker is dit heeltemal te lank en omslagtig.

    Ek sou graag wou hoor wat jy sê, maar het nie die tyd en energie om die artikel deur te sien nie.

    Jammer 😏

    • Dit is veral jammer dat ons so lui raak om te lees. Hoe verwag u moet insiggewende filosofiese bydraes hanteer word?

      • Albert
        Nee wat! Ek het tyd verspil om die hele stuk deur te lees. Ek stem volkome saam met DJ. Daar is hierbo meer gegorrel as wat kern gedagtes uitgewissel word. Albert, "filosowe" is nie eenders in opvatting oor dieselfde onderwerp nie. Baie subjektiewe (persoonlike) menings word ingeweef met feite wat 'n ander kleur aan die onderwerp gee wat nie noodwendig waarheid tot gevolg het nie.
        Op varsity moes ek baiemaal deur teksboeke wat gegorrel het lees asof ek deur 'n moeras ploeter. Om eksamens deur te kom was my "highlighter" gedurig by my om die kern gedagtes uit te stippel, en daarna 'n "precis" opstelling te maak om sin vanuit al die gestippelde kern gedagtes te maak. Hierbo het ek nie my "highlighter" byderhand gehad nie.

  • 'n Intellektuele benadering het sy plek en ek wil nie die akademie afmaak nie. Dit wil egter lyk asof 'n deel van die "krisis" in die Afrikaanse benadering tot Christenskap soos hierbo beskryf juis die intellektualisering van 'n besonder eenvoudige en verstaanbare boodskap is. Daardie intellektualisering gaan vir my met stagnasie gepaard. Kyk maar na die barokke-teologie van kerke wat lankal bestaan en vergelyk dit met die uitgangspunt op die sendingvelde en die mense wat aan die voorpunt van die evangelisasiepogings werk. Daar is die geloof lewendig en opwindend en van stagnasie is daar nie sprake nie. En dit terwyl die sendingboodskap juis besonder verstaanbaar en eenvoudig gehou word. Dis nie met bekering dat die stagnasie al intree nie. Dis 'n hele ent verder in die geloofsloopbaan in. Daarom bied iemand soos Angus Buchan 'n geleentheid om, vir die eerste keer of opnuut, met Christenskap kennis te maak in 'n omgewing wat wars is van die soms nogal somber en vervelige beheptheid met besonderhede. Wat op die ou end met baie deurwinterde Christene gebeur, is dat hulle 'n lywigheid en waardigheid aanvaar wat ontdaan is van die aanvanklike ligtheid en vreugde wat hulle geken het. Miskien sal sommige dit as geestelike volwassenheid beskryf. Dit trek egter baie op verstoktheid.

    • Laurent Adamson

      Ek stem heelhartig saam. Hierdie intellektualisering - of eerder - filosovering van eenvoudige Skrifvertolkings is juis die probleem. Die vertaling van Grieks van "filo" en "sophy" is verduidelikend genoeg van mense wat behep raak en in die gat val om rasionale denke te oor-analiseer. Sulke benadelings beïndruk nie - maar toon aan my 'n verwardheidheid wat feitlike en geloofwaardige geestelike lewensbeginsels tot niet maak.

    • Phillip du Bruyn

      Reg so Jaco. Die Evangelie is ongekompliseerd en bedoel vir die massas. Christus verwag 'n "kinderlike" aanvaarding van hierdie waarheid. Die intelektaulisering van die Evangelie van verlossing klink vir die gewone mens na selfverheerliking van 'n klompie studente opsoek na doktorsgrade en applous.

  • Tjaart Lemmer

    Hier bo is reeds verwys na die feit dat die Bybel in die oorspronklike Christelike Kerk gelees en vertolk is in die konteks van die heilige tradisie en die liturgiese lewe van die Kerk, en dat dit daarom juis gevaarlik is om op eie houtjie die Bybel buite hierdie liturgiese konteks te vertolk.
    Ek sou graag ’n uiteensetting wou sien van die "heilige tradisie en die liturgiese lewe van die Kerk" wat veronderstel is om die konteks te verskaf waarbinne ’n mens die Skrif moet verstaan. Dit lyk na ’n poging om die verstaan van die Skrif, en dus mense se denke, te probeer beheer. Mens sou verwag dat die Woord en die Heilige Gees daardie verstaan van die Skrif behoort te lei. Die Skrif gee self die nodige konteks.
    Heilige tradisie en liturgie klink vir my vaag en na ’n gevaarlike "moving target". Dit is whatever die vaders van die Instituut wat "kerk" genoem word (maar dit nog nooit was nie) nodig het om die massas wat te dom is om self die Skrif te verstaan te beheer.
    Daarteenoor staan die Skrif self:
    Matt 11:25-30
    25 Daardie tyd het Jesus gesê: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.
    26 Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.
    27 "My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.
    28 "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
    29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.
    30 My juk is sag en my las is lig."
    1Korintiërs1:21 Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo.
    Dit was die bedoeling van God dat die wêreld NIE deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie, maar deur die openbaring van Christus. Daarvan sien ek niks in ’n betoog wat na verskeie menslike outeurs verwys maar nie ’n enkele Skrifverwysing nie.
    Dit is die "heilige tradisies en liturgie" waarop die Instituut ’n monopolie wil handhaaf wat die ware kerk (liggaam van Christus) ondergronds gedryf het en daar hou met hulle selfopgelegde alleenmandaat om die openbaring van die Skrif te monopoliseer en weg te hou van die ongeleerde massas. Presies waarteen Luther gestry het. So much has happened, nothing has changed.

    • Tjaart die Heilige tradisie is dié een wat vir jou die Bybel gegee het. Die Nuwe testamentiese kerk het voor die nuwe testament bestaan. Enige persoon wat homself waardig ag om die skrifte akkuraat te interpreteer buite enige konteks is welkom maar 'n persoon wat sy persoonlike interpretasie aan ander mense leer speel met vuur. Die kerkvaders het verseker hul openbaringe in besondere onstandighede ontvang, onder meer Ignasius wat verskeie briewe geskryf het onderweg na die arena; ek glo 'n mens moet ten minste jouself inlig oor hierdie manne se interpretasies voor jy ander begin leer.

  • Henk Oberholzer

    Alhoewel ek saamstem met sekere punte in die artikel is daar wel 'n paar uitsprake wat vir my problematies is.
    Eerstens is die wetenskap nie so verknog aan "absolute sekerheid" soos wat die skrywer wil voorgee nie. Die wetenskap is bloot die beste metode tot ons beskikking om rasionele besluite te maak en die bereik van konsensus te fasiliteer. Wanneer wetenskaplikes hulle sieninge opdateer in lig van nuwe informasie, is dit nie die wetenskap as 'n dissipline wat verander nie. Dit is dan juis die werking van die wetenskaplike metode wat geopenbaar word. Om dit af te probeer maak as 'n tekortkoming, dui op 'n oppervlakkige verstandhouding van die onderwerp. Verder staan die wetenskap nie vierkantig teenoor godsdiens nie. Die idee van 'n skepper is bloot net nie die aanvaarde teorie huidiglik nie. As daar more nuwe insig aan die lig kom in hierdie verband, dan korrigeer die wetenskap bloot self, en hou aan vorentoe beweeg.
    Tweedens, in antwoord op die stelling: "begaan hulle ’n ernstige fout, naamlik om die baba van die Christendom saam met die badwater van swak teologie uit te smyt", behoort die vraag te wees, wat is nou eintlik die definisie van Christendom? Dis myns insiens gans onmoontlik om enige so 'n stelling te maak sonder om eerstens op daardie definisie ooreen te kom. Christenskap is so 'n ontsettende generiese term, dat amper enige filosofiese argument kan kwalifiseer as "die uitgooi van die baba" - selfs die argumente van self geïdentifiseerde Christene teenoor ander. Tog staan hulle trots saam onder die oorkoepelende vaandel van Christenskap salig onbewus daarvan dat elkeen 'n verskillende god aanbid en op grond van sy/haar eie oortuigings sy mede Christen na die hel verdoem.
    Wanneer bogenoemde generiese Christenskap verder van sy onbewysbare stellings geskei word, word daar nie veel geoffer bo 'n generiese "deïsme" nie. En dit is in elk geval nie teenstrydig met enige iets anders nie.

    • Henk dit is eenvoudig. Die "baba" of die Chistendom is die Kerk wat deur die Apostels van Jesus gestig is en wat onveranderd en suiwer, sonder korrupsie bly voortbestaan het. Hierdie Kerk het hom 500 jaar voor die reformasie van die Rooms-Katolieke kerk verwyder. Of sal ons sê, die Rooms-Katolieke kerk het hom van die oorspronklike kerk afgesny en veranderinge begin inbring en toepas.

    • H A Labuschagne

      Prof Rossouw ek is nie geskool soos jy nie maar ek het my beste getraai, maar ek weet nie wat jy vir my wil sê nie. Dis die rede dat die "kerke" nie meer opkoms het nie. Inteendeel het ons nie plek in ons kerk vir 'n muis nie. Jou taal en maniere is te hoog vir die man op straat ens. Die woord van God is eenvoudig verstaanbaar. Dis hoekom ons luister na 'n boer met graad 8 wat aartappels plant. Wat die die stem van die Here hoor. Dankie.

  • Salomon Pienaar

    Johann jou intellek staan in die pad tussen jou en n werklike ontmoeting met Jesus. Hy het immers die eenvoudigste mense gekies om Hom te volg en Sy woord te gaan verkondig, nie teoloë nie, nie intellektueles maar eenvoudige, selfs ongeletterde mense.
    Die Its Time Event was maar die voorloper van wat gaan volg en dit sal nooit gebaseer word op die intellek of die teologie nie, maar wel die aangrypende ervaring van Jesus se liefde en genade. Dit is hierdie ervaring wat ons land binnekort deur Sy genade gaan verander en dit is met ’n opregte hart en die liefde van Jesus dat ek bid dat jy ook, soos ons verander sal word.

  • BAIE swak, en eintlik oneties, vir iemand wat duidelik NIKS van wetenskap, of die wetenskaplike proses weet nie, om uitlatings te maak soos: "’n Mens wil jou verstout om te sê wetenskaplikes verander hulle uitsprake oor die waarheid nog meer gereeld as sommige kerkverbande."

    Gaan leer eers bietjie oor die wetenskaplike proses, dan probeer jy maar weer, ok?

  • Dankie Tjaart Lemmer vir skrifaanhalings. Die Here bou Sy kerk en gebruik wie Hy wil. Dit lyk soms vir my of geleerde teoloë aanstoot neem as die Here sogenaamde lekepredikers gebruik om die evangelie te verkondig. Hulle word ook summier gebrandmerk as fundamentaliste. Feit is dat ons verskillende bedieninge in die liggaam van Christus het nl: herders, leraars, evangeliste, profete en priesters. Die geleerde leraars meen hulle het nie evangeliste nodig nie ens. Daarteen waarsku Paulus dat die hand tog nie vir die voet kan sê ek het jou nie nodig nie! Kom ons aanvaar mekaar en verbly ons as die evangelie verkondig word. Dit was juis die wonder in Angus Buchan se byeenkoms dat Christene uit alle geloofsgroeperings daar teenwoordig was en eendragtig in gebed verenig het. Verder wil ek noem dat Angus Buchan en andere se bedieninge nie die plaaslike gemeentes ondermyn of vervang nie.

  • Vir baie lank is daar gepoog om die wese van 'n transendente god te deurgrond deur middel van 'n versameling geskrifte wat "Die Bybel" genoem word. Wanneer 'n mens aanvaar dat daardie god onkenbaar is en dus nie bestudeerbaar nie, is die enigste alternatief om die mens se wording oor baie eeue te bekyk om vas te stel of daar 'n "Hoër Hand" is wat die mensdom lei.
    Die vorige era van menswording was die Mitiese era waartydens 'n hele familie van gode uitgedink is wat die lotsbestemming van volke bepaal het. Daar is allerhande vermoëns aan hierdie gode toegeken deur 'n hele skat van mites wat vandag nog bestaan. Hierdie gode moes elkeen apart aanbid en aangeroep word vir bystand in die mense se lewensprobleme. Toe kom daar 'n dramatiese wending deur die persoon van Jesus wat die basiese boodskap bring dat mense nou nie meer die gode of God moet aanbid nie, maar 'n eie en unieke verhouding met die transendente Vader moet aangaan en onderhou. Maar om selfsugtige redes het die leiers eerder 'n kerk tot stand gebring ter wille van materiële gewin deur tiendes af te dwing in die naam van "God". Dit was dus direkte rebellie teen die waarheid van die nuwe era.
    Vandag, 2000 jaar later, begin meer en meer mense ontdek die kerk is eintlik net 'n versameling geleerdes wat mense steeds, soos aan die begin, wil weghou van Vader af deur geleerde "preke" op 'n weeklikse basis af te dwing op 'n groep mense wat net moet stilsit en luister. Die waarheid is dat elkeen toegang het tot 'n baie intieme, unieke en werklike verhouding met Vader. Terwyl die teoloë aanhou voortstoom met geleerde en ontoeganklike redenasies, ontdek meer en meer mense hulle kan 'n ware gesprek met Vader voer en dat hy self aan elkeen die Bybel verklaar soos wat dit vir die betrokke persoon nodig is. Daarom kan buitestaanders nie besluit wat Vader vir Buchan gesê het en wat die bedoeling was nie. Dit sal in elk geval so vervleg wees met Buchan se eie wese dat hy dit ook nie ten volle sal kan meedeel nie.
    Enigeen wat die moeite wil doen om uit te vind hoe die It's Time byeenkoms se beplanning en voorbereiding ontplooi het, sal besef Vader het nie slegs met Buchan gepraat nie, maar met 'n groot groep individue wat mekaar nie noodwendig geken het nie. Vader praat met individue op 'n duidelike en onbetwisbare wyse, maar dit is 'n unieke gesprek binne 'n unieke verhouding. Mense wat te belangrik en geleerd is daarvoor, noem dit "die verarming van godsdiens".

  • Jammer maar nadat ek jou artikel gelees het met al sy akademiese groot woorde klink dit nog steeds na apologieë vir ’n wese wat ek nog nóóit gesien of gehoor het nie. Ek is seker dan fundamentalisties in my onvermoë om ’n god op te tower. As ander mense dan wil glo om beter te voel wanneer die wêreld aaklig en donker is, voel ek dis hul keuse. Ek kan egter nie meer intellektueel eerlik wees met myself en net glo omdat dit my vrese besweer nie. As ’n miljoen mense bymekaar kom wys dit eendrag en dis mooi maar dit beteken net dit. Niks meer. Buchan soos meeste Christene, lees die bybel soos dit hom pas en in die proses maak hy sy medemense seer. Daarom is hy geen oplossing.

  • Hercules Mc Donald

    Liewe Prof Rossouw, as ek die Bybel lees, sien ek dat van die vroegste tye, mense die geskrifte en Bybel probeer meer ingewikkeld hou as wat dit waarlik is. Dan kom Jesus self en spreek dit direk aan in Mat 18:1-5. My gebed is dat jy dié Jesus sal ontdek. Genade onbeskryflik groot! Sonder hogere interpretasies, geleerdheid of verdienste.

  • Theuns Moolman

    AFR 2Ti 3:16-17: "16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
    17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus."
    AFR 2Ti 4:2-3: "2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf,
    vermaan in alle lankmoedigheid en lering;
    3 want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,"

    God se HELE Woord is waar en onweerlegbaar. Dit is ook onveranderbaar en sal so wees tot in ewigheid. As ons nie glo soos kindertjies nie beweeg ons in 'n mynveld in!

    • Theuns, ek vind dit uiters vreemd dat fundamentaliste dikwels verwys na die gedeelte waarin Jesus gelowiges vermaan om soos kinders te word. Vir sover my eie geheue en waarnemings my nie in die steek laat nie, vra kinders juis oneindig baie vrae!

  • Hoogdrawend! Die skrywer het 'n hoë IK, maar verder niks. God is die kenner van jou hart Prof. Elkeen sal eendag voor God staan en dan sal jou intellek niks tel nie. Daar sal net na die opregtheid van jou verhouding met God gekyk word. Prof voorspoed met daai een, ek dink aan jou ou pel.

    • Dit is duidelik dat jy niks weet van die persoon van Prof Rossouw nie ... sterkte om jou veroordelings van 'n persoon soos hy eendag te verduidelik!

  • Ons enigste aanvaarbare kommunikasie tussen mens en God is die Heilige Gees, as jy God se gees nie het nie moenie probeer verstaan nie. Angus is ’n doodgewone boer wat God kan gebruik met Sy gees, as God hom opdrag gegee het om mense byeen te roep dan was dit nie Angus nie maar God ... so stop probeer verstaan of redeneer. Net ’n gewillige hart sonder vrae kan God se hart bereik, ons almal ken die verhaal van Noag, die kan ook ’n Noag situasie wees. Angus het gehoor en reageer. Hoeveel keer het God nie met elkeen van ons gepraat en ons nie geluister nie ... so stop maak God ’n bespotting! Angus jy is ’n man na aan God se hart! Die veroordelaars gaan voor God verskyn ... binnekort, God het al beweeg!

  • Die vermensliking van die Wese wat ons God, Vader, Skepper, Almagtige ens noem is een van die grootste struikelblokke in ons menslike verstand. Die feit dat die Oorsaak waardeur alles tot stand gekom het in 'n menslike vorm tussen ons kom woon het, maak die vermensliking nog soveel makliker.
    Want nou praat mense van 'n 'Liewe Jesus' as 'n produk van menslike denke en daarom nie bestaan het nie, want mense het dit uitgedink. Die probleem is dat ons intellek te klein is om te besef waarmee ons werklik te doen het.
    Die Bybel is duidelik in sy uitspraak, niemand kan die Oorsaak waardeur alles tot stand gekom het aanskou en bly lewe nie. Daarom is die koms van Jesus 'n onbegryplike vergunning en die Heilige Gees as rigter van menslike verstand en denke een van die grootste geskenke aan die mensdom ooit.
    So kragtig is die werking van die Heilige Gees dat ons enigste Verlosser en Saligmaker dit nie nodig geag het om intellektuele reuse nader te roep om die Blye Boodskap onder die mense en volke te verkondig nie.
    Nee daar was eenvoudige vissermanne met eelte op hul hande en bultende spiere wat jou maklik 'n snotklap sou gegee het as iets slegs van Jesus gesê het. (Jakobus en Johannes die seuns van Sebedeüs, maar Jesus het hulle die bynaam “Seuns van die Donder” gegee).
    Daarom om 'n aartappelboer intellektueel te dissekteer toon min insig in die werking van die Heilige Gees.

  • Baie dankie vir 'n uitstekende artikel - vol diep geloofswaarhede. Hierdie is juis die soort stem en inset wat ons in die Afrikaanse gesprek en diskoers rondom geloof en veral die Christendom benodig.

  • Johan De Jager

    Mark 9:38-41

    38 “Teacher,” said John, “we saw someone driving out demons in your name and we told him to stop, because he was not one of us.”

    39 “Do not stop him,” Jesus said. “For no one who does a miracle in my name can in the next moment say anything bad about me, 40 for whoever is not against us is for us.

    En dit geld vir altwee kante van die bogenoemde saak, laat sommiges soos kindertjies glo en laat die ander dan soos geleerdes glo. Glo net 🙂

    • Beste Johan de Jager,

      In Matteus, dieselfde boek waarin die tema van kind-word (let wel verskil tussen word en glo) opgehaal word, staan daar in 22:37 dat jy God moet dien met jou hele verstand. Laat ek jou herinner dit vorm deel van die groot gebod, met ander woorde daar kan geen kompromie aangegaan word nie.

      Kinders, soos ek hierbo noem, vra baie vrae en is in 'n staat van verwondering oor die wêreld, 'n verwondering wat juis gekortwiek word deur kitsantwoorde soos die wat Angus aanbied.

      Groete

  • Hans Richardt

    My laaste vraag - is meeste gelowe nie juis gedrewe deur 'n sosialisme-teokrasie-inslag nie? Bv gee nie aan jou broer ’n klip as hy brood of ’n slang as hy vleis vra nie. Doen vir jou naaste soos wat jy aan jouself gedoen wil hê, bv maak potholes reg op pad na gebedsaamtrek, in stede van om luuks in helikopter aan te kom.

  • Nogal Andersdenkend

    Die wetenskap-baba word te ligtelik saam met die badwater weggegooi.

    Myns insiens probeer al die gelowe net natuurverskynsels (weerlig, droogte, dood) aan die hand van mites verklaar. Weerlig, wat van bo kom, is myns insiens die genesis van die god-gedagte. Wetenskaplikes kan sulke verskynsels bykans volledig verklaar. Dit is onsinnig om hul gedagtes as "’n stel bloot persoonlike voorkeure en waardes" te beskryf. Wetenskaplike bevindings is die resultaat van noukeurige berekeninge en stawende eksperimentering.

    Die Roomse en Ortodokse kerk se godsdiens is deurspek van vele onsinnige verskynings van Moeder Maria en ander heilges - hallusinasies van een of ande soort.

    Wat filosowe betref, hou ek van Bertand Russell se uitgangspunt.

  • Annora Eksteen

    Fantasie en verbeelding is vir my ook goeie breingim. Ek kan glad nie probeer saampraat oor die Bybel oud of nuut nie; my brein het al 'n kortsluiting gemaak oor die geprekery op ouderdom vyf. Ek slaat 'n totale nul as dit by die literatuur van die swart boek kom. Tans geniet ek my windwese Amalthea se teenwoordigheid, Disney-mooi inspirerende liedjies en lirieke, Karel Schoeman se 'Die Uur van die Engel' en 'n Gayatri Mantra om die daggie af te sluit. Ek beweeg in sulke fases. Tog geniet ek dit ewe veel om saam 'n glasie te skink, te klink en te drink. Santé et Namasté. Ons vat hande. Bou brûe van beter begrip vir verskille. Ons maak vrede met die eenvoudige mense en gee sonder rede, sommer net uit meegevoel vir ons almal se lyding: drukkies en teddiebere.

  • Wees bly Afrikaners is nog hier en daar gelowig (hoe eenvoudiger hoe beter). In Europa is daar bykans in geheel op G-d die rug gedraai. Die ou katedrale is niks anders as toeriste-besienswaardighede nie. Colossians 2:8 - Beware lest any man spoil you through philosophy and vain deceit ...
    en
    1 John 2:27King James Version (KJV)
    27 But the anointing which ye have received of him abideth in you, and ye need not that any man teach you ...
    En ja ek weet daar's verdere konteks. As mens iets se uit die bybel word jy gesê dat jy dit buite konteks neem ...
    Hopeloos te veel bells and whistles.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top