Die feesmaal

“Ag Here, bring my kind huis toe vir Kersfees,” prewel Lina terwyl sy die hoenderpastei uit die AGA-oond haal. Sy kan nie dadelik agterkom of dit die stoom of trane is wat alles om haar vervaag nie. Versigtig plaas sy die pastei op die tafel neer en vee oor haar oë. “’n Mengsel van albei,” dink sy wrang voor sy haar gesig met die voorskoot afvee. “Geen kos soos ’n ma se kos,” lees sy onderstebo op die voorskoot. Uitgeput soek sy rusplek op die stoel langs die kombuistafel. Die voorskoot was nog ’n laaste geskenk van Herkie voor sy vertrek na die vreemde.

Dis nou reeds ’n jaar gelede dat sy die oproep ontvang het. Hoe goed onthou sy nie daardie dag, drie dae voor Kersfees nie?

“Hallo, Ma! Ek sien Ma Kersfees,” het hy opgewonde gebabbel; nie soos gewoonlik eers na haar welstand verneem nie. “Hoenderpastei en skaapboud vir die Kersete, asseblief Ma,” het hy gesmeek. “Ek is uitgehonger daarvoor!” Die lyn was swak en die oproep gou verby.

Hy het nooit opgedaag nie. Na die oproep was daar net stilte.

En toe kom die lang wag, dink sy en skud haar kop. Moeisaam staan sy op om solank die bestanddele vir die nagereg bymekaar te sit. Die spyskaart word herhaal net soos sy dit vir die vorige Kersmaal beplan het. Al Herkie se gunsteling geregte word met liefde gemaak. Dalk kom haar kind haar die Kersfees verras. Sy glo met haar hele hart hy sal huis toe kom. Herkie het nog altyd sy woord gehou.

Sy weet die familie is vies vir haar. Party dink selfs haar kop het haar verlaat, maar hulle verstaan nie. Hoe kan sy saamgaan see toe? Net dalkies daag haar enigste kind op en dan is daar niemand om hom te ontvang nie. So iets mag nie gebeur nie.

Na haar man se afsterwe was Herkie, skaars uit matriek, haar steunpilaar. Hy wou niks daarvan hoor om die plaas te verkoop nie.

“Net twee jaar, Ma. Gee my net twee jaar om ekstra geld te gaan verdien. Hier is betroubare werkers en bure wat Ma kan bystaan. As ek terugkom sal ons ’n goeie neseier hê om aan te gaan met die boerdery.” So het hy haar omgepraat met die mal idee om in ’n vreemde land sekuriteitswerk te gaan doen.

Ek moes nie ingegee het nie, snik sy.  Diep binne weet sy egter dat sy Herkie nie sou kon  keer nie.  Sy vasberadenheid is iets wat hy van sy pa geërf het. Vies skrik sy uit haar mymering. Hierdie dinkery sal nie deug nie. Daar is nog baie wat gedoen moet word. Haastig begin sy die bestanddele afmeet. Haar kop en hande moet besig bly.

Tog loop haar gedagtes hul eie pad. Die onthou wil nie ophou nie. ’n Paar dae na Kersfees kon sy die weghol gedagtes nie meer verduur nie en het die sekuriteitsmaatskappy probeer kontak. Die gelui van die foon in haar ore het nie opgehou nie. Almal was skynbaar nog met vakansie tot in die nuwe jaar.

2.

Na baie gesukkel kon sy tog daarin slaag om kontak te maak. Met haar Karoo-Engels moes sy vir die mannetjie aan die anderkant verduidelik dat haar kind nie huis toe gekom het nie. Hy was duidelik baie versigtig om te veel te sê. Al wat sy uit hom kon kry, is dat hulle aandag aan die saak sou gee. Empatie met ’n moederhart het hy nie gehad nie. In sulke tye leer ’n ma om van hoop, eerder as kos, te lewe.

Die gedreun van ’n bakkie laat haar gedagtes skiet gee. “Dagsê, Buurman,” groet sy vir Fred van der Merwe toe sy hom op die stoep tegemoet stap. Die buurmanskap strek al oor jare. Herkie en die Van der Merwe kinders het saam-saam groot geword.

“Dag Lina,” groet hy terug, maar wys haar uitnodiging om in te kom van die hand.

“Ek en Lettie wil net hoor of jy nie Kersdag maar wil oorkom nie. Dis nie goed om so alleen te sit nie,” val hy met die deur in die huis.

Moedeloos skud Lina haar kop. “Ek weet julle bedoel goed, maar ek kan nie, Fred. Wat as my Herkie-kind dalk tog hier opdaag?”

“Genade Lina, dis al ’n jaar. ’n Mens kan nie so sit en wag nie. Hy ken die omgewing. Hy sal wel die bure kontak om uit te vind of ons iets weet ...,” begin Fred ergerlik.

Vinnig hou Lina haar hand omhoog. “Ek gaan nie baklei nie, Fred. Ek vra net dat julle probeer verstaan,” smeek sy.

Kopskuddend draai Fred om en stap na sy bakkie toe. “Dan groet ek maar, Lina” roep hy toe hy inklim en met ’n vaart wegtrek.

Hartseer gaan sit Lina op die bankie wat oor die werf uitkyk. Uit gewoonte kyk sy in die pad af.  Sy wens die familie en vriende wil probeer verstaan. Hulle is tog ook ouers. Kan hulle nie besef dat ’n mens se hoop nooit opraak nie?

Kersoggend is Lina voor die hoenders wakker. Vir ’n rukkie luister sy net na die stilte. Dan staan sy haastig op om koffie te maak en aan te trek. Dis asof iets haar vanoggend jaag; amper ’n soort opgewondenheid. “Ek wonder of Maria ook so opgewonde was oor Jesus se geboorte soos ek oor Herkie s’n?” gesels sy met haarself. Sy kan elke oomblik van haar kind se geboorte herroep. “En nou is hy weg.” Dis wat daai Engelse mannetjie vir haar sê. Haar Herkie-kind word vermis. Meer kry sy uit niemand nie. Sy het die oproepe maar later gestaak. Stilte is soms beter as niksseggende woorde. Tog vertel haar verstand vir haar dat iets nie pluis is nie, maar haar hart bly hoop.

Heelwat later gaan sit sy met ’n koppie tee op die stoepbankie. Alles is reg vir haar kind se koms. Sy kan nou maar net wag …

Sy moes ’n rukkie ingesluimer het. Toe sy haar oë oopmaak, is sy vir ’n oomblik verward. Dan fokus haar oë op ’n figuur by die plaashek. Versigtig staan sy op. “Kan dit wees?” prewel sy. Die afstand na die hek is ’n hele paar meter en sy kan nie mooi sien wie dit is nie.

3.

Al hinkend beweeg die persoon nader. Dis duidelik dat hy moeisaam stap. Die afwagting wil uit Lina bars. Sy roer nie.

Na wat soos ’n ewigheid voel, kan Lina die jongman se gelaatstrekke uitmaak. Sy voel hoe teleurstelling in haar hart wil kom nesmaak. Tog bly sy staan.

“Middag tannie,” groet hy uitasem en sy merk dat hy definitief in pyn verkeer.

“Kom sit jongman,” neem haar gasvryheid oor. “Laat ek vir jou bietjie water bring.”

Met haar terugkeer sit-lê hy op die bankie. Hy sluk gulsig aan die water wat sy aanbied en skuif hom effens regop. Langs hom lê ’n bruin kardoes op die bank.

“Is tannie se naam Lina?” vra hy met sy bruin oë angstig op haar gerig. Om een of ander rede kry sy nie geantwoord nie en knik net haar kop. “Ek is Hannes,” sê hy en steek sy hand uit. Sy voel die sweet aan sy hand. Haar eie hand is yskoud, nes haar hart.

“Ek en Herkie het saam gewerk in Irak,” begin hy vertel.

“My kind; waar is my kind?” fluister Lina angstig.

Dis lank stil.

“Vertel,” smeek sy.

“Daar was ’n bom …” begin hy. “ …nie lank nadat hy tannie gebel het nie. Ek het my bewussyn verloor en was vir maande in ’n hospitaal. Ek kon eers heelwat later na Herkie begin soek.”

“Die Engelse mannetjie sê hy word vermis. Hy het niks van ’n bom genoem nie,” fluister sy.

“Dit het buite die basis gebeur. Alles was baie deurmekaar. Hulle weet nou.” Hy bly lank stil.

“Herkie het so baie oor tannie en die plaas gepraat. Ek moes self kom.”

Hy praat nie verder nie; laat net sy oë oor die plaas beweeg. Toe hou hy die bruin kardoes na haar toe uit. Lina se hande bewe toe sy dit neem. Haar moederhart weet. Die houtkissie bevestig haar vermoede.

Sy word eers bewus van haar eie trane toe sy die klammigheid in Hannes se oë opmerk. Lank sit hulle so. Woorde sal nou onvanpas wees. Sy kan later die besonderhede hoor.

Heelwat later staan sy op. “Kom ons gaan eet,” nooi sy hom. Moeisaam kom Hannes regop. Sy been is die stille getuienis van die bom wat haar Herkie geneem het. In stilte stap hulle die eetkamer binne. Versigtig plaas sy die kissie op die kaggelrak. “Dankie dat U hom terug gebring het, Here,” prewel sy voor sy die netjie oor die gedekte tafel afhaal. Haar feesmaal is gereed.

Kommentaar

  • Pieter Oberholzer

    Hierdie is 'n uitstekende verhaal waarmee baie ouers kan assosieer. Dis goed geskryf, sonder omhaal van woorde en die storielyn skep spanning tot by die ontknoping aan die einde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top