Die energie en die chaos van die lewe treffend vervat in PG du Plessis se Fees van die ongenooides

  • 1

Titel: Fees van die ongenooides
Skrywer: PG du Plessis
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624046875
Publikasiedatum: Oktober 2008
Bladsye:428

PG du Plessis het aanvanklik bekendheid verwerf as dramaturg, vanaf sy debuut met Die nag van legio (1969) en later met Siener in die Suburbs (1972), Plaston: DNS-kind (1973) en 'n paar satiriese dramas. Die Hertzogprys vir drama is in 1973 aan hom toegeken vir Siener in die Suburbs en Plaston: DNS-kind.

In die laat sewentigerjare het Du Plessis hom hoofsaaklik met kortverhale begin besig hou, en veral die reekse Koöperasiestories, wat eers as koerantrubrieke, daarna as TV-produksies en later in gepubliseerde vorm verskyn het (1980 en 1985), het groot gewildheid geniet. In hierdie tyd het hy ook begin om ernstig vir die TV en ook filmdraaiboeke te skryf.

In 1997 verskyn Du Plessis se eerste roman, A married man's guide to adultery, 'n boek wat die erns van die dramas en die humor en magiese realisme van Koöperasiestories kombineer. Dit was egter 'n boek wat nie gemaklik in 'n bepaalde letterkundige kategorie ingepas het nie (ook wat die bemarking daarvan betref) en nie die regte soort leser gevind het nie. In 2008 publiseer Du Plessis 'n tweede omvangryke roman, Fees van die ongenooides. Voor die verskyning daarvan is 'n TV-reeks in Engels met die titel Feast of the uninvited gebeeldsaai waarin Du Plessis met dieselfde karakters ongeveer dieselfde verhaal vertel. Hoewel die TV-reeks eerste ontstaan het, voel Du Plessis dat die verhaalgegewe en vertelling in die roman eers tot volle ontplooiing kon kom. Vir my is hierdie roman 'n belangrike bydrae tot sy oeuvre, omdat bepaalde eienskappe van sy skrywerskap hier in 'n groter opset uitgewerk word en dus duideliker manifesteer.

Fees van die ongenooides handel in hoofsaak oor die wel en wee van 'n uitgebreide Vrystaatste familie, die Van Wyks, tydens die Anglo-Boereoorlog. Drie generasies, oupa Daniël, pa Danie en sy vrou, en die seun Daantjie en sy mooie vrou Magrieta, woon op 'n gevestigde en produktiewe plaas saam met 'n bywonergesin, die Minters. Die basiese gegewens van die verhaal is dieselfde as in baie ander verhale oor hierdie oorlog. Oupa bly tuis, pa en seun gaan veg, die plaas word afgebrand, die vrouens en die oupa word na 'n konsentrasiekamp geneem, die rykmanseun vertoon veel swakker in oorlogsomstandighede as die bywonerseun. Verder is daar die spanning in die familie omdat pa Danie se broer, Wynand, die wysheid van 'n oorlog teen die magtige Britse Ryk bevraagteken, en 'n laaste bekende verhaalelement is die aangetrokkenheid tussen 'n Boeremeisie en 'n Engelse offisier. Dit gaan dus onteenseglik oor 'n herkenbare deel van die algemene Suid-Afrikaanse geskiedenis, waardeur die roman, soos ook ondersteun deur byvoorbeeld die gebrek aan 'n spesifieke plasing van die gebeure op 'n bepaalde bekende of herkenbare plek, 'n algemeen-geldende karakter verkry.

Nogtans is hierdie roman geen tipiese verhaal oor die Anglo-Boereoorlog nie. Die roman besit 'n eie en unieke karakter, omdat die aandag juis gevestig word op ongewone en onbekende fasette van die oorlogsgeskiedenis, maar veral ook omdat daar op 'n baie spesifieke manier vertel word.

In Fees van die ongenooides word 'n aantal bekende motiewe uit die oorlogsgeskiedenis vertel, maar ook ondermyn. Daantjie is die bevoorregte seun van die welvarende Danie; hy is die erfgenaam van die plaas en getroud met die mooiste vrou. Voor die oorlog glo hy dat hy 'n held sal wees, maar tydens die eerste geveg blyk dat sy gees én sy liggaam glad nie die spanning van 'n konfrontasie kan hanteer nie. Hy raak heeltemal verlam en byna flou van angs en moet elke keer na die tyd sy klere gaan was. Met die hulp van die swart man Soldaat bewerkstellig hy vir homself 'n uitkoms, maar dit lei hom net dieper die afgrond in. Hy word ontmasker as 'n swakkeling wat, uitgelewer aan homself, so optree dat sy hele lewe uiteindelik 'n langdurige en uitgebreide leuen word.

Dit word ook duidelik dat die ernstige tant Getruida se herinnering aan 'n onderwyseres uit haar jeug 'n heel ander verhaal vertel as dié van die tradisionele ongetroude tante. Die Minters is versukkeld, maar die seun Petrus Minter vertoon sterk en goeie eienskappe wat sy ouers waarskynlik deur volgehoue teëspoed verloor het. Die lyding van die vroue en oupa Danie in die konsentrasiekamp word gekompliseer deur die situasie van Magrieta wat na 'n verkragting swanger raak. Getruida se klavier word deur die Engelse offisier, Philip Brooks, saamgeneem na die kamp en speel 'n belangrike rol in sy vriendskap met Magrieta sowel as in die dood en begrafnis van Martie se dogter Driena.

Wat duidelik word, is dat hierdie roman 'n ryk verhalende teks is. Elke karakter se storie kry die volle aandag van die verteller en elkeen se hede sowel as elkeen se verlede word vertel. Daar is in die roman 'n intense soort vertel, asof die verteller wil seker maak dat elke karakter se storie met oorgawe aan die leser vertel word. Die breedopgesette aard van die roman as 'n familieroman wat geplaas is teen die agtergrond van 'n belangrike historiese gebeurtenis in die land waarin dit afspeel, herinner aan die tradisionele romantradisie. In die groot negentiende-eeuse romans in Engels en in Russies is daar so uitvoerig vertel van 'n hele gemeenskap in die kleine, maar mens kry dit ook in die Suid-Amerikaanse romans. Die karakters word uitgebeeld soos wat hulle gevorm word deur die wyer historiese gebeure en deur die fisiese omgewing waarin hulle lewe.

As sodanig is die roman wel 'n historiese roman, maar dit gaan tog veel dieper, want dit openbaar dinge wat die denke en optrede van hierdie karakters en mense soos hulle nageslag bepaal. Dit sluit aan by ander tekste waarin Du Plessis hom bemoei met die verhouding tussen die verlede en die hede, die verstaan en hantering van die hede wat volg op kennis en insig van en 'n gebalanseerde oordeel oor die verlede. Hierdie tema word ook uitvoerig ontgin in Du Plessis se uitstekende kortverhaal "Ons mond", wat in die bundel Boereoorlogstories (red Jeanette Ferreira, 1998) verskyn het. Hieruit blyk dat die skrywer beskik oor 'n historiese sin, 'n bepaalde soort historiese bewussyn wat TS Eliot as onontbeerlik vir 'n skrywer geag het: om bewus te wees van die herkoms en ontwikkeling van ingesteldhede waarvan die bronne dikwels ver in die verlede lê, is essensieel om mense goed genoeg te verstaan om hulle oortuigend te kan uitbeeld.

Die kerninsidente in die verhaal het te make met juis die onverwoorde aspekte van die oorlog, soos verraad op politieke en persoonlike vlak, pynlik gekompliseerde verhoudinge tussen mense wat die naaste aan mekaar behoort te wees, maar ook 'n taboe-onderwerp soos verkragting. Dit is inderdaad vreemd dat waar verkragting in alle oorloë voorkom, daar in die Suid-Afrikaanse geskiedenis so min oor hierdie saak geskryf en vertel is. Dit blyk egter uit die roman dat verkragting wel deeglik voorgekom het, maar dat mense nie daaroor gepraat het nie. Daar was ook maniere om 'n vrou wat die vrug van 'n verkragting in die lewe moet bring, te help om nie haar lewe lank met hierdie aanklag en "skande" hoef saam te leef nie. In die erkennings agter in die roman word ook verwys na "'n ou vroedvrou" wat met die skrywer as jong man gepraat het oor sulke "versweë" dinge.

PG du Plessis gebruik meestal 'n ongewone invalshoek deur die fokalisasie te verwissel, en op dié manier word 'n eensydige beeld van mense en groepe mense in die roman vermy. Uiteraard fokus die verhaal op die Van Wyks en hulle wedervaringe, maar 'n karakter soos Joey Drew vervul 'n uiters essensiële en bindende rol in die roman. Joey se siening van sake dien dikwels as 'n soort barometer, net soos wat die manier waarop ander hom sien, sy selfbeeld korrigeer. Major Philip Brooks word ook so voorgestel dat hy waardering by die leser ontlok. Die roman is dus op geen enkele manier 'n afspeel van Boere en Engelse teen mekaar nie. Dit gaan om die uitbeelding van ’n historiese periode waarin menslikheid, menslike ellende, swakhede sowel as grootsheid, na vore kom. Die fokalisasie berus dan ook dikwels by 'n karakter wat buite die onmiddellike gebeure staan, sodat daar vanuit 'n vars, soms selfs onskuldige of onkundige blik vertel kan word.

Hoewel daar telkens van 'n ander fokalisator gebruik gemaak word, is daar in Fees van die ongenooides 'n deurlopende vertellerstem wat aan die woord bly. Hierdie verteller is 'n aktiewe instansie en 'n dwingende aanwesigheid in die roman. Nou kan daar natuurlik gesê word dat 'n mens hier te make het met 'n opdringerige en lastige verteller wat te prominent word (soos wat dit ook by herhaling van die verteller in The French Lieutenant's Woman van John Fowles gesê is). Wat egter in hierdie roman gebeur, is dat die vertellerstem die afstand tussen leser en storiegegewe reguleer. Die vertellerstem stel die skrywer in staat om te ondermyn of te satiriseer, maar ook die relativerende satire en skerp oordeel of skokkende inligting te temper. Net soos in The Married Man's Guide to Adultery gebruik Du Plessis soms 'n taalstyl, wat hy self "mock pedantic" noem, om 'n ironiese afstandelikheid en 'n meer geobjektiveerde blik en segging te bereik. Deur middel van die taalgebruik self en ook deur middel van 'n wrang humoristiese blik word karakters en gebeure tegelykertyd uitgebeeld en beoordeel. Die skrywer kan deur hierdie meganismes 'n verhaal vertel van 'n mensdom wie se sondes inderdaad "soos skarlaken" is, maar terselfdertyd die leser so ver kry om deernis en waardering vir hierdie mense te ontwikkel. Daar ontstaan 'n kontrapuntale spel tussen verhaalgegewens en vertelstyl wat nou aansluit by die postmodernistiese spel met konvensies: in Roland Barthes se woorde, "telling and saying that you are telling ...", sodat die verhaal self, sowel as die vertelling daarvan betekenisdraend is.

'n Motief wat in verskeie tekste in Du Plessis se oeuvre voorkom, is die siener-figure. Daar is Tjokkie in Siener in die Suburbs, en in Koöperasiestories is daar Soontjie, die Pietersetjie wat mense betyds gaan groet voor hulle sterf, en sy sussie wat die bome kan hoor praat. In Fees van die ongenooides is die siener Fienatjie Minter: sy weet Daantjie is nie dood nie, sy hoor die dooie kampkinders sing en sy het oë wat Joey Drew nooit weer vergeet nie. Wat baie interessant is, is hoe hierdie karakters dit moontlik maak om volkse legendes oor die oorlog in die roman te integreer, terwyl sulke magies-realistiese karakters die grense van die werklikheid terselfdertyd relativeer en oorskry.

Daar kan nog baie ander eienskappe van die roman genoem word: dinge soos Du Plessis se deernis en begrip vir minderes en randfigure, vir mense buite die stelsel wat met skoner oë kan waarneem; sy betrokkenheid by sy karakters wat die verteller en die leser soms tot op die rand van sentiment meevoer; sy aanvoeling (voorkeur?) vir die dramatiese aspekte van die lewe; sy vermoë om die taal soepel te hou terwyl hy die verouderde taalgebruik in dialoog en andersins gebruik. 'n Leser kry die indruk dat die skrywer/verteller van sy karakters hou omdat hy van interessante en ongewone mense hou en dat hy byna swaar van hulle afskeid neem aan die einde van die roman. Tot aan die slot word elke emosie en insident met oorgawe beskryf. Hierdie roman is nie 'n afgestroopte gepuurde abstraksie nie; dis 'n roman oorvol stories uit die lewe self, met al die energie en die chaos van die lewe self, en dit word vertel met patos en begrip vir hierdie spesie wat homself die mens noem.

Vir my was Fees van die ongenooides 'n heerlike leeservaring vanweë die skrywer se vermoë om 'n wonderlik sterk verhaal (eintlik baie verhale) met ’n subtiele intellektuele benadering en 'n diep menslikheid te kombineer. Dit gaan hier inderdaad om 'n manier van skryf wat Milan Kundera soos volg beskryf het: "The union of a frivolous form and a serious subject lays bare our dramas (those that occur in our beds as well as those we play out on the great stage of History) in all their terrible insignificance."

Fees van die ongenooides doen wat die roman tradisioneel veronderstel was om te doen: dit vertel 'n storie. Maar die roman beskik ook oor 'n fyn-uitgewerkte intrige, en die regulering van inhoud is deeglik beplan en hou die leser geboei. Onderliggend is daar ook 'n begronde filosofie oor die mens en sy geskiedenis wat die noukeurige leser sal raaksien. Hierdie roman is dus in geheel beskou die werk van 'n goeie vakman maar een met 'n hart vir die mens in al sy fasette.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top