Die eksklusiwiteit van kontemporêre evangelikaalse spiritualiteit in Suid-Afrika

  • 8

Niks is nuut nie, aldus die Prediker. Inderdaad. In dieselfde dae dat ek die artikel van Vincent Brümmer1 oor “Uitverkiesing en evangelikaalse spiritualiteit: die neocalvinisme in Suid-Afrika” lees, speel soortgelyke “teologiese dramas” sigself eietyds af. Die een vind plaas op 22 April 2017, op ’n plaas buite Bloemfontein; die ander is beriggewing in die Kerkbode van 28 April 2017, nav twee gassprekers by die jaarlikse toerustingsgeleentheid van die predikante in die NG Kerk van KwaZulu-Natal, met hul tema: “Die netjiese hantering van die Bybel bring hoop”. Alhoewel die fokus van die twee geleenthede heeltemal van mekaar verskil, gaan beide inherent, soos in die geval van die debatte van 1930 waarna Brümmer verwys, oor die Skrifgebruik en -gesag. Beide gaan oor temas van eksklusiwiteit en inklusiwiteit, en in beide gevalle is die onderliggende aan-/afwesigheid van geloofsbelydenisse ter sprake. In hierdie artikel word slegs op eersgenoemde (22 April 2017) gefokus, omdat dit bykans die teenoorgestelde tendense vertoon as wat die situasie in die Kaap in die 1930’s was.2

1. Brümmer en die teologiese twispunt in die 1930’s

Kon daar teologiese eenstemmigheid wees tussen die Kaapse kerklikes, bestaande uit neocalviniste (met die sterk fokus op eksklusiwiteit), en die evangelikaalses (met die klem op inklusiwiteit) van die 1930’s?

Brümmer beskryf die 1930’s-debat in die Kerkbode waar die spanning toeneem tussen die Kuyperiaanse neocalviniste (met die streng handhawing van ortodokse Gereformeerde doktrines, leerstellige prediking en suiwer handhawing van geloofsbelydenisse) en evangelikaalses (met ’n groter fokus op bekeringsprediking en ’n inklusiewe gesindheid tov alle gelowiges, nie net hulle wat die belydenisskrifte onderteken nie). Die neocalviniste beskuldig hul evangelikaalse kollegas van “’n opgang in een uiterlike kerkvorm, waarin bepaalde belydenisverskille ondergeskik sal wees en die waarheid vervang word deur ’n week-gevoelige liefde ter wille van eenvormigheid”. Daarteenoor is die evangelikaalse kritiek teen hul neocalvinistiese kollegas dat hul prediking ’n groter beroep doen “op die intelligensie, die verstand as op die hart. Die verstand sal voedsel, vaste voedsel kry, maar die hart sal veelal koud bly.”3

2. Die christelik-evangeliese en gereformeerdheid-debat in 2017

Die spanning tussen verskillende geloofstradisies en -beskouings neem, bykans ’n eeu later, steeds in momentum toe. Die kritiese uitsprake vanuit verskillende geledere is ewe fel. Een groot verskil tussen die twee tydperke is dat die vroeg-20ste eeu in Suid-Afrika ’n groter christelike verteenwoordiging in die samelewing gehad het as die vroeg-21ste eeuse. Die debat in die 1930’s waarna Brümmer verwys, is onderling deur medechristene – kerkleiers en politici – uitgespreek. Met die groeiende sekulêre samelewing in Suid-Afrika is die kritiek nie net beperk tot die christelike geloofsgemeenskap onderling nie, maar word dit ook uitgespreek tussen hulle wat as postkerklik en veral ook postchristelik bekend wil staan. Die huidige stimulus vir die aktiewe en soms passievolle debat is die gebeure van 22 April.

By die geleentheid op 22 April tree Angus Buchan, evangelis en stigter van Shalom Ministries, by die “grootste gebedsgeleentheid nog ooit” op. Nie net is dit indrukwekkend dat hy die geleentheid binne ses weke gereël kon kry nie, maar daar is aanvanklik gereken dat daar 700 000 méér mense sou opdaag as volgens die “profesie” wat hy van God ontvang het van een miljoen. Om die minste te sê, verbysterend. Ongeag hoeveel bidders teenwoordig was (klaarblyklik ’n paar honderdduisend), was dit gewis die grootste gebedsgeleentheid wat die Vrystaatse vlaktes nog ooit moes akkommodeer.

Vanuit elke moontlike denominasie met geen beperking of voorskrif rakende doktrines nie, daag mense – selfs oor landsgrense heen – op. Wat dit nog interessanter maak, is dat gereken word dat soveel as 98% van die evangelis se ondersteuners wit Afrikaanssprekende christene is. Vandaar seker die toegeëiende aanspreektitel, “Oom Angus”, ook omdat die Afrikaners by uitstek die boeregemeenskap in Suid-Afrika verteenwoordig. Teenoor persepsies van die “verintellektualisering” en “verpolitisering” van die Afrikaanse calvinistiese hoofstroomkerke wat vir jare die spreekbuis van die regering in Suid-Afrika was, word die subtiele verskil (en selfs kritiek) visueel op al sy bemarkingsfoto’s uitgebeeld: hy is ’n “plat-op-die-aarde” mens en “een soos ons”. Hy het geen formele opleiding in die teologie nie en werk “onder direkte inspirasie” van die Heilige Gees. Hy is ’n profeet wat daarop aanspraak maak dat God direk met hom praat; dat hy die Woord van God as goddelik geïnspireer beskou; dat die seëninge wat hy op sy persoonlike lewe en sy profetiese bediening ontvang, direk die gevolg is daarvan dat hy God se Woord woord vir woord getrou volg. Dit is ook sy boodskap aan sy gehoor.

Hy is die immerglimlaggende boer wat bekend is daarvoor dat hy weerverskynsels met gebed kan verander. Op foto’s is hy altyd geklee met sy kenmerkende vilthoed soms met arms omhoog, pleitend na Bo; ander kere met sy voosgeleeste Bybel onder sy arm. Altyd met ’n helder christelik-evangeliese tema, soos Brümmer dit in sy artikel oor die evangelikaalse spiritualiteit ook beskryf: “prediking daarop gerig om verlore siele na Christus te bring”. Sou gelowiges (terugkeer en) getrou die goddelik-geïnspireerde en direkte Woord van God volg (en veral dit wat in die Bybel as verkeerd beskryf word, steeds as sonde aanvaar), sal God ons land seën. Die rede waarom dit nie met ons goed gaan nie, is dat ons nie God se Woord letterlik lees nie.

As patriarg roep hy veral die manlike christene op om – dienend en liefdevol – weer hul posisies as “hoof van die huis” op te neem. Daar is ’n duidelike hiërargie in sy verstaan van die familie en soos ’n vroulike ondersteuner aan my verduidelik: “Dis God se wyse om my as vrou veilig te hou.” Die huwelik is heilig, daarom sal slegs een moontlikheid van verbintenisse aanvaarbaar wees, tw die ewige verbintenis tussen een man en een vrou. Hierdie verbintenis word as huwelik reeds in Genesis 2 as ’n “goddelike instelling” verklaar. In sy prediking is daar veral ook ’n sterk moralistiese uitspraak oor sonde gefokus op enige aspek van menslike gedrag wat hierdie goddelike instelling kan skaad. Geen ander vorm van seksuele uitdrukking is toelaatbaar vir christene nie (en omdat God se woord allesinsluitend is, is dit ook so bedoel vir ongelowiges). Homoseksualiteit (waarna soms onder sy navolgers verwys word as “homoseksualisme”) is – soos vele siektes – ook iets wat “genees” kan word. Daar is dan ook vele getuienis van homoseksueles wat “gesond” gebid is en per implikasie geen meer “onnatuurlike begeertes” na hul eie geslag sal hê nie. Vir die ongelowiges (wat dalk by van sy groot geleenthede teenwoordig mog wees) is die uitnodiging helder: aanvaar Jesus as jou persoonlike Saligmaker en Verlosser. Vir ons land is daar ook ’n helder boodskap: keer terug na die ware, enigste God. Dit het voorheen met ons as burgers goed gegaan omdat ons so toegewyd aan God en God se voorskrifte geglo het, maar nou het ons (en veral ons leiers) afvallig geword. Bid vir bekering, dan sal dinge herstel. Die boodskap vir hulle wat reeds gelowig en toegewyd getrou is, is: God sal aan jou kant wees. As dit nie met jou goed gaan nie, is dit moontlik dat jy verskuilde sondes het wat nog nie bely is nie.

In die daaropvolgende dae ná die “It’s time”-gebedsbyeenkoms op Wilde Als, is dit bykans onmoontlik om Angus Buchan se naam op die sosiale media te noem, of ’n verbale onsmaaklikheid bars los. Ondersteuners spreek op dieselfde bitsige wyse kritiek uit teen diegene wat nie vir die Oom ooghare het nie. Hulle wat lank reeds nie meer lede van die christelike geloof is nie (of nooit was nie), spreek oordeel uit oor die “spiritueel agtergeblewenes” wat nie vir hulself kan dink nie en enigsins waarde heg aan die “emosionele opsweping van ’n oom”. Jy is óf “vir oom Angus” óf jy is “teen oom Angus”. (En bewaar jou as jy teen oom Angus is, want oom Angus is uitgesproke daaroor dat God aan sy kant is.) Die gesprekke kring verder uit en dus word die hoofstroomkerke se “begrafnis” as “dooie kerk” deur christelik-evangelieses (en wie ook al ’n behoefte het) beskryf. Oudgereformeerde lidmate getuig van hul ervarings in onafhanklike (oorwegend evangelies-christelike) gemeentes “waar die Gees lewendig is”. Interessante uitsprake word gemaak, oa dat die gereformeerd-opgeleide predikante “nog nie regtig tot bekering” gekom het nie en die evangelie nog net “met hulle koppe” verstaan.

Soos in die debat tussen die 1930’s se neocalviniste en die evangelikaalses, is daar nou subtiele (en soms overte!) onderskeid van wie nou regtig die “ware” kerk is (soos wat die 1930’s-neocalviniste hulself beskou het), of soos wyle Koot Vorster sou beweer, die “beste christene” is. Anders as in die 1930’s-debat is daar egter ’n duidelike verskil: die intellektuele konfessionele kerke het die stryd teen die christelik-evangelieses verloor.

’n Interessante waarneming is wel dat, ook soos in die vroeë ‘30’s van die vorige eeu, in die huidige gereformeerde kringe die “christelik-evangeliese” spiritualiteit teenwoordig is. Baie NG Kerk-predikante woon byvoorbeeld Angus Buchan se geleenthede by; baie deel sy perspektief oor Skrifbeskouing; baie deel sy verstaan van huwelike en gesinne; baie ondersteun sy siening dat die enigste uitkoms vir Suid-Afrika se transformasie is as “almal” terugkeer na die Enigste Ware God, tw die christene se God. Natuurlik word ook die teologie van hemel en hel sterk ondersteun.

3. Die implikasies van christelik-evangeliese spiritualiteit4 in Suid-Afrika

Ek sou graag glo dat die christelik-evangeliese spiritualiteit ’n waardevolle bydrae tot Suid-Afrika se samelewing in die geheel lewer! Ek sou ook graag my waardering daaroor wou uitspreek sonder dat iemand wag vir die “maar ...”. Immers weet ek van vele mense in my eie (geloofs)gemeenskap wat passievol die byeenkomste bywoon en aktief in hul gereformeerde tuisgemeentes betrokke is; wat getuig van hul eie persoonlike vernuwing nadat hulle sulke groot gebedsgeleenthede bygewoon het. Ek weet van mense wat ’n baie toegewyde christelik-evangeliese spiritualiteit beoefen (binne en buite ook die gereformeerde tradisie) met ’n diep bewussyn van reg en geregtigheid vir lydendes en gemarginaliseerdes. By geen van die mense is daar sprake van waardeoordele oor ander spiritualiteitsvorme nie.

As ’n opgeleide teoloog wat kontekstueel moeite doen met die politieke klimaat van Suid-Afrika, met ’n groot aanklank vir bevrydingsteologie; ’n feministiese hermeneutiek beoefen met ’n groeiende verwondering oor die kontemplatiewe spiritualiteit leef; en wat selfs as ’n sg progressiewe predikant beskou word,5 is ek steeds van oortuiging dat enige “vrydenkende” teologie die “behoudende” teologie nodig het. Dat futuristiese gefokustheid die ankers van die tradisie nodig het. Dat meer sakramenteel-georiënteerde spiritualiteit nie sonder die sg belydenisgeoriënteerde spiritualiteit kan oorleef nie. Dit is vir my die jin-jang ook van spiritualiteit. My “skeefgetrektheid” na een voorkeur moet “reggetrek” word deur ander se voorkeure. Waaroor ek wel bedenkinge het, is of dit tot uitbouing van die geloofsgemeenskap en tot opbouing van die breër samelewing is om ’n openbare saamtrek te hou waar ’n bepaalde spiritualiteit soos ’n ideologie verkondig word: daar is net een manier, dit is hierdie manier! Is dit spiritueel gesond om ’n “eksklusiewe Skrifbeskouing” by sulke (reuse!) openbare saamtrekke te verkondig, en dan by name wit, oorheersend Afrikaanse saamtrekke? Ek sou selfs oordeel dat alle vorme van geloofsuitdrukkings ’n private dimensie mág hê waar eksklusiewe verstaan van die Skrif en die uitlewing daarvan voorgestel mag word. Maar is dit “tot voordeel en uitbouing” van ’n land en al sy mense, gegewe die fyn politieke en rassebalans waarin ons tans in Suid-Afrika is, om ’n “daar is net een perspektief, en dit is hierdie perspektief” in die openbaar verkondig? Sou dit geduld word as Moslems in Suid-Afrika ’n saamtrek van bykans ’n miljoen mense reël met die sentrale boodskap: “Die transformasie van Suid-Afrika hang af van mense se bekering tot Islam en hul herstelde verhouding tot Allah?” Natuurlik word vryheid van alle godsdiensgroepe in Suid-Afrika deur die Grondwet gewaarborg. Maar wanneer eksklusiewe uitsprake (asof alle christene, al was hulle nie teenwoordig nie, daarmee akkoord gaan) gemaak word “in die Naam van die christene se Enigste God”, vra ek my nie meer af of dit aanvaarbaar is nie; ek vra my af of dit verantwoordelik is. Die implikasies (ook sosiaal en polities) van ’n Skrifbeskouing wat as “eksklusief” beskou word, moet onder die loep kom.6 Kan ’n teologie wat tot mense se vrees spreek (tw die vrees van wit Afrikaners in ’n nuwe politieke bestel) en mense met vrees aanmoedig om hul God met gebed te “mobiliseer” om vir hulle uitkoms te bring, enigsins goedgepraat word?

Bestaan daar werklik iets soos “soewereiniteit in eie kring”, waarvolgens groeperinge hul eksklusiewe opinies durf openbaar maak? Of is die postmoderne organiese verstaan van die samelewing nie veel meer gesteld op inklusiewe deelname in die openbaar (en eksklusiewe standpunt privaat) nie? Is selfs die blote feit van ’n eksklusiewe oorheersend wit, en oorheersend Afrikaanse, gehoor nie veral skadelik vir ’n land wanneer uitsprake “in die Naam van die Enigste God” gemaak word nie? Wat is die effek op die grootste groep mense wat vir die grootste gedeelte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis tydens apartheid gemarginaliseer was (juis in die Naam van hulle God)? Hoe kan ’n mens dan anders as om aan Dietrich Bonhoeffer te dink, wat lank voor ons reeds begin worstel het oor die skade wat die (nasionalistiese) christelike massa-euforie, opgesweep, deur ’n Lutherse Kerk onder druk van Nazi-elemente op ’n samelewing sou kon hê? Daarom dan ook sy bekende versugting van ’n “godsdienslose Christendom” – daar waar massa-euforie juis nie ontwikkel nie, maar die duur prys van dissipelskap gevra word7.

Dit laat my verder dink aan ’n aanhaling van ’n anonieme predikant waarna Diana Butler Bass8 verwys:

Religion seeks conformity and control – scriptural infallibility and literalism, imposition of beliefs upon others – and cannot abide any other way of encountering God that falls outside of its defined boundaries. Faith seeks freedom and life for all to experience God on their own terms and in their own ways – and then allows for communal experience and collaboration to build a better world.

Evalueer ek die massabyeenkoms van 22 April met die onbetwiste uitsprake oor God en God se mense en wat goed is vir die land vanuit ’n letterlike en fundamentalistiese Skrifbeskouing wat met eenstemmige “amens” en “hallelujas” luid bevestig word, dan skyn die lyn tussen godsdienstig en gelowig baie yl te wees. Ek verwonder my dat baie mense wat krities is teenoor byvoorbeeld fundamentalistiese groeperinge in Islam, soortgelyke openbare geloofsuitsprake van “óns God” en “hierdie God” se voorskrifte as “die enigste ware” voorskrifte, geldend vir alle mense, oor alle eeue heen, verkondig. Wat is die getuieniswaarde van hierdie openbare eksklusief christelike byeenkoms (en dan ook eksklusief die oorheersend wit Afrikaanssprekende christene wat die eksklusiewe verstaan van die eksklusiewe God verkondig) ten opsigte van wedersydse verdraagsaamheid, liefde vir landgenote wat hul “eie God” aanbid of die viering van diversiteit as ’n geskenk van God? Is dit gesond om in ’n samelewing met een van die hoogste syfers van gesinsgeweld, en spesifiek ook geweld teen vroue deur hul lewensmaat, enigsins ’n geleentheid by te woon (en dan te spog oor die grootheid van die byeenkoms) wat ’n teologie van patriargie ondersteun? Watter opbouende waarde is daar aan die ondersteuning van ’n “teologie van verwerping” (wat dit natuurlik nooit sal erken nie) waar die sogenaamde LGBITQ+-gemeenskap se menswaardigheid in die geheel van hulle ontneem word?

Nog belangriker: Waar was al die ander christene in Suid-Afrika op die 22ste wat nie wit en Afrikaanssprekend was nie? In watter mate het die dominante en kenmerkend-eksklusiewe neocalvinisme wat sedert die 1930’s in Suid-Afrika die politiek beïnvloed het, ook die huidige opbloei van die christelik-evangeliese (of dan evangelikaalse) spiritualiteit beïnvloed?

Die Prediker sou seker kon sê die tyd sal leer.

 

Eindnotas

1 LitNet Akademies, 14(1).

2 Dit sou wel nodig wees om die sogenaamde gaydebat wat sedert die NG Kerk se Algemene Sinode van 2015, en veral die Buitengewone Sinode van 2016 wat gevolg het, te bestudeer in die lig van Vincent Brümmer se verduideliking van die neocalvinisme en die klem op belydenisskrifte. Die twee gassprekers, by name, Chris van Wyk en James Kirkpatrick, wat verskillende posisies ingeneem het, sou ook ondersoek kon word mbt in welke hoedanigheid hulle die “neocalvinistiese” perspektief en die “evangelikaalse” perspektief sou verteenwoordig.

3 Beide aanhalings: Brümmer, bladsy 6.

4 Ek gebruik hier doelbewus die term christelik-evangelies en nie evangelikaals nie, omdat christelik-evangelies onder die laat-20ste- en vroeg-21ste-eeuse gelowiges ’n algemene beskrywing van ’n spesifieke spiritualiteit is. Alhoewel daar nie ’n homogene verstaan van christelik-evangelies is nie, sou ’n paar kenmerke hier ter sprake wees: die klem op die onfeilbaarheid en historiese korrektheid van die Skrif; saam daarmee ’n letterlike toepassing van die Bybel; ’n meer piëtistiese spiritualiteit; ’n groter klem op die werking van die Heilige Gees; en ’n klem op bekeringsprediking.

5 Immers het ek self die boodskap van die grootste Christelike uitgewersmaatskappy in Suid-Afrika ontvang nadat ek ’n manuskrip vir publikasie ingedien het: “U weet dat u nie ’n reputasie het as ’n ‘christelik-evangeliese’ skrywer nie en daarom kan ons nie ’n manuskrip oorweeg nie.”

6 Dan moet die moeilike vraag ondersoek word, nie net ten opsigte van groot openbare saamtrekke nie, maar ook by formele kerkvergaderings waar baie meer mense verteenwoordig word as dié wat daar is: Wanneer is eksklusiewe geloofsuitsprake skadelik en word die regte ook van die individue of minderhede daardeur geskend?

7 Dietrich Bonhoeffer: The cost of discipleship.

8 In Christianity after religion.

  • 8

Kommentaar

  • Ronell, baie dankie vir hierdie weldeurdagte artikel! Dit bekommer my dat mense so vir 'n persoon kan skerm dat hulle enige vorm van kritiek nie net verwerp nie, maar persoonlike aanvalle loods. Voorts word duidelike valshede bloot geïgnoreer, verdedig of afgemaak as onbelangrik (soos byvoorbeeld die feit dat die profesie van 'n miljoen mense nie bewaarheid is nie). Kennis (veral akademies) word totaal verwerp ten gunste van geestelike ervarings wat soos 'n dwelm keer op keer weer opgesoek moet word omdat dit bloot nie standhoudend is nie.

  • Die titel sit my volkome af. Is al die dik woorde nodig? Kontemporêre ie eietydse, of hoe? Ens.

  • Deon Scheepers

    Ronel ek verstaan ten volle waarom jy hierdie artikel geskryf het. Daar is weer ’n polarisasie aan die gang tussen mense met verskillende agtergronde and spiritualiteit.
    Maar Ronel ek weet nie of jy hierdie God al persoonlik ontmoet het nie. Ek weet net ek het en Hy het my totaal verander in ’n sekonde op my gesig langs die besige N1. Alles omtrent die God is ’n verrassing en omtrent alles wat ek geweet het en gedink het ek verstaan omtrent Hom het geblyk verkeerd te wees. Jy het duidelik ’n teologiese agtergrond en jy benader die onderwerp denkend en analities. Lyk my dit werk nie vir Hom nie.

  • SUZETTE BOTHA

    As houer van 'n PhD sal ek darem seker nie as die oningeligste gesien word nie. Die debatvoerings en veral nydigheid (ook van die 'wetenskaplikes' vs die 'eenvoudiges') is werklik nog "in the quest for fire" - skuus daardie een is darem net beter in Engels! Ronel en ander beswaardes - besef julle dan nie dat as ek die woord 'kitskos' gebruik gaan miljoene verskillende prentjies in mense se koppe op. Wat nog van die gevaarlike 'liefde', 'geloof' of 'God'. Daarom is die beste om ALTYD te definieer wat ons bedoel, nie waar nie? Angus het. Op grond daarvan identifiseer ander tot meer of mindere mate. (Ook wit tannies wat EFF hoedjies dra!) Kom ons gaan terug en erken dat ALLES deur ons Godsbeskouing beinvloed word. Dit kan net die individu antwoord - natuurlik beïnvloed deur 3 miljoen veranderlikes. Dis nou te sê as hy self weet. Feit bly staan; hier is 'n mens wat nie veroordelend staan nie en bloot sondebelydenis (soos hy dit sien) verkondig. My NG Kerk is skaars herkenbaar en mag Calviniste asmaties maak. Dis is plek waar LIEFDE verkondig word aan Chinees, Moor, Indiaan, Turk en skurk. Maar nou ja, dis soos ek God definieer. Loop tog mooi, landgenote

  • Wanneer 'n bouer na 'n huis kyk, sal hy geneig wees om hoeveelhede bakstene, sand en sement in sy "geestesoog" te sien. 'n Koper sien 'n tuiste. Wanneer 'n teoloog dink oor God, sien sy meer as 2000 jaar se geskrifte, redenasies, benaderings en dogma. Wanneer ek oor God dink, sien ek 'n Vader wat enige tyd van die dag met my kommunikeer.

  • Ronel, so oortuig soos wat jou critici is dat hulle persoonlik met God kontak het, so oortuig is ek maar net van die bedoeling van my hart. Ek moet erken dat God nog nooit met my so direk soos met hulle praat of gepraat het nie. Ek het nog nooit letterlik God se stem gehoor soos hulle insinueer nie en daarom kan ek nie in argumente met hulle betrokke raak nie. Dus beleef/oorleef/leef ek deur daagliks maar net met erns en opregtheid die strewe na die waarheid te bedink/oordink/deurdink. Ek lees ook die bybel maar my interpretasie verskil in wese, en meer as net gereeld, dramaties van dit wat die uitverkorenes direk by God hoor. Die vrede in my hart is genoeg! Miskien is die eintlike probleem dat elkeen nie God ken soos wat God werklik is nie, maar eerder soos wat ons elkeen as individu is. Miskien word die kwessie in meer as een opsig weerspieël soos "die Keiser se kleed"...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top