Die einde van die storie deur Santie van der Merwe: ’n resensie

  • 0

Die einde van die storie
Santie van der Merwe
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799385694

Boeiend van bladsy een af, en hoe dan anders met ’n gesoute skrywer soos Santie van der Merwe. Alhoewel dit maar haar vyfde roman is, kwyt sy haar uitstekend van haar taak. Sy weet waarna die leser op soek is en skryf so gemaklik dat dit absoluut geen inspanning verg om te lees nie. Inteendeel, jy verloor jouself binne sekondes in die storie. Wat interessant is, is dat dit uit beide man en vrou se perspektief vertel word, ’n interessante en welkome toevoeging tot skrywes.

Elke hoofstuk het ’n eie hofie wat ’n vars en jong beeld gee. Die vertelling, wat oor ’n ouer paartjie handel, is maklik om mee te identifiseer ondanks hul ouderdom. Alhoewel dit dalk makliker sal wees vir vroue wat al ’n paar sakke sout saam met hul eggenoot geëet het of deur leënessindroom gegaan het, is dit ’n genotvolle leeservaring en is die ontvlugting waarin Santie slaag, welkom. Sy slaag oudergewoonte daarin om die leser mee te sleur vanaf hoofstuk een met “En so begin dit” en enduit kan jy nie vinnig genoeg lees om te weet wat volgende gebeur nie. Saam met Lizzie en Marthinus voel jy hul seer, stap jy saam die paadjie om die groot liefde te probeer ontsyfer, saam sin te maak van wat Marthinus weet en waarmee Lizzie worstel. Santie bied hoendervleisoomblikke, self blikke op jou eie lewe, en bring die waarheid tuis waarmee soveel mense een of ander tyd dikwels worstel: die doel van jouself. En die berusting om aan jouself te erken wát jou gelukkig maak en dan te blom waar jy geplant is, waar dit ook al is.

Haar bladsye lewer een na die ander waarheid op – dat mens altyd ’n keuse het, dat jy die kaptein van jou eie skip is. Die karakters se wroegings, hartseer en woede, onsekerheid en vertwyfeling is iets wat mens self as leser kan aanvoel – ons almal kan met baie van dié gevoelens of situasies identifiseer. Dit is juis wat Santie ’n regte “mense-skrywer” maak – sy verwoord emosies dat jy dit aan jou eie hart en lyf kan voel, hetsy seer of blydskap. Nie alle skrywers kom loshande oor dié hekkie nie. Nogtans raak dit nie soetsappig nie en kan die leser deurlopend op die emosiereis saam vaar. Haar fyn sin vir humor, ’n swetswoordjie hier en daar en haar omgangstaal maak dit ’n ligter leeservaring, al handel die boek oor die sake van die hart en beslis die één ding wat die wêreld laat tol (of nie): liefde.

Dit is onmoontlik om Die einde van die storie toe te slaan en nie by jou eie begin te begin nie. Of dit nou die storie is wat jy in jou geestesbeeld gehad het of nie, of dit die lewenspad is wat jy oor gedroom het of nie, dié boek kan nie anders as om mens veranderd te laat nie; jou lewe, besluite, dít wat belangrik is en vir jou saak maak, in die soeklig te plaas en jou opnuut ’n dankbaarheid te laat voel vir soveel wat ander mense net as onbenullig aanvaar nie.

Die einde van die storie is beslís ’n moet vir enige vrou. Die vraag oor wat liefde is, ’n fladdering, fluistering of warmte, soos op die voorblad, is beslis ’n vraag wat iewers deur almal gevra word. Die antwoord is dalk moeiliker om te beantwoord en draai jou hart in sirkels, maar hier binne-in jou is sekerlik die antwoord wat liefde vir jóú is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top