Die dood en die sin van lewe: ’n onderhoud met Anton van Niekerk

  • 10

Die dood en die sin van die lewe
Anton van Niekerk
Uitgewer: Tafelberg

ISBN: 9780624075332

Die filosoof Anton van Niekerk se jongste boek Die dood en die sin van die lewe geniet wye belangstelling in die media. Jean Oosthuizen het hom in ’n openhartige en uitgebreide onderhoud uitgevra oor sy boek en lewensfilosofie oor lewe en dood.

Hy vertel waarom hy nie erg het aan die begrippe van ’n hemel en hel nie, hoekom hy ’n voorstaander is van bystanddood en wat hy onder geloof verstaan. Hy verduidelik ook waarom daar volgens hom geen teologiese begronding is dat ons en ons geliefdes mekaar weer eendag na die dood in die hiernamaals sal ontmoet nie.

Om so eerlik en reguit oor die dood te praat soos wat jy in jou boek doen is nie altyd algemeen of “fatsoenlik” nie. Jy noem dit die taboe van ons tyd. Waarom het jy die boek geskryf en vir wie is dit bedoel?

Ek het die boek geskryf omdat ek al baie jare lank navorsing doen oor die filosofiese beduidenis van die doodsverskynsel in ons kultuur, en omdat die uitgewer (Tafelberg) baie in hierdie werk geïnteresseerd is en my sterk aangemoedig het om ’n boek daaroor te skryf.

Hoe ouer ek word, hoe meer is dit vir my ’n ideaal om navorsingswerk op so ’n manier te publiseer dat daardie publikasies ook toeganklik is vir ’n breër publiek as bloot net ’n mens se vakgenote. Dis nie moontlik in alle dissiplines en ten opsigte van alle navorsingsonderwerpe nie, maar in hierdie geval is dit wel moontlik. Ons almal leef daagliks saam met die dood as ons altyd aanwesige, onontkombare moontlikheid – wat een of ander tyd ook vir ons almal werklikheid gaan word.

Dit roep ’n duidelike en onvermydelike filosofiese problematiek op: hoe bepaal die werklikheid en onontkombaarheid van die dood die manier waarop ons probeer om sin te maak van die lewe? Ek glo ’n mens kan die wysgerige besinning oor hierdie saak deel met ’n breër publiek.

Die boek wou dus ook ’n brug slaan tussen die werk wat in intellektueel-filosofiese kringe oor die dood gedoen word, en die leefwêreld van gewone mense wat miskien minder vertroud is met die wysgerige literatuur, maar wat van laasgenoemde kan en wil kennis neem, en so gestimuleer kan word om self meer oor die onderwerp na te dink.

Die dood as gespreksmateriaal is daarby vir baie mense ’n bron van verleentheid en ongemak; dit is die een werklikheid wat ons steeds nie onder ons beheer kan kry of kan vermy nie, ten spyte van al die prestasies van wetenskap en tegniek in die moderne wêreld. Dit het daarom selfs in baie kringe ’n taboe-onderwerp geword, nes seksualiteit ’n taboe-onderwerp in die Victoriaanse tyd was. Ons wil nie graag met die dood gekonfronteer word of aan sterwende mense blootgestel word nie. Daarom word sterwendes in ons kultuur dikwels uitgerangeer na eensaam kamers of sale in hospitale of hospitia. Die dood is nie meer deel van ons alledaagse ervaring nie, al is dit natuurlik so dat ons daagliks moet kennis neem, veral in Suid-Afrika, van honderde mense wat onnatuurlik sterf. In die boek gaan dit egter nie slegs om “hulle” wat sterf nie, maar om die beduidenis en relevansie van die werklikheid van die dood vir elkeen van ons persoonlik.

Uit jou boek blyk dit duidelik die dood is finaal en onomkeerbaar. Tog maak die meeste godsdienste aanspraak op ’n “ewige lewe” na die dood. Het jou siening oor die dood nie groot implikasies oor hoe die meeste gelowiges daaroor dink nie?

Die feit dat baie mense in talle godsdienste glo aan ’n “ewige lewe na die dood” het nog nooit geïmpliseer dat die dood van ander mense, soos ons dit in hierdie lewe beleef, nie “finaal en onomkeerbaar” is nie. Ek sou van harte hoop dat wat ek in die boek argumenteer, “implikasies sal hê” vir hoe my lesers – wat hopelik gelowiges en ongelowiges sal insluit – oor die dood dink. Die boek is juis en presies bedoel as ’n stimulus om ons nuut en opnuut te laat dink oor die enigma van dood waarmee ons almal teen wil en dank moet saamleef.

Jy erken jy sukkel om sin te maak van die idee van ’n lewe na die dood. Kan mens jouself regtig ’n Christen noem in die tradisionele sin van die woord as mens nie glo aan ’n lewe na die dood nie? Ek bedoel, Christene bely immers elke Sondag in die kerk hulle glo aan die wederopstanding van die vlees. Maak so belydenis regtig nog sin as mens eerlik is met jouself?

Ek sê nêrens in die boek dat ek kategories nie in enige vorm van “lewe na die dood” glo nie. Wat ek wel sê, is dat ek baie sukkel om sin te maak van so ’n idee, veral soos dit meermale in kerklike lering en prediking voorgestel word. Ek sukkel net soveel met laasgenoemde voorstellings as wat ek sukkel om te aanvaar dat die dood eenvoudig die laaste woord oor elke mense se lewe is.

Vir diegene wat die evangelie ernstig opneem, is daar die troos, soos die Heidelbergse Kategismus dit mooi stel, dat ek “in lewe en in sterwe veilig is in God”. Ons het egter geen idee hoe om meer inhoud aan laasgenoemde troos te gee nie; ons kan net aan die belofte vashou. Wat ek in hoofstuk 4 van die boek probeer doen, is om die onbeantwoorde (en moontlik onbeantwoordbare) probleme uit te wys wat saamhang met vrae soos:

  • Hoe sal ons weet ons leef in ’n lewe na die dood?
  • As ons God nie kan “sien” nie (God is tog nie ’n objek in die ruimte nie!), hoe sal ons weet ons het met Hom te make in ’n “lewe na die dood”?
  • Hoe sal ons, anders as bloot deur die geloof, weet dat ons met God te make het in so ’n lewe (dieselfde manier waarop ons tans God bely – slegs deur die geloof!)
  • Wat is aantreklik aan die idee om “vir ewig” te lewe? Min mense dink behoorlik hieroor na.
  • Maak dit enige sin om ’n mens te probeer voorstel hoe ’n wêreld moet lyk of funksioneer waarin alle moontlikhede van kwaad, pyn en lyding verdwyn het?

Wat is dan jou gevolgtrekking?

Ek bespreek laasgenoemde vrae sonder om hulle finaal of deurslaggewend te beantwoord. My laaste en beslissende gevolgtrekking is: “Ek weet nie”  (sien  pp. 118-119). Maar, soos ek ook daar sê, dis nie ’n onkunde wat gebore is uit intellektuele luiheid of ’n wegskramming van moeilike probleme nie. Die hoofstuk waarvan daardie “ek weet nie” die gevolgtrekking is, is ’n illustrasie van hoe ek meen ’n mens oor hierdie moeilike vrae eerlik sou kon nadink. Miskien het ek die kat volledig aan die stert beet en behoort ’n mens ánder soort vrae te vra wat jou by ánder gevolgtrekkings bring. As dit die geval is, het die boek wel daarin geslaag om nadenke en gesprek te stimuleer.

Dit is vir my baie interessant dat jy sê die idee dat ons ons geliefdes weer eendag na die dood in die hiernamaals sal ontmoet het geen geloofwaardige teologiese begronding nie. Tog is daar talle predikante wat hulle lidmate wysmaak ons en ons geliefdes sal weer eendag na die dood in die hiernamaals herenig word.  Waar  kom hulle daaraan as dit nie teologies begrond kan word nie?

Daar is uiteraard geen wetenskaplike begronding van so ’n idee nie. Die enigste Bybelse teksgedeeltes waarvan ek weet waarop ’n mens jou sou kon beroep ter stawing van hierdie idee, is die gelykenis van Lasarus en die ryk man (Lukas 16: 19-31), asook die verhaal van Christus se verheerliking op die berg (Markus 9: 2-8 en Lukas 9: 28-36).

Hoe moet mens dan hierdie gedeeltes in die Bybel verstaan en waaroor gaan dit?

In eersgenoemde verhaal sterf Lasarus en die ryk man albei en kom tereg op taamlik verskillende plekke. Die (voormalige) ryk man het blykbaar insae in die “ander plek” en herken vir Lasarus “aan die boesem van Abraham”. Hy kan selfs met Abraham aldaar kommunikeer. Abraham wys hom daarop dat die rolle nou omgekeer is; Lasarus het veel gely in die lewe, maar leef nou in vreugde, terwyl die ryk man dit andersom het. Die ryk man versoek dan dat Lasarus (al is dit dan net) “die punt van sy tong” met water sal kom verkoel “want ek ly vreeslik in hierdie vuur”. Toe dit blyk dat Lasarus nie kan nie, vanweë ’n diep kloof wat die twee plekke skei, versoek die ryk man hom om terug te keer na sy lewende broers om hulle te waarsku om sy (die ryk mense) se lot te probeer vermy.

In hierdie gelykenis gaan dit kennelik nie om ’n letterlike beskrywing van ellendes of vreugdes na die dood nie. Die begrippe “hemel” en “hel” kom selfs nie eksplisiet aan die orde nie; bloot “by Abraham” en “doderyk”. Waaroor dit gaan, is die opdrag om, terwyl ons kan in die lewe hier en nou – die een kans wat ons het – verantwoordelik te lewe. Lasarus word ook nie “toegelaat” om die oorlewendes te gaan waarsku nie. Hulle het “Moses en die profete” waarvolgens hulle hul lewe kan inrig ten einde hul verantwoordelikhede in die lewe ten beste na te kom.

In die verhaal van die verheerliking op die berg besoek Moses en Elia vir Jesus saam met Petrus, Johannes en Jakobus op die berg, en word die gestorwe profete as sodanig skynbaar erken. Na Petrus se onbesonne voorstel dat drie hutte op die berg gebou word (een elk vir Jesus, Moses en Elia – duidelik met die oog daarop om die ervaring wat hulle daar het, te laat voortduur), kom daar ’n stem wat sê, “Dit is my geliefde Seun; luister na Hom”, en die volgende oomblik verdwyn die profete. Dis duidelik dat die punt van hierdie verhaal nie die herkenning van  gestorwe profete in ’n “lewe na die dood” is nie, maar die simboliese invokasie van die gesag van die profete om Jesus te erken vir wat Hy is, en om aan Hom ondersteuning te verleen ten opsigte van Sy komende lyding.

Daar is in die twee vermelde Bybelgedeeltes dus geen sprake van die idee dat ons in ’n heerlikheid na die dood ons geliefdes weer sal sien of sal ontmoet nie. As daar ’n lewe na die dood is, is dit ’n ervaring, op ’n manier wat ons nie verstaan nie, van die teenwoordigheid van God, en nie ’n familie- of gesinsreünie nie. Ek het ernstige bedenkinge oor sommige predikante se neiging om mense met laasgenoemde goedkoop belofte te probeer troos.

Anton van Niekerk en Jean Oosthuizen

Het dit dan nie tyd geword dat kweekskole en kerkvergaderings, soos sinodes, predikante beter skool oor aspekte van lewe na die dood en herbesin oor dit wat in die belydenisskrifte staan nie?

Dit sou baie jammer wees as die soort spekulasies waarna jy verwys steeds die inhoud van teologiese kurrikula uitmaak. Na my beste wete gebeur dit nie meer nie – in elk geval nie in die instellings van teologiese opleiding waarmee ek vertroud is nie. Wat uiters noodsaaklik is, is dat lidmate beter vertroud gemaak word met ’n verantwoordbare hermeneutiek (die teorie van interpretasie) in terme waarvan die Bybel insigtelik en tersake gelees kan word.

As ons aanvaar daar is nie ’n lewe na die dood nie het dit tog sekerlik ook implikasies vir verskeie ander dinge wat gelowiges bely soos byvoorbeeld die sondeval, Christus se soendood en ook die eindoordeel, nie waar nie? Die wetenskap het darem al ’n hele ent gevorder die afgelope vyf eeue sedert die Reformasie maar dit lyk soms of die kerk bly vassteek by hoe mense 500 jaar terug gedink het.

Ek hoop ek het dit reeds duidelik gemaak dat ek nie sonder meer aanvoer “daar is geen lewe na die dood” nie. Alles hang af van wat met so ’n uitspraak bedoel word. Ek het onverantwoordbare betekenisse wat so ’n aanspraak kan hê (en dikwels in praktyk het) probeer ontmasker en bygevolg afgewys. Ek herhaal: in die geloof, kan ons aanvaar dat ons in lewe en sterwe veilig is in God. Wat dit presies beteken, en hoe dit sal of sou kon uitspeel in die werklikheid waarin ons deel, is vir my nie duidelik nie. Ek sou nie in hierdie onderhoud wou uitwei oor wat ek dink die implikasies van so ’n herbesinning oor die “lewe na die dood” vir ander kerklike leerstellings is nie. Dis ’n te groot onderwerp, en moet oorstaan vir ’n ander keer en ’n ander oefening.

Jy noem jouself steeds ’n Christengelowige en hou vas aan die idee dat die dood nie die laaste woord oor ons lewe is nie. Wat bedoel jy daarmee en is dit nie teenstrydig met jou hele argument nie?

Ek hoop ek het die laaste deel van jou vraag reeds beantwoord. Wat die eerste deel (wat ek myself noem) betref, net een belangrike regstelling wat ek graag wil beklemtoon: Ek meen dis van veel minder belang wat ek myself noem, in vergelyking met wat ander mense my noem.

So wat beteken dit vir jou om ’n gelowige of Christen te wees of jou geloof te bely?

Natuurlik is dit onvermydelik dat ’n mens sal erken dat jy ’n gelowige is as jy een is; om “geloof te bely” is inderwaarheid een van die rituele handelinge van die geloof. Tog dink ek eerlik nie ’n mens is ’n Christen bloot omdat jy jouself so noem nie. Dis interessant om te let op wat Lukas in die Handelingeboek (hoofstuk 11, verse 19-30) vertel oor die gebeure in Antiochië. Daar vertel hy eksplisiet dat “in Antiochië die gelowiges die eerste keer Christene genoem is”. Let op: hulle is “Christene genoem” deur ander mense, nie deur hulself nie! Daarom dink ek ook dat ’n mens nie slegs ’n Christen (’n volgeling van Jesus Christus) is omdat jy self so dink of dit beweer nie. Ander mense kyk na jou lewe, en skryf, as ’n enorme kompliment en erkenning van wat hulle sien van die manier waarop jy lewe, ’n Christelike identiteit aan jou toe.

As ons aanvaar die dood is ’n onafwendbare feit, en daar sover ons kennis strek, nie ’n lewe na die dood is nie, wat sê dit van die lewe self? Maak dit nie van die lewe ’n bra sinlose oefening  nie? Of anders gestel, hoe maak mens sin van die lewe as die dood wat ons almal se voorland is so finaal is?

Ek is self van oordeel dat as die enigste sin wat daar in die lewe is, die moontlikheid van ’n lewe na die dood is, dit die erns van wat ons as die lewe ervaar, enorm baie sal verswak en verkleineer. Was dit nie wesenlik die probleem in die Middeleeue nie? In daardie eeue is mense voortdurend wysgemaak dat ons lewe op aarde ’n blote “deurgang” is na die hemelse heerlikheid of helse straf wat na die lewe op ons wag.

Dit was onder andere een van die vernaamste redes vir die prag en praal van Middeleeuse katedrale. As ’n mens so ’n katedraal betree, word jou blik opwaarts gedwing deur die verstommende hoogte van die Gotiese loodlynmure en -pilare. Daardie “blik na bo”, tesame met al die skitterende en waardevolle kunswerke en artefakte wat ’n mens rondom jou sien, is vir die Middeleeuse mens die konstante herinnering dat ons bestemming “daar bo” is, in die hemel, ons ewige bestemming – verwyder van die aarde.

So ’n lewenshouding het onder meer daartoe gelei dat min aandag geskenk is aan die kultuuropdrag om die aarde te bewoon en te bewerk en te omvorm tot ’n gehumaniseerde lewensruimte. Dit het myns insiens boonop neergekom op ’n erg ontoereikende en verskraalde verstaan van sowel die evangelie as die sin van ons bestaan. Dit gaan in die lewe om dit wat ons hier en nou van onsself kan maak, hoe ons in diens kan staan van ons medemens en hoe ons die aarde kan omvorm tot ’n omgewing wat alle nuttige lewe (ek praat dus nie van peste en gevaarlike organismes nie) optimaal kan ontwikkel en onderhou. Dit is laasgenoemde idee wat volgens my onderliggend is aan die simbole van “hemel”, “hel” en “aarde”. Die sin van die lewe is om hier en nou onsself beskikbaar te maak vir die proses waarin “hemel aarde toe kom”, net soos dit in Openbaring 22 simbolies voorgestel word deur die beeld van die “nuwe Jerusalem” wat soos ’n bruid uit die “hemel” neerdaal en hemel en aarde aldus versoen word.

Daarmee word ’n sentrale tema in die Ou Testament heropgeneem, naamlik die idee dat die doel van die lewe die herstel van die skepping is. Jesaja skryf byvoorbeeld ontroerend in die eerste gedeelte van sy 11e hoofstuk oor die “takkie wat sal uitspruit uit die stomp van Isai”, dit is die nuwe, herstelde volk van Israel wat sal “vrugte dra” en aan wie “wysheid en insig ... raad en sterkte” gegee sal word. Daardie takkie sal ontwikkel tot ’n samelewing waar regspraak nie sal plaasvind “volgens uiterlike skyn” nie, waar “armes billik verhoor sal word” en waar “’n regverdige en betroubare regering” (vv.2-4) aan die orde van die dag sal wees.

Hierdie nuwe werklikheid is daarby nie beperk tot die saamlewing, politiek en individuele verhoudinge nie. Ook die natuur sal gekenmerk word deur vrede, versoening en ’n nuwe harmonie: “Wolwe en skape sal dan saambly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees, en klein seuntjies sal vir almal sorg. Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange” (vv.6-8). En dan die treffendste belofte: “Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is” (v.9).

Maar wat is daardie ewige lewe dan waarvan jy praat?

Laasgenoemde wêreld kry in Jesus se prediking die naam “Koninkryk van God”. Dit is nie ’n wêreld anderkant die wolke wat eendag na die dood op ons wag nie. Dis ’n wêreld wat hier en nou elke dag (kan) aanbreek. Dis ’n herstelde aarde waar mense met mekaar versoen word, waar diere in ’n nuwe harmonie leef met die mens sowel as met mekaar en waar die natuur die ruimte word waar ons kreatief en vervuld kan lewe.

Elke bydrae wat ons lewer om aan daardie herstelde hemel en aarde beslag te gee, is ’n stukkie “ewige lewe” waarin ’n mens, ook hier en nou reeds, kan deel. Die “ewig” in “ewige lewe” is dus, wat my betref, nie in die eerste plek ’n aanduiding van kwantiteit of tydsduur nie, maar van kwaliteit. Ek deel elke dag, ook hier en nou, in die “ewige lewe” as ek iets probeer bydra tot die verbetering van verhoudinge, die totstandkoming van geregtigheid en die herstel van die integriteit van die natuur. Daarin lê die vernaamste sin wat ons in die lewe kan vind.

In hoofstuk nege van jou boek skryf jy oor die begrip wanneer sterwe wins word met verwysing na selfdood en bystanddood. Jy is ’n voorstander van “bystanddood” onder sekere omstandighede. Wat is kortliks jou standpunt hieroor?

Ek is ’n voorstander van bystanddood in gevalle waar ’n mens te make het met ’n kompetente pasiënt wat goeie redes het om sy/haar lewe te wil beëindig. ’n Kompetente pasiënt is iemand wat:

  • In staat is om sy/haar eie situasie te verstaan.
  • In staat is om duidelik en samehangend oor daardie situasie te kommunikeer.
  • In staat is om die gevolge van die daad in te sien en om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar.
  • Oor ’n vasgestelde tydperk (byvoorbeeld ’n week) volgehoue versoeke rig dat hy/sy gehelp moet word om ’n einde aan sy/haar lewe te maak.

Ek sou daarby wou aanvoer dat hierdie kompetente pasiënt:

  • terminaal siek moet wees (dit is, volgens die betroubaarste mediese evaluasies minder as drie maande het om te leef), óf
  • permanent en onomkeerbaar afhanklik is van lewensonderhoudende behandeling (bv ’n ventilator), óf
  • ly aan ’n ondraaglike en volgehoue-hardnekkige (“intractable”) siekte. Met laasgenoemde bedoel ek ’n liggaamlike ongesteldheid wat nie suksesvol genees of beheer (“palliated”) kan word nie, en wat sulke erge lyding veroorsaak dat die dood vir die betrokke pasiënt verkieslik is bo voortgesette lewe.

Verskeie argumente kan ter ondersteuning van laasgenoemde standpunt aangevoer word, waarvan ek op slegs twee wil wys. Die eerste is dat selfdood ’n reg is in ’n demokrasie. Dit beteken natuurlik nie dat, bloot omdat iemand so ’n reg het, dit altyd (moreel) reg is om daardie reg uit te oefen nie. Sodanige reg moet egter, onderhewig aan bogenoemde voorwaardes, gerespekteer word. Tweedens het ons ’n plig om medelye (“compassion”) te betoon teenoor mense wat ondraaglik ly. Dis inkonsekwent om, terwyl iemand nog nie terminaal siek is nie, alles moontlik te doen om lyding te verlig, terwyl, wanneer dit blyk dat die dood die enigste manier is om ondraaglike lyding tot ’n einde te bring, ons dan (paternalisties) terugstaan en weier om die pasiënt te help om (verkieslik) self sy/haar lewe op ’n waardige wyse te beëindig, of dit, op versoek van die persoon, selfs te doen.

Is dit nog verstandig om vas te hou aan die metafoor “Koninkryk van God” in die tyd waarin ons leef?

Heelwat teoloë vra vandag tereg of dit nog verstandig van ons is om vas te hou aan hierdie metafoor, wat skynbaar in ons tyd sy seggingskrag begin verloor, gewoon omdat ons nie meer in “koninkryke” leef soos mense in Bybelse tye nie. Ons beskou “konings” daarby nie meer as die “sovereign lords” wat hulle in daardie tye was nie; in demokrasieë is soewereine politieke gesag immers verplaas na die mense wat stem (in teorie, in elk geval!). Ek het begrip vir dié argument, maar kon nog nie self te voorskyn kom met ’n meer moderne alternatief wat ewe effektief is nie.

Waarom dink jy is kerke en geloofsgemeenskappe oor die algemeen so gekant teen bystanddood maar het nie ’n probleem daarmee as mens ’n dier, wat geen kans op herstel van sy pyn en lyding het, verlos nie?

Die “verbod” op bystanddood is ’n baie ou een in ons kultuur – veel ouer as, interessant genoeg, die verbod op aborsie. Die Katolieke Kerk – tans die invloedrykste stem teen aborsie – het eers in die middel van die 19de eeu die eerste keer aborsie ondubbelsinnig as moreel verwerplik afgewys. Die rede daarvoor gaan terug op ’n ou oortuiging dat ’n bevrugte eiersel nie dadelik “besiel” is nie, en dus, voor “besieling” plaasvind, doodgemaak mag word omdat dit dan nog nie ’n volwaardige mens is nie. (“Besieling” het boonop veel gouer by mans as by vroue plaasgevind!)

Genadedood is egter sedert die Eed van Hippokrates, en dwarsdeur die Christelike tradisie tot in ons tyd, as moreel verwerplik beskou. Terwyl daar in die aborsiedebat altyd twyfel was oor wanneer ons presies met ’n volwaardige mens te make het, was dit nooit ’n kwessie ten opsigte van kandidate vir genadedood nie; hulle is altyd (skynbaar) volwaardige mense. Die universele en gemeenregtelike verbod op moord het dus genadedood sonder meer afgewys.

Wat ons egter moet verstaan, is dat daardie verbod beslag gekry het in ’n tydsgewrig waar daar geen kennis van, of begrip vir, die moontlikhede van hedendaagse geneesmiddels of mediese tegnologie was nie. Dit was ’n wêreld sonder antibiotika, orgaanoorplantings, ventilators of dialisemasjiene – meganismes wat pasiënte soms onbepaald aan die lewe kan hou lank nadat hulle alle lewenskwaliteit verloor het.

Daardie verlies van lewenskwaliteit is daarby iets waaroor hulle self besluit, nie ons wat dit nie self beleef nie. Die voormoderne wêreld was ook ’n wêreld wat geen begrip van, of waardering vir, die beginsel van ingeligte toestemming in die mediese etiek gehad het nie; die idee dat pasiënte self mede-besluitnemers oor die aard en duur van hul mediese sorg is en behoort te wees. Laasgenoemde is ’n volledig 20ste eeuse idee.

Kortom, as ons na die geskiedenis van idees en waardes kyk, merk ons op dat daar morele groei is. Terwyl slawerny 300 jaar gelede oral voorgekom het, is dit sedert die middel 19de eeu taboe. Daar word vandag totaal anders gedink oor die (gelyke) regte van vroue as so onlangs soos 100 jaar gelede. Ek sal nie verbaas wees as vegetariese diëte oor die volgende 100 jaar ons vleistande finaal trek nie. Morele oortuigings bly nie staties nie; hulle ontwikkel en groei.

Jy tref ’n onderskeid tussen bystanddood en vrywillige aktiewe genadedood. Wat is die verskil?

Bystanddood is wanneer ’n terminaal siek pasiënt, wat ondraaglik ly, sy of haar eie lewe op eie herhaalde versoek beëindig deur, byvoorbeeld, die inneem van ’n dodelike middel wat aan hom/haar deur iemand anders verskaf word, en wat die persoon se feitlik oombliklike dood veroorsaak – dus ’n dood met waardigheid.

Vrywillige aktiewe genadedood is wanneer, op die duidelike en herhaalde versoek van die pasiënt, so ’n middel aan hom/haar toegedien word deur iemand anders – verkieslik ’n mediese praktisyn, hoewel dit nie noodsaaklik is nie. Ek is meer ten gunste van eersgenoemde as van laasgenoemde, maar daar is ongelukkig situasies waar die pasiënt nie meer is staat is om so ’n middel of ingrype (byvoorbeeld die afskakel van ’n ventilator) self kan behartig nie.

Vergun my twee verdere opmerkings: Die eerste is dat ek nie meen die ou bekende onderskeiding tussen “aktiewe” en “passiewe” genadedood (waar eersgenoemde is soos hierbo beskryf, terwyl laasgenoemde bloot sou beteken om alle behandeling te onttrek) van veel nut in ons morele besinning oor hierdie saak is nie. Om alle behandeling te onttrek, ook tot by die punt waar ’n ventilator afgeskakel word, is nie om “passief” te wees nie; dis self die uitkoms van ’n besluit en dit is ’n vorm van (be)handeling. Die tweede is dat daar mediese praktisyns is wat nie hou van die “bystanddood”-diskoers nie, en die begrip “sterwensbegeleiding” verkies vir handelinge wat wesenlik dieselfde is. Sulke praktisyns deins byvoorbeeld nie daarvoor terug nie om, wanneer dit blyk dat ’n pasiënt se sterwensproses begin het, ’n redelike hoë dosis van ’n middel soos morfien toe te ken ten einde seker te maak die pasiënt is, en bly bewusteloos. Die kanse dat so ’n pasiënt sy/haar bewussyn kan herwin, is dan baie min, en die pasiënt sterf gewoonlik, mede as gevolg van die dosis wat toegedien is. Ek het nie beswaar teen so ’n praktyk nie, maar kan nie sien hoe dit, moreel gesproke, verskil van wat ek hierbo as bystanddood bestempel het nie.

Wat van die reg op selfdood? Het mens nie ook ’n reg om jou eie lewe te neem as die lewe vir jou ondraaglik raak nie?

Soos ek vroeër gesê het: ’n burger van ’n demokrasie (soos Suid-Afrika tans hopelik is!) het die reg om sigself skade aan te doen, tot by die punt van selfdood. Weer: om daardie reg te hê, beteken nie dat dit altyd (moreel) reg is om daardie reg uit te oefen nie. Byvoorbeeld: ek kan geen morele beswaar insien teen ’n ou man van 90 wat alleen in die wêreld is en pas verneem het dat hy ongeneeslike kanker het, en wat dan besluit om sy lewe te neem nie. Vergelyk daarteenoor ’n man van 40 met ’n vrou en drie jong kinders wat uitgevang is vir bedrog of diefstal, en as gevolg daarvan selfdood pleeg. Laasgenoemde man het die reg tot selfdood, maar dit is in ’n morele sin nie reg dat hy dit doen en sy gesin agterlaat in ’n selfs groter gemors as waarin hy hulle laat beland het nie.

’n Mens het dus die reg tot selfdood. Waarop jy volgens my nie ’n reg het nie, is om daarop aan te dring dat jy bygestaan moet word om jou eie lewe te beëindig as jy andersins gesond is of nie aan die vereistes voldoen wat ek by vraag 9 gestel het nie.

In die slothoofstuk waar jy al die punte van jou argument bymekaartrek, skryf jy onder andere die belydenis van ’n Skepper-God, in die konteks van hierdie soort debat, kom op weinig meer neer as die erkenning van onkunde. Trouens, jy sê mense bely ’n Skepper-God gewoon omdat hulle antwoorde opgeraak het. Het dit dan hoegenaamd nog enige sin om ’n Skepper-God te bely?

Dis tog baie belangrik om te let op die konteks waarin ek beweer dat die beroep op ’n Skepper-God soms op niks meer neerkom nie as die erkenning van onkunde. Ek maak hierdie opmerking spesifiek in reaksie op die vraag hoe lewe oorspronklik ontstaan het. Die evolusieteorie van Darwin gee myns insiens ’n goeie en geloofwaardige verduideliking van hoe lewe ontwikkel het sedert die oorsprong (hoewel baie vrae steeds oorbly, soos byvoorbeeld blyk uit die werk van Stephen J Gould). Die moeilikste vraag is egter presies hoe, wat ek die “elemente van die aarde en die heelal” noem, tot ’n interaksie gekom het waaruit die eerste lewende selle ongeveer vier biljoen jaar gelede ontstaan het. Dis in reaksie op dáárdie vraag dat ek opmerk dat die beroep op ’n Skepper-God – ’n beroep wat ek self meen in hierdie stadium onvermydelik is – dikwels op weinig meer neerkom as ’n erkenning van eie onkunde.

Feit is dat ons steeds nie die vaagste idee het van hoe die eerste lewe ontstaan het nie. Die vakwetenskappe moet die antwoord op daardie vraag bly soek en, wie weet, dalk vind hulle nog ’n goeie antwoord daarop, analoog aan die teorie van die oerknal as oorsprong van die heelal – ook ’n teorie wat tans blykbaar wye aanvaarding geniet, al is daar fisici wat dit bevraagteken.

Goed maar wat is dan die sin om nog aan ’n Skepper-God te glo?

Jy vra of dit dan nog enige sin het om aan ’n Skepper-God te glo. Ek dink wel so. Die rede daarvoor is egter emfaties nie omdat ek meen dat so ’n geloof een of ander tyd vir ons die geheimenisse van die heelal of die ontstaan van lewe gaan oplos nie. Ons soek op die verkeerde plek as ons antwoorde op wetenskaplike vrae in ons geloof in God soek.

Geloof in God is nie die antwoord op wetenskaplike vrae nie. Dit bied wel ’n antwoord op sinvrae of eksistensiële vrae. Met laasgenoemde bedoel ek vrae oor wat die sin van die lewe is en wat die sin is van die samehang van alle dinge soos ons dit in die werklikheid beleef.

Geloof in ’n Skepper-God kan nooit bewys dat God hemel en aarde gemaak het nie, maar kan alleen bely dat, hoe hemel en aarde en lewe ook al ontstaan het, dit nie daar is sonder die singewing wat die geloof soms (nie altyd nie!) vir mense moontlik maak.

Geloof help my nie die natuur of die kompleksiteite van logiese denke beter verstaan nie, maar help my wel om myself en my eie singewing in die wêreld beter te verstaan. Dit help my om ’n beter mens te wees as wat ek daarsonder sou wees. Laasgenoemde is insgelyks ’n belydenis, nie ’n wetenskaplike aanspraak of teorie nie.

Die wetenskap is ’n wonder-ontdekking wat die wêreld op ’n unieke en onvergelyklike manier vir ons toeganklik en soms begryplik gemaak het. Ek sal die wetenskap altyd daarvoor bly bewonder. Maar die wetenskap behels nie die somtotaal van menslike ervaring en singewing nie. Die wetenskap het daarom ook nie ’n monopolie op kennis nie. Daar is – so glo ek – meer dinge van belang en wetenswaardig as wat die wetenskap aan ons bekend kan stel. Ek soek ook na daardie dinge. Ek het meer uitvoerig hierop uitgebrei in my boek Geloof sonder sekerhede (Kaapstad: Lux Verby, 2014, tweede uitgawe, pp. 163-194).

Dink jy gelowiges en ongelowiges se lot is dieselfde na die dood en waar bring dit ons in terme van begrippe soos hemel en hel?

Ek het weinig geduld met die idee van die hel; die God waarin ek glo, is geen kosmiese paaiboelie wat plesier daarin vind om mense te pynig vir dinge wat hulself meesal nie eers besef hulle het aangevang nie. Terselfdertyd is daar geen logika in die teorie oor die hel nie. As daar selfs net ’n greintjie waarheid steek in die evangelie, waarom sou God die wêreld verlos en vernuwe, net om êrens in Sy werklikheid ’n “plek” te behou waar lyding en swaarkry perpetueel is?

Ek dink die vraag of “gelowiges” en “ongelowiges” se “lot dieselfde gaan wees” is die verkeerde vraag. Ek glo nie omdat ek dink ek is op pad “hemel” toe nie. Ek twyfel of daar ’n ”hemel” is en of ek daarvoor bestem is as daar een is. Miskien, wie weet, word ek nog eendag aangenaam verras! Ek glo om ’n ander rede. Daardie rede is, om ’n blote metafoor te gebruik, die “hereniging van hemel en aarde”.

Wat bedoel jy daarmee?

Daarmee bedoel ek die aanbreek van ’n wêreld waarin die waardigheid van die mens, die diversiteit van die diereryk en die integriteit van die natuur herstel of nuut gevestig is. Dis die “nuwe wêreld” wat ons roep om te dien en waaraan ons elke dag wat ons hier gegun word, kan probeer bou. In die taal van die evangelie staan dit bekend as die “Koninkryk van God” – die sentrale tema van Jesus se prediking.

Miskien – hopelik! – verraai of onthul daardie naam (“Koninkryk van God”) die belofte dat ons handewerk in die skep van ’n nuwe wêreld op die duur nie tevergeefs sal wees nie, dat, ten spyte van ’n son wat gaan uitbrand en ’n aarde wat sekerlik verby sal gaan, daar tog op een of ander manier iets tot stand sal kom wat al ons moeite en verdriet die moeite werd sal maak. Ek weet nie; ek kan net glo en hoop. Wat wel duursaam en blywend is, is om te probeer om lief te hê en sodoende te bou aan dit wat binne ons almal se bereik is: goeie verhoudinge met vriend en vyand. Ek kan geen idee vorm van lewensin wat van meer betekenis sou kon wees as dit nie.

Het jy persoonlik enige vrees vir die dood en sou jy nie ook graag eendag vir ewig en altyd gelukkig wou leef soos wat ons in die Sondagskool geleer is nie?

Ek dink nie ek wil vir ewig leef nie. Wat beteken “ewig”? As dit slaan op iets wat die tyd te bowe gaan, dan kan ek dit in elk geval nie verstaan nie. As dit letterlik beteken “vir altyd” in terme van ons menslike verstaan van tyd, dan nee, ek wil nie in daardie sin “vir ewig” lewe nie; ek dink dit sal ondraaglik vervelig word. Lewe is ’n siklus met ’n begin, ’n opvoeding, ’n verloop, ’n loopbaan, verhoudinge, volwassewording – maar dan ook ’n afloop, ’n voltooiing, ’n einde. Ek hoop dit word my gegun om daardie siklus te kan deurloop.

Behoort ons die dood te vrees? Miskien bied die ou Griekse filosoof Epikurus tog troos:

“Raak gewoond aan die gedagte dat die dood niks is om te vrees nie. Alle goed en kwaad bestaan uit sensasies, oftewel bewussyn, maar die dood is tog die einde van alle bewussyn. ’n Korrekte begrip van die feit dat die dood niks aan ons kan doen nie, maak van die lewe ’n genotvolle ervaring, nie omdat dit die lewe vir ons tot in die oneindigheid verleng nie, maar omdat dit die drang na onsterflikheid wegneem … Die dood, [sogenaamd] die ergste van alle euwels, kan niks aan ons doen nie, want solank as wat ons bewus is van dinge is die dood nog afwesig; en wanneer die dood wel kom, is ons van niks meer bewus nie.”

Is ek bang vir die dood? Ja, want die gedagte om permanent en onomkeerbaar geskei te word van diegene vir wie ek omgee, is vir ons almal moeilik om te aanvaar. Die oorweldigende hartseer oor iemand wat deel van ons was, wat gelag, gehuil, gewerk, gesels, foute gemaak en vreugde besorg het – iemand wat geleef het en inherent deel van die geroesemoes van ons eie lewe was, is ’n inherente deel van ons worsteling om in die reine te kom met die dood. En ja, een of ander tyd sal die een wat wegval, nie iemand anders wees nie, maar ek self. Hoe moet ons dit kleinkry? Tog sal dit so wees. Miskien is dit ’n ander rede waarom ek die boek geskryf het: om beter aan dié onvermydelike idee gewoond te probeer raak.

  • 10

Kommentaar

  • Aangesien die geleerde Prof nou so oor die dood aan die skryf is, wonder ek of hy hierdie boek gaan opvolg met 'n boek oor die dood van Afrikaans by die universiteite.

  • Ben van Bruggen

    Ek het heerlik gelees aan Anton se gedagtes in keurige, akkurate Afrikaans.

    Gelykstaande aan die beste.

    Jean se vrae was priemend.

  • Stefaan de Jager

    `n Lang relaas waarin Anton van Niekerk oor die Evangelie sit en filosofeer. Van begin tot einde getuig dit van onsekerheid, teenoor die Evangelie wat immers `n vaste sekerheid bied. "Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo (1 Joh 5:13)."

    Die Jode het Christus as Messias verwerp en daarom wys Hy hulle op die onsekerheid oor hul eindbestemming. "Jesus sê toe: 'Nog net `n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek terug na Hom toe wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie' (Joh 7:33-34)."

    Met die dissipels wat Hom gelowig as Messias aanvaar is dit die teenoorgestelde. Hy bied aan hulle absolute sekerheid oor hul eindbestemming. "En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan ... Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Joh 14:4-6)."

      • Stefaan de Jager

        "Een ding moet julle egter nie vergeet nie geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duiesend jaar soos een dag (2 Petr 3:8)."

        "Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag (Ps 90:4)."

    • Barend van der Merwe
      Barend van der Merwe

      Van Niekerk se boek is gemik op mense wat nie meer gemaklik voel met die ou sekerhede nie.

  • Hans Richardt

    Niemand het teruggekom om eerstehands oor die ervaring van dood of wat na dood gebeur, te praat nie. 'n Hele geleerde boek vol wilde spekulasie kan wragtig nie as gesaghebbend voorgehou word nie.

  • Haai, Hans, hoe kan jy so sê? 'n Goeie ou vriend van my het my self vertel toe sy oupa dood is, het hy gou ook hemel toe gegaan om vir hom 'n blik beskuit en sy gunsteling koffie te neem, want die goed is maar skaars daar. Hy het sommer sy oupa van ver af uitgeken daar in die hemel aan sy krom rug en sy geliefde baadjie wat hy altyd gedra het. Hy het ook sy pyp in die mond gehad, maar dit het nie gebrand nie,want die tabakoes was daardie jaar maar 'n mislukking in die hemel.

  • Hans, jy het nie die boek gelees nie. Op grond waarvan maak jy dit af as "wilde spekulasie"?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top