Die dood en die sin van die lewe deur Anton van Niekerk: ’n lesersindruk

  • 0

Die dood en die sin van die lewe
Anton van Niekerk
Uitgewer: Tafelberg

ISBN: 9780624075332

Wat het my besiel om ’n filosofieboek soos hierdie deur te lees? Daar is twee redes: eerstens voel ek dit is belangrik om uit mens se gemaksone te klim. Elke leser weet waarvan hulle hou, en filosofie is nie my tipiese keuse nie. Maar daar is ’n ander, groter rede, en dit is dat ek een van Van Niekerk se vorige boeke, Geloof sonder sekerhede, so geniet het. Geloof sonder sekerhede het natuurlik reeds in 2005 verskyn, maar ek het die hersiene 2014-weergawe van die boek gelees. Volgens Van Niekerk is sy nuutste boek “die resultaat van byna 20 jaar se navorsing” (11). En dit word duidelik namate mens lees. Van Niekerk verreken deurgaans in die boek filosofiese werke wat die tema van die dood ondersoek, en die boek is voorsien van voetnote wat die besonderhede daarvan weergee.

Volgens Van Niekerk is die dood deesdae grootliks ’n taboe in ons samelewing. As voorbeeld gebruik hy die kerkhof, tradisioneel die deursnee-mens se laaste rusplek. Maar die woord “kerkhof”, wat dikwels nog as sinoniem vir “begraafplaas” gebruik word, verklap aan ons iets van vergange dae. Die kerkhof is eintlik daardie gebied rondom ’n kerk wat met ’n heining afgeskort is – dis basies soos die kerk se tuin. Mens vind by baie kerke nog grafte in Suid-Afrika, veral van die gemeentes se eerste leraars, en in sommige gevalle is mense selfs binne-in kerke begrawe. Die uitdrukking “stinkryk” kom ook na bewering van die gebruik om veral ryk mense binne-in kerke te begrawe, en waarvan die reuk van die oorskot dan in die kerk gehang het.1

Volgens Van Niekerk is die gebruik om die kerkhof te skuif vanaf die kerk na ’n gebied ver weg, dikwels selfs buite die dorp, en dit dan ’n “begraafplaas” te noem, ’n voorbeeld van hoe die dood verskans word in ons moderne samelewing. Kortom, ons samelewing is nie doodvriendelik nie. Ons probeer die dood wegsteek vir onsself en vir mekaar. Dit mag dalk so wees, maar ek weet nie of ek saamstem met die voorbeeld nie. Daar is dalk ander redes vir die ontstaan van begraafplase. Die eenvoudige omvang van ons spesie se getalle maak dit waarskynlik prakties onmoontlik dat mense almal binne die radius van hulle sakrale geboue begrawe kan word. Mens sien in elk geval deesdae al meer die “gedenktuine” wat opgerig word by kerke, spesifiek by daardie groepe waar verassing aanvaarbaar geword het, en die as dan in die kerkhof gebêre word. Op dié manier herleef die ou gebruik om jou laaste rusplek in die letterlike “kerkhof” te kry dus tog op ’n nuwe manier na al die jare.

Nietemin, dit is ongetwyfeld so dat verskillende mense op verskillende maniere reageer op die dood, en dat die dood deur vele mense as iets negatiefs ervaar word. Van Niekerk ondersoek ook hierdie feit in sy besinning deur gevalle uit sy persoonlike ervaring in herinnering te roep van verskillende mense se reaksies op die dood. Van Niekerk vra uit die aard van die saak ook na die sin van sy ondersoek, en kom tot die gevolgtrekking dat die mens die dood moet ondersoek sodat die lewe beter verstaan kan word.

Met ’n onderwerp soos die dood verwag mens nogal so half en half ’n sterk teologiese aanslag, maar hiervan is weinig te vind. Van Niekerk sê reeds vroeg in die boek: “Hierdie boek is, les bes, ook geen teologie nie” (27). In een van die weinig komiese oomblikke in boek deel Van Niekerk dan ’n hou uit na die teoloog Isak Burger wat ’n boek oor die dood geskryf het met die “amusante” titel: Die eerste vyf minute na die dood. In verband met Burger se boek merk Van Niekerk op: “Afgesien van die vraag hoe hierdie skrywer kan weet waarvan hy in so titel praat, verstaan ek ook nie waarom die tydperk waaroor hy skryf slegs ‘vyf minute’ is nie! Dit sou tog veel meer leersaam wees as hy die periode ’n bietjie langer kon maak?” (28).

Daar is ’n heel interessante bespreking in hoofstuk 7 in verband met periodisering. Hierdie hoofstuk se titel heet dan ook “Die dood in ’n postmoderne wêreld”. Vir my is enige vorm van periodisering maar ’n uiters sintetiese saak waaraan ek versigtig sluk, maar ek aanvaar langtand dat dit deel is van die wetenskap. Maar wat vir my veral fassinerend was, is Van Niekerk se kritiek op die begrip postmodernisme. Hoewel ek redelik vertroud is met filosofiese periodisering en die begrip postmodernisme, was ek totaal onbewus van die bestaande kritiek daarop. Dit bly nietemin vir my ’n goeie beginsel om versigtig met enige vorm van periodisering om te gaan, omdat dit so ’n abstraksie is.

Die dood en die sin van die lewe is, soos seker reeds uit die titel duidelik is, glad nie maklike leesstof nie. Van Niekerk se uiteindelike gevolgtrekking na al die besinning kom vir my neer op iets soortgelyk aan die konsep van ubuntu, naamlik dat die sin van ons bestaan intrinsiek verweef is met die bestaan van ons medemense, en dan verder in die maniere waarop ons sin kan gee aan die mense rondom ons se bestaan, spesifiek deur diens aan die samelewing.

Die laaste woord oor die dood is dit sekerlik nie, maar hierdie boek is ’n unieke en vars bydrae oor ’n onderwerp wat nog nooit, sover ek weet, op dié manier in Afrikaans aangepak is nie. Hoewel die sin van die lewe as onderwerp al voorheen in Afrikaans aangepak is, is dit nog nooit op so ’n manier in samehang met ’n ondersoek na die dood gedoen nie.

1 Spook: Stellenbosch salig-swewend. Pasella. http://www.pasella.com/artikels/SPOOK-Stellenbosch-salig-swewend.html?articleID=197.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top