die digter is nie doof nie

  • 4

die digter is nie doof nie

hy hoor die straatkind se honger soog
maar luister na die kneus in sy gebreekte oog

hy hoor die bedelaar se inkkaros roep
maar luister na die skuldstem op sy digterstoep

hy hoor die blinde skrik in ’n pikstiknag
maar luister na die mallemeulekleur
in sy dagliglag

hy hoor die doemprofeet se kyf
maar luister hoe hy sy naam in die
Boek van die Lewe inskryf

hy hoor die hoer se pers mond pruil
maar luister na haar noodroep wat
in die na-spel skuil

hy hoor die helhand op haar sagte wang klap
maar luister na die skaamte wat
uit haar lamlyf tap

hy hoor die mense murmureer oor moord 
maar luister na elke bloedige woord
wat (pynlik) uit gefolterde penne loop

die digter is nie doof nie

hy luister

  • 4

Kommentaar

  • Sussane Pike
    Jou gebruik van hoor is so gepas. In Tswana verteenwoordig hoor al die sintuiglike waarnemings behalwe sien.

    Jy hoor diep.

  • HARTROEREND.
    Wat 'n wonderlike gawe met woorde.
    Jou insig en meelewing is aandoenlik.
    Welgedaan Susanne Pike.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top