Die diepblou see deur François Loots: ’n FMR-resensie

  • 0

Die diepblou see
François Loots

Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415209530

In die Afrikaanse letterkunde het François Loots al ’n belangrike bydrae gelewer tot romans oor die lewe van gay mans. Ek sonder veral Lente in Beijing (2003) en In sneeu geskryf (2015) uit.

Die diepblou see sluit veral aan by sy romans waarin hy die lewens van voortreflike Suid-Afrikaners uit die verlede uitbeeld. In sy Rooi Jan Alleman (2013) is dit byvoorbeeld Bram Fischer se lewe.

Hier gaan dit om Jan Hofmeyr. Nie Onze Jan nie. Onder meer administrateur van Transvaal en lid van Jan Smuts se kabinet. Intelligente mens wat op 15 sy eerste graad ontvang het. Hy strewe ’n soort liberalisme na. Soos die reklameteks lui: “Dis sy soort liberalisme waarteen die vaders van Apartheid tydens die 1948-verkiesing sou waarsku.”

In die eerste deel van die roman span hy ’n slag uit saam met sy moeder op ’n Karooplaas. Uit sy kontak met die kinders word dit duidelik dat hy nie soos hulle in sy jeug was nie. Verskillende vroue neem hom waar. Die leser kry insig in sy individualisme, in sy gedistansieerde verhoudings met vroue. Jy sien hom deur hulle oë.

In deel 2 is Hofmeyr die parlementariër in Kaapstad. Hy het ’n nuwe assistent: die jonge Robert. Robert is ’n introverte gay. Versigtig in sy omgang met mense, op soek na sin in die lewe. Gay-erotiek tussen Hofmeyr en Robert word subtiel oorgedra; wat is werklikheid, wat is verwagting, verbeelding?

Soos in sy vorige romans is magiese realisme weer aanwesig. Bewonderaars daarvan sal bly wees dat die onreële baie sterker as vantevore is.

In ’n nawoord verduidelik Loots hoe hy byvoorbeeld mitologie daarvoor gebruik het. Hy verwys in hierdie verband na die gedeeltes oor die godin van die see. “Ek poog ook nie om ’n rasionele verduideliking vir ’n deel van Suid-Afrika se politieke geskiedenis te verskaf nie, maar vertrou dat mitologiese, argetipiese figure by die leser assosiasies sal oproep wat sal maak dat hy/sy opnuut na sy/haar omgewing sal kyk.”

Vir my is die teks problematies. Sekere sinne se woordvolgorde moet jy ondersoek voor jy die strekking verstaan. Die volgende is alles een sin: “Sy knik nadenkend, ’n buitengewoon lang speseryrak, bottels met gedroogde blomme en goed, en sy vertel hom dat Jantjie ook nie sy pa geken het nie.”

Ek stuit teen die baie herhaling van woorde en uitdrukkings, byvoorbeeld mure en poorte, harnas en leeukuil sonder dat dit met verskillende betekenisse gebruik word. Dit bly bladsye lank by dieselfde beeldspraak.

Die afwesigheid van leestekens bemoeilik ook soms die lees.

Tydspronge word nie oral aangedui nie.

Met die beeldspraak wonder ek of die skrywer al die betekenisse van die woorde genoeg in ag geneem het: “die blaf van ’n opdrifsel gewete”; “gedagtes wat soos ’n rustelose seemeeu vir die nag kom skuil” (meervoud versus enkelvoud); “Hulle fluister in die gange en sis soos sonbesies op onverwagte tye.” Sis sonbesies?

Die boek word deur Umuzi uitgegee. Dis iets vir die ondersoekende, filosoferende leser.

Hierdie resensie is oorspronklik in Boekkeuse onder leiding van Amanda Botha op 20 September 2017 op Fine Music Radio uitgesaai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top