Die dag toe die Jukskei homself weer laat geld het

  • 2

SP Benjamin

Elke af en toe word die mens tot verhaal geroep. Soos nou met die greep van droogte waarin ons land verkeer en dan ook soos onlangs met die Knysna-brande. Dit laat mens dink. Dit maak mens klein. Feilbaar. Want die graad van verwoesting en lyding kan nooit net misgekyk, omgeblaai en vergeet word nie.

So ook nie die verwoesting toe die Jukskeirivier einde voorverlede jaar sy walle oorstroom het nie. Die skade was niks wat ek my sou kon ingedink het nie. Oral aan die een oewer was sink en hout en seil met bos en boom verstrengel. ’n Groep mans was besig om ’n voertuig onder sand en modder uit te sleep. Jy sal nie glo nie, sê die een, hierdie bakkie was net die vorige dag hier geparkeer. Dit lyk nie so nie, want die voertuig was aan die binnekant vol grond en modder. Ander het hul tyd verwyl deur plank en vervormde sink bymekaar te gooi. Talle gesinne was net besig om hul deurweekte goedjies op hopies bymekaar te gooi. Groot groepe mense het weer net rondgestaan. Verslae. Verwonderd. Dit was ’n nuwe dag. Die uur van verwoesting was verby. Maar midde hierdie deurmekaar prentjie was daar ook reeds ’n ander soektog geloods en aan die gang. ’n Kind was soek. Weg. Meegesleur.

Die kind se naam het ek eers later gehoor. Everlate. En ook haar van. Chauke. En sy het ouers. Chadrack en Cynthia Chauke. Hulle is afkomstig van Chikombedzi in Zimbabwe, maar het meer as tien jaar gelede hierheen gekom op soek na ’n beter lewe. ’n Beter lewe, so vertel Chadrack, wat die volgende dag ’n paar honderd meter van die wal van die Jukskei gehuisves was in ’n baie knap, maar veilige, sinkwoning. Buite het die donderweer steeds geraas en die reën het ook weer begin val. Dit was die laaste ding waaroor Chadrack en Cynthia hulle nou sou bekommer. Hul kind was weg. En vir eers was hulle veilig. Veilig, maar nooit alleen nie. Geen stille oomblik om oor hul verlies en ook oor die verskrikking van die vorige aand te tob nie. Hul kind was weg, dalk dood, en die media stroom met reëlmaat by die klein sinkwoning in en uit. Daar word foto’s geneem en aanhoudend vrae gevra. Dit kan nie anders nie. Die storie moet uit. Die wêreld moet weet. ’n Kind is weg.

Vanoggend word kos gebring. Vars gekook. Gebottelde water. Dis net Cynthia, die ma van klein Everlate, wat stil bly sit in haar sitplek. Haar oë beweeg, haar kyk is amper leeg, gestroop. Afgestomp. Die tydjie wat ek daar saam met hulle in die groen sinkhuisie is, praat sy nie één maal nie. Sy sit daar en speel met die plastiekvurkie deur die skepsel varsgekookte rys in haar bakkie. Ek hou haar hande dop. My oë wat nie rêrig met hare wil kontak maak nie. Wat gaan deur ’n ma se kop as sy so sit? Wat sien haar oë? Maak enigiets vir haar op die oomblik sin? Ek weet nie. Ek kan nooit weet nie. Dis net Chadrack Chauke wat moedig dieselfde vrae bly beantwoord. Hy is hartseer. Hy is die hoof van sy gesin. Sekerlik voel hy dat hy sy kind versaak het, hierdie bloedjie van hom wat ten tye van die verwoesting saam met hom in die boom skuiling gesoek het. En toe is sy nie meer daar nie, net nie meer dáár om aan sy hand te klou nie. Moedig probeer hy die media in die oë kyk. Op ’n manier is dit vir my makliker om hóm in die oë te kyk. En ek kyk, maar ek kan nie ophou wonder wat dit is wat sy oë vir sy vrou sê wanneer hulle na mekaar kyk nie?

Ek druk tussen die mense deur by die deur uit. Die lug daar binne het té swaar vir my geword. En soos ek uitsukkel, sukkel meer mense om die skuiling binne te gaan. Buite sing ’n groep vroue. Dis ’n hartseer dag. Vir almal. Meer voertuie trek op om groente en vrugte en kospakkies af te lewer. Meel. Mieliemeel. Komberse. En ook tweedehandse klere. Dit word ’n showdown van vrygewigheid, want mens kan nooit té veel politieke punte aanteken as hierdie soort ding hom voordoen nie. Plakkate word rondgeswaai. Meer dreunsang. En nog meer baniere. Ook die President en sy trawante kom onder ’n swart laken van weelderige motors en swaargewapende lyfwagte aan. Almal soek waar hulle kan score. En intussen, weg van hierdie gedruis, word daar steeds na klein Everlate Chauke gesoek.

Ek stap weer af oewer toe, na die Stjwetla informele nedersetting. Oral staan mense steeds rond. Die brug oor die Jukskei dien nou as wasgoedlyn vir die volk se nat matte en komberse en klere. Wat veral opval, is die derduisende ton bouafval en rommel wat op die oewer gestort lê. Jy moet omtrent mooi trap om jou weg te vind tussen stukke teëls en boublokke en elke denkbare stuk gemors wat afval genoem kan word. So probeer hulle van die rivier steel, hoor ek ’n omstander sê. Die grond word so gelykgemaak en dan kan hier gewoon word. Dis maar hoe dit hier gedoen word, sê hy.

Aan die bo-ent bottelnek die Jukskei van die tonne bouafval. Dis nie ideaal nie. Nooit nie. Nie vir lopende water wat altyd maar die kortste en maklikste roete volg nie.

Die rivier is heelwat kalmer. Tussen die verstrengelde oorblyfsels van wat die vorige dag nog ’n huis, ’n woning, ’n hawe, ’n drinkplek of skuiling was, soek ’n ander man na sy ID-boekie. Dis al waarna hy vandag soek, sê hy. Hy het dit nodig. Hy moet werk soek. Hy móét hierdie gemors bly fynkam. Sonder ’n ID is hy niemand. Seker so, maar intussen was daar steeds ’n groter soektog aan die gang. Everlate Chauke wat met die afkom van die rivier meegesleur was.

“Almal staan dan net rond. Dit lyk nie of enigeen na die kindjie soek nie,” hoor ek haar hier langs my praat. Hierdie vrou met die kopdoek wat vanmôre deur haar organisasie daarheen gestuur was om te help.

“Die reddingspanne soek sekerlik verder af,” antwoord ek haar. “Hulle het blykbaar klaar dié area gefynkam.”

“Wat as hulle nie reg gekyk het nie? Wat as sy tog hier iewers is?” Die vrou beweeg ’n paar treë voor my uit. Ek laat haar begaan. Want wat meer kon ek sê of doen om die moedeloosheid op die gesig weg te vee. Dis dan wanneer die vrou by ’n nat en ou matras gaan staan en die ding se punt probeer oplig. “Wat as sy tóg hier iewers is? Wat as hulle die liggaampie misgekyk het?”

Haar soeke onder die matras lewer niks op nie. Die kind is weg. Ek sien haar ’n traan wegvee. Hierdie vrou is ook ’n moeder.

“Almal is hier om die storie te dek, maar ek sien niemand wat rêrig na die kind soek nie,” praat sy toe sy weer by my aansluit. Ek knoop my hart vas. Ek huil self. Binnetoe. ’n Paar meter van waar ons staan, het die Jukskei het sy “nuwe” gang gegaan. Kalm. Maar steeds stuwend.

Soms wonder mens hoe word hier gelewe. Hoe maak hierdie mense ’n bestaan? Dis omtrent nooit die regte vraag om te vra nie, want hier op die oewers van die Jukskei wórd daar gelewe, en hárd gelewe. En dit is ook nie die eerste maal dat die Jukskei hier by Alexandra sy grond probeer terugvat nie. Dit sal ook nie die laaste maal wees nie.

Die soeke na die jong Everlate Chauke het godgenadiglik dae later geëindig toe haar liggaam in Buccleuch, noord van Johannesburg, gevind is. Vandag onthou ek steeds daardie prent van verwoesting wat my in Alexandra begroet het. En die lewe in Alexandra het sekerlik stadig weer tot “normaal” teruggekeer. Maar daardie beeld van die vrou wat onder ’n matras na die kleine Everlate gesoek het en dan ’n traan stort ... Dit sal my ewig bybly.

  • 2

Kommentaar

  • Sjoe watter emosionele trip het jy my no op geneem ... Pragtige stukkie werk SP, moet ons nooit ophou deel maak van jou skryfwêreld nie ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top