Die dag toe die ANC die Kool-Aid gedrink het

  • 0

Met die aankondiging deur Baleka Mbete dat sy ’n geheime stemming sou toelaat, het die hoop in vele harte opgevlam dat ANC LP’s die regte ding sou doen en die mosie van wantroue teen Zuma sou steun.

Die onderliggende aanname is natuurlik dat die LP’s saamstem dat die getuienis teen Zuma verdoemend is, dat hulle saamstem dat Suid-Afrika beter af is sonder sy leierskap, en dat hulle omgee vir die lot van gewone Suid-Afrikaners. Die aanname is verder dat LP’s so beginselvas is dat hulle teen hul eie ekonomiese en sosiale belang sou stem om ’n groter beginsel te steun. Die aanname was verder dat die oor-en-weer-stryery in die parlement net oppervlakkig is, dat ANC-LP’s teen hul eie kollegas sou draai en in dieselfde juk sou trek met opposisielede wie se politieke oortuigings lynreg teenstrydig met dié van die ANC is. Onderliggend aan dit alles was die geloof dat ANC-LP’s dapper is.

Ons was verkeerd.

Die waarskuwings was daar. Mbete het dit Maandagmiddag duidelik gestel dat ’n geheime stemming gepas is wanneer die stemomgewing toksies is. Dit was seer sekerlik net op die beskerming van ANC-LP’s van toepassing, want die aanname was tog van die begin dat die opposisie teen Zuma sal stem. Daar was oor en oor, skynbaar sonder ironie, deur senior lede van die ANC gesê dat daar nie so ’n ding soos “stem met jou gewete” is vir ANC-LP’s nie.

Selfs tydens die debat voordat daar tot stemming oorgegaan is, was die retoriek vanaf die ANC-lede wat gepraat het, dat die mosie ’n aanval teen die ANC is en nie teen Zuma nie. Niemand kan die persoon verdedig en verduidelik hoekom sy volgehoue besetting van die presidentskap voordelig vir die land is nie. Hulle kon nie die man verdedig nie, daarom moes hulle die man en die party gelykstel.

Dis waar hulle ’n fout begaan het, ’n fout waarteen hulle gewaarsku was. Malema het in sy toespraak gewaarsku dat ANC-lede hul eie geskiedenis skryf deur die stem wat hulle uitbring. Dis ’n geskiedenis wat Jan Publiek gaan onthou wanneer hulle in 2019 moet stem.

Groenewald, vir die Vryheidsfront Plus, het gesê: “If you don’t remove the president today, you are saying the president is not the problem, the ANC is the problem.”

Jim Jones het sy volgelinge oortuig dat hulle saam met hom massaselfmoord moet pleeg omdat almal met ’n komplot teen hulle besig is. Die manier waarop Zuma sy volgelinge hanteer, kompleet met verwysing daarna dat hulle sal regeer tot Jesus kom, begin al meer na die taktieke van ’n godsdienstige maniak eerder as ’n politieke leier voel. Die ANC onder sy leierskap is skynbaar blind daarvoor. Hulle het die Kool-Aid gedrink. Nou is dit net wag vir die skuim om die mond.

Ongeag wat in die openbaar gesê word, het die heksejag om die LP’s uit te lig wat in weerwil van ANC-instruksies ten gunste van die mosie gestem het, reeds begin. Die toksiese omgewing waarna Mbete in haar perskonferensie verwys het, sal binnekort sigbaar wees selfs vir persone buite die ANC.

Tussen nou en Desember, wanneer die volgende president van die ANC gekies word, gaan ons alreeds die uitval begin sien. Daar sal waarskynlik reeds voor daardie tyd ’n skeuring plaasvind. Dis hoe COPE en die EFF gevorm is, toe ANC-lede finaal genoeg gehad het. Die EFF is alreeds besig om te kalwe in die ANC se tradisionele kiesersbasis, en hulle trek boonop jong kiesers. Die ANC kan nie bekostig dat nog ’n faksie wegbreek en stemme saamvat nie.

Wat agt jaar gelede ondenkbaar was, is nou feitlik onafwendbaar. Indien die ANC die volgende algemene verkiesing wen, wat glad nie verseker is nie, sal hulle waarskynlik in koalisie moet gaan. Hulle sal nie meer die meerderheid in die parlement wees nie. ’n Twee-derde-meerderheid is nou ’n storie van “toe ek jonk was” wat LP’s vir hul kleinkinders sal vertel.

Zuma is die tipe politikus wat glo aan “Jy kan nie ’n omelet maak sonder om ’n paar eiers te breek nie.” Maak nie saak wát breek nie, solank as wat hy bo bly. In hierdie geval is dit die ANC wat breek, en hy word willens en wetens deur mense wat van beter behoort te weet, gehelp. Wanneer die ANC in die opposisiebanke sit – en dit is hoogstens twee verkiesings van nou af –  sal hulle herinner word aan Malema en Groenewald se woorde.

Dis onafwendbaar, want die party wat eens ons morele kompas was, het vergeet waar ware noord lê. Onder Zuma se leierskap het dit so toksies geword dat die pasiënt net gered kan word deur ledemate te amputeer en aggressiewe bestraling toe te pas. Groot dele sal moet sterf om die organisasie te red. Maar die pasiënt weier die behandeling, omdat hulle glo tradisionele medisyne gaan nog red wat daar te redde is.

Intussen het Suid-Afrika aanbeweeg. Daar is ander politieke partye wat bied waarvoor ons soek. En teen 2018 sal daar nog ’n keuse op die stembrief wees.

Die tyd vir ANC-lede om onskuld en onkunde te pleit, is verby. Hulle het op 8 Augustus 2017 met oop oë die Kool-Aid gedrink.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top