Die DA en sy ideologiese krisis

  • 7

Dit sou heel gepas wees om die agteruitgaande toestand van ons klein dorpies as metafoor aan te wend om die ideologiese krisis waarin die DA hom tans bevind te demonstreer.

Die meeste klein dorpies het hul ontstaan in die 19de eeu as klein militêre administratiewe poste van koloniale besetting gehad. Dié dorpies het wortel geskiet rondom magistraatshowe en kantoorblokke. Infrastruktuurbelegging was minimaal en ekonomiese ontwikkeling het selde verby die bestaan van algemene handelaars gestrek.

Dié beleggings en ontwikkelings was hoofsaaklik tot die sentrale wit sakegebied van klein dorpies beperk. Tot nadeel van niewit mense, wat tot krotbuurte gereduseer was.

Die DA en sy voorgangers het dus op dieselfde ideologiese vertrekpunt sy beslag gekry: die bevordering en verskansing van ’n wit ideologie. In so ’n mate dat dié party se (wit) leierskap van wat in getalle ’n swart party is, maar ideologies witheid in stand hou, met ’n groot dilemma sit.

Hoe versoen die DA die belange van sy wit liberale met sy swart nasionaliste s’n? ’n Paradigmaskuif in ideologie is die oplossing.

Ideologieë verskaf ’n belangrike manifestasie van politieke waardes wat dikwels verantwoordelik is vir die wyse waarop baie, indien nie alle nie, politieke akteurs optree.

Die term ideologie is tussen 1796 en 1798 deur die Fransman Antoine Destutt de Tracy geskep. Dit omskryf ’n stel waardes wat ons as riglyne gebruik vir hoe ons lewe.

Die gevaar van ideologie lê opgesluit in ’n ou spreekwoord wat deur die Britse historikus AJP Taylor losweg geformuleer is: “Jou ideologie is soos jou eie asem: jy kan dit nie self ruik nie.”

In ’n ander konteks om ’n oplossing vir die dilemma met ideologie te verskaf, het die historikus Hermann Giliomee opgemerk: “Dit is veel beter om openlik te erken uit watter hoek jy kom wanneer jy jou storie vertel.”

Dit blyk dat die voormalige DA-leier, Helen Zille, wetend of onwetend in haar onlangse outobiografie, Not without a fight, die hoek of ideologie waaruit die DA kom, naamlik neoliberalisme, verklaar het.

Tragies vir die DA het neoliberalisme, wat in 1938 tydens ’n vergadering in Parys sy naam gekry het, klaaglik misluk. Aan die beginjare het neoliberalisme hom, ten spyte van uitspattige befondsing, op die periferie bevind, maar tydens die 1970’s, wat gekenmerk is deur ekonomiese krisisse aan beide kante van die Atlantiese Oseaan, toenemend binne die hoofstroom.

Die bewind van Margaret Thatcher en Ronald Reagan het neoliberalisme nie net verskans nie, maar verder uitgebou deur onder meer privatisering asook om belasting vir die rykes te sny.

Destyds, soos ook die DA dit vandag doen, is neoliberalisme bevorder en gepropageer onder die dekmantel van “daar is geen alternatief nie”. Tot so ’n mate dat dit verantwoordelik is vir die ekonomiese krisis van 2008, die opkoms van rykdom en mag soos vervat in die Panama-dokumente, die verval van openbare onderwys en gesondheid, die opkoms van Donald Trump, rassisme en etniese chauvinisme, asook die mislukking van linksgesindes.

Neoliberalisme staan staatsinmenging teen en sorg dat die markte seker maak elkeen verdien wat hom of haar toekom. Vakbonde word geringgeskat en kompetisie definieer menslike verhoudings. Armes wat nie kompeterend is nie, word gemarginaliseer.

Ten spyte van dié mislukkings van neoliberalisme glo die DA onwrikbaar daarin en beskou enige aanval hierop as ’n aanval op witheid.

Die oudjoernalis Christi van der Westhuizen skryf: “(Zille) dink ’n kritiese ontleding van witheid beteken daar is nie plek vir wit mense in die land nie.”

Die DA se (mislukte) neoliberalisme is gelyk aan ras-essensialisme, wat losweg as kleindorpie-denke gedefinieer kan word.

  • 7

Kommentaar

  • Kyk 'n mens na die bevolkingsgetalle van 1911 sal jy gou agterkom dat die krotbuurte
    wat ontstaan het, juis die gevolg was van die stigting van klein dorpies deur blankes.
    Mense wat in die omgewing gewoon het, is soos motte wat na 'n kers se lig getrek word,
    deur werksgeleenthede getrek en het hul om die dorpies gevestig.
    Dit is vandag nog die geval. Miljoene mense stroom uit Afrika na Suid-Afrika, almal op soek na werk en 'n inkomste. Hierdie mense sou beslis nie duisende kilometers te voet aflê en gevare trotseer nie as alles in hul land voorspoedig en vreedsaam verloop het nie.
    Dit is interessant om daarop te let dat veral aan die Rand die sluiting van myne talle mense dakloos gelaat is. So was daar in die omgewing van Benoni ongeveer 10 000 hawelose mense. Die mense is later in 'n tydelike tentdorp by Apex gehuisves deur die destydse Benoni Stadsraad.
    Later is 'n groot gedeelte van die mielieplaas Holfontein uitgekoop en is die dorp Daveyton (vernoem na 'n raadslid) daarop gestig. In daardie jare was daar inspekteurs van die Departement Nie-blankesake. By hulle ek het later verneem dat hul met bakkies vol vleis die dorpie besoek het. Omdat die mense so honger was en uit vrees dat hul oorval so word, het hul die vleis tussen die skare mense ingegooi wat soos honger wolwe daarop toegesak het ...
    Die dorp was volkome selfstandig, met eie sportvelde, busdiens, werkswinkels, meganies elektries ens, teater, kleuterskool en 'n eie padbouspan. Ek was later bevoorreg om heelwat buitelandse besoekers op 'n toer deur die dorp te neem.
    Ongelukkig het die dorpie erg vervalle geraak onder selfstandige bestuur en is later oorstroom deur talle plakkers wat hul op 'n naburige plaas gevestig het. Dit is nogal interessant om daarop te let dat van die hophuise wat in die tyd gebou is, tot vandag staande gebly het, terwyl vele wat later gebou is uitmekaar val.

  • Die een probleem wat Lloyd het is dat hy deurentyd duimsuigstellings maak soos hierbo, maar is nooit bereid om sy stellings te substansieer deur middel van debatvoering met sy lesers nie, want hy weet hy praat kaf. Die ander probleem wat hy het is dat hy nie verby 1994 kan of wil beweeg nie.

  • Volgens Lloyd se oogklappe stel hy dit so: "Die meeste klein dorpies het hul ontstaan in die 19de eeu as klein militêre administratiewe poste van koloniale besetting gehad. Dié dorpies het wortel geskiet rondom magistraatshowe en kantoorblokke."
    KAF!
    Die meerderheid blankes het op plase gewoon. Meeste klein dorpies het rondom 'n nuutgestigte kerkgebou ontstaan. Dit was 'n samekoms vir kerkbywoning, nagmaal en bazaars. Later het boere beide plaas en dorpshuise gehad, dorpshuise vir naweekbesetting; wat die oorsprong van die meerderheid plattelandse dorpe was. Min, behalwe vir groot dorpe, het militêre of magistraat-instellings gehad. Daar was wel die rondgaande hof, waar 'n magistraat van dorp tot dorp gery het om agterstallige plaaslike sake aan te hoor.
    Indien jy nie jou feite ken nie, skep jy maar jou eie!

  • Terloops. Om my stelling hierbo te staaf, daar is nie 'n klein dorpie wat nie 'n kerkplein of Kerkstraat het nie. Selfs Kerkplein in Pretoria is so benoem, juis omrede daar oorspronklik 'n kerk in die middel daarvan gestaan het.

  • Chris Marnewick SC

    Wat sal 'n goeie Afrikaanse woord wees vir "fake news"?

    Ek wil dit graag hier gebruik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top