Die DA-De Lille egskeiding: wat gaan dit ons kos?

  • 2

Patricia de Lille en Helen Zille (Foto: Democratic Alliance op Flickr, CC BY-SA 2.0, Wikimedia Commons )

De Lille se tyd in die DA is oor. Sy weet dit, hulle weet dit, ons weet dit. Al wat nou oorbly, is om te kyk wat bly staan wanneer die stof gaan lê.

As dit ’n egskeiding tussen twee persone was, sou daar onder redes vir egskeiding staan: onherstelbare verbrokkeling van die huweliksverhouding. Dit maak nie regtig saak wat die uitkomste van die verskillende hofgedinge is nie, die DA ly groter skade aan hul reputasie as wat De Lille ly. Dit verstom my elke keer dat die organisasie met die seepgladste openbare-verhoudinge-masjinerie in Suid-Afrikaanse politiek hulle hand so sleg kon oorspeel. Het hulle gedink antie Patsy gaan gedwee stert-tussen-die-bene loop omdat hulle so sê? Hulle het haar aangestel wetend dat sy ’n vegter is. Hulle het inderwaarheid daarop staatgemaak, en op haar reputasie as ’n persoon wat nie bang is om reuse te pak nie. Hoe kon hulle dink sy sal hulle anders behandel? Hoe kon hulle dink sy sal loop sonder ’n geveg? Sy het als opgeoffer om die huwelik met hulle aan te gaan: haar politieke party, haar reputasie, ’n groot stuk welwillendheid van haar ID-kiesers.

Natuurlik word daar wyd bespiegel oor presies wat die getuienis is wat die DA teen haar het. Daar word gewonder oor hoekom hulle so hard veg om die aangeleentheid uit die howe en uit die openbare oog te hou. Wat weet antie Patsy wat hulle bang is sy gaan uitlap?

Daar is natuurlik die argument dat sy deur hulle aangestel is en dat hulle haar kan herroep sonder redes. Die DA se probleem is egter dat hulle staatmaak op hul reputasie vir deursigtigheid, regverdigheid en respek vir die reg – al drie waardes wat taamlik gekneus by die anderkant van hierdie geveg gaan uitkom.

De Lille het nie regtig iets om te verloor nie – dis nie sy wat volgende jaar by die stembus deur die kiesers gelooi gaan word nie.

Jare gelede, toe alle egskeidings nog in die Hooggeregshof hanteer was, was ek opdraggewende prokureur in ’n egskeidingsaak. Gewoonlik gaan die hewigste gevegte in die egskeiding oor een van drie goed: toegang tot en beheer oor die kinders, onderhoud, en die verdeling van die bates, spesifiek die onroerende bates. Al twee partye wil die huis hê, al twee wil die kinders hê en niemand wil onderhoud betaal nie. Dis nou maar die aard van sulke sake. Ek kan net van een keer onthou dat die partye nie saamgestem het dat die huwelik verbrokkel het nie – die man het gedink hy’s gelukkig getroud en die vrou kon hom nie verduur nie.

In hierdie spesifieke egskeiding het als seepglad verloop. Die partye het saamgestem oor als. Die vrou kry die huis, die man stem in tot die bedrag onderhoud wat sy verlang, reëlings rondom die kinders is sonder veel gekibbel gefinaliseer. Die skikking is opgestel, al twee partye was tevrede daarmee. Dit sou die maklikste egskeiding van my loopbaan wees. Of so het ek gedink.

Op die hofdatum kom die ander prokureur bleek om die kiewe by my en my advokaat aan. Haar kliënt is nie meer tevrede met die skikking nie. Die probleem? Nie die huis, of die kinders, of die onderhoud nie. Nee, sy wil ’n pienk rusbank hê wat in terme van die skikking na my kliënt kom. My kliënt weier volstrek. Na ’n uur van gepoogde onderhandeling is ons nog niks nader aan ’n oplossing nie. Die twee partye wat so redelik oor al die ander goed was, haak vas op die skreeulelike rusbank. Die twee regspanne begin nou al nagmerries kry van wat gebeur wanneer ons voor die regter verskyn oor ’n egskeiding wat bestry word op een grond alleen. Uit desperaatheid bied ons later aan om almal, al twee spanne, deel van hul regsfooi te skenk vir die koop van ’n soortgelyke rusbank. Nee. Hulle was al twee bereid om regskostes van derduisende rande aan te gaan oor hierdie rusbank.

Dit het my jare geneem om te verstaan die geveg het nie regtig oor die rusbank gegaan nie. Hulle het net albei besef dat as hulle die rusbank laat gaan, is als oor: die huwelik, die gesinslewe, als. Solank hulle oor die rusbank kon stry, het hulle nie nodig gehad om die groter kwessie in die gesig te staar nie.

De Lille en die DA is nou besig om oor hulle weergawe van ’n pienk rusbank te stry, en soos daardie paartjie is hulle blind vir wat dit hulle kos. Hulle het nie regsprosesse nodig nie. Wat hulle nodig het, is huweliksberading, en berading om die rouproses te hanteer.

Anders as met ’n gewone egskeiding is dit nie net die twee partye en hul kinders wat die prys betaal van die geveg nie. In hierdie geval is dit die politieke landskap wat Ground Zero word.

Nie een van ons kan bekostig om in Ground Zero vasgevang te word nie.

  • 2

Kommentaar

  • Ek verstaan nie vir De Lille nie, alhoewel ek haar respekteer. Hoekom bedank sy nie en wag dat die DA haar skuldig of onskuldig bevind?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top