Die boosaardige broers Botha deur Adeline Radloff: ’n boekresensie

  • 0

Titel: Die boosaardige broers Botha
Skrywer: Adeline Radloff
Illustreerder: Alex van Houwelingen
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081883

’n Lekker Afrikaanse boek vir 'n Suid-Afrikaanse konteks. Hier het ons te doen met ’n boek vir ’n multi-kulturele en diverse Suid-Afrika.

Die verhaal is kort, maar is steeds van gepaste lengte vir die ouderdomsgroep ses tot nege jaar, soos aanbeveel deur die uitgewer. Dit is ideaal vir beginner-lesers asook vir voorlees vir die jongspan. Die illustrasies is van hoogstaande gehalte. Die waterverf-medium werk baie goed saam met die teks. Die illustrasies wat geïntegreer is met die teks as geheel maak dit interaktief genoeg vir die jonger lesers en storie-luisteraars. Tog is daar genoeg teks vir dié wat self wil lees om die storie te geniet sowel as om hul leesvaardighede te verbeter.

Hierdie spesifieke teks bring ’n belangrike gesprek na die tafel, te wete of kinders hierdie boek sal lees en hoe die mark lyk vir sulke boeke.

Daar is ’n tekort aan boeke wat die diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing aanspreek en op verteerbare manier aan kinders voorstel. Terselfdertyd moet dit nie deur politieke korrektheid oorheers en in kinders se kele afgedruk word nie – hierdie boek hanteer Suid-Afrika se multikulturele identiteit op ’n geïntegreerde manier, sonder om politieke argumente op die voorgrond te plaas.

Edward en Ngwaru (2010) se verslag omtrent die publikasie en gebruik van Afrika-tale vir kinderliteratuurtekste wys op verskeie interessante tendense.

Volgens hulle verslag, inaggenome dat hul data tussen 2007 en 2009 ingesamel is, is daar hoofsaaklik een klagte vanaf uitgewers van Afrikataalboeke: “Publishers complain that booksellers do not stock African language books and booksellers counter that this is because they do not sell” (Edward & Ngwaru, 2010: iv).

Tesame met hierdie klagte meld die verslag ook dat “Africans dó read when the content is affordable, accessible and of interest” (Edward & Ngwaru, 2010: v). Hier dink ek oorbrug Die boosaardige broers Botha (2017) hierdie gaping tot ’n mate, omdat dit nie in ’n Afrika-taal geskryf is nie, maar steeds die multikulturele aard van die hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing voorstel.

Ter verduideliking en om nie te veel van die storie weg te gee nie: Bulelani is die jongste Botha-boetie. Sy drie veel ouer broers Breker, Brom en Buskruit Botha is baie anders as hy. Hulle verteenwoordig die tradisionele manlike stereotipes. Bulelani is aangeneem deur die Bothas nadat sy gesin verongeluk het. Hy is deel van wat sommiges ’n gemengde gesin sal noem.

Aanvanklik lyk dit of die broers glad nie goed oor die weg kom nie; hulle raas en skel op Bulelani en hy probeer hulle met allerhande planne terugkry en hul ’n les leer. Later in die verhaal kom dit aan die lig dat Bulelani by die skool geboelie word. Wanneer die ouer broers daarvan uitvind, besluit hulle om vir Bulelani te help. ’n Tipiese net-familie-mag-mekaar-terg verhaal.

Die verhaal maak breedvoerig gebruik van die parodie asook die literêre tradisie van die satire wat dateer uit die antieke Griekse en Romeinse literatuur. Dit word gebruik om ernstige dinge soos tradisies en stereotipes op te stuur, sonder om afbreuk te maak daaraan. Alhoewel die spot met hierdie stereotipes gedryf word, is dit gewoonlik ter wille van ’n goeie uitkoms.

Die satire is ’n literêre kunsvorm wat dateer uit die Latynse en Griekse poësie. Die etimologiese agtergrond verskaf ’n goeie omskrywing oor dit wat Die boosaardige broers Botha (2017) is – ’n satire wat die parodie suksesvol ontgin.

“Satura” en later “Satira” (Latyn) beteken “’n bonte mengelmoes, ’n deurmekaarspul” (Pretorius 2013). In dié Latynse poëtiese vorm word menslike swakhede en wanpraktyke in ’n gemeenskap uitgewys en die spot daarmee gedryf (Pretorius 2013).

Lucilius word as die pionier-digter van die satire beskou (Pretorius 2013), alhoewel die satire soos dit vandag gebruik word, na die Latynse digters Horatius en Juvenalis se werk verwys.

In die geval van Die Boosaardige broers Botha (2017) is Horatius se tipe satire toepaslik. Horatius is optimisties en hy het geglo die mens is nie van nature boosaardige nie, maar dat hul tekortkominge genees kan word (Pretorius 2013). Hy benut eerder humor as sarkasme wat Juvenalis se voorkeur tegniek is (Ackerman 2010:6–7). Hy lag saam met dié wat hy spot en hy rig sy satire op stereotipes eerder as herkenbare individue. Hy wil sy gehoor oorreed om hul swakhede te oorkom. Sy lag is vriendelik en nie veroordelend nie.

Laastens kan ’n satire in hoofsaaklik drie vorme voorkom. Eerstens as ’n monoloog waar “Doemanie” deur Adam Small ’n relevante voorbeeld uit die digkuns is. Tweedens kan ’n parodie by uitstek ’n goeie satire skep; DJ Opperman se parodie “Met Apologie” illustreer dit duidelik. Derdens kan ’n satire ook in ’n verhalende of dramatiese vorm voorkom. Magersfontein, O Magersfontein (1976) deur Etienne Leroux is ’n voorbeeld van ’n satire in verhalende vorm.

Die boosaardige broers Botha (2017) val tussen ’n parodie en verhalende satire. Dit is opmerklik ’n verhaal. Die satire sal nie suksesvol wees indien die hele verhaal nie gelees word nie. Tog parodieer die verhaal verskeie stereotipes in die Suid-Afrikaanse samelewing. Ons het die drie broers wat die tradisionele manlike kwaliteite van jag, fisieke krag en uithouvermoë voorhou. Hulle stel die stereotipes daar, maar teen die einde van die verhaal word die einste stereotipes op hul kop gedraai.

Die boek verras die leser op ’n ongewone manier deurdat Bulelani se broers hom boelie, maar die hele verhaal verander van perspektief met die laaste tien bladsye. Dit is juis dit wat van hierdie kinderboek ’n suksesvolle teks maak. Dit laat die leser aanvanklik ongemaklik voel totdat die perspektief op die gebeure in die verhaal verander word.

Hierdie teks is besonders en is ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse kinderliteratuurkorps.

Bibliografie:

Ackerman, M.F. 2010. Satire, spraakvryheid, sensuur en siviele aanspreeklikheid – Portretjie en ander verhale. MA-verhandeling. Universiteit van Pretoria. https://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/26105/dissertation.pdf?sequence=1 (3 Desember 2017 geraadpleeg)

Edwards, V. & Ngwaru, J.M. 2010. African Language Publishing for Children: Where next? University of Reading: National Centre for Language and Literacy, VK. http://www.praesa.org.za/files/2012/06/Africanlanguage-Publishing-where-next.pdf (14 Junie 2016 geraadpleeg)

Pretorius, R. 2013. Satire. http://www.literaryterminology.com/index.php/lemmas/25-s/320-satire1 (3 Desember 2017 geraadpleeg)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top