Die boomorkes

Die wind het ’n lugambulans.

Waar dit lyk of die bries gaan lê, kry dit nuwe lewe onder die wieke van swerms swaels, duiwe en hadedas. Briese in die lanings hoë bome ken dit goed. Soms dans dit met die wolke of help ’n vuurtjie om op dreef te kom. Soms vee dit net oor die gehawende gesig van ’n stad en dan haal dit weer asem. Telkens sorg dit vir musiek.

Soms bring die wind drome, soms is dit self ’n droom, want kyk waar waai dit oral: Rottang is die oerskedels van tafels en stoele wat al jare lank op grasperke wei. Vandag sien jy nie meer hul kragtige skofte, die stokkiesoë en die maanhare waarop die wind eeue gelede harp gespeel het nie. Soveel is tot niet of uit die oog onder die skrikkelbewind van horlosies. Groen longe word met teer verstop. Die blou dam hou darem aan met eindeloos uittorring aan die sand.

Meeue ryg krysend die ligblou voor die aand los. Wanneer die nag oor die wêreld trek, is die openinge in daardie digte potblou wol al wat skyn.

Bome is die seisoene se stoorplek vir takke, blare, neste, hangmatte, vryers en stormlampe.

Valleie verbeel na binne en wys gestolde wolke van klip na buite. Vroegblou sal die duiwe aan die bome bot en hul beddegoed van skaduwee los op grasperke se gehawende ferweel. Dan begin suikerbekkies gate in die tyd pons en kosbare sekondes in blomkelke bêre.

Êrens, in ’n droom tussen ander, is ’n wier van ’n vrou. Sy borsvoed ’n ruimtetoeris met maanwater. Terselfdertyd voer sy beesharte vir haar papegaaivisse wat hulle steriel sal maak. Uit estetiese oorwegings wil sy nie die mooi duur bak laat oorbevolk nie. Bo die mat waar ’n sonkol ’n towertapyt vir die ruimtetoeris maak, hang ’n bewertjie gemaak van vlindervisse en meermin-miere. Die wêreld van ’n ruimtetoeris is die heelal.

’n Ent weg van die vrou se huis staan ’n groot boom. Swaeltjies het daar nes gemaak soos jy nie kan glo nie, uit ’n verwaarsloosde musiekwinkel daarnaby of een waarby ingebreek en toe so laat staan is. Kitaarsnare roes in die weefwerk van riete en blare; elke nes uitgevoer met versnipperde bladmusiek. Uit een nes staan ’n plektrum soos ’n vin, ’n windboot reg vir al die strome. Die swaeltjies, besige orkeslede, uitgevat in hul konsertklere, bou hul neste uit halms vergeet, halfklaar drade van gesprekke en enigiets wat sou oorwaai. Hier en daar pik ’n orkeslid na ’n stukkie bladmusiek.

Die dirigent daag op, die dirigent wat al vir eeue die werke van die grotes laat opklink. Hy het al die wêreld se beste struikkwartette, die ensembles eike en denne en die knoetsige soliste teen hoë kranse sónder bladmusiek gedirigeer.

Die dirigent kom ingewaai oor die boom vir ’n werk vol melankolie, want uit die bladmusiek van die boom se tuisorkes kry die wind net die stiltes tussen die note om te speel. Bo-oor die applous van blare bly vleg die wind die stilte met die nag.

 

Kommentaar

  • Willem Boshoff

    Is ek reg om te dink dat hierdie 'n gedig in prosa-vorm is? Baie treffend en meesleurend!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top