Die boek in krisis: Die onsigbare voet van marksensuur

  • 0
Laurens van Krevelen het op 18 Desember 2010 die jaarlikse Nederlandse PEN-lesing by De Balie in Amsterdam gehou (http://www.debalie.nl). Francis Galloway het die lesing in Afrikaans verwerk. Ons hoop dat die plasing van hierdie lesing ’n gesprek sal stimuleer oor die stand van die (Afrikaanse) boekbedryf. Is daar ook hier by ons tekens van die wêreldwye impak van winsbejag en marksensuur? Is daar ’n afname in die verskeidenheid en geskakeerdheid van die boek-aanbod? Watter teenvoeters vir hierdie tendens is besig om te ontwikkel (of nie)?  

 
Laurens van Krevelen, PEN-lesing, Amsterdam, 18 Desember 20101

 

Die Amerikaanse boekbedryf en die neoliberale markekonomie

Die New Yorkse sakeman en kunsversamelaar Si Newhouse, een van die rykste Amerikaners van dié tyd, koop in 1980 ’n besonderse skildery en ’n besonderse uitgewery. Die skildery was ’n onvoltooide doek van Piet Mondriaan, Victory Boogie Woogie. Newhouse het dit veral gekoop omdat sy vrou se naam Victoria is, en hy het $2,5 miljoen daarvoor betaal. Die uitgewery was die Random House-groep, met befaamde drukname soos Knopf, Vintage, Pantheon, Times Books en natuurlik Random House self, die pronkstuk van die literêre en algemeen-kulture uitgewerye in die Verenigde State. Newhouse betaal $60 miljoen daarvoor.

In 1997 verkoop hy Victory Boogie Woogie vir $40 miljoen aan die Stichting Nationaal Fonds Kunstbezit, wat die bedrag daarvoor van die Nederlandsche Bank ontvang het as geskenk aan die Nederlandse volk toe daar besluit is om afstand te doen van die geldeenheid die gulde. Die skildersdoek is sedertdien ’n besoekerslokaas in die Haagse Gemeentemuseum. Newhouse het ’n stewige wins gemaak op die skildery: sestien maal die aankoopbedrag. Hy het die uitgewery Random House in 1998 aan die Duitse mediareus Bertelsmann verkoop vir meer as $1 miljard, dus ook teen ongeveer sestien maal die aankoopprys.

André Schiffrin vertel in sy boek The business of books dat Newhouse  hierdie opvallende resultaat met die verkoop van Random House kon bereik ondanks die feit dat laasgenoemde die intellektuele waarde van die besigheid verlaag het met sy ingrype in die bedryf daarvan, en ondanks die belasting-afskrywing van miljoene Amerikaanse dollar op oninbare voorskotte vir mislukte blitsverkopers. Schiffrin sou daarvan weet, want hy was tot 1990 die direkteur van Pantheon, een van die glorierykste drukname van Random House. Hy het 30 jaar daar gewerk en toe gebots met Newhouse en sy tweede in bevel, Alberto Vitale, oor die behaalde wins en die skrywerskeuse van die publikasielys. Newhouse en Vitale het gevoel dat ’n wins van gemiddeld drie persent op die netto omset, soos internasionaal gebruiklik in die uitgewersbedryf, heeltemal onvoldoende was; hulle teiken was minstens 15 persent. Hulle dring daarop aan dat die wins van die besigheid vinnig opgestoot moet word deur middel van minder titels, minder personeel en met ’n ander publikasieprogram. Met verwysing na die werk van Claude Simon en Carlo Ginzburg, van wie hy nog nooit gehoor het nie, vra Vitale watter sin dit het om boeke uit te gee met sulke lae drukoplae. Hy dring ook daarop aan dat die uitgee van “linkse” skrywers gestaak moet word.

Teen 1990 het dit vir Schiffrin nie meer sin om by Random House te werk nie; hy verduidelik die situasie aan sy medewerkers en bedank. Daarna besluit al sy personeellede om ook te bedank. Hierdie gebeurtenis het ’n skokgolf deur die uitgewerswêreld in Amerika en daarbuite gestuur. Schiffrin was die boegbeeld van die Amerikaanse literêre uitgewery, gesaghebbend omrede sy visie en gerespekteerd vir sy kennis van die letterkunde; die Pantheon-publikasielys was kosmopolities en oorspronklik. Hoe kon so ’n tragedie by Random House plaasvind?

Newhouse se stompsinnige werkswyse het nie afgewyk van dit wat destyds in ander mediafirmas plaasgevind het nie, maar dit was meestal die geval by die groot, beursgenoteerde besighede wat bestaan het uit koerant-, tydskrif- en kommersiële boekuitgewerye vir die massamark – nie in die literêre sektor nie. Sy werkswyse was die gevolg van die onstuitbare opkoms van die sogenaamde neoliberale markekonomie, wat voorrang gegee het aan die belange van aandeelhouers bo die belange van die besighede self, hulle personeel en produkte. Bonusse word die lokaas vir sakebestuurders om, kom wat wil, daarvoor te sorg dat die hoogste moontlike winste behaal word. Hierdie winsbejag kom oral in die beursgenoteerde bedryfslewe voor, eers veral in die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk, maar gou ook op die Europese vasteland.

Die gevolg van die winsbejag was, behalwe groot bonusse vir sakebestuurders en geldelike voordele vir aandeelhouers, ’n vloed van samesmeltings van firmas, die aflegging van groot getalle personeel en enorme prysstygings  vir die leserspubliek. Die mediabedryf rig hom sedertdien steeds meer op die massamark, omdat daar gehoop word om op hierdie wyse die winste op te stoot, en ook om meer reklame-inkomste te genereer. Die  kommersialisering in Amerika was hoofsaaklik gerig op maksimale populêre verstrooiing en die vermyding van alles wat moontlik kontroversieel kan wees. Hierdie wekroep word deur die meeste koerante en tydskrifte gevolg en daar vind grootskaalse afleggings en herstrukturering plaas. Beursgenoteerde boekuitgewerye moes hierdie voorbeeld volg en dit lei daartoe dat die blitsverkoper oppermagtig word in die boekhandel en dat die verskeidenheid en geskakeerdheid in aanbod verdring word.

Die Nederlandse boekbedryf en die neoliberale markekonomie

In Nederland word die nuwe tendens in ondernemingsbeleid byna onmiddellik oorgeneem deur die internasionale Elsevier-konglomeraat onder leiding van Pierre Vinken. Slegs die afdeling vir wetenskaplike navorsingspublikasies voldoen aan die nuwe eis van 20 persent wins, maar die dagblaaie en die boekuitgewerye by verre nie. Die dagblaaie van Elsevier, die NRC Handelsblad en ADNL, word eers oorgesien, omdat hulle oor ’n aantreklike finansiële eienskap beskik, naamlik dat die intekengeld vooruit betaal word, en dit ’n gunstige effek op die kontantvloei van die onderneming het. Voorlopig kon die koerante dus maar bly. Maar dit het gou vir Vinken duidelik geword dat die boekuitgewerye nooit die winsdoelwit van 20 persent sou kon behaal nie, omdat daar in Nederland ’n vasgestelde boekprys-sisteem asook ’n gemeenskaplike verspreidingstruktuur via die Centraal Boekhuis bestaan waardeur die wedywering tussen uitgewerye ingeperk word. Bowendien was die Nederlandse taalgebied volgens Vinken te klein om ’n voldoende winspeil te bereik. Daar is dus besluit om die groot Elsevier-boekafdeling af te skaal en daarna daarvan ontslae te raak, soos wat gebeur na ’n drastiese reorganisasie in 1986.

Wat die Engelstalige wetenskaplike vaktydskrifte betref: die jaarlikse intekengeld word aansienlik verhoog, sodat die groei van die wins van die onderneming opgestoot word deur die bestellings van wetenskaplike biblioteke van oor die hele wêreld. Die beroemde Amerikaanse boekuitgewery Dutton, wat in die 1970s deur Elsevier oorgeneem is, is hardhandig tot winsverbetering aangespoor, lank voordat Newhouse dieselfde finansiële eise aan Pantheon gestel het. As gevolg van hierdie eis van Elsevier het die eens trotse uitgewery agteruitgegaan; wat oorgebly het, is in 1986 aan Penguin verkoop. Die Amerikaanse boekbedryf het spottend na “die lomp Hollanders” verwys. 

Die Kluwer-konglomeraat het – voordat dit in 1986 opgegaan het in WoltersKluwer – versigtiger omgegaan met sy Nederlandse boekuitgewerye as wat Elsevier gedoen het. Die onderneming maak sy wins veral met die regs- en opvoedkundige afdelings, en om sterk te groei koop dit in Duitsland, Frankryk en Skandinawië uitgewerye wat op dieselfde gebiede publiseer en ’n sterk markposisie het. So koop Kluwer die Duitse uitgewery Luchterhand, al het dit ook, behalwe ’n sterk publikasielys in die regte, ’n toonaangewende literêre uitgewery gehad (Günter Grass was een van die Luchterland-skrywers). En in Swede koop Kluwer die beroemde uitgewery Norstedts, ’n opvoedkundige en wetenskaplike uitgewery, wat ook ’n manjifieke literêre afdeling het. Maar Kluwer stel glad nie belang in die literêre afdelings van hierdie uitgewerye nie en hulle word spoedig uitgestoot. Met groot skade en moeite het hulle met nuwe finansiers weer op dreef gekom, maar die ou glorie kon nie herwin word nie. Kluwer se eie Nederlandse boekafdeling word wel hierdie lot gespaar: dit is sonder noemenswaardige skade in die 1990’s deur WoltersKluwer ’n as selfstandige besigheid gevestig.

Marksensuur

Soos te verwagte was, word Schiffrin na sy opspraakwekkende bedanking in 1990 van alle kante deur die pers ondervra. In een onderhoud met die Spaanse dagblad El País beskryf die onderhoudvoerder die Pantheon-katastrofe met die term “marksensuur”. Sover ek weet, is dit die eerste maal dat dié term gebruik is, en onmiddellik duik dit oral op, sowel in die boekbedryf as in die sosiale wetenskappe.

Reeds in 1991 bestee twee sosiaalwetenskaplike studies, deur Sue Curry Jansen en John Keane, aandag daaraan. Hulle plaas die tendens wat aan die gang was (en nog steeds is), in ’n groter konteks: Jansen doen dit ten opsigte van die stryd om spraakvryheid en Keane ten opsigte van die evolusie van die demokrasie. Ook die veglustige kommunikasiekenner Robert W McChesney, die stigter van die Amerikaanse Free Press-beweging met ruim ’n halfmiljoen lede, skryf daaroor. Jansen meen dat marksensuur ’n regstreekse gevolg is van die oorgang van die industriële kapitalisme na die inligtingskapitalisme toe die inligtingsektor gemonopoliseer is en die openbare kennisdomein deur die staat oorgedra is aan kommersiële besighede. Volgens Jansen het dit daartoe gelei dat die produkte wat op die idee-mark aangebied word, steeds meer lyk soos gestandaardiseerde handelsware wat op ’n “vervoerband” geproduseer word. Keane merk op dat gekommersialiseerde uitgewerye lesers soos markgedrewe verbruikers behandel, en nie soos aktiewe burgers met eie wense en voorkeure nie.

Onlangs het ’n baanbrekende boek oor die kultuuromwenteling van die uitgewerswêreld, deur die kultuursosioloog John B Thompson, verskyn waarin hy die stormagtige veranderinge wat Schiffrin uit eie ervaring beskryf, bevestig. Thompson gebruik nie die woord “marksensuur” nie, maar hy konstateer droogweg dat die redakteurs van uitgewerye die realiteit van die mark deel gemaak het van hulle uitgeebeslissings en dat die verskeidenheid en geskakeerdheid van die boekmark dramaties afgeneem het.

Marksensuur het dus alles te make met die sterk-beklemtoonde wins-eise wat die beleggers op die beurs stel, en met die alles-oorheersende invloed van die neoliberale markideologie van die Chicago School of Economics, wat die hele samelewing aan die “onsigbare hand van die mark” wil oorlaat.

Beginselvaste kritiek op hierdie dogmatiese ideologie kom van die kant van die Kaliforniese ekonome EK Hunt en Ralph D’Arge wat, met verwysing na die omgewingskade en die sosiale “dumping” van die ongebreidelde werking van die mark, die “onsigbare voet” van die vrye mark uitlig. Marksensuur is inderdaad ’n duidelike voorbeeld van die verwoestende “onsigbare voet” wat in die huidige boekmark die literêre en kulturele boek vertrap.

Hoewel kritiese, dissidente en kontroversiële kunswerke en boeke in die hiperkommersiële massamark van ons tyd nie werklik verbied word nie, soos dit onder die fascisme en stalinisme gebeur het, kry hulle steeds minder geleenthede om die leserspubliek te bereik. Die leserspubliek word te klein geag om boeke van hierdie aard winsgewend op die veranderde mark te kan bring.

Marksensuur en die Nederlandse boekbedryf

Ook in Nederland begin die uitwerking van marksensuur merkbaar word by uitgewerye en boekhandelaars – veral vir skrywers, maar ook vir oplettende boekkopers, al word daar nog steeds baie boeke van hoë kwaliteit uitgegee, en al is daar nog boekhandelaars wat bereid is om ruimte te bied vir hierdie soort boeke. Die vraag is egter: Hoe lank nog? Volgens Jansen is marksensuur, danksy die onsigbaarheid en die outomatiese ingryping daarvan, effektiewer en verraderliker as ander vorme van sensuur.

Uitgewerye en boekwinkels was van ouds bedrywe met lae winsgrense. Literêre uitgewerye en “goeie boekwinkels” was byna altyd onafhanklike besighede waarvan die uitgewer of boekhandelaar die eienaar of mede-eienaar was. Die eienaar het meer belang gestel in die kulturele missie van die besigheid as in enorme wins, en bowendien het hy geweet dat groot winste nou eenmaal nie behaal kan word met literêre of kulturele boeke nie. Deur konglomeraatvorming het die kommersiële norme van die boekwêreld, veral vanaf die 1980’s toe die winsverwagtinge van beleggers op die effektebeurs al sterker beklemtoon is, verander. Beursgenoteerde mediareuse soos Elsevier onderwerp hulle besighede daaraan om hulle aandeelhouers tevrede te hou. Alle boektitels wat minder winsgewend as die norm was, of te kontroversieel en dus te riskant is om ’n grootskaalse sukses te word, word nie meer in die publikasieprogramme van hierdie besighede opgeneem nie. Die deur die owerheid gestimuleerde neoliberalisme het daartoe gelei dat winsmaksimalisering oral mode geword het. Die tydperk van die hiperkapitalisme het in alle hewigheid aangebreek, en ons verkeer nog steeds midde daarin – ondanks die reeks finansiële krisisse wat daardeur ontstaan het.

Dit begin duidelik word dat ook die Nederlandse boekmark hom op die afdraande pad  van marksensuur bevind. Die bestuurder van ’n Nederlandse “blitsverkoper”-uitgewery het die afgelope Oktober tydens die Frankfurt Buchmesse teenoor ’n joernalis van die vaktydskrif Boekblad laat blyk dat hy verbysterd is oor hoe uitgewerye, net soos handelsbanke, niks geleer het nie – daar word nog steeds hoog gebie op onmoontlike titels asof die bedryf nie in ‘n krisis is nie. Hy het gelyk: die Nederlandse boekwêreld het in die afgelope dekade die mark oorspoel met heeltemal te veel rommel wat as opgeblaasde “blitsverkopers” deur uitgewers aangekoop  en op die mark uitgestort is. Die boekhandel het hierdie tendens sterk gestimuleer deur sy kern-aktiwiteit te verskuif van ’n breë aanbod na ’n beperkte aantal blitsverkopers wat alle ander nuwe boekuitgawes verdring. Die gevolg hiervan is dat die troue leserspubliek volkome verwar word deur die dwang van die mark om veral blitsverkopers nie mis te loop nie, terwyl die geskakeerde literêre kultuur langsaam in die vermaaklikheidsbedryf  verdrink.

Kulturele aardbewing in die boekbedryf

Robert McCrum, wat jare lank hoofredakteur van die uitgewery Faber & Faber was, vat die onlangse grootskaalse veranderinge in die boekwêreld treffend saam in ’n artikel in The Observer. Volgens hom was die eerste dekade van die 21ste eeu ’n periode van groot kulturele aardbewings vir die boekbedryf. As mens so tien, twintig jaar sou terugkyk, is die landskap nouliks herkenbaar. Destyds het skrywers, agente, uitgewers en boekhandelaars hulle literêre sake nog presies soos hulle voorouers bedryf. Maar sedertdien het die verhouding tussen woorde en geld heeltemal verander. Aan die aanvraagkant stoot uitgewers hulle winsdoelwitte genadeloos op van ’n gemaklike drie persent tot ’n noodlottige 15 persent. Wat die aanbodkant betref, bereik ’n bevoorregte minderheid “inhoudverskaffers” (ook skrywers genoem) die groot leserspubliek en verdien daarmee fortuine in ses of sewe syfers. Hierdie totale verandering van die boekmark lyk soos ’n goudstormloop, maar bring nie vir elkeen die eerste prys nie. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog was daar meer as 300 boekwinkels in New York. Vandag is daar skaars 30 oor. Die verbysterende skaal waarop die transformasie voltrek is, het die meeste wat getuies daarvan was, net so verdwaas gelaat as oorlewendes van ’n natuurramp.

Nederland is, in vergelyking met Amerika en Engeland, ondanks alles nog steeds ’n boekparadys, onder andere danksy die vasgestelde-boekprys-sisteem en die beskerming wat Nederlands as die belangrikste taal van die boekmark bied, maar ook daar het die aantal “goeie boekwinkels” (ryk aan verskeidenheid) die afgelope jare dramaties afgeneem – veral op die platteland, maar wel ook in die groot stede. Waar daar omstreeks 1990 nog ongeveer 200 aktiewe boekwinkels met ’n breë aanbod was, bestaan daar nou miskien nog 50. Die blitsverkopergier heers meer as ooit en word aangewakker deur kommersiële prystoekennings, deur die gesamentlike veldtogte van die Collectieve Propaganda van het Nederlandse Boek (CPNB) wat die inkrimping van die aanbod in die hand werk, en deur die fokus van die hele boekbedryf op die nasionale top-60-lys wat elke week uitgewers en boekhandelaars byna dwing om aan niks anders aandag te gee nie. Op die top-60-lys is daar nog steeds ’n aantal literêre en kulturele boeke, maar die getal neem geleidelik af ten gunste van sensasionele en opgeblaasde (ge-“hypte”) boeke wat die botoon voer. Die literêre boeke wat nie op die top-60-lys verskyn nie, is gedoem om vinnig van die verkooptafels by boekwinkels verwyder te word, en boeke wat geen kans staan om op die lys te verskyn nie, het ’n opdraande stryd om enigsins uitgegee te word uit vrees dat hulle nie deur boekhandelaars aangekoop sal word nie. Hierdie lot tref steeds meer skrywers, sowel debutante as erkende skrywers, van wie ’n vorige boek nie aan die winsnorm beantwoord het nie.

Schiffrin het die dekansieverskynsels van die Amerikaanse boekmark onlangs heel pittig tipeer. Hy voer aan dat daar eers ’n tendens van “kindermoord” was, waartydens nuwe titels sonder groot verkoopverwagting doodeenvoudig laat val is. Daarna is oorgegaan na “aborsie”, waartydens uitgeekontrakte vir boeke wat nie meer langer finansieel aantreklik is nie, beëindig is. En nou gaan dit om “voorbehoeding”: daar word voortydig gesorg dat sulke titels glad nie meer deel word van die produksieproses nie.

Die goudkoorsomgewing in die boekbedryf oefen bowendien ’n merkbare invloed uit op skrywers om, kom wat wil, te voldoen aan die eise van die populêre massamark. Dit kan afgelei word van die styl, die woordkeuse, die keuse van onderwerpe, aan die vermyding van alles wat lesers as moeilik sou kon ervaar, want skrywers neem aan dat lesers alleenlik op soek is na spanning en ontspanning. Sulke skrywers pleeg in werklikheid verraad teenoor hulle talent, omdat hulle bang is dat hulle andersins deur die mark “afgedank” sal word – soos wat met talle van hulle kollegas gebeur het.

Teenargumente deur die boekbedryf, dat vergelykbare verskynsels maar altyd oral in die besigheidslewe voorkom, dui daarop dat daar nie meer geglo word aan die uitsonderingsposisie van boeke wat hul plek op die mark verdien as draers van die vrye woord nie. Boeke het verbruikersgoedere geword; verkoopsukses is die nuwe kenteken van kwaliteit, soos kyksyfers by televisie en besoekersgetalle by museums. Alleen die mees winsgewende verkoopsware kry nog ’n plek op die mark. Die boekmark is as gevolg van die veranderde ondernemingsbeleid van uitgewerye en boekwinkels van ’n kulturele mark in ’n vermaaklikheidsmark omskep, gerig op ’n heel ander koperspubliek as wat in die vorige eeu die geval was. Dit lyk asof hierdie sluipende neoliberale revolusie in die boekmark ’n onomkeerbare proses is. Is dit nog moontlik om ’n strukturele teenpool vir die skaamtelose marksensuur daar te stel?

Is daar ’n teenvoeter vir marksensuur in die boekbedryf?

Schiffrin gee in sy onlangse boek Words and money (2010) raad wat bestem is vir ’n kleinskaalse en vakkundige  praktyk van boeke uitgee en verkoop wat aan die rand van die kommersiële boekmark kan bestaan. Hy wys op die verblydende voorbeeld wat talle Amerikaanse universiteitsuitgewerye die afgelope dekades verskaf het, deur naas ’n publikasieprogram van akademiese titels ook belangrike literêre en essayistiese boeke uit te gee vir die algemene leserspubliek. Geleidelik het ’n groot deel van die nuwe titelaanbod op die gebied van poësie, eksperimentele prosa, filosofie, vertaalde literatuur en kuns verskuif vanaf die kommersiële uitgewerye na die universiteitsuitgewerye, waarvan daar in die Verenigde State ongeveer honderd is. Hierdie voorbeeld sou ook in Europa nagevolg kon word deur universiteite – universiteite het ’n tradisie van samewerking met uitgewerye; op ’n universiteit vind daar spontaan ’n stimulerende wisselwerking tussen skrywers, studente, dosente en afgestudeerdes plaas.

’n Vergelykbare inisiatief is destyds deur die befaamde Franse sosioloog Pierre Bourdieu onderneem met sy uitgewery vir sosiologie, Raisons d’Agir, wat vanuit in sy kantoor by die Collège de France bedryf is; die uitgewery is deur homself en sy assistente gelei. Op hierdie wyse het Bourdieu talle studies uitgegee wat geen kans sou staan by
kommersiële uitgewerye nie, maar wat toe, ondersteun deur sy reputasie, met sukses op die mark geplaas is. Dit lyk asof die sosiologiese uitgewery Het Spinhuis wat in 1990, as afdeling van die sosiologiese instituut van die Universiteit van Amsterdam gestig is, deur die voorbeeld van Bourdieu geïnspireer kon wees, maar die eksperiment is nie voortgesit nie en in 2005 is die publikasielys deur ’n kommersiële onderneming oorgeneem.

Verskillende universiteite in Amerika het ook literêre uitgewerye in die letterefakulteite  gestig sonder dat dit ’n “universiteitsuitgewery” is. Een suksesvolle voorbeeld is die innoverende uitgewery Dalkey Archive, ’n inisiatief van die University of Southern Illinois, wat sedertdien gevolg is deur ander soos die uitgewery Open Letter Books, wat spesialiseer in “moeilike” vertaalde literatuur, en wat intussen groot bekendheid verwerf het. Open Books van die University of Rochester is ’n ander voorbeeld. Die Nederlandse semi-akademiese uitgewery Vantilt (Nijmegen) en die Historische Uitgeverij (Groningen)  herinner nogal aan die Amerikaanse voorbeelde, al is hulle op organisasievlak heeltemal onafhanklik.

Daar is ook ’n ander moontlikheid om te ontkom aan die markhindernisse wat deur die kommersiële boekwêreld opgerig word. Dit is al in 1969 deur ’n studentekollektief in Stockholm in werking gestel toe hulle die koöperatiewe uitgewery Ordfront gestig het vir die uitgee van literêre, politieke en kulturele boeke wat geen kans sou staan by gevestigde uitgewerye nie. Ordfront behoort aan die leser-lede. Hulle betaal ’n jaarlikse bydrae en daarvoor ontvang hulle die tydskrif Ordfront en kan hulle dan inteken op die tientalle nuwe boeke wat jaarliks in die tydskrif aangekondig word. Omdat daar duisende lede is, kan boeke op grond van die intekenstelsel byna sonder risiko uitgegee word. Die boeke van Ordfront is meestal druk in die pers bespreek, sodat hulle ook in die algemene boekhandel tereggekom het. Ordfront bestaan nog steeds. Die ledesisteem herinner nogal aan dié van die Nederlandse Wereldbibliotheek van die vorige eeu. Dalk sou Nederlandse uitgewerye soos SUN Uitgeverij van Nijmegen en die Socialistische Uitgeverij Amsterdam, wat in dieselfde jare as Ordfront en met vergelykbare oogmerke gestig is, nog steeds as selfstandige uitgewerye kon bestaan het as hulle eweneens ’n koöperasie met geïnteresseerde lesers georganiseer het.

Schiffrin wys ook daarop dat talle plaaslike owerhede in Europa dit belangrik vind om plaaslike kulturele aktiwiteite, wat ’n nasionale reputasie sou kon verwerf, te stimuleer. Verskillende staatsdepartemente in Frankryk en provinsies in Spanje verskaf subsidies om nuwe besighede te loods of bekostigbare kantoorruimte in ’n kulturele sentrum of museum aan nuwe literêre uitgewerye te bied. Sulke streeksuitgewerye speel ’n betekenisvolle (nasionale) rol deur nuwe, eksperimentele skrywers te lok. In Nederland is die Middelburgse “Slibreeks” ’n voorbeeld van ’n dergelike literêre streeksuitgewery, gesteun deur die provinsiale owerheid, al is die inisiatief nog te marginaal en te uitsluitend streeksgerig om ook ’n rol te kan speel in die ontwikkeling van die Nederlandse literatuur. Literêre uitgewerye sou met streeksteun gestig kon word in plekke soos Rotterdam, Maastricht, Zwolle, Groningen en Arnhem.

Hier word nie ingegaan op alternatiewe publikasiemoontlikhede soos druk-op-aanvraag, e-tydskrifte, blogs en aflaaibare PDF’s nie, veral omdat daar nog nie praktiese oplossings is om effektiewe publisiteit en promosie vir hierdie publikasievorme te bedryf nie, wat meebring dat die algemene leserspubliek meestal nie op hoogte daarvan gebring kan word nie.

Hoe gemaak met die voortwoekerende marksensuur in Nederland?

Die voortwoekerende marksensuur sal eers deeglike aandag van skrywers, uitgewers en boekverkopers wat ernstig is oor hulle bedryf, moet kry. In Nederland, waar die revolusie van die markverskuiwing van kultuur na vermaak nog in volle gang is, is dit ’n onderwerp waaromheen die boekbedryf nog ’n wye draai loop, en waaroor baie skrywers ’n dubbelsinnige houding handhaaf. In die boekbedryf het die groot boekwinkelkettings groot belang daarby om die selektiewe en sensorerende blitsverkopermentaliteit juis nié te kritiseer nie, en talle uitgewerye het hulle uitgeebeleid reeds aangepas. Suksesvolle skrywers sal die verdringing van hulle minder voorspoedige kollegas toeskryf aan die bestaande voorkeure van die leserspubliek, en die afwesige skrywers sal te skaam wees oor die afwysing van hulle werk om daarteen protes aan te teken. Daar word nog steeds baie belangwekkende boeke  in Nederland uitgee, maar talle daarvan bereik nouliks die mark, en verdwyn voordat die leserspubliek daarvan kennis kan neem. En die leserspubliek? Hulle het geen idee dat steeds meer waardevolle literêre en kulturele werke nie toegang tot die mark kry nie; hulle sien slegs die stapels blitsverkopers wat hulle nog moet deurwerk.

In Nederland is dit onontbeerlik dat daar eers by die politieke rolspelers en die owerheid begrip opgewek moet word vir die verslegtende kulturele toestand van die boekmark voordat daar enige welslae teen marksensuur behaal kan word. Die plaaslike owerheid behoort belastingvoordele te skep vir onafhanklike, niewinsgedrewe uitgewerye en boekwinkels, soos dit lank reeds in Amerika bestaan. Die provinsies behoort die stigting van kragtige streeksuitgewerye te stimuleer. Die munisipaliteite behoort ’n aktiewe beleid te ontwikkel om gunstige voorwaardes te skep vir die vestiging van boekwinkels met ’n aanbod wat van verskeidenheid getuig. Dergelike inisiatiewe sal ook skrywers en hulle leserspubliek bevoordeel.

Eers as die onderwerp van marksensuur nie meer taboe is nie en daar erken word dat die veelsoortige literêre en kulturele boek ’n relatief klein openbare bestaansreg het naas die boeke wat vermaak aan die massamark verskaf, ontstaan daar vanself ruimte om met sukses alternatiewe uitgeekanale te skep, en om politieke aandag te vra vir ’n reddingspoging vir die behoud van verskeidenheid in aanbod en vir die kwaliteit van spraakvryheid in boekvorm – want anders word dit deur die onsigbare voet van marksensuur vertrap.

Bronne

Hunt, EK en Ralph D’Arge. 1973. On lemmings and other acquisitive animals: Propositions on consumption. Journal of Economic Issues, 7(2):337–53.

Jansen, Sue Curry. 1991. Censorship. The knot that binds power and knowledge. New York en Oxford: Oxford University Press.

Keane, John. 1991. The media and democracy. Cambridge en Malden MA: Polity Press.

McChesney, Robert W. 1999. Rich media, poor democracy. Communication politics in dubious times. Chicago:University of Illinois Press.

McCrum, Robert. 2010. Google’s publishing free for all undermines our literary tradition. The Observer, September 19.

Schiffrin, André. 2000. The business of books. How international conglomerates took over publishing and changed the way we read. Londen en New York: Verso.

Schiffrin, André. 2010.  Words and money. Londen: Verso.

Thompson, John B. 2010. Merchants of culture. The publishing business in the twenty-first century. Cambridge en Malden MA: Polity Press.

1 ’n Uitgebreide weergawe van hierdie lesing word in die literêre tydskrif De Gids, Maart 2011 gepubliseer. 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top