Die blokhuis

  • 8

Waar die Modder- en die Rietrivier saamloop, sit die dorpie Ritchie. Die dorpie bestaan maar net uit ’n vulstasie, ’n poskantoor en ’n kruidenierswarewinkeltjie. Net as iemand nie in Kimberley wou brandstof ingooi nie, is Ritchie die enigste plek om dit te doen op pad na Hopetown of Jacobsdal. As mens die roete volg na Hopetown, dan word die sameloop van die Modder- en die Rietrivier gekruis en as jy vinnig genoeg na links kyk, dan sal die vaal blokhuis aan die suidelike oewer van die Rietrivier gesien word. Soos menige ander steenblokhuis wat die Britse imperiale magte aan die begin van die laaste eeu gebou het, is hierdie blokhuis dalk nie besonders nie, behalwe een unieke aspek.

Nie lank gelede nie het ’n hawelose man besluit om in die blokhuis te oornag. Dit was ’n yskoue winteraand, wat nie te ongewoon was vir die plaaslike bevolking nie. Kimberley is gewoonlik yskoud gedurende die wintermaande en net die brawe, onnosele en dronk aandwandelaars sal die koue aandurf. Hulle, en dan dié wat nie ’n heenkome het nie.

Charles Potgieter was op pad na Kimberley toe om te gaan soek vir enige werk wat die Diamantstad kon bied. Terwyl die son se strale die helder blou lug van ’n paar ure tevore in ’n skilderagtige ligroos verkleur het, kon Charles sien dat hy nie Kimberley daardie dag sou bereik nie. Hy moes maar probeer om die volgende dag sy roete verder aan te pak omdat niemand hom sou oplaai nie. Hy het drie dae laas gewas, in die Oranjerivier, hy ruik na die brandewyn wat hy in die bottelstoor in Hopetown gesteel het, en hy het geweet dat die mense van vandag baie versigtig is as gevolg van die hoë misdaadsyfer. Te voet sou hy verder na Kimberley toe stap. Wat hy wel nodig gehad het, was skuiling. Drank het hy nog genoeg gehad en hy was nie honger na die geluk wat hom getref het in die asblikke by een van die uitspanplekke langs die hoofweg nie. Hy was wel moeg en wou net ’n dak oor sy kop hê vir die nag. Hy het toe die massiewe silo’s van Ritchie voor hom gesien. Hy het geweet dat hy daar weggejaag sou word as hy oor die draadheining van die koöperasie se bergplek wou spring en daar ’n paar ure se slaap wou kry. Dieselfde kon hy verwag by die vulstasie. Dit is toe dat hy by die brug arriveer.

Die Rietrivier was mooi in vloei en hy het die moontlikheid om hom gou skoon af te spoel, oorweeg. Hy sien toe die spitsdakkie van die blokhuis. Hy gooi sy hande in die lug uit verligting en dank God vir die geleentheid om onderdak te kan slaap. Hy hardloop na die blokhuis, en soos ’n klipspringer kruis hy die spoorlyn wat langs die blokhuis loop met meesterlike soepelheid en vind sy weg tot by die klein leertjie wat na die ingang lei. Hy sien dat een van die trappies gebuig is. Dit sou van hom vereis om eers sy bagasie oor sy skouer in die ingang te gooi en dan sy moeë lyf tot in die blokhuis te trek. Die skietwond wat hy jare vroeër opgedoen het, het sy skouer so verswak dat hy kreun van die pyn soos wat hy sy ou weermagsak vol van sy paar besittinkies met mag in die blokhuis indwing. Met sy skouer steeds brandend van die pyn, lig hy homself ook in en val amper gesig eerste teen die stowwerige planke van die blokhuis se eerste verdieping.

Hy rol op sy rug en probeer om sy asem weer terug te kry. Die skouer moes ook eers rus. “Bleddie Swapo,” grom hy vir homself. Na vyf minute lig hy homself op en beskou vir die eerste keer die binnekant van die blokhuis. Soos wat hy gedink het, was daar niemand op die verdieping waarop hy was nie. Hy sien daar is ’n leertjie wat na die boonste verdieping lei. Hy staan op en begin die leertjie te klim. Toe hy bo kom, loop hy na die uitkykpunt waar die dak sy spitshoekie maak. Hy kon sien dat die uitkykpunt ’n pragtige uitsig bied oor die sameloop van die twee riviere en dat mens mooi kan sien hoe die son sak. Hy sit vir die hele loop van die son se gesak op die uitkykpunt en besluit maar om homself in die oggendure te was sodat hy nie te sleg lyk of ruik vir die Kimberley-gemeenskap nie.

Toe dit amper donker is, klim hy af na die eerste verdieping en lê sy kombers uit. Toe hy sy lê kry, steek hy sy laaste sigaret aan.

“Ek hou nie van rook nie,” kom ’n stem aan die teenoorgestelde hoek van waar Charles sit. Charles skrik en kyk angstig wie met hom gepraat het. Die son het reeds gesak en dit is pikdonker oor die riviervallei, wat nog te sê van in die binnekant van die blokhuis.

“Wie is jy?” roep Charles uit. Geen antwoord. “Wie praat?” probeer Charles weer, maar niemand antwoord terug nie. Charles skud sy kop om sy angstigheid te probeer kalmeer. Hy het homself seker net verbeel, dink hy en kry weer sy lê. Met die laaste rook wat uit sy neusgate vloei aan die einde van die sigaret, druk hy die sigaret dood en sluit sy oë.

“Ek het mos gesê ek hou nie van rook nie!” bulder die stem harder, vir die tweede keer.

Dit laat Charles so vinnig opspring dat hy alles langs sy bed weerskante toe stamp. “Wie is jy?” roep Charles in angs uit. Dit is ’n stil nag, geen wind, geen jakkals wat kerm nie. Charles kon homself nie hierdie keer misgis het dat hy wel iets gehoor het nie.

Uit die teenoorgestelde hoek van waar hy sit, hoor hy weer die stem: “Wie is jy?”

“Ek is Ch..Cha...Charles Potgieter.”

“Aangenaam,” sê die stem uit die hoek beleefd, “wat maak jy hier?”

“Ek soek skuiling vir die nag. Asseblief laat my net hier lê vir die nag. Ek sal weer vroegoggend weg wees,” antwoord Charles bibberend van die skrik.

“Jy mag maar bly,” verseker die stem hom, en Charles sak stadig af sodat hy teen die muur van die blokhuis kan sit. Hy bewe so onophoudelik dat hy nie sy hande kan stil hou nie.

“Is jy bang?” vra die stem.

“Ek het geskrik,” sê Charles amper uitasem. Wat hy eintlik vir die stem wou sê, was dat hy baie vies was dat die persoon aan die ander kant homself nie voor die tyd bekend gemaak het aan Charles sodat hulle nie deur hierdie vir hom skrikaanjaende manier kennis van mekaar geneem het nie. “Mag ek vra, wie is jy?”

“Jy mag. Ek is bekend as Lood de Wet.”

“Is jy ook haweloos soos ek, Lood?”

“Nee, ek bly hier,” antwoord die stem.

“Ek is jammer dat ek sommer so my plek hier kom maak het. Ek het gedog dit is maar net nog ’n blokhuis. Daar is baie van hulle langs die pad waar mens lekker kan uitspan.” Die stem antwoord nie terug nie. “Lood?” vra Charles agter die stem aan, maar hy kry geen antwoord nie. Charles neem aan dat sy medeblokhuisbewoner aan die slaap geraak het en soos wat hy rustiger word, begin hy dink om weer in te kruip. Maar voordat hy sy lê weer kon kry, rol daar ’n halfvol brandewynbottel na hom toe. Verbaas tel Charles die bottel op en iemand sê saggies vanuit die onderste verdieping: “Drink dit.”

Charles weet soos enige ander hawelose dat brandewyn help met die koue en dit sou ’n yskoue aand wees. Charles kon dit lees in die lae getal uile wat besig was om in die nabyheid van die blokhuis te jag. Hy draai die prop af en vat een groot sluk. Dit was besonder sterk brandewyn en dit slaan hom amper onmiddellik in ’n diep slaap in.

Charles kon later niks meer voel of hoor wat om hom in die blokhuis aangaan nie. Hy word later al hoe meer ingeskakel oor wat in sy droom aangaan. Hy sien voor hom die goudgeel gras wat in die somer in die rooi grond van die Noord-Kaap dik staan. Hy begin toe hoor hoe bevele in Engels agter hom geskree word en hoe dosyne soldate langs hom marsjeer. Toe hy weer sien, toe marsjeer hy sommer ook saam. Hy kyk na sy hande en sien dat hy ’n netjiese bruin baadjie aan het en dat hy ’n lang geweer in sy hande dra. Hy dra sommer die geweer gemaklik met die kolf stewig vasgeklou in sy palm en sy wysvinger rustig op die sneller. Hy probeer die soldate langs hom uitvra waarheen hulle marsjeer, maar niemand sê iets nie. Almal stop eers toe die bevel om te halt van agter uitgeroep word. Die volgende bevel is om gewere te laai en oomblikke later om vir ’n onsigbare teiken te mik. “Fire!” hoor Charles en die sarsie van ’n honderd skote klap aan weerskante van hom. Hy self vuur ’n paar skote af totdat hy sien hoe ruiters van ver af met ’n geweldige spoed na hom toe hardloop. “Aim ... fire!” hoor hy weer en voordat hy weer kon sien mik hy vir die naaste ruiter en skiet in sy rigting. Die ruiters hou net aan nader kom en hy en sy makkers kry dit nie reg om hulle te stuit nie. Die silhoeëtte van die berg agter die ruiters maak dit moeilik om die ruiters duidelik te sien en presies na hulle te kan mik om die doodskoot aan die komende vyand te kan gee. Toe hy herlaai, is die naaste ruiter reg voor hom. Hy sien die ruiter na hom mik vanaf die hoë posisie op die perd se rug. Charles kyk in die geweer se loop. Die ruiter skree: “Joiner!” en vuur ’n skoot point blank in Charles se gesig.

Charles skrik wakker met koue sweet wat van sy hoof afloop. Dit was een van die naarste nagmerries wat hy al ooit gehad het, dink hy, en hy soek na sy bottel water in sy rugsak.

“Was dit erg?” kom die stem van Lood weer.

“Jislaaik Lood, dit was erg. Ek kan nie verstaan wat ek gesien het nie. Dit was so erg ek kan nie nou daaroor praat nie.”

“Dit is erger as jy dit regtig beleef het.”

“Wat bedoel jy?”

Lood antwoord weer nie terug nie. Charles vat ’n groot sluk water en drup ’n paar druppels op sy voorkop om die koue sweet weg te was. Hy kyk by die uitgang van die blokhuis uit om te sien hoe ver die maan se lig strek. Die maan lê nog helder in die donker hemelruim. Charles weet dat hy nog nie kan vertrek nie. Dit is nog nie eers middernag nie en hy is glad nie uitgerus nie. Veral nie na die nagmerrie wat hy so pas deurgemaak het nie. Hy bibber nie net van die koue nie, maar ook van die vrees om weer aan die slaap te raak. Hy weet nie of dit die invloed van die historiese gebou is waarin hy lê wat hom so paniekerig maak nie, en of dit maar net ’n gewone nagmerrie was wat hom gepla het soos wat dit met enige ander persoon sou doen. Hy smag na ’n sigaret om sy senuwees tot rus te bring, maar hy het sy laaste een vroeër die aand gerook.

Dit is toe dat ’n sigaret tot verskyning kom by die punt van sy skoen. “Nou waar kom dit vandaan?” wonder Charles. Dalk het die sigaret uit die pakkie geval en iewers in sy weermagsak beland. Met sy wakkerskrik het hy alles uit die sak gegooi en die sigaret moes deel gewees het van die besittings wat uitwaarts gedwing was. Vir die tweede keer glimlag Charles oor die onverwagte lafenis wat hy so pas ontvang het. Hy neem die sigaret, plaas dit tussen sy lippe en begin soek vir sy vuurhoutjiedosie. Hy kry dit langs sy kombers en steek die sigaret aan. Hy neem ’n lang teug. Die tabak proe verskriklik sleg, asof dit jare oud is. Oud of nie, die sigaret doen sy werk en Charles raak rustig. So rustig dat hy die sigaret dood druk en weer in ’n diep slaap verval.

Hy maak sy oë oop by dieselfde plek as voorheen. Die goudgeel gras staan kniediep oor die rooibruin grond en die bergsilhoeëtte van vroeër staan steeds op die horison. Hy kyk om hom rond en sien dosyne soldate wat orals rondom hom oor die veld lê. Sommige lê op hul rûe en hul hangende monde is gevul met die bloed wat uit hul binneste opgebring is. Vlieë sweef om elke lyk waarvan die bloed oor die soldaat se bebaarde wange en keel geloop het. Hy sien niemand anders wat lewend op die slagveld staan nie. Hy kon dit nie verstaan nie. Hy kon nie kop of stert uitmaak van waar hy is nie. Hy voel ’n ongemaklikheid in sy skouer. Hy herken die ongemaklike gevoel. Dit voel presies soos die brandende pyn wat hy ervaar het toe hy in Angola gewond is. Hy druk sy linkerhand waar die ongemaklikheid van sy regterskouer uitspruit en bring dit na sy sig toe. Sy linkerhand is dik van sy bloed en ander vuilgoed wat aan sy klere vasklou. Hy begin loop om hulp te soek of selfs net water te kry sodat hy sy wond mooi kon afspoel. Hy kry niemand nie, maar kom op ’n spruitjie af wat langs die slagveld loop. Net toe hy sy wond wou was, spring daar ’n skutter op die teenoorgestelde oewer op. “Joiner!” roep die skutter uit en vuur ’n skoot na Charles se kant toe.

Charles skrik dadelik wakker met ’n magtige pyn in sy bobeen en skouer. Twee nagmerries na mekaar in dieselfde aand.

“Net so erg?” vra Lood.

“Waarheen verdwyn jy? Ja, dit was. Amper dieselfde as die vorige een.”

“Vertel,” vra Lood beleefd.

“Ag man, dit is drome waar ek in ’n slagveld staan en iemand skiet my. Dié wat my skiet noem my sommer ’n joiner vir een of ander rede. Ek weet nie wat aangaan nie. Ek weet nie eers wat is ’n joiner nie.”

“Ek weet,” sê Lood. “Ek was een.”

“Hoe nou?” vra Charles verbaas. Hy kan nie verstaan dat die ander hawelose man in die blokhuis saam met hom presies weet waarvan hy beskuldig word nie. Soos wat onsekerheid gewoonlik maak, word Charles al hoe meer angstig oor die onbekende realiteit wat hier afspeel. Hy word angstig oor Lood se gegrom aan die teenoorgestelde kant van die blokhuis. Hy het nie vroeër die moeite gedoen om Lood van naby af te sien nie. Haweloses het ook maar ’n kode van glo en vertrou met die eerste oogopslag. Lood se gegrom word later ’n vieslike giggel wat Charles baie ongemaklik maak. “Lood, wat te hel?” is al wat Charles kan uiter. So in die donker kan Charles Lood se gelaatstrekke net-net uitmaak. Hy kan uitmaak hoe Lood na hom staar met ’n eienaardige skewe buig in sy nek. Hy kan sy gesig nie duidelik sien nie, maar hy kan wel sien waar sy mond skeef oophang en die giggel daaruit borrel.

Toe staan Lood op.

“Wat maak jy nou?” vra Charles, heeltemal vreesbevange.

Lood hou toe op met giggel. Hy begin na Charles se kant toe te beweeg. Charles kan nie uitmaak of Lood regtig loop of nie. Hy hoor geen geluid van Lood se voetstappe op die houtvloer nie. Geen persoon kan so saggies trap nie, dink hy.

Lood se grommende stem kom toe van Charles se linkerkant af: “Wil jy weet wat volgende gebeur?”

Charles bewe te veel om te antwoord. Hy draai sy gesig na sy regterkant toe, maar voel hoe iets yskouds sy mond toedruk en hoe iets sy nek gryp. Die yskoue gevoel verander onmiddellik in ’n vuurwarm sensasie. Dit voel asof sy vel aan die brand is. Toe hy probeer wegruk, is daar ’n pikswart figuur reg teen sy gesig. Die gesig probeer hom stil sus, maar Charles probeer terugbaklei.

“Alles sal in ’n oomblik verby wees. Laat gaan. Jou tyd is verstreke.”

Charles probeer iets uitskree, maar ’n onsigbare krag hou sy mond toe en hy kry maar net ’n sagte klank uit sy keel soos wat dit stywer gedruk word. Die swart gesig begin dieselfde giggel te gee as wat Lood ’n paar oomblikke tevore gemaak het. Charles begin voel hoe sy kragte verdwyn. Hy kan voel hoe sy oë swaarder word en hoe sy longe brand. Hy was besig om te versmoor. Hy was op pad om te sterf. Dit was al wat in sy kop gemaal het. Vermoor in ’n blokhuis, en dan ontdek te word deur ’n nuuskierige agie wat belangstel in ’n ou oorlog uit die verlede. Snaaks, dink Charles, hy mis niemand soos wat hy besig is om te versmoor nie. Hy kry wel weer dieselfde gevoel as voorheen. Hy hoor en voel nie enigiets wat rondom hom aangaan nie. Hy voel nie eers die vuurwarm sensasie van wie ook al besig is om hom dood te maak nie.

Hy sien toe weer die plek waar hy voorheen by die rivier geskiet is. Die jong skutter wat die geweer afgevuur het, is nie meer daar nie. Hy word deur iemand beveel om vinnig sy gesig en hande te was. Charles sien die water, maar hy voel dit nie toe hy sy hande daarin dompel nie. Binne oomblikke word hy deur iemand van agter gegryp en gedwing om vinnig na die rand van die rivieroewer te loop. Dit is toe dat hy die tou vir die eerste keer raaksien. Reg langs die rivier het iemand ’n galgtou aan ’n laaghangende tak vasgemaak. Onder die galgtou is wat lyk na ’n houtboksie. Mense staan aan weerskante van die galg. Elkeen gluur hom aan asof hy iets verskrikliks gedoen het. Toe hy weer sien, toe staan hy op die boksie. Hy sien hoe die galgtou oor hom gehang word, maar hy kon nie voel hoe dit styf om sy nek getrek word nie. Iemand wat lyk soos ’n predikant kom voor hom te staan en lees ’n paar verse uit die Bybel en sê toe ’n kort gebed op. Iemand van agter bulder of hy enige laaste woorde het. Charles sê niks nie. “Goed dan Joiner!” roep dieselfde stem uit, “dit is tyd. Gereed ... Nou!”

’n Allemagtige geskreeu vul die lug. Charles kleef vas aan sy kombers, wat om ’n onbeskryfbare rede styf om sy nek getrek is. Die oggendson het so pas sy posisie in die hemelruim ingeneem en die donkerte in die blokhuis is verdryf. Daar is nie enige teken van Lood nie. Charles is alleen in die blokhuis en die sigaretstompie en die brandewynbottel wat vroeër die aand langs hom gelê het, is ook nie waar hy hulle laas gesien het nie.

Charles kan sy begeerte om uit die blokhuis te klim nie langer inhou nie. Hy staan vinnig op, pak sy kombers in sy weermagsak en begin die leertjie af te klim na onder. Toe hy sy sak oor sy gesonde skouer gooi, trek iets sy aandag. Ingegraveer op een van die stene aan die buitekant is die woorde: “L de Wet. 2 Jan 1900.” Soos sy vingerpunte daaroor vryf, hoor hy dieselfde gegrom en gegiggel uit die onderste ruimte van die blokhuis kom en hy haas hom na die treinspoor toe. Soos wat hy bokspring oor die spore kyk hy een laaste keer na die blokhuis. Vir ’n oomblik sien hy toe die swart gesig wat in die middel van die ingang op een plek sweef. Die brandende sensasie kom weer tot gevoel en Charles gryp sy keel om die sensasie te probeer blus. Niks help totdat die swart gesig van Lood de Wet se spook weer in die ingang verdwyn het nie. Charles Potgieter het geweet hy was gemerk en sou nooit weer naby die blokhuis by die sameloop van die Modder- en Rietrivier kon oornag nie. Hy sou nie nog ’n aand daar kon oorleef nie.

  • 8

Kommentaar

  • Jacques Lourens

    Dit was nou n lekker stories om te lees!

    Ek het myself nou so diep ingeleef, ek kan nie anders as om weer te gaan kyk na die blokhuis nie.

    As ek reg onthou, het ons altyd verby hulle gery op pad na ons Desember-vakansies.

    Hierdie gee mens 'n ander perspektief van dit wat mens as algemeen aanvaar op jou vakansiereis.

    Dankie Emile, dit was great gewees.

  • RITA Annandale

    Ek het die storie geniet. My verbeelding kan ook lekker op loop gaan wanneer ek in 'n bouval staan ... wonder oor die mense. Dankie.

    • Emile Coetzee

      Dankie Rita,

      'n Lewe sonder 'n verbeelding is maar bra vervelig. Ek sit met dieselfde gawe as jy wanneer ek in 'n ou bouval instap. Soos daardie "scene" uit die Titanic-film waar daar vir 'n oomblik die glorie van die eetsaal gewys word soos wat die onderwater kamera die eetsaal se deure van die wrak wys.

      Ek hoop dat wanneer die volgende storie ook aanvaar word sal jy dit net so geniet.

  • Dit was nou 'n lekker leesstuk. Ry gereeld verby daardie blokhuis en sal nooit jou storie vergeet nie, sal dit nog aan my kleinkinders vertel. Dankie vir jou werk, jy mag maar.

    • Emile Coetzee

      Dankie Henk.

      Dit was die moeite werd om by daardie blokhuis te stop. Ek het probeer om met die leertjie in te klim, of sou ek sê klouter, maar so waar as wragtag een van die trappies was gebuig. Ek kon toe net inloer en siedaar, storie gebore.

      Ek sal probeer om die volgende een so vinnig as moontlik klaar te maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top