Die betekenis van Kersfees

  • 1

"Jingle Bells" wat vrolik in winkels gespeel word. Jolige omies met wit baarde en rooi pakke klere heeltemal onvanpas vir ’n Suid-Afrikaanse somer, wat teen betaling poseer vir foto's met kriewelrige kinders. Oorvol, peperduur winkels. Volgepakte strande.

In sommige gemeenskappe beteken Kersfees nuwe meubels, nuutgeverfde huise, nuwe matte, nuwe klere. Nuwe skuld.

Buite stampvol restaurante en by die verkeersligte by die uitgang van elke winkelkompleks staan die bedelaars met hul kartontekens wat hul hartseer verhaal vertel. Will work for food. Werk verloor, 3 kinders om te voed. Blindes/kreupeles met hul blikbeker, gewoonlik sonder die kartonteken.

Kersfees het ’n kommersiële wip geword waarin al meer verbruikers, ook dié van ander gelowe, gevang word. Dis byvoorbeeld nie verrassend om te sien hoedat Moslems vir mekaar en vir hulle christen-bure Kersgeskenke gee nie.

In sommige dorpe is daar ook ’n verwagting onder munisipale werkers dat hulle ’n krismisboks moet kry van die persone wat hulle deur die jaar bedien het. Ten spyte van die feit dat munisipaliteite die praktyk verbied, kan werkers in sommige gevalle baie aggressief aandring op hulle krismisboks, en wee die arme huiseienaar wat nie vrygewig is nie!

Maar dis tog nie waaroor Kersfees gaan, of selfs behoort te gaan nie. Jesus is nie op 25 Desember gebore nie. Kersfees gaan nie oor hoe groot of hoe duur jou geskenk is nie. Voordat dit so verdraai is, was die doel van die fees om medemenslikheid te bevorder. Dit was ’n geleentheid om ’n helpende hand uit te reik na iemand anders.

Die gejaagdheid en ongeduldigheid waarmee geld deur oop motorvensters aangegee word vir die bedelaars op die straathoeke, gee die indruk dat die vrygewigheid ten minste gedeeltelik deur skuldgevoelens gemotiveer word.

Maar help dit regtig?

Alhoewel dit natuurlik nie van alle bedelaars waar is nie, is daar altyd ’n sekere persentasie wat met een of ander vorm van verslawing te kampe het. Om geld aan te bied vir so ’n persoon, voed net die verslawing en bring uiteindelik groter hartseer mee vir die gesin.

Dis maklik om geld te gee, en dan terug te sit met die selfvoldane wete dat jy jou goeie daad gedoen het. Dis minder maklik om van jou tyd te gee, en om te probeer uitvind wat die persoon aan die ontvangkant van jou weldaad regtig nodig het. Dalk is dit ’n werk, en jy kan help om ’n aansoekvorm voor te berei.

Baie nie-winsgewende organisasies ondervind hulle grootste uitdagings hierdie tyd van die jaar, omdat daar groter druk op hulle koffers is, en gewoonlik minder vrywilligers om te werk.

Is dit nie ’n veel groter en waardevoller geskenk om te onderneem om ’n jaar lank ’n liefdadigheidsorganisasie finansieel te steun, en die bewys daarvan vir ’n geliefde as geskenk te gee nie? Of om aan te bied om vrywillige diens te verrig.

Selfs vir persone wat nie aan georganiseerde liefdadigheid wil deelneem nie, is daar heelwat maniere om welwillendheid te bewys. Lees vir ’n bejaarde, veral as dit nie ’n familielid is nie. Bied aan om ’n groep kinders ’n vaardigheid waaroor jy beskik, aan te leer. Wees vriendelik en geduldig in rye. Wees bedagsaam teenoor ander padgebruikers. Skenk of plant bome om ’n park te verfraai. Bied aan om ’n liefdadigheidsorganisasie se kantore te verf, of skenk vir hulle papier of ink. Maak die stukkie van Suid-Afrika wat jy huis noem, beter vir almal rondom jou.

As jy absoluut nie Kersfees kan vier sonder ’n geskenk onder ’n boom nie, doen dan moeite om iets te gee wat wys jy het tyd en aandag daaraan geskenk, nie net geld nie. Maak nie saak hoe ryk mense is nie, almal wil maar net weet die persoon wat ’n geskenk gee, het moeite gedoen om iets te gee wat betekenis en waarde vir die ontvanger inhou.

Ek wil hierdie Kersgety iemand leer visvang, eerder as om net die vis te gee. Is dit nie ’n kosbaarder geskenk as die nuutste slimfoon wat volgende jaar deur nuwe tegnologie uitgedateer word nie? Kan ek jou aanmoedig om dieselfde te doen? Skenk hierdie Kersfees die geskenk van jouself, jou tyd en jou welwillendheid.

Mag die welwillendheid van Kersfees oorspoel in 2017.

  • 1

Kommentaar

  • Gideon C du Toit
    Gideon C du Toit

    Mense word toenemend selfsugtig en Kerstyd is geen uitsondering nie. Dis elke ou vir homself en dalk vir die mense naaste aan hom. Ons kyk neer op die bedelaar op die hoek, want ons dink hy is vuil, ongeletterd en aan een of ander iets verslaaf. As ons nie lus is om te gee nie, sus ons die gewete met die verskoning, "Ag hy sou in elk geval net drank gaan koop het. Ek doen hom 'n guns om hom niks te gee nie."
    Dan probeer ons terugdink aan 'n tyd toe iemand ons iewers vertel het, hoe hulle 'n bedelaar die drankwinkel binne sien gaan het nadat hulle vir hom geld gegee het.
    Die werklikheid is dat die meerderheid van hierdie mense Kersfees honger gaan slaap. Dalk is 'n goeie gebaar om hierdie feestyd, wat vir die meeste van ons 'n sorgelose tyd van oorvloed is, vir onsself 'n oogmerk te stel om nie ander mense te oordeel nie. Veral mense minderbevoorreg as ons. Dalk, net dalk sal ons dan met meer vreugde en vrymoedigheid in ons harte gee. Dalk gee ons vir iemand sy eerste Kersfees in jare.
    NS: Ek was eens daardie ou op die hoek van die straat.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top