Die beste lesersindruk van 2017 aangekondig

  • 0

LitNet het lesers in September 2017 genooi om voortaan hul lesersindrukke van onlangse publikasies vir LitNet te stuur vir publikasie. Die projek gaan in 2018 voort en jy kan hierdie bladsy besoek vir meer inligting oor die lesersindrukke op LitNet. Ons verwelkom nuwe bydraes.

Alle lesersindrukke wat tot en met 15 Desember op LitNet verskyn het, het in aanmerking gekom vir ’n R1 000-kontantprys.

Bibi Slippers (Foto: Naomi Bruwer)

Bibi Slippers het die lesersindrukke beoordeel en Alta Cloete is as die wenner aangewys vir haar lesersindruk van Alles begin met Anna deur Annemari Coetser. Sy ontvang R1 000 kontant. Lees haar lesersindruk hier.

Bibi het die volgende terugvoer op Alta se resensie gegee:

Alta Cloete se indrukke van Alles begin met Anna het vir my uitgestaan onder die inskrywings omdat sy dit regkry om gelyktydig aan al die vereistes vir ’n goeie resensie te voldoen. Terwyl daar sekere resensies was waarvan die toon vir my lekker gelees het, ander waar die resensent se ywer vir die boek aansteeklik was, en weer ander wat van ’n breë kennisbasis spreek, het Alta se resensie al hierdie eienskappe. Ek het haar bondige inleiding waardeer, waarin daar agtergrond oor die skrywer saamgevat word vir lesers wat nie met haar werk bekend is nie. Die boek word ook netjies in die konteks van die tradisie van boeke oor die oorlog geplaas, en daar word gewys op dit wat dié boek van ander van haar soort onderskei. Die temas wat in die boek ontwikkel word, word bespreek sonder om bloot die verhaal oor te vertel, en daar is genoegsame voorbeelde uit die boek om die argumente en insigte te staaf. Ek was veral beïndruk deur die manier waarop die resensent die boek se inhoud in verband kon bring met dinge wat in die huidige samelewing van belang is – so iets laat onmiddellik ’n potensiële leser voel dat die boek relevant mag wees tot sy of haar eie lewe, al speel dit in die verlede af.  Die toon van die resensie is gemaklik sonder om outoriteit prys te gee; mens voel deurlopend dat dié resensent iemand met kennis is wat jy as leser kan vertrou om ’n aanbeveling te maak. En die aanbeveling kom dan ook, heel duidelik aan die einde van die resensie. Uiteindelik was dit egter veral Alta Cloete se bereidwilligheid om kritiek uit te spreek wat deurslaggewend was tot my besluit. Die feit dat sy krities is oor die spanningslyn wat verbreek word deur die bybring van twee ander verhale, is iets wat moontlik vir die skrywer waardevol kan wees by die skryf van ’n volgende boek. Die kritiek oorskadu nie die res van die resensie nie, en die resensent maak dit duidelik dat sy steeds positief voel oor die boek, ten spyte van die kwessies wat sy aanspreek.


Alles begin met Anna deur Annemari Coetser: ’n lesersindruk deur Alta Cloete

Alta Cloete
Lesersindrukke

"Die grootste waarde van hierdie roman lê in die oopskryf van die lyding en psigiese ineenstorting van ’n enkeling en die langdurige uitwerking daarvan op haar nasate. Dis ’n tragiese verhaal, ja, maar dis eintlik verfrissend dat ’n stoere Boervrou in haar menslike swakheid uitgebeeld word."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top