Die beste 15 in ATKV-Tienertoneel 2017

  • 2

Die ATKV-Tienertoneel 2017 se finale rondes het van 4 tot 7 Oktober in die Kunstekaap plaasgevind.

Izak de Vries het al vier dae bygewoon en het, soos gewoonlik, sy kamera by hom gehad. Hier volg sy indrukke oor elke stuk. Hy deel dit in die volgorde waarin die stukke opgevoer is.

Hoërskool Tygerberg het gewen met Innie selle. Tweede was die Hoër Meisieskool Bloemhof van Stellenbosch met Wag, ek kry gou my foon (en soos sulke goed). In die derde plek was die Afrikaanse Hoër Seunskool met Plekke!.

Die volledige uitslae is op die ATKV se webwerf beskikbaar.


Die mensfabriek

Mees belowende spel in ’n rol deur ’n meisie: Milandie Viljoen as medewenner

Helpmekaar Kollege se stuk was Die mensfabriek. In hierdie komedie word mense op bestelling vervaardig: ses kassiere vir die nabygeleë winkelsentrum; oorgewig susters vir die hospitaal …

Die probleem is, daar mag nie ’n f-, ’n f-f-f, ’n fóút in die stelsel wees nie, want dan kan daar dalk mense uitloop met drie bene! Of, soos wat skielik een oggend gebeur: hulle sit met ’n pragtige been waarop ’n oor groei! Dit kan fataal wees.

Erger nog, veel erger! Wat gebeur as twee mense skielik begin ogies maak vir mekaar? Dis mos teen die wet! Of is dit ’n f-, ’n f-, ag jy weet mos?

Milandie Viljoen (bo) was puik in haar rol as die grootbaas, Mevrou Du Bois, en het die prys gewen as die meeste belowende speler tydens die ATKV-Tienertoneel se finaal.

Lyndré Kruger, Hernus Marais, Michel Croucamp en Rita Halgryn was ook op die verhoog.

Die mensfabriek is geskryf deur Elisha Zeeman. Eghard Basson was die regisseur.

Mia Burger was die verhoogbestuurder, Courtney Weideman die klankoperateur en Pieter Hougaard die beligtingsoperateur.


Blessings

Beste aktrise in ’n ondersteunende rol: Jeanne-Marie Koekemoer

Hoërskool Stellenbosch se stuk, Blessings, het geopen met ’n ma wat pas haar sewende baba uit haar laat gly het. Sommer so. Op Oukersaand.

Sy sê: “Dit was genuinely ’n maklike geboorte, ek het basies gevoel hier kom dit: Eers die water en toe hurk ek agter ’n bossie in ons tuin en poof: Baba nommer sewe.”

Sy wil die kind Blessings noem, want dis mos wat die baba is: ’n seën van bo vir ’n gebore ma.

Die ander ses biologiese kinders en die paar aangenome kinders reageer almal verskillend op ma se baba, maar laissez-faire is skynbaar die enigste reël wat in hierdie huishouding geld.

Die oudste dogter is die mins ingenome van almal. Sy moet kinders oppas terwyl Ma kinders maak. Die jongste spruit is ook bekommerd oor die baba, want gaan sy nou haar plek verloor as die oulikste, kleinste dogtertjie?

Blessings, geskryf deur Alma Nel, eindig nogal tragies wanneer die verpleegsuster vir die ma vertel dat dit tyd is om haar pille te neem en om op te hou glo in al hierdie kinders in haar kop. Dit is, helaas, geen skande om nooit kinders te hê nie, sê die suster.

Andrea Winckler was die regisseur.

Jana van der Merwe het die ma gespeel. Die kinders was Janke Mostert, Jeanne-Marié Koekemoer, Luke Swanepoel, Ruandré Booysen, Greteli Fincham, Chumani Komsana en Dieter Nieuwoudt. Mia Adendorff was die ouma en die verpleegsuster.

Janke Mostert was die verhoogbestuurder, Le Roux van den Heever die klankoperateur, Christoff Snyman die beligtingsoperateur en Alma Nel die hulpregisseur.


Hospitaal 224

Hoërskool Zwartkop het die klassieke resep vir ’n goeie drama uitgesoek en afgestof: Neem die kyker na die plek waar mense heen gaan as hulle eie droomwêreld en die werklikheid vermeng.

In Hospitaal 224 is ’n man wat dink hy is Mozart en ’n vrou wat nie oor haar trauma wil praat nie.

Die wonder van die teater is dat die gehoor deel in die beelde wat die pasiënte sien. Saam met Wolfie (gespeel deur Bernard Lubbe) deel ons sy ekstase wanneer welgeklede dansers op Mozart se musiek begin wals – Wolfie is natuurlik op die podium van waar hy dirigeer.

Ané, die stil vrou (Emma van der Walt), kan nog steeds kwaad word vir Ruan (Wilco Meyer), al hoor ons later Ruan is al lankal oorlede. Die dokter weet nie wat in Ané se kop aangaan nie, maar die gehoor leef saam met haar in haar kop.

Marista van Eeden het Hospitaal 224 geskryf. Dit is komedie, maar die einde byt. Van Eeden spot nooit met die inwoners nie; juis nie. Sy gebruik die wonders van verbeelding om die gehoor te laat lag.

Die ware grapjas is verpleër Du Bois (Thian Reynders, regs) wat ook eintlik in ’n droomwêreld leef, tot sy gesagvoerder, suster Nortjé (Jocelin Menally, links), se erge frustrasie.

En dan, om Du Bois te terg en die gehoor te laat wonder, verskyn daar elke nou en dan ’n klein seuntjie (Christof Grobbelaar) wat kom moeilikheid maak. Christof het van die verhoog af ook vir drama gesorg; daardie storie is hier te lees.

G’n wonder Ané se ma (Christine Venter) en die dokter (Heinrich Nienaber) is bekommerd nie!

Simeon Boshoff, Liam van den Berg en Shani Loots was die dansers.

Pieter Alberts en Marista van Eeden was die regisseurs.

Die verhoogbestuurder was Liam van den Berg, die klankoperateur Galin Myburgh en die beligtingsoperateur Francois Smith.


Wag, ek kry gou my foon (en soos sulke goed)

Algehele tweede plek in ATKV-Tienertoneel 2017

Wenner van die beste ensemblewerk

Beste hantering van tegniese aspekte: die hele ensemble van Hoër Meisieskool Bloemhof

Beste regie: André Gerber en Anél Joubert

“Record jy nog? Wat sal ek doen om myself … uhm … soos … ek wens net soms geen ou wil vir my kyk nie.” Die Hoër Meisieskool Bloemhof is nou al bekend vir hulle puik ensemblewerk. Hulle stuk, Wag, ek kry gou my foon (en soos sulke goed), het weer aan alle verwagtinge voldoen.

Hierdie groep meisies werk saam met André Gerber om dié soort stukke te skryf. In 2015 het hulle met ’n soortgelyke stuk, genaamd Vyf, gewen.

André Gerber en Anél Joubert was verantwoordelik vir die regie. Die Bloemhofmeisies was soos ’n klein militêre masjien. Hulle was presies en skerp. Hulle het daardie tweede plek verdien, nie bloot oor hulle stuk wat so goed was nie, maar oor hulle so ontsettend gedissiplineerd gespeel het. Joubert was ook verantwoordelik vir die choreografie. Sy kan trots wees op hierdie militêr-korrekte spelers.

Die spelers was René Cloete, Hilde Elema, Ziné Ebersöhn, Janca Fourie, Talyah Greyling, Antoinette Hoon, Carly Hörstmann, Ariané Krijt, Jana Liebenberg, Jeanne-Marie Minnie, Mikyla Nortje, Cara Rossouw, Michelle Steyn, Liané van Vuuren, Mia van der Merwe en Tarien Venter.

Stephanie Malherbe was die verhoogbestuurder. Annemie Bester en Zoë Helm was verantwoordelik vir die klank.

Marguerite Kruger was die beligtingsoperateur.

Klik hier vir ’n onderhoud met René Cloete en verdere aantekeninge.


Innie selle

Algehele eerste plek in ATKV-Tienertoneel 2017

Beste akteur in ’n ondersteunende rol: Edja de Meyer

Dit was die wenstuk. Innie selle, deur Hoërskool Tygerberg, is alles wat ’n mens van ’n drama verwag. Daar is ’n puik storielyn, daar is baie aksie. Die spelers was puik. Hulle taalgebruik en aksente was uit die boonste rakke.

Innie selle is geskryf deur Pieter Nel op versoek van die spelers.

In 2016 het hierdie groep ’n stuk in die finaal gehad oor die mense wat uit Distrik Ses verskuif is na plekke soos Ravensmead op die Kaapse Vlakte. Hierdie jaar wou die skoolkinders self ’n storie vertel oor die mense van Ravensmead, en elders op die Kaapse Vlakte, wat deur sosiale omstandighede in die tronk beland.

Verskeie stories speel af binne die bestek van die ongeveer 40 minute waartydens die spelers op die verhoog is. Telkens hoor ons hoekom mense in die tronk beland en dan besef die gehoor maar net weer: Was ek daar, sou ek dalk ook nou in die tronk gesit het.

Innie selle is ’n puik stuk teater en die spelers het hulle totaal en al in hulle rolle ingeleef.

Regie was deur Pieter Nel en Frans Hamman.

Die spelers was Edja de Meyer (regs), Jay-D Sanderson, Zinedine Manus, Zane Sauls, Kyle Esterhuysen, Alessandro Dirk, JP Matthee, Hano Groenewald en Danté Barnard.

Corleze de Bod was die verhoogbestuurder en beligtingsoperateur. Handré Petzer was die klankoperateur.

Frans Hamman het die ongelooflike stel gebou. Die beddens word mure, word storte, word ’n huis. Alles is op wiele. Die hele stel leef saam met die stuk.

Klik hier vir ’n onderhoud met die spelers en hulle tegniese span.


Rondo

Rondo, ’n nuwe teks geskryf deur Jo Stemmet, is een van die stukke wat die sterkste visuele impak op die kyker gehad het. Dit is ’n makabere, uitdagende drama en die seuns van Selborne College, wat oorwegend Engels is, se spel was knap.

’n Rondo is ’n musiekstuk waarbinne sekere temas herhaal word. Dieselfde gebeur in Rondo. Telkens speel daar seuns, dan kom soldate en ontwrig hulle lewens. Daarna begin die poppe dans, letterlik, want daar is akteurs wat die aksies van marionette namaak en daar is ’n aantal gesiglose mense wat die poppe beheer.

Die tema wat hom herhaal, is die walging van enige oorlog en die trauma van jong kinders in konfliksones. Die kyker volg die kinders op ’n reis deur Auschwitz, die militêre kampe waarheen kindersoldate gedwing word in Sierra Leone en dan ook na die moderne Sirië. Die leser beleef, soos in ’n rondo, dat die geskiedenis sigself herhaal.

Die skrywer, Jo Stemmet, sê dit is belangrik dat die kyker die herhalende temas moet ervaar, want mense leer nie uit die geskiedenis nie.

Dit is ook waar die marionette inkom. Stelselmatig word dit duidelik dat die gesiglose mense juis óns is, óns synde die gebruikers van die sosiale media. Ons word so afgestomp deur die gebruik van die sosiale media dat ons nie meer empatie het met die mense wat doodgaan of ly nie. Indirek trek almal wat nie aktief teen die gruwels werk nie, die toutjies om die poppe te laat dans.

Stemmet het self die regie behartig.

Die spelers was Juta Makupula, Sibulele Mali, Tsepo Ponoane, Mihle Bolana, Byron Nel, Christian Muller, Chulumanco Nkalashe, Mencwa Makupula, Sikhu Dliwayo, Emihle Siko, Jonathan Grant, Dylan Brauns, Sihle Makeleni, Mmangaliso Maphinda, Jordan Blundell, Joshua August, Leonardo Doolooa, Robert Rawlins, Chulumanco Qunta, Cuma Mancotywa, Sibulele Madaza, Achuma Whati en Jonathan Louw.

Jonathan Louw was ook die verhoogbestuurder

Salusiwe Deli was die klankoperateur, Declan North die beligtingsoperateur en Mzo Nkabalaza verhoogassistent.


Kopskoot

Een van die stukke in die top vyf

Beste verhoogbestuur: die hele tegniese span, bestaande uit Zandelie Trollip, Steven Cohoe, Justin Burger, Franshua Kennis en Lucas Louw

’n Kopskoot is ’n kunswerk. Nie enige fotograaf kry dit reg om op die oog te fokus én die omgewing steeds te reflekteer sodat die kyker weet waar die gekiekte persoon sigself bevind nie.

Goeie fotografie is ’n eksakte wetenskap. Alexander (Xander Venter), wat grootgeword het saam met sy presiese, dikwels afwesige, fotograafpa, het hierde eksakte houding aangeneem. Hy is deesdae ’n boekhouer.

Jacobus se ma het weggetrek van haar fotograafman toe sy nog verwagtend was. So word Jacobus (Stefan le Roux) vaderloos groot. Dit was moeilike jare en sy motto is “Fake it till you make it.”

Jacobus is egter bitter alleen én nogal bitter teen oor die verlore vader.

Eendag ontmoet hierdie twee mans mekaar in ’n groot, korporatiewe kantoor.

Die lewe is egter nie maklik nie. ’n Totaal ander soort kopskoot neem Jacobus se lewe en Alexander moet dan ernstig bestek opneem van sý lewe.

Hierdie stuk deur die Hoërskool Parel Vallei het baie met min dekor gedoen. Hulle het twee tafels, ’n dataprojektor en ’n klein kameratjie wat aan ’n lampie vasgemaak was, op die verhoog gehad.

Annelie van Zyl het die teks geskryf en het ook die regie behartig.

Die verhoogbestuurder was Zandelie Trollip, die klankoperateur Steven Cohoe.

Beligting is behartig deur Justin Burger en die multimedia deur Franshua Kennis. Lucas Louw was die verhoogassistent.


mý Suid-Afrika: ’n openbaring

Beste akteur in ’n hoofrol: Adriaan Havenga

Dié stuk, mý Suid-Afrika: ’n openbaring, van Hoërskool Monument is deur Adriaan Havenga geskryf. Hy het ook die hoofrol vertolk. Havenga en Yolandi Herbst was gesamentlik verantwoordelik vir die regie.

Die stuk begin met ’n doodskis wat ingedra word op ’n kaal verhoog. Die karakters se ouers, perdeboere, is in ’n plaasaanval vermoor.

Jattie Theron (gespeel deur Adriaan Havenga) se suster, Stella (Annchen van Staden), is stom ná die aanval. Jattie en sy vrou, Helena (Anzelle Maritz), kyk na die stom sussie.

Helena word swanger, en Jattie verloor sy werk danksy BEE.

Op hierdie stadium sluit Jattie aan by ’n duistere organisasie wat allerlei boodskappe oor die eindtye gebruik en interpreteer soos dit in die Bybelboek Openbaring geskryf is.

Jattie, kwaad en moeg, besluit om ’n geweldige offer te bring aan die Saak, maar nie eens hy weet wat hy regtig gaan verloor in die proses nie.

Havenga se drama is ’n besonderse stuk en die doodskis vorm ’n makabere maar belangrike deel van die hele spel. Dit word ’n tafel en die kopstuk van ’n bed. Dit word ook die opslagplek vir wapens. Regdeur besef die kyker: ons is voortdurend in die aangesig van die dood.

Bonita Fick was die verhoogbestuurder, Odette Kemp die klankoperateur en Chanél Mieny die beligtingsoperateur.

Adriaan Havenga het die prys as beste akteur gewen vir hierdie rol.


Plekke!

Algehele derde plek in ATKV-Tienertoneel 2017

Beste beligtingsoperateur: Brandon Dippenaar

Mees belowende spel in ’n rol deur ’n seun: Dylan Lee

Dit gebeur nie sommer dat ’n klug kan meeding met ernstige dramas nie, maar Plekke!, geskryf deur Johann Smith, is nie sommer enige klug nie. Dit herinner sterk aan Michael Frayn se Noises off, hoewel die storie gans anders is.

Die seuns van die Afrikaanse Hoër Seunskool het boonop uitstekend gespeel. Vir baie teatergangers was hierdie stuk die een waarna hulle uitgesien het. Dit was skreeusnaaks.

Ronel de Beer was die regisseur.

Die storie gaan so: Heinrich (Craig Kleingeld) skryf ’n stuk wat hy by die ouetehuis wil opvoer, deels omdat hy dan die beeldskone Eloïse kan soen.

Ongelukkig ontstaan daar ’n struweling tussen Heinrich en sy beste vriend, Nathan (Rynhard van Zijl). Dit wil voorkom asof die geveg oor Eloïse op die verhoog ook in die werklike lewe plaasgevind!

Die kyker ontmoet die akteurs die aand van die kleedrepetisie wanneer dinge regtig skeefloop. Selfs Eloïse verlaat die stel. Die pruik val op Bobby, wat met sy ouboet se X-box omgekoop moet word, om die rol van die meisie te speel.

Bobby, gespeel deur Dylan Lee (regs), was skreeusnaaks. Dit is moeilik om so goed toneel te speel dat die gehoor werklik dink daar is nie ’n greintjie talent in die speler nie.

Dylan het dit reggekry. Hy is dus ook aangewys as die mees belowende manlike speler van ATKV-Tienertoneel 2017.

Die ander spelers was Reinhardt Prinsloo, Kyle Jonker en Jan-Daniël Naudé.

Thys van den Heever was die verhoogbestuurder, Jan-Daniël Naudé die klankoperateur, Bradon Dippenaar die beligtingsoperateur en Zach Labuschagne die kolligoperateur.

Die verhoogassistente was Johan Muller, Wian Pienaar, Sebastian Bergmann en De Wet Meyer. Die hulpregisseurs was Adéle McLachlan, Hybré Schoeman en Willem Pretorius.


Die eindelose konstellasies – ’n gedagtedroom

Die eindelose konstellasies – ’n gedagtedroom, geskryf deur André Gerber en opgevoer deur Hoërskool Durbanville, was ’n visuele kragtoer.

Die storie is redelik eenvoudig. ’n Jong meisie en haar alkoholis-ma woon saam in ’n woonstel. Die meisie ontsnap van die harde werklikheid deur na die sterre te lê en kyk.

Wanneer die meisie se ouma sterf, laat sy ’n boek vol stories agter. Soos die meisie die boek lees, gebeur die onwerklike gebeure voor die teaterganger.

Dit is skouspelagtig, en die manier waarop mense se lywe ingespan is om voorwerpe soos ’n horlosie, ’n feniks, ’n wasgoedlyn of ’n tafel te vorm, was indrukwekkend.

Die regie is behartig deur Jan Burger, Amelia van Wyk en Marí Blom.

Die stories vervloei in die jong karakter se kop, en ook op die verhoog. Die kyker kan die narratief volg, maar uiteindelik was die krag van dié stuk die spektakel, geskep deur verbluffende choreografie. Die kyker sien die werklikheid deur die oë van ’n agtjarige wat alle mooi drome mooier maak en alle nagmerries nog erger.

Daar was baie spelers op die verhoog, en elkeen het bygedra tot die belewenis vir die gehoor. Die spelers was Cailin Aylward, Ameré Prinsloo, Michaela Smit, Trompie Booysen, Maja Smith, Mieke Fabel, Victoria Jumeth, Charel Viljoen, Stefan Brundyn, Alexa le Roux, Timothy Erasmus, Aimee Erasmus, Clarice de Jonge, Jana Laker, Dandré Jansen van Nieuwenhuizen, Karla Lund, Corlia Fick, Andrea van der Merwe, Sonja Kruger, Jeanrie Myburg, Jané Theron, Chelsey Jantjies, Danae Koen, Rochelle Croucamp, Deané de Bruin, Tammy Nel, Nicola Nothnagel, Ashleigh Palmer, Armand van Niekerk, Heike Hellström, Hayleigh Rhodes en Callum Arendse.

Die tegniese span was ook groot.

Die verhoogbestuurder was Nell Bezuidenhout, die klankoperateur Loui Griebenow, beligtingsoperateur Ruan Potgieter en die oudiovisuele operateur Graham Karlström.

Die musiek is gekomponeer deur David Wolfswinkel; die klankbaan is geskep deur David Wolfswinkel, Jan Burger en Juan Jansen van Vuuren

Die oudiovisuele ontwerp en animasie is verskaf deur Jan Burger, Jani Uys en Ranos Productions. Die beligtingsontwerp was deur Jan Burger, Loui Griebenow en Ruan Potgieter.

Stel- en kostuumontwerp was deur Jan Burger, Amelia van Wyk en Marí Blom.

Die verhoogassistente was JD Erasmus, Charl Human en Jani Uys.


Sewentien

Jongmense skram nie meer weg van die waarheid nie. Hierdie stuk praat kaalkop oor kwessies wat meisies raak. In ’n mate is daar ooreenkomste met Bloemhof se stuk, tog is dit baie anders aangebied.

Die klaskamer is pragtig geskep, die toilette is smaakvol gedoen en die mure word swartborde wat die stemming van die meisies weerspieël.

Uiteindelik handel hierdie stuk oor ’n meisie wat voel sy word verstoot. Om sewentien te wees, is geen musical nie, maar ’n stryd om te oorleef.

Die stuk is hard en die meisies kom by tye kru oor, maar die taal en die situasies is deurgaans geloofwaardig.

Hoërskool Tygerberg moet gelukgewens word met die waagmoed wat hulle aan die dag lê. Hierdie teks moet gepubliseer word, saam met ’n hele paar ander wat al in Tienertoneel se finale was.

Sewentien is geskryf deur Frans Hamman en die toneelgeselskap.

Frans Hamman was ook die regisseur.

Die spelers was: Heike de Goede, Johann Dippenaar, Suné Els, Marzaan Grundlingh, Yvonne Mouton, Marelize Pretorius, Tanya Smith, Elzanne Swart, Chandré Thiart, Michaela Weir, en Robin Meissenheimer.

Die verhoogbestuurder was Handré Petzer, klankoperateur Morné Smith, beligtingsoperateur Dylan Engelbrecht, oudiovisuele ontwerper Frans Hamman en die stelbouers Frans Hamman, Handré Petzer, Dylan Engelbrecht en Morné Smith. Marelize Pretorius het vir die kostuums gesorg.


Mans genoeg?

Heatherdale Sekondêre Skool is geleë in Heidedal, net buite Bloemfontein. Dit is ’n arm buurt.

Hier, soos in alle ander woonbuurte in die wêreld, worstel mans om hulleself te definieer. Tog, dit maak nie saak hoe ’n mens na die saak kyk nie, pa’s se bydrae tot hul kinders se ontwikkeling is uniek, mits hulle daar is om ’n bydrae te lewer.

Ongelukkig toon statistiek dat die pa’s van sowat 57% van alle Suid-Afrikaanse kinders afwesig of dood is.

In Heidedal sal die kinders sê: “My pa het loop seep koop.” Dit beteken hy het geloop en hy kom nie terug nie.

Nou vra Heatherdale Sekondêre Skool aan alle mans: Sal jy bly as jy ’n kind maak? Is jy mans genoeg om na jou kinders se welsyn om te sien, of gaan jy seep koop?

Die teks is geskryf en saamgestel deur Michelle Joubert, wat ook die regie behartig het.

Die akteurs voer verskeie liedjies en gedigte op en meng dit met statistiek en aktuele onderwerpe wat die rol van ’n pa bekyk.

Die spelers is Delano Bergman, Aldriano Fischer, Juandre October, Sergio Abdiziet, Duncan Jacobs, Renaldo Slagter, Tshepo Moshodi en Lindile Maeeane.

Lebohang Matlali was die verhoogbestuurder en beligtingsoperateur. Mithanielle Neels was die klankoperateur.


Min of meer

Beste klankoperateur: Christo van Schalkwyk

Mees belowende spel in ’n rol deur ’n meisie: Abigail Wagner as medewenner

Die stuk is aangebied deur Hoërskool Zwartkop en is geskryf deur Issie Venter, wat ook die regie behartig het.

Walvisuitspoelings is aan die Kaapse kus opgemerk. Dit is nie die eerste keer dat die walvisse uitswem en op die strand sterf nie. Talle vrywilligers help om hulle met emmers water nat te gooi in ’n poging om hulle te red.

Hoekom spoel die walvisse uit? Niemand weet nie, maar baie mense het ernstige teorieë – heelwat blameer selfs die Amerikaanse vloot.

Muriel beweer dat sy veel meer as die walvisse sien uitspoel het. Is sy van lotjie getik, of steek daar waarhede in haar vertelling dat daar ’n dier bestaan wat min of meer soos ’n meermin kan wees? Het dit iets te doen met die walvisse se nood?

Min of meer stimuleer die teaterganger op ’n intellektuele, visuele en ouditiewe vlak. Is hierdie teaterstuk iets anders? Die stuk is nie heeltemal aktivisties genoeg om harde ekologiese feite by die teaterganger tuis te bring nie, maar vra eerder dat die kyker mooi moet dink oor sy of haar eie ervaring van die natuur.

Die klankbaan en die blou beligting stimuleer die teaterganger en neem ons na ’n wêreld waar meerminne, min of meer, kan bestaan. Die beoordelaars het dit ervaar en Christo van Schalkwyk is bekroon vir die beste gebruik van klank in die ATKV-Tienertoneel se finaal.

Die akteurs was Abigail Wagner, Maryna Leonard, Eliska Wentzel, Jessica Coetzee en Danica Strydom.

Mariëlle Maritz was die verhoogbestuurder.

Christo van Schalkwyk was die klank- en beligtingsoperateur.

Johandra Victor was die projeksiesoperateur.


Die Niks

Een van die stukke in die top vyf

Beste aktrise in ’n hoofrol: Laris Gomez 

Die Niks, deur die Hoërskool Jan van Riebeeck, is ’n hervertelling van die Bybelse Josefstorie. Dit is geskryf deur Philip Rademeyer, wat ook die regie behartig het.

In hierdie storie is Josef (Zion Poggenpoel) ’n dromer. Hy sien jellievisse, seekatte en walvisse waar ander mense droë grond en wilgerbome sien.

Die wonder van hierdie stuk is natuurlik dat die gehoor ook die diere sien, want Rademeyer maak gebruik van pragtige marionette. Die teaterganger is dit heeltemal eens met Josef: hy ís omring met seediere.

Josef se ma, Ragel (Laris Gomez), en pa, Jakob (Liam Peyper), is bekommerd oor die seun. Ook sy ouma Leah (Katherien Albrecht) kan nie anders as om bekommerd te wees nie.

Gelukkig het hy ’n sussie, Benny (Melnisha Arnolds), wat bereid is om met hom te speel.

Ongelukkig is sy ander broers en susters uiters jaloers. Hulle besluit om hom dood te maak en oorreed Benny om te help.

Wanneer die boodskap van sy dood kom, is Ragel se weemoed natuurlik groot. Laris Gomez (bo) se puik vertoning as Ragel het gemaak dat sy weggestap het met die prys as die beste aktrise by die ATKV-Tienertoneel van 2017.

Die ander spelers was Jan Combrinck, Jacques van der Westhuizen, Danielle de Vries, Pippa Bester, Amy Atkins, Mila Yssel, Leah Mascher, Casey Hawkins, Gabie Joubert, Migael Mouton, WS Horn en Sabah Cabano.

Die verhoogbestuurder was WS Horn. Die beligtingsoperateur en -ontwerper was Jans Rautenbach, die kleinseun van die befaamde filmmaker met dieselfde naam.

Die assistentregisseur was Stephanie Gericke.

Die poppe is ontwerp en gemaak deur The Loft Puppet Co.


Prediker 3

Daar is ’n tyd vir als, ook om te vroeg te sterf.

Hoërskool Eldoraigne se stuk, Prediker 3, begin met ’n aanhaling uit die bekende Bybelstuk. Dit handel oor ’n jong meisie wat kanker kry en oor haar twee beste vriendinne se onvermoë om met haar siekte en haar dood om te gaan.

Die drama is geskryf deur Ianthe Sipsma, Kirstin Eloff en Daniëlle van der Westhuizen, wat ook die rolle vertolk het. Kirstin Eloff en Ianthe Sipsma het ook die regie behartig.

Die stuk het wel nie aanspraak gemaak op die top vyf nie, maar dit is indrukwekkend dat ’n drama wat in sy geheel deur skoolkinders geskep en bestuur is, so ver gekom het.

’n Baie eenvoudige stel het bygedra tot sjarme van die stuk, waarvan die boodskap diep getref het.

Die verhoogbestuurder was Keenan Kotze. Lourens van den Berg was die klank- en beligtingsoperateur en het ook die oudiovisuele ontwerp behartig.

  • 2

Kommentaar

  • Dalesté Eloff

    Voorwaar 'n belewenis om al hierdie stukke te kon beleef. Wat 'n fenominale klomp akteurs en aktrises!

  • Prof Nico Luwes

    Geluk aan ALMAL wat so lekker kon speel! En dankie aan ATKV vir die wonderlike projek!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top