Die Besoeker

Agt uit twintig. Vier uit twintig.  Ag Vader, hoe gaan ek hierdie kinders in die hoërskool kry, dink Christien. Wiskunde is werklik 'n probleem vir die graad sewes. Agtien uit twintig. Dankie, klein Frikkie Joubert. Jy bly 'n staatmaker.

Die gordyn vee oor haar merkwerk en Christien sit haar pen neer en leun oor die lessenaar om die venster toe te trek. Daar is donderweer op pad uit die weste. Miskien kom daar verligting van hierdie helse hitte van die afgelope week. Sy loer tersluiks na die hoofhuis. Die kombuislig brand nog. Haar ma behoort nou besig te wees om op te was. En dan die dodelike roetine om pa te was en reg te kry vir die nag. Goddank dit is nie vanaand haar beurt nie.

Christien voel die verbittering soos gal deur haar gemoed vloei. Alles kom uiteindelik tot niks. Die kanker vreet haar pa op. Die spesialiste kan niks meer vir hom doen nie. Hulle het hom huis toe gestuur om te sterf. Haar eie lewe is daardeur finaal omvergewerp. Sy moes haar onderwyspos by die skool in die stad prysgee om te kom help versorg. Daar was 'n pos beskikbaar op die dorp. Die dorp wat sy soveel jare gelede verlaat het met die voorneme om nooit terug te keer nie. Dieselfde skool, dieselfde haatlike rooi baksteengeboue waar sy twaalf jaar 'n gevangene was. Niks het verander nie. Net die gesigte. Selfs die reuk is nog dieselfde. Nou is sy terug, 'n middeljarige, siniese, geskeide vrou.

Die egskeiding - 'n abrupte beëindiging van 'n kinderlose huwelik van veertien jaar - het haar verlore gelaat. Pieter het geweier om langer met sy skoonma getroud te wees. En gedagvaar. 'n Terapeut, een van vele, het gesê sy moet dit sien as 'n nuwe begin. Maak jou vry van alle bagasie. Maar hoe kan jy jouself vrymaak van bagasie as jy nie die moed het om te kyk wat in daardie swaar koffers is nie? Hoe bevry jy jou van jouself en dit wat jy geword, behalwe deur die dood?

Sy is weer teruggebring Lelie-en-Dal toe, plaas toe. Miskien was dit so bestem. Sy het al soveel daaroor gewroeg. Nagte deur wakker gelê. Haar hart uitgebid. Hoeveel keer het sy nie al gevra: “God, gee my 'n teken. Wys my wie ek is! Is dít waarvoor ek bestem is ...?”

Haar ma se oproep drie maande gelede: “Christien. Jy sal moet kom help. Ek kan nie meer alleen alles hanteer nie.” Dit was die oproep wat sy gevrees het. En die: “... hy is darem jou pa, jy weet ...” en “... noudat jy geskei is ...” wat sy geweet het gaan kom. Sy het geen weerstand daarteen gebied nie. Sy het kom help. Hy is darem haar pa en sy ís in elk geval geskei.

Sy het gehoop sy sal leer om haarself te laat geld. Inteendeel. Haar pa se siekte en sy versorging het haar in haar ma se diens gestel. Sy het nietemin haar intrek in die kothuis geneem.  Teen haar ma se wil. Die kothuis is naby genoeg om te help met die versorging, maar ver genoeg om te ontvlug van haar ma se subtiele stekies. Haar swart gemoed wat nog altyd so maklik aan haar, Christien, afgesmeer het. Haar ma, die ewig dienende Marta. Maar die Marta dien met manipulasie en selfsug. Verborge vir die buitestander wat net die knap, raakvatter-plaasvrou ken. Christien ken die meesterlike emosionele afperser.

Christien staan op om die kothuis se gordyne toe te trek as sy die eerste veraf gerammel van donderweer hoor. Die weerlig is nog ongedefinieer en baai die plaaswerf af en toe in 'n dowwe blou lig met 'n lang tussenpose voor 'n gedempte donderslag volg. Die boerboele begin senuweeagtig om die hoofhuis blaf.  Hulle is bang vir die donderweer en haar ma sal hulle waarskynlik binnekort in die kombuis toelaat. Reën sal welkom wees, maar Christien hoop dat dit tog nie 'n storm is nie. Die laagwaterbruggie oor die spruit op pad dorp toe kan nie veel water verduur nie. Dit het al in die verlede gebeur dat sy twee dae op die plaas gestrand was. Mnr Odendaal het simpatie gehad en voorgestel dat sy vir haar 'n woonstel op die dorp kry. Hy het nie besef hoe graag sy dit sou wou doen nie, maar sy het stilgebly. Hy was beïndruk met haar toegewydheid aan haar ouers se welstand.

Christien se selfoon lui op haar lessenaar. Sy weet dit is haar ma. “Hallo, Ma,” antwoord sy en trek die gordyn op 'n skrefie oop sodat sy 'n uitsig op die hoofhuis se kombuisvenster het. Haar ma se figuur is sigbaar in die venster, selfoon teen die oor. Die kothuis is ongeveer dertig meter van die hoofhuis en Christien kan sien haar ma het reeds haar slaapklere aan. Met haar vry hand klem sy haar japon toe voor haar bors.

“Hier kom 'n lelike weer aan, Stien.”

“Ek kan dit sien, Ma. Ek het die vensters en gordyne toegemaak.” Dis nie hoekom haar ma bel nie. “Is Pa oukei?”

“Ek weet nie wat dit is met hom vanaand nie. Hy is onrustig. Miskien voel hy die weer aan.”  Christien hoor die diep sug en dan: “Ek is so moeg, Christien.”

“Laat weet maar as ek moet kom help, Ma. Ek gaan nog lank besig wees met nasienwerk.” Sy moet haarself bedwing om nie ook te sug nie. Dit kom so maklik. “Ek hoop net die krag hou. En laat tog die boele in. Hulle geblaf maak my gek.” Christien is instinktief spyt oor die geirriteerdheid in haar stem. “Ek sal later kom tee drink,” probeer sy vergoed.

“Moenie moeite doen nie. Ek sal maar by jou pa gaan sit en lees. Miskien maak dit hom rustig.” Weer die sug. “Lekker slaap.”

Die verbinding word verbreek voordat Christien kan antwoord. “Ja, Ma. Goed, Ma,” sê sy in elk geval hardop. Ek is ook moeg. Tot in my siel in moeg. En ek verlang na Pieter.

Sy sit die foon neer en loer na die weste net toe ‘n verblindende weerligstraal die nag in dag verander. Die knal laat haar onwillekeurig die gordyn toeruk. Die krag gaan nie hou nie.  Ag, hemel tog. Sy besef sy het vergeet om kerse van die hoofhuis te bring. Hou op om so negatief te wees, Christien Malan, sê sy vir haarself. Maak jou nasienwerk klaar terwyl die krag aan is. Miskien gaan dit in elk geval nie af nie. En die reën is bitter nodig.

Die wind begin die twee palmbome wat weerskante van die paadjie na die hoofhuis waghou, liggies roer. Christien ken die geluid. Dit stem haar gewoonlik rustig, maar vanaand is daar iets onheilspellend aan die reusetakke se sagte geruis. Sy trek die gordyn weer op 'n skreef oop. Die kombuislig is af. Die boele is stil. Sy trek die hopie nasienwerk nader. Here van genade, help hierdie kinders waar ek nie meer kan nie, dink sy en begin weer te werk.

Die donderslae neem 'n aaneenlopende dreuning aan sonder dat daar weer skrikslae kom. Die reën bly egter weg. Christien sug met die laaste antwoordstel. Nul uit twintig. Moedeloosheid daal soos 'n swaar kombers oor haar neer.  Gelukkig is die marteling nou verby.

Die weerligstraal tref die palmboom met 'n verblindende wit lig. Die slag laat Christien se ore tuit.  Sy is vir 'n oomblik lam. Die krag is uit. Die swart van die nag laat haar paniekerig dink sy is blind. Dan word haar studeerkamer verlig deur 'n volgende slag, ook baie naby. Die weerligstrale begin mekaar vinnig opvolg, oorvleuel, sodat die gedonder sonder tussenposes is. Soos 'n aanstormende golf brullende seewater.

In die blouwit lig van die storm soek Christien vervaard na haar selfoon op die lessenaar. Sy moet haar ma bel. Die gevoel van paniek groei as sy nie die foon kan vind nie. Dit was op haar lessenaar. Waar is dit nou? Dan lui die foon. Die vrolike luitoon is onvanpas in hierdie hellestorm. Christien gryp die foon waar dit onder een van die antwoordstelle verskuil lê.

“Ma! Is julle oukei?”

“Jy moet kom help, Stien.”

“Pa! Is dit Pa?”  Christien voel hoe 'n koue ysterhand haar hart omklem. Asseblief tog net nie vannag nie.

“Nee, Stientjie. Jou pa is nou rustig ...” 'n Donderslag wat die vensters in hul rame laat ratel doof haar ma se stem uit. Iets is fout. Christien kan nie onthou dat haar ma haar al ooit “Stientjie” genoem het nie.

“Ek kan nie hoor nie, Ma! Sê weer!”

“Christien! Jou pa is orraait. Luister vir my! Jy moet kom help ...” Die verbinding gaan dood.

Christien staar na die foon in haar hand. Dit het begin reën. Dit stort neer op die sinkdak van die kothuis in 'n kakafonie van haelkorrels, water en wind. Die selfoon lui weer.

“Ma, wat gaan aan? Waarmee moet ek kom help?!” Christien is na aan histerie. Die wind ruk aan die kothuis se mure en waai die reën en hael kletterend teen die vensters. Sy druk met haar wysvinger een oor toe en hou die selfoon so styf as moontlik teen die ander oor.

“Christien, daar lê ‘n man op die stoep…”

  O, liewe Here, nee!  “Ek kom, Ma!”

Duisend mal gedagtes flits deur Christien se kop as sy instinktief die hoofhuis se agterdeursleutel gryp en die kothuis se deur oopruk. Die volle geweld van die storm tref haar in die gesig. Die yskoue haelkorrels slaan genadeloos oor haar lyf. Die wind ruk die deur uit haar hand en sy los dit oop. Die storm neem gewelddadig besit van die kothuis.

Verblind strompel sy met die geplaveide paadjie na die hoofhuis. Die reuk van swael en rook meng met die reën en wind. 'n Verskroeide palmtak lê oor die paadjie en Christien struikel daaroor. Sy val en ‘n brandpyn skiet deur haar linkerarm. Sy ignoreer die pyn en staan vinnig op. Deurdrenk bereik sy die agterdeur. Nog 'n geweldige donderslag skeur deur die nag en Christien laat val die sleutel. Die deur is nie gesluit nie. Ma moes dit vir haar oopgesluit het. Sy val die kombuis binne en druk die deur weer agter haar toe.

“Maaa!” Christien vee haar nat hare uit haar gesig en probeer fokus op haar omgewing. Die bekende kombuis met die geur van aandete wat nog effens in die lug talm word sporadies blou verlig deur die weerlig. “Maaa! Maaa!” roep Christien weer en vee oor haar oë.

“Ek is op die stoep, Christien!” hoor Christien uiteindelik haar ma se stem.

Die lig van 'n flits skyn in die gang af en sy volg dit na die voorhuis wat uitloop op die groot stoep. Die gevoel van paniek begin haar weer omklem as sy stadig agter die lig aanloop, die lang gang af. 'n Man op die stoep. Wie? Twee weerlose vroue. 'n Sterwende ou man. Wat se weerstand kan hulle bied? Christien besef haar selfoon het in die kothuis agtergebly. Haar ma behoort egter reeds die polisie gebel het. En waar is die boele?

 “Christien, my kind. Goddank jy is hier.”

Christien se ma staan in die oop veiligheidshek wat toegang gee tot die stoep, flitslig in die hand. Sy lig vir Christien tussen die meubels deur. Dit is donker op die stoep. Die weerlig is nou vreemd afwesig. Die reën giet egter nog neer en maak 'n waterval van die stoepdak grond toe. 'n Watermuur wat dit wat op die stoep is, afsluit van die buitewereld.

“Ma, wat gaan aan?” Christien hoor die vrees in haar eie stem deurslaan. Sy wil nie sien wat op die stoep is nie, maar sy voel gedwing om verby haar ma te kyk. Uit op die stoep. Die lig van die flits lei haar blik. Woordeloos verlig haar ma die figuur wat roerloos op die stoep lê.

Die boele het aan weerskante van die figuur stelling ingeneem asof hulle daaroor waak. In die lig van die flits lek die een boel besorg 'n donker hand wat uit die mou van 'n swaar swart jas uitsteek, die arm uitgestrek. Die liggaam lê met gesig na onder, die een been ingevou, die ander uitgestrek. Asof dit uit die lug daar neergevel is. Die gesig is onsigbaar, deels bedek deur 'n iets wat soos 'n skouermantel lyk. 'n Lok gietswart hare lê soos olie blink oor die deel van die gesig wat nie bedek is nie. 'n Swart vloeistof vorm 'n klein rivier van onder die liggaam na waar dit van die stoep af in die gietende reën verdwyn. In die lig van 'n flits is dit onmoontlik om te bepaal of dit water of bloed is.

'n Onverklaarbare gevoel van besorgdheid neem van Christien besit. Die vrees wat haar sekondes gelede in 'n meedoënlose greep gehad het, het saam met die weerlig verdwyn. Sy wil op die stoep uitstorm en die man oplig, sy kop op haar skoot neem. Hom instinktief versorg. Dan voel sy haar ma se hand ferm op haar arm.

“Voel jy dit ook, Christien?”

“Wie is dit, Ma? Waar kom hy vandaan? En die boele ...”

Christien besef dat sy fluister en dat haar ma haar waarskynlik nie kan hoor nie.  Die reën stort nog onverpoos neer. Sy neem die flits uit haar ma se hand en tree uit op die stoep. Sy belig die figuur van sy mantelbedekte hoof, af, tot by die swaar stewels wat sy voete bedek. Die liggaam bly roerloos. Die boele gee eerbiedig en kreunend pad as Christien op haar hurke neersak en versigtig 'n hand op sy skouer laat rus. Die materiaal van die skouermantel voel vreemd onder haar handpalm. Grof maar duursaam. Sy voel terselfdertyd die deining van asemhaling.

“Hy haal asem, Ma. Ons moet hom in die huis kry.”

“Genade, my kind. Die man is 'n reus. Ons twee ...”

“Kom, Ma! Ons moet hom eers omdraai.”  En dan: “Bring vir my twee van die groot kussings in die woonkamer, Ma. Maak gou!” 

Haar ma skarrel die woonkamer binne en kom terug met twee groot opgestopte rusbankkussings. Sy sit dit langs Christien neer en neem weer die flits by haar.

“Laat ek vir jou lig, my kind.”

Versigtig steek Christien haar linkerhand onder die man se nek en lig hom effens op. Met haar ander hand vee sy die lok hare wat sy gesig deels bedek terug en trek terselfdertyd die kap van die skouermantel van sy kop.

Christien se ma snak liggies na haar asem: “Dis 'n swart man, Christien...”

“Dit kon ek lankal sien, Ma.” Die man se gelaatskleur is weliswaar baie donker. Die lig van die flits skyn in sy gesig. Sy oë is gesluit, versluier deur lang wimpers. 'n Dun straaltjie bloed syfer stadig by sy een mondhoek uit. Christien vee dit onwillekeurig af met haar mou.

“Kom ons draai hom om.”

Beide is verbaas oor die gemak waarmee hulle die groot liggaam omdraai op sy rug en sy bolyf teen die kussings lê maak. Sy gesig is nou heeltemal ontbloot. Die twee vroue staar in stille verbasing. Sy gelaatstrekke is fynbesnede, amper vroulik. Sy hare is gietswart lokke wat in nat toue na agter sprei. Bloed begin weer uit 'n mondhoek sypel.

“Hy het baie seergekry, Christien.” Die besorgdheid in haar ma se stem herinner Christien vir 'n oomblik aan haar kleindogtertjie jare. Toe 'n ma nog nie kon verdra dat haar kind seerkry nie.

“Hy hét, Ma. Bring vir my warm water en handdoeke. Loer sommer by pa in of hy oukei is. Ek maak solank sy jas los.”  Dit is nou doodstil. Die reën het opgehou. Die boele maak fyn tjankgeluidjies. Altwee lê met hul koppe op hul voorpote die situasie en betrag.

In die afwesigheid van die flitslig voel-voel Christien na knope om die jas los te maak. Sy vind nie knope nie, maar voel wel vreemde lussies wat die donker jas toe hou. Een vir een vroetel sy hulle los.

 “Hierso, Christien! Warm water en handdoeke.” Haar ma is kort van asem. “Jou pa is wakker.   Hy het my weggejaag. Sê ek moet gaan help. Hemel, my kind, hoe weet hy ...?”

“Ek weet nie, Ma,” val Christien haar ma in die rede. “Lig vir my. Ek het sy jas los.”

Sy vou die jas versigtig oop. Die man se welgevormde bolyf lê ontbloot. ‘n Hemp is vreemd afwesig.   Swart-pers kneusplekke vleg dwarsoor die donker vel. Onder die haarlose linkerbors vloei bloed stadig uit 'n ronde gat wat met swart omsoom is. Sy hele maag is met bloed besmeer. Sy broek is vasgebind met ‘n gevlegde leergordel wat in ‘n knoop vasgemaak is. Ook dit is donker van die bloed.

“Hy is geskiet, Christien. Dis 'n koeëlwond daardie.”  Haar ma wys met die flits na die wond.

Christien voel trane onwillekeurig uit haar oë wel as sy die omvang van die man se beserings aanskou. “Wat het met jou gebeur? Wie het dit aan jou gedoen?” fluister sy. Haar ma sit 'n nat warm handdoek in haar hand.

“Vee die bloed af, my kind.”

“Hy het 'n dokter nodig, Ma.” Christien besef dat geen dokter naby die plaas gaan kan kom na die storm nie. Sy druk die handdoek saggies teen sy vel. “Ons moet die bloeding stop.” Sy neem 'n verband by haar ma en druk dit ferm teen die wond. “Pleisters, Ma.”

Saam versorg ma en dogter die wond. Die man prewel iets onverstaanbaars as Christien sy gesig afvee, die lang swart hare alles na agter vee. Sy hou haar oor teen sy lippe, maar hy is weer stil.

“Ons moet hom nie weer beweeg nie, Ma. Ek is bang ons maak hom nog verder seer.” Christien talm 'n oomblik. “Bring komberse. Ons moet hom warm hou deur die nag.”

Met die komberse stewig oor hom gewikkel staan Christien op. Die boele kom weer nader en gaan lê aan weerskante van die man se bene, koppe op die voorpote. Weer op hul wagposte.

“Ek sal by hom bly, Ma. Gaan na pa toe.” Sonder ‘n woord gee Christien se ma vir haar die flits en druk dan haar hand met altwee haar hande.

Die nag is amper doodstil. Die gedreun van die spruit in vloed is hoorbaar in die verte. Christien gaan lê sag langs die man. “Here, help hierdie man deur die nag. Ek weet nie wie hy is nie,maar moenie dat hy sterf nie …  Asseblief, my Hemelse Vader, ” bid sy saggies. Die twee boele kreun saam: “Amen.”

Die son skyn helder en warm. Sy staan in ‘n veld met ‘n ligte wind wat deur haar hare waai. Dit waai haar hare oor haar gesig. Sy vee dit weg en dan staan die man voor haar.  Hy is in wit geklee. Dit kontrasteer met sy donker gelaat. Die wind waai sy lang swart hare na agter. Sy is nie bang nie. Hy neem haar hande in syne en streel dan met sy een hand oor haar voorarm waar die rooi skaafmerke van haar val oor die palmtak opgehewe lê. Hy kyk in haar oë. Nee, hy kyk deur haar oë. Na daar waar al haar geheime en vrese weggesteek is. Haar diepste binne-siel. Daar is ‘n sagte glimlag op sy lippe. Sy voel so veilig. Sy is weer ‘n kind. Haar lewe lê voor haar uitgestrek soos ‘n roetekaart. Orals is daar rooi vlaggies.

Die man neem haar hand en hulle stap deur haar lewe. Sover hulle stap maak hy die rooi vlaggies bymekaar en gee dit vir haar om vas te hou. Sy probeer die vlaggies vashou teen haar lyf, maar die rooi vlaggies word wit en verdwyn.  Die vlaggies word al hoe minder en verder uitmekaar. Die man los haar hand en sy maak self die enkele rooi vlaggies bymekaar. Sy besef hy loop al hoe verder voor haar uit. Sy volg hom, maar sy kan hom nie inhaal nie. Daar is nie meer rooi vlaggies nie. Die vlaggies is nou almal wit.

“Christien!  Christien, word wakker!” Christien besef sy het aan die slaap geraak. Sy wil nie wakker word nie. Sy steek outomaties haar arm uit en voel oor die kussings. Die man is weg. Die boele blaf luid by die hoenderhokke. Die dag breek rooi in die ooste. Haar ma staan in die deur van die voorkamer met haar selfoon in haar hand. Sy lyk ontsteld.

“Waar is hy, Ma?”

“Ek weet nie, Stientjie. Maar oom Koos Tooi het nou net gebel. Die polisie is daar by hom.  Hulle wil weet of ons oukei is.”

Christien is heeltemal wakker. Sy spring op. Die komberse lê netjies opgevou eenkant. Die enigste teken van die man se teenwoordigheid is die ingeduikte kussings. Die handdoeke lê bloedloos skoon langs die komberse.

“Oom Koos sê daar was ‘n helse ongeluk onder by die bruggie. Die polisie weet self nie wat gebeur het nie. ‘n Kar lê in die vloedwater. Hulle het twee lyke langs die spruit gekry. Altwee met vuurwapens.” Christien se ma is uitasem gepraat.

Sy haal diep asem en haar stem is bewerig as sy voortgaan: “Die kar het ingedraai Lelie-en-Dal toe, Stien. Die spore wys dit, sê die polisie. Maar hulle weet nie hoe die kar in die spruit gekom het nie. Die spore in die modder …” Sy haal weer diep asem. “Daar is nie karspore verder nie. Dit lyk of die kar in die spruit gegooi is. Daar is ook baie geskiet. Die wêreld is blykbaar besaai van die patroondoppies.  Dit was plaasaanvallers, Christien!”

Christien druk haar ma sagkens opsy en stap die huis in.  Haar ma praat onophoudelik. Haar pa het sy morfiendrup uitgetrek. Hy sit regop in die bed en lees Bybel. Hy sê sy moet Hebreërs 13 vers 2 lees.

Christien luister nie meer nie. Sy stap die lang gang af. Haar vinger trek ‘n onsigbare streep teen die muur. Deur die kombuis na buite. Die vroeë oggendson verf die plaaswerf in helder vars somerskleure. Sy trap oor die palmtak in die paadjie en is intens bewus van die vrolike gekwetter en gesing van die voëls. Die reuk van nat grond styg soos stoom om haar op.

Die kothuis se deur staan nog oop. Totale chaos heers binne. Nat antwoordstelle is oral rondgewaai. Een antwoordstel is saam met ‘n spul nat blare teen haar kamerdeur vasgewaai. Sy haal dit af. Frikkie Joubert. Agtien uit twintig. Christien glimlag en rol die bladsy in ‘n rolletjie op. Sy maak haar kamerdeur oop. Haar kamer is ongeskonde. Sy gaan lê op haar bed met die antwoordstel op haar bors vasgehou. Sy vryf  ingedagte oor haar linkerarm. Sy voel ’n ligte  litteken waar die lelike skaafmerk was.

“Welgeluksalig.” So, dit is hoe dit voel, dink sy. Sy lê ‘n oomblik nog die saligheid en indrink en onthou dan iets wat haar weer laat glimlag. Die man het nie ‘n naeltjie gehad nie …

Kommentaar

  • Elsabe Bester

    Die skrywer het dit reggekry om deur raak beskrywings die karakters en ruimte sodanig in te kleur dat ek dit maklik gevind het om my daarmee te vereenselwig. Daar vind duidelike progressie plaas met 'n onverwagte,verrassende ontknoping wat genoeg aan my verbeelding oorgelaat het om te wonder oor wat dan werklik kon gebeur het. Misterie is kundig ingewerk. Ek het die kortverhaal geniet!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top