Die Bergengel deur Carina Stander: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

Die bergengel
Carina Stander

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307501

1. Inleiding: Wetenskapfiksie en fantasie in Afrikaans

Sowat vyf jaar gelede het ek in ’n LitNet-onderhoud met die WF-skrywer Eben van Renen gesels oor die stand van wetenskapfiksie en fantasie in Afrikaans. Destyds was die vooruitsig ten beste huiwerig optimisties. Die groot Afrikaanse uitgewers het nie juis tougestaan om “harde” WF-verhale soos Eben se Arwantië 2953 te publiseer en te bemark nie, en die fantasiegenre in Afrikaans was so te sê niebestaande.

Tog was daar die feit dat Afrikaans oor ’n veel ryker WF-tradisie beskik as wat ’n mens eers sou dink.1 CJ Langenhoven se Loeloeraai (1923) word oor die algemeen beskou as die eerste werk van wetenskapfiksie in Afrikaans. In die tweede helfte van die 20ste eeu word Afrikaanse lesers bekoor deur die buiteruimtelike avonture van Leon Rousseau se Fritz Deelman;2 Jan Rabie se baanbreker-WF-romans Swart ster oor die Karoo (1957), Die Groen Planeet: ’n toekomsfantasie (1961) en Die Hemelblom (1971) verskyn; en die prolifieke Wille Martin verruil liefdesromans vir toekomsfiksie met haar Kaptein Kristin-reeks (1981–1982).

Ten spyte van die feit dat fantasiereekse soos Game of Thrones tans groot gewildheid geniet, strek hierdie gewildheid ongelukkig nie tot die Afrikaanse letterkunde nie. WF-skrywers soos Jaco Jacobs (die Professor Fungus-reeks) , Elizabeth Wasserman (die Anna Atoom-reeks) en Fanie Viljoen (die Nova-reeks) geniet wel aanhang onder jonger lesers, maar daar is nie veel op die mark om volwasse lesers van wetenskapfiksie en fantasie in Afrikaans tevrede te stel nie en dié moet hulle noodgedwonge tot Engelse letterkunde in die genre wend.

In 2017 verskyn twee belangrike werke van Afrikaanse spekulatiewe fiksie: Deon Meyer se Koors en Carina Stander se Die Bergengel.

Koors is ’n vertrek van Meyer se gewone blitsverkoper-misdaadrillers en bied ’n blik op ’n distopiese wêreld waar 95% van die aarde se bevolking deur ’n dodelike plaaguitgewis word. Meyer se uitbeelding van ’n postapokaliptiese Suid-Afrika is nie die eerste Afrikaanse roman wat die leser in ’n alternatiewe werklikheid dompel nie. Hiervan is daar verskeie voorbeelde, insluitende Eben Venter se Horrelpoot (2006) en Karel Schoeman se Na die geliefde land (1972). Koors staan egter uit as ’n unieke genreverbuiging wat byna soomloos die elemente van ekokritiek, spekulatiewe fiksie en die tradisionele motiewe van die misdaadsverhaal verweef. Meyer se status as die gewildste skrywer in Afrikaans beteken ook dat Koors die spekulatiewe genre toeganklik maak vir ’n veel wyer leserskap – Meyer se naam op die voorblad is genoeg om selfs diegene wat nie gewoonlik by die WF-afdeling in Exclusive Books sal talm nie, te oortuig.

 

2. Die Bergengel: eiesoortige fantasie

Stander se allegoriese fantasieverhaal toon verskeie raakpunte met Koors. In ’n onlangse resensie merk Jonathan Amid op dat “die vermenging van die bildungsromangenre met ekokritiek en die reismotief Die Bergengel gedurig met Deon Meyer se Koors in gesprek bring”. Soos Meyer se roman kan Die Bergengel losweg as “spekulatiewe fiksie” bestempel word, maar hierdie enigmatiese verhaal laat hom nie sommer maklik kategoriseer nie.

Die grense tussen wetenskapfiksie, spekulatiewe fiksie, fantasie en ander subgenres is soms vaag, en selfs WF-teoretici soos Adam Roberts kan nie ’n vinnige definisie van wetenskapfiksie aanbied nie:

The term “science fiction” resists easy definition. This is curious, because most people have a sense of what science fiction is. Any bookstore will have a section devoted to SF: shelves of mostly brightly-coloured paperback volumes, illustrated on their covers with photorealist paintings of intricate spaceships perhaps, or of men and women in futuristic cities or bizarre alien landscapes. Most of these novels are narratives that elaborate some imaginative or fantastic premise, perhaps involving a postulated future society, encounters with creatures from another world, travel between planets or in time. In other words, science fiction as a genre or division of literature distinguishes its fictional worlds to one degree or another from the world in which we actually live: a fiction of the imagination rather than observed reality, a fantastic literature. (Roberts, 1)

Spekulatiewe fiksie word dikwels as ’n breë term ingespan om fiksie wat bonatuurlike, futuristiese of fantasie-elemente bevat, te omskryf. In hierdie sin is Die Bergengel wel spekulatief: die verhaal bevat beide bonatuurlike en fantasie-elemente.

Die roman het egter meer gemeen met die literêre tradisie van magiese realisme soos gesien in die werke van Gabriel García Márquez, Isabel Allende en Kahlil Gibran. Soos WF self, ontwyk Die Bergengel ’n maklike definisie en speel ook op die tradisie van die sprokie, Joseph Campbell se The Hero’s Journey, Bybelverhale en reismistiek in.

Die Bergengel is Stander se tweede roman en volg Wildvreemd (2011), haar debuutroman, en twee digbundels, die vloedbos sal weer vlieg (2006) en woud van nege en negentig vlerke (2009).

Stander se talent as digter en visuele kunstenaar is onmiskenbaar in die liriese prosa van Die Bergengel. Hierdie enigmatiese en meesleurende verhaal speel af op die fiktiewe vasteland van Gabriëllië, ’n pre-industriële land wat verdeel is in 12 onafhanklike streke. Die sinspeling van Gabriëllië en die engel Gabriel wat in Islam, die Judaïsme en die Christelike geloof as boodskapper van God erken word, asook die verwysing na 12 streke, soos die 12 stamme van Israel, val op en suggereer raakpunte met die mitiese Bergengel as behoeder van die ryk.

Die dertienjarige Eron Verberger, die enigste seun van die klokgieter-egpaar Alida en Gibor Verberger, groet sy rustige bestaan in die kusdorpie Skittering en vertrek saam met sy pa op ’n reis wat hom uiteindelik dwarsoor die wye Gabriëllië neem. Op sy avontuurtog ontmoet Eron kleurryke karakters en leer hy die fyn kunste van klokgiet en manwees met sy pa as wyse leermeester.

Dit is egter gou duidelik dat die rede vir Eron en Gibor se skielike vertrek uit Skittering veel meer onheilspelend is as ’n blote vader-en-seun-uittoggie. Die sinistere kulkunstenaar en stelstapper Verbluffende Bluffer, oftewel Velvel Azazel, is op Eron se spoor met moorddadige bedoelings. Boonop dreig ’n Vuurstorm om die ganse Gabriëllië te verswelg, skares mense word vermis en daar is gerugte dat die slagoffers as slawe op walvisbote gebruik word. Daar is net een persoon wat ’n Vuurstorm kan stuit: die mitiese Bergengel, ’n besonderse verkose persoon wat die betrokke amp vir 20 jaar beklee voordat die vaandel aan ’n opvolger oorgehandig word. Maar daar het reeds 13 jaar verloop sedert daar enige teken van ’n Bergengel in Gabriëllië was. Sonder die hulp van die Bergengel is dit nou Eron se taak om die Vuurstorm te blus en sy geliefdes teen die gevare van Die Uitdooftyd te beskerm.

In die tradisie van The Hero’s Journey word Eron gesteun in sy taak deur enigmatiese mentorfigure, sy pa se broers Rauch en Korban, en moet hy menige toets en struikelblok oorkom om die saak te red.

Die fisiese reis gaan gepaard met ’n reis na binne, na die “inmost cave” waar ons jong held sy vrese en skuldgevoelens in die gesig moet staar en uiteindelik moet afskud. Rauch waarsku: “[J]y gaan die kuns van selfloosheid moet bemeester, die kuns om mense ver buite jou lewe so lief te kry dat jy ook hulle wil beskerm. Jy gaan ’n honderd maal van jouself moet sterf, opstaan uit die graf en nuut begin” (151).

 

3. Die Bergengel as ekokritiek

Die term wêreldbou (worldbuilding) word dikwels gebruik in wetenskapfiksie en fantasie en dui op die skep van fiktiewe wêrelde en in sommige gevalle, soos die Star Wars- en Star Trek-reekse, hele heelalle. Wêreldbou verskil van milieu- of toneelstelling in die sin dat die skepper nie bloot die agtergrond waarteen ’n verhaal afspeel, skets nie, maar met groot toewyding en in fyn besonderhede ’n verbeelde wêreld skep. Die gekonstrueerde wêreld wat uitgebeeld word, beskik oor sy eie geografie, tegnologie, etniese groepe, geskiedenis, letterkunde, tale, sprokies, en so meer. Een van die bekendste voorbeelde van wêreldbou is natuurlik te vinde in die werk van JRR Tolkien.

Soos Tolkien se Middel-Aarde, word Stander se mitiese Gabriëllië haarfyn beskryf. Die leser ontdek die dialekte en idiome van die verskillende streke, die modes en kleredrag, kultuurgebruike, digkuns en geskiedkundige tekste, liedere, asook mites soos Die Bergengel en die Wonderwese.

Die opvallendste is Stander se beskrywing van die natuurlike omgewing. Die skrywer het ’n fyn aanvoeling vir natuurlike plek (sy is immers opgelei as visuele kunstenaar) en skryf lewe in die geografie van die vasteland, sy uiteenlopende ekosisteme en groot verskeidenheid plant- en dierelewe in. So word die natuur in die gedaante van die seelewe van Skittering, die swaanpare van die waterland Eziovlei, die heuwels van die Bergland, eksotiese ape met wit kuifies, en die vulkaanklipstrande en vlambome van die tropiese Eiland van die Ure ’n aktiewe rolspeler in die verhaal.

Die Bergengel kan gelees word deur die lens van ekokritiek. Die roman ondersoek die verhouding tussen tegnologiese vooruitgang, hebsug, magsug en die verwoestende impak hiervan op natuurlike omgewing. Die pre-industriële Gabriëllië staan op die drumpel van ’n industriële revolusie. Nuut-aangelegde treinspore deurkruis die voorheen ongerepte landskap en ’n korrupte bewind stook met geweld die vure van “vooruitgang”.

Die heersende regiohoofde, in sameswering met die ryk en magtige walvismagnate, loods ’n veldtog om die selfonderhoudende agrariese gemeenskappe van Gabriëllië stelselmatig uit te wis en te vervang met onvolhoubare industrie ter ondersteuning van die winsgewende walvisjagbedryf.

Die inwoners van Gabriëllië, verblind deur wanhoop en die belofte van goudwater (die walvistraan wat hulle vasteland skynbaar tot ’n wêreldmag sal verhef), sien die verwoesting as ’n uitkoms: “’n Skoonbrand, ’n nuutbegin” (163).

Eron luister met groot ongemak hoe ’n houtkapper wat hy in Slagtingstrand raakloop, die Vuurstorm wat die stad Barbel in puin gelê het afmaak as “hoop vir die land”:

Die nuwe Regiohoof, die vrygewige Strasius, [het] die versukkelde uit hulle ou krotjies verwyder, die bourommel verbrand en sy stad herbou tot iets nuttig. Fabrieke en goeie geriewe, daardie klas van ding – alles gebou met die fortuine van die walvishandel wat nou die streek instroom. Veral aan die kus waar die walvisbote aandoen is daar baie bouwerk aan die gang. Van die ander Regiohoofde is glo ook deel van die plan om van Gabriëllië ’n wêreldmag te maak ... (132)

Die roman vertoon ’n verwewing tussen die uitbuiting van natuurlike en menslike hulpbronne. Die bloederige handel van die walvistraanbaronne het nie net ’n effek op die natuurlike omgewing en walvisbevolking nie, maar eis ook menslike slagoffers in die vorm van slawe, diegene wat ontvoer word tydens Vuurstorms om die walvisskepe te beman.

Hierdie direkte verband tussen die mens en die natuur word verder versterk deur die parallel wat deurgaans tussen menslike en niemenslike kinders getrek word.

Alida offer ’n handgemaakte poppie wat haar doodgebore dogtertjie verteenwoordig aan die see en “toe sy die serp oopvou, het die kind verander in ’n bloupers seester wat stadig, stadig tuimelswem, al dieper in die baarmoeder van die oseaan” (18)

Tydens Eron se besoek aan die Eiland van die Ure ontmoet hy Olga, die ma van Velvel, en sy suster Lia. Olga se desperate pogings om ’n gestrande walviskalf veilig terug na die see en sy moeder te besorg word gedryf deur Alida se voorspelling dat “sy haar seun aan die wêreld gaan afstaan, maar haar dogter sal terugvind as sy ’n ander ma help om haar verlore kind te vind” (186). Hierdie belofte – ’n kind in ruil vir ’n kind – dui op ’n verwewing, ’n komplekse verhouding tussen die mens en sy natuurlike omgewing.

Die Bergengel bied nie ’n antroposentriese siening van die wêreld nie. Soos reeds vermeld, is die natuur nie net ’n passiewe agtergrond vir die menslike drama wat op die bladsy ontvou nie, maar ’n aktiewe rolspeler wat intrinsieke waarde besit.

Stander beskryf haar beeldende kuns as “’n spel tussen natuur en bonatuur”:

’n Jakkals ruik aan ’n vrou se hand: na wie aard ons? Wat is die verskuilde aard waarmee ’n lewende wese gebore word? Waar aard ons, waar voel ons tuis? Die aarde as planeet verskyn in ’n aantal sirkelvormige skilderye, maar uiteindelik wens my kuns vir die terugkeer na Eden of die Nuwe Aarde. As die kind ’n pofadder onder ’n druiwetros vashou, is dit asof vrede tussen dier en mens en God herstel. (http://theresawilds.wix.com/carinastander#!visuele-kunstenaar)

Hierdie idee word ook in Die Bergengel ondersoek. Die natuur, in sameswering met die bonatuur, het soms ’n ingrypende effek op die menslike gebeure: ’n geveg tussen twee herte laat Eron tuimel en so vind hy sy oom Rauch; Die Wonderwese, ’n magiese voëltjie, kan in sy uur van nood aan ’n Bergengel verskyn en hom te hulp staan; en die natuur kan selfs in weerwraak op die mense se verwoesting en hebsug reageer. So heers daar byvoorbeeld ’n “onvoorspelbare oorlog tussen walvisjagter en wildernis” op Die Eiland van die Ure, waar walvisskepe halfjaarliks aandoen om voorrade aan te vul:

Soms, so het Clover in sy opskrywings beweer, het die natuur geantwoord met wraakaanvalle. Onder die walvisbote het riviere van vuur gevloei en uitgebreek in verwoede vlamme. Wanneer puinsteen uit die see spat, was die hawe en huise en alles daarrondom binne ’n oogwink ’n blink begraafplaas. Hoe dikwels dit gebeur, kon niemand voorspel nie. Dalk in hierdie leeftyd, dalk eers in die leeftyd van die tiende nageslag. (175)

 

4. Slot

Met die lees van Carina Stander se Die Bergengel het ek uiteindelik besluit dat ek nou maar gerus kan voel oor die stand van fantasie in Afrikaans. Stander se pragroman is ’n waardevolle bydrae tot nie net die afgeskeepte fantasiegenre nie, maar ook die Afrikaanse letterkunde in sy geheel. Selfs lesers wat nie aanhangers van die fantasiegenre is nie, sal hierdie roman toeganklik vind. Die magiese elemente van Die Bergengel verryk die verhaal en dra by tot die meesleurende, amper gewyde, toon van die roman.

Die genreverbuiging wat in Deon Meyer se Koors aangewend word, kom ook in hierdie roman na vore. In hierdie geval skep elemente van onder andere spekulatiewe fiksie, allegorie, magiese realisme, bildungsroman en ekokritiek, asook die verwewing van natuur, bonatuur en die menslike elemente, ’n intelligensie en literêre diepte wat die roman verhef tot een met meer om die lyf as ’n blote fantasievlug. Daarby suggereer die verbeeldingsvolle naamaanwendings in die verhaal ’n selfs dieper verwewing wat die liriek en rykheid van die verhaal verder verhoog en die menslike bewussyn terg om klaarheid oor die beelde en betekenisse wat dit oproep.

Behalwe dat die roman ’n intelligente leeservaring bied, behoort dit ook die aanslag van ernstiger literêre ondersoek te lok.

Die Bergengel is die eerste roman in ’n trilogie. Lesers wat hierdie roman geniet het, kan uitsien na twee opvolgwerke, Die Wonderwese en Die Waterplek.

 

Bibliografie

ATKV/LitNet-skrywersalbum: Carina Stander. http://www.litnet.co.za/carina-stander-1976/. 7 April 2016 (10 September 2017 geraadpleeg).

Amid, Jonathan. 2017. http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/roman-verhef-woord-tot-heiligdom-20170702.

Roberts, Adam. 2003. Science fiction: The new critical idiom. Londen: Routledge

Steenkamp, Elzette en Eben van Renen. 2012. “Lank lewe die Arwantyne!: Elzette Steenkamp gesels met Eben van Renen oor Afrikaanse wetenskapfiksie”. http://www.litnet.co.za/lank-lewe-die-arwantyne-elzette-steenkamp-gesels-met-eben-van-renen-oor-afrikaanse-wf. 27 September (11 September 2017 geraadpleeg).

WF-tydlyn. http://afrifiksie.com/bestaande-wff/boeke/tydlyn (11 September 2018 geraadpleeg).

 

Eindnotas

1 Lesers wat belangstel in die geskiedenis van wetenskapfiksie en fantasie in Afrikaans kan gerus die webwerf www.afrikafiksie.com besoek. Hier word ’n volledige rekord van Afrikaanse WF en F gereeld bygebring. Die webwerf bied ook vele ander interessante bronne, soos artikels, video’s en kompetisies.

2 Sien Fritz Deelman en die Skepe van Mars (1957) en Fritz Deelman en die groen dood (1958).

  • Sketse op fokusprent: Carina Stander
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top