Die belang van skoolbeheerliggaamverkiesing 2018

  • 1

Danie van Wyk (foto: Naomi Bruwer)

Die skoolbeheerliggaamverkiesing wat in Maart oor die lengte en breedte van Suid-Afrika gehou gaan word, is van enorme belang vir onderwys in ons land. Dit word algemeen as die derde grootste verkiesing in Suid-Afrika beskou. Daar is meer as 24 000 stemlokale, en meer as 300 000 beheerliggaamlede sal verkies word. Die Suid-Afrikaanse Skolewet, Wet 84 van 1996, beheer onderwys in ons land. Dit is een van die mees progressiewe onderwyswetgewings en gee aan Suid-Afrikaanse ouers meer seggenskap oor hul kinders se opvoeding as in enige ander land in die wêreld.

Elke ouer het belang by die beheer en bestuur van die skool waar sy kind skoolgaan. Nogtans is Suid-Afrikaanse ouers geneig om apaties te staan teenoor beheerliggaamverkiesings. Nieteenstaande wye reklameveldtogte sukkel skole om ’n 15%-kworum wat nodig is om ’n wettige beheerliggaamverkiesing te hou, te behaal. In wese kan gesê word dat dit beteken dat minder as 15% van ’n skool se ouers werklik belangstel in wat in hul kinders se skole aangaan. Ouers kom dikwels eers te laat agter dat die beheer en bestuur van hul kinders se skole nie na wense is nie en dat hul kinders nie die opvoeding kry wat hul verdien nie. Ouers wil dan berge versit om die saak reg te stel, maar die koeël is reeds deur die kerk en die skade is blywend. Dit alles omdat ouers hul verantwoordelikhede versaak het.

’n Skoolbeheerliggaam is ver verwyder van die skoolkomitee wat voorheen skole beheer het. ’n Skoolbeheerliggaam bestaan uit ouerlede (altyd in die meerderheid), onderwysers, administratiewe personeel en in die geval van hoërskole selfs leerders. ’n Aantal ouers en gemeenskapslede kan tot ’n beheerliggaam gekoöpteer word vir hul spesifieke vaardighede, maar sonder stemreg. ’n Beheerliggaam het baie magte wat die aard en wese van leerlinge se opvoeding kan beïnvloed. ’n Beheerliggaam kan onder andere besluit oor die taalbeleid, die toelatingsbeleid, die gedragskode, die vakopsies, die tye van die skooldag, die buitemuurse kurrikulum en selfs die skooldrag van ’n skool. Verder moet die beheerliggaam die skool se fisiese eiendom beheer en administreer asook die finansies beheer. Van hierdie twee take word natuurlik aan die personeel gedelegeer en deeglik met die ouerkorps bespreek. Natuurlik is die beheerliggaam ook verantwoordelik vir aanbevelings oor die aanstelling van personeellede, selfs die skoolhoof. Skoolbeheerliggame is nie by magte om betrokke te raak by die klasonderrigbedrywighede van die skool nie. Dit is die uitsluitlike verantwoordelikheid van die skoolhoof en sy personeel, wat op hul beurt verantwoording doen aan die onderwyshoof van die provinsie en die beheerliggaam.

Elke ouer het die reg en verantwoordelikheid om ’n verskil te maak. Indien jy ’n positiewe inset wil maak in jou kind se opvoeding, neem deel aan die verkiesing in Maart. Indien jy bereid is om jou kinders se opvoeding weg te dobbel en hul toekoms in die hande van vreemdes te plaas, het jy ook nou die kans deur onbetrokke te wees. Wees egter positief, ondersteun jou kind se skool en kom maak in Maart ’n verskil deur te stem.

  • Danie van Wyk is betrokke by FEDSAS en by beheerliggame in skole.
  • 1

Kommentaar

  • Dankie, hierdie is die rede hoekom ek my kinders tuis opvoed: Skoolbeheerliggame is nie by magte om betrokke te raak by die klasonderrigbedrywighede van die skool nie. Dit is die uitsluitlike verantwoordelikheid van die skoolhoof en sy personeel, wat op hul beurt verantwoording doen aan die onderwyshoof van die provinsie en die beheerliggaam.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top