Die begin van 'n ruimer gesprek

Hierdie webseminaar spruit voort uit die volgende LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikels en neem die gesprek rondom die besluite omtrent selfdegeslagverhoudings wat op 9 Oktober 2015 in die Algemene Sinode van die NG Kerk geneem is, verder:


Homoseksuele predikante: ’n Regs- en morele dilemma

 

Helena van Coller
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)

Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?

 

Ernest van Eck, Ralph Barnard
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)


 

LulaniCharleneDie begin van ʼn ruimer gesprek

Sedert die profetiese waterskeidingsbesluit wat die algemene sinode van die NG Kerk in Oktober geneem het rakende selfdegeslagverhoudings, klink daar geluide van  skok en verbasing vanuit verskillende oorde op.

Dieselfde kerk wat apartheid vanuit die Bybel gefundeer het, slaag nou daarin om ruim en kreatief genoeg met die antieke teks om te gaan sodat dit vandag weer opnuut lewe spreek aan hulle wat meestal “onder” of “buite” staan.

Virginia Mollenkott[1] verwys na hierdie posisies in verhouding tot dit wat die “Bybel sê” as sy nadink oor die posisie van veral lesbiese vroue tot die “dominante leringe” van die Skrif. As sy nadink oor haar eie verhouding tot die Bybel (as ʼn lesbiese gelowige vrou), meen sy dat dit belangrik is om dit te doen in ag genome die dominante kultuurnarratief van die dag, naamlik patriargale heteronormatiwiteit. Sy beskryf haar ervaring in die kerk in terme van ʼn bepaalde geplaastheid.

Sy meen dat sy nog altyd “onder” was en besin dan oor die posisie veral in verhouding tot mans wat deur patriargale strukture outomaties bevorder word tot heer en hoof. In dié verband is dit dalk vanuit die staanspoor belangrik om die patriargale aard van die Bybelteks te erken. Die Bybel is ʼn boek geskryf deur meestal mans, vir mans, om ʼn manlike dominante samelewing te reguleer.

Vroue wat met die teks omgaan, het dus reg vanuit die staanspoor ʼn bepaalde keuse om te maak.

Jacqueline Lapsley[2] meen in dié verband dat vroue een van drie basiese opsies het. Eerstens kan hulle kies om bloot onderdanig alles te aanvaar wat in die teks staan en sodoende nooit die lewegewende dimensies van die Woord smaak nie.

Tweedens kan gekies word om die Bybel vaarwel  toe te roep en om te verklaar, soos meniges doen, dat die Bybel geen meer waarde het vir ʼn postmoderne samelewing nie en dienooreenkomstig geen nuwe lig kan werp op ons eietydse kontekstuele bekommernisse of probleme nie.

Lapsley meen dat nie een van die bogenoemde strategieë waarlik die hartklop van God vertaal vir moderne lesers vanuit die Skrif nie en sy pleit derhalwe in haar benadering vir ʼn andersoortige ingesteldheid. Sy roep gelowiges op om verby dit wat die teks uitskree (ʼn dominante patriargale diskoers) te luister na die lewegewende alternatiewe stemme wat ons soms in die teks hoor fluister.

Sy draai haar oor dan juis na die teks om te luister na die verhale van vroue, omdat sy meen dat ons daar iets van ʼn ander etiese werklikheid gefluister hoor. Hierdie ander werklikheid wat sy raak hoor, getuig van ʼn etiek van omgee, radikale inklusiwiteit, herstellende geregtigheid en grensoorstekende gasvryheid.

Mollenkott verwys egter nie net na haar posisie aan die “onderkant” nie, maar veral ook na haar posisie aan die “buitekant” van die geloofsgemeenskap. Sy verwoord iets van ʼn redelik algemene persepsie dat seksualiteit en spiritualiteit, veral as dit kom by gay mense, nie met mekaar versoen kan word nie en dat dit daarom per implikasie onmoontlik is vir ʼn gay mens om ook gelowig te wees. Agter hierdie persepsie sit natuurlik die heteronormatiewe kultuurbeskouing wat bepaal dat liefde en die seksuele uitdrukking van liefde slegs en uitsluitlik in heteroseksuele verhoudings tuishoort.

Tydens die pas afgelope vergadering van die algemene sinode het die NG Kerk ʼn profetiese besluit geneem wat hierdie “onder”- en “buite”-posisie van gay gelowiges in die geloofsgemeenskap, soos beskryf deur Mollenkott, kom ontvorm het deur op merkwaardige wyse erkenning te gee aan die menswaardigheid van gay mense en die status van gayverbintenisse.

Dit was ʼn merkwaardige ondervinding om woordeloos te kon deel hê aan die besluitnemingsproses by die algemene sinode in ons hoedanigheid as besoekers by die vergadering. Ons het geen spreekbeurt gehad nie, maar het eerder woordeloos gepoog om dit waaroor gepraat word, kollektief te beliggaam. Hoewel geen “namens praat” ooit die plek kan inneem van woorde gebore uit deurleefde ervaring nie, was dit tog merkwaardig om te hoor en te beleef hoe vriende, kollegas, bondgenote en leiers in die kerk as’t ware in die sentrum gaan staan en plek opneem namens hulle wat op die rand staan, hulle wat stilgemaak is.

Teen die verwagting in, veral in ag genome hoe lank die stryd om aanvaarding al vir sommiges is en die diepte van die pyn van verwerping wat in die proses beleef is, was die oomblik toe die uitslag van die stemming bekend gemaak word, nie vir ons ʼn triomfantlike oomblik van oorwinning nie. Dit het nie gevoel of ʼn geweldige oorwinning nou behaal is en of die “vyand” nou uitoorlê is nie; dit was eerder ʼn heilige stil oomblik van dankbaarheid. ʼn Diep besef dat ʼn reuse-tree nou gegee is, dat ʼn profetiese stem nou opklink en dat die moontlikheid nou bestaan vir versoening, vir insluiting, vir die viering van die menswaardigheid van almal.

Dalk was die nugterheid van die oomblik gesetel in die aanvanklike 88 teenstemme en die deurleefde wete dat daardie stemme ʼn menigte lidmate, kerkrade, gemeentes en gemeenskappe verteenwoordig. Mense wat eerlik voor die Here soek na antwoorde en wat swaar kry daarmee om die dominante, dikwels perverse, idees oor gay mense te versoen met die gay mense in hulle gemeenskappe vir wie hulle lief is en vir wie hulle selfs aanvaar en deel maak van hulle.

Dat dit mense is wat graag hulle lewe wil inrig soos die Woord van die Here bepaal en nou sukkel om sin te maak daarvan dat sommige leraars en akademici meen dat dit wat in daardie uitgesoekte tekste staan, nie so duidelik is soos wat dikwels van die kansel af gepredik word of wat in wandelganggesprekke as vanselfsprekend aanvaar word nie.

Die 88 teenstemme is nie bloot ʼn gesiglose massa van teenkanting nie, dit is ons mense, ons ken hulle name, ons leef saam en ons is saam onderweg. Eerder as om nou weer in “verligte” en “verkrampte” kampe ingejaag te word, is dit belangrik dat ons nou ruimtes skep waar ons waarlik na mekaar kan luister, waar ons diep mekaar se ervarings kan raak hoor en waar ons weer opnuut kan luister na die Gees van God as die Woord van die Here lewe spreek.

Die profetiese lewegewende besluit van die algemene sinode maak nou vir eens ʼn ruimer gesprek moontlik. ʼn Gesprek wat nie begin vanuit die veroordeling van mense wat dikwels “onder” en “buite” staan nie, maar wat ontspring vanuit die erkenning van dié in God gesetelde menswaardigheid van alle mense ondanks ras, taal, geslag, seksuele oriëntasie, sosio-ekonomiese status of kultuuragtergrond.

Ons het nou opnuut die geleentheid om saam te dink oor wat dit beteken as ons sê dat ons glo in die onfeilbare Woord van God. Kan dit wees dat dit nie gaan oor die letter nie, maar oor die lewegewende potensiaal wat ontspring as mense vanuit verskillende plekke saam nadink oor wat God se wil vir ons weerlose wêreld is?

Ons het die geleentheid om weer diep te besin oor die rykdom van ons tradisie as Gereformeerdes en oor die uitdaging wat dit inhou om telkens weer terug te kom na die hart waaroor dit gaan, naamlik ons navolging van Jesus en die uitdrukking van grensoorstekende liefde.

Ons het weer ʼn geleentheid om te poog om die gaping wat tussen wetenskap/rede en geloof bestaan, te probeer kleiner maak deur oop te wees om na mekaar te luister as ons gesprekke vanuit verskillende kaders betree. Maar dalk het ons ten diepste nou die tyd en geleentheid om ons gesprekke ruimer te maak en om nie langer óór mekaar te praat nie, maar om rustig – verkieslik om ʼn tafel as ons ʼn bietjie meer tyd het – mét mekaar te praat.

Die tyd het aangebreek om in die ontmaskerde “vyand” die medereisiger te ontmoet, die medemens, die een wat, net soos ek, verlang na ʼn tuiskoms, ʼn gemeenskap, ʼn plekkie in die son. Mag ons dit in hierdie dae regkry om nie langer óór mekaar te praat nie, maar om die “ander” in te nooi en met mekaar ʼn nuwe gesprek te begin.

 

[1] Mollenkott, Virginia R. 2000. Reading the Bible from Low and Outside. Lesbitransgay People as God’s Tricksters. In Gross, RE en M West (2000), Take Back the Word. A queer reading of the Bible. Cleveland, Ohio: The Pilgrim Press.

[2] Lapsley, Jacqueline E. 2005. Whispering the Word. Hearing women’s stories in the Old Testament.  Louisville: Westminster John Knox Press.

 

Hierdie LitNet Akademies-webseminaar sluit ook in:

God se Woord verander nie. Of hoe?

Ralph Barnard
Seminare en essays 

Geestelike geletterdheid en die sekspolisie

 

Louis van der Riet
Seminare en essays 

Daar is 'n olifant in die kerk

 

Jean Oosthuizen
Seminare en essays 

Sinode se gay-besluit: keuse vir verantwoordelike gebruik van die Bybel

 

André Bartlett
Seminare en essays 

 

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top