ATKV-Spelathon: SPEL weer terug in spelling

  • 0

Om te spel is harde werk. Om mense dop te hou in ’n landswye finaal terwyl hulle spel, is verskriklik spannend. Die ATKV het aan die begin van Oktober twee spelkompetisies gehou vir leerders; en vir die spanningsvrate wat wou kom kyk.

Die eerste finaal, vir Afrikaans as Eerste Addisionele Taal, is op 1 Oktober gehou en die tweede, vir Afrikaans as Huistaal, op 8 Oktober. Tydens dié kompetisies het die wenners van al die provinsiale kompetisies by die Leeuwenhof Akademie in Bedfordview bymekaar gekom.

Prof. Gerhard van Huyssteen, van die Op die Spel-faam, het tydens elke geleentheid as vraesteller opgetree en het die deelnemers met sy kenmerkende, humoristiese aanslag vinnig op hulle gemak gestel.

René Zietsman was projekorganiseerder van die ATKV en Daniëlla van Heerden, van eNuus, was die seremoniemeester.

Afrikaans as Eerste Addisionele Taal

“Hierdie spelkompetisie het weer die SPEL in spelling vir tweede- en selfde derdetaalsprekers van Afrikaans teruggesit,” sê René Zietsman. “Daar is ʼn verskil tussen verassing en verrassing en ons ATKV-Spelathon-deelnemers het duidelik gewys hulle ken die verskil.”

Bianca Stark, Kayla Stroud en Bianca Gouws

Bianca Stark, Kayla Stroud en Bianca Gouws

Ná heelwat taai rondtes en woorde soos maatreël, ammunisie, heffings, deurkosyn en heildronk, wat die deelnemers gepootjie het, het Kayla Stroud van Pretoria High School for Girls as wenner uit die stryd getree in die graad 9-afdeling, gevolg deur Bianca Gouws van Hoërskool Pearson in die Oos-Kaap. Bianca Stark van Cambridge Academy in Mpumalanga was in die derde plek.

Amirah Gabru, Abigail van der Mescht en Christian Schmidt

Amirah Gabru, Abigail van der Mescht en Christian Schmidt

In die graad 10-afdeling het Abigail van der Mescht van Westering High School in die Oos-Kaap gewen toe sy amputasieproses korrek spel, met Christian Schmidt van Stanford Lake College in Limpopo in die tweede plek nadat hy ammunisievoorraad verkeerd gespel het. Amirah Gabru van Rhenish Girls High School in die Wes-Kaap het die derde plek behaal. In hierdie afdeling moes die deelnemers woorde soos kroonarend, koëffisiënt, lewensoriëntering, aantyging en belastingbetalers spel.

Daniëlla van Heerden, die seremoniemeester, het die deelnemers, ouers en onderwysers bedank vir die harde werk en tyd wat hulle aan die leer van die spelwoorde afgestaan het. Van Heerden het hulle verseker dat hulle eendag nog baie dankbaar gaan wees vir kompetisies soos die Spelathon.

Afrikaans as Huistaal

“Die huistaaldeelnemers aan die ATKV-Spelathonkompetisie kán spel,” sê René Zietsman. “Hierdie deelnemers skrik nie vir woorde soos Nederfrankies of ingelegdevrugteblik nie.”

Elizette de Jager, Nadia Havenga en David Conradie

Elizette de Jager, Nadia Havenga en David Conradie

Op 8 Oktober het die Vrystaters met die louere weggestap in die graad 9-afdeling. Woorde soos Chile, chiropraktisyn, calvinisme, en ghwarrieboom het die teenstanders van die twee Vrystaters, Nadia Havenga van Hoërskool Sentraal (in die eerste plek) en David Conradie van Hoërskool Bultfontein (in die tweede plek), behoorlik laat les opsê. Elizette de Jager van Hoërskool Ferrum in KwaZulu-Natal het derde gekom.

Gina-Mari Steyn, Miché Nel en Claudia Olivier

Gina-Mari Steyn, Miché Nel en Claudia Olivier

In die graad 10-afdeling het Miché Nel van die Hoërskool Sentraal in die Vrystaat eerste gekom nadat Gina-Mari Steyn (tweede plek) van die Paarl Gimnasium in die Wes-Kaap en Claudia Olivier (derde plek) van Hoërskool Lydenburg in Mpumalanga die woorde Walliesers en Engelse kanaal verkeerd gespel het.

Die seremoniemeester, Daniëlla van Heerden, het aan die einde van die kompetisie gesê die eindrondtes van die Spelathon was só spannend, dat sy beslis ’n chiropraktisyn sou nodig hê om weer te ontspan.

Pryse

Buiten kontantpryse het die wenners ook elkeen vir hulle skole toegang tot die elektroniese Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) gewen.

Taal as vermaak

Volgens Evelyn Ferreira, senior bestuurder: Taal van die ATKV, is die hoofdoel van die ATKV se taalafdeling om die Afrikaanse taal te bevorder. “Dit doen die ATKV deur middel van verskeie projekte waarvan die spelkompetisie, Spelathon, een is. Behalwe die opvoedkundige waarde van hierdie projek, het die gehoor ook met die vermaaklikheidswaarde daarvan kennis gemaak.”

Skakel gerus vir René Zietsman by 011 919 9094 of stuur ʼn e-pos na renez@atkv.org.za vir meer inligting hieroor.

Besoek ook die ATKV se webwerf vir meer inligting oor ATKV-Spelathon: https://www.atkv.org.za/Taal/Projekte/Spelathon

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top