Die ander kant: in gesprek met vier studente

  • 3

 

In Die ander kant vra ek kenners rondom die Afrikaanse debat wat ons het om te verloor indien Afrikaans finaal afgeskaf of verder afgeskaal sou word as onderrigtaal by die Universiteit Stellenbosch. Ek het onder andere met Willa Boesak, Danie Marais, Helen Zille, Rhoda Kadalie, Abraham Phillips en studente gesels.

Die doel van Die ander kant was om gesprek oop te maak oor Afrikaans en om mense te laat verstaan hoekom Afrikaans en moedertaalonderrig belangrik is binne ’n spesifieke konteks. Teen die agtergrond van die taaldebat was daar altyd mense aan die ander kant of mense na wie daar nie geluister is nie. Ek het soms soos een van daai mense gevoel.

Ek het gevoel asof daar nie na jongmense, en veral jong bruin en swart mense, geluister word nie, of dat daar nie platforms is om te gesels oor onderwerpe soos Afrikaans nie. Dan leef en leer ons verby mekaar en gesprekke vind nie saam met mekaar plaas nie, maar teen mekaar. Daarom voel ek die dokumentêr is belangrik om ruimte te maak vir gesprek, maar ook vir luister. Ek sien dit as ’n pleidooi.

Dit is nou meer as ’n maand na die dokumentêr uitgekom het en ek is oorweldig deur al die ondersteuning en boodskappe. Dit is opwindend dat daar soveel mense is wat bereid is om deel te neem aan gesprekke en wat ruimte laat vir jong stemme om gehoor te word.

Ook die spektrum van mense wat geïnteresseerd is in die gesprek rondom die dokumentêr is vir my geweldig interessant. Dit wissel van volwasse mense in ongeveer hul 70’s tot skoliere. Dit is ook nie net Afrikaanse mense of mense wat baat vind by die gebruik van Afrikaans in hoër funksies wat na my uitgereik het nie. Een van my Engelse vriende het erken dit was vir hom moeilik om na die ander kant van die taalkwessie te luister of daaraan te dink, want vir hom was Afrikaans net nog altyd ’n taal wat op hom afgedwing is. Sulke aspekte van die taal probeer ek ook in gedagte hou terwyl ek op hierdie reis is, want ek wil nooit mense se gevoelens of idees verontagsaam nie. ’n Mate van sensitiwiteit moet behou word sodat die gesprek gesond kan bly.

Daar is verdere gesprekke wat nou oopgekloof moet word. Afrikaans is soos ’n baboesjka – die Russiese pop. Elke keer kom daar iets aan die lig en dan vind jy uit daar is iets dieper as dit wat jy die vorige keer gesien het. Ek sien daarna uit om by die kern van die uitdaging te kom.

Daar is nou al baie gesê oor die kwessie van Afrikaans en waarom die Wes-Kaap Afrikaans nodig het. Daar mag dalk nog opinies wees wat uitgelig moet word en ek het ook nog vrae wat ek graag beantwoord sal wil hê, soos: Hoeveel bruin mense wil regtig Afrikaans praat? Hoekom voel sommige ouers steeds dat Engels ’n wêreldtaal is as daardie argument al van die tafel afgevee is? Is die behoud van Afrikaans vir ons universiteite ’n ekonomiese en nasionale bate? Sal die afskaffing of afskaling van Afrikaans beteken dat die universiteitsdeure slegs vir die ryk elite oopstaan?

Hierdie is van die vrae wat in my gedagtes dwaal wanneer ek dink aan Afrikaans, en spesifiek met betrekking tot Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch.

Ek het vir ’n paar jongmense in Die ander kant ook ’n paar vrae gevra, en so lyk hul antwoorde:

Dink jy dat daar genoeg na studentestemme geluister word?

Wihan: Wanneer daar na die “studentestemme” geluister word, word dit definitief nie konsekwent gedoen nie. Dit voel vir my asof sekere stemme meer voorkeur geniet en ek is onseker hoekom. In my ervaring spog die bestuur graag dat hulle na ons luister, maar in realiteit sien ek nie hoe dat daar gehoor gegee word aan almal se bekommernisse en belange nie.

Wihan Marais

Herschelle: Nog nie. Maar mense besef dat studentestemme nie afgemaak kan word nie – al hoe meer. Dis sterk, dis dapper en demand om gehoor te word.

Tian: Definitief nie. Die universiteit neem besluite tov transformasie en taal sonder om aanspreeklik gehou te word deur die studente. Daar was byvoorbeeld studente wat skerp kritiek gelewer het teen die voorgestelde taalbeleid, maar hierdie kommentaar is oorgesien.

Earl: Ek dink nie daar word genoeg na studentestemme geluister nie. Ek dink ons word op die oomblik net beskou as hopeloos te radikaal of onrealisties. Daar word nie rêrig gesit en luister na wat ons sê nie. Ons word net afgemaak as raserige kinders.

Wat dink jy is nodig vir Afrikaans om behoue te bly as onderrigtaal?

Wihan: Eerstens moet ons taalbeleid ’n plek vir Afrikaans permanent vestig. Ek glo ook almal, van die personeel tot die studente, moet opgevoed word oor waarom die behoud van Afrikaans so belangrik is en dat dit net ’n nasionale verlies gaan wees as dit wel nie behoue bly nie. Ons moet bewus gemaak word van die gevaarlike presedent wat dit skep om moedertaalonderrig af te skaf vir ander inheemse tale ook. Daar moet ook ’n houdingsverandering plaasvind onder jongmense. Afrikaans is uniek en eie aan ons land en kulture. Dit kan ook die taal van die toekoms word – in besigheid en in sosiale sfere.

Earl: Daar is ’n gesprek oor Afrikaans nodig – die persepsies van Afrikaans. Daar moet oor daardie persepsies gepraat word en oor hoe Afrikaans onderrig word en wátter Afrikaans onderrig word. Afrikaans is nie vir my Afrikaans as al die variante nie genoeg erkenning gaan kry nie. Standaardafrikaans is die Oranjerivierafrikaans wat gestandaardiseer is, so by virtue praat ons dan wit Afrikaans. So as ons regtig ’n gesprek oor Afrikaans wil hê, sal ons moet praat oor al die Afrikaans wat die mense in hierdie land praat.

Earl Basson

Hoe voel jy na die dokumentêr uitgekom het?

Wihan: Ek is tevrede met die uitslag van die dokumentêr. Die kamstige doel van verengelsing is om diversiteit te bevorder, maar baie mense is onbewus van die feit dat verengelsing meer kwaad as goed sal doen in terme van diversiteit op alle vlakke. Ek voel daar is ook meer ewe geldige argumente om te voer oor hoekom Afrikaans moet bly as net diversiteit.

Herschelle: Ek voel eerstens die dokumentêr het ’n doel bereik wat baie belangrik is vir my – die gesels/debat en kritiese gesprekvoering is aan die gang gesit. Nie net deur dié wat dit gemaak het of daarin is nie, maar dié wat dit al gesien het. Dit was ge-share en dit het ’n onderwerp geword tussen studente/dosente en akademici.

Tian: Ek is bly dat die dokumentêr aspekte van die taaldebat blootgelê het wat nie noodwendig bekend was aan die gemiddelde belanghebbende nie. Die dokumentêr vra ernstige vrae oor die onregverdigheid van die universiteit se besluite wat hulle nie noodwendig sal kan beantwoord sonder om hulle eie bevooroordeeldheid en agenda te ontbloot nie.

Tian Alberts

Waar sien jy Afrikaans oor 20 jaar?

Wihan: Dit is vir my moeilik om ’n voorspelling te maak van so ’n aard. Ek kan net hoop dat daar ’n meer gunstige houding in Suid-Afrika teenoor Afrikaans sal wees, onder almal, veral Afrikaanse mense self. Die behoud van Afrikaans as akademiese taal is die hoeksteen van die amptelike erkenning van Afrikaans. Ek vrees dat Afrikaans dieselfde toekoms as die tale van die Khoi en San gaan ervaar as ingryping op sosiale en akademiese vlakke nie gaan plaasvind nie.

Herschelle: Eenvoudig: ek sien Afrikaans in 20 jaar, en dit is dalk die belangrikste troos wat mens nodig het.

Herschelle Benjamin

Earl: Ek dink Afrikaans gaan groot wees. Die wit Afrikaanse gemeenskap het resources om Afrikaans behoue te laat bly. Ek weet nie of dit nog ’n onderrigtaal gaan wees nie, behalwe vir diegene met geld en resources wat hul eie privaat universiteite kan skep. Maar Afrikaans gaan nog in die media wees, publikasies, televisieprogramme, maar ek weet nie of dit nog as ’n tersiêre taal gebruik gaan word nie.

Hoe kan ons verseker dat ons in ’n inklusiewe leerervaringe met mekaar saamleef?

Tian: Die antwoord is te vinde in meertaligheid. ’n Inklusiewe leerervaring is nie een waarin alle studente bloot bereik word nie, maar wel een waarin alle studente so effektief moontlik bereik word, gegewe die beskikbare hulpbronne. Die US het al die hulpbronne om voortaan, soos in die verlede, Engels en Afrikaans aan te bied as parallelle konfigurasie. Terselfdertyd moet universiteite ook tale soos Xhosa en Zulu as akademiese tale ontwikkel om diegene wat ’n beter leerervaring in hierdie tale kan hê, te akkommodeer.

Earl: Daar moet diskoers plaasvind. Ons moet kan praat oor ons issues en nie mekaar se lived experience afmaak nie. Ons moet luister. Dis die belangrikste gedeelte.

Ten slotte: dit is vir my so opwindend dat jongmense begin praat, want soveel keer word daar gesê die jonger geslagte moet die taal bevorder en die res touwys maak, maar die realiteit is dat die nodige platform nie altyd daar is om sodanig op te tree nie. Diegene wat gesien word binne Afrikaans, was dikwels die professore en mense in posisies wat mag dra. Op daardie noot neem ek kennis van Stephanus Muller se reaksie op Marlene van Niekerk se skryfstuk oor die US-taalbeleid.

Daar is dinge wat onlosmaaklik deel is van die taalstryd, soos die politiese aard waarbinne ons universiteite die afgelope twee jaar funksioneer, want druk word vanuit verskillende oorde toegepas op bestuur. Nog iets wat deel is van die taalstryd is watter akademici besluit om hul eerlike gevoelens daaroor te ontbloot, iets wat ek dink Marlene van Niekerk absoluut briljant doen, ongeag hoe dit ontvang word. Ek kan maar net hoop dat die universiteitsbestuur ag slaan op die opinies, kennis en gevoelens van die mense wat besluit om iets te sê, energiek, al dan nie. Die stryd gaan voort.

  • 3

Kommentaar

  • Wilhelm Fourie

    Hierdie is een van die beste dokumentêre films wat ek in 'n lang tyd gesien het! Baie, baie dankie daarvoor Mercy! Al jou gespreksgenote het waardevolle bydraes gelewer, maar veral Abraham Phillips se woorde het my diep geraak. Dis 'n baie groot aanklag teen 'n sekere groep wit bevoorregtes. Dis duidelik dat opportunisme by hierdie mense (daar is ongelukkig nog baie ander) so groot is dat hulle geen gevoel vir hulle mede-taalgenote (waarvan baie behoeftig is) of vir hulle eie kultuur het nie.

  • Esme Greenfield

    Wilhelm, ek beaam alles wat jy sê. Ek hoop die magte oor ons aan die US en die magte oor hulle léés hierdie artikel oor en oor en lúíster weer en weer na die video. Dalk sal hulle dan besef watter skade hulle taalbeleid besig is om aan te rig. Om ’n student te verhoed om in sy of haar moedertaal te studeer, is om daardie student die geleentheid op uitnemendheid te ontneem.

    Mercy Kannemeyer, wel gedaan en ek hoop jou moeite word beloon.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top