Die ANC/SAKP en die USSR. Deel 2: Gevallestudies

  • 0

 

In die eerste aflewering van dié beskouing is gekyk na die ooreenkomste tussen die wêreldbeskouings van die USSR enersyds en die ANC en SA Kommunistiese Party andersyds. Daar is egter verdere interessante boustowwe te vinde as ’n mens ook die ANC/SAKP se houding ten opsigte van konkrete gevalle ontleed.

 

Die breuk tussen die USSR en China

’n Interessante aspek van die ná-oorlogse internasionale geskiedenis is die verskynsel dat lande waar die Duitse besettingsmagte in 1944–5 deur die Sowjet-weermag verdryf is, in die jare daarna almal volledig ondergeskik aan die leiding van die Kremlin geword het. Daarteenoor kon die drie lande waar kommunistiese diktature sónder die hulp van Sowjet-troepe gevestig is (China, Joego-Slawië en Albanië), nie vanuit die Kremlin beheer word nie.

Die breuk tussen die Sowjetunie en China in die laat vyftigs was dus eintlik ’n logiese gebeurtenis. Mao Zedong het niks gehou van die (soos hy dit ervaar het) aanmatigende en neerbuigende houding wat Josef Stalin en Nikita Chroesjtsjof  teenoor China ingeneem het nie. Dit was eintlik maar dieselfde houding as teenoor die ander kommunistiese state, maar Mao was nie van die USSR afhanklik nie en dit was vir hom nie nodig om hom daarby neer te lê nie. Bowendien het hy die rusie met Moskou gebruik om sy binnelandse magsposisie te versterk.1

In die jare vyftig – voor die breuk tussen die USSR en China – het die ANC die Chinese model met welgevalle aanskou. Ná ’n besoek aan China in 1953 het Walter Sisulu byvoorbeeld ’n lang lofrede oor die situasie in dié land geskryf,2 terwyl Rusty Bernstein nog so laat as 1960 van die “brilliant leadership” van Mao Zedong gepraat het.3

Maar die breuk tussen die twee moondhede sou die SAKP en die ANC dwing om tussen hulle te kies. Op ’n besoek aan Beijing het Michael Harmel die Chinese dus in 1960 gewaarsku dat hulle te ver gaan in hul rusie met Moskou en dat die SAKP die verspreiding van Chinese propagandamateriaal in Suid-Afrika sal moet heroorweeg.

In 1961 het die eerste kritiese geluid in ’n ANC-publikasie verskyn. Nog ’n besoek van ’n SAKP-afvaardiging aan Beijing het in Desember 1962 gevolg, maar ook toe het die Suid-Afrikaners nog buite die rusie probeer bly. Dit was eers in 1963, toe Oliver Tambo ook in Beijing was, dat die SAKP/ANC hom beduidend teen die Chinese begin keer het.4 Aanvanklik het mense soos Harry Gwala en Rowley Arenstein meer vir Beijing gevoel,5 en so laat as 1964 het die Sentrale Komitee van die SAKP in ’n verklaring ’n beroep op die twee partye gedoen om hulle te versoen,6 maar teen 1965 het China alle hulp aan die alliansie beëindig en het kritiek op dié land in SAKP-publikasies meer gereeld begin verskyn. In ’n resolusie in 1967 het die Sentrale Komitee van die SAKP China daarvan beskuldig dat hy wegbeweeg van “the principles of scientific communism”. Bowendien ondermyn die land die eenheid van die globale kommunistiese beweging. Die ergste is egter die aanvalle op die regering en Kommunistiese Party van die Sowjetunie. ’n Beroep is dus op alle SAKP-lede gedoen “to expose the anti-Marxist policies put forward in the name of the Communist Party of China”.7 Toe ’n SAKP-afvaardiging Moskou in 1969 besoek, het Harmel openlik skerp kritiek op China uitgespreek.8 Van toe af was die SAKP, in die woorde van Stephen Ellis en Tsepo Sechaba (oftewel Oyama Mabandla), “Moscow’s surest ally in Africa”.9

Die ANC het die SAKP se voorbeeld gevolg. By die herhaalde rusies tussen Moskou en Beijing in die jare sestig het die ANC deurgaans eersgenoemde se kant gekies.10 Nietemin het die Nasionale Uitvoerende Komitee (sonder om die rusie tussen die Sowjetunie en China by name te noem) in 1969 in sy politieke verslag aan die ANC se raadplegende konferensie te Morogoro, Tanzanië die “discord in the Socialist camp” betreur, aangesien dit “the main shield of the peoples against imperialism” verswak het.11

Dit is des te meer opmerklik, aangesien China, soos Suid-Afrika, ’n Derdewêreldland was, en daar dus teen dié agtergrond ’n natuurlike affiniteit tussen die twee te verwagte was. Die ANC/SAKP se slaafse navolging van die USSR het dit egter verhinder.

Namate die sewentigerjare gevorder het, het sowel die SAKP as die ANC se taal teen China egter steeds skerper geword. In 1977 het die SAKP se Sentrale Komitee verwys na die “Maoist clique” wat die “interests of reaction and imperialism” dien. Met hul “rabid anti-Sovietism” gaan die Chinese selfs so ver as “to openly ally themselves with Vorster racism in South Africa”.12 Nog ’n voorbeeld was ’n artikel van Essop Pahad in The African Communist:

In contrast to the principled class positions of the socialist community headed by the Soviet Union, the Chinese leaders in Peking [Beijing] have betrayed the most sacred principles of socialism and proletarian internationalism.13

In ’n verklaring het die Sentrale Komitee van die SAKP dit gehad oor “China’s brazen invasion of Vietnam” en China se “hatred of the Soviet Union” wat eersgenoemde met die “imperialiste” verenig het.14 En in Dawn, MK se lyfblad, het Steve Dliwayo van die ANC dié voorbeeld gevolg: “The treacherous Maoist ruling clique of China has joined hands with the imperialists to further aggravate the international situation.”15 China moes veral deurloop weens sy 1979-inval in Viëtnam, ’n land met wie die ANC/SAKP deurgaans besonder noue vriendskapsbande gehad het.16 Daarom het die ANC ook “Pol-Potism” en “the Pol Pot reactionary regime in Kampuchea” veroordeel weens dié se noue bande met China.17 (Interessant genoeg, die kritiek op die Pol Pot-regime het nie die volksmoord op nagenoeg twee miljoen Kambodjane ingesluit nie. Daardie aspek is deur alle SAKP- en ANC-publikasies verswyg; dit het suiwer en alleen om Kambodja se bande met Beijing en sy kwaaivriendskap met Viëtnam gegaan.) Ook is skerp kritiek uitgespreek op Albanië, ’n noue bondgenoot van China.18

Pogings is wel aangewend om die breuk te heel. In 1975 was ’n ANC-afvaardiging onder leiding van Oliver Tambo in Beijing, en begin 1979 het die Chinese regering ’n boodskap aan die ANC gestuur waarin die begeerte uitgespreek word dat die betrekkinge genormaliseer moet word. Maar toe kom die Chinese inval in Viëtnam, wat sake opnuut versuur het.19 Eers teen 1982, toe die impak van die inval afgeneem het, kon die versoeningspogings hervat word. Toe het die Chinese Kommunistiese Party die SAKP genader met die voorstel dat die twee hul openbare aanvalle op mekaar staak, waarna die SAKP eers die Kremlin geraadpleeg en toe ingestem het. Die betrekkinge is eindelik in 1985 met ’n besoek van Joe Slovo en ’n SAKP-afvaardiging aan China herstel.20 Toe ’n ander SAKP-afvaardiging in 1991 in Slovo-hulle se voetspore volg, kon die Chinese party sy tevredenheid met sy betrekkinge met die SAKP uitspreek en selfs klem lê op “the need to deepen the relationship”.21 Dit het dus plaasgevind nadat die ergste skerpte van die rusie tussen die Sowjetunie en China reeds agter die rug was.

 

Die inval in Tsjeggo-Slowakye

In 1968 het ’n nuwe leier die roer in Tsjeggo-Slowakye oorgeneem. Hy was Alexander DubÄ?ek, wat die sosialisme ’n nuwe rigting wou laat inslaan ­– “sosialisme met ’n menslike gesig”, soos hy dit gestel het. In Tsjeggo-Slowakye en elders het die demokratiese hervormings van sy regering bekend geword as die “Praagse lente”. Sy doel was nie om die sosialisme af te skaf of sy land se bondgenootskap met die USSR te verbreek nie, maar om die sosialisme met die demokrasie te versoen. Maar in die Kremlin het die Sowjet-leiers geoordeel dat dit op ’n herhaling van die Hongaarse opstand 12 jaar tevore kon lei.22 Soos Dmitri Wolkogonof dit stel:

The Czechoslovak people’s desire for liberty, independence and democracy was seen in the Kremlin as "counter-revolution", "opportunism" and "an attempt to go over to the capitalist camp". The "Programme[s] of the Czechoslovak Communist Party" ... were condemned by Moscow as counter-revolutionary platforms. Every step taken by Prague, every word uttered by DubÄ?ek ... was interpreted as yet another act of treachery to the socialist cause.23

Op 20 Augustus 1968 het troepe uit verskeie Oosblokstate die grens dus oorgesteek, die land sonder bloedvergieting beset, en DubÄ?ek se regering tot ’n val gebring en met een van hul eie keuse vervang. Die Tsjegge en Slowake het geen weerstand gebied nie, maar die invalstroepe het dit baie duidelik gemaak dat die inval nie, soos die propaganda hulle wysgemaak het, bedoel was om die land te bevry nie. Van die soldate was só ontgogel daardeur dat die offisiere by geleentheid amper beheer oor hul eie ondergeskiktes verloor het.24 ’n Paar weke later het Leonid Brezjnjef die Sowjetunie se houding (wat bekend sou word as die Brezjnjef-leer), in Warskou só verwoord:

Dit is welbekend dat die Sowjetunie baie gedoen het om die soewereiniteit en onafhanklikheid van die sosialistiese lande te versterk ... Dit is ook bekend, kamerade, dat daar algemene beginsels is van sosialistiese opbou, en dat ’n afwyking daarvan tot die prysgawe van die sosialisme self kan lei ... En wanneer ’n bedreiging vir die sosialistiese saak in daardie land ontstaan, word dit nie slegs ’n probleem vir die betrokke mense nie, maar ’n algemene probleem en belang vir al die sosialistiese lande.25

Overgezet zijnde: Die internasionale sosialistiese gemeenskap het onder leiding van die Sowjetunie die reg en die plig om gewapenderhand in te meng in state wat na die mening van die Kremlin gevaar loop om hom aan Moskou se greep te ontworstel.

Die SAKP het nie op hom laat wag om hom oor die situasie in Tsjeggo-Slowakye uit te spreek nie. Nog voor die Sowjet-inval het die Sentrale Komitee die Praagse Lente as ’n “serious and growing threat” van “reactionary anti-socialist forces” bestempel. ’n Bedekte oproep is op Moskou gedoen om in te gryp.26 En vier dae ná die inval het die party die stap beskryf as die reaksie op ’n versoek van die Tsjeggo-Slowaakse Kommunistiese Party en regering. Die doel was “to defeat the threat of counter-revolution, of the restoration of capitalism and the opening up of Czechoslovakia to penetration by international imperialism”. As die stap nie gedoen is nie, sou die internasionale sosialistiese gemeenskap, luidens die verklaring, “have failed in their duty to the Czechoslovak working people”.27 En in ’n kommentaarartikel het The African Communist daarop gewys dat die gebeure in Tsjeggo-Slowakye gesien moes word teen die agtergrond van die “central and overriding clash of our era – that between aggressive international imperialism on the one hand and the forces of socialism and human liberation on the other”. Die blad het ook gewys op die “geographic and strategic position” van Tsjeggo-Slowakye “as a key-point for the security of the heartlands of socialism” en as “the front-line fortress of the socialist community of nations”.28

Blykbaar het nie almal in die SAKP hiermee saamgestem nie. Joe Slovo se vrou, Ruth First, wat bekend was vir haar relatief onafhanklike denke, het haar party se steun vir die inval sterk afgekeur, maar dit het haar in die gemeenskap van kommuniste nogal erg benadeel. Slegs Slovo se invloed het haar vir skorsing behoed.29 Ook mense soos Hilda Bernstein en Moeletsi Mbeki (Thabo se broer) het skerp kritiek gehad, en laasgenoemde het selfs uit die SAKP bedank. First en Bernstein is gemarginaliseer.30

Jare later het Hilda Bernstein die SAKP se onkritiese houding in dié geval verklaar deur die geloof dat die Kommunistiese Party van die Sowjetunie

was the senior party, these were the people who knew everything. When you look at the history of it of course they came knowing as little about democracy, in fact less, than any other country probably in the European diaspora did. But at that time this was the belief of the communists that these were the ones who held the truth.31

Moontlik het First en ander se kritiese houding daartoe bygedra dat die ANC, in teenstelling met die SAKP se onmiddellike en entoesiastiese steun vir die inval, traag gereageer het. Ook was die proses waardeur die SAKP die ANC later oorheers het, nog nie voltooi nie. Geen enkele woord het dus aanvanklik oor die saak in die ANC se belangrikste blad, Sechaba, verskyn nie. Eers ’n maand later het Mayibuye ’n amptelike verklaring onder die naam van Duma Nokwe, Alfred Nzo se voorganger as sekretaris-generaal, gepubliseer. Maar toe het Nokwe geensins doekies omgedraai nie. Hy het verwys na die “dangerous situation” in Tsjeggo-Slowakye “which was deliberately engineered by right-wing counter-revolutionaries with the support of imperialism”. Die Sowjet-ingryping “will protect and consolidate the achievements” van die revolusie en sal die twee lande in staat stel “to march arm-in-arm to fulfill the objectives of international socialism”.32

Blykbaar was selfs die teenstand van ’n sterk persoonlikheid soos Ruth First nie genoeg om die ANC se haas instinktiewe steun vir selfs hoogs omstrede Sowjet-stappe te keer nie.

 

Die keuse tussen Wes- en Oos-Duitsland

Die Tweede Wêreldoorlog het in Europa geëindig met Duitsland wat in vier besettingsones verdeel en onderskeidelik deur Amerika, Brittanje, Frankryk en die Sowjetunie geadministreer is. Namate die Westerse Geallieerdes en die Sowjets in die jare onmiddellik hierna uitmekaar gedryf het, het die drie eersgenoemdes hul besettingsones gekonsolideer, wat in 1949 op die totstandkoming van die Federale Republiek van Duitsland (Wes-Duitsland) uitgeloop het. Die Sowjets het húl besettingsone terselfdertyd omgeskep in die Duitse Demokratiese Republiek (DDR, oftewel Oos-Duitsland). Eersgenoemde het ’n liberaal-demokratiese, kapitalistiese staat geword; laasgenoemde ’n kommunistiese diktatuur.

Regdeur die periode van ballingskap het sowel die SAKP as die ANC konsekwent kant vír die Oos-Duitse diktatuur téén die Wes-Duitse liberale demokrasie gekies. Die ANC het ’n kantoor in Oos-Berlyn geopen,33 die stad waar sy propagandablad Sechaba en die intellektuele orgaan van die SAKP, The African Communist, ook gedruk is.34 Dié land het trouens ’n spesiale opleidingsbasis vir MK gehad.35 Dit is ook dáár dat die SAKP-lid Mac Maharaj hom bevind het toe die Berlynse Muur in Augustus 1961 gebou is. Later het Maharaj getuig dat  die muur aan hom geregverdig is “as the actions of the progressive forces in the world, and I bought into that. In East Germany it was portrayed as necessary because the West was trying to subvert the Communist order, and undoubtedly it was.”36

Vir die SAKP het alle sosialistiese en nuut-onafhanklike state, kommuniste, demokrate en vredeliewendes belang gehad by die beskerming van en steun aan die DDR “which, together with the Soviet Union and other socialist states, is the bastion against colonialism, neo-colonialism and imperialism”. Die Duitse geskiedenis is gekenmerk deur “exploitation and oppression, inhumanity and aggression”, eienskappe “which still characterise the present state in West Germany”.37 Dus was ’n besoekende ANC-afvaardiging in die DDR “deeply impressed by the successes of the GDR” en “appreciated the great achievements made by the working people of the GDR under the leadership of the SED [Sozialistische Einheitspartei, oftewel die Oos-Duitse kommuniste] in continuing their efforts to build in the GDR an advanced socialist society”.38 Daarby het die NUK van die ANC gevind dat die DDR “a symbol of international friendship and militant solidarity against imperialism and reaction” was.39 En toe Oliver Tambo en die DDR-leier, Erich Honecker, in 1979 in Maputo beraadslaag het, was hulle “pleased to note that the SED and ANC have identical views” oor die internasionale politiek. Die “close combat alliance” tussen die SED en die ANC is deur die samesprekings verdiep. “Oliver Tambo observed that the successful construction of communism in the Soviet Union and the building of socialism in the GDR ... was giving new impetus to the oppressed people of South Africa in their struggle for the abolition of apartheid and the seizure of power ...”40 Toe hulle mekaar twee jaar later weer spreek, het Tambo en Honecker opnuut gevind dat hul idees “identical” was.41

Daarteenoor is Wes-Duitsland strykdeur in SAKP- en ANC-publikasies in ’n slegte lig gestel. Die land is voortdurend daarvan beskuldig dat hy ’n alliansie met die apartheidsregering het, en dat hy laasgenoemde selfs in die geheim help om kernwapens te ontwikkel42 – ’n propagandaset wat trouens deur die KGB uitgedink en dankbaar deur die ANC versprei is.43

Tekenend van die krampagtige wyse waarop die ANC sy voorkeur vir die DDR benader het, was ’n geval in 1968 toe die ANC-blad Mayibuye ’n terloopse opmerking in ’n artikel geplaas het waarin die mislukte Amerikaanse inval in Kuba in 1961 met die USSR se blokkade van Berlyn in 1949 vergelyk is. In die daaropvolgende uitgawe is ’n regstelling geplaas onder die naam van Alfred Kgokong, die ANC se direkteur van publisiteit, waarin dit ’n “grave theoretical error and misrepresentation of the historical situation in Germany after the Second World War” genoem is. Trouens, hy het Amerika. Brittanje en Frankryk, saam met “diehard Nazis in West Germany”, uitdruklik daarvan beskuldig dat hulle Wes-Berlyn gebruik om spioenasie en sabotasie in die DDR uit te voer.44

Dit sou tot die einde van die Koue Oorlog so bly. Selfs met die Duitse hereniging op hande het Mayibuye nog ’n uiters onentoesiastiese en skeptiese artikel oor die proses geplaas. “The consolidation of a power which – like all other Western states – is not renowned for sympathy with the developing world is bound to be viewed with suspicion in these quarters,” is in die beskouing geskryf.45

 

Afrika

Regdeur die Koue Oorlog het die Sowjetunie hulp verleen aan sekere bewegings en lande wat ideologies die naaste aan hom gestaan het. So het hy Zapu van Joshua Nkomo in Rhodesië gesteun en dié se mededinger, Zanu van Robert Mugabe, geïgnoreer. (Laasgenoemde was eerder op China georiënteer.) In Angola was dit die MPLA wat die USSR se kliënt geword het en die FNLA en Unita wat links gelaat is. Somalië is in 1977 laat vaar ten gunste van sy aartsvyand, Ethiopië.

Dié voorbeeld is nougeset deur die ANC/SAKP nagevolg. Sechaba het talle artikels gewy aan die stryd in Rhodesië, maar Zanu totaal geïgnoreer en Zapu die hemel in geprys.46 In interne dokumente is Zanu soms skerp gekritiseer, soos dat hy kop in een mus sou wees “with certain imperalist interests”, terwyl Zapu saam met die ANC die “sole revolutionary organisations leading the struggle in Zimbabwe and South Africa respectively” was.47 Uiteraard moes die ANC bontstaan toe Nkomo se beweging in die verkiesing van April 1980 ’n swaar nederlaag teen Mugabe ly, en binne enkele weke was ’n ANC-afvaardiging in Harare om die “revolutionary congratulations of the South African masses and their liberation movement” aan die nuwe regering oor te dra. Die doel was ook “to re-iterate [sic] the ANC’s support for the Government of Comrade Prime Minister Mugabe”.48

Dié voorgeskiedenis het meegebring dat die betrekkinge tussen die nuwe Mugabe-regime en die ANC in die vroeë jare tagtig nie goed was nie. Die ANC se aanwesigheid in Zimbabwe is tot ’n minimum beperk, en die MK-lede wat wel daar was, is na Zambië uitgewys.49 Ironies genoeg het die aanslae wat die Suid-Afrikaanse regering in die jare hierna teen die ANC in Zimbabwe gerig het, die beweging en die Mugabe-bewind nader aan mekaar gedryf, en teen 1987 het Mugabe sy Sowjet-eweknie, pres. Michail Gorbatsjof, in Moskou ingelig dat hy MK nou toelaat om Suid-Afrika vanuit Zimbabwe te infiltreer.50

Oor Ethiopië, waar die meedoënlose sosialistiese diktatuur van pres. Mengistu Haile Mariam verantwoordelik was vir die dood van etlike honderde duisende mense,51 was die ANC/SAKP net so geesdriftig. Interessant was die les wat die SAKP-blad Umsebenzi van die Ethiopiese revolusie geleer het, naamlik (met verwysing na die SAKP-program van ’n tweefaserevolusie) “in the sphere of transition from the national democratic revolution to the socialist revolution” en “an uninterrupted transition from the national democratic revolution to socialism”.52 Die SAKP-voorbok Yusuf Dadoo het inderdaad uitdruklik kant gekies vir Ethiopië teen die “Somali aggressors”.53

Maar ook die ANC was beïndruk met wat in Ethiopië gebeur het. ’n Afvaardiging wat die land in 1979 onder leiding van Mzwai Piliso besoek het, het die prestasies “impressive” genoem – 

nationalisation of the land and a comprehensive agrarian reform ... the nationalisation of banks, social security in the main industries and the formation of democratic mass organisations ... A party of the workers – a Marxist-Leninist party is being formed ... Comrade Mzwai Piliso on his part expressed admiration for the successes achieved by the Ethiopian Revolution and described it as exemplary for the entire African continent.54

En in 1984 het Oliver Tambo Mengistu in ’n toespraak voor die staats- en regeringshoofde van die Organisasie vir Afrika-Eenheid “this great son of Africa genoem”,55 terwyl hy ’n paar maande later voor dieselfde forum gewag gemaak het van die “the very able leadership of Comrade Mengistu Haile Mariam”.56

Wat Angola betref, het ander faktore naas die leiding van Moskou ook ’n rol gespeel. Die gebeure van 1975-6, toe Suid-Afrika militêr ingegryp het, het die FNLA en veral Unita tot Suid-Afrikaanse bondgenote omgesmee, dus was dit vanselfsprekend dat die ANC/SAKP die kant van die MPLA sou kies. Ofskoon die MPLA in dié stadium slegs vaagweg sosialisties was, het die USSR in hom sy beste Angolese bondgenoot gesien.57 En dus het die SAKP die MPLA se stryd as “a giant step forward in the continuing struggle against imperialism, for peace and socialism” gesien, as ’n herbevestiging van “proletarian internationalism”. Daarom word die MPLA beskou as “the instrument, the vanguard Marxist-Leninist Party”.58 En toe pres. Agostinho Neto sterf, is hy geloof vir sy “unflinching and principled leadership” onder wie “the high road to socialism and national advance [was] charted”.59 In Namibië is die stryd teen Suid-Afrika deur Swapo gelei en was ’n bondgenootskap met die ANC/SAKP in Swapo se belang, maar die feit dat Swapo eweneens deur die USSR gesteun is, het die alliansie sekerlik geen kwaad gedoen nie.

 

Die inval in Afganistan

Einde Desember 1979 is die wêreld geruk deur die skielike Sowjet-inval in Afganistan. Die doel was om dié land vir die kommunisme te beveilig ná ’n ongewilde sosialistiese revolusie in 1978. Die destydse Afgaanse regering was na die oordeel van die KGB nie daadkragtig genoeg om die bedreiging van die opposisie die hoof te bied nie, en dus moes selfs die leier van daardie bewind opgeoffer word.60 Om die wêreldwye negatiewe publisiteit die hoof te bied het die KGB, die dryfkrag agter die inval, ’n disinformasieveldtog van stapel gestuur om sake so voor te stel dat die Sowjetunie teen sy sin gedwing was om troepe oor die grens te stuur weens die aggressiewe optrede van sy teenstanders in die Weste.61

Die SAKP het geen doekies omgedraai oor waar hy staan nie. Ná die Sowjet-inval in Afganistan het hy ’n verklaring uitgereik om die inval volmondig te steun. Die noodsaak vir so ’n inval is toegeskryf aan die “frantic campaign by imperialism to shore up the remaining bastions of capitalism throughout the world and to hold back the forces of change”. Dus het die SAKP sy “full understanding of and support for” die inval verklaar.62 En MK se lyfblad, Dawn, het verklaar dat die “so-called Afghanistan crisis” slegs ’n rookskerm is om die Sowjetunie by te kom. Die skuld moet toegeskryf word aan die imperialisme wat, “with its typical lack of  concern for anything other than profit and its own survival, is creating a highly dangerous international climate which ... is more of a hot than a cold war”.63 Steve Dliwayo het in dieselfde blad ontken dat daar hoegenaamd ’n “Soviet intervention” in Afganistan was:

What occurred there is that the revolutionary forces ... have taken the responsibility of continuing the ... revolution sabotaged by US imperialism, to ensure the freedom of the Afghan people and to raise high the banner of peace ...64

Die ANC as sodanig het nie onmiddellik gereageer nie. In ’n toespraak ’n paar dae ná die inval het Oliver Tambo wel na die internasionale toneel verwys, maar oor Afganistan geswyg.65 Eers in sy Nuwejaarsboodskap van 1985 het hy, enigsins dubbelsinnig, solidariteit betuig met “all those struggling to defend their sovereignty”, waarby hy spesifiek verwys het na “the peoples of southern Africa, Sahrawi Arab Democratic Republic, the Middle East, Afghanistan and Cyprus”.66

Dié dubbelsinnigheid het egter later in die jaar plek gemaak vir absolute duidelikheid in die ANC-NUK se politieke verslag aan die Kabwe-konferensie. Daarin is gerapporteer: “In the same year [1979], the democratic anti-feudal and anti-imperialist revolution in Afghanistan had been saved, with the support of the Soviet Union.”67

 

Die Poolse krisis

Die vroeë tagtigerjare is gekenmerk deur ’n krisis wat die Sowjet-houvas op Pole, en by implikasie die res van die gebied agter die Ystergordyn, in die gedrang gebring het. Dit was die stigting en eksplosiewe groei van die onafhanklike vakbond Solidariteit onder die leiding van Lech Walesa. Die vraag wat die wêreld besig gehou het, was: Gaan die Poolse kommunistiese diktatuur stand hou onder die aanslag van Solidariteit? En wat gaan die Sowjetunie doen – soos in 1956 in Hongarye en 1968 in Tsjeggo-Slowakye ’n militêre inval uitvoer?68

Die jongste navorsing toon dat die Kremlin in die loop van 1980 inderdaad ’n militêre inval met 15 divisies beplan het, maar later daarteen besluit het. Die Poolse diktator, genl. Wojciech Jaruzelski, het gevolglik opdrag gekry om Solidariteit self vas te vat. Die gevolg was dat hy in Desember 1981 krygswet afgekondig en Solidariteit verbied het.69

Ook hier het die ANC/SAKP die leiding van die Sowjetunie klakkeloos gevolg. In ’n verklaring het die Sentrale Komitee van die SAKP die afkondiging van krygswet toegeskryf aan die “counter-revolutionary activities of those forces [Solidariteit] within the country which, aided by foreign imperialism, were attempting to turn back the clock of history and dismantle the main bastions of socialist advance”.

Bowenal het die teenrevolusionêre magte Pole probeer losweek van die Warskou-verdrag, “the main bastion of world peace”. In dié dae van krisis is dit, volgens die verklaring, “the duty of all communists of all countries to stand by their allies and rally to the defence of the healthy forces of social advance in Poland ...”70 In ’n hoofartikel het The African Communist onomwonde verklaar dat “[w]e live in the era of transition from capitalism to socialism on a world scale, and all political issues must be interpreted in that context.”71

Iets later in die jaar het Alfred Nzo ook in sy hoedanigheid as sekretaris-generaal van die ANC in ’n toespraak verwys na die “imperialist-backed counter-revolution in Poland” as illustrasie om die “imperialist activities in our own region” te verstaan.72 En in sy politieke verslag by die Raadplegende Konferensie van Kabwe in 1985 het Oliver Tambo in die konteks van ’n “determined effort ... to roll back socialism, to reverse the victories of the national liberation movement and to force the peoples of the world to succumb to the wishes of imperialism” verwys na “the complicated situation that arose in Poland”.73

 

Suid-Afrika se internasionale rol

In die jare van ballingskap het die ANC/SAKP hulle male sonder tal oor Suid-Afrika se rol in die internasionale gemeenskap uitgelaat. Dit het sonder uitsondering binne die grense van die ortodokse Marxisties-Leninistiese wêreldbeskouing geval.

Suid-Afrika is gesien as verlengstuk van die internasionale imperialisme. “International imperialism, led by the U.S.,” het Duma Nokwe in 1968 uiteengesit, “also considers it its fundamental duty to protect the fascist white minority government in South Africa and to maintain the hegemony of imperialism over the whole of Southern Africa.” Nóg sterker: “Imperialism and fascism are using South Africa as their base and springboard for launching a counter-revolutionary offensive in Africa”.74 Die destydse alliansie tussen Suid-Afrika, Rhodesië en Portugal was “the frontline of imperialist strategy” ter wille van “the intensified exploitation of the peoples and resources of our continent”.75 Dié nuwe situasie beteken dat die Suid-Afrikaanse apartheidstelsel, “guided by internal and external imperialist forces, will become the socio-economic and political base around which reactionary forces throughout Africa will be mobilised." Dus is die Suid-Afrikaanse inval in Angola in 1975 toegeskryf aan “world imperialism, led by the U.S.A.”,76 en die doel was “to exploit Angola’s rich mineral resources”. Daarom kon die Weste nie “African resistance with a socialist ideology – Marxism-Leninism” verdra nie.77

Teen dié agtergrond is Suid-Afrika gesien as

the bulwark of imperialism and neocolonialism in our continent. Consequently imperialism is desperately manoeuvring to impede the revolutionary advance in our country so as to retain South Africa within the orbit of the world capitalist system.78

Die imperialisme, het Joe Slovo in 1983 verklaar, het Suider-Afrika uitverkies “as one of the zones of primary strategic importance in the world.”79 Dus is Suid-Afrika “the key citadel of imperialism in Africa” wat om dié rede gesteun word “as never before by the Reagan-led imperialist camp”,80 en is hy “a serious threat to world peace”.81

 

Die bilaterale betrekkinge met die USSR

Reeds kort ná die verbod op die ANC in 1960 en die verskuiwing van die ANC/SAKP-leierskap na die buiteland het die alliansie sy oë op die Sowjetunie begin vestig vir hulp. Dit was ’n logiese gedagte. Die SAKP was vanaf die jare twintig een van die mees ortodokse kommunistiese partye ter wêreld, en blykens sy geskrifte het hy reeds in die jare vyftig sowel die ideologiese as die prakties-politieke leiding uit Moskou kritiekloos gevolg. Ook die ANC se leiers was, luidens húl geskrifte en uitlatings, sterk onder Marxisties-Leninistiese invloed. Daarby was die Sowjetunie en ander kommunistiese state agter die Ystergordyn die enigste moondhede met die politieke wil en vermoë om die alliansie polities én militêr by te staan.

Dit was gevolglik takties wys van die alliansie om die eerste kontak met Moskou deur die SAKP, met sy noue bande met sy Sowjet-moederparty, te laat verloop. In Oktober 1961 was ’n SAKP-afvaardiging bestaande uit Moses Kotane en Yusuf Dadoo in Moskou. Die lede van die afvaardiging het die Sowjets ingelig dat hulle met ’n gewapende stryd begin het, en laasgenoemde gevra of hulle meen dit was ’n korrekte stap. Hulle het tegelykertyd militêre hulp in die vorm van opleiding gevra. In antwoord het die Sowjets saamgestem met die SAKP se koers.82

Dié besoek is ’n paar maande later opgevolg met ’n besoek van Arthur Goldreich, dié keer namens die ANC, om militêre hulp te vra.83 Dit was in die dae voordat die SAKP die ANC heeltemal oorheers het, maar dié kontak met die USSR was terselfdertyd ’n belangrike skakel in die proses waarvolgens die ANC hom stadig maar seker aan die SAKP onderwerp het.

In April van dieselfde jaar het Oliver Tambo sy eerste besoek aan Moskou gebring, en wel op uitnodiging van die Kommunistiese Party van die Sowjetunie (KPSU). Later sou hy dit beskryf as “’n historiese dag vir Suid-Afrika”. Daarmee het die ANC die eerste Afrika-rebellebeweging geword wat amptelik kontak met die USSR gemaak het. In ’n memorandum het Tambo “large-scale training facilities” gevra, saam met “assistance in organisation and propaganda work and the intensification of ANC activity internationally”. Die USSR het tot alles ingestem.84

Later dié jaar het die geld begin vloei. In die eerste skenking is $300 000 aan die ANC gegee, saam met $56 000 aan die SAKP en $50 000 elk aan die Angolese MPLA en die Rhodesiese Zapu. Dit het beteken dat die ANC negende op die lys van buitelandsehulp-ontvangers was. Tot die einde is verskillende bedrae aan die ANC en SAKP oorbetaal. Sonder dié hulp sou die twee bewegings sonder enige twyfel vinnig in vergetelheid verval het. Volgens Sjoebin het die hulp nagenoeg 85 persent van die ANC se inkomste bedra. Trouens, in 1974 het ’n dankbare Tambo hom by nog ’n besoek aan Moskou laat ontval: “Looking back, I can’t remember any request which the Soviet Solidarity Committee had not carried out.”85

Teen die helfte van die jare tagtig, toe die anti-apartheidstryd op sy hoogtepunt was, het die ANC se begroting volgens Scott Thomas sowat $100 miljoen per jaar bedra. Die helfte daarvan is aan die gewapende stryd bestee en die ander helfte aan niemilitêre items. Byna die hele militêre begroting was uit die Sowjetunie afkomstig, en twee derdes van die niemilitêre deel uit Skandinawië en van die VN. Kleiner bedrae is uit Nederland, Oostenryk, Indië, van die Wêreldraad van Kerke, Oxfam en verskeie Rooms-Katolieke hulporganisasies ontvang.86

Dié hulp is ook op diplomatieke en militêre gebied verleen. Toe die Tanzaniese regering einde jare sestig die ANC opeens opdrag gee om al die MK-kaders uit die land te verwyder (daar is – verkeerdelik – gemeen dat die ANC in die binnelandse politiek inmeng) het die Sowjetunie al die vegters binne twee weke ontruim en binne sy grense gehuisves.87

In sy memoires skryf Ronnie Kasrils uitvoerig oor die opleiding in sabotasie en guerrilla-oorlogvoering wat hy in Odessa ontvang het.88 Volgens Sjoebin is altesame 1 501 vegters van Umkhonto we Sizwe (MK) in die Sowjetunie opgelei.89 Ná ’n besoek van ’n ANC-afvaardiging aan Moskou in Oktober 1978 het die Sowjetunie ook instrukteurs na ANC-opleidingskampe in Angola begin stuur, iets wat MK se beskeie gevegsvermoë ongetwyfeld ietwat bevoordeel het.90 Wapens is ook gelewer. In die jare van die gewapende stryd het MK verskeie duisende AK-47’s, meer as 3 000 SKS-karabyne, meer as 6 000 pistole, 275 granaatlanseerders, 90 Grad-P-missiellanseerders, meer as 40 Strela 2M-lugafweermissiellanseerders, en meer as 60 mortiere en 20 Maljoetka-tenkafweer-missiele van die Sowjetunie ontvang.91

Proff. Apollon Davidson en Irina Filatowa, twee Russiese historici wat op die gebied van Suid-Afrika gespesialiseer het, het die betekenis van die USSR se militêre hulp aan die ANC/SAKP só opgesom:

Overall, the ANC ranked ninth among the 85 recipients of Soviet financial support – remarkably high, because even the Indian Communist Party, with its mass membership and strategic importance on the borders of the USSR, ranked 10th ... [T]he existence of the Soviet camp, with its vast networks and huge international presence, helped to create a situation conducive to the ANC’s victory. Doubtless the anti-apartheid movement would have won in the end without Soviet support, but it would have been a very different victory. No wonder the ANC stalwarts speak of the Soviet Union with much warmth and gratitude.92

Die vraag is natuurlik wat die Sowjetunie beweeg het om die ANC so te help. In sy memoires ontken Ronnie Kasrils dat die Sowjetunie die ANC/SAKP beheer het. “The Soviet Party naturally had close ties with our Party, and would have been delighted to see socialism triumph. But it did not manipulate the SACP.”93 Daarby wys Sjoebin daarop dat die hulp wat die ANC van die Sowjetunie gekry het, slegs sowat twee persent bedra het van die hulp wat die moondheid ná 1976 aan Angola verleen het.94

Hierteenoor moet in aanmerking geneem word dat volkome altruïsme slegs by hoë uitsondering in die wêreldpolitiek bestaan. Die Sowjetunie sou die ANC/SAKP nie gesteun het as daar vir hom geen voordeel in was nie. Ons het reeds aan die begin gewys op die strategiese besluit van 1960 in die Kremlin dat die pad na oorwinning oor die kapitalistiese wêreld deur die Derde Wêreld lê. Ondanks die groot belegging wat Moskou in Angola gemaak het, kom Odd Arne Westad op grond van die Sowjet-argiewe tot die gevolgtrekking dat die MPLA vir die Kremlin “second in importance only to the African National Congress of South Africa” was, en dat die ANC “Moscow’s favorite partner” was – selfs nog meer as die SAKP.95 En Philip Nel meen ook dat die oorspronklike besluit om die ANC te steun, geneem is omdat “the USSR could ignore the South African question only to the detriment of its status as a world power, and that it saw in its association with the ANC the opportunity to extend its reputation in the developing countries at the expense of those of the US and Western Europe”.96 Die steun moet dus teen die agtergrond van die Koue Oorlog en die USSR se magstryd met Amerika en die Weste gesien word.

Dit is eenvoudig naïef en onlogies om te meen dat die USSR niks in ruil van die ANC/SAKP verwag nie; dit is nie hoe die politiek werk nie. Die mense in die USSR se Afro-Asiatiese Solidariteitskomitee – die organisasie wat die betrekkinge met die ANC/SAKP gehanteer het – het geweet die SAKP is een van die mees Moskou-getroue kommunistiese partye ter wêreld, en dat die ANC se leiding toenemend deur lede van die SAKP oorheers word. Dit was nie vir hulle nodig om eksplisiet eise te stel nie; hulle het geweet hulle kan op die dankbaarheid en getrouheid van die alliansie reken. Ook Philip Nel erken dat die ANC “increasingly dependent on the Soviet Union for weapons and training facilities” geword het, en dat “this relationship of dependence has placed restrictions on the ANC’s freedom of action”.97

Dit word bevestig deur dokumente uit die Kremlin wat ná die val van die Sowjetunie na die Weste gesmokkel is, waaruit blyk dat die KGB veral in die vroeë jare tagtig bekommerd begin word het dat die ANC meer pro-Westers kan word. Die KGB-kantore in Stockholm, Londen, New York, Parys, Rome en Afrikastate is gebombardeer met instruksies om die Weste se kontak met die ANC te monitor en bedreigings vir die SAKP se invloed in die ANC teen te gaan.98 Blykbaar was die opdrag van die KGB-spioen Alexei Kozlof Loginof, wat in Januarie 1981 in Suid-Afrika aangekeer is, juis om onafhanklik vas te stel of die prentjie wat die ANC/SAKP oor die situasie in Suid-Afrika teenoor Moskou geskilder het, akkuraat was. Daaruit blyk ook dat die Sowjetunie gemeen het die alliansie moet goed dopgehou word.99

 

Die einde van die USSR se steun

Die hoogtepunt van die betrekkinge tussen die ANC/SAKP en die Sowjetunie was in die helfte van die tagtigerjare. In November 1986 het Oliver Tambo Moskou besoek, waar hy amptelik deur die nuwe leier van die Sowjetunie, pres. Michail Gorbatsjof, ontvang is. Gorbatsjof het meer militêre steun beloof. Anatoli Dobrinin, hoof van die KPSU se internasionale afdeling, het Tambo verseker dat die Sowjetunie 100 persent agter die ANC staan – en “as u dit wil hê, 120 persent steun”.100

Maar internasionale gebeure buite Tambo (en Gorbatsjof!) se beheer het op die punt gestaan om dié noue verbintenis uitmekaar te skeur. In die Weste het nuwe leiers, veral pres. Ronald Reagan en mev. Margaret Thatcher, in Washington en Londen aan die bewind gekom en die tradisionele beleid van “indamming”, wat al sedert die laat jare veertig gegeld het, in ’n historiese teenoffensief omgeskep om die USSR plat te loop. Ons het hier bo gesien hoe woordvoerders van die SAKP en die ANC daarteen te kere gegaan het. Maar die bewindsaanvaarding van Gorbatsjof in 1985 het ook ’n laer premie op die kommunistiese ideologie gestel en groter realisme rakende die slegte ekonomiese fondamente van die Sowjetunie aan die dag gelê. Gorbatsjof het binne ’n jaar of twee ná sy bewindaanvaarding begin insien dat sy land binnenslands gedemokratiseer moes word en buitelands ontslae moes raak van die geweldige laste wat sy ideologiese solidariteit met revolusionêre lande en bewegings elders aan hom opgelê het. Die ANC/SAKP sou een van die slagoffers van dié hersiening van prioriteite word.

Volgens ’n ondersoek van Philip Nel na die geskrifte van Sowjet-akademici en amptenare in dié tyd het die algemene toon oor Suid-Afrika al in die loop van 1985 begin verander, en by ’n besoek van pres. Samora Machel in 1986 het Gorbatsjof vir die eerste keer gesê hy is ten gunste van ’n skikking wat “al die mense wat daar [in Suid-Afrika] woon” in ag neem.101 Die SAKP-voorbok Jeremy Cronin vertel eweneens dat toe hy in die jare 1987-90 in ballingskap in Lusaka was, SAKP-kamerade “were being called into the Soviet embassy and told that we could no longer expect the same level of support”. Die kamerade is aangemoedig om met die apartheidsregering te begin onderhandel, want “the ability of the Soviet Union to sustain that kind of Cold War position was diminishing quite rapidly.”102

Volgens Shubin is die ANC/SAKP vanaf ongeveer 1988 toenemend uitgeskuif.103 Verontwaardigde ontkennings deur die Sowjet-Afro-Asiatiese Solidariteitskomitee104 en Alfred Nzo105 in 1989 dat die USSR sy beleid gewysig het, kon niks aan dié politieke werklikheid verander nie. Tog kon diegene wat op voetsoolvlak met die ANC/SAKP gewerk het, nog daarvoor sorg dat die wapenleweransies tot diep in 1990 – ná die wettiging van die ANC en SAKP dus – voortgaan. Teen die tyd dat dit gestaak is, het MK glo genoeg wapens en ammunisie vir ’n jaar se opleiding en operasies gehad.106

 

Die ineenstorting van die kommunisme

Op die aand van Donderdag 9 November 1989 het gebeur wat, agterna gesien, onafwendbaar was, maar wat niemand só vinnig verwag het nie: die Berlynse Muur het geval. Dit het ’n kettingreaksie aan die gang gesit wat die wêreldgeskiedenis ingrypend sou beïnvloed. In Pole en Hongarye was die kommunistiese greep toe reeds gedeeltelik gebreek, maar die kommunistiese diktature het die een ná die ander soos domino’s geval in Oos-Duitsland, Tsjeggo-Slowakye (wat kort daarna in twee lande, Tsjeggië en Slowakye, verdeel is), Bulgarye, Roemenië en Albanië. En iets meer as twee jaar later is die proses hervat toe die Sowjetunie in vyftien state uiteengeval het. Die USSR, die Oosblok wat hy sedert die laat veertigs in ’n ystergreep gehou het, en die kommunisme as internasionale magsfaktor het soos mis voor die son verdwyn. Enersyds het dit die laaste verskoning wat die Suid-Afrikaanse regering gehad het om nié met die ANC/SAKP te onderhandel nie, weggeneem; maar andersyds is die kommunistiese mat onder die alliansie se voete weggepluk.

Die vraag is hoe die ANC/SAKP op dit alles gereageer het.

Die alliansie se eerste, haas instinktiewe reaksie op Gorbatsjof se hervormings – wat die wêreld ingegaan het as perestroika (vry vertaal: hervorming) en glasnost (openheid) – was om dit te steun. Dit is immers wat hulle outomaties regdeur die jare van ballingskap gedoen het. Daarom het Tambo perestroika in ’n toespraak in Moskou geprys as “the further strengthening of the great bulwark of peace – the Union of Soviet Socialist Republics”.107

Dit het – voorlopig altans – nie beteken dat die alliansie se steun aan die sosialistiese ideologie verminder het nie. Dus het die SAKP die KPSU se nuwe politieke program van 1986 uitvoerig geprys – sonder om egter enige melding van die demokratiseringsmaatreëls te maak, wat nogal iets sê.108 Oor bepaalde gebeurtenisse, soos die ongeluk by die kernreaktor van Tsjernobil in die Oekraïne, of die neerskiet van die Koreaanse passasiersvliegtuig KAL 007, is die Moskou-weergawe van die feite oudergewoonte onkrities aanvaar en verdedig.109

Maar later in die dekade het ’n bekommerde noot in die openbare uitsprake begin inkruip. Sonder om die erns van die probleme in die sosialistiese state te ontken, het The African Communist geskryf, beteken dit nie dat “we must abandon Marxism-Leninism” nie. Die kapitalisme bly nie in staat om die probleme van produksie en verspreiding sonder klasse- en nasionale konflik op te los nie. Amper teen sy beterwete in het die skrywer volgehou: “Yes, we still live in the era of transition from capitalism to communism ...”110

In dieselfde jaar het Joe Slovo bedekte kritiek op die Gorbatsjof-hervormings uitgespreek deur te sê: “there are misgivings about the way some of the correct objectives as articulated by Mikhail Gorbachev are theorised by others ...” (ons kursivering). Sommige van die bydraes aan die debat, het hy afkeurend gesê, “come dangerously close to prescribing the abandonment or the toning down of conflict in internal class struggles ...”111 En die Leninistiese historikus Jack Simons, wat in die jare tagtig daarvoor gesorg het dat MK-vegters in opleidingskampe in Angola geïndoktrineer word,112 het afkeurend gepraat van die “unfortunate developments under the guise of reform” in Oos-Europa.113

Nietemin het dieselfde Joe Slovo net ná die reeks volksrevolusies in Oos-Europa ’n artikel geskryf waarin hy die probleme van die kommunisme verbasend eerlik gediagnoseer het – sonder om egter afstand van die kern van die ideologie te neem.114 Pallo Jordan, weer, het ’n kwaai aanval op die Sowjetunie gedoen omdat laasgenoemde sy steun aan die ANC/SAKP aansienlik ingekort het.115

Die absolute verwarring in die geledere van die alliansie is geïllustreer deur die feit dat die historikus Brian Bunting, redakteur van die The African Communist, in Junie 1990 geskryf het dat die val van die kommunistiese regerings in Oos-Europa “an undeniable setback to the liberation movement” was. Maar in ’n hoofartikel in sy blad het hy voorgehou dat niks wat in Oos-Europa gebeur het, beteken dat die SAKP se perspektief – “to establish a socialist republic in South Africa based on the principles of Marxism-Leninism” – verander hoef te word nie.116

En toe kom die mislukte staatsgreep van ortodokse kommuniste in Moskou, wat Gorbatsjof se hervormings ongedaan probeer maak het, in Augustus 1991. Die eerste reaksie van die SAKP, op Maandag 19 Augustus, die eerste dag van die krisis, was om te sê dat te min inligting beskikbaar is om kommentaar te lewer. Eers op 21 Augustus, ’n dag nadat die staatsgreep in duie gestort het, het die SAKP ’n formele verklaring uitgereik om die staatsgreep “clearly unconstitutional” te noem.117 Moet ’n mens iets hierin lees? Die ANC het dié voorbeeld ’n dag later gevolg, maar die beskrywing wat die beweging van Gorbatsjof se hervormings gegee het, nl. “The process of economic renewal and political reform instituted by the leadership associated with Gorbachev aims at discarding the progressive and humane aspects of the socialist economic order118 (ons kursivering), dui nie op ’n geesdriftige omhelsing daarvan nie.

Die ineenstorting van die USSR was nie die einde van die SAKP se geloof in die sosialisme nie. In ’n ontleding van die gebeure van 1991 in die Sowjetunie het die party geoordeel: “Whatever the distortions of socialism in the Soviet Union, millions of working people have had a taste of its potential.”119

Nietemin was die kommentaar van Ben Turok, ’n onafhanklik-denkende kommunis, waarskynlik tipies van wat baie mense in die alliansie gedink het:

It is a tremendous shock. So much has arisen on the basis of the existence of what was called the foundation of the world socialist movement that it is hard to adjust to its passing. Yet we know the system was deeply and fatally flawed. We have to pull ourselves together and face the calamity ...120

Die skok in die ANC was minstens ewe groot, maar onder leiding van veral die pas vrygelate Nelson Mandela en Thabo Mbeki het die party hom, sy dit met moeite, aan die postkommunistiese era ontworstel. Nietemin, die enorme emosionele uitwerking wat dit op mense moes gehad het, het selfs nog in 1999 geblyk toe Baleka Mbete-Kgositsile, toe adjunkspeaker en geen SAKP-lid nie, op ’n konferensie in Nigerië in trane uitgebars het toe toe ’n Suid-Afrikaanse navorser in taamlik skerp en kritiese taal verduidelik het waarom die Sowjetunie uiteengeval het. “That country made huge sacrifices for us,” het sy gesnik.121

 

Besluit

Uit voorgaande is dit duidelik dat daar geen verskil hoegenaamd was tussen die wêreldbeskouing van die Sowjetunie en dié van die SAKP nie, en ook nie tussen die houding van die twee rakende spesifieke internasionale politieke brandpunte nie. Hulle het die wêreld deur ’n identiese ideologiese bril bekyk: die wêreldpolitiek, het albei gemeen, word gekenmerk deur ’n onafwendbare opmars van die mensdom na die oorwinning van die kommunisme, en die grootste krag in daardie rigting is die Sowjetunie en sy satellietstate. Rakende spesifieke brandpunte – die breuk met China, die inval in Tsjeggo-Slowakye, gebeure in Afrika, die betrekkinge tussen die twee Duitse state, die inval in Afganistan, die Poolse krisis – het hulle identiese standpunte ingeneem.

Met die voordeel van agternakennis het Hilda Bernstein, vrou van Rusty Bernstein en self ’n prominente lid van die SAKP, later ingesien: “[The party] was very, very pro-Soviet, very much – anything that the Russians did in the party’s eyes was correct.” Sy het voortgegaan:

[I]t meant that you accepted the fact that the Communist Party of the Soviet Union, because of its primary position in the world as the only country that had set up a so-called communist society, that it occupied this premier position and that you had to follow its lead or its line in whatever they did.122

Eweneens was daar tussen die ANC en die SAKP haas geen verskille nie. Af en toe tref ’n mens ’n nuanse- of klemverskil aan, maar nooit ’n prinsipiële verskil nie. En dus was daar tussen die ANC en die Sowjetunie se standpunte ook haas geen onderskeid nie.

Hiervoor kan veral drie redes aangevoer word. Die eerste is dat die SAKP reeds sedert die jare twintig pynlik noukeurig daarvoor gesorg het dat hy absoluut ortodoks en suiwer Marxisties-Leninisties bly. Ten tweede het die ANC/SAKP in die loop van die jare sestig en sewentig steeds meer afhanklik van die Sowjetunie geword wat betref hul finansies, wapentuig en militêre opleiding, en internasionale politieke steun. Vandaar dat nie slegs die agtereenvolgende SAKP-leiers nie, maar ook Oliver Tambo as leier van die ANC, soms liries geraak het oor die fantastiese stelsel wat hy in die Sowjetunie waargeneem het.

Maar daar is ook ’n derde rede: dit is dat die leiding van die ANC in die loop van die jare toenemend deur lede van die SAKP oorheers is. Die alliansie het immers dubbele lidmaatskap toegelaat, en aangesien die SAKP sy eie lidmaatskap geheim gehou het, het die nie-Kommuniste in die ANC dikwels nie geweet in welke mate die SAKP-lede in vergaderings gesamentlik voorafbepaalde standpunte deurgedruk het nie.123

In later jare het ’n dissident wat uit die SAKP geskop is, Paul Trewhela, getuig: “The SACP and the ANC leadership were so closely identified with each other over this period and subsequently as to be virtually indistinguishable.”124 By ’n ander geleentheid het Trewhela met verwysing na die jare vyftig en sestig gesê: “To all intents and purposes the SACP ran the ANC.”125 En Aboobaker Ismail, ’n hoë offisier in MK en prominente lid van die ANC en die SAKP, het in sy getuienis voor die Amnestiekomitee van die Waarheid-en-versoeningskommissie saamgestem “that members of the leadership of the ANC and the SACP were often the same”.126 Geen wonder nie dat Oliver Tambo self in ’n toespraak voor ’n SAKP-konferensie in 1981 kon getuig dat hy die toespraak hou “not so much as a guest invited to address a foreign organisation. Rather we speak of and to our own.”127

Dit word bevestig deur ’n studie van wie die belangrikste poste in die ANC beklee het. By die raadplegende konferensie van Morogoro in 1969 is tien lede van die belangrike Revolusionêre Raad (wat die gewapende stryd moes koördineer) aangewys – tot sewe van hulle was lede van die SAKP. Eweneens was 6-7 lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee (nege man sterk) Kommuniste.128 Die klimaks is 16 jaar later by die tweede raadplegende konferensie te Kabwe in 1985 bereik, toe die NUK tot 30 lede vergroot is. Van hulle was 21-22 lede van die SAKP. Van die SAKP se Politburo was slegs twee nié lid van die NUK nie.129

Die oorheersing van die ANC-leierskap deur SAKP-lede kon ook duidelik op die ideologiese front gesien word. Trouens, alles wat hier bo geskryf is, bevestig dit. Dit kom ook baie duidelik tot uiting in die dokument Strategy and Tactics wat die ANC te Morogoro aanvaar het, asook The Nature of the South African Ruling Class wat te Kabwe aanvaar is. Albei adem ’n besonder ortodokse Marxisties-Leninistiese gees.130

Die doel van die SAKP – en die USSR – was om allereers, met behoud van sy eie onafhanklikheid, die mag wat binne die leiding van die ANC verwerf is, te gebruik om die mag in ’n eerste fase, bekend as die “nasionaal-demokratiese revolusie” oor te neem. Met sy lede dan reeds in sleutelposisies verskans, sou dit maklik wees om Suid-Afrika in ’n tweede fase in ’n sosialistiese staat te omskep.131

Dit is waar dat baie ANC- en SAKP-lede ontnugter is deur die wantoestande wat hulle in sosialistiese Afrikalande waargeneem het. Maar dit het hulle des te meer na die Europese Marxisties-Leninistiese model laat kyk, veral in die USSR en Oos-Duitsland. Soos Raymond Suttner dit gestel het:

In addition, the former socialist countries and Cuba, Vietnam and Nicaragua also provided fruit for ideological and theoretical advances ... It was for many people in South Africa a source for inspiration, for debate, for vision of the new era, examples that showed that it was possible to defeat imperialist and oppressive forces.132

Dié onkritiese ideologiese en magspolitieke oorheersing deur die Sowjetunie plaas die SAKP, en veral die ANC – wat sy stryd teen apartheid as deel van ’n regverdige oorlog teen ’n misdaad teen die mensdom sien133 –  uiteraard in ’n minder goeie lig. Dit is immers moeilik om die regverdige-oorlog-konsep van toepassing te maak op ’n beweging wat ’n totalitêre diktatuur soos die USSR konsekwent gesteun het.

Dit is natuurlik ’n goeie vraag of veral die ANC juis ’n ander keuse gehad het. Die grootste deel van die Weste wou hom nie met meer as simpatieke woorde help nie; die Sowjetunie, daarenteen, het – al was dit om sy eie, selfsugtige redes – wel praktiese hulp verleen, wat die ANC dankbaar aanvaar het. Die bestaan van die Koue Oorlog was, wat dit betref, ’n deurslaggewende faktor. Dit bly egter ’n onomstootlike feit dat die ANC in die proses ’n besonder groot prys betaal het, naamlik die aanvaarding van die kommunisme en dus die prysgawe van sy moraliteit in die stryd teen apartheid.

Maar daar is meer. Ellis en Sechaba wys daarop dat die ANC se “dogmatic pursuit of the Soviet line for so long” hom blind gemaak het vir sekere werklikhede, en dat hy daardeur van sekere voordele weerhou is.

A good example of this is the strong dislike of the USA engendered by the Soviet connection, which caused the ANC to miss many opportunities to promote its cause in the world’s most powerful country over three decades.134

En toe die kommunistiese blok in duie stort, was die beweging sleg geposisioneer om sy nuutgevonde vryheid in ’n ander wêreld vinnig en ten volle uit te buit. Soos die Marxistiese blad Work in Progress dit stel, was die prys wat die ANC/SAKP vir hulp uit die Sowjetunie moes betaal, “an uncritical stance towards Soviet policies, and an unwillingness to examine and debate alternative Marxist perspectives and alternative socialist visions”.135

Inderdaad het die Keniaans-gebore prof. James Karioki van die Afrika-Instituut in Pretoria daarop gewys dat die ANC se beskermende hand oor die Mugabe-regime in Zimbabwe in die 21ste eeu toegeskryf moet word aan die party se “anti-imperialistiese” houding. Volgens Karioki is dit nie dat die ANC menseregte irrelevant vind nie, maar bloot dat dit ondergeskik is aan sy strewe om die “hegemonie” van Amerika en dié se bondgenote in Europa hok te slaan.136 Dit klink na ’n eggo van die ANC/SAKP se slaafse navolging van die USSR. Dit is ewenwel ’n fassinerende veld vir verdere navorsing om vas te stel of die wortels van die ANC-in-regering se buitelandse beleid ná 1994 op dié van die ANC-in-ballingskap voor 1994 steun.

Ten slotte wys Dale McKinley daarop dat die ANC se onkritiese steun aan die USSR ’n bepaalde “bagasie” met hom meegebring het – “methods of organisation and control. In the case of the ANC and SACP the influence of Stalinist methods and theory was to prove increasingly debilitating ...”137

Maar dit is weer ’n ander verhaal.

 

Eindnotas

* Leopold Scholtz is Media24 se korrespondent in Brussel en buitengewone professor in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch. Ingrid Scholtz is vryskut-dosent aan die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch.

1 Kyk John Lewis Gaddis: The Cold War (Londen, Allen Lane, 2005), pp. 140-143; Philip Short: Mao. A Life (Londen, Houghton & Stodder, 1999), pp. 489-492.

2 Walter Sisulu: “I saw China” (Liberation, Feb. 1954, pp. 5-9). Vgl. ook Sisulu: “Taiwan” (Liberation, 33/1958, pp. 14-16).

3 Toussaint (pseud. Vir Rusty Bernstein): “How foreign is communism?” (The African Communist, 2/1960, p. 14).

4 Vladimir Shubin: ANC. A View from Moscow (Bellville, Mayibuye, 1998), pp. 37-38, 45-46 en 68-69. Vgl. ook Shubin: “People of a special mould – four SACP leaders in exile” (The African Communist, 3/4-2001, p. 49).

5 Stephen Ellis en Tsepo Sechaba (pseud. vir Oyama Mabandla): Comrades Against Apartheid. The ANC & the South African Communist Party in Exile (Londen, James Currey, 1992), p. 45.

6 South African Communist Party: South African Communists Speak. Documents from the History of the South African Communist Party 1915-1980 (Londen, Inkululeko Publications, 1981), verklaring van die Sentrale Komitee, pp. 335-341; ibid., pp. 341-343, brief Sentrale Komitee – Chinese Kommunistiese Party, 15.12.1964.

7 UK-biblioteek BC 1081, verklaring van die Sentrale Komitee van SAKP, s.d. Uit die dokument self blyk dat dit in 1967 uitgereik is.

8 Shubin: ANC. A View from Moscow, pp. 68-69 en 95-96. Vgl. ook “Events in China”, verklaring van SAKP Sentrale Komitee (The African Communist, 29/1967, pp. 15-16).

9 Ellis en Sechaba (pseud.): Comrades against Apartheid, p. 45.

10 Scott Thomas: The Diplomacy of Liberation. The Foreign relations of the ANC since 1960 (Londen, I.B. Tauris, 1995), pp. 164-166.

11 “Extracts from the Political Report of the National Executive Committee to the Consultative Conference of the African National Congress” (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or69-1.html).

12 Sentrale Komitee: “The way forward from Soweto!” (Inkululeko – Freedom, nr. 20, p. 6).

13 Essop Pahad: “A proud history of struggle” (The African Communist, 78/3, 1979, p. 13).

14 South African Communist Party: South African Communists Speak. Documents from the History of the South African Communist Party 1915-1980 (Londen, Inkululeko, 1981), p. 468 (verklaring van die Sentrale Komitee, Jan. 1980).

15 Steve Dliwayo: “Our commitment to peace” (Dawn, 11/1980, p. 9). Kyk ook ibid., p. 11.

16 Vgl. bv. Alfred Nzo: “ANC condemns Chinese invasion of Vietnam” (Mayibuye, April 1979, p. 3); “Honecker meets Tambo” (Sechaba, Mei 1979, pp. 12-13).

17 Alfred Nzo: “Address to members of Unkhonto we Sizwe” (Dawn, Sept. 1979, p. 6); “Notes from Vietnam” (Sechaba, Mei 1980, pp. 21-23).

18 Redaksionele aantekeninge: “Albania and the Stalin cult” (The African Communist, pp. 2-4).

19 “ANC on Vietnam” (Sechaba, Mei 1979, p. 13); Thomas: The Diplomacy of Liberation, pp. 167-168.

20 Eddy Maloka: The South African Communist Party in Exile, 1963-1990 (www.sahistory.org.za/pages/library-resources/
online books/sacp-eddy-maloka/chapter5.htm
); Thomas: The Diplomacy of Liberation, p. 169; Shubin: ANC. A View from Moscow, pp. 316-317.

21 “SACP delegation visits China” (Umsebenzi, Sept. 1991, p. 2).

22 Vgl. hieroor Jiri Valenta: Soviet Intervention in Czechoslovakia, 1968: Anatomy of a Decision (Washington, Johns Hopkins University Press, tweede uitgawe, 1991).

23 Volkogonov: The Rise and Fall of the Soviet Empire, p. 284.

24 Gaddis: The Cold War, p. 153.

25 Ibid., p. 292.

26 “Statement by the Central Committee of the South African Communist Party, 29.7.1968” (The African Communist, 35/1968, pp. 94-95).

27 Ibid., pp. 95-96).

28 Hoofartikel: “Czechoslovakia” (The African Communist, 35/1968, pp. 6 en 13).

29 Vgl. Pallo Jordan: “Ruth First Memorial Lecture, 2000” (www.marxists.org/history/international/
comintern/sections/sacp/2000/ruth-first.htm
); Glenn Frankel: Rivonia’s Children. Three Families and the Price of Freedom in South Africa (Londen, Weidenfeld & Nicolson, 1999), p. 281.

30 Hans-Georg Schleicher: Südafrikas neue Elite. Die Prägung der ANC-Führung durch das Exil (Hamburg, Institut für Afrika-Kunde, 2004), p. 269.

31 Onderhoud met Hilda Bernstein, 25.8.2004 (www.omalley.co.za).

32 Duma Nokwe: “Statement of the ANC (SA) on the situation in Czechoslovakia”, 19.9.1968 (Mayibuye, 27.9.1968, p. 13).

33 “ANC office in Berlin” (Sechaba, Jan. 1979, p. 24).

34 “Twenty years of Sechaba, journal of the ANC” (Sechaba, Mei 1987, pp. 27-28); Brian Bunting: “The African Communist” (disa.nu.ac.za/journals
/African Communist.htm
).

35 Onderhoud met Aboobaker Ismail, 11.12.2002 (www.omalley.co.za).

36 Padraig O’Malley: Shades of Difference. Mac Maharaj and the Struggle for South Africa (Londen, Viking, 2007), p. 92.

37 Y. Ngomezulu: “20 Years of the German Democratic Republic” (The African Communist, 39/1969, pp. 47-58). Vir ’n soortgelyke standpunt, vgl. B, Pela: “Two German states and the new Africa” (African Communist, 6/1961, pp. 19-32).

38 “German Democratic Republic promises greater solidarity with ANC” (Sechaba, Feb. 1973, pp. 13-14).

39 “30 Years GDR” (verklaring van die ANC-NUK in Sechaba, Des. 1979, pp. 22-23).

40 “GDR leader visits Southern Africa” (Mayibuye, April 1979, p. 3). Vgl. ook “Honecker meets Tambo” (Sechaba, Mei 1979, pp. 12-13), en “Two anti-imperialists honour Nelson Mandela” (Sechaba, Des, 1984, pp. 19-20).

41 “All roads led to Berlin” (Sechaba, Jan. 1981, p. 31).

42 “Nazis, apartheid and West Germany” (Sechaba, Sept. 1967, p. 16); Hoofartikel: “The fascist alliance” (Mayibuye, 15.7.1968, p. 1); “Against racism and neo-colonialism, for the liberation of South Africa” (Sechaba, Aug. 1968, pp. 12-13); Hoofartikel: “The fascist alliance” (Sechaba, Okt. 1968, p. 1); Mzwai Piliso: “Bonn-Pretoria axis” (Sechaba, Aug. 1974, pp. 14-15); “The nuclear conspiracy” (Sechaba, Nov, 1975, pp. 11-28); “Fight the nuclear conspiracy between West Germany and South Africa” (Sechaba, Nov, 1975, pp. 3-4); “FRG-SA close links” (Sechaba, Okt. 1975, p. 10); Jürgen Ostrowski: “Bonn-Pretoria alliance lives on” (Sechaba, Jan. 1977, pp. 47-53); “Book review: Bonn-Pretoria axis” (Sechaba, April 1979, pp. 29-32); “FRG collaboration in practice” (Sechaba, Julie 1981, pp. 31-32).

43 Christopher Andrew en Vasili Mitrokhin: The Mitrokhin Archive, II. The KGB and the World (Londen, Allen Lane, 2005), p. 465.

44 “Contradictions in Western diplomacy” (Mayibuye, 8.11.1968, p.5); “Correction” (Mayibuye, 22.11.1968, pp. 9-10).

45 “Reflections on German unity” (Mayibuye, 3/1990, p. 53).

46 Vgl. bv. “The final phase” (Sechaba, Okt. 1967, pp. 1-2); “ANC-ZAPU alliance” (Sechaba, Nov, 1967, p. 3); “We are at war!” (Sechaba, Feb. 1968, p. 1); Hoofartikel: “ZAPU-ANC guerrillas renew offensive!” (Mayibuye, 3.3.1968, pp. 1-2); “Zapu and ANC communique” (Mayibuye, 5.5.1968, p. 1); “Guerrillas Deep inside Zimbabwe” (Sechaba, Jan. 1969, pp. 3-4); “ Zimbabwe – the vortex” (Sechaba, Feb. 1970, p. 1); “Rhodesia: The corridor of power” (Sechaba, Maart 1972, pp. 1-3); “Zimbabwe shall be free!” (Sechaba, April 1972, pp. 1-3); “ANC visit to Zimbabwe”, Julie 1980, pp. 2-3);

47 UK-Biblioteek BC 1081 (P15.1), “Confidential briefing for the information and publicity sections of the ZANU-ANC alliance”, 1967.

48 “ANC visit to Zimbabwe” (Mayibuye, Julie 1980, pp. 2-3).

49 Schleicher: Südafrikas neue Elite, p. 227.

50 Sjoebin: ANC: The View from Moscow, p. 316.

51 Yves Santamaria: “Afrocommunisme: Ethiopië, Angola, Mozambique” in Stéphane Courtois (red.): Zwartboek van het Communisme. Misdaden, terreur, Onderdrukking (Nederlandse vertaling uit die Frans, Amsterdam, Arbeiderspers, 1997), pp. 908-917.

52 “The Ethiopian revolution” (Umsebenzi, 3/1988, p. 20).

53 Yusuf Dadoo: “South Africa: Revolution on an upgrade” (World Marxist Review, Praag, Julie 1978, www.sacp.org.za/docs/history/dadoo-24.html).

54 “Socialist Ethiopia” (Sechaba, Des. 1979, pp. 20-21). Vgl. ook Alfred Nzo: “African/Arab Unity” (Sechaba, Jan. 1979, pp. 2-6).

55 Oliver Tambo: “Statement to the 20th session of the assembly of heads of state and government of the Organisation of African Unity”, 14.11.1984 (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or84-11.html). 

56 Oliver Tambo: “Address to the 21st session of the assembly of heads of state and government of the Organisation of African Unity”, 19.7.1985 (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or85-9.html). Iets later sou Mengistu volgens die konserwatiewe Amerikaanse dinkskrum The Heritage Foundation aanbied om 10 000 guerrillas van Umkhonto we Sizwe op te lei. Vgl. William Pascoe: “Time for action against Mengistu’s Ethiopia”, 11.3.1987 (www.heritage.org/Research/MiddleEast/bg568.cfm).

57 Vgl. Piero Gleijeses: Conflicting Missions. Havana, Washington, Pretoria (Alberton, Galago, 2003), p. 236.

58 “Message delivered by a member of the Central Committee of the South African Communist Party to the First Congress of the MPLA in Luanda in December 1977”, in South African Communist Party: South African Communists Speak, pp. 435-436.

59 Hoofartikel: “President Agostinho Neto” (Dawn, Aug. 1979, p. 2).

60 Vgl. Volkogonov: The Rise and Fall of the Soviet Empire, pp. 293-300.

61 Vasilyi Mitrokhin: “KGB active measures in Southwest Asia in 1980-82” (Cold War International History Project Bulletin 14/15, pp. 193-203).

62 SACP: South African Communists Speak, pp. 467-469 (verklaring van Sentrale Komitee, Jan. 1980).

63 Hoofartikel: “The hot Cold War” (Dawn, 2/1980, pp. 1-2).

64 Steve Dliwayo: “Our commitment to peace” (Dawn, 11/1980, p. 10).

65 Oliver Tambo: “Let us rise to the occasion” (Sechaba, Maart 1980, pp. 2-7).

66 Oliver Tambo: “Render South Africa ungovernable!” (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or85-1.html).

67 “Political report of the NEC, III” (Sechaba, Des. 1985, p. 6).

68 Vgl. hieroor Timothy Garton Ash: The Polish Revolution. Solidarity 1980-1982 (tweede, bygewerkte uitgawe, Londen, Penguin, 1999).

69 Mark Kramer: “Jaruzelski, the Soviet Union, and the imposition of martial law in Poland: New light on the mystery of December 1981” (Cold War International History Project Bulletin 11, pp. 5-14).

70 “Central committee statement on Poland” (The African Communist, 89/1982, pp. 96-97).

71 “The fight for Poland is a fight for peace” (The African Communist, 89/1982, pp. 13.)

72 Alfred Nzo: “Let us strengthen each detachment of our movement (Sechaba, Okt. 1982, pp. 2-10).

73 “Political report of the National Executive Committee to the National Consultative Conference of the African National Congress”, Junie 1985 (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or85-5.html).

74 Duma Nokwe: “The national liberation movement of South Africa” (The African Communist, 35/1968, pp. 44-45.

75 Redaksionele aantekeninge: “Home’s second Munich” (The African Communist, 48/1972, p. 9).

76 “A.N.C. declaration” (Mayibuye, 30.4.1975, pp. 3-4).

77 Hoofartikel: “Lest we forget” (Sechaba, Okt. 1986, p. 1).

78 A. Lerumo (pseud. vir Michael Harmel): “The maturing of the revolutionary process, 1971-1977” (www.sacp.org.za/docs/history/dadoo-28.html).

79 “United action is the key” (Dawn, 2/1983, p. 3).

80 “A united people will defeat the enemy” (verklaring van die Sentrale Komitee van die SAKP, Sept, 1983, in The African Communist, 96/1984, p. 42).

81 “The spectre of large-scale conventional attacks against independent Africa is a grave concern” (Sechaba, Julie 1982, p. 29).

82 Shubin: “Unsung heroes” (www.sas.ac.uk/commonwealthstudies
/resource/shubin.pdf
, p. 1); Shubin: ANC. A View from Moscow, pp. 41-42; Luli Callinocos: Oliver Tambo. Beyond the Engeli Mountains (Kaapstad, David Philip, 2004), p. 296.

83 Tom Lodge: Black Politics in South Africa since 1945 (Johannesburg, Ravan, 1983), p. 298.

84 Callinicos: Oliver Tambo, p. 297; Ibid., pp. 47-48; Shubin: “Unsung heroes” (www.sas.ac.uk/commonwealthstudies/resource/shubin.pdf, pp. 41-42.

85 Shubin: ANC. A View from Moscow, pp. 62, 68, 109 en 123.

86 Thomas: Diplomacy of Liberation, p. 157.

87 Shubin: ANC. A View from Moscow, p. 99.

88 Ronnie Kasrils: Armed and Dangerous. From undercover struggle to freedom (Johannesburg, Jonathan Ball, 1998), pp.81-92.

89 Shubin: ANC. A View from Moscow, p. 400. Vgl. ook pp. 62-65, 81-83 en 311-312. In ’n vroeëre artikel het hy die getal op meer as 2 000 gestel (Shubin: “Unsung heroes” (www.sas.ac.uk/commonwealthstudies/
resource/shubin.pdf
, p. 10).

90 Shubin: ANC. A View from Moscow, pp. 185-187.

91 Ibid., p. 401.

92 Apollon Davidson en Irina Filatova: “A reunion of old friends” (Sunday Times, 27.8.2006).

93 Kasrils: Armed and Dangerous, p. 273.

94 Shubin: ANC. A View from Moscow, p. 223.

95 Odd Arne Westad: The Global Cold War (Cambridge, Cambridge University Press, 2007), pp. 215-217; Westad: “Moscow and the Angolan crisis, 1974-1976” (Cold War International History Project Bulletin 8/9, Winter 1996, p. 22)

96 Philip Nel: A Soviet Embassy in Pretoria? (Kaapstad, Tafelberg, 1990), p. 15.

97 Ibid., p. 11.

98 Andrew en Mitrokhin: The Mitrokhin Archive, II, p. 465.

99 Nel: A Soviet Embassy in Pretoria? p. 27.

100 Ibid., p. 21; Shubin: ANC. A View from Moscow, p. 307. Vgl. ook pp. 324-325.

101 Philip Nel: A Soviet Embassy in Pretoria? pp. 23-24.

102 Helena Sheehan: “Interview with Jeremy Cronin, II” (www.comms.dcu.ie/sheehanh/za/cronin02.htm).

103 Shubin: ANC. A View from Moscow, pp. 340-341.

104 “Statement by the Soviet Afro-Asian Solidarity Committee” (Sechaba, Mei 1989, p. 5).

105 Alfred Nzo: “The Soviet Union supports our struggle” (Sechaba, Mei 1989, pp. 2-5).

106 Shubin: ANC. A View from Moscow, p. 350.

107 Oliver Tambo: “Speech at the meeting of representatives of the parties and movements participating in the celebration of the 70th anniversary of the “Great October Socialist Revolution”, Moscow, 4-5.11.1987 (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or87-20.html).

108 Redaksionele aantekeninge: “New programme of the CPSU” (The African Communist, 104/1986, pp. 11-14).

109 Vigilator (pseud.): “What really happened to KAL 007? (The African Communist, 100/1985, pp. 31-37); Redaksionele aantekeninge: “How safe is socialism?” (The African Communist, 106/1986, pp. 9-15).

110 Redaksionele aantekeninge: “Capitalism vs. socialism” (The African Communist, 119/1989, pp. 13-20).

111 “We are an extended family”. Gesprek tussen Joe Slovo en Ken Gill (The African Communist, 119/1989, pp. 85-96).

112 Kasrils: Armed and Dangerous, pp. 176-178.

113 Aangehaal in Farid Esack: “Glasnost and the Mass democratic Movement” (referaat, Universiteit van Natal, 4.3.1990 uk.geocities.com/faridesack/feglasnost.html).

114 Joe Slovo: “Has socialism failed?” (www.sacp.org.za/main.php?
include=docs/history/1990/failed.html
).

115 Pallo Jordan: “The Southern African policy of the Soviet Union – with specific reference to South Africa: Some notes” (www.marxists.org/history/international/comintern/
sections/sacp/1990/soviet-union.htm
).

116 Heribert Adam en Kogila Moodley: Negotiated Revolution. Society and Politics in Post-Apartheid South Africa (Johannesburg: Jonathan Ball, 1993), p. 87.

117 “What the SACP said about the coup” (Umsebenzi, 7/4 1991, p. 6). Volgens die blad het Slovo hom al op die 19de in ’n onderhoud met Voice of America teen die staatsgreep uitgespreek, maar dit kon nie onafhanklik bevestig word nie.

118 “Events in the Soviet Union”, 22.8.1991 (www.anc.org.za/ancdocs/pr/1991/pro82.html).

119 Stephen Ellis: “The South African Communist Party and the collapse of the Soviet Union” (The Journal of Communist Studies, 8/2, Junie 1992, p. 155).

120 “The socialist ideal remains intact, says Turok” (Work in Progress, 78/Okt.-Nov. 1991, p. 31).

121 Mathatha Tsedu: “Failure of Soviet Union leads to breakdown in emotional engineering” (Sunday Independent, 14.2.1999).

122 Onderhoud met Hilda Bernstein, 25.8.2004 (www.omalley.co.za).

123 Vgl. bv. Ellis en Sechaba: Comrades against Apartheid, pp. 146-148; Shubin: The ANC. A View from Moscow, p. 280.

124 Paul Trewhela: “Unreliable friend” (www.lrb.co.uk/v21/n22/letters.html). 

125 Onderhoud met Paul Tewhela, 13.6.2004 (www.omalley.co.za).

126 Getuienis van Aboobaker Ismail, 27.9.1999 (http://www.doj.gov.za/trc/
amntrans/1999/9909271013_dbn_990928db.htm
).

127 Oliver Tambo: “Our alliance is a living organism”. Toespraak voor SAKP-konferensie, 30.7.1981 (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or81-10.html).

128 Ellis en Sechaba: Comrades against Apartheid, pp. 46, 57 en 62; Dale McKinley: The ANC and the Liberation Struggle. A Critical Political Biography (Londen, Pluto, 1997), p. 37; C.J.B. le Roux: “Umkhonto we Sizwe and the ANC-SACP Alliance: A Critical Assessment of the Dominant Role that the South African Communist Party played in the Development of the ‘Armed Struggle’ in South Africa since 1961”  (Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 18/1, Junie 1993, p. 72).

129 Ellis en Sechaba: Comrades against Apartheid, pp. 150-151.

130 Vgl. “Strategy and tactics of the African National Congress” (www.anc.org.za/ancdocs/history/stratact.html); “The nature of the South African ruling class” (www.anc.org.za/ancdocs/history/conf/ruling.html).

131 Schleicher: Südafrikas neue Elite, p. 274.

132 Ibid., p. 275.

133 ANC: “Statement to the Truth and Reconciliation Commission”, para. 3.3 (www.anc.org.za/ancdocs/misc/trc03.html).

134 Ellis en Sechaba (pseud.): Comrades against Apartheid, p. 198.

135 Special comment: “The downfall of ‘communism’ – is it a tragedy for socialism?” (Work in Progress, Sept. 1991, p. 8).

136 James Karioki: “In the ANC anti-imperial” (City Press, 29 Junie 2008).

137 Dale McKinley: The ANC and the Liberation Struggle. A Critical Political Biography (Londen, Pluto Press, 1997), p. 48.

 



 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top