Die (Afrikaanse) Taaldebat. Heunis en Barnard-Naudé en J Comestor

  • 1

Op 22 September reageer prof Jaco Barnard-Naudé hier op adv Jan Heunis se onlangse betoë ten gunste van Afrikaans-moedertaalonderrig aan die US. (Afrikaners kan net hulself blameer vir die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite)

Heunis, sowel as Barnard-Naudé, is elkeen geregtig op hul mening en beide voer die debat op ’n baie hoë standaard van beredenering, soos wat ’n mens van hulle sou verwag.

Ek is 'n alumnus van die US en beide my seuns het onlangs aan die US afstudeer. Ek het dus belang by die “taaldebat” en volg die argumente aan beide kante dus nougeset. Wat my verbaas gelaat het in hierdie geval is die snedige kommentaar onderaan Barnard-Naudé se skrywe van veral sommige van Heunis se ondersteuners.

Johannes Comestor trek in sy heel eerste sin los met die volgende snedigheid: “ Jaco het 'n dubbelvan soos wat sommige getroude vroue deesdae verkies. Daarmee is hy in die mode.”  

Wat is die subteks hier? Maak Prof Barnard-Naudé se dubbelvan van hom ’n minderwaardige manspersoon in Comestor se oë? Of maak dit van hom ’n getroude vrou? Is getroude vroue of sommer vroue in die algemeen nie volgens Comestor in staat om ’n bydrae tot die taaldebat te lewer nie? Mag slegs mans deelneem aan hierdie gesprek? Is alle mans sonder dubbelvanne uit die mode? Mag iemand wat “in die mode is” nie aan intellektuele of aktuele gesprekke deelneem nie?

En dan volg Comestor die bg op met die nou al ou bekende smeerkwas aan almal wat nie meer die Apartheidsdogma wil vergoeilik nie: “…Verloopte Afrikaners…” Miskien moet Comestor maar sy laaste sin wat aan Barnard-Naudé gerig is, self ter harte neem: Ter wille van Afrikaans behoort hy (Comestor) … “met 'n heelwat beter teks en argumente vorendag te kan kom…”

Afrikaans hét ideologiese bagasie. Punt. Ons as Afrikaanssprekendes het dus ’n steil bult voor om die taal se akademiese en ander hoër funksies te beskerm binne ’n omgewing waar bronne skaars is en die druk op tersiêre instellings geweldig is om studente uit ander taalgemeenskappe in te neem. Los dus die moddergooiery. En veral die sarkasme. Só wen jy niks vir jou saak nie.

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Dirk, my beswaar is teen die slaafse navolging van wat in die mode is. Van my argumente is by talle geleenthede op LitNet gepubliseer en kan maklik nageslaan word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top