Die 157ste L’Ormarins Queen’s Plate- (LQP-) resiesfees

  • 0

Die 157ste L’Ormarins Queen’s Plate- (LQP-) resiesfees, 6 Januarie 2018, Kenilworth, Kaapstad

Hulle noem die LQP ’n viering van kuns, passie en ruiteruitnemendheid. Ons kan “swier, mode en ’n tikkie ekshibisionisme” byvoeg.

Mooi getooi in wit en blou

Die LQP is een van die somer se swierigste glansgeleenthede op die Kaapse sosiale kalender. Dit word geborg deur oa Anthonij Rupert-wyne en bly een van die plekke waar mode-ontwerpers en modelle hul nuutste skeppings tentoonstel. Die woord “gewoon” bestaan nie in die woordeskat van die deelnemers en toeskouers nie. Alles is prag en praal, van die donkerblou Bentleys by die ingang tot die gegeurde pienk jenewers by die SKYY-kroeg.

Klassiek in wit!

Die hoogtepunt hierdie jaar is Legal Eagle se oorwinning van die L’Ormarins Queen’s Plate Graad 1. Hy is slegs die tweede perd in die geskiedenis van die LQP wat die titel drie keer na mekaar verower het. Sy naam sal verewig word teen die binnemure van die Kenilworth-renbaan tussen grotes soos Sea Cottage, Politician en Pocket Power.

Anton Marcus en Legal Eagle vier hul oorwinning.

Byna net so belangrik is die aankondiging van die besgeklede dame by die LQP 2018. Selfs die musiek verdoof toe die finaliste die podium bestyg en elegant oor die verhoog sweef. Die eerste prys sluit in ’n reis vir twee na Londen om in Augustus die gesogte Qatar Glorious Goodwood-resiesfees by te woon.

Hierdie jaar se wenner is die internasionale model Mala Bryan, geklee in ’n ligblou helternekrok met bypassende wit sandale en blou hooftooisel.

Mala Bryan (middel) wen die LGP 2018 se prys vir die besgeklede dame.

Teen sesuur sak die warm Kaapse son effens en die perderesies is verby. In die Style Lounge area pop die sjampanjeproppe soos die ondersteuners hul oorwinnings van die dag vier. Die musiek pomp en ek voel ’n hand op my skouer. ’n Dame geklee in ’n wit rok, blou sandale en wit vere in die hare, vra my om ’n foto van haar te neem. Ek stop my besigheidskaartjie in haar hand en sien uit na my braaivleisvuur, kortbroek, plakkies en ’n yskoue glas sauvignon blanc!

“Q” staan vir “Queen”

Teks en foto’s: Stephen Fourie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top