Die 100ste geboorteherdenking van Elisabeth Eybers

  • 0

Hierdie foto is geneem deur Ena Jansen en geplaas by haar heel eerste artikel oor Eybers in die destydse Sarie Marais.

 

Ena Jansen se eerste artikel oor Elisabeth Eybers het in Februarie 1975 in Sarie Marais verskyn – dit was 'n onderhoud wat sy ter geleentheid van Eybers se 60ste verjaardag met haar op versoek van die redaksie gevoer het. Dit was die begin van 'n jarelange vriendskap tussen Eybers en die destydse 23-jarige Ena wat toe sopas in Nederland begin studeer het. Jansen het in 1992 aan Wits gepromoveer met 'n proefskrif oor Eybers se Amsterdamse bundels. Dit het in aangepaste vorm as 'n boek met baie foto's by JL van Schaik verskyn: Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam. Dit was die eerste boek wat LitNet Akademies-redakteur Francis Galloway as uitgewer gewerf het. Die boek het later in 'n Nederlandse vertaling by Amsterdam University Press verskyn en is volledig aanlyn raadpleegbaar.

Besoek hierdie skakel vir Jansen se volledige navorsingswerk.

 


 

Hieronder deel Ena Jansen haar gedagtes by die 100ste geboorteherdenking van Elisabeth Eybers.

Hierdie foto het ek op Sondagoggend 22 Februarie geneem, enkele dae voor Elisabeth Eybers se 100ste geboortedagherdenking op 26 Februarie 2015. Elke jaar sedert sy op 1 Desember 2007 op 92-jarige leeftyd in Amsterdam oorlede is, fiets ek en Annemarie Balkema saam na die begraafplaas Zorgvlied ten suide van Amsterdam en laat ’n bos tulpe op haar graf agter. Party jare is dit guur en reën dit, soos die dag waarop sy begrawe is, maar soms is die lente in die lug, soos die afgelope Sondag, toe dit pragtige weer was. Elke jaar weer moet ek dink aan die nugter en ironiese manier waarop Elisabeth self oor begrafnisse en begraafplase geskryf het. Toe ek op haar begrafnis op 6 Desember 2007 moes praat, was haar eie woorde hieroor ’n groot troos. En steeds weer. Hierby ’n paar stukkies uit my huldeblyk van agt jaar gelede.

Een van Eybers se beroemdste Suid-Afrikaanse gedigte heet “Wespark”. Die gedig begin só:

Geagte leser, dié geleentheid
bied hom slegs een keer in ’n leeftyd:
geen waglys en geen woningnood
al is die aanvraag nog so groot.

Vir Eybers het die “geleentheid van ’n leeftyd” op 6 Desember 2007 in Amsterdam aangebreek. Hoe skerp en ironies het sy nie al 50 jaar gelede in Johannesburg besef hoe onafwendbaar die dood is nie:

Hier voel die eensames nooit alleen
in die wit broederskap van been,
hier kan die digter sonder skroom
hom blywend toespin in sy droom.

In 1994 het sy, nadat sy toe al meer as 30 jaar lank in Amsterdam gewoon het en self byna 80 jaar oud was, wéér ’n begrafnisgedig geskryf.

Vreemd

Hoeveel kere het ek nie met jou,
mede-toeskouer, dit bygewoon:
die stoïsynse vertoon
van georganiseerde rou.

En telkens het ek dan daarná
chauvinisties en plegtig verklaar:
wel, in my geboorteland doen
ons dit beter en onverbloem
dis daar nooit so ’n stywe gedoe
en teen trane bestaan geen taboe.

Vandag is dit sover. Elisabeth Eybers is nou nie meer ’n medetoeskouer van ’n vertoon van rou nie, maar die sentrale figuur, dié een gedagvaar om te verdwyn, terwyl ons ander voorlopig nog hier is. Troos bied was nooit een van haar sterk eienskappe nie, daarvoor soek sy te meedoënloos na die kern, hou sy geen illusie in stand nie en sien sy elke stekelrigheid en mankement skerp onder oë. Van die mees troostende reëls in haar oeuvre is tog in die slot van hierdie gedig te vind:

op een of ander manier [sal]
wat ooit heel was nooit […] vergaan …

Laat ons loof wat ons nie kan verstaan.

Hoe ouer Elisabeth Eybers geword het en hoe moeiliker sy die “porseleindun bord” van die lewe vasgehou het, hoe onvermydeliker het hierdie dag geword: die dag van haar eie onherroeplike rus, waarop sy van verdere inspanning af mag sien, van houvas ontdaan is, tot ’n akkoord met tekortkoming geraak.

[…]

Zorgvlied is duisende kilometers noord van die hoëveld en van die begraafplaas Wespark in Johannesburg. Dit is aan die einde van die ekspansiewe 19de eeu aangelê deur die firma Zocher wat ook verantwoordelik was vir die aanleg van die Vondelpark. Oor dié park het Eybers waarskynlik haar beroemdste Amsterdamse gedig geskryf: “Twee kleuters in die Vondelpark”. Nes die Vondelpark is Zorgvlied ontwerp sonder alte veel strak geometriese vorme en alte veel kortgesnoeide heininkies. Die minilineale land waarteen Eybers haar dikwels verset het, voel hier ’n bietjie ruimer. Hier is verspreide boomgroepe; hier sal in die voorjaar baie krokusse bloei; en voëls sal kom nes maak, hopelik ook ’n merel of twee sal te hoor wees. Alles dinge wat sy so dikwels waargeneem het van agter haar raam, voor die venster met sy uitsig op die kade. Die ontwerpers van Zorgvlied wou juis hê dat hier “eene smaakvolle beplanting” sou wees, “om daarmede het schrikbeeld weg te nemen, hetwelk veler vooroordeel nog aan een stille verblijfplaats der doden hechtte”.

Elisabeth Eybers was nie bang vir die dood nie; dit het vir haar geen skrikbeeld ingehou nie. Voortdurend het sy – byvoorbeeld in “Swymelrym” – gewonder “hoe sal ons eendag doodgaan/ hoe haal ons daardie paal?” Haar begeerte was al lank “om leeg genoeg te loop om vol te loop met wat vanuit hierbuite binnevloei.” Sy wou “grondig vergaan”, “die stilte betrek”, haar blywend toespin in ’n droom.

Jaar ná jaar, terwyl ons by Elisabeth Eybers se sober grafsteen staan, ervaar ons hierdie stilte. “Laat ons loof wat ons nie kan verstaan.”

Die eerste twee foto's hier is geneem op 11 November 1998 tydens die presentasie van Ena Jansen se boek Afstand en verbintenis in die boekwinkel Van Rossum in die Beethovenstraat in Amsterdam (foto: Pamela Pattynama).

 

Op hierdie foto is Elisabeth Eybers en Ena Jansen in gesprek met Marlene Dumas (foto: Pamela Pattynama).

 

Elisabeth Eybers se jongste dogter, Jeanne Wessels, en Ena Jansen saam met Eybers op haar 89ste verjaardag in 2004 by die Hilton Hotel in Amsterdam (foto: Pamela Pattynama).

 

Ena Jansen saam met Elisabeth Eybers in haar woonstel aan die Stadionkade in Amsterdam, 2 Oktober 1998 (foto: Otto Terblanche)

ATKV-Skrywersalbum: Elisabeth Eybers (1915–2007)

En lees ook: Spiegelschrift en Sneeuwwitje in anti-apartheid Nederland.

 

http://www.dbnl.org/tekst/jans100afst01_01/

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top