Denzel Washington dra Flight

  • 1

Flight

Regisseur: Robert Zemeckis

Rolverdeling: Denzel Washington, Kelly Reilly, Don Cheadle, John Goodman, Nadine Velazquez

Op die oog af lyk Flight na ’n aksiefliek, maar die kyker kry baie meer as wat hy verwag het – of op voorbereid was. Dis ’n uitstekende, komplekse menslike drama.

Whip Whitaker (Denzel Washington) is ’n puik vlieënier; hy had sy eerste lesse in die lug met gewasbespuiting onder sy pa se hand, in ’n klein Cessna. Maar hy is ook ’n man met ’n gevaarlike geheim: hy is ’n alkoholis, en dwelms bly ook nie agter nie.

Die fliek begin op ’n doodgewone reëndag in Alabama, en Whip se vlug vir die dag is blote roetine. Wanneer hy tot die skok van sy hulpvlieënier, ’n nuweling, die vliegtuig se toere tot in die rooi jaag om deur ’n digte wolkbank te kom, begin die kyker al vermoed hier kom moeilikheid. Terwyl die hulpvlieënier oorneem, slaan Whip drie stewige vodkas weg en gaan slaap in sy stoel agter sy sonbril.

Dan kom die werklike drama: weens ’n opening wat nie behoorlik gesluit het nie, begin die vliegtuig by een vlerk opbreek. In ’n uiters spanningsvolle toneel kry Whip dit wonderbaarlik reg om ’n noodlanding te doen, en van die meer as honderd mense aan boord sterf net ses. Whip word met beserings in die hospitaal opgeneem; sy bloedmonster wys dat hy alkohol ingehad het, en dan begin die mense van die geregtelike ondersoek krap ...

Denzel Washington dra eenvoudig hierdie film. Kombineer sulke speeltalent met snaarstywe regie en rou, grinterige tonele en jy het so ’n goeie fliek soos wat lanklaas op ons kringloop te sien was.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Karin Behrens

    Hy is net so 'n geweldige goeie en veelsydige akteur. Sal die naweek 'n plan maak om dit te gaan kyk!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top