Denise Ackermann en die Man op die geleende donkie

  • 1

6.-Boeke

Surprised by the man on the borrowed donkey

Denise M Ackermann

Lux Verbi

ISSN: 9780796317995

Ondankbaarheid is een van die onaantreklikste karaktertrekke van die mensdom.

Só het die bekende teoloog, feminis en aktivis Denise Ackermann verlede Saterdag in Stellenbosch gesê tydens ’n gesprek oor haar jongste boek by Protea Boekwinkel.

Elna Mouton, voormalige dekaan van die departement Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, het Ackerman uitgevra oor haar boek Surprised by the man on the borrowed donkey.

Die boek is aanvanklik deur ’n uitgewer afgekeur omdat dit volgens hulle nie akademies genoeg was nie, en later deur Lux Verbi uitgegee. Vroeër vanjaar is dit met die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys bekroon.

Ackermann het Saterdag vertel waarom sy juis nié die boek vir akademici wou skryf nie. Die eerste uitgewer wat haar manuskrip afgekeur het, wou gehad het sy moet ’n klomp voetnotas onderaan byna elke bladsy plaas. Dit sou die boek meer akademies maak. Daarvoor was sy nie te vinde nie. Haar boek is bedoel vir die gewone leser. Spesifiek vir daardie mense wat nog hulle geloof behou het, maar nie meer lidmate van ’n kerk is nie.

Die boek se subtitel is ordinary blessings. Vir Ackermann, wat haar lewe gewy het aan onder meer die stryd teen apartheid en vroueregte, is spiritualiteit onlosmaaklik deel van haar lewe. “My spiritualiteit is nie die soort wat antwoorde gee nie. Dit is eerder ’n spiritualiteit wat vrae vra,” het sy Saterdag in gesprek met Mouton gesê.

11.-Denise-Ackerman

Denise Ackermann

Nadat die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vroeër vanjaar aan haar toegeken is, is sy onder meer genooi om in die Groote Kerk te preek. “Nooit in my wildste drome het ek gedink ek sou ooit eendag op daardie preekstoel staan nie.” Selfs aartsbiskop emeritus Desmond Tutu het die diens bygewoon.

Sy haar doktorsgraad aan Unisa behaal en spog voorts met eredoktorsgrade wat deur die Universiteit Stellenbosch en die Episcopal Divinity School in die VSA aan haar toegeken is.

Studente aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite asook van universiteite in die buiteland het by haar teologie studeer en praat met groot lof van haar.

Behalwe haar stryd teen apartheid is sy ook ’n bekende feminis en trots daarop. Een van haar studente, ds Trevor Links van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), vertel dat hy haar eendag tydens 'n retrait gevra het of sy 'n geordende predikant van die Anglikaanse Kerk is. Toe antwoord sy vlymskerp en eie aan haarself: "I would never stand under a man's authority".

Sy is die skrywer van vele artikels en samesteller van verskeie werke. Haar vorige boek is After the locusts – letters from a landscape of faith.

1.-In-geprek

Denise Ackermann en Elna Mouton in gesprek by Protea Boekhuis.

Sy is getroud met oudregter Laurie Ackermann. In haar jongste boek skryf sy hoe ouer sy word, hoe groter raak haar ongemak met etikette. Maar sy weet sy kan hulle nie vermy nie. Sy beskryf haarself as: “ ’n vrou, ’n Christen, ’n eggenoot, ’n ma en ouma, ’n vriend, ’n feminis, ’n teoloog, ’n nuus-junkie, ’n liefhebber van ikone en soesji, en veel, veel meer . . .”

Haar jongste boek, wat ook haar laaste boek sal wees, handel oor die talle verrassings en lesse wat sy beleef het. Dit is ’n terugskouende boek aan die einde van ’n lewe en ’n soort spirituele outobiografie. Ackermann, wie oë agteruitgaan, sê sy is nie van plan om nog ’n boek skryf nie. “Trouens, ek wil van nou af so ver as moontlik van ’n rekenaar af wees en so min as moontlik met ’n rekenaar te doen hê,” het sy Saterdag gesê.

Sy leef haar geloof uit in die paradoks en teenstrydighede daarvan en glo as dit nie daarvoor was nie sou ’n mens baie maklik die gevaar loop om in fundamentalisme te verval.

Vir haar is die mens Jesus sentraal in die Christelike geloof. “Jesus se bergpreek is vir my die etiese kode wat as riglyn van ons lewe behoort te dien.” Hy is haar Man op die geleende donkie, want hy moes ’n donkie leen waarop hy sy dood in Jerusalem tegemoet gegaan het.

Die prag en praal waarmee kerke en gelowe dikwels te koop loop, beïndruk haar min.

Soos in ’n onlangse onderhoud met Murray La Vita in Die Burger het sy Saterdag weer vertel van die geleentheid wat gelei het tot die titel van haar boek.

“In 1998 het ek die Lambeth-kongres van die Anglikaanse Kerk in Kantelberg bygewoon. Dit is die tienjaarlikse kongres waar al die Anglikaanse biskoppe byeenkom. Die openingsgeleentheid was in die manjifieke Kantelberg-katedraal. Ek het daar gesit en die biskoppe sien in paradeer in hul regalia . . . die myters [biskophoede], kleurvolle gewade, selfs goue lamé. Dit was alles baie interessant. Die prins van Wallis het ingekom en vele ander hoogwaardigheidsbekleërs. Die heel laaste mens wat ingekom het, was die aartsbiskop van Kantelberg. Nadat hy die kerk betree het, het hierdie reuse-houtdeure agter hom toegegaan.

“Dit is toe dat ek vorentoe geleun en na hom gekyk het en ook na agter hom. Ek vra myself toe af: Wat op aarde is dit waarna jy soek?

“Toe besef ek ek soek mý Man op die geleende donkie.  Ek het gewonder: Waar is Jesus, mý Jesus, tussen al hierdie prag en praal? Want mý Jesus het waarskynlik net een tuniek en ’n paar sandale gehad. Die Bybel sê vir ons Hy het nêrens gehad waar hy sy hoof kon neerlê nie. Hy was die vriend van sondaars en verworpelinge; Hy het allerhande grense afgebreek. Hy het nie oor geloofstradisies gepreek nie, Hy het ópgetree op die mees deernisvolle en sorgsame wyse teenoor sy medemense.”

20150822_123921

Jean Oosthuizen en Denise Ackermann

12.Teken-boeke

Denise Ackermann teken boeke.

9.Teken-Johan-Odendaal-se-boek

Denise Ackermann teken Johan Odendaal se boek

8.gaste

Gaste tydens die boekgesprek

7.Jaap-du-Rand

Prof Jaap du Rand

4.-Jacqueline-en-Minette

Joernalis en skrywer Jacqueline Leuvennink en Minette van Veuren van Lux Verbi

3.Denise-tussen-boeke

Denise Ackermann

2.-Elna-en-Denise

Denise Ackermann en Elna Mouton

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top