Dawid vs Goliat – die Grondwetlike hof beslis oor Nkandla

  • 11

“The President failed to uphold, protect and defend the Constitution.”

Die konstitusionele hof se beslissings is soms liries, soms saaklik, sommige kere makliker leesbaar as ander, maar altyd broodnodig om ons grondwetlike demokrasie te beskerm – en nooit meer so as met die beslissing wat vandag in die Nkandla-sage gelewer is nie.

Dis ’n kort beslissing, 53 bladsye lank, wat net ietwat langer as ’n uur geneem het om gelewer te word, maar met verreikende gevolge vir ons grondwetlike demokrasie, vir die rol van die openbare beskermer (OB), en die belangrikste, vir die grondwetlike verpligtinge van die president en die parlement.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het die hof se eenparige beslissing uitgelees, en miskien moet ek hier reeds stilstaan. Die hof se beslissing is nie altyd eenparig nie. Dis te verstane. Regters, soos enige ander mense, verskil soms van mekaar oor kwessies en selfs oor hoe wette interpreteer moet word. Dat die regters egter in hierdie geval ’n eenparige beslissing gelewer het, veral oor ’n kwessie wat sulke verreikende gevolge inhou, is natuurlik op sigself alreeds beduidend.

Die EFF en DA het die hof genader met ’n aantal bedes wat verband hou met die OB se Nkandla-verslag “Secure in Comfort”, wat soveel omstredenheid veroorsaak het. Op die oog af is dit die logiese uiteinde van die volgehoue #PayBackTheMoney-veldtog wat deur die EFF begin is, en terwyl die hof wel ’n beslissing lewer oor die terugbetaling van die gelde, is dit die bepalings rondom die rol van die OB, en die grondwetlike pligte van die president en die parlement wat die grootste skuddings veroorsaak.

Die hof lewer uitspraak oor ’n aantal kwessies, soos direkte toegang tot die hof deur die EFF en DA, maar die dele wat vir hierdie artikel van belang is, is as volg:

1. Die tesourie moet binne 60 dae ’n verslag saamstel waarin aanduiding gegee word van die kostes van die besoekersentrum, die amfiteater, die hoenderhok, die beeskraal en die swembad.

2. Die tesourie moet ook aandui watter persentasie die President moet betaal.

3. Die President moet persoonlik binne 45 dae nadat die hof aanduiding gegee het dat hulle tevrede is met die verslag, die bedrag terugbetaal.

Die twee dele van die verslag wat egter vir heelwat opskudding in die volgende parlementêre sessies gaan sorg, is die volgende:

1. Die versuim van die President om die OB se verslag te respekteer en die remediërende aksies daarin te eerbiedig, is teenstrydig met sy grondwetlike verpligtinge.

2. Die resolusie wat deur die parlement geneem is om die President te verontskuldig, is teenstrydig met die parlement se grondwetlike verpligtinge.

Dis harde woorde van die hoogste hof in die land, en in effek bevestig hulle dat die persone wat verkies is om ons belange te beskerm, hulle pligte versuim het. Meer as dit: die hoogste grondwetlike gesag het eenparig beslis dat die President sy pligte in terme van die Grondwet, en teenoor amptenare wat verkies is om die Grondwet te versterk, versaak het.

Die beeld van die OB as ’n bybelse Dawid wat teen die oormag van die staat as Goliat moes veg, is gebruik. Dis in die eerste plek kommerwekkend dat die regters genoop gevoel het om die OB aan die een kant en die President en die NV aan die ander kant as vyandige partye te skilder. Ek is seker dis ’n besluit wat nie ligtelik geneem is nie.

In enige gesonde, gevestigde demokrasie sou die President se bedanking teen hierdie tyd die hoofstorie van elke nuusagentskap gewees het. In Suid-Afrika kry ons ’n halfgebakte persverklaring waarin die President onderneem om die beslissing en die implikasies daarvan te oordink.

Die ANC se uitvoerende komitee het alreeds twee weke gelede geleentheid gehad om te besin oor Zuma se voortgesette rol, en hulle het toe versuim om dit te doen. Ek vermoed die dringende vergadering wat inderhaas belê is na afloop van die beslissing, is ’n openbare-beeldpoets-oefening eerder as ’n indringende selfondersoek oor grondwetlike verpligtinge en die beste belang van burgers van die land. Beste belange sal wel ter tafel gelê word, maar eerder hulle eie beste belange, met een oog ferm op die munisipale verkiesings wat veronderstel is om later vanjaar plaas te vind.

Die vraag is nou: Waar die President hardnekkig weier om te bedank, wat dan? Die DA het alreeds gevra dat ’n mosie om die President te verwyder, in die parlement op die agenda van die volgende sessie geplaas moet word. Die realiteit is egter dat so ’n mosie kan slaag net indien die ANC, wat die meerderheid in die parlement uitmaak, dit ondersteun.

Ek verwag nie dat dit sommerso sal gebeur nie. Zuma het baie goed daarin geslaag om hom met lojaliste te omring wat self heelwat sal verloor indien hy waai. Wat veel eerder sal gebeur, vermoed ek, is dat mense soos die Minister van Polisie en dalk die Minister van Openbare Werke as seremoniële slagoffers op die altaar van openbare opinie geoffer sal word, in die hoop dat dit voldoende sal wees. Dit sal gevolg word deur Zuma wat verontwaardiging en sy vertroue in en ondersteuning van die Grondwet uitspreek.

Die uitspraak vandag was vir regsgeleerdes en grondwetlike kenners ’n reuse-oorwinning. Die hof se beslissing het die pilare van ’n grondwetlike demokrasie, die skeiding van magte, die oppergesag van die Grondwet, en veel meer, duidelik uitgespel. Dit veroorsaak groter regsekerheid, en sal beslis in die toekoms die onderwerp van vele proefskrifte en vele ander hofbeslissings wees. Daar was ’n skoonheid aan die eenvoud waarmee die reg se basiese boustene verduidelik is.

Ek is baie keer ontnugter met die manier waarop daar met die reg omgegaan word. Vandag kon ek weer opnuut verlief raak op die eenvoud, die swart-en-wit absolute kristalheldere sekerheid wat die reg bring. Ek kon weer opnuut hoop dat ons grondwetlike demokrasie werk, en dat dit lewend is.

Of dit egter genoeg in die hier en nou is om ons politieke leiers van politieke verantwoording te leer ...? Net die tyd sal leer, en ek vermoed die ANC sal met erns kennis neem eers wanneer hulle by die stembusse bloedneus geslaan word.

Maar ten minste vir vandag kan ons feesvier in die wete dat Dawid nog steeds vir Goliat kan oorwin.

 

  • 11

Kommentaar

  • annette le Grange

    Vir ons land is dit 'n groot deurbraak,ja ons is optimisties en die rand staan alreeds 'n bietjie sterker met die uitspraak van die hof, wonderwerke kan nog gebeur.

  • Die parlementslede wat Zuma in sy halsstarrigheid en oneerlikheid ondersteun het, moet van hoogverraad/ dwarsboming van die reg aangekla word! Ons kan hulle nooit weer vertrou nie! Hulle maak van hierdie grondwetlike demokrasie ’n April-grap!

    • Stem volkome saam. Wat my bekommer is JZ het nie toespraak geskryf nie, eenvoudig dit afgelees met geen insig en poor judgement - hy vat geen verantwoordelikheid, lei aan geheueverlies en toon geen berou.

  • Frans Petoors

    Uiteindelik is Zupta uitgewys wat hy werklik is. Hy kan egter wonderwerke voorsien, kyk maar net hoe merkwaardig het Shabir Sheik van terminaal siek, na perdfris en gesond herstel. Zupta is blykbaar ook 'n bedrewe Sangoma, miskien kan hy al ons mediese probleme ook oplos. Zupta moet val!! Lank lewe die reg en geregtigheid.

  • Francois Engelbrecht

    Tom, dit is nie net die steun wat Zuma van sy parlementslede kry wat pla nie, maar ook die uitsprake en beledigings wat deur senior ministers en amptenare teenoor die OB as persoon gemaak is. 'n Parlementslid en natuurlik ook 'n minister, se eerste taak behoort te wees om hom of haar van die inhoud van die Grondwet te vergewis. Nou is hulle kamstig verbaas oor wat die Grondwet sê. Ek dink almal kan nou vervolg word.

  • Was opgewonde na uitspraak maar bek-af na halfwas verskoning v president. Hoop die mafia wat ons regeer se mag kan gebreek word.

  • Frans Petoors

    Met my mensekennis, wat oor jare opgebou is, is dit tipies, as jy hom uitvang stry hy tot die dood toe, maar erken née! As jy dan in 'n hoek gekeer word en sien daar is geen uitkom kans meer nie, is die antwoord altyd, "I did not know" Hoe kan jy 'n president van 'n land wees, maar jy weet nie wat jou pligte & verantwoordelikhede is nie. Skeer die "Bill of rights" op en vervang dit met 'n "Bill of responsibilities"

  • By aanvaarding van die amp as President word die volgende eed afgelê:
    The President's oath upon assuming office:
    Oath or solemn affirmation of President and Acting President
    1. The President or Acting President, before the Chief Justice, or another judge designated by the Chief Justice, must swear/affirm as follows:
    In the presence of everyone assembled here, and in full realisation of the high calling I assume as President/Acting President of the Republic of South Africa, I, A.B., swear/solemnly affirm that I will be faithful to the Republic of South Africa, and will obey, observe, uphold and maintain the Constitution and all other law of the Republic; and I solemnly and sincerely promise that I will always ¬
    promote all that will advance the Republic, and oppose all that may harm it;
    protect and promote the rights of all South Africans;
    discharge my duties with all my strength and talents to the best of my knowledge and ability and true to the dictates of my conscience;
    do justice to all; and
    devote myself to the well-being of the Republic and all of its people.
    (In the case of an oath: So help me God.)
    Die vraag is nou hoe kan enigiemand so 'n eed aflê as jy nie op hoogte is van die inhoud van die konstitusie en dit verstaan en dan bokspronge maak as jy uitgevang word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top