David Whyte: Hoe bring jy diepte na jou gesprek?

  • 2

David Whyte (Foto: Youtube)

David Whyte is ’n Amerikaanse digter, skrywer en filosoof. Reeds vir bykans drie dekades spreek hy gehore regoor die wêreld toe. Nie alleen deel hy die binnewerk van sy diepsinnige poësie met gehore nie, maar hy stel hom dit ook ten doel om die siel te preserveer in die korporatiewe wêreld (of dan die werkplek). Whyte se kragtige gedigte, soos “The journey”, “Everything is waiting for you” en “The lightest touch” gooi ’n soeklig in die bedompige kamers van die onderbewuste.

Met sy onlangse besoek aan Suid-Afrika het hy op 27 Oktober as gasspreker by die Country Club in Aucklandpark, Johannesburg opgetree. Sy onderwerp was: “Deepening the conversation”. In die bestek van drie en ’n half uur neem hy die gehoor op ’n woordreis na onder andere die Galapagos-eilande, Ierland, die Camino-pelgrimsroete en die Pasifiese Noordwesstreek, waar hy al vir dekades woon.

Oor jare heen het Whyte 300 gedigte gememoriseer wat hy in sy aanbiedings gebruik. Sy selfoon word ’n apparaat teen die vergetelheid: hy het die openingsreëls van al hierdie gedigte op sy selfoon getik.

Whyte is bekend vir die kenmerkende manier waarop hy sy eie gedigte sowel as dié van ander Engelse digters soos Keats, Coleridge en Yeats voordra. Die wyse waarop hy reëls herhaal, die stilte na die voordrag en die tweede voordrag van ’n gedig in sy geheel word ’n inkantasie. Almal in die gehoor sit met salamander-oë, bedag op elke woord, nuanse en stilte. En dan gebeur iets uitbundig. Whyte begin lag. ’n Lag diep uit sy keel, sy maag, sy hele lyf. ’n Lughartige rammeling wat vir ’n hele ruk weergalm.

Inleidend praat Whyte oor die moed wat dit van ons verg om uitnodigend te wees in ons gesprekke met ander. Dit lyk soms of ons daar is, maar ons is nie werklik teenwoordig nie. Ons is geneig om te vroeg in dié gesprek – met onsself, in ons verhoudings, by die werk – oor te gaan tot benoeming of naamgewing. Sodoende bring ons die gesprek te gou tot ’n einde.

Hier volg kantaantekeninge oor sy hantering van drie stappe in ons strewe na verdieping:

 

1. Staak die uiterlike gesprek

Die eerste stap na verdieping is om die gesprek wat jy op hierdie oomblik het, te staak. Nie om dit te remedieer, te verbeter of jou strategie te hersien nie, maar om letterlik daarmee op te hou. En om dan fel aandag te gee aan ’n nuwe stem wat besig is om na vore te kom. ’n Stem waarmee jou ou identiteit nie sou kon praat nie, wat jou ou identiteit nie sou kon herken nie.

Whyte dra sy gedig “Sometimes” voor om die eerste stap te illustreer. Die gedig is op ’n Inheemse-Amerikaanse verhaal gebaseer, ’n storie oor ’n jong kind wat geleer word hoe om ’n oop stuk grond in ’n woud oor te steek.

Sometimes

Sometimes
if you move carefully
through the forest

breathing
like the old ones
in the old stories

who could cross
a shimmering bed of dry leaves
without a sound,

you come
to a place
whose only task

is to trouble you
with tiny
but frightening requests

conceived out of nowhere
but in this place
beginning to lead everywhere.

Requests to stop what
you are doing right now,
and

to stop what you
are becoming
while you do it,

questions
that can make
or unmake
a life,

questions
that have patiently
waited for you,

questions
that have no right
to go away.

Wanneer dit by selfkennis kom, is daar dikwels ’n oorbeklemtoning van die verstaan van ons deugde en bevoegdhede. Dit is net die een helfte van selfkennis. Die ander helfte is die begrip van wat Whyte noem “the single malt essence” van jou eie teësinnigheid om hier te wees. Daardie deel van jou wat nie lastig geval wil word nie. Daardie deel van jou wat wegsteek, verberg. Soms het die wegsteek met wysheid te make. Dit is ook deel van die natuurlike wêreld wat ons omring, soos die ysbeer se winterslaap. Daar is dele van jou wat van nature wil wegsteek, wil wegkruip. Maar daar is dele van jou wat wegsteek vanweë jou ervarings as kind. Jy moes dit wegsteek vir jou pa, ma, onderwyser, die skoolstelsel, dalk as gevolg van mishandeling. Sonder dié teësinnige deel, die weerlose deel, die deel wat bang is (“most deathly afraid part of you”), is die grondslag van die verhouding of gesprek oppervlakkig.

In sy twintigs, vertel Whyte, besluit hy om op ’n skaapplaas met 900 skape te werk. Hy sien hoe Engelse skaaphonde die hele trop skape berg-op of berg-af lei. Die 14 jaar oue Engelse skaaphond Cumro verloor sy een oog in ’n hondegeveg. Soms lê hy doodstil, met sy wollerige pels en hare wat oor sy oë hang. Die volgende oomblik maak hy daai gesonde oog oop, en die hele trop beweeg. Met sy een oog keer hy die hele trop skape aan. Soos Yehudi Menuhin. (Whyte lag.) Daar is altyd ’n plek van waar jy die wêreld in beweging kan bring.

’n Kaliforniese klopdanser stap die vertrek binne. Alle oë draai na haar. Haar charisma vul die vertrek. Ons wil daardie charismatiese persoon wees. Ons wil soos sy wees, maar ons kan nie. Moenie iemand anders se heroïsme navolg nie. Dit is moeiliker om jouself te wees terwyl jy die eerste tree gee. Jy kan iemand anders se lewe vir jou eie aansien. Jy kan ’n vreemdeling word vir jouself. Jy moet jouself toelaat om weg te beweeg van die periferiese deel van jou wat dinge bly benoem. Ook in verhoudings wil ons mekaar in bedwang hou. Ons benoem, gee name onder die illusie dat ons beheer het, dat ons verstaan.

Wat is die gesprek wat jy nou moet staak? In jouself, in ’n verhouding, by die werk? Hoe hou ons onsself gevange? Hoe kan jy ’n greep op die gesprek kry sonder om iemand anders te probeer wees? Dit is meestal die persoon wat meer aanpasbaar en buigbaar is wat die uitnodiging in dié gesprek rig. Skep die geleentheid om die volle omvang van wie jy is te beleef.

 

2. Maak ’n vriend van die onbekende

Die versoeking is om die eerste gesprek onmiddellik met ’n volgende een te vervang. Ons moet bevriend raak met die onbekende. Ons moet liefhê sonder om name te gee. Ons moet saamleef met wat vir ’n oomblik nie ten volle benoem kan word nie. Elke identiteit word gevorm op die grens tussen wie jy dink jy is en wie jy dink jy nie is nie. ’n Deel van die pad vorentoe is om jouself as leerling te verbind aan die onbekende. Dit hou verband met die uitnodigende aard van die werklikheid. Wat is die uitnodiging aan jouself? Onder in die diep en verblindende donkerte. Onder al die plekke wat jy oor die ware grond van jou bestaan gebou het. Jy moet heengaan na waar jy nie wil gaan nie. Jy moet ruimte laat vir ’n nuwe persoon wat besig is om na vore te kom. As jy net met daardie persoon kan praat voordat die “om te doen”-lysie in die prentjie kom!

In verhoudings het ons dikwels ’n onbewuste kontrak: jy beweeg nie, ek beweeg nie. Sodoende bly alles dieselfde. Whyte skets ’n situasie waarmee ons almal kan identifiseer. Hy vertel van ’n uitval tussen hom en sy dogter, Charlotte. Hy staan op die trap, sy in die sitkamer. In die middel van ’n intense argument draai sy om en storm na haar kamer. Hy gaan kombuis toe, maak ’n koppie tee, sit haar gunsteling-Biscotti-beskuitjies in ’n bakkie. Hy plaas die koppie tee en beskuitjies met groot sorg op ’n skinkbord. Hy sit dit op die koffietafel in die sitkamer en gaan roep haar. Terwyl sy tee drink, vra sy: “Noem een ding waarmee jy wil hê ek moet ophou, as ’n pa. Noem een ding waarmee jy wil hê ek moet begin, as ’n pa.”

Ons moet ons afvra: Reduseer ons ’n gespreksgenoot tot ’n logistieke taak? Ons moet onsself as leerlinge verbind tot die stilte, die onbekende. Draai jou gesig terug na die gespreksgenoot, sodat dit eg kan wees. Jy hoef dit nie op te los nie.

 

3. ’n Robuuste kwesbaarheid

Jou strategiese denke sal jou nie toelaat om diep af te gaan na waar dit donker is nie. Wat is die gesprek wat jy nie wil hê nie? Wat is die vrae wat geen reg het om weg te gaan nie? Begin deur met jou volle aandag na die grond te kyk. Begin met die gesprek sonder om al die antwoorde te hê. Ons dink ons kan die pad sien, tot aan die einde. Maar die pad verskyn en verdwyn, verskyn en verdwyn.

Whyte sluit af met sy pelgrimsgedig “Santiago” geïnspireer deur die treffende verhaal van sy broerskind, Marlene, en haar ervaring van die Camino-pelgrimsroete. Maar, verduidelik hy aan die gehoor, jy kan hierdie roete op enige plek in die wêreld stap. Dit hoef nie die Camino-pelgrimsroete te wees nie. Daar is nie ’n pad of roete nie. Deur te stap, bring jy die pad voort.

Santiago

The road seen, then not seen, the hillside
hiding then revealing the way you should take,
the road dropping away from you as if leaving you
to walk on thin air, then catching you, holding you up
when you thought you would fall,
and the way forward always in the end
the way that you followed, the way that carried you
into your future, that brought you to this place,
no matter that it sometimes took your promise from you,
no matter that it had to break your heart along the way
the sense of having walked from far inside yourself
out into the revelation, to have risked yourself
for something that seemed to stand both inside you
and far beyond you, that called you back
to the only road in the end you could follow, walking
as you did, in your rags of love and speaking in the voice
that by night became a prayer for safe arrival,
so that one day you realized that what you wanted
had already happened long ago and in the dwelling place
you had lived in before you began,
and that every step along the way, you had carried
the heart and the mind and the promise
that first set you off and drew you on that you were
more marvellous in your simple wish to find a way
than the gilded roofs of any destination you could reach
as if, all along, you had thought the end point might be a city
with golden towers , and cheering crowds,
and turning the corner at what you thought was the end
of the road, you found just a simple reflection,
and a clear revelation beneath the face looking back
and beneath it another invitation, all in one glimpse:
like a person and a place you had sought forever,
like a broad field of freedom that beckoned you beyond;
like another life, and the road still stretching on.

Whyte is besig om ’n boek met dié titel te skryf: Deepening the conversation. Hierin beoog hy om sewe stappe te bespreek.

Elkeen van ons se gedagtewêreld is ontsaglik. ’n Gedagtewêreld waarin ons sin maak deur benoeming en naamgewing: van die self, die ander en die omwêreld. ’n Onbeweeglike berg van idees, opvattings, oortuigings. Baie daarvan vooropgestelde idees. Baie daarvan vals oortuigings. Whyte het ’n ongekende gawe. Hy verskuif berge.

Bibliografie

Whyte, D. 2003. Everything is waiting for you. Washington: Many Rivers Press.

—. 2012. Pilgrim. Poems by David Whyte. Washington: Many Rivers Press.

—. 2017. Courage & vulnerability. The beauty in human reluctance. Washington: Many Rivers Press.  

https://www.ted.com/talks/david_whyte_a_lyrical_bridge_between_past_present_and_future

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top