David Kramer: ’n Biografie: ’n Gesaghebbende boek oor Kramer se werk

  • 1

David  Kramer: ’n Biografie
Mathilda Slabbert en Dawid de Villiers
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624049678
Prys: R159.95

Klik hier en koop David Kramer: ’n Biografie nou van Kalahari.net!


 

Ek was baie opgewonde toe ek gevra is om hierdie biografie te resenseer. David Kramer se statuur as kunstenaar en sy ongelooflike bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek en teater vereis werklik nougesette aandag, en maak die idee van ’n biografie ’n welkome een. Biografieë oor Suid-Afrikaanse musiekkunstenaars is natuurlik ook baie skaars.

Alhoewel die Kramers hul getroue samewerking gegee het, het David glo aan die begin van die projek reeds die skrywers in kennis gestel dat sy private lewe maar doodgewoon is en nie regtig goeie materiaal sou verskaf vir sensasie nie. Miskien was hy net nederig, of wou hy dalk sy private lewe juis privaat hou. Hoe dit ook al sy, dit het die moontlikheid van ’n “celebrity-biografie”, soos die skrywers dit stel, uitgeskakel. Hulle noem ook dat sowel hulle as Kramer doelbewus wou wegbly van so iets. Om eerlik te wees is ek nogal verlig daaroor, want ons het oorgenoeg sulke biografieë oor plaaslike persoonlikhede, en aangesien Kramer ’n kunstenaar is en nie ’n rugbyspeler nie, maak dit ook sin.

Maar wat is dan die alternatief?

As mens die voorwoord lees (wat baie lesers seker sal versuim om te doen), sal jy sien dat die skrywers op ’n baie eerlike wyse erken dat dit moeilik was om die regte benadering tot die biografie te vind. Hul primêre doel was juis om Kramer se oeuvre en die konteks waarin dit vervaardig is, te ontleed (soos hul akademiese agtergrond betaam), wat noodwendig meer aandag sou gee aan die werk as aan die persoon wat dit geskep het. Daarom kom ’n mens selde Kramer se eie “stem” teë, terwyl die “stemme” van die skrywers dikwels die narratief oorheers. ’n Geheelbeeld van David Kramer as mens ontduik dus die leser deurgans, wat frustrerend kan wees, maar wat ten minste verseker dat hy ’n mate van misterie oorhou teen die einde. Hierdie biografie is beslis nie bedoel vir iemand wat ’n bietjie meer wil weet van “almal se pel” nie.  

Juis daarom wek die boek gemengde gevoelens op. Aan die een kant is ’n deeglike ontleding van Kramer se werk geregverdig – daaroor bestaan geen twyfel nie. En dit word juis hier reggekry danksy deeglike navorsing. Of hierdie tipe ontleding egter die vorm van ’n biografie moet aanneem, eerder as ’n akademiese publikasie, is ’n goeie vraag. Ek vermoed dat daar baie mense is wat meer geïnteresseerd is in David Kramer as mens as wat hulle is in die sosiopolitieke konteks van sy werk. En mens kry die gevoel dat juis hulle die teikenmark van hierdie uitgawe is. Hulle gaan egter onkant gevang word as hulle maklike leesstof verwag. Vele male word daar ook oor die betekenis van sommige lirieke gepraat, sonder dat die lirieke verskaf word (’n enkele voorbeeld is “Botteltjie Blou”). Met ander woorde, daar word van die leser verwag om ekstra navorsing te doen, om self verder die bronne te gaan raadpleeg om hul kennis van die werk te verdiep. Vir die lui leser, of diegene wat nie die lirieke uit hul koppe ken nie, is dit dalk onregverdig. Aan die ander kant weer voel ek tog die moeite is die moeite werd.

Maar laat ek nou nie vashaak by een ding nie. Benewens lang teksontledings kom die boek tóg by die man self uit. Kramer se ontwikkeling as kunstenaar word in diepte bespreek, vanaf sy kinderdae en vroeë optredes saam met verskeie “bands” in Worcester tot sy blootstelling aan wyer moontlikhede tydens sy studies in Leeds en sy gewilde optredes in die folk-klubs in Kaapstad in die laat 1970’s. Sy kortstondige emigrasie na Amerika en die gewaarwording dat hy nêrens anders as hier wil woon nie, dien ook as belangrike verklaring van sy liefde vir plaaslike musiek – ’n element wat duidelik na vore kom in sy werk. Die waardevolle jare van saamwerk met sy groot vriend Taliep Petersen, asook sy fassinasie met die musieknalatenskap van die Karoo, sal enige leser boei. Hierdie deel van sy loopbaan getuig van sy skaarse gewilligheid om musikale en sosiale grense oor te steek, of eerder, hulle uit te wys vir die kunsmatighede wat hulle eintlik was. Dit terwyl sy solowerk deurgaans getuig van iemand met ’n fyn oog vir parodie, asook ’n unieke vermoë om met alledaagse verwysings en alledaagse spreektaal regtig tot die hart van groot sosiale kwessies te spreek. ’n Mens word bewus gemaak van die ernstige kunstenaar met ’n ongelooflike talent vir fyn waarneming agter die breë glimlag en rooi velskoene.  

Uiteindelik is hierdie biografie nie ’n goue middeweg tussen akademiese werk en vermaak nie. Dit is uitsluitlik ’n gesaghebbende boek oor Kramer se werk wat as kardinale verwysing dien vir enige navorsing oor hom. Dit is nie ligte vakansieleesvermaak nie. As Pa hou van biografieë, maar ernstig is oor ’n bietjie ontspan hierdie Kersfees, koop eerder vir hom ’n sportster s’n. Die boek is wel ’n moet vir diegene wat Suid-Afrikaanse musiek bestudeer, en die waarde hiervan sal op lang termyn net vermeerder. Daar egter is weinig humor hierin. En ja, mens sou graag iets ligter en snaakser wou sien wat meer verklap van die mens agter die naam – of dalk selfs ’n outobiografie? So iets sou nader aan die verwagtinge van die breë publiek wees. Kramer se privaatheid laat my egter twyfel of dit ooit sal gebeur, en ek kan nie anders as om hom daarvoor te respekteer nie.  

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top