Darkest hour: ’n resensie

  • 1

Fotobron: https://www.vox.com/2017/11/21/16680158/darkest-hour-review-gary-oldman-joe-wright-winston-churchill

Darkest hour
Regie: Joe Wright
Draaiboek: Anthony McCarten
Met: Gary Oldman, Kristin Scott Thomas, Lily James, Stephen Dillane en Ben Mendelsohn

Darkest hour gaan oor die eerste maand (ca 10 Mei – 4 Junie 1940) van Winston Churchill se eerste ampstermyn as Britse eerste minister gedurende die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945), met die krisis by Duinkerken, Frankryk as ’n subplot. So ’n stelling klink eenvoudig genoeg, maar vir Winston Spencer Churchill was daardie maand se uitdagings glad nie so eenvoudig nie. Brittanje was in die moeilikheid toe hy op 10 Mei 1940 die posisie as die eerste minister aanvaar het. Deur middel van drie toesprake wat hy gedurende daardie maand gelewer het, het hy dit reggekry om die twyfel wat sy opponente (selfs in die Konserwatiewe Party van Brittanje, beter bekend as die Tories) in hom gehad het, heeltemal te verwyder. Hierdie rolprent gee spesiale beklemtoning aan hierdie drie toesprake as ’n gesamentlike draaipunt vir Brittanje se uiteindelike oorwinning oor Adolf Hitler se magte in 1945.

Die eerste toespraak was die een wat op 13 Mei 1940 voor die hele Britse parlement gelewer is. Daarin het Churchill dit duidelik gemaak dat die Britse regering en bevolking al sy “blood, sweat, toil and tears” sal ontvang soos wat hy beoog om die land na oorwinning te lei. Die parlement, en (veral) Churchill se voorganger, Neville Chamberlain, was nie gelukkig oor hierdie toespraak nie. ’n Diplomatieke opsie, soos deur burggraaf Halifax geopper, moes oorweeg word.

Die tweede toespraak was die een wat hy dae daarna op Britse radio voorgelees het om enige angstigheid wat die Britse publiek en soldate dalk oor Brittanje se lot kon gehad het, summier te smoor (al was alles wat hy gesê het, nie waar nie).

Die laaste toespraak (op 4 Junie 1940), was soos ’n ware epiloog. Dit rond die rolprent mooi af en dit is duidelik dat die diplomatieke opsie nie geseëvier het nie, dat Halifax skaam voel oor sy oortuiging om saam met Mussolini se ambassadeur te werk, en dat Churchill die ondersteuning van die Britse parlement geniet om met sy planne voort te gaan. Sy inspirerende woorde oor hoe die Britse magte op die strande, landingstroke, slagvelde, koppies, in die lug en op die see hul vyande sal aanpak is die kernidee wat uit hierdie toespraak gevloei het.

Churchill (gespeel deur Gary Oldman, wat die kans staan om ’n Oscar-toekenning vir hierdie rol te ontvang) het nie maklik die ondersteuning van die Britse parlement gekry om voort te gaan met die oorlog teen Hitler nie. Een van sy grootste teenstanders vir die posisie van eerste minister was Edward Wood, burggraaf Halifax (gespeel deur Stephen Dillane), wat Churchill wou druk om die aanbod van die Italiaanse ambassadeur te aanvaar vir laasgenoemde om as bemiddelaar tussen die Duitse en Britse regerings op te tree. Churchill het niks van die idee gehou nie, maar hy het ten minste die idee oorweeg. Hierdie konflik tussen Halifax en Churchill loop soos ’n goue draad deur die rolprent, en ook in die boek waarop die rolprent gebaseer is.

Darkest hour is gebaseer op Anthony McCarten se boek oor hierdie eerste maand van Churchill se eerste ampstermyn: Darkest hour: How Churchill brought us back from the brink soos uitgegee deur Penguin books. McCarten is nie ’n professionele historikus nie, maar hy het vir seker die gawe om ’n goeie storie te vertel. Hy is ook die skrywer van die boek (en draaiboek) The theory of everything (oor die lewe van die wetenskaplike Stephen Hawking) wat in 2015 met ’n lys Oscar-benoemings vereer is. McCarten kan dus ’n storie behoorlik, met ’n stewige spanningslyn, vertel wanneer die navorsing vir hom gedoen word, soos dit in hierdie geval deur ene Rebecca Cronshey gedoen is.

Die vraag moet wel gestel word: Hoekom nou weer ’n rolprent oor Churchill? Was daar nie onlangs een nie? Dit antwoord is: Ja, daar was. In Junie 2017 is Churchill vrygestel met Brian Cox in die hoofrol. Sekerlik is dit uiters vreemd dat rolprentgangers binne ses maande weer eens herinner word aan die lewe en loopbaan van Winston Churchill, al is dit net nog ’n gedeelte oor sy loopbaan. Indien hierdie golf verder gery kan word, sal dit wel interessant wees om ’n rolprent oor Churchill as krygsgevangene in Pretoria te kan sien. By wie moet mens vlerksleep?

Die antwoord op die vraag hier bo, oor waarom die rolprentmark twee rolprente oor Churchill sou gou na mekaar gekry het, kan dalk uit McCarten se boek gekry word: “In these doubtful times, and with the issues faced by the British nation so grave that its very future hung on its next moves, the great question was: where could such a leader be found?”[i]

Brittanje ondervind tans ’n nasionale krisis as gevolg van die sogenaamde Brexit-kwessie en die streng maatreëls wat deur die Theresa May-administrasie geïmplementeer word ten opsigte van die voorregte wat werklose mense voorheen geniet het. Met rolprente soos Darkest hour kan die interpretasie dalk gemaak word dat rolprentmakers uit die nostalgie van veral Britse gehore munt wil slaan. Dit kan ook wees dat rolprente oor belangrike historiese figure soos Churchill altyd kaartjies sal verkoop, en met die feit dat die publiek rolprente deur onwettige metodes kan verkry wat nie altyd gestraf word nie, moet rolprentvervaardigers seker maak dat hul geld reg bestee word aan rolprente oor historiese figure wat hul beleggings, en nog meer, sal kan terugbetaal. Dalk is hierdie argument te verregaande vir ’n rolprent wat Churchill net meer menslik wou uitbeeld: ’n soort “warts and all”-perspektief soos wat Oliver Cromwell eendag aan die kunstenaar gesê het wat hom moes skilder.

Darkest hour is die moeite werd om te kyk. Die dinamika van die verhoudings tussen Churchill en die mense met wie hy daagliks en weekliks in verbinding was, bewys hoe angstig en onseker hy gedurende sy eerste ampstermyn was. Die “groot man” van Brittanje was maar net ’n gewone mens met ’n sterk persoonlikheid wat mense met sy woorde kon inspireer of hulle kon ontstel. Selfs koning George VI (gespeel deur Ben Mendelsohn) erken dat hy effens bang was vir Churchill as gevolg van sy kort humeur, wat nie eers vir die lede van sy oorlogskabinet in toom gehou is nie.

Ten laaste, om nie alles te verklik wat mens in hierdie twee uur lange rolprent kan sien nie, is daar ’n Suid-Afrikaanse verbintenis met die rolprent. Kortweg noem Churchill die feit dat hy eens ’n krygsgevangene in Suid-Afrika was en glad nie bekommerd was oor die kritiek wat sy sekretaresse, Elizabeth Layton (gespeel deur Lily Jones), met hom wou deel oor sy “V for Victory”-handsein nie. Sy sekretaresse is die tweede verbintenis wat hopelik elke Suid-Afrikaanse fliekvlooi sal verbaas. Layton het na die oorlog na Suid-Afrika geëmigreer toe sy met ene meneer Nel getrou het en dus bekend gestaan het as Elizabeth Nel. Ja, Winston Churchill se sekretaresse gedurende die oorlogsjare, en ooggetuie van die drie toesprake wat die gemoed van die Britse publiek drasties verander het, het in 2007 in Port Elizabeth gesterf.

Met die aanloop tot die 2018-Oscar-toekennings sal dit wys en genotvol wees vir enige geskiedenisgeesdriftige om tyd af te staan om hierdie fliek te sien. Maar ek sou sterk aanbeveel dat voornemende kykers voor, of selfs na, die tyd ook McCarten se boek lees wat baie meer inligting bied as wat die rolprent ooit sou kon gedoen het. Die boek gee meer insig nie net in die wese van Churchill nie, maar ook in die innerlike stryd wat Neville Chamberlain moes deurgaan in die laaste maande van sy lewe. Terwyl maagkanker sy vlees opgevreet het, het sy verwyt en bekommernis oor sy handeling met Hitler by München sy tol geëis. Die sluheid van Halifax, of “Holy fox” soos wat Churchill spottend na hom verwys het, kom duideliker deur in die boek as in die vertolking deur Dillane (bekend vir sy vertolkings as Stannis Baratheon in Game of thrones en Thomas Jefferson in John Adams). Die rede lê in die feit dat Halifax nie behoorlik in die rolprent uitgebou is as die hoofantagonis nie. Die dinamika in die verhouding tussen Churchill en sy vrou Clementine (Kristin Scott Thomas) word weer so subtiel uitgebeeld dat Clementine weer net gesien word as die liefdevolle lewensmaat wat na al Churchill se klaagliedere sou luister, asof haar vrese oor die stand van landsake nie belangrik genoeg vir die rolprentmaker was nie.

Darkest hour bewys net weer dat rolprente oor die Tweede Wêreldoorlog, amper 80 jaar na die uitbreek daarvan, steeds winsgewend is. Met die twee rolprente oor Churchill wat in die laaste ses maande vrygestel is, het ander rolprente, soos die een oor die reddingspoging by Duinkerken (Dunkirk, wat in die kategorie vir Beste Rolprent vir die 2018-Oscars benoem is) en The man with the iron heart, wat handel oor die “Slagter van Praag”, Reinhard Heydrich, ook in hierdie periode verskyn. Weer eens sal ek graag van die geleentheid wil gebruik maak om die persoonlike begeerte uit te spreek dat indien die bovermelde reeks rolprente die winsgewende “golf” is om na te jaag, ek graag ’n rolprent oor Suid-Afrikaners in die Tweede Wêreldoorlog sou wou sien. Stel jou dit voor: ’n behoorlike “biopic” oor generaal Jan Smuts (en nie so swak uitgebeeld soos wat hy in die rolprent Churchill was nie) of oor Suid-Afrikaanse krygsmanne soos Sailor Malan, Dan Pienaar en Job Mosega, of selfs oor wat gebeur het by Tobruk en Sidi Rezegh in Libië. Ek is oortuig dat die wêreld geskok sal staan om te verneem dat Suid-Afrikaners Somalië, Ethiopië en Madagaskar uit die kloue van Mussolini en Vichy-Frankryk onderskeidelik bevry het. Dan sal daar bewys kan word dat gedurende Brittanje se “darkest hour” Suid-Afrika oorwinnings in Somalië geniet het, alhoewel óns donker uur aangebreek het toe veldmaarskalk Erwin Rommel vir generaal Kloppers by Tobruk oorwin het. Ook Suid-Afrikaners het op die strande, landingstroke, slagvelde en koppies, en in die lug en op die see geveg. Iemand moet net die storie op die silwerdoek vertel.

[i] McCarten, A. 2017. Darkest hour: How Churchill brought us back from the brink. Londen: Penguin Books, bl 2.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top