Dansende Digters: Digkuns móét deur digters vertaal word

  • 0

Verlede naweek is die eerste (maar hopelik nie die laaste nie) Dansende Digtersfees by die Spier-landgoed te Stellenbosch gehou. Hierdie poësiesaamtrek is deur Breyten Breytenbach gereël, met 'n tiental erkende plaaslike en internasionale digters wat die karavaan volgemaak het.

Die naweek se kunsviering het bestaan uit verskeie gesprekke, onder andere oor die vertaling van poësie en die rol ? of selfs verpligting ? van poësie om eties en betrokke te wees, asook voorlesings deur die indrukwekkende versameling woordwerkers.

Die eerste gesprek op Vrydag se spyskaart is getiteld "Lost in translation, found in poetry: A masterclass in translation". Die paneellede wat deelneem, is Marlene van Niekerk, André Naffis-Sahely (Irannees-Italiaanse vertaler) en die Sloweense digter en vertaler Tomaž Šalamun. Die gesprek word gelei deur Gunther Pakendorf, wat die sessie met 'n pittige voorlesing van "Fees van die digters" deur Breytenbach (en 'n pleidooi ? wat hy verskeie male tydens die gesprek sou herhaal ? vir die poësie van Wopka Jensma) open.

Dit wil voorkom asof die gesprek inderdaad 'n "master class", soos mense wat graag MasterChef kyk, verstaan, is. Die drie paneellede is op kort kennisgewing gevra om die gedig "This be the verse" deur die Britse digter Philip Larkin te vertaal. Die gesprek kom dus neer op wat Marlene herhaaldelik 'n “simulation flight” noem.

Sy voer aan dat die vertaling van ’n teks in werklikheid maande neem, en voeg by dat die antwoord op moeilike woorde of frases dikwels plotseling deur die onderbewussyn (hare heet Fred) gegee word. André sluit by die tydselement aan wanneer hy noem dat ’n vertaler homself met die kultuur, geskiedenis en selfs politiek van tale vertroud moet maak indien hy wil vertaal ? kontekstuele vertaling dus.

Tomaž noem dat vertaling selfs nog meer ingewikkeld as dit is, want dit is natuurlik ook so dat vertaling ’n tweerigtingstraat is. Waar tekste in jou moedertaal vertaal word, is kulturele kennis ook van belang. Die eerste reël van "This be the verse" lees byvoorbeeld as volg: “They fuck you up, your mum and dad.” Hy noem dat ’n direkte vertaling hiervan in Slowenië "scandalous" sou wees. Hy self is die eerste digter in sy land wat die woord fok in sy poësie gebruik het – iets wat daar as uiters onvanpas en uitdagend beskou is. 

Direkte vertaling is dus nie altyd kultureel aanvaarbaar nie, en weens wat Marlene tale se verskillende "innate tendencies" noem, is dit ook nie altyd taalkundig moontlik of gewens nie. Sy noem dat die klank en vloei van ’n gedig net so belangrik en veelsydig soos die inhoud daarvan is. André knik instemmend: "Poetry should be translated by poets." Tomaž is dit ook eens: wat klank- of gevoelsgewys by een plek in ’n vertaalde gedig verlore gaan, word dalk in ’n ander deel weer teruggesit en die vertaler moet die nodige poëtiese aanvoeling hê om hierdie vloeibare stand van sake gestand te doen.

Die titel van die gesprek is toe eintlik ’n puik opsomming van wat deur voorste kenners oor die onderwerp te sê is. Die boodskap of kern van ’n gedig, wat weens die Babelse verwarring tussen tale noodwendig in die taalkundige oefening van vertaling nie direk oorgedra kan word nie, moet deur die poëtiese gevoel gekommunikeer word.

 

Die Dansende Digtersfees is deur die Pirogue-kollektief en Spier aangebied.

 

 
 
Hannerie Visser het die ou wynkelder en plaashuis versier.
 
Die Sloweense digter Tomaž Šalamun (links) en Gunther Pakendorf
 
Gunther Pakendorf
 
Marlene van Niekerk en die vertaler André Naffis-Sahely
 
Marlene van Niekerk
 
Foto's © Chrizane van Zyl

Lees ook:
Dansende Digters: Wie luister?

Die dansende digter – ’n blog deur Naomi Meyer

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top