“Dans met my broer ...”

  • 3

Odysseus en Penelope deur Francesco Primaticcio

Elke jaar met sy verjaarsdag hou my broer Dawid groot paartie. Gewoonlik draai daar ’n dier op ’n spit, wat my elke jaar die hel in maak. Ek wil asseblief net nie die dier sien wat ek eet nie. Dawid en sy medevlieëniers is mal oor spitbraai, want dit bewys ’n sekere macho dinges. Die vuur word vroeg al gemaak deur die mense wat die spyseniers saambring. Ek sorg dat ek nie by is as die lam begin draai nie. Ook gooi ek ’n wye draai tot baie later, wanneer die eerste snitte op tafel verskyn.

By hierdie feesviering doen die vroumense niks. Hulle staan rond met hulle sletsappies en kaleidoskopiese naels, rooi lippe en lang hare. Soms lyk die versameling jong vroue vir my of almal uit dieselfde modetydskrif hulleself aanmekaarsit. Mollig of maer, almal wil soos Victoria Beckham lyk, sowaar. Seker omdat my broer Dawid en sy maters sulke Brad Pitt lookalikes is.

Ek laat my bloot deur familielojaliteit na hierdie paarties toe kom. Ek en Dawid weet dit nie vir ’n feit nie, maar ek dink hy dink ook ons ma het rondgeslaap. Ons verskil verder van mekaar as William en Harry daar van Buckingham-paleis.

Ek is ernstig en diep van aard. Dawid is ’n vlieënier in diens van een of ander ryk sjeik. Hy, Dawid, rol in die geld. Dit sien mens aan die silwer Porsche in die oprit en sy meisies. Meisies wat blykbaar ook nie skaam is om uit te haal en te wys nie. Soos vanaand weer. ’n Godin uit ou Griekeland is aan Dawid se sy vasgeplak asof hulle ’n driebeenresies gaan aanpak.

Ek hoor haar naam is Anna. Toe ek my tweede rum en Coke verby is, word Anna al hoe mooier. Ek begin my verbeel ek is Odusseus wat aan Penelope belowe het hy gaan net vir drie jaar oorlog toe om Troje te beskerm. Toe kry hy mos vir Calypso beet en bly vir tien jaar weg. Hulle het mekaar in die spelonke rondom Troje elke aand met hulle vleesvuur verteer totdat hulle in mekaar se arms uitgeput kon lê.

Die musiek het begin en Dawid en Anna vat die vloer op die patio langs die wakker kole van die spitbraaivuur. Heel gepas bons Dire Straits se “The sultans of swing” oor die luidsprekers. Ek hou van die musiek en begin self die ritme in my lyf voel, maar dis Anna, o jislaaik, Anna. Sy rol haar heupe met arms na die sterre bo uitgestrek. Vorentoe en agtertoe knak daardie pelvis, dan weer om en om in ’n onsigbare hoelahoep. Twee passies links en twee passies regs, dan met skuddende skouers vorentoe sodat haar borste net-net op Dawid se bronstige borskas speel.

Ek druk hard op my gulp met my glas in albei hande om my ereksie op sy plek te probeer sit. Nou weet ek ook waarom Salome haar ou stink pa so betower het dat sy enigiets kon vra. As dit ek was, het ek vanaand gevra vir Dawid se kop op ’n skinkbord, verduiwels. Die ander paartjies dans gewone vas of los en effens weg van Dawid en Anna. Ou Dawid maak die gewone bewegings, maar dis Anna wat die vloer steel. Kort-kort gee iemand ’n wolwefluit of klap hande en hits die twee aan. So gaan dit een na die ander song.

Om so ’n vrou te vang is ’n kuns, glo my. Jy sal haar nooit kan verlei as sy duidelik so tevrede is met haarself en haar lewe dusver nie. Dit is onmoontlik. As ’n man so ’n vrou wil oorrompel, moet hy twyfel en onrustigheid by haar laat posvat. Sy moet begin dink sy mis iets. Plant by haar die saadjie van ongemak, van ’n gemis in haar lewe en ontevredenheid met haar daaglikse roetine. Sy moet veral oor haarself begin twyfel sodra jy skimpe gooi dat sy baie opwinding mis as sy voortgaan soos sy is. Nog beter, laat haar glo dat sy haar jeugdrome nog nie uitgeleef het nie. Haar lewe tot nou toe is eintlik saai en vervelig. As jy dit kan regkry, maak jy ruimte vir jouself en jou voorstelle.

Vroumense wat juis dink hulle is bestand teen mans soos ek en nie verleibaar is nie, val nogal die maklikste. Dit verg egter baie geduld en dikvelligheid aan my kant. Sy moet begin glo net ek kan haar lewe volmaak maak. Buitendien is ek altyd beskikbaar en daar vir haar – nie die hele helfte van die jaar soos Dawid iewers in die wolke nie.

Ongemak en twyfel is soos pyn en angs. Daardie twee is uiters noodsaaklik om die plesier van die ontlading wat uiteindelik sal volg, onvergeetlik te maak. ’n Man moet leer om met sjarme met ’n vrou te werk. Sjarme, glo my, is versoeking en verleiding sonder seks. Dít kom later.

Ek, Hans van Eeden, ken die speletjie. Hoewel ek heeldag en elke dag agter rekenaars sit en die nerd-dinge doen, ken ek elke uithangplek in die stad. Daar oefen ek.

Mens staan alleen by een van die hoë tafeltjies of met een elmboog op die kroegtoonbank. Verkieslik waar jy die deur kan dophou. Hier van nege-uur saans kom die vroumense aan. Altyd twee-twee of in giggelende groepies. Dan moet jy sorg dat jy een se oog vang. Baie meisies het al vir my gesê ek is ’n goeie luisteraar. Baie van hulle het al ’n oorlas en pes geword totdat ek geleer het om nie te gou my selnommer uit te gee nie. Ek gee dit net vir die enkeles wat my interesseer. Maar dit is nie wat ek soek nie.

Ek soek ’n vrou soos Anna.

Sy staan nou alleen by die dranktafel. Dawid het om die hoek van die huis verdwyn. My hele wese gil dat dit nou my kans is om met Anna te gaan praat. Ek haal diep asem, trek myself regop en ... en daar is Dawid demmit weer by haar. Hy trek haar met een hand dansvloer toe en wink met sy ander hand se vingers dat sy moet naderkom. Anna en Dawid dans nou binneboud op Dirty dancing se “I had the time of my life”. Ou Dawid wieg lekker met Anna se mik op sy bobeen asof hy Patrick flippen Swayze is. Ek gaan gooi vir my nog ’n rum met baie ys en min Coke.

Ek weet halfpad deur die voggies presies wat ek sal doen. Ek kan nie dans soos die ouens hier voor my nie, maar ek kan skryf! Ek sal vir Anna ’n e-pos-brief skryf. Ek kan my ereksie verwed dat Anna nog nooit so ’n brief sou ontvang het nie. Sodra sy my brief lees, sodra die bittersoet opium van my woorde in haar bloed beland, sal slegs ’n woord van my genoeg wees om haar liefde te laat oorloop ... Ja, ek moenie persoonlik op haar aandag aandring nie – dit sal net haar ekstase demp. As ek, geheime, naamlose bewonderaar slegs in die woorde teenwoordig is, het sy tyd om van my te droom. Sy sal wonder: Wie is hierdie wonderlike mens? Stadigaan deur my briewe sal sy na my begin hunker. Miskien sal sy my dalk ook begin beskou as ’n meer universele held soos Odusseus wat net lewe om haar lief te hê.

In ’n brief, met woorde, kan ek ook meer waag; in my briewe kan ek my aan haar voete neerlê op ’n dramatiese en romantiese manier. Iets wat totaal simpel sou wees as ek dit in lewende lywe moes doen. Nee, in lewende lywe sou ek vir ewig die illusie dat ek haar reddende en aanbiddende held is, bederf ...

In die geheel gesien sal mooi briewe altyd nog ’n kosbare indruk op die tere siel van ’n vrou maak; die dooie woorde in ’n brief het deur die eeue bewys dat dit meer invloed het as die gesproke woord. So baie dinge kan skeefloop as mens praat. Dink net die gestamel of totale stilte weens asemnood of misverstande. Nee, ’n brief is ’n geheime vorm van kommunikasie; die skrywer bly meester van die situasie en hoef nie gebuk te gaan onder iemand anders se reaksies nie ... Ja, ’n meisie sal beslis verkies om in privaatheid en alleen die soetheid van my bewondering vir haar in my woorde te ervaar. Dink net, sy kan oor en oor my brief lees. Natuurlik sal sy die erotiese ondertoon van my begeerte na haar snap. Al die mooi woorde, die uitlokking en verleiding sal nie op haar vermors wees nie. In eenvoudige taal sal ek haar vertel van my onderdrukte hunkering na haar. Dit kan vir haar ’n toevlug word as sy eensaam is, ’n warme gloed op ’n koue aand ...

Die musiek het intussen na Bruce Springsteen se “Tunnel of love” geswaai. Een van die meisies kom volborstig in my rigting nader. “Wil jy dans?” Sy is effe onvas op haar wighakke en haar lyf kry amper die ritme van die tromme reg. My bril wasem dadelik toe ek met moeite uit die plastiekstoel probeer opstaan waar ek vir hoe lank al vasgenael sit en droom.

Ek wil nog antwoord, toe is sy weer weg en probeer ’n ander ou aankeer. Almal dans nou, sien ek. ’n Skielike dors pak my beet en ek gaan soek yswater by die dranktafel. Niks.

“Hei! Hier is jy!” Dawid.

Hy leun by my verby en haal twee biere uit die emmer met ys. “Drink tog saam met jou broer ’n bier, my ou!”

Ek vat die koue bottel, skroef dit oop en sluk dorstig. Die lewe is ’n dol die aand is ’n mooi die meisies is lied en ek is verlief. Dawid het my om die skouers beet. Hard druk hy my vas, want hy weet seker as hy my los, gaan ek val. Hy beduie met sy bottel oor die mense se koppe.

“Anna! Anna! Anna!” roep hy oor die hoppende dansers se koppe.

Sy staan voor my. Sy vee die sweetdruppels op haar bolip af; haar borste beweeg vinnig op en af. Sy lyk asof sy ’n wedloop afgelê het om by Dawid te kom. Haar oë is groot en donker en blink en vasgepen op sy gesig.

“Anna, kom hier.”

Sy staan nou byna teenaan ons.

“Dans met my broer ...”

  • 3

Kommentaar

  • Eleen Cilliers Joubert

    Die inhoud van hierdie kortverhaal is verrassend, interessant en ongewoon.
    Mens wonder (terwyl jy al hoe vinniger lees) of die einde weer voorspelbaar gaan wees ... maar die gedagtes van die skrywer rondomtalie jou met ’n tagtigers-atmosfeer van partytjie hou tot ’n einde wat hierdie jammerlike "loser" eintlik verdien.
    Die skrywer se verwoording van die situasie en die skryfstyl spreek van intellektuele denke.
    Die verhaal lees lekker ...

  • Alvida Van Zyl

    Uitstekende gevoelsbeskywings oor verskillende onderwerpe van kos,skryf en sex. En dan ... Dans met my broer! Klimaks.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top