Dankie dat ek nie soos hy is nie

Die wêreldling

afstootlik in sy teengoddelikheid
doem die wêreldling voor my op
’wyl die weersin bittergal uit my diepste sekerhede en vroomheid braak

verlangend na die onbevlekte land
verdoem en kruisig ek hom;
hoor hom vra, aan die man aan sy linkerkant
“Dink aan my [Heer] wanneer U in U koninkryk kom?”

toe antwoord hy
en die haan kraai drie maal vir my,
want eers toe herken ek Hom

vasgespyker aan drie kruise
uitgestal,  tereggestel, verneder, voltrek
die geskiedenis van die mens
en daar herontdek
ek my
Fariseër, Skrifgeleerde, Priester en Leviet … Petrus … Judas

          in my goddelose heimwee na Sy Koninkryk
          val ek in my eie allerheilige swaard:
                    want hy, hier midde-in-die-wêreld,
                    die man aan Sy regterhand
                    is die voorwerp van Sy ondeurgrondelike liefde*

en genade, en hoop wat bevry

Broedertwis

dwalend in sy soeke
dwars in sy wederstrewige konfrontasie
met die wapenrusting van God: Sý Woord,
sy ideologie. sy dogma. sy waarheid … sy swaard
sy pen, en venynige tong, paraat
in die gif van sy [gebrekkige] verstaan gedoop
verdoem hy my. steek ’n vuur aan. gooi sy klip.

En ek, met Sy wapenrusting
besweer sy twyfelagtige Woord- en wêreldwysheid
met Sy Woord,
my ideologie. my dogma. my waarheid… my skild

soos mý lees van sý hoor van dieselfde Woord
tog so anders gestalte vind
in my verstaan en sy verstaan
en in my verstaan van sy verstaan (dwaalleraar. ketter. Trojaan)
en sy verstaan van my verstaan (fundamentalis. kruisvaarder. inkwisiteur)
en albei se verstane tog so ten dele, ontoereikend
beperk deur ’n drie kilogram soekenjin en
(sonder eers ’n sleutel tot sy eie geleende bewussyn),
verwerk in die misteries tussen die lyne
van kode: van tyd, taal, teks, konteks
                             en spekulatiewe konsepte,
wat saam met hoor en sien vergaan, wegglip,
en in die mis oor die oneindige horisonne van Sy grootheid en kompleksiteit
in ons onbegrip
verdwyn

maar eers toe ek in sy skoene staan
toe val Sy blik op my
eers toe sien ek Hom

so val ek in my eie allerheilige swaard:
          hy, hier mede-midde-in-die-wêreld,
          twyfelend, dwalend, mede-soekend
          is die voorwerp van God se ondeurgrondelike liefde.* 

“O God, ek het gepraat oor dinge wat ek nie begryp nie! U is te groot vir my.”

*Na Dietrich Bonhoeffer: Midde-in-die-wêreld (meditasies) saamgestel deur Otto Dudzus

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top