Daniel Hugo resenseer Aardling deur Zandra Bezuidenhout

  • 0

Zandra Bezuidenhout: Aardling.
Protea Boekhuis, 2006.
R90.00

 

 

Zandra Bezuidenhout het in 2000 gedebuteer met die bundel Dansmusieke, wat met die Ingrid Jonker-prys bekroon is. Die gedigte in Aardling is met ’n vaster hand geskryf. Die bundel is netjies saamgestel uit deeglike, maar hoofsaaklik onopwindende verse.
 
Die eerste, outobiografiese, afdeling is die interessantste. Veral die vrye, maar ritmies beheerste, gedigte oor die moeder is oortuigend. Die verse boei ’n mens omdat die digter-dogter se gevoelens jeens haar moeder wisselvallig en geskakeerd is – die twee bly “kontrapuntaal verbind” aan mekaar (p 11). Die kleuter se bewondering in “Kindertuin” gaan oor in die tiener se kritiese ingesteldheid teenoor haar mooi, hedonistiese ma in “Voetbaldans, Somerset-Strand”. In “Primitief” word die agtjarige kind se liefde vir en bekommernis oor haar ma by die geboorte van ’n sussie treffend verwoord.
 
Die lelike-eendjie-dogter voel egter minderwaardig teenoor die ma:  
mooi is die moeder
en maer is die kind -
altyd die eendjie
wat kwaak in die wind
                       (p 13)  
As volwassene het die dogter skynbaar vrede gemaak met die (oorlede) moeder, soos blyk uit “Grafruiker”. Maar in die slotstrofe word die toegeneë “ai Ma dit was goed dié herbesoek” onmiddellik gerelativeer deur die nonchalante:
                  
          as jy ’n jaar kan wag gebeur dit weer
          intussen hoor jy tog die see
          en al jou vriende is al hier
          ons groet nou eers.
 
Die gedigte “Summer Holiday” (oor ontluikende erotiek by tieners) en “Alzheimer” (oor ’n “eens briljante tante”) dra by tot die gunstige indruk wat die eerste afdeling van die bundel wek. Laasgenoemde gedig lewer ook bewys dat Bezuidenhout die formeel-rymende vers goed onder die knie het.
 
Die tweede afdeling, getitel “Deurreis”, bevat reis- en natuurgedigte. Al is die “aardling” van hierdie bundel ’n reisiger in Europa, keer sy steeds terug na Suid-Afrika, want: "Interkontinentaal gesproke/ is dít waar ek pas (p 39). Dat die Suid-Afrika waarna sy verlang, dié van “boerklonge” en “boere met die bakkies / en die velskoene” is, laat hierdie leser nogal ongerus voel oor die ideologiese onderbou van hierdie afdeling. In “Tuistoeris” soek sy boonop “ooms en tantes” op met wie sy kan “klets in gewestelike taal”.
 
Die ontheemding wat reis meebring en die gang van die seisoene lei noodwendig tot gedagtes oor tydsverloop en die dood. ’n Mens merk dit in gedigte soos “Naglopers, Nice”, “Meidag: suidelik” en “Klok in die nag”. Die beste vers in hierdie afdeling is ongetwyfeld die ingetoë, metafories gelaaide “Inersie”: 
                  
          Die dag kan wag.
          Ná ontbyt hou jy die naggedagtes
          in die warm holte van ’n koppie vas;
          herleef ’n droom,
          lek ’n heuninglepel af, sluk soet;
          bedink die skaakspel
          van krummels op ’n tafeldoek;
          sien in die opmars van die mier
          aanmaning en agenda:
          stoot traag die eerste skuif
          van nog ’n dag.
 
Die derde afdeling bevat digte metapoëtiese verse. Die interessantste een is “Aragnoïde”, waarin daar ’n parallel getrek word tussen ’n spinnekop en die digter: “Die een tik rafels op ’n rekenaar.// Die ander hou sy skryfsel/ terug. Bedink ’n web”. Die gedigte is meestal gedronge en klankryk. “Betekening”, ’n vers oor ’n sonsverduistering, eindig byvoorbeeld só:
 
          Die mens kyk in die swart pupil van ’n sikloop,
          noteer sy klein katarsis;
          wonder hoeveel donker sonne nog
          voor ons al skrywende
          aan skrik en skaduwee beswyk.
 
Die laaste afdeling, getitel “Gees”, bevat religieuse verse wat hierdie leser ongeroer laat. God self word as die digter se muse uitgewys: “Gees moet die sleutel wees/ tot die musiek, die liefdespel en die liriek” (p 66). Dit is nogal voorbarig van die digter, want wie moet dan die skuld kry as die dignote yl en dof raak? Hier en daar klink ’n TT Cloete-klank op, soos in “Lofsang van Eva”. Dié gedig bevat wel ’n mooi verklaring van die bundeltitel:
 
          ’n Handvol stof loop in die son
          haal asem, sing.
          U aardling heet “mannin”.
 
Hierdie reëls is die eggo van ’n strofe uit die voorafgaande gedig, “Skepsel”:  
U het aan my ’n stem gegee,
’n naam, ’n stukkie
aardbol afgepen,
geliefdes neergesit as troos. 
Zandra Bezuidenhout se tweede bundel sit op ’n hoë noot in, maar sy kan die musiek ongelukkig nie enduit suiwer hou nie.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top