Dan Roodt (1957–)

  • 1

Gebore en getoë

Daniël François Roodt is op 26 Mei 1957 in die Verre Oos-Randse hospitaal op Springs gebore. Albei Dan se oupagrootjies aan moederskant het in die Anglo-Boereoorlog aan Boerekant geveg. Sy grootoupa Botha is gewond tydens die laaste veldslag van die oorlog by Rooiwal op 12 Januarie 1902. Sy grootoupa Landau, die Jood, was ’n wapenhandelaar vir die Boere en die Engelse het blykbaar ’n prys op sy kop gesit sodat hy vir jare ná die oorlog in ballingskap in Nederland moes woon en nie kon terugkom nie, omdat hy in ’n Brits-regeerde Suid-Afrika steeds tereggestel kon word.

Dan se pa is in die 1920’s in Pretoria gebore – in die Krugerhuis waar daar destyds ’n kraamsaal ingerig is – en sy ma op Swartruggens in die destydse Wes-Transvaal. Sy pa het aanvanklik onder CM van den Heever by Wits Afrikaans studeer en was ’n tydgenoot, en vriend, van Koos Human, stigter van Human & Rousseau. Hy het egter redelik tussen werke rondgeval en was al rekenmeester, prokureur en sakeman. Tydens Dan se pa se studiejare op Wits was Joe Slovo ook ’n student daar en reeds ’n vurige kommunis, terwyl sy pa en die meeste Afrikaanse studente aan die ander kant van die spektrum was, veral in die aanloop tot die 1948-verkiesing. Sy pa en ander studente het die Anti-Communist League by Wits gestig in ’n poging om Slovo, Wolpe en ander se invloed op die kampus teen te werk.

Sy ma was Hermine Landau en ’n boekhoudster en op ’n manier ’n rykmansdogter wat grotendeels in Johannesburg en half Engels grootgeword. Sy en Dan se pa het mekaar op ’n bootreis oorsee ontmoet, vertel Dan aan LitNet, wat sy pa vir die Afrikaanse Studentebond georganiseer het. “My ma was pragtig toe sy jonk was en in Switserland by een of ander bal het sy ’n asemrowende tabberd aangehad wat al die mans, Switsers én Afrikaans, aan haar voete gehad het. My pa het nou nog foto’s van hul reis na Europa doer in 1950 met al die swier en formaliteit, soos ’n gedrukte passasierslys op die skip, wat toe gebruiklik was.”

Hermine en Pik Botha, destyds Minister van Buitelandse Sake, was neef en niggie. Sy ouma aan moederskant was ’n nooi Botha.

Dan onthou baie goed toe sy ma in sy kinderjare by ’n speelgoedwinkel, Carnival Novelty, in die middestad van Johannesburg gewerk het. Die gesin het destyds op Springs by Fusionweg 14, in die voorstad Casseldale gewoon en sy het elke dag met die trein ingery werk toe. Toe hy ongeveer vier jaar oud was, het sy vir hom die wonderlikste Duitse skopfiets met sulke dik wit bande en vlaggies voor aan die vurk van die werk af vir Kersfees saamgebring: “Lank daarna het ek nog met die skopfiets in Casseldale se strate rondgery. Toe ek ses was, het ’n vragmotor my op ’n trapfiets omgery en my ma wou vir jare daarna nooit weer vir my ’n fiets koop nie, dus was die skopfiets my enigste vervoermiddel as kind.”

Dan was na die ongeluk vier dae lank in ’n koma. Toe hy wakker geword het, was daar twee boeke langs sy bed: een van Pinocchio en ’n ander met sprokies. Die een met sprokies het hy nog altyd, hoewel die buiteblad met die jare verlore gegaan het. Dan het die sprokies aan sy kinders voorgelees en hulle het dit self ook gelees.

“’n Ander insident wat ek goed onthou, is toe my ouma aan vaderskant van Piet Retief by ons kom kuier het. Ek was nog maar klein, seker net-net op laerskool of nie eens nie. Op die boekrak het ek Die heks van Leipoldt raakgesien en my ouma gevra om dit vir my te lees, min wetende dat dit eintlik ’n volwasse drama is wat in die Middeleeue afspeel. Ek het agter haar stoel in die sitkamer gestaan en luister. Toe sy by die deel uitkom waar die heks op die brandstapel verbrand word, het ek begin huil, maar wou nie dat sy ophou lees nie. Sy moes die drama vir my enduit lees.

“My pa was altyd ’n liefhebber van die Afrikaanse poësie en het dikwels vir my AG Visser se gedigte voorgelees. Later het hy vir my vertel dat hy Visser as seun tydens die Depressiejare ontdek het toe ’n jong Stellenbosse student op hul plaas in die Oos-Kaap naby Dordrecht kom loseer het. Die student het ’n BA of iets gehad, maar kon weens die Depressie nie werk kry nie, behalwe as arbeider op die paaie. Daardie prentjie het my bygebly, die jongman uit die Depressie in sy buitekamer op die plaas wat vir my pa Visser voorlees en ek op my beurt wat weer dieselfde ritueel in ons huis op Springs deurgemaak het.

“Soos vele mense van sy geslag was my pa ’n groot aanhanger van A Roland Holst. Die Nederlandse digter was in die 1940’s op besoek in Suid-Afrika en moes ’n groot indruk op my pa gemaak het, want reeds op laerskool het hy benewens Visser, Celliers en die klassieke Afrikaanse digters, ook Holst aan my voorgedra. Die Nederlands was vir my maar effe vreemd op die oor, maar iets van die hartstog wat my pa vir Holst gevoel het, het tog tot my deurgedring.”

In 1963 is Dan op vyfjarige ouderdom na die Laerskool Christiaan Beyers. “Ons het sulke blou kleurbaadjies met breërige strepe gehad. Aanvanklik het ek nie ’n skoolbaadjie gehad nie en het sommer ’n ander baadjie skool toe gedra, darem met die skooldas en -hemp. In my graadeenjaar is ons mooi jong juffrou (ek dink haar van was Fouché) in ’n motorongeluk dood; dit was vir die hele klas traumaties. Daarna het ons juffrou Meyer gekry – ietwat ouer en streng. Sy het nie veel van my gehou nie, want ek het soms nie my huiswerk gedoen nie en dan het sy my langs haar tafel laat staan en my agter op die bobene geslaan. Ek kon egter reeds lees en het ander belangstellings as die skoolboeke gehad!

“Ons onderwyser in graad vier en vyf was mnr Swart en hy het nogal van my gehou, want ek was die slimste seun in die A-klas. Daar was wel ’n meisie of twee wat my net-net gewen het, maar waarskynlik nie in wiskunde of rekene (soos dit destyds op laerskool genoem is) nie. Aan die einde van standerd vier het ek hoofseun van Laerskool Christiaan Beyers geword en so ’n aanspeldbalkie met ‘Hoofseun’ daarop ontvang. Dit was min of meer die laaste keer dat die Afrikaner-establishment my enige erkenning gegee het!”

In daardie tye het Christiaan Beyers taamlik grandiose operettes aangebied en het Dan ook in ’n paar gespeel, in satynkostuums wat die ma’s met patrone en al moes maak, maar nooit die hoofrol nie. “Ek was seker nie veel van ’n akteur of sanger nie. Aan die einde van standerd vyf was daar ’n afskeidsplegtigheid waartydens ek ’n toespraak moes maak. Blykbaar kon ek nie te sleg gevaar het nie, want ’n onderwyseres het agterna vir my gesê dat ek ’n advokaat behoort te word.”

Hy het al die ligte kinderboeke en gewilde literatuur gelees. “Trompie, Saartjie, Die Uile, Jasper en die Jan van der Post-boeke oor die Boesmans het ek verslind. Destyds was daar ook heelwat vertalings van Europese kinderboeke in Afrikaans en die laerskoolbiblioteek was goed voorsien van alles wat daar in Afrikaans beskikbaar was. Maar ten minste een keer per week of elke twee weke het my ma ons na Springs se dorpsbiblioteek geneem. Nadine Gordimer vertel ook iewers van Springs se pragtige biblioteek waar sy vir die eerste keer ’n belangstelling in lees en letterkunde ontwikkel het. Die styl van die gebou was so iets tussen Edwardiaans en Art Deco. Trouens Springs se Art Deco-brandweerstasie is as ’n nasionale monument verklaar as ek dit nie mis het nie. ’n Klompie jare gelede het ek die ou dorpsbiblioteek weer gaan opsoek en groot was my teleurstelling om te sien dat dit intussen ’n Indiërklerewinkel geword het, met die biblioteek wat na ’n groter en meer moderne gebou verskuif is.”

Hy het ook die Olaf Bouwer- en ander boekklubboeke begin lees. In standerd drie het Dan lid van die Olaf Bouwer-boekklub geword. Olaf Bouwer was ’n Afrikaanse James Bond wat vir ’n organisasie genaamd SS-15 gespioeneer het. SS-15 het uit vyftien pro-Westerse lande bestaan, waaronder natuurlik Suid-Afrika. Hy onthou dat hy sy ma gevra het of hy kon aansluit en sy het dadelik daartoe ingestem. ’n Mens het R1,00 per maand betaal en het dan maandeliks ’n spanningsverhaal per pos ontvang, in hardeband.

Hy het nooit veel Engelse kinderboeke gelees nie, net Afrikaans, dus het Enid Blyton nie ’n rol in sy opvoeding gespeel nie. Maar so van ouderdom tien tot twaalf het hy begin om Engelse speurverhale te lees, veral Ian Fleming se James Bond-reeks. Dan en Ian Fleming is op dieselfde dag, 26 Mei, gebore. Dit is ook dié dag waarop die destydse Nasionale Party die 1948-verkiesing gewen het en Jan Smuts sy setel in Standerton verloor het.

Dan meen die 1960’s, toe hy op laerskool was, was die Afrikaner – en Afrikaans – se Goue Tyd: “Daar is soveel boeke gepubliseer, letterkunde, vertalings, gewilde fiksie, ook die fotoverhale van Mark Condor en ander helde. Daar was nog nie televisie in Suid-Afrika nie en die radio was dié medium. As ek smiddae van die skool af huis toe geloop het, kon ek die Afrikaanse vervolgverhale op Springbokradio volg, want die radio in elke huis was daarop ingestel en die huisvrouens was besig om na Die Geheim van Nantes te luister. Dan was daar Fanus Rautenbach se Staal Burger waarop ek versot was en waarna ek saans op ’n klein transistorradiotjie onder my kopkussing geluister het.

“Ek was veronderstel om vroeg te gaan slaap en mag nie ná agt- of nege-uur gelees het nie, maar ek het ’n penflits gehad en het gereeld onder die komberse die boek klaar gelees waarmee ek besig was. Ek kon een of twee kinderboeke in ’n dag klaar lees. Op ’n dag in standerd vier het die bibliotekaris by die skool, mnr Marais, gevra waarom ek ’n boek wat ek die vorige dag uitgeneem het, weer wou teruggee. ‘Maar meneer, ek is klaar daarmee en wil weer ’n nuwe boek uitneem!’ het ek geantwoord. ‘Moenie vir my lieg nie, man, jy kan nie ’n boek in ’n dag klaar lees nie,’ was sy repliek. Ek meen hy het my agterna oor die boek se inhoud ondervra en natuurlik kon ek hom presies vertel wat daarin staan, waarna hy verleë my toegelaat het om ’n nuwe boek uit te neem.”

Dan vertel verder: “Ek was ook ’n Voortrekker en op een van my skoolfoto’s dra ek die groen uniform van die Penkoppe destyds. Van die ander kinders het Woensdagmiddae na die kinderkrans by die kerk gegaan, maar in weerwil van my gesmeek om ook te gaan, wou my pa nooit dat ek kinderkrans toe gaan nie. My ouers was nooit baie godsdienstig nie, hoewel hulle NG Kerk-lidmate was. My pa het ’n meer sekulêre en filosofiese wêreldbeskouing gehad. Soms het hy die Bybelse skeppingsverhaal as ’n ‘klomp snert’ beskryf. Op ’n vroeë ouderdom het hy my al van Sartre, Camus en hul eksistensialisme vertel, alles dinge wat my nuuskierigheid en leergierigheid geprikkel het.”

In 1970 is Dan na die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg. Die Afrikaanse hoërskool in Springs, Hugenote Hoërskool, het nie Latyn aangebied nie en daar was ’n moontlikheid dat hy regte sou gaan studeer na matriek. Sy pa het ook op Helpmekaar onder die bekende Oubaas Brink gematrikuleer in die 1940’s en was dus ’n groot voorstander van die seunskool teen die bult in Braamfontein.

“Aanvanklik was ek in die koshuis wat met ontgroening en afknouery deur die groter seuns gepaard gegaan het. Die reëls van die oerwoud het in daardie dae in die koshuis gegeld; tog het ’n mens ’n soort stoïsisme en deursettingsvermoë ontwikkel wat later in jou lewe handig te pas kon kom. My kamermaat in standerd sewe, Neels Blom, was in 1976 in die Angolese oorlog en volgens hom was dit nie so erg soos die Helpmekaar-koshuis nie!

“So ’n paar jaar gelede het ek die reünie van 1974 se matrieks bygewoon. Ons het in die koshuiseetsaal geëet en almal het baie nostalgies geraak. Destyds het ek dit nooit vermoed nie, maar daar is ’n sterk band tussen ons klomp seuns by Helpmekaar gesmee en nou nog kom ek ou skoolmaats of –kennisse teë wat belangstellend uitvra en steeds met trots na ons skool verwys.”

Dan het op hoërskool, soos op laerskool, baie gelees en toenemend klassieke boeke en die Afrikaanse letterkunde gelees. Hy en Neels Blom het Swart pelgrim van FA Venter gelees tot ná ligte-uit in die koshuis waarvoor hulle ook in die moeilikheid gekom het. Dit was sy eerste blootstelling aan ’n roman met ’n politieke strekking en dit het Dan nogal aan die dink gesit oor die regering se rassebeleid.

Nadat Dan se pa hom op ’n redelik vroeë ouderdom aan die eksistensialisme bekendgestel het, het hy in standerd sewe of agt ’n Nederlandse boek oor Jean-Paul Sartre wat hy op sy pa se boekrak gekry het gelees en vir sy maats daarvan vertel. “Toe ons in een periode nie veel werk gehad het nie, het hulle die onderwyser gevra of ek vir die klas van Sartre mag vertel. Die onderwyser het ingestem en daar het ek toe ’n spontane lesing oor die eksistensialisme aan die klas gegee. Op ’n ander stadium kan ek onthou, het ek ’n groot pleidooi vir modernisme en rockmusiek in die Afrikaanse klas gelewer, wat kritiese opmerkings van ons onderwyser ontlok het. Maar Helpmekaar was destyds ’n wonderlike skool en afgesien van ’n paar geharde en dogmatiese of eerder konformistiese Broederbonders, was die res van die onderwysers baie oopkop en het hulle ons gedurig aangemoedig om nuwe horisonne te verken.”

In standerd ses het Dan uitgeblink. Hy het die hele jaar deur feitlik 100% vir wiskunde gekry, maar daarna het hy al hoe luier geword. “Ook was ek ’n tipiese tiener: rebels, opstandig en toenemend in botsing met die skoolreëls oor hare en kleredrag. Veral ek en die Latynonderwyser, mnr Van Rensburg of ‘Tarka’ soos hy bekendgestaan het, het ’n soort koue oorlog gevoer.” (Tarka is later by Kya Sands noord van Johannesburg deur ’n bende in die kantoor van sy vervoeronderneming vermoor.)

Dan se punte was as gevolg van sy rebelsheid nie so goed soos dit kon gewees het nie, maar veral Afrikaans en Engels was nog steeds vir hom maklik. Oor Latyn wat hy geneem het, is hy tot vandag toe bly, want hy is ’n patrisiër. En hoewel hy nie rugby op skool gespeel het nie, was hy ’n goeie hoogspringer en het hy vyf keer erekleure vir atletiek gekry en twee keer vir landloop. In standerd sewe het hy aan ’n hele rits sportsoorte deelgeneem, soos atletiek, tennis, swem, landloop, skaak (as dit vir sport tel) en het hy selfs op Wemmerspan teen die Engelse skole geroei, soos die Universiteite van Cambridge en Oxford dit beoefen. Hy was veral baie goed in hoogspring en het Suid-Transvaalkleure daarvoor gekry en aan die Suid-Afrikaanse Junior Kampioenskappe deelgeneem. “Nou nog onthou my medeleerlinge by Helpmekaar my meer vir die hoogspring as vir enigiets anders!”

Dan het veral vir sy Engelse opstelle baie hoë punte gekry – nooit volpunte nie, maar so 19 uit 20 of selfs 19½ uit 20. Sy Engelse onderwyser, Peter Lynsky, ’n Engelssprekende Jood, het aan Dan ’n eksemplaar van James Joyce se A portrait of the artist as a young man gegee nadat hulle vir een opstel op ’n aanhaling daaruit moes reageer.

Daar was gereeld debatskompetisies en kunswedstryde waaraan almal op skool deelgeneem het. Op ’n stadium moes Dan ’n gedeelte uit Raka vir die kunswedstryd voordra – dié gedeelte waar die kinders ’n kleipop van Raka maak. Die skooluitgawe van Raka is toentertyd gesensor, maar mnr Louis Malan, departementshoof vir Afrikaans, het daarop aangedring dat hy die reël “En skaamteloos groot die skaamte” in sy voordrag insluit. Tydens die debatte het Dan nie aldag só goed gevaar nie, want “al my opstandige idees en eksistensialisme het seker deurgesyfer. Ook het Ben Kruger en Danie Joubert, die latere akteurs, die debatskompetisies met hul retoriese vermoëns oorheers. Albei het ook hoofseuns van Helpmekaar geword.”

Dan se pa het hom van die Latynse buurt in Parys vertel waar die eksistensialiste gewoon het en wat in Breyten Breytenbach en André P Brink se boeke genoem is. “Dit het op vroeë ouderdom reeds my nuuskierigheid oor Frankryk en Parys geprikkel. In standerd nege het Brink se Kennis van die aand verskyn en ná die verbod daarop is dit ywerig gelees. Neels Blom se ouers het ’n eksemplaar gehad en dus kon ons dit lees. Op ’n stadium is Breytenbach se boeke in opdrag van die departement uit die skoolbiblioteek by Hoërskool Linden verwyder waar Blom se ma bibliotekaresse was en só het ’n eerste uitgawe van sy surrealistiese kortprosa, Katastrofes, in my besit beland. Dis nou nog hier iewers op my rak. My pa het baie van Etienne Leroux gehou en ek het Sewe dae by die Silbersteins en ander Leroux-boeke op veertien- en vyftienjarige ouderdom verslind.”

In standerd nege is Dan amper uit die skool geskors omdat hulle drank by ’n partytjie gebruik het. In daardie dae was die skole so sterk teen drank, rook en ander euwels gekant dat hulle baie swaar daarvoor gestraf is. Die straf was lyfstraf wat met ’n rottang toegedien is deur ’n groot, sterk onderwyser wat só hard geslaan het as wat hy kon, die spreekwoordelike “ses van die bestes”.

In dieselfde jaar het Dan net eendag sy pa, toe nog in Springs, gebel en gesê: “Kom haal my. Ek kan die koshuis nie meer vat nie.” Dit was nie lank ná die episode met die wyn nie waarvoor hulle die verskriklike lyfstraf ontvang het. Vir die res van daardie jaar het hy soggens saam met sy pa, wat toe reeds in Johannesburg gewerk het, stad toe gery. Aan die einde van die jaar het hulle Johannesburg toe getrek en kon hy elke dag met die bus skool toe ry.

Vir Dan was sy matriekjaar ’n fees. Hy was gewild (ook by die meisies), belese, wêreldwys en het soggens oor ’n sigaret en koffie by die Zanzibar-kafee in Braamfontein saam met Victor Maree, tans ’n reklameman met sy eie onderneming in Melbourne, oor die lewe, meisies, mansmodes, “underground”-musiek en letterkunde gefilosofeer terwyl hy Dan se wiskundehuiswerk afgeskryf het.

“Dit was die tyd van platformskoene, klokpypbroeke en die Gatsby-modes, na aanleiding van die film oor F Scott Fitzgerald se roman The great Gatsby. Dit was asof ons die ‘glorieryke twintigerjare’ in Johannesburg herleef het. Vic se geskeide ma in Sandton het hom tot in die afgrond bederf met sy eie klererekening en hope sakgeld. Ek kon skaars byhou, maar ons was die ‘dandies’ van die skool en het die skoolkleredragreëls aanmekaar getoets, veral met skoene en broeke. My skoene se hakke was nie so hoog nie, maar ek het by verre die wydste broek in skool gedra. Dit was wel grys, soos ’n skoolbroek moes wees, maar dit was waar enige ooreenkoms met die voorgeskrewe skooldrag geëindig het. Dit was ’n ‘Oxford bag’ van ligte wolstof, nousluitend en taamlik laag op die heupe bo gesny, met die sakke voor en nie langs die kant nie. Van daar af het dit uitgeklok en as jy loop, het dit so rondom jou skoene geflap. (...)

“Ek onthou dat die hele skoolsaal van die lag uitgebars het telkens as ek my erekleure en ander toekennings vir atletiek en landloop op die verhoog moes gaan haal, met die onderwyserskorps wat teen daardie tyd ’n soort goedige verdraagsaamheid teenoor my en Vic se modebewustheid ontwikkel het.

“In matriek was daar ’n algemene verkiesing. Omdat ek sestien of sewentien jaar oud was, kon ek nie stem nie, maar ek was ’n ywerige leser van die Rand Daily Mail en het besluit dat ek die Progressiewe Party ondersteun. Ek onthou dat ek in die wiskundeklas so iets aan mnr Piet Britz gesê het. Maar ek was jonk en naïef. Aam die ander kant het ek gevoel dat die Nasionale Party so deel was van die hele konformistiese Broederbondstelsel waarteen ek en ander op skool gerebelleer het, dat enigiets beter as dít moes wees, veral die Progs wat so gewaagd en gesofistikeerd in die Engelse media voorgekom het.

“Dit was Helpmekaar: ’n stadskool in die hartjie van die Nuwe Babilon, Johannesburg. Vir vermaak in die koshuis het ons ‘oor die bult’ Braamfontein toe gegaan of naweke in die middestad gaan fliek by die Colosseum, His Majesty’s of die nuwe Carlton-sentrum waar daar ook ’n ysskaatsbaan was. Toenemend het ons in Hillbrow rondgekuier. In matriek is ek soms vir aandete na mnr Louis Malan se woonstel in Braamfontein genooi, waar mnr Keith Allen, wat in dieselfde gebou gewoon het, saam gekuier het. Mnr Peter Lynsky het in Hillbrow gewoon en het saam met ’n Joodse vriend ’n pannekoekkroeg in Kotzestraat in Hillbrow bedryf. Oor naweke het ons soms daarheen gegaan.

“Uit verveling in die koshuis het ons al die Afrikaanse susterkerke in Braamfontein besoek en selfs hippie-agtige ‘kerke’ in Hillbrow aangedoen waar mense met lang hare, jeans en T-hemde gospelliedjies op kitare gespeel het.

“Ons het in die stad rondgedwaal, die klere- en platewinkels besoek en garagepartytjies in die noordelike voorstede soos Saxonwold of Northcliff bygewoon waar ons in matriek toenemend losbandig gefuif, en ons soms selfs aan drank vergryp het. Maar nooit dwelms nie. (...) Die Afrikaanse meisies het ons op ’n manier altyd in toom gehou en ’n meisie was darem interessanter as ’n bottel wodka of brandewyn.

“Ons het geluister en gedans op die maat van Britse en Amerikaanse pop- en rockmusiek. In daardie dae was daar nog nie Afrikaanse rock nie. Soos die internasionale jeug in Noord-Amerika en Europa het ons bygedra tot die astronomiese albumverkope van Black Sabbath, Pink Floyd, die Beatles, Rolling Stones, Alice Cooper, Jethro Tull, Bob Dylan, Crosby, Stills, Nash and Young en vele ander. Die ironiese woorde ‘Oh God, won’t you buy me a Mercedes-Benz’, wat Janice Joplin in haar heserige stem gesing het, sal my altyd bybly. Dit kon selfs die motto vir ons geslag gewees het, want die Afrikaner het in sy strewe na materiële rykdom uiteindelik sy toekoms vir ’n pot lensiesop verkoop.

“Toe ons klaar matriek geskryf het, het ons in die ‘Dev’ (die Devonshire-hotel in Braamfontein, in Mellestraat) gaan drink en die volgende dag was daar ’n berig in Beeld oor die groep Helpies wat in hul skooldrag in ’n kroeg opgemerk is. Dit was natuurlik ’n groot skande en ’n vlek op die skool se naam. Ná die Dev is ek, Vic Maree en Gerard van Tonder na die Maree-woonstel in Sandton waar ons met ons skoolklere en al in die swembad gespring het. Uit respek vir al die balkies op my erekleurbaadjie, het ek darem my baadjie uitgetrek, maar die ander twee is met baadjies, dasse en al in die water. Dit was ons eie, private afsluitingsritueel.”

Dan matrikuleer in 1974.

Verdere studie en werk

Na skool is Dan na die Universiteit van die Witwatersrand waar hy aanvanklik in die regte studeer het, maar hy het gou oorgeslaan na Afrikaans en Nederlandse letterkunde, Filosofie en Politieke Wetenskappe. Hy was ’n lid van die Filosofie-vereniging en het gereeld bydraes gelewer tot die kampuskoerant, Wits Student. Irwin Manoim wat later die mede-stigter van die Mail & Guardian was, was die redakteur van Wits Student. Dan het in 1976, ongeveer dieselfde tyd as die opstande in Soweto, deelgeneem aan die studente se protesaksies.

Ampie Coetzee, een van sy dosente, onthou die jong Dan Roodt as volg (op PRAAG se webblad): “Hy was ’n briljante student. Ek was bevoorreg toe ek dosent op Wits was om in dieselfde jaar twee talentvolle studente te hê: Dan Roodt en Johan van Wyk. Hulle was ook die eerste studente in my lewe. Hulle was ook later die eerstes wat my derdejaarklas oor Middelnederlandse letterkunde as benede peil beskou het (omdat ek net tekste vertaal het!).

“Maar Dan was nogal stout. Ek onthou eendag het Helen Suzman ’n toespraak gelewer in die Great Hall. Terwyl sy gepraat het, het Dan agter haar op die verhoog verbybeweeg met ’n swart outjie wat ’n gholfsak dra. Heen en weer – ek kan nie onthou of sy dit agtergekom het nie ... Hy het ook eenmaal vir Nadine Gordimer aangeval omdat sy ’n Franse aanhaling verkeerd uitgespreek het. Hy het natuurlik nie van haar gehou nie omdat sy altyd in haar werk Afrikaners as agterlik geteken het.”

Saam met sy dosente in Afrikaans, John Miles en Ampie Coetzee, woon Dan in 1977 die verhoor van Breyten Breytenbach in Pretoria by. Die gevolg hiervan is dat hy deur die Veiligheidspolisie gelys is as ’n andersdenkende en ’n potensiële revolusionêr.

Op Wits se kampus het Dan toenemend in konflik getree met die luidrugtige groep studente daar. In 1978 het hy ’n seminaar vir die Filosofie-vereniging georganiseer oor die anargistiese kennisleer van Paul Feyerabend, ’n Duits-Amerikaanse filosoof van die wetenskap. Alhoewel Feyerabend se boek Against Method deur die neo-uitgewers, New Left Books, uitgegee is, was hy krities oor die kommunistiese dogma. Hy het volgehou dat ’n vorm van vrydenke goed sal wees vir die wetenskap. Dan het Feyerabend se vryheidsdenkende anargisme teenoor die studente verdedig. Hy het selfs so ver gegaan as om te sê dat die federale aspekte van die regering se beleid ’n goeie manier is om die politieke mag in ’n multi-etniese staat soos Suid-Afrika te desentraliseer.

Dan het die studente en dosente verder vervreem toe hy nog ’n openbare lesing op die Wits-kampus georganiseer het. Hier is die idees van nog ’n Amerikaanse vrydenker, Robert Nozick, bespreek. In Anarchy, State and Utopia betoog Nozick dat die gesag van die staat daartoe beperk moet word om die publiek te beveilig en om kontrakte uit te voer.

Dan het hom vir ’n ruk besig gehou met ander vorms van anargisme en vrydenke en begin belangstel in Russiese anargiste soos Bakunin en Kropotkin, asook in Daniel Cohn-Bendit, leier van die Franse studente gedurende die Franse studente-opstand in Mei 1968. Hy het ook ’n studie gemaak van die Amerikaanse hippie-beweging en idees van kontrakultuur soos uiteengesit deur Theodor Roszak in The making of a counter culture.

Nadat Dan ’n voorbladartikel in Time Magazine, getiteld “Marx is dead” gelees het, het hy bewus begin raak en ook geïdentifiseer met die Franse skool van nuwe filosofie, wat deur Bernard-Henri Lévy, André Glucksman, Pascal Bruckner en ander begin is.

Gedurende 1978 het Dan hom as kandidaat beskikbaar gestel vir die Studenteraad van Wits as ’n anargis. Hy is tot die SR verkies, hoofsaaklik deur die argitektuurstudente wat met sy vorm van vrydenke en estetisisme kon identifiseer. Na die verkiesings is hy na ’n funksie aan huis van Max Price, die uittredende voorsitter van die SR, in Northcliff, Johannesburg genooi. Nuutverkose lede van die SR wat die partytjie bygewoon het, was Tony Leon en Hillary Joffe.

Hy het homself ook in kontemporêre Amerikaanse letterkunde verdiep en die romans van skrywers soos Saul Bellow, Philip Roth, Ken Kesey, Donald Barthelme, John Barth, Joseph Heller, EL Doctorow, Norman Mailer en veral dié van die Pools-Amerikaanse skrywer, Jerzy Kosinski gelees. Tydens ’n besoek aan huis van die skrywer John Miles in Melville, Johannesburg, het Dan vir André P Brink ontmoet.

Markus de Jong het sy boekwinkel reg oorkant Wits in Ameshoffstraat, Braamfontein gehad, en deur hierdie vriendskap het Dan al meer begin belangstel in die Franse post-strukturalisme en die geskrifte van Roland Barthes, Michel Foucault, Jacques Lacan, Jacques Derrida, Gilles Deleuze en andere. Hy het ook ingeskryf vir ’n Franse kursus.

Hy verwerf sy BA-graad in 1978 en skryf in 1979 in vir ’n BA Honneursgraad in Vergelykende Letterkunde, terwyl hy ook Duitse en Franse klasse loop. In die loop van 1979 doen hy navraag by die Franse Konsulaat in Johannesburg of daar nie dalk beurse is wat hom in staat sou stel om in Frankryk te gaan studeer nie. Maar hy is meegedeel dat hy nie kwalifiseer nie, omdat hy blank is. Baie buitelandse ambassades het destyds begin om swart studente te kies om sodoende hulle teenkanting teen die Suid-Afrikaanse regering se apartheidsbeleid te kenne te gee. 

Dan se eerste publikasie, ’n avant-garde novelle getiteld Sonneskyn en Chevrolet, word in 1980 deur Taurus uitgegee. Die Franse post-strukturalisme, psigo-analise en uitbeeldings van geweld soos by Jerzy Kosinski was beduidende invloede op Sonneskyn en Chevrolet. In ’n onderhoud met Rapport is Dan voor “Slegs Blankes”-tekens by die Doornfontein-stasie naby Rapport se kantore afgeneem. Op die buiteblad van Sonneskyn hou hy ’n miniatuur-Chevroletjie tussen sy tande vas en is sy hare soos ’n eendstert s’n teruggeghries. Hennie van Coller en Jaap Steyn skryf in hulle artikel “Taalaktiviste en transformasies” as volg: "Hierdie klein werkie het lowende kritiek van gerekende resensente soos George Weideman ontvang. Dit is die voorloper en die eerste voorbeeld van die postmodernisme in Afrikaans. Kenmerke van hierdie debuutwerk, asook van Kommas uit ’n boomzol, is Roodt se bewuswees van die literêre tradisie waarteen ingeskryf word, asook van sy ikonoklasme wat min ontsien.”

Kort na die publikasie van Sonneskyn en Chevrolet is dit deur die Suid-Afrikaanse Publikasieraad onder voorsitterskap van regter Lammie Snyman verban omdat dit beskrywings van seksuele geweld bevat, asook aanhalings van skrywers soos Marx en Lenin.

In 1979 het Dan in ’n kommune in Yeoville in Johannesburg gebly, waar hy die huis met Rai Turton gedeel het. Hy en Turton het gereeld gesprekke gehad oor Karl Popper en Thomas Kuhn. Neil Goedhals en Carlotta van Maltzan, professor in Duits aan die Universiteit van Stellenbosch, het ook in die huis gewoon. Goedhals, ’n konsepsuele kunstenaar, het later selfmoord gepleeg, wat Dan oortuig het om ’n mens se Afrikaner-identiteit te ontken soos Goedhals gedoen het, slegs tot diep ongelukkigheid kan lei.

In die gebou van die Senaat, het Dan gereeld koffie gedrink saam met twee ander studente, Karin Bredenkamp en Johan van Wyk, wat kuns- en kunsgeskiedenisstudente was. Hulle het aanklank gevind by nog ’n Afrikaanse kunsstudent, Joachim Schönfeldt. Die groep het Dada as die belangrikste deel van die moderne beweging beskou en het probeer om Dada binne die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse konteks te herinterpreteer. 

As gevolg hiervan het Dan een van die hooffigure van die Johannesburgse avant-garde beweging geword – iets wat baie afgeskeep was. Hierdie beweging het hulle deur middel van poësie, prosa, kuns, teater en film uitgedruk. Verskeie Neo-Dadaïstiese gebeurtenisse is gereël. Schonfeldt het “stoom-beeldhouwerk” geskep deur plat vleklose staalbakke op bene te sweis met elemente wat die water warm maak om stygende stoom te produseer. Meeste van hierdie publikasies en produksies, hoewel nie almal nie, is in Afrikaans aangebied.

Dan en Karin Bredenkamp (wat ook bekendgestaan het as Karin Konsentrasiekamp, ’n skuilnaam wat sy soms gebruik het) het gedurende 1980 saam gebly in Eastleigh Court in Hillbrow terwyl hulle probeer het om geld te spaar om Parys toe te gaan. Hulle is op 22 Augustus 1980 in die geheim in die Randburgse magistraatskantoor getroud, hoofsaaklik om die Franse se immigrasie-gesag tevrede te stel. Op pad na die magistraatskantoor het Dan ’n ringetjie van ’n Coca Cola-blikkie opgetel wat hy aan Karin se vinger gesteek gedurende die seremonie – tot die verbasing van die magistraat en sy assistent. Sy bruid het ’n tuisgemaakte swart en bruin rok sonder ’n soom aangehad, met druppels verf op, sowel as verf onder haar vingernaels, nadat sy pas van die universiteit se kunsskool gekom het.

Vroeg in die 1980’s het Dan en Karin die literêre tydskrif Taaldoos begin uitgee. Nadat die tweede nommer verskyn het, is dit verbied en moes Dan in die hof verskyn op aanklag van die voorbrenging van ongewenste publikasies. Hy het gesê dat daar geen redes aan hom verstrek is oor wat in die tydskrif ongewens is nie en dat hy in die duister is oor die aanklag.

Dan wat gedurende daardie tyd tydelik by die Ontvanger van Inkomste gewerk het, het gesê dat hy nie binne die vasgestelde tyd om redes gevra het nie en hy dus nie weet of hulle beswaar maak teen enige spesifieke deel van die inhoud van Taaldoos nie. En op die polisie-aanklag word ook geen redes verstrek nie.

In ’n onderhoud in Insig (Julie 2004) met Kirby van der Merwe het Dan vertel: “Taaldoos se leuse is by Voltaire geleen. ‘Ons stem miskien nie saam met wat jy skryf nie, maar ons sal dit tot die dood toe verdedig.’ André P Brink se Kennis van die aand, was toe reeds verbied, Lady Chatterley’s Lover ook, selfs die musiekblyspel Godspell. Ons was vasberade om die jong Afrikaanse skrywers se stemme te laat praat.”

Die eerste getuie van die staat was mnr HCT Muller, destyds ’n senior lektor in taalwetenskap aan die Randse Afrikaanse Universiteit (vandag die Universiteit van Johannesburg). Hy het besluit om vir die staat te getuig omdat die prosastuk getiteld "Patria/Matria" (in die tweede uitgawe van Taaldoos) hom teen die bors gestuit het en dit nie vir hom "letterkunde" was nie.

Muller het verder gesê: “Daar is in albei uitgawes van die tydskrif ’n naargeestige tendensie wat ’n klimaks bereik in die stuk Patria/Matria in die tweede uitgawe. Dit is ’n verhaal waarin tegelykertyd oor die Weermag en rugby geskryf word. Omdat die stuk tekenend van albei uitgawes se inhoud is, het ek in my getuienis daarop gekonsentreer. Daar was egter een bydrae met verdienste. Dit was ’n stuk wat heet ‘’n Moffie chaff ’n kaffer’. Ek sou vir die blad kon getuig as al die stukke in Taaldoos van dié gehalte was. Die res van albei die uitgawes van die tydskrif is egter sonder enige literêre waarde.”

In 1981 het Dan die enigste Suid-Afrikaanse skrywer ooit geword wat onder die Publikasiewet aangekla is dat hy onwenslike publikasies geskep het. Berigte oor die verhoor wat in die Johannesburgse Magistraatskantoor gehou is, is in al die belangrike koerante geplaas. Dan is deur prof John Dugard, ’n deskundige oor internasionale reg verdedig, asook deur Fink Haysom, voormalige leier van Nusas en nie eers hulle kon die landdros van die letterkundige waarde van die bydraes in die tydskrif oortuig nie. Al twee nommers is verbied, eerstens vir “besit” wat beteken dat elke persoon wat ’n kopie besit het, volgens die wet dit moes verbrand. Dan is skuldig bevind en met R100,00 of 50 dae tronkstraf beboet.

“Ek dink,” sê Karin aan Kirby van der Merwe, “(Johan) Bruwer se kortverhaal '’n Moffie chaff ’n kaffer’ was die laaste strooi.”

Hulle is ’n boete opgelê en gewaarsku: ses maande tronkstraf sonder die keuse van ’n boete vir enige verdere “ongewenste” publikasie(s). “Toe het ons maar die bruin kartondoos met die stapels bydraes diep gaan wegbêre.”

Skrywers soos Koos Kombuis (toe nog André Letoit), Theunis Engelbrecht en ander het tot Taaldoos bygedra. “Maar,” sê Karin, “Die ironie is (in 2004) dat die einste André Letoit (vandag bekend as Koos Kombuis) vir wie ons bloed gesweet het, vandag vra dat Dan stilgemaak word.”

Onder die drukkersnaam Uitgewery Pannevis, wat ’n verwysing is na Arnoldus Pannevis, die taalstryder van die negentiende eeu, publiseer Markus de Jong Dan se versameling satiriese verse onder die titel Kommas uit ’n boomzol in 1980. Die titel speel in op DJ Opperman se Komas uit ’n bamboesstok. Dit is volgens Van Coller en Steyn ’n "skerp kritiese satire wat die politieke en estetiese status quo aanval".

Slegs ’n week na die publikasie van Kommas uit ’n boomzol is dit ook deur die sensors verban. Hulle het Dan se satiriese en oneerbiedige geskrifte as ’n gevaar vir die samelewing beskou. Op die buiteblad van Kommas steek agt tandeborsels by Dan se mond uit en het hy ’n gekrulde haarstyl uit die sestigerjare.

Volgens Cecile Cilliers (Transvaler, 18 Augustus 1980) bevat Kommas uit ’n boomzol "woorde van protes gerig teen die establishment, beide literêr en polities, teen die behoud van die status quo deur die burgery, teen patriotisme, teen alle onreg. Die negatiewe, bykans nihilistiese gees van die bundel word opgesom in die gedig 'ek’s so sat...' (p 67). Die sinisme skok, eerder as die oordadige gebruik van kru taal, wat op die lang duur slegs vervelig is. Tog is die sinisme en die liefdeloosheid en die gebrek aan deernis met opset deel van die bundel. Die afbrekende (wat inherent die gedagte hou van ’n uiteindelike nuwe, heel nuwe begin), die absolute afbrekende is skering en inslag van dié nuwe digterlike rigting in Afrikaans.

"As protes en as poësie het Kommas uit ’n boomzol net gedeeltelik geslaag. En hoewel Dan sy bundel binne ’n erkende en veel-gehuldigde raamwerk plaas, naamlik dié van DJ Opperman se Komas uit ’n bamboesstok en die gebruik van hierdie raamwerk slim is, word dit ongelukkig nie veel meer as 'slim' nie. Daarvoor is die kritiek te heftig, die poging om af te breek te blatant. Satire en ander skerp kritiek moet iets van deernis hê, anders is dit te kras om inslag te vind. En deernis bestaan tot dusver nie in Roodt se werk nie. Verstaanbaar: hy wil net afbreek, moet net afbreek, anders gehoorsaam hy weer die status quo. En daarom moet die liefde ontbreek en word die protes waardeloos.

"Sy taalbeheer is goed en hy munt uit in die skepping van nuwe woorde, en hier en daar is ’n suksesvolle vers, soos byvoorbeeld 'soos by ’n belangrike rugbywedstryd' (p 28) wat ’n goeie onderbou het en ’n refrein wat 'werk'. Dieselfde geld vir ’net nog ’n eksotiese woordjie' (p 18) wat kwasjiorkor as tema het en wat ontroerende beelde bevat; nog steeds lelik, afstootlik, maar vol deernis, en miskien om dié rede, geslaag."

Gerrit Olivier (Vaderland, 30 Oktober 1980) prys Roodt vir sy oorspronklikheid en sy moed, "maar daar is te min gedigte wat die moeite werd is as ’n mens eers daarin geslaag het om verby die luidrugtige aanbod te kyk". Olivier sluit sy resensie af: “Ek kan nie glo dat watter maatreël dan ook my daarvan sal oortuig dat byna al die gedigte wat hulle in die veelbelowende omslag van Kommas uit ’n boomzol bevind, sleg is nie. Die omverwerping van taboes en ’n anti-estetiese instelling bring ’n welkome fris luggie, maar veel mooier sou dit gewees het as ’n mens Roodt kon prys vir méér as sy goeie bedoelinge. Daar gaan ’n aweregse uitwerking uit van gedigte wat so doelbewus anargisties en skokkend wil wees. Dié soort sukses is gewaarborg. Miskien sal dit goed wees as Roodt hom lesers voor oë stel wat al iets gewoond is en meer eise aan hom stel.”

Johan van Wyk, ook ’n skrywer, het Swaziland toe gevlug om sy diensplig te ontduik. Hy het ’n maand daar in ’n karavaan gebly, maar toe het sy geld opgeraak en het hy teruggekom. Met die intrapslag het die militêre polisie hom gevang en vir observasie opgeneem. Die psigiater het Van Wyk as ’n skisofreen gediagnoseer en hy is uit die weermag ontslaan. “Dit het my toe ’n idee gegee,” vertel Dan aan Jansie Kotze (op LitNet). “As Johan van Wyk ’n skisofreen kan wees, hoekom nie ek nie?”

Dan en Johan van Wyk het die Afrikaanse Skrywersgilde se vergadering by Gordonsbaai in die Wes-Kaap in 1981 bygewoon. Dan het as deel van die konferensie ’n lang uittreksel van die Markies de Sade voorgelees as deel van ’n teoretiese uiteensetting oor die sinloosheid van literêre geskiedenis. Hy het ook teenoor Phil du Plessis opgemerk dat hy bekommerd is dat hy nog nie vir militêre diensplig opgeroep is nie. Dit sou beteken dat hy sy studies sou moes staak en hulle hom van sy vrou sal wegneem.

Du Plessis, wat ook ’n mediese dokter was, het gevolglik aan Dan ’n brief gegee waarvolgens Dan aan ’n rare vorm van epilepsie ly wat hom baie aggressief maak en hom dus diskwalifiseer vir enige vorm van militêre diens. Hierdie brief is aan die Suid-Afrikaanse Weermag gepos. Hulle wou egter getuienis van ’n psigiater hê wat die feit dat hy epilepsie het, sou staaf. Hy is toe na Johan van Wyk se psigiater, maar kon hom nie oortuig dat daar fout is met hom nie. Dan het selfs ’n boek oor epilepsie gekoop om op te lees oor sy toestand. Die psigiater het net gesê: “Ag, dit sal nie so sleg vir jou wees om weermag toe te gaan nie.”

Markus de Jong het Dan bekendgestel aan die Fransman, Pierre-Marie Finkelstein, wat ’n linguis en veeltalige vertaler is, wat sedertdien van Karel Schoeman en Marlene van Niekerk se boeke vertaal het. In Desember 1982 het Dan en Karin vir Finkelstein in Parys besoek waar hulle ook vir Breyten Breytenbach in ’n kafee, die Boule d’Or in die Boulevard Saint-Michel, ontmoet het. Breytenbach was pas vrygelaat uit die Pollsmoor-gevangenis en Dan het daar aangekom met ’n sak vol boeke en klere wat Breyten in Suid-Afrika agtergelaat het, asook ’n blik appelkooskonfyt.

Dan verwerf sy MA-graad in Vergelykende Literatuur in 1983 met ’n tesis getiteld Pleasure and textual production: three texts by Roland Barthes. Hy voel daarna dat hy wil aangaan met sy PhD in Vergelykende Literatuur, maar toe hy daarvoor wil registreer, het sy Duitse studieleier, prof Reingard Nethersole, Dan in ’n histeriese uitbarsting daarvan beskuldig dat hy “pander to frivolous French theories”. Hierdie vernederende toneel het hom afgespeel op die derde vloer van die Senaathuis voor die swart Suid-Afrikaanse skrywer Es’kia Mphahlele. In een van sy gedigte in Kommas uit ’n boomzol het Dan die spot gedryf met die "patroniserende liberale houding van Nadine Gordimer wat Mphahlele weer geprys het in sy outobiografiese 'township roman' Down Second Avenue".

Roodt se kortstondige loopbaan in die Vergelykende Letterkunde het tot ’n stilstand gekom. Hy is dus terug na Afrikaans en besluit om vir ’n tweede BA Honneurs in Afrikaans in te skryf terwyl hy voltyds as ’n vertaler vir Telkom in Pretoria werk. Teen die einde van 1984 kon hy egter nie sy veiligheidsklaring slaag nie. Dit was nie lank na die ANC se Kerkstraat-bomaanvalle op 20 Mei 1983 nie en alle geboue in Pretoria is beskou as potensiële teikens van ANC-terroriste en alle werknemers moes veiligheidstoetse ondergaan. Dan se onderhoud is gedoen deur ’n lid van die Veiligheidstak van die Suid-Afrikaanse Polisie en hy is kort daarna deur sy toesighouer dienooreenkomstig ingelig.

Sy vriend, Johan van Wyk, het toe die hoof van Departement Afrikaans aan die Universiteit van Durban-Westville oorreed om Dan ’n pos aan te bied as dosent en só het ’n deel van die ou Johannesburgse avant-garde weer in Durban bymekaar gekom.

Die Roodts het aanvanklik aan die strandfront gebly en daarna ’n moderne woonstel in Berea gehuur. Hier het hulle die plek gou huislik gemaak met hulle boeke en skilderye. Roodt het sy Indiese studente oorweldig met sy Lacaniaanse (volgens Jacques Lacan) analise van Ena Murray, die gewilde skryfster van ligte romans, as deel van sy kursus in Moderne Afrikaanse prosa.

In Durban het die Roodts bevriend geraak met Rob Morrell en Allison Gillwald. Morrell sou later ’n alleenstryd voer teen die Afrosentriese visekanselier van die Universiteit van Kwazulu-Natal, Malegapuru Makgoba. Dan sou hom ook baie jare later kritiseer in sy bekende artikel “You cannot have your banana and eat it” wat in die Mail & Guardian gepubliseer is. Ook tydens sy verblyf in Durban, het Dan gereeld onderonsies gehad met die Anglofiele Natalse marxiste wat hom gesien het as ’n “agterlike, nie-kommunistiese Afrikaner” met ’n ongesonde belangstelling in “ligsinnige Franse teorieë”. Dan het in daardie tyd ook met die Franse filosoof Gilles Deleuze gekorrespondeer en sy Frans op lede van die Franse departement geoefen.

In 1985 publiseer Dan sy Twee sinne by Stet-boek. Hierdie publikasie was, saam met Karin Konsentrasiekamp (Dan se vrou) se Hoekom nies u nie?, die eerste in Stet-boek se nuwe alternatiewe reeks. Stet-boek het standpunt ingeneem teen establishment-uitgewers se “deftige” boeke; en het beoog om kontensieuse tekste te publiseer.

“Wat is ’n sin? Wat is twee sinne? Sulke vrae betrek tegelykertyd die filosofie, die grammatika en die erotiek; dis ’n kwessie van ‘sinlikheid’ in vele vorme”, is Dan Roodt se 'opsomming' of 'wegwyser' vir hierdie teks," skryf Joan Hambidge (Beeld, 17 Februarie 1986)

"Altesame 338 arbitrêr gekose segmente of leksias vorm ’n teks (een segment is blanko; een bevat net een sin) waarin die leser se vanselfsprekende omgang met ’n teks bevraagteken en selfs ondermyn word. So het ek myself herhaaldelik betrap dat ek segmente wou saamlees, soos byvoorbeeld XCV en XCVI. As jy dié twee segmente laat saamsmelt, verraai jy ’n seksuele lesing van die eerste sodat Twee sinne dus eerstens wil beklemtoon dat die lees van ’n teks veral die lees van jouself is. Twee sinne is ’n belangrike teks omdat dit allerlei (of moet ek sê, velerlei?) aannames waarmee lesers tekste benader, bevraagteken. Dit is vanselfsprekend ’n teks, soos ek dit lees, wat bedoel is vir die ingeligte leser.”

In Beeld (6 Desember 1985) het Dan sélf die volgende oor Twee sinne kwytgeraak: dit is naamlik ’n boek “wat elke moontlike maatskaplike reël in Suid-Afrika oortree. Vanuit die sensuuroogpunt is Twee sinne ’n taamlike amusante werk.”

André P Brink (Rapport, 26 Januarie 1986) het die volgende oor Twee sinne gesê: “Daar kon dus ook baie meer tweesinparagrawe gewees het. Daar kon ook 337 minder gewees het. Roodt is soms vermaaklik is, maar eintlik vreeslik konvensioneel."

Na hulle ’n jaar in Durban gewoon het, teen die einde van 1985, het dit geblyk dat die Suid-Afrikaanse Weermag op die punt was om Dan op te roep vir sy militêre diensplig. Hy het ’n toewysing na Oudtshoorn van die weermag ontvang. Na ’n telefoonoproep na Breyten Breytenbach in Parys het Dan en Karin besluit om so gou as moontlik na Parys uit te wyk. Binne tien dae was hulle besittings gepak en was hulle op die vliegtuig op pad na Parys. Daar was egter geen helde-ontvangs vir Dan en Karin nie. Breyten Breytenbach het nie sy telefoon baie gereeld geantwoord nie en hulle het gou besef dat al manier waarop hulle sou visums kry, was as politieke uitgewekenes.

Wat daarop gevolg het, was nie net onderhandelings met die burokrasie nie, maar ook ure van toustaan saam met vlugtelinge uit die derde wêreld buite Franse kantore in die winterkoue. Gedurende sy eerste weke in Parys het Dan kennis gemaak met ’n Tsjeggiese vlugteling wie se ondervindinge met die kommunisme Dan se minagting vir kommunisme en marxisme, wat toe baie in die mode in Suid-Afrika was, verstewig het. Toe die Roodts se geld opgeraak het, het die Tsjeg hulle 1 000 Franse frank geleen. Te danke aan die Tsjeg en ’n Franse Katolieke dame van Bretagne wat die twee Afrikaners jammer gekry het en haar klein woonstel naby Montparnasse aan hulle verhuur het, asook hulle werk by die Berlitz-skool, het Dan en Karin hulle eerste jaar in Parys oorleef.

Deur Jan Deloof, die Vlaamse kritikus, het Dan en Karin ’n vertalingsprojek vanaf Nederlands na Engels aangepak waarna hulle in 1987 in ’n woonstel in die derde arrondissement kon gaan woon. Dit was aan die rand van die gesogte Marais-distrik, naby aan die place de la République. Teen hierdie tyd het Dan ontnugter begin raak met al die oorsese propaganda oor Suid-Afrika en apartheid, veral in Frankryk waar die anti-apartheidsbeweging gedomineer is deur die Franse Kommunisteparty en die Jong Kommuniste. Terwyl hy per bus of trein na die Universiteit van Parys VIII, waar hy ingeskryf was vir ’n doktorsgraad of DEA in die Departement van Filosofie onder Gilles Deleuze en René Scherer, onderweg was, het hy sommige kommunistiese munisipaliteite in die sogenaamde “rooi gordel” met strate wat na Marx, Lenin, Rosa Luxemburg en onder kommunistiese helde vernoem is, deurkruis.

In 1987 is hy genooi om ’n konferensie oor Suid-Afrikaanse letterkunde by ’n kerkseminarie naby Stuttgart in Duitsland by te woon. Daar het hy meestal swart en bruin persoonlikhede van Suid-Afrikaanse universiteite, asook uitgewekenes van die ANC raakgeloop. Lewis Nkosi, Mandla Langa en Hein Willemse was van dié wat aan die konferensie deelgeneem het. Dan moes ’n lesing lewer oor kontemporêre Afrikaanse letterkunde, maar die gehoor het die lesing nie baie goed ervaar nie. Nie alleen was hy nie ’n marxis nie, maar hy was ook ’n Afrikaner, onderhewig aan die minagting van die oorwegend verengelste swartes en bruines wat teenwoordig was.

In 1989 het Annari van der Merwe ’n onderhoud in De Kat van 31 Mei met Dan in Parys gevoer en daarna vir Ampie Coetzee gevra wat hy van Dan dink: “Dan Roodt is die enigste skrywer wie se novelle (Sonneskyn en chevrolet) nog altyd verbied is. Dan Roodt is die enigste skrywer wat Opperman só gesatiriseer het dat sy boek (Kommas uit ’n boomzol) verbied is. Hy is die enigste Afrikaanse skrywer wat ’n teks geskryf het wat net uit twee sinne bestaan (Twee sinne). Ek dink Dan Roodt was die briljantste student wat ek ooit gehad het. En was dit nie vir die Weermag nie, was hy nou nog met ons.”

Terug in Parys, het Dan voortgegaan met sy studies in filosofie – die amusante, buitensporige wêreld van die Franse “filosofie van verskil” met sy wêreldbekende name en persoonlikhede, hulle eienaardige gewoontes en opinies. Maar sy hart was nie langer daarin nie. Hy en Karin was daar bevriend met ’n “klomp Russe in ballingskap”. Toe Rusland begin oopmaak het onder Gorbatsjof, het Dan en Karin saam met hul Russiese vriende ’n seminaar oor die Sowjetunie georganiseer, en ’n paar Russe oorgenooi om te kom praat. In ’n poging om homself te vergewis oor Rusland, het hy artikels oor Rusland in die Financial Times begin lees. “Ek lees toe ook sommer die res van die Financial Times en het toe geïnteresseerd begin raak. En een ding lei toe tot ’n ander,” vertel Dan aan LitNet.

Hy het boeke gekoop oor opsies, termynkontrakte en komplekse finansiële afgeleides. So het hy begin om hom te bemoei met die fassinerende wêreld van die geldmarkte met hulle gevorderde statistiese modellering, komplekse afgeleide instrumente en maniese skommelinge van emosies van optimisme tot pessimisme en weer terug.

Op ’n dag in 1990 staan Dan in die Paryse boekwinkel Biffures in die Rue des Archives. Saam met hom en Karin was Diane, die dogter van regter Johann Kriegler, en haar man, Peter John Massyn, wat ook Afrikaans aan Wits studeer het. Skielik word daar oor ’n Franse radiostasie aangekondig dat Nelson Mandela uit die gevangenis vrygelaat gaan word. Dan het onmiddellik besef dat dit kan beteken dat hulle kan terugkeer na Suid-Afrika en sy ballingskap in Frankryk kan beëindig.

Dit was aanvanklik vir Dan ’n skok toe hy in Parys agtergekom het hoe naïef hy was “met die stelletjie links-liberale idees wat by Wits by my ingedril is. Terwyl ek in Suid-Afrika destyds baie krities was oor die ou regering, het ek nou toenemend die valsheid van die apartheid-stereotipe in die buiteland begin raaksien en gaandeweg daarteen in opstand gekom. Moltrein verteenwoordig in ’n sekere sin my weerwraak op apartheid, op die woord self, maar ook op al die gemeenplase, halwe waarhede en opvattinge wat sowel plaaslik as internasionaal daaronder versprei is. Veral in Frankryk was die anti-apartheidsbeweging ’n blote afdeling van die Franse Kommunisteparty, en dit het my laat besef dat hulle ’n eie agenda gehad het om Afrikaners te beswadder in reaksie op hul eie morele probleme as gevolg van die kritiek op die kommunisme en die uiteindelik heengaan van die stelsel in Oos-Europa,” vertel hy aan Stephanie Nieuwoudt in Die Burger van 15 Junie 2004.

Hulle het hulle woonstel in die derde arrondissement verkoop en na ’n studio-woonstel naby die Bastille en Parys se nuwe opera-huis getrek. Vroeg in 1991 is Karin terug na Suid-Afrika om haar pa, wat ’n operasie moes ondergaan, by te staan. Dan het op daardie stadium sy buiging in die finansiële wêreld gemaak en ’n klein verskansingsfonds bestuur deur termyne en opsies te verhandel, asook arbitrage-transaksies tussen Europese beurse en die Johannesburgse effektebeurs.

Vroeg in 1992 het hy tussen Parys en Johannesburg gependel en met sy permanente terugkeer na Suid-Afrika in Mei 1992 het hy ’n pos as Senior Afgeleide Handelaar by die Standardbank van Suid-Afrika in Johannesburg aanvaar. Daar het hy ’n mark in valuta-opsies gemaak, asook rentekoerstermyne en -opsies vir die bank se rekening verhandel. Dan het Londen gereeld besoek en is met ope arms deur al die makelaars en belangrikste banke ontvang.

Nedbank het Dan genader om by hulle in dieselfde hoedanigheid in die buitelandse mark-afdeling van die bank te kom werk. Na ’n jaar is hy egter afgedank ten spyte daarvan dat hy sy aanvanklike begroting in winste vir die bank vertiendubbel het. Hy het ’n hofsaak teen Nedbank gemaak wat tot 1997 geduur het en wat hy uiteindelik gewen het.

Citibank het hom in dieselfde pos aangestel by hulle Johannesburg-kantore in Rosebank. Die plaaslike tak het geen prysstelsel vir afgeleides gehad nie en binne die eerste paar weke het Dan so ’n stelsel geskep. In 1999 is Dan weg by Citibank aangesien hy gefrustreerd geraak het met die bank se kredietbeleid wat hom verhinder het om betrokke te raak by langtermyn- afgeleide transaksies met enige Suid-Afrikaanse korporatiewe instellings, behalwe die drie top mynfinansieringsinstansies.

Hy het sy eie besigheid begin – gestruktureerde transaksies vir maatskappye en het ook self op die aandele- en veral termynmarkte verhandel.

Oor sy tydperk by die banke sê Dan aan LitNet: “Dit was vir my nogal interessant om in die banke se handelskamers te werk en met allerlei finansiële markte en instrumente om te gaan. By Standardbank was daar ’n wiskundige wat van Texas afgekom het, maar sy PhD in wiskunde van MIT ontvang het en hy het op ’n keer vir my gesê: ‘As die finansiële markte nie bestaan het nie, sou ’n mens dit moes uitvind.’”

In Mei 2011 het Dan, en ook Karin, hulle verkiesbaar gestel in die plaaslike munisipale verkiesings vir die Vryheidsfront Plus. Hulle het egter nie die paal gehaal nie.

Na sy terugkeer vanaf Frankryk het Dan aktief betrokke geraak by die saak vir Afrikaans en as ’n taalaktivis bekend geraak. In Julie 1996 het hy ’n lesing by die Franse Instituut in Johannesburg getitel “Landscape, Language and Identity” gehou. Al was die gehoor klein, het Dan die tonge los gehad met sy uitsprake oor "die herkolonisering van Suid-Afrika deur Engeland en die verband wat hy getrek het tussen dit en die oorname van die Afrikaner se taal en kultuur. Hy het ook verwys na die Afrikaanse platteland en dit in verband gebring met hoe die landskap in die Anglo-Boereoorlog in puin gelê is. Hy het gewys op die feit dat Engeland, omdat dit ’n nywerheidsland is, anders as die res van Europa, byna geen kleinboer-tradisie het nie. Dan beskryf daardie toespraak as die oomblik wat hy weer kultureel en polities betrokke geraak en dit het seker die verdere verloop van sy lewe bepaal, volgens Fransi Phillips in Beeld (25 Julie 1996).

Dié toespraak het gehandel oor die bedreiging van Afrikaans deur verengelsing. Dan het verder uitgebrei teenoor Fransi Phillips: “In al die kommentaar wat ons onlangs gehad het oor die veranderende status van Afrikaans, is daar vir my ’n gebrek aan ’n historiese bewussyn. In Europa kyk ’n mens nie na vandag sonder om ten minste die afgelope honderd jaar in ag te neem nie, want die laaste honderd jaar is in Europa deel van die huidige oomblik. In Suid-Afrika word die taalkwessie op die oomblik (1996) benader vanuit ’n virtuele moment wat afgesny is van die geskiedenis.

“Dis vir my vreemd dat niemand die verengelsing bevraagteken nie. Niemand vra ‘Wat is Engels, waar kom Engels in Suid-Afrika vandaan?’ nie. Engels in Suid-Afrika is vir my iets heeltemal anders as Engels in Engeland. Engels in Suid-Afrika is besig om allerlei veranderings te ondergaan, en daar is ’n definitiewe vervlakking in mense se verbale kompetensie. Ek het nie probleme met Engeland self nie. Ek hou selfs baie van Engeland. Jy kan my byna in ’n sin ’n Anglofiel noem. Maar in Suid-Afrika is die gedwonge verengelsing van kultuur besig om mense erg te vervlak. Marcus de Jong het altyd gepraat van hierdie boewetaaltjie, maar na my mening het ons die boewetaaltjie van apartheid nou verruil vir die boewetaaljie van politiek korrekte Engels, en dis vir my ewe leeg. Ek dink dat daar met die swart tale presies dieselfde ding besig is om te gebeur. Ons moet onsself afvra of dit werklik is wat ons wil hê.

“As daar iets is wat my dwars in die krop steek, is dit ’n gevoel van Ersatz – die gevoel wat ’n mens beetpak wanneer jy ’n Italiaanse villa in Pretoria moet aanskou. Die idee van ’n Ersatz-Engelse ervaring wat ons in Suid-Afrika in die gesig staar, wat basies maar ’n koloniale ervaring is, is vir my iets afgryslik. Dalk moet daar maar liewer ’n eksodus terug Engeland toe wees, dat ons minstens regtig Engels kan wees. Die idee dat almal in Suid-Afrika nou, of hulle wil of nie, moet inval by ’n soort verwaterde koloniale Engels en die feit dat mense nie meer krities daaroor is nie, is vir my ’n probleem.

“Dis verder vir my belangrik om Afrikaans los te maak van ’n Christelik-Nasionale identiteit. Ek is nie ’n Rapportryer nie, en die idee om een te word, het nog nooit by my opgekom nie. Vir my gaan dit veel eerder oor die reg van die individu om sy eie taal te praat en sy eie identiteit te behou. My stryd is dus steeds liberaal eerder as nasionalisties, en as ek moet kies tussen nasionalisme, marxisme en liberalisme, sal dit steeds liberalisme wees. Aan die ander kant is daar baie sogenaamde liberaliste met wie ek nie vereenselwig wil word nie omdat hoewel hulle hulself liberaal noem, hulle vir my veel eerder na opportuniste lyk. Op Wits het ek baie met sulke mense te doen gekry.

“Ek wil egter ook nie sê dat ek my stryd vir Afrikaans buite die stelsel wil voortsit nie: waar is binne en buite nou eintlik tog? Dit gaan eerder oor ’n spesifieke aanvalshoek. Ons moet heeltemal wegbeweeg van die assosiasie van die taal met nasionalisme. Verder het ek ook ’n estetiese belang by die oorlewing van die taal. Ek is ’n groot bewonderaar van Nietzsche. Die estetiese is eintlik die enigste element wat oorbly as jy die Christelik-godsdienstige paradigma verwerp. Die estetiese kwaliteite van Afrikaans en die Afrikaanse kultuur is vir my waardevol.”

Fransi Phillips wou weet watter maniere daar is om teen die verengelsing in verset te
kom, maar destyds het Dan daarvoor nog geen klinkklare strategie gehad nie. “Ek sou sê ’n beginpunt is om daaroor te besin. Ek dink die Afrikaners onderskat die krag van denke. Denke kan baie, baie kragtig wees: ek sien elke dag op die aandelemark watter krag ’n korrekte analise kan hê. Rykdom bring ook mag: waarskynlik is Engels in Suid-Afrika so magtig omdat dit die taal van Anglo American is. Maar denke op sigself is oneindig magtig: ek dink as mense in Afrikaans meer genuanseerd en krities wil omgaan met die taal, kan daar vir hulle geweldige kragtige strategieë oopgaan.

“Mense moet meer die ruimheid van Afrikaans verken, nie net die ervarings van anderskleuriges nie, want dit kan weer in ’n soort regstellende aksie ontaard. Ruimheid, eerder in die sin van om grense ’n bietjie te versit en deurmekaar te maak. Daar kan byvoorbeeld in die uitgewerswese gekyk word na moontlikhede om belangrike filosofiese werke uit Europese tale in Afrikaans te vertaal, en byvoorbeeld die boeke van die Markies de Sade. Die erotiek kan in Afrikaans beter ontgin word; ons het geen erotiese tradisie nie. Die stereotipiese idees van Europeërs oor Afrikaans en die Afrikaner moet ook gekonfronteer word, en die internet kan ’n belangrike medium wees om dit mee te doen.
Die moontlikhede is oneindig. Dit waaroor ons nou hier sit en bespiegel, kan oor ’n jaar of tien ’n werklikheid word.”

In 1999 het Dan begin om ’n optog vir Afrikaans na die Uniegebou te organiseer. Daar sou ’n versoekskrif wat die gelykberegtiging van Afrikaans met Engels bepleit, aan die president oorhandig word.

Waarom die optog na die Uniegebou, wou Stephanie Nieuwoudt weet (Beeld, 3 Desember 1999): “Mense voel sterk oor Afrikaans, wat op verskeie vlakke uitgeskuif word. Maar daar is nie solidariteit nie. Ek wil as katalisator optree vir die betoging wat solidariteit kan skep. Afrikaans moet op die politieke agenda geplaas word sodat dit gelykberegtiging kan kry. Ons moet nie vergeet ons is almal belastingbetalers nie. Ons is kliënte van die Suid-Afrikaanse staat. Maar ek kry nie die idee dat daar kultureel na my omgesien word nie.

“Die taalkwessie in die land, wat nog altyd tussen Afrikaans en Engels was, is nog al die jare onbesleg. Dit is belangrik dat konsensus bereik word oor wat presies die plek van Afrikaans, Engels en ander tale behoort te wees. Onder die NP-bewind het die taalkwessie amper ’n soort wapenstilstand bereik. Ná 1994 het dit egter weer belangrik geword. Die struggle is verby en mense is nou weer besig om oor die taal te besin.”

“Afrikaans is ’n nasionale en internasionale bate. Deur kultuuraktiwiteite, soos Afrikaanse kunstefeeste, kan rykdom geskep word deurdat ekonomiese bedrywighede gestimuleer word. Meer nog, die Suid-Afrikaanse geskiedenis kan sinchronies deur Afrikaans ervaar word méér as in enige ander Suid-Afrikaanse taal.

“Afrikaners het ’n besonderse verbintenis met die Suid-Afrikaanse landskap soos dit in die werke van Afrikaanse digters en skrywers duidelik word. Dit maak Afrikaans vir my anders. Uit Lacan se psigo-analitiese perspektief dat taal ’n lyf het, het Afrikaans ’n besonderse lyflikheid. Dis nie ’n neutrale kommunikasiemiddel nie. Dis ’n taal wat gevorm is deur die landskap en wat ’n sterk semantiese lyflikheid het.”

Hierdie optog het toe nooit plaasgevind nie, want “dit was voortydig, aangesien die meeste mense destyds nog nie kon insien hoe Afrikaans deur die huidige staatsbestel bedreig is nie. Agterna was daar egter verskeie kleiner optogte, soos in 2000 in Braamfontein na Transnet se kantore, by die kampus van Tukkies op 14 Augustus 2002 en in 2003 na Kerkplein vanaf die Pretoriase stasie. Oor die afgelope vyftien jaar of so het ek aan dosyne optogte en betogings deelgeneem, maar dit is wel so dat dit nooit die soort menigtes bereik het waarvoor ’n mens gehoop het nie. My gevolgtrekking is dat betogings en optogte nie eintlik deel van die Afrikaner se kultuur is nie. Pieter Mulder het dieselfde vraag gestel in sy boek: Kan die Afrikaners toyi-toyi? Die antwoord is waarskynlik ’nee’.”

In Februarie 2000 is hy mede-stigter van Praag, Pro-Afrikaanse Aksiegroep. Praag word beskryf as ’n beweging vir Afrikaner-intellektuele, professionele persone, boere, studente en ander wat vir die regte van Afrikaners en wit Afrikane in die algemeen stry, asook vir gelykheid met swartes ten opsigte van eiendomsbesitreg, taal, toegang tot opvoeding, die reg om handel te dryf, ensovoorts.

Praag was ook betrokke by verskeie veldtogte om die Afrikaanse taal te beskerm en die grondwetlike regte van Afrikaanssprekendes te verdedig teen beide private instellings en staatsdepartemente. Sommige van die veldtogte wat Praag geloods het, sluit die volgende in: teen Parmalat oor die insluiting van Afrikaans op hulle melkprodukte, die Departement van Korrektiewe Dienste oor die reg van vakleerlinge om in Afrikaans hulle eksamens te skryf, Woolworths, asook die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch. In Februarie 2012 loods hy ’n veldtog op sy persoonlike blog teen die verengelsing van die Hoërskool Fochville.

Volgens Dan is tale altyd aan politieke en militêre mag gekoppel. Daarby kom ekonomiese mag wat met militêre mag verstrengel is. “Dis nie toevallig dat Amerika die wêreld kultureel oorheers terwyl hy ook militêr en ekonomies (in 2001) onoorwinlik geword het nie. Die enigste klein tale in die wêreld wat gedy, is dié wat deur ’n sterk outonome staat gerugsteun word en waar die bevolking welvarend is, soos Denemarke, Finland of Noorweë. Die Afrikaanse bevolking is relatief welvarend, hoewel baie minder as die Dene, Finne of Noorweërs. Maar ons woon verstrooi oor ’n groot land tussen ander mense wat ons dikwels nie goedgesind is nie, en geen erg aan ons taal het nie. In sulke omstandighede moet ’n mens ten minste sterk op jou regte aandring, en as daar nie gehoor aan gegee word nie, is VEG in ’n metaforiese sin of selfs in die letterlike sin onafwendbaar, tensy jy iemand se slaaf of oorheers wil word, maar dan moet ’n mens ’n gebore masochis wees.”

Praag het ’n uitgewersafdeling wat Dan se boeke uitgee, asook vertalings van Günter Grass, Albert Camus, Stephen Smith, Een jaar van Jean Echenoz, en die dramas van George Weideman en Nico Luwes wat die wenners was van die eerste Sanlamprys vir drama. Dan het Echenoz se Een jaar gekies omdat dit ’n toeganklike teks is en Echenoz se werk van die beste voorbeelde van eietydse Franse letterkunde bied. Hy was só vasberade om “boeke van goeie gehalte” by Praag te publiseer dat hy twee van sy Italiaanse sportmotors verkoop het om geld vir die projek in die hande te kry.

Vir Dan is vertalings ’n belangrike deel van die letterkunde en deur vertalings word wêreldliteratuur aan Afrikaners bekendgestel. Ook is Afrikaans vir hom ’n universele taal, verduidelik hy aan Stephanie Nieuwoudt in Beeld van 8 Junie 2004: “Ons behoort tot die Germaanse taalfamilie, wat oor meer as 120 miljoen sprekers beskik. Paul Kruger en Bismarck kon mekaar verstaan as elkeen sy huistaal gepraat het. Dit is nodig dat ons belangrike internasionale werke ook in Afrikaans lees en ontslae raak van die filistynse luiheid om Engels as ons venster op die buiteland te beskou.”

In ’n onderhoud met Rooi Rose van Augustus 2001 het Dan gesê: “Die krag van Afrikaans en sy blink toekoms is vir my opgesluit in die kreatiwiteit en passie van die mense wat dit praat. Daar is iets unieks en bewonderenswaardig aan Afrikaners, anders sou hulle en Afrikaans nie in taamlike moeilike omstandighede tot hier kon gekom het nie.”

In 2012 sê Dan aan LitNet: “Ek is nou minder seker oor die toekoms van Afrikaans. Die taal se lot was nog altyd gekoppel aan die politiek en die Suid-Afrikaanse staatsbestel. Tans boer ons natuurlik al hoe verder agteruit. Toe ek dit tien jaar gelede voorspel het, het Tim du Plessis en ander dit net afgelag, maar die probleem is dat die meeste Afrikaners geen insig in linkse denke het nie. Hulle verstaan nie die meesleurende aard van ’n linkse revolusie nie en kom dit ongelukkig te laat agter. Indien Afrikaners maar net so voortploeter soos nou, dink ek hulle gaan alles - ook hul taal en kultuur - verloor en gaan hulle oorsee in Engelssprekende lande verengels, soos wat reeds met ’n groot deel van ons jeug gebeur. Ek glo egter in wonderwerke, in mense wat dikwels op ’n gegewe moment opstaan om die bykans onmoontlike te vermag. Die geskiedenis is vol sulke oomblikke.”

Dan se eerste publikasie ná sy terugkeer na Suid-Afrika was ’n opstel getiteld Om die Waarheidskommissie te vergeet wat in 2001 by Praag verskyn.

Pieter Duvenage (Beeld, 23 April 2001) skryf in sy resensie van bogenoemde opstel dat niks meer seker is nie. “Ons lewe in ’n tydsgewrig waar Afrikaners, Afrikaanses en Suid-Afrikaners almal uitgelewer is aan die grondverskuiwende politieke veranderinge sedert 1994. In die Afrikaanse wêreld, veral vanweë die sterk verbintenis tussen Afrikaners (Afrikaans) en apartheid, woed daar ’n intense denkstorm oor ons individuele en kollektiewe skuld al dan nie.

“Benewens die hete debatte in koerantkolomme en belangrike boekbydraes (van Van Zyl Slabbert, ZB du Toit, Willem de Klerk en Chris Louw), was daar die indrukwekkende debat tussen Danie Goosen en Wilhelm Jordaan.

“Teen dié agtergrond het mens met verwagting na die bydrae van een van die rumoerigste figure in dié debat, Dan Roodt, uitgesien. Roodt, goeie retorikus wat hy is, is die meester van die brisante formulering en flitsende gedagte in koerantkolomme, briewe en bydraes op LitNet. Die uitdaging van die filosofiese essay, waarin hy hom argumentatief kan opstel, stel egter ander eise. Dit is op hierdie punt wat ’n mens by voorbaat jou hart vasgehou het, want ten spyte van Roodt se skerpsinnige ontledings oor nuwe vorme van etnosentrisme en taalimperialisme in die huidige politieke konteks, het hy reeds met sy eerste opmerkings rondom die WVK (op LitNet) met ’n uiters problematiese geskiedenis-opvatting vorendag gekom.

"Roodt se bydrae bestaan basies uit twee dele. In die eerste plek bied hy uitvoerige argumente aan waarom ons die WVK moet vergeet en in die tweede plek bied hy ’n alternatief tot die WVK aan wat behalwe vergeetagtige verontskuldiging, ook op ’n sogenaamde veranderingsmodel (pp 20–27) en ’n alternatiewe lesing van geweld in die Suid-Afrikaanse konteks neerkom."

Duvenage vervolg: “Roodt se kritiek op die WVK kom op die volgende neer. Dit volg ’n totaliserende logika waarvolgens daar net één interpretasie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis (naamlik die WVK s’n) moontlik is. Daarmee verdwyn die verwikkelde aard van die Suid-Afrikaanse geskiedenis en veral dié van apartheid (11, 13–18).
“Dan het Roodt dit teen die etniese vooroordeel van die kommissie wat grens aan die verdoeming van die wit Suid-Afrikaner en meer spesifiek die Afrikaner (13, 45, 69–70). Op ’n meer tegniese vlak word kritiek teen die WVK se gebruik van die leerstuk van die morele nie-gelykstelling van die opponerende partye en die idee van ’n regverdige oorlog geopper (30–42).

“Uiteindelik is sy slotsom dat die kommissie nie eens die basiese vereistes vir sy institusionalisering, die neutrale hantering van waarheid en versoening in ’n komplekse samelewing, nagekom het nie. Watter potensiaal daar ook moontlik in Roodt se kritiek op die WVK skuil, word dit myns insiens, behalwe sy ahistoriese oproep tot vergeetagtigheid, ook deur die koorsagtige haas waarmee dit gedoen word, ontsier. Hierdeur gaan belangrike nuanses rondom die WVK verlore.”

Duvenage voel dat Roodt se filosofiese opstel misluk, omdat sy alternatief tot die WVK nie ’n grondige politieke basis het nie. Verder is sy siening van die geweld in Suid-Afrika ook eensydig. Duvenage meen dat daar wel etniese eienskappe in die gewelddadige geskiedenis van Suid-Afrika is, maar Dan Roodt sien nie strukturele eienskappe wat ook aanleiding tot die geweld gegee het raak nie.

Duvenage sluit af: “Dan Roodt is ’n belangrike provokatiewe stem in die huidige Suid-Afrika. Sy satiriese en polemiese styl val egter in die genre van die filosofiese opstel vas. Hoewel hy die deur op ’n belangrike Suid-Afrikaanse debat oopmaak, storm hy oor ’n drumpel waar engele en wyses huiwerig sal beweeg.”

Dan is egter nie ’n persoon wat bang is om “oor drumpels” te storm nie. As hy voel ’n saak het meriete en iemand of iets word te na gekom, sal hy nie huiwer om as voorstander van die persoon of saak na vore te tree nie. Sy aksies grens soms só aan die reaksionêre dat dit hom sy rubriek in die Sondagkoerant Rapport gekos het.

John Miles, die skrywer, meen dit is bloot Dan se aard (Kirby van der Merwe se onderhoud in Insig): “Dan Roodt is bedraad om altyd in stryd te wees. Die Afrikanersaak is vandag (2004) ’n nuttige kwessie waardeur hy sy rebelsheid kan uitleef. Was dít nie daar nie, sou hy wel vinnig ’n ander saak gevind het.”

Hieroor laat Dan hom as volg teenoor Kirby van der Merwe uit: “Dit is net omdat mense ’n verkeerde beeld van my het. Die pers en die media skep ’n beeld van my wat nie altyd akkuraat is nie en niks met my te make het nie. Miskien is my geweldige rebelsheid in die verlede oordryf. Goed, ek was in daai dae baie rebels, maar ek het nog altyd baie sterk op Afrikaans gestaan. Maar ’n mens se politieke en intellektuele vyande het egter dieselfde gebly. Destyds sou ek en Marthinus van Schalkwyk nie om dieselfde vuur gesit het nie en dis nog steeds die geval. Ek was nog altyd aan die verkeerde kant.”

Oor hierdie passie vir Afrikaans wat Dan nog altyd gehad het, het Johann Lodewyk Marais op 30 Augustus 1999 in Beeld ’n brief geskryf: “Die waardering wat JPS du Toit van Pretoria uitspreek vir die kritiese vrae wat die skrywer Dan Roodt aan die Suid-Afrikaanse Nobelpryswenner Nadine Gordimer rig oor haar pejoratiewe uitbeelding van die Afrikaner in haar skryfwerk (Beeld, 26 Augustus) het my aan ’n ander geleentheid laat dink wat verdien om weer oorvertel te word. Ek doen dit soos ek dit kan onthou.

“Dit was in Julie 1985, op ’n byeenkoms van die Afrikaanse Skrywersgilde by die Universiteit van die Witwatersrand. ’n Hele paar voorste Suid-Afrikaanse skrywers, waaronder Nadine Gordimer (en JM Coetzee), het die middag opgetree. Gordimer het ’n toespraak afgesteek waarin sy (myns insiens) as ’n selfaangestelde regter oor die Suid-Afrikaanse letterkunde oorgekom het. Dan Roodt het daarna opgestaan (behoorlik gecollar en getie, onthou ek duidelik) en ’n goed bewoorde en deurdagte vraag in Afrikaans aan Gordimer gestel. Sy het onmiddellik selfvoldaan geantwoord dat sy nie verstaan nie. ’n Stilte het gevolg, met Gordimer en Roodt wat mekaar aangluur. Uiteindelik het Roodt op versoek van die voorsitter van die sessie, Jeanette Ferreira, die vraag teësinnig herhaal in foutlose Engels.

“Presies waaroor Gordimer se toespraak en Roodt se vraag die middag gehandel het, kan ’n mens gaan kyk. Vir my is Roodt se uitdaging van hegemonie in al sy/haar gedaantes egter belangriker. (Dié middag in 1985 klaarblyklik na aanleiding van iemand wat weinig benul het van wat in die Afrikaanse en waarskynlik ook ander Afrikataal-letterkunde aangaan omdat sy die tale nie kan of wil verstaan nie, maar haar tog meermale heel stellig daaroor uitlaat.)

“Hierdie optrede van Roodt bly een van die skitterendste vertonings by die eertydse Afrikaanse Skrywersgilde wat ek ooit meegemaak het. Roodt se vrae aan Gordimer (in 1985 en 1999) en sy kritiese ontleding van onder meer die Waarheid-en-Versoeningskommissie se verslag vroeër vanjaar op LitNet is voorbeelde van ’n durf wat nodig is om die oop gesprek waarvan NP van Wyk Louw gepraat het, in Suid-Afrika voort te sit.

“So open hy nuwe moontlikhede vir betekenisvolle gesprekvoering oor taal- en kultuurgrense heen, maar dan sonder ’n ekskuus-dat-ek-lewe-houding.”

In ’n brief aan Beeld van 6 September 1999 oor Gordimer het Dan in ’n naskrif aan Johan Lodewyk Marais geantwoord: “My oorspronklike vraag in 1985 het natuurlik gegaan oor hoe Gordimer haar verwysings na die strukturalis Levi-Strauss versoen met haar kwasi-Bybelse opvatting van die Woord, want uiteraard impliseer strukturalisme ook anti-humanisme. Tot vandag toe dink ek nie sy neem denke ernstig genoeg op om tussen twee verskillende taalopvattinge te onderskei nie.”

In die onderhoud met Kirby van der Merwe word daar gepraat van wat mense van Dan Roodt dink en een ding is seker: die reaksies is nooit lou nie. Hannelie Booyens, ’n joernalis, was al by meer as een geleentheid in ’n woordewisseling met Dan gewees en sy sê reguit aan Van der Merwe: “Die man is ’n f**n fascis. Miskien verduidelik ’n quote uit my favourite B-grade sci-fi movie hom die beste: ‘He is evil and must be destroyed.’ Of dalk moet ek ’n bietjie voortborduur op my teorie dat hy besig is met die grootste absurdste truuk van performance art in die geskiedenis van die mensdom.”

Koos Kombuis, wat as André Letoit in Taaldoos gepubliseer het, het die volgende van Dan geskryf: “In Suid-Afrika is daar vandag ’n sekere persoon wie se statements in die media so belaglik, so naïef en so beledigend vir die gemiddelde denkende mens se intelligensie is dat mens liefs niks verder van hom moet hoor nie. Plaas hom in huisarres, of as dit prakties onuitvoerbaar is, konfiskeer sy donnerse computer. Verban sy briewe van ons koerantblaaie. Boikot sy gedagtes, want hulle vergiftig ons en ons kinders se gedagtes met negatiwiteit. Hy is ’n gevaarliker invloed op ons kultuur as Nigeriese misdaadsindikate. Hy is selfs gevaarliker as boy bands.”

Van der Merwe gaan voort: "Willie van der Grijp van die destydse HNP het Dan daarvan beskuldig dat hy vandag ’n kwasi-regse is. Hy noem hom ’n skynregse en bevraagteken ook sy moraliteit omdat hy ingewillig het om Kleinboer se Kontrei uit te gee nadat linkse uitgewers geweier het om die boek te publiseer. Volgens Van der Grijp maak die boek ’n bespotting van apartheid en die Afrikaner se geloofsoortuigings en word Afrikaners daarin “op die mees onsedelike wyse denkbaar verneder en in ’n swak lig gestel. Dit is presies dieselfde aantygings wat Dan na Marlene van Niekerk oor Triomf geslinger het."

Oor al die negatiewe dinge wat na Dan geslinger word en die name wat hy genoem word, is Dan heel filosofies teenoor LitNet: “Ek dink ek was seker maar nog my hele lewe stroomop. Izak de Villiers het eenkeer vir my gesê: In die ou dae was die NP reg en hy verkeerd en nou is die ANC reg en hy is steeds verkeerd.’ Ek dink mense wat my so aanval, doen dit meesal uit onkunde. Ons het ook ’n groot probleem met die Afrikaanse media wat heeltemal te gekonsentreerd geraak het en daarom is ’n mens óf in hulle guns óf glad nie. Dis amper soos die ou Sowjetunie waar skrywers in onguns verval.

“Daarom pla dit my nie so vreeslik as mense my op ’n dom manier aanval nie. Dis net waar dit so lasterlik en kwaadwillig raak dat ek voel daar is grense of daar behoort te wees as dit by kwaadwillige voorstellings en stereotipering kom. Dis ook ’n geval van ‘skiet die boodskapper’. Omdat ek nugter genoeg is om dinge te beskryf soos hulle is of om die nabye toekoms min of meer te voorspel soos dit gaan gebeur, neem mense my daarvoor kwalik dat ek hulle saligheid voor Saterdag se rugby of vanaand se sepie bederf. ’n Groot deel van die Afrikaanse media en meningsvormers verkeer in ’n toestand van ontkenning en konstrueer ’n fantasiewêreld vir hul lesers met mense soos ek wat dan met die ’nare werklikheid’ geassosieer word, dít wat weggewens moet word.

“Ons leef egter in ’n tyd van kultuurkonflik, nie net in SA nie, maar ook in die res van die wêreld. Vandaar dus die skerp meningsverskille en amper godsdienstige ywer waarmee mense sekere maatskaplike en politieke opvattings soos byvoorbeeld die multikulturele samelewing aanhang. Meer en meer voel dit soos die botsing van teologieë en nie meer ideologieë nie. Figure soos Galileo of Voltaire inspireer my. Wanneer ’n mens die gangbare mening van jou tyd uitdaag, moet jy seker verwag om een of ander tyd deur die heersende orde met die dood gedreig te word.”

Dana Snyman sê ook aan Van der Merwe: “As Dan in Ventersdorp se kroeg ’n kappie gaan maak met die manne wat hulle vereenselwig met wat hy verkondig, sal hulle mekaar nie herken nie.”

Kirby van der Merwe wou weet: "Is alles maar net vir jou ’n intellektuele spel en sal jy jou ooit kan vereenselwig met daardie Afrikaners vir wie jy praat?"

Dan se antwoord is dat dit nie waar is nie. “Ek was nog nooit in my lewe snobisties of enigiets van die aard gewees nie. Ek was ’n hele naweek saam met ’n klomp boere in Noord-Transvaal. Ek en Karin het al saam met ’n joernalis van Beeld na armoede in die Vaaldriehoek gaan kyk. Ek het groot empatie met gewone Afrikanermense wat sukkel. Jy weet, dit maak nie eintlik saak hoe arm Afrikaners is nie, uiteindelik het hulle nog ’n sekere minimum vlak van beskawing. Ons het ons skole en ’n hele opvoedingstelsel wat ons oor jare opgebou het. ’n Mens het daarom altyd iets gemeen. Daar is altyd ’n kulturele substraat.

"Daar is niemand anders wat die groot ridder vir Afrikanerregte is nie, dus neem ek dit op my. Daar is eenvoudig nie leierskap nie – dis hoekom ek nou half, ja, iewers in die kalklig is of aan die voorpunt van een of ander aksie. My prioriteit lê vir my nie by die Xhosas of die Engelse nie, maar by die Afrikaners, want dis hulle wat die slegste daarvan afgekom het, wat op die plase vermoor word, wie se universiteite oorgeneem word, wie se kole verengels word. Hulle het my die nodigste.”

In ’n onderhoud met Hanlie Retief in Rapport in 2000 sê hy: "Ek sien ook myself as die katalisator vir taalsolidariteit onder Afrikaners. Ek het nie bagasie uit die verlede nie, ek was nie in die weermag, of ’n Broederbonder of Junior Rapportryer nie. Ek kan vars na die situasie kyk en my insigte in filosofie en die letterkunde is ter sake, want dis baie ingewikkelde kwessies.

“In die sestigs toe hulle geargumenteer het oor betrokkenheid, het André Brink gesê betrokkenheid impliseer dat jy iets aan die werklikheid wil verander. Ek is betrokke. Ek wil die taalbedeling in Suid-Afrika verander.

“Ons kan nie teruggaan na voor 1994 nie. Die ideale situasie is ’n federale taalbeleid in Suid-Afrika, met twee hooftale wat landwyd erkenning geniet. Afrikaans word tog landwyd gepraat. Daar behoort drie tot vier amptelike tale op streekvlak te wees, en moedertaalonderrig.”

Dan en Karin bly op die gholflandgoed, Dainfern, in Johannesburg, en hulle het drie kinders, ’n tweelingdogter, Octavia, en –seun, Tristan, en nog ’n seun, Alexander. Die geboorte van die tweeling in 1995 het Dan onder die indruk gebring van hoe kinders altyd ’n mens se denke en ingesteldheid beïnvloed. “’n Alleenloper of ’n paartjie leef vir hulself of vir die oomblik, maar sodra ’n mens kinders moet grootmaak, raak jy baie meer besorg oor die toekoms en oor stabiliteit. Elke ouer wil waarskynlik hê dat sy kinders in ’n gesonde, veilige omgewing moet grootword, iets wat ons natuurlik nie meer in Suid-Afrika het nie.” (Aan LitNet.)

In 2004 het Dan die moontlikheid begin opper dat daar ’n Afrikaanse tak van die internasionale skrywersorganisasie PEN in Suid-Afrika gestig moet word, hoewel daar reeds ’n Suid-Afrikaanse Pen bestaan het. Oor sy redes daaragter het Dan aan Kirby van der Merwe op LitNet gesê: “Toe ek aanvanklik aan die gedagte van ’n Afrikaanse PEN gekom het, het ek kontak opgeneem met die sogenaamde South African PEN in Kaapstad om hulle mening oor die saak te toets. Die hoof van South African PEN het geen beswaar daarteen gehad nie, en kon insien dat die kwellinge van Afrikaanse en Engelse skrywers in Suid-Afrika hemelsbreed verskil. Ná alles word Engels as taal nie in Suid-Afrika bedreig nie: hulle verwyder nie Engelse boeke uit universiteitsbiblioteke om hulle te verpulp of gooi argiefmateriaal op die ashoop of verbied mense om Engels by die werk of op die skoolterrein te gebruik soos by die Cornwall Hill-skool met Afrikaans gebeur het nie. Sover ek weet, is geen Engels-departement aan enige van die universiteite nog ooit gesluit nie.

“Die situasies van Engels en Afrikaans in Suid-Afrika verskil radikaal. Ook is hulle nie onderling verstaanbaar nie, sodat ons moeilik sonder tolke kan kommunikeer of sonder om een taal soos Engels te laat oorheers. Ons literêre tradisies is werklik heel uiteenlopend en daarom maak dit sin om minstens twee PEN-sentra in die land te hê. As ek reg verstaan, is die maksimum wat PEN Internasionaal per land toelaat, vyf. Indien die skrywers wat in die ander SA tale skryf dus nie gou spring nie, gaan iemand iewers agterbly.”

Willem Fransman, jr (ook op LitNet) wou weet of Dan bewus is van die bestaan van die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) en dat hulle sedert 1995 lidmaatskap verskaf aan alle Suid-Afrikaners wat in Afrikaans wil skryf. “Ek is bewus van die bestaan van so ’n organisasie. Ekself (asook ander skrywers) definieer my nie as ’n ‘Suid-Afrikaner’ of ’nuwe patriot, of wat mens dit ook al wil noem nie. Die hele gedagte van ’n Afrikaanse PEN is juis dat ons wil wegkom van ’n politiekery rondom letterkunde en die universele aspek daarvan wil beklemtoon, tesame met ons verbintenis aan Afrikaans. Omdat Afrikaans grotendeels ’n staatlose taal geword het, is daar groot behoefte aan internasionale kontak vir ons skrywers en daarom sou lidmaatskap van PEN meer gepas wees. Persoonlik is ek ten gunste van gesprek en kontak tussen alle skrywers in die land, waar dit sinvol is. Dit geld ook die verskillende skrywersverenigings van die verskillende taalgroepe, of op watter basis skrywers ook al met mekaar wil assosieer. Dit sou sekerlik onwenslik wees dat alle skrywers in die land onder ’n verpligting sou verkeer om aan ’n enkele skrywersvereniging soos die Sowjetskrywersvereniging in die voormalige Sowjetunie te behoort. Dit sou ook moontlik wees vir skrywers om aan meer as een vereniging te behoort, na vrye keuse.”
Philip John (op LitNet) het aan Dan gevra hoe ’n Afrikaanse tak van PEN versoenbaar is met PEN se bevordering van die belange van skrywers op ’n niesektariese grondslag. Hierop het Dan geantwoord dat John hom eers op hoogte moet stel van PEN se grondbeginsels en handves voordat hy so ’n vraag vra. “Artikel 1 van die PEN-handves stel dit baie duidelik: ‘Literature, national though it be in origin, knows no frontiers, and should remain common currency between nations in spite of political or international upheavals.’
"Ons het die handves reeds in Afrikaans vertaal, maar ten einde geen onduidelikheid te laat nie, word dit hier in die amptelike Engels aangehaal. Letterkunde is ’nasionaal van oorsprong’, wat ook impliseer dat dit in verskillende tale geproduseer word. Letterkunde moet ’n gemeenskaplike medium tussen volkere bly, ongeag die politiek. In Suid-Afrika word die Afrikaanse letterkunde tans om politieke redes misken omdat dit draer sou wees van ’n ongewenste identiteit. Internasionale PEN sou juis ons reg op ’n eie taal en eie letterkunde wou verdedig téén die sentralistiese wense van die SA regering. Een van PEN se oogmerke is juis die bevordering van letterkundes in kleiner tale soos Afrikaans. Daar bestaan, benewens ’n Spaanse PEN, ook ’n Katalaanse, naas ’n Waalse, ook ’n Vlaamse, ens.”
Dan het verder op LitNet verduidelik: "Die waarde van ’n skrywersvereniging lê in die uitruil en kruisbestuiwing van gedagtes, die medewerking aan ’n gemeenskaplike doelwit wat die bevordering van die Afrikaanse taal en letterkunde is. Dit is ook baie naïef om te dink dat skryf, soos masturbasie, ’n aktiwiteit is wat op eie houtjie verrig word! Die literatuurteorie van die twintigste eeu, vanaf die Russiese Formaliste, het juis aangetoon dat skrywers in ’n groot mate met tweedehandse stof omgaan, dat hulle bloot herskryf wat reeds geskryf is. Taal is ’n kollektiewe medium waardeur ons omring word van ons geboorte af. Die skrywer skryf nie net in ’n bepaalde taal nie, maar ook binne ’n bepaalde tradisie. Dit is min of meer wat Julia Kristeva met die term interteks bedoel het.”

Kirby van der Merwe wou weet watter versekering het skrywers wat by die Afrikaanse PEN sou aansluit dat die organisasie nie vir ’n politieke agenda gekaap gaan word nie?

En Dan se antwoord was: “Die Afrikaanse PEN word gebind deur die beginsels van PEN Internasionaal, wat in wese ’n nie-politieke organisasie is. Persoonlik sou ek wou hê dat ons politiek eerder nie vanuit PEN bedryf nie, maar vanuit ander organisasies wat meer geskik is daarvoor. Ek dink dat ons binne PEN moet fokus op die bevordering van letterkunde, ’n leeskultuur, vertaling, boeke en alles wat daarmee saamhang. Hier en daar sal ons seker ons stem moet dik maak oor die gebrek aan aankope van biblioteke, die regering se afsydigheid teenoor die boek, en dergelike meer, maar in die geheel dink ek nie dit sal ’n groot deel van ons aktiwiteite of verklarings uitmaak nie.”

In 2006 het die internasionale PEN die aansoek om ’n Afrikaanse tak van PEN in Suid-Afrika goedgekeur ten spyte van die teenkanting van mens soos Nadine Gordimer, Willem Fransman jr, terwyl mense soos Anthony Fleischer, president van SA PEN en Raymond Louw, SA PEN se verteenwoordiger, ten gunste daarvan was.

In 2004 word Moltrein by Praag uitgegee. Teenoor Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 8 Junie 2004) som Dan Moltrein as volg op: "Dit is ’n romanse vir die leser wat iets meer verwag as man ontmoet meisie op ’n tropiese eiland. Jy kan dit ’n post-postmoderne liefdesverhaal noem. Anton du Preez is ’n onsuksesvolle pianis en komponis wat heelwat tyd in die Paryse moltreinstelsel deurbring totdat hy die fabelagtig ryke Erika ontmoet. Sy verlos hom uit die verveling van ’n middelmatige bestaan as moltreinpassasier, en hulle besoek allerlei interessante plekke en restaurante, met ’n oordaad aan seks en literêre verwysings. En natuurlik ondergrawe die hele boek ons begrip van apartheid deur dit te verestetiseer."

Daar is outobiografiese elemente in Moltrein, vertel Dan aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 8 Junie 2004), maar in die geheel moet dit as fiksie gelees word. Daar is fundamentele verskille tussen Dan en die hoofkarakter. “Hy speel baie beter klavier as ek, terwyl ek weer beter as hy ski. Soos Nabokof egter oor een van sy vroeë romans gesê het: ‘Die pret daarvan is nie in die outobiografiese dele nie, maar elders, in die konstruksie, die temas, leitmotiewe, ensovoorts.’”

Oor die titel Moltrein sê Dan hy hou van die woord “moltrein” wat in geen ander taal ter wêreld bestaan nie en op sigself ’n ryk beeld is. “Dit som ook Parys op, die moltreinstelsel met sy doolhof van gange en stasies waarin die vreemdeling verdwaal kan raak. Dit verteenwoordig natuurlik ook dít wat die Franse ’n voyage sur place, ’n reis op dieselfde plek, noem; want hoewel jy duisende kilometers ondergronds kan aflê, bly jy maar in dieselfde stad. In die boek roep die naam van elke moltreinstasie iets by die hoofkarakter op, en beskik dit oor assosiasies wat hom terugvoer na sy verlede.”

Dan was nie bang dat die lesers van Moltrein die boek teen die agtergrond van sy politieke-aktivis-persona sou lees nie. “In Suid-Afrika is ons swak met definisies. Die Engelse het die Afrikaners jare lank ‘regses’ genoem, en nou het hulle self begin glo dat as jy Afrikaans wil praat en jouself ’n Afrikaner noem, is jy ’n regse. Eintlik is dit dom. Ek vind egter dat buiten ’n handjie vol mense wat hulself as ‘links’ beskou en nog nie agtergekom het dat die Berlynse Muur geval het nie, daar min mense is wat sulke vooroordele teen my koester. In elk geval is dit ’n teken van jou volwassenheid as leser as jy ’n boek op sy eie kan beoordeel sonder om te wonder of jy van die skrywer se politiek hou al dan nie. Anders het ons seker nie meer Céline of Breyten Breytenbach gelees nie.

"Daar is dieselfde soort outoriële selfbewussyn, die spel met werklikheid en fiksie tussen my nuwe skryfwerk en Twee sinne en Sonneskyn en chevrolet, hoewel dit minder prominent in Moltrein is. Ook die aanhalings en verwysings na ander skrywers kom volop in albei voor."

André P Brink (Rapport, 6 Junie 2004) was nie baie vleiend in sy resensie oor Moltrein nie, hoewel hy dit nie as ’n algehele mislukking beskou het nie. “Plek-plek was die lees daarvan nogal meevoerend, veral in die reishoofstukke, insluitende die ski-episode. Roodt sê self, deur die spreekbuis van Anton du Preez, dat Hitler darem ook mooi snelweë laat bou het. En sulke snelweë kom die leser ook plek-plek hier teë, meestal in los tonele of soms pikante segswyses, die oopgelate einde.

“Maar dan tuimel die swaarwigtigheid weer daaroor – en ook die baie skryffoute in Afrikaans (dit komende van iemand wat so gesteld is op korrekte taalgebruik), die lomp en soms gewoon foutiewe hantering van die verlede tyd, die banaliteit, die oorvereenvoudigings oor Europa én Suid-Afrika, die vernaamdoenery en wysneusighede. Aan die einde van die boek voel die leser soos Anton toe hy die eerste keer die moltreinwêreld verlaat het: dis ’n genade om net weer lug te skep.”

Joan Hambidge (Die Burger, 14 Junie 2004) was meer positief oor Moltrein en het in haar resensie soos volg geskryf: “Moltrein kan ook net as storie gelees word, maar die uitsnuffel van al die intertekste – soos ’n weggooi-verwysing na die mistisisme – maak dit vir die letterkundige leser ’n plesierrit. Die roman bewys dat tekste buite die sisteem – soos Kontrei van Kleinboer – hoogs noodsaaklik is, omdat dit die stereotiepe idee van wat ’n goeie of groot roman nou eintlik behoort te wees afbreek. Boonop is die skrywer, soos in Houellebecq se Atomised en Plateforme (Platform), vreesloos voor die stereotiepe of die polities korrekte versugting.

“Daar word ’n genuanseerde blik gegee op die taalpolitiek. In die verhouding met ’n geliefde wat aan die Kommunistiese Party behoort, word die liefde ook as ’n ideologiese konstruksie geanaliseer. Barthes het immers hierdie toestand ook in sy D’un discours amoureux (A lover’s discourse) geanaliseer. Ook Barthes se siening van die doksa kom aan bod – dit wat ‘waar’ of ‘geldig’ is. Die balans tussen slim toespelings (soos die betekenis van ski) en bronstige vertelling word puik volgehou. Sjampanje, duur klere, die betekenis van die Eiffeltoring, musiek, Ferrari’s word as tekens uitgestal. Die leser beweeg voortdurend tussen die ondergrondse toespelings en die bogrondse verhaal oor ontheemding en verlies. Dit is nie net ’n kulturele verlange wat geskets word nie, maar ook die pynlike verlies aan ’n geliefde.

“Waarskynlik sal lesers wat nie van Roodt se taalpolitiek hou nie, negatief wees teenoor die roman. Die roman bewys egter Barthes en Foucault se stellings oor die ‘dood van die outeur’ reg: die teks het sy eie drif, beweging of energie, onafhanklik van die werklike of konkrete outeur. I was gobsmacked.”

Ook Hennie van Coller (Volksblad, 11 Oktober 2004) was positief oor Moltrein. "Moltrein sluit aan by Roodt se bewuswees van die literêre tradisie waarteen ingeskryf word, asook van sy ikonoklasme wat min ontsien wat, soos reeds genoem, kenmerke was van sy debuutromans.

"Dit is ’n roman wat van meet af aan ’n gesprek aanknoop met die werk van belangrike Sestigers soos Brink, Rabie en Leroux. Met die eersgenoemde twee skrywers in die eerste plek oor die beeld van Parys wat in sommige van hul werke gestalte gekry het; met Leroux op grond van die pikareske inslag van sy werk én van die hantering van die (satiriese) reisverhaal.

“Parys het in die Afrikaanse letterkunde al mitiese proporsies begin aanneem, veral in die werk van André P Brink. (...) In Roodt se Moltrein kry ons die vernietiging en uitholling van hierdie (en talle ander gevestigde) mites. Die hoofpersoon is Anton du Preez wat, gewapen met sy Franse van, die Paryse hoofstad aandurf.

“Die ontvlugting na Parys bied hom die geleentheid om militêre diensplig in Suid-Afrika te ontduik, maar hy word veral gedryf deur sy droom om ’n konsertpianis te word. Gou besef hy die futiliteit van sy ambisie en word ’n klavier-onderwyser van veral verwende rykmanskinders. Sy groot vleuelklavier dwing hom om ’n groot woonruimte te bekom – ’n bekostigbare woonstel in die hoerebuurt. Hier word prostitusie totaal ontdaan van die romantiek wat dikwels in die kuns daaraan toegedig word. Boonop moet hy vir sy klavierlesse Parys met die moltrein deurkruis, en betree so ’n onderaardse bestaan van donkerte en eensaamheid. Hierdeur alleen al word ’n streep getrek deur die opvatting dat die estetiese (‘Kuns’ met ’n hoofletter) betekenis verleen aan ’n menselewe.

“Nie verniet nie is die mol die argetipiese beeld van ondergrawing en ondermyning. Anton se eksistensiële protes kry aanvanklik beslag as opstand teen die Franse burokrasie deurdat hy besluit om op onwettige wyse gratis op die moltreine te ry; ’n praktyk met verreikende gevolge vir hom as buitestander. Maar sy opstand neem ook ander vorme aan. Hy ondermyn byvoorbeeld aanvanklik die verwagtinge wat kommunistiese Franse het aangaande rassistiese Suid-Afrikaners, ondergrawe later die euforie wat heers oor die ’nuwe Suid-Afrika’ deur te wys op die onderdrukking van Afrikaans én skryf die wêreldwye afkeer van apartheid toe aan buitelanders se eie onverwerkte skuld oor die Joodse vervolging en aan die behoefte aan ’n sondebok. (...)

“Gou raak die moltrein die sentrale metafoor van die roman. Hierdie onderwêreld van Parys verskil byvoorbeeld opmerklik van byvoorbeeld Brink se Parys in Die ambassadeur waar die hoofpersoon met luukse motors deur breë boulevards vervoer word. Op bewustelike wyse (kyk bll 38, 43 en 67) raak die getekende onderwêreld beeld van ’n bestaan waar mense naas en langs mekaar beweeg, party mekaar selde ontmoet, en ander weer voortdurend met mekaar in aanraking kom. Die mens as willose slagoffer van toeval (Noodlot) staan hier sentraal. Op bl 30 dink Anton hoe vreeslik dit moet wees om naamloos in Parys te sterwe, ver van die bekende; ’n wrang vooruitwysing na sy eie enigmatiese dood (bl 297) en verwant aan die bekende Roland Barthes se einde.

“Die bykans parodiërende inskryf teen veral Brink word dalk die beste geïllustreer deur Roodt se hantering van die seksuele in hierdie roman. (...)

"Roodt se inskryf teen Brink is derhalwe óórduidelik. Dit ontluister Parys as romantiese kunstenaarsmekka, is ’n travestie van Brink se seksopvattings, spot met die kunstenaarsgewete en met politieke regskapenheid én dryf deur die omslag, die motto’s en die aaneenryg van talryke sitate uit boeke, intertekstualiteit op die spits. Daarom is die hoofkarakter geen held nie, maar vanweë sy romantiese en nostalgiese ingesteldheid iets van ’n anachronisme. Hierdeur is hy verwant aan Leroux se pikareske knolskrywer, wat in Isis Isis Isis voortdurend reis en deur kos en drank en seks wanhopig probeer om vastigheid te vind en sy eie identiteit te skep.

“Dalk is die hoogtepunt in die roman die wyse waarop getoon word dat die moderne mens sy eie identiteit slegs plaasvervangend kan skep, onder meer deur die vashou aan ontwerpersklere en handelsname, eksotiese geregte en duur drank. Hierdie ‘fictional dreck’ vorm die boustene van ons bestaan en is in hierdie roman gelaai met erotiek.

“Dit is ’n onthutsende boek waar (soos in die geval van Brink se Donkermaan) dit nie altyd duidelik is of narratiewe gebreke onbedoeld is of deel van die parodie nie. Wat my bybly, is nie die metafiksionele spel nie, ook nie die politiek inkorrekte uitsprake of selfs die ontluisteringstegnieke nie. Wel die aktualisering van die modernistiese grootstadroman, wat hier sonder die moderniste se intellektualiteit ten tonele gevoer word. Want hier is ’n onderliggende pessimisme oor mens en wêreld voelbaar, ’n eietydse eksistensiële wanhoop aangesien niks meer durende uitkoms bied nie.”

Op LitNet het Deborah Steinmair geskryf dat daar van haar as shock jock natuurlik nie verwag kan word om al die narratiewe strukture raak te sien en al die Franse en Duitse subtekste op die punte van haar vingers te hê nie. “As LESER en closet Parysverskrikte het ek die lywige wit boek boeiend gevind. Dit is propvol inligting oor die gatkant en sjokoladekant van Parys, oor watertand disse, peperduur drank en boetiekuitrustings. Die mens agter die Afrikaanse boek bly hom of haar onvermydelik opdring aan die leser. In die geval van Moltrein, waar die protagonis langerig, skraal en elegant geklee is met ’n uitdrukkinglose gesig en droewe kyk in die oë, het dr Roodt onvermydelik op my innerlike bioskoopskerm opgedoem.

Moltrein bied die leser ’n sekere ‘kick’ - hoewel cliché-agtig – ’n mens kan jou vir ’n paar uur lank verbeel dat jy soos Lucy Jordan deur Parys jaag in ’n sportmotor met die warm wind in jou hare. Ongelukkig is die sinne soms ellelank, die taalgebruik dikwels gedateer en formeel. Daar word telkens van die verlede tyd gebruik gemaak, ’n vertelstyl wat in Afrikaans langdradig en onnodig is. Die verteller beskik genadiglik oor ’n kille oog en ’n lekker selfspot, hy vertolk homself met ’n knippie sout, delf dikwels die onderspit en sien sy gat letterlik en figuurlik teen sneeubedekte hange ver van sy vaderland. Die karakter van sy geliefde Erika bly egter vaag, soos die twee-dimensionele kartonpoppies waaraan ’n mens as kind die een dromerige uitrusting na die ander kon hang. Met haar voorkoms is die leser oorbekend: die voorspelbare blonde hare en blou oë, die egalige wit tande, die slanke nek, dun middeltjie, mooi boude en borste wat hygtydskrifte en motoronderdele-almanakke laat verkoop of waarop opblaaspoppe blykbaar universeel geskoei word. Haar psige bly egter ’n ongekaarte see.”

"Ek het verneuk gevoel omdat die boek vir my in die finale analise politieke propaganda is. Tussen die katedrale en Michelin-3-ster-etes, tussen die hete gekafoefel en afsuig in openbare plekke, duik daar immer weer, soos met subliminale suggestie, sinsnedes en paragrawe op oor die skoonheid, die edelheid, die miskenning van die Afrikaner, die wêreld se wanpersepsie en onregmatige stigmatisering van apartheid. Tot vervelens toe."

In 2007 publiseer Praag Aweregs met die subtitel politieke essays. Pieter Duvenage (Rapport, 23 Maart 2007) beskryf Aweregs as “vuisdik” met 537 bladsye wat bestaan uit sowat 100 politieke essays wat tussen 2000 en 2004 as meningsartikels in verskeie publikasies verskyn het en een akademiese bydrae oor die holistiese denke van Jan Smuts. Wat vir Duvenage die leeservaring bemoeilik, is die feit dat daar nie ’n tematiese of chronologiese volgorde is nie.

"Hoewel die fokus van Aweregs die ANC en Afrikaners is, word daar ook aandag gegee aan kwessies soos multikulturalisme, argitektuur, seksuele politiek, die Amerikaanse era, ’n postmenslike toekoms, sport en ons algemene waardekrisis.

"Aweregs is ’n omvangryke essaybundel met te veel perspektiewe vir een bespreking. Daar is wel tekortkominge. Dis te lank, loop die gevaar van herhaling en, met beter redigering, sou dit tematies en chronologies sterker gefokus het. Uit ’n inhoudelike oogpunt het die fokus op die ANC en Afrikaners beperkinge en hiermee word die groter verwikkeldheid van die Suid-Afrikaanse problematiek (veral die ekonomiese kant) onderspeel.

"Die meeste essays wek die indruk van gejaagdheid. Retories en satiries is hulle goed, maar jy voel dikwels die skrywer kon meer besinnend en dialekties met sy onderwerp(e) omgegaan het. En dit is jammer, want uiteindelik is die tragedie van die Suid-Afrikaanse openbare lewe ook die tragedie van Dan Roodt: te veel venyn en te min takt."

Dan lewer gereeld bydraes tot Focus, die tydskrif van die liberale Helen Suzman Stigting, rubrieke in American Renaissance, ’n tydskrif vir rasseverhoudings, verskeie wetenskaplike en akademiese tydskrifte in Suid-Afrika, Nederland en België, sowel as vele artikels in Suid-Afrikaanse koerante soos The Mail & Guardian, The Sunday Times, Business Day, Beeld, Die Burger en Rapport. Hy is ook ’n gereelde gas op televisie- en radioprogramme in Suid-Afrika.

Vir Van Coller en Steyn is die ooreenkomste tussen Jan Rabie, wat ook as ’n taalaktivis beskou kan word, en Dan Roodt: “Waar Rabie in opstand kom teen die literêre pouse, Opperman en Van Wyk Louw, en die politieke maghebbers van die tyd, die Nasionale Party, kom Roodt in opstand teen die huidige literêre pouse onder wie André P Brink, Antjie Krog, Marlene van Niekerk én as verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Engelse literatuur, Nadine Gordimer. En op politiektaal- en kultuurpolitieke gebied teen die maghebber van óns tyd, naamlik die ANC.

“In die standaardtaalkwessie is Roodt sonder doekies omdraai ’n voorstander van Standaardafrikaans.

“Maar veral is Roodt bekend as taalaktivis en die stigter van Praag, die pro-Afrikaanse aksiegroep. Hy is die oprigter van ’n uitgewery, en stigter van die Afrikaanse tak van die internasionale skrywersorganisasie PEN. Hy is ’n skerpsinnige, veelsydige, maar ook uiters omstrede kommentator en so ver van polities korrek dat die Rapport hom as gereelde kommentator afgedank het. Soos Rabie van ouds is Roodt ’n aktivis wat nie wegskram van briewe, petisies en enkele kere selfs betogings nie. Maar selfs bloot deur ongemaklike vrae op berade en kongresse te stel, ontketen hy woede. In Februarie 2005 het ’n groot polemiek in Die Burger en op LitNet gewoed nadat hy uitgenooi is om op die Woordfees in Stellenbosch te gaan praat, en sommige akademici beswaar teen die uitnodiging gemaak het omdat ’n internet-artikel van hom volgens hulle rassisties is. Dat sy politieke betrokkenheid ook sy werk bedreig, is reeds by die verskyning van sy eerste werke betoog, onder ander deur JC Kannemeyer.

“En tog hoor ’n mens dikwels in die omgang: ek stem nie saam met sy styl of die manier waarop hy sy saak verwoord nie, maar ek dink Dan Roodt is eintlik reg. Hy is inderdaad ‘reg’ in dieselfde opsig as wat DF Malherbe en Rabie reg was, naamlik dat taalaktivisme in wese neerkom op mobilisasie en stryd. (...) Malherbe, Rabie en Roodt het almal in dieselfde rigting gedink, deur te wys op die uitwasse van transformasie, en het hulle daarteen verset.”

Dan het homself as volg aan Kirby van der Merwe beskryf: “Ek is ’n skrywer en aktivis vir Afrikanerregte wat oor sowel ’n kreatiewe as analitiese vermoë beskik. Ná studies in die letterkunde en filosofie het ek ook jare lank in die finansiële markte gewerk en alles onder die son verhandel, van aandele en effekte tot opsies, termyne en komplekse afgeleides. Die afgelope vier jaar (vanaf 2000) is ek direk gemoeid by die stryd vir Afrikaans en Afrikanervoortbestaan in Suid-Afrika met betogings, briewe, vertoë asook ander aksies. (...)

“Ek sien myself ook in Mallarmé se terme: ‘’n Skrywer moet die slegte gewete van sy tyd wees.’ Selfs Frits Kok van die ATKV het op ’n slag vir my gesê elke artikel wat ek skryf, laat hom die wêreld op ’n nuwe manier sien.

“Op ’n meer persoonlike vlak kan jy dalk die volgende noem: Benewens my voorliefde vir sjampanje en veral Louis Roederer Cristal, hou ek van goeie rooiwyn. My gunsteling Kaapse wyn is Le Bonheur Prima 1995, waarvan ek ’n paar goeie kartonne weggebêre het. Ek maak self my skoene skoon met byewaspolitoer wat ek al om die drie, vier jaar by ’n spesifieke winkel in Parys koop. Ek hou van ou boeke en ou motors, veral ou Lancia’s, Maserati’s en Ferrari’s, maar moderne meubels en enigiets uit die ou Bauhaus-periode. Ek glo aan Mies van der Rohe se slagspreuk ‘minder is meer’, veral as dit by die omslae van Praag se boeke kom.

“My definisie van ’n utopie sou ’n wêreld sonder Engels en lelike geboue wees, waar politieke mag nie meer op grond van ’n hoë geboortesyfer toegeken word nie, maar deur erkenning vir dit wat jou mense geskep het. Selfs al beleef die Afrikaner tans sy ondergang soos soveel mense beweer, laat dit om godsnaam met ’n knal en nie met ’n gekerm geskied nie.”

In 2000 het hy aan Jansie Kotze gesê hy sal nie Suid-Afrika verlaat nie en in 2012 voel hy nog steeds so: “Ek sal maar liewer hier wou doodgaan op die rooi grond van Afrika. Ek glo my kinders sal ook wil bly, want hulle is baie Afrikaans al word hulle in Johannesburg groot. Hulle was op laerskool in die Voortrekkers en my dogter is op 16 reeds ’n bedrewe skryfster en dramaturg in Afrikaans. Indien hulle gedwing sou word om oorsee hul heil te gaan soek, sal dit daarom vir my baie hartseer wees en ek sal die gevoel hê dat ek in my stryd vir Afrikaans en Afrikaneroorlewing misluk het.

“Daar is egter tans ’n baie groot Afrikanerbeweging aan die gang, sover ek kan sien, groter as ooit. Dit sal wel op vryheid of selfbeskikking uitloop. Al gaan dit tans beroerd, glo ek dat die draaipunt nie meer ver is nie.”

In 2011 het Dan ’n lastereis van R600 000 teen Media24, Leopold Scholtz en Christo van der Rheede van die SBA ingestel nadat Die Burger op 22 Junie 2009 ’n brief van Van der Rheede geplaas het waarin daar na Dan Roodt verwys is as ’n rassis. Drie dae voor die brief het Scholtz in ’n rubriek geskryf dat die "naam van die eiser blykens (sy) openbare uitlatings met rassisme en apartheid verbind kan word."

Die lastereis is met koste deur die hooggeregshof van die hand gewys. Dan het dit as ’n "slag vir spraakvryheid en geregtigheid" beskou. Omdat die eis met koste van die hand gewys is, beteken dit dat die hof bevind het dat die stellings "waar of wesenlik waar" is.

Dan se reaksie hierop was: "Heel moontlik sien ons hier die eerste gevolge van ’n getransformeerde regbank waarin omstrede sake met rassekonnotasies konstant in die guns van die heersende ideologie en van politieke korrektheid beslis gaan word. Die deur word hiermee ook oopgemaak vir die verguising van dissidente en selfs haat­spraak teen die blanke en Afrikaner-minderheid." (Beeld, 15 Junie 2011)

In Die Burger van 24 November 2011 het Ilse Bigalke in ’n artikel, "Van hekse kom nie altyd onheil" na Roodt verwys as ver regs, ’n rassis en ekstreem en dit het, volgens Dan, hom "beswadder". Hy het ook aangevoer dat die artikel "nie die konteks van ’n bespreking ten tyde van ’n televisieprogram oor wiskunde en swart prestasie" verreken het nie.

Die nasionale persombudsman het egter ten gunste van Die Burger beslis nadat Dan daaroor gekla het.

In Januarie 2012 het Dan aan Elmari Rautenbach in Die Burger (7 Januarie 2012) vertel dat hy ’n e-boek in Engels via Amazon.com se Kindle-stelsel uitgegee het onder die titel Johannesburg in Five. In die verhaal wat oor vyf minute in Johannesburg afspeel, word daar ’n moord in ’n parkeergarage in Sandton gepleeg, asook ’n moord deur ’n klomp mense op ’n Malawiër in Diepsloot.

James Joyce se Ulysses wat binne een dag in Dublin afspeel, was die inspirasie agter hierdie tema van Dan: "Daarom dag ek toe, waarom nie ’n halfuur, of selfs vyf minute van Johannesburg nie?"

"Die genre van my so­genaamde 'Kindle single' is ’n soort ontmoeting van James Joyce met ­Mickey Spillane, vermeng met ’n ietsie van die Franse nouveau-roman.

“Johannesburg is sinoniem met uitspattige inkopies en lukrake moorde, dus het ek dit in my storie probeer weergee. Dis ook baie eenvoudig ­geskryf – vir die globale leser.”

Hy het verder aan Rautenbach vertel dat hy ook besig is om ’n bundel van sy ­essays in Engels saam te stel, wat hy ook as ’n e-boek wil publiseer, en verder werk hy ook aan twee romans in Afrikaans, ’n wetenskapfiksieverhaal oor ’n beskaafde planeet wat deur barbare uit die buitenste ruim binnegeval word, en ’n "lokasieroman”.

“Ek wou nog altyd ’n lokasieroman skryf. Eens op ’n tyd het my ouers naby die Alexandra-lokasie in Bramley gebly, en klokslag elke maand is by ons ingebreek. Dus meen ek ek het reeds ­ervaring van die lokasielewe.”

Hoekom is sy e-boek in Engels? “Wel, ongelukkig aanvaar Amazon slegs ­Engels, Frans, Spaans, Duits, Italiaans en Portugees. Miskien sal ek later Frans probeer; dit kan nogal pret wees! Ek wil ook vir Amazon kontak om hulle te vra wanneer hulle e-boeke in Afrikaans gaan begin publiseer.

“En dan was die Afrikaanse literêre establishment nog nooit baie ingenome met my skryfwerk nie. Hoewel ek slegs hier en daar iets in ­Engels geskryf het, dring ’n hele klomp mense in Amerika egter daarop aan dat ek meer in Engels skryf sodat ­hulle my óók kan lees. Ek is nogal ­ontroer deur ’n groep Amerikaanse ­studente wat wil hê ek moet aanstaande maand in Februarie ’n konferensie in Washington bywoon, maar ek is nie seker of ek sal kan gaan nie.”

Dan was in 2012 in ’n polemiek oor Pretoria PEN, die skrywersvereniging waarvan Dan die voorsitter was. Volgens die skrywer Fanie Olivier het Pretoria PEN doodgeloop en het hy en John Miles en Pieter Haasbroek begin met ’n poging om dit te laat herleef. 22 van die 28 lede het hulle steun aan Olivier en kie toegesê en hulle is ook deur PEN se hoofkantoor in Londen erken.

Kerneels Breytenbach, bestuurslid van die Afrikaanse Skrywersunie, het gesê dat hulle dit sal oorweeg om by Olivier se PEN aan te sluit, maar hulle stel geensins belang in Pretoria PEN met Dan Roodt aan die stuur nie.

In Oktober 2012 is die eerste amptelike ledevergadering van PEN Afrikaans op Stellenbosch gehou. Dan Roodt het probeer om ’n interdik te kry teen die hou van hierdie vergadering. Hy het aangevoer dat Pretoria PEN nie doodgeloop het nie, maar dat daar agter die skerms gekonkel is om "die organisasie tot niet te maak". (Die Burger, 22 Oktober 2012)

Dan en Riana Scheepers was in Februarie 2014 in ’n onderonsie betrokke. Riana Scheepers se 80-jarige ouers is op hulle plaas in Vryheid, KwaZulu-Natal aangeval en Riana het aan ’n koerant gesê sy kan dit nie verstaan nie, want haar ouers was nie "twee rassiste wat in ’n wit toring gesit het nie".

Dan se reaksie op Riana se Facebook-blad hierop was: "Verdien wit rassiste dan om aangeval te word? By implikasie sê jy (Riana) dat 'wit rassiste' verdien om aangeval te word, want jou ouers is dan nie sulke mense nie. Is dit korrek? En wat is ’n wit rassis?"

Riana het op Dan se skrywe as volg gereageer: "Dan, ek het waaragtig nie op die oomblik die energie om in ’n idiotiese polemiek betrokke te raak nie. Ek verwerp met min­agting die insinuasies wat jy maak." (Rapport, 11 Februarie 2013)

Vroeg in 2014 was Dan in die pekel by die regse groeperinge en op die regse webblaaie oor ’n gedig van hom, "Volksvreemd", wat in 1980 in Kommas uit ’n boomzol opgeneem is. Diegene wat kritiek teenoor Dan uitgespreek het, het die gedig as "harde pornografie" bestempel aangesien dit redelike kru beskrywings van die manlike en vroulike geslagsorgane bevat. Die popgroep, Naaimasjiene, het dit getoonset.

Dan self het aan Yolanda Barnard (Rapport, 3 Maart 2014) gesê hy was ’n baie jong man toe hy die gedig geskryf het en hy sal dit nie weer vandag doen nie. Destyds was dit ’n "metafoor vir die verkramptheid van die Afrikaners".

In Desember 2014 moes Dan Roodt in die Randburg-landdroshof verskyn weens minagting van die hof omdat hy na bewering nie sy skuld betaal het nie. Volgens ’n hofbevel van 7 Augustus 2014 moes Roodt paaiemente van R4 000 per maand aan Paarl Media betaal nadat aan die lig gekom het dat hy sowat R70 000 aan Paarl Media skuld vir die drukwerk van boeke.

Dan Roodt het as volg aan Charlea Sieberhagen (Beeld, 2 Desember 2014) verduidelik: "Die dispuut oor die betaling sou lankal opgelos gewees het indien die Randburgse prokureurs van Paarl Media nie besluit het om ’n vete teen my te voer omdat ek aanvanklik daarop aangedring het dat hulle met my in Afrikaans moet korrespondeer nie. In die eerste plek kan ek nie verstaan hoe daar ’n verstekvonnis teen my uitgereik is nie, aangesien ek van die begin af gesê het dat ek die saak gaan teenstaan.”

In November 2014 was Dan weer eens in die nuus toe hy Steve Hofmeyr in die hof verteenwoordig het nadat Conrad Koch die buikspreker se pop, Chester Missing, die swye opgelê is nadat hulle glo vir Hofmeyer belaster het. Hierdie hofbevel is later opgehef en Roodt en Hofmeyr moes ook Koch se regskoste betaal.

Publikasies

Publikasie

Sonneskyn en Chevrolet

Publikasiedatum

1980

ISBN

0620044837 (sb)

Uitgewer

Bramley: Taurus

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kommas uit ’n boomzol: synde die mirakelagtige terugkeer ná ideologiese bedwelming van ene Ponie Polonie ...

Publikasiedatum

1980

ISBN

0620043814

Uitgewer

Pinegowrie: Uitgewery Pannevis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Twee sinne

Publikasiedatum

1985

ISBN

094704602X (sb)

Uitgewer

Hillbrow: Stet-boek

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Om die Waarheidskommissie te vergeet

Publikasiedatum

2001

ISBN

0620267801 (sb)

Uitgewer

Dainfern: Praag

Literêre vorm

Politieke filosofie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Moltrein

Publikasiedatum

2004

ISBN

0958463581 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Praag

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The scourge of the ANC

Publikasiedatum

2005

ISBN

0958463557 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Praag

Literêre vorm

Politiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Aweregs: politieke essays

Publikasiedatum

2007

ISBN

1920128026 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Praag

Literêre vorm

Politieke essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Dan Roodt as vertaler:

’n Keur van artikels oor Dan Roodt beskikbaar op die internet:

’n Keur van artikels deur Dan Roodt beskikbaar op die internet:

(Bogenoemde is slegs ’n keur van artikels oor en deur Dan Roodt wat op die internet beskikbaar is.)

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • Die samesteller se dank aan die skrywer vir inligting wat hy verskaf het vir die afdeling Gebore en getoë.

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    'n Herwaardering van Afrikaners, insluitende Dan Roodt, is dringend nodig. Roodt behoort ten minste as intellektueel hoog geag te word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top