Dalene Matthee (1938–2005)

  • 1
Foto: dalenematthee.co.za
Sêgoed van Dalene Matthee

"Skryf is ’n eensame ding. Jy weet nie wat jy gedoen het nie. En die skrywersirkus rondom ’n boek staan my nie aan nie. Ek is ’n baie private mens." (Insig, April 2000)

"I just want to be happy ... Maar daar is so baie dinge wat tussenin foeter. Mens moet net altyd sorg dat jy altyd ’n mooi geheime plekkie iewers het. Al is dit in jou voorskootsak." (Insig, April 2000)

"Navorsing is soos dobbel. Jy raak verslaaf daaraan. Jy weet nie wat jy kry vandag nie. En dan het ’n vrou mos nog op haar solar plexus ’n spesiale sintuig. Jou maag sê vir jou as ’n ding nie reg is nie." (Insig, April 2000)

Oor haar eie vertaling van Kringe in Engels: "Afrikaans is a language which is highly emotional. You can go right down to the core. English is reserved, beautifully reserved. But I wanted somehow to get that emotion into English." (The Daily News, 28 Augustus 1984)

"Engels is weliswaar my beste vriend, maar ek moes ontdek dat my siel Afrikaans is. Vandag kan ek net sê Afrikaans was goed vir my. Baie goed. Ek skuld Afrikaans. En ek dink die vreeslikste ding wat ’n mens kan oorkom, is as jy nie in jou eie taal sou kon skryf nie." (Die Burger, 22 Mei 1992)

"Maar ek gaan nie in ’n ander taal skryf nie. Afrikaans is die taal van my siel." (Beeld, 22 Oktober 1992)

Oor dagdrome: "In my dagdrome woon ek bo in ’n bergkloof tussen die bome in ’n klein houthuisie. Elke dag verander ek aan dié huisie. Dit het ’n kalmerende uitwerking op my om aan die huis te 'werk'. Dit is baie klein, net vir my alleen, en het net een vertrek. Ek slaap baie en voel veilig in die nag. Ek loop ook baie in die bos rond en as die bobbejane my dalk kom pla, is ek ook daarmee tevrede." (Rapport-Tydskrif, 3 Maart 1996)

Wat sy in die hemel gaan doen: "Ek gee nie om nie, die hemel moet net ’n bos wees." (Volksblad, 7 Oktober 2002)

"As kinders nie van geskiedenis hou nie, maak dood die onderwyser!" (Volksblad, 7 Oktober 2002)

"Mans is die draers van die intellek en vroue die draers van die siel – hulle ontwikkel nie hul geweldige potensiaal nie en wil soos die mans wees. Hulle kry dit nie reg nie en word ’n bitch." (Volksblad, 7 Oktober 2002)

"Ek gaan gereeld Bos toe. Daar’s ’n energie wat ek nodig het en moet absorbeer om reg te kom." (Volksblad, 7 Oktober 2002)

"Ek hou van waarheid. Die waarheid as ’n kern van ’n verhaal. Die historiese roman bevredig my behoefte aan waarheid. So dikwels bring die verlede juis vir jou helderhede en ook skokkende insigte." (Sarie, 5 September 2001)

Oor selfone: "Dit lyk my na ’n handige ding, maar daar is natuurlik mense wat net daarna gryp om raakgesien te word. Dis snaaks dat mense nog sulke goed gebruik om hul ego te streel." (Sarie, 29 Maart 1995)

Haar grootste wens: "Dat daar oor hierdie land ’n waas moet neerdaal en die waas se naam moet wysheid wees. Maar eintlik kan dit nie neerdaal nie, dit moet van onder af kom. Uit die mens self." (Sarie, 19 November 1986)

Wat glo sy van God, sy wêreld, sy skepping? "Ek dink dit is ’n baie groter storie as wat ons vermoed. Baie groter as wat ons in die Kerk leer. Die Kerke sal ons later nog reg leer. Want die Kerke moet ook nog leer om ons te leer. Naasteliefde is nog nie eens naastenby begin ontgin nie. En baie ander dinge." (Sarie, 19 November 1986)

"Elke storie het ’n ritme en jy moet heeltyd net dink hoe om by die wysie te hou. Dit is hoe ek werk. Soms kos dit baie dinkwerk om daardie ritme aan die gang te hou." (Rooi Rose, 29 Oktober 1986)

"Baie mense dink ek het ’n spesiale verhouding met die Bos en met die olifante. Hulle sien maande lank nie ’n enkele olifant nie en skielik op ’n dag lê daar ’n bol stomende mis. Dan sê hulle: 'Dalene Matthee is hier iewers. Daarom het die olifante gekom.'" (Tempo, 18 September 1987)

"Ek is ’n koppige soort mens. Ag, op die ou end is ek altyd verkeerd en moet ek maar luister. Ek dink die engeltjies geniet my, maar God raak soms baie moeilik oor my." (Keur, 11 Maart 1988)

"Ek is die eensaamste mens. En ek klou aan my absolute privaatheid. Dan is ek op my gelukkigste. Dan het ek geen probleme nie." (Keur, 11 Maart 1988)

"Jy kan baie dinge doen. Jy kan skerp skryf. Jy kan omstrede wees. Maar jy kan nie die wette van die Muse oortree nie. Jy mag nie lieg nie en jy mag nie iets skryf wat ’n mens verlaag nie. Hulle sal jou dit nooit vergewe nie." (Keur, 11 Maart 1988)

"Ek het in die Bos gesien wat is orde. Ek het respek gekry vir orde. Jy kan net veilig voel as daar orde is. En as die orde van my ’n groot prys verwag, dan moet ek dit gee." (Rapport-Tydskrif, 25Oktober 1992)

"Geskiedenis is eintlik die storie van hoe volke baklei en stry oor wat hulle gaan maak met mekaar se goed. Dié wat het, baklei om dit te hou en dié wat nie het nie, baklei om dit te vat. Dié patroon bly loop sonder dat hy ooit breek." (Rapport-Tydskrif, 25 Oktober 1992)

"Suiwer fiksie sal ek egter nooit kan skryf nie. Ek het ’n tekort in my kop daarvoor. Ek moet iewers ’n waarheid hê om mee te werk. Ek hoef nie baie te weet nie, maar dit wat ek weet, moet die waarheid wees." (De Kat, 1995)

Oor Charles Fryer, die eerste drie Bos-boeke se redakteur: "Ek mis Charles soos ’n stukkie brood. Ons het gestry dat jy ons in die straat kon hoor, maar Charles was gewoonlik reg. Charles het my van baie skandes gered, o, Charles het my van baie skandes gered. Deur sy fyn lees, sy fyn oplettendheid. Daai man ... Ek is baie verskuldig aan Charles." (Rapport, 27 Julie 2003)

"As ’n mens ’n man wil vernietig, leer hom om homself te haat. As jy ’n volk wil vernietig, leer die kinders om hulself te haat." (Oosterlig, 23 Oktober 1992)

"Skryf verg dissipline meer as enigiets anders. Die muse toets jou. Vir elke tree wat jy gee, gee hulle twee. Skryf is maar ’n werk soos alle werke. Ek het baie geleer uit my werk en ek kom keer op keer weer op my onkunde af. Soms is dit skokkend." (Oosterlig, 23 Oktober 1992)

Oor al die pryse en eerbewyse: "Ek waardeer dit, maar die kollig is vir my ’n swaar smaak. Dit alles sê vir my iets, maar ’n mens wonder in jou hart of jy dit werklik verdien het. Dit maak my ook bang, want ek wou nie beroemd wees nie. Ek probeer nou maar net om ordentlik beroemd te wees." (Oosterlig, 23 Oktober 1992)

"’n Skrywer kan nie sonder tekstuur, sintuiglike waarneming en intieme besonderhede skep nie. Ook nie sonder ’n eie geskiedenis nie." (Rapport, 16 April 2000)

"’n Honger leserspubliek is my brood en botter. Ek kan maar net hoop dat hulle nie sal sat word van die kos wat ek vir hulle voorsit nie." (Kaapse Bibliotekaris, September/Oktober 2001)

Dalena Scott is op 13 Oktober 1938 op Riversdal in die Suid-Kaap gebore. Sy was die middelste van vyf kinders – drie dogters en twee seuns. Die Scotte is van die ou Stilbaaise geslag Scotte wat afstammelinge van sir Walter Scott is. Dalene word groot op Riversdal en vakansies bring hulle op die nabygeleë stranddorp Stilbaai deur. Langs daardie see het sy elke poel, elke slangsleepsel in die duine en elke tortelduif se nes geken. Toe sy klein was, het sy gedink alle mense het ’n huis op die dorp en nog een by die see. (aan Petra Müller, Sarie, 9 Mei 1984)

Dalene se pa, Danie, het ’n fyn aanvoeling vir musiek gehad en het tot op sewentig nog pragtig viool gespeel. Hy was ’n bouer en haar ma, Hester, ’n huisvrou.

Dalene vertel aan Cynthia Zietsman dat sy ’n leeshonger kind was en dat die eerste boek wat haar werklik aangegryp het, The Water-Babies van Charles Kingsley was. Sy beskou dit as ’n groot metafisiese werk.

Dalene het gedistingeerde voorvaders gehad, maar sy erken onomwonde dat sy maar altyd die swart skaap was. Haar pa se ma was familie van president Steyn en baie bewus van haar sosiale stand. Sy het Dalene as onmoontlik beskou: die kind wat nie op haar borduurwerk wou konsentreer nie en haar glad nie soos ’n dame gedra het nie.

Reeds as kind het sy bevliegings gehad om van ’n onderwerp wat haar beetpak, alles te wil weet: musiek, seilvaart, die pole, sterrekunde. "Om te weet jy kan hier in die grondpad sit met jou sterreboek en jou flits en die naghemel bo jou en jy kan die lig van die verlede sien ..." vertel sy aan Petra Müller (Sarie, 9 Mei 1984).

In Dalene se derde jaar op skool ontdek sy tyd en doen onmiddellik ’n hoë koors op by die besef dat sy nog tien lange jare op die skoolbanke sou moes deurbring.

Daar was net twee dinge wat sy goed kon doen en dit was opstelle skryf en klavier speel. Toe haar tienerjare aanbreek, is Dalene slegs geken as die stoutste kind op Riversdal.

In 1956 matrikuleer sy aan die Hoërskool Langenhoven op Riversdal.

Verdere studie en werk

Dalene was skaars agtien jaar oud toe sy in 1957 met Larius Matthee, ’n skoolvriend, getroud is. Hy het by die bank gewerk en saam met hom trek sy van Oudtshoorn na Darling, na Graaff-Reinet en Uniondale. Dalene beskryf Larius as haar veiligheidsgordel.

Drie jaar nadat hulle getroud is, terwyl hulle in Oudtshoorn woon, maak die oudste dogter, Amanda, haar opwagting, en daardie selfde jaar word een van Dalene se talle kinderverhale vir die eerste keer oor die radio uitgesaai. Ook die tweede dogter, Toni, is op Oudtshoorn gebore. In 1962 trek hulle Darling toe, waar die jongste dogter, Hilary, gebore word.

Haar musiekopleiding ontvang sy by die Van Zyl-musiekskool op Oudtshoorn en die Holy Cross Convent op Graaff-Reinet. Met ’n lisensiaat in klavier van die Trinity College of Music in haar sak gee sy musiek op verskeie dorpe in die Suid-Kaap, waar hulle gewoon het.

Oral waar hulle woon, lees Dalene dorpsbiblioteke deur en verken sy saam met haar kinders die wêreld van kennis. Gedurende die jare van rondtrek ontmoet Dalene mense wat ’n blywende invloed op het – soos die geoloog Japie Dekenah, wat bekend was vir sy ontdekkings van die prehistoriese mens, maar benewens dit ook fotograaf en metafisikus wat die rykdom van sy intellek en ook sy biblioteek met haar gedeel het. Daar was die Duitse bibliotekaris wat altyd swart gedra het en die moeilike boeke aan Dalene gegee het en haar dan daarna uitgevra het om seker te maak dat sy dit gelees en iets daaruit geleer het. Op Graaff-Reinet was dit suster Felix wat Dalene aangemoedig het om haar musieklesse voort te sit. Vir haar was net perfeksie goed genoeg.

Gedurende die gesin se verblyf op Darling begin Dalene kinderverhale skryf vir die radioprogram Siembamba om die gesin se inkomste aan te vul. Sy het die kinderverhale eers vir haar kinders gelees voordat sy dit aan die SAUK voorgelê het. As hulle aandagtig tot aan die einde van die storie geluister het, het sy geweet dat dit sou werk. Sodra enige van die kinders begin vroetel het, het sy geweet dat dit oorgeskryf moet word. Sy het gereeld gholf gespeel en het die Ladies Country Open op Rondebosch se gholfbaan in Kaapstad gewen.

Vanaf 1967 tot 1971 het die gesin op Graaff-Reinet gewoon, waar Dalene, op ’n halfdag-basis, kurator van die Hester Rupert-kunsmuseum was. Sy sluit by Anton Rupert se restourasiespan aan en is betrokke by die restourasie van Stretch se hof.

In 1971 word Larius aangestel as bestuurder van Standard Bank op Uniondale in die Langkloof. Daar is Dalene instrumenteel in die restourasie van die watermeule en die Ou Fort wat uit die Anglo-Boereoorlog dateer. Larius het egter gesondheidsprobleme en in 1978 tree hy af en verhuis die gesin na Hartenbos.

Dalene begin toe skryf – eers kinderverhale (haar eerste gepubliseerde boek was Die twaalfuur-stokkie wat in 1970 deur Voortrekkerpers uitgegee is), toe kortverhale, en ook dramas (haar eintlike ideaal) waarvan SATV egter niks wou weet nie. Die dramas word later in boeke verwerk waar sy skielik in die groter ruimte wat die roman haar bied, haar ware slag vind.

Dalene het bykans ’n jaar gesukkel voordat een van haar verhale deur ’n tydskrif aanvaar is. En dié verhaal het sy in Italië laat afspeel sonder dat sy ooit die land besoek het. In 1982 verskyn die kortverhaalbundel Die Judasbok, asook die roman ’n Huis vir Nadia. In 1983 verskyn Petronella van Aarde, burgemeester, wat eers as vervolgverhaal in ’n tydskrif verskyn het.

Oor Die Judasbok skryf Ia van Zyl in Die Suidwester (31 Desember 1982): "Dit is verblydend om ’n bundel in die hande te kry met as doelgroep die leser wat nie in die eerste plek lees om die intellektuele bevrediging wat die teks verskaf nie, maar hoofsaaklik ter wille van die leesgenot." Vir André P Brink (Rapport, 26 September 1982) het Dalene Matthee "op deeglike, verantwoorde, en soms opwindende manier die kortverhaalkuns bemeester." Hennie Aucamp (Transvaler, 15 November 1982) beskryf die bundel as "vermaak met gehalte" terwyl JP Smuts (Die Burger, 25 Novmeber 1982) meen dat ’n "wye leserspubliek die versameling toeganklike en goedgeskrewe verhale behoort te geniet". Enkele kenmerke van die bundel wat deur kritici uitgesonder word, is die eenvoudige, direkte taalgebruik, oortuigende dialoog, aantreklike ligte aanslag van ’n aantal van die verhale, en wye verskeidenheid temas wat in die verhale aangeroer word.

Martjie Bosman skryf in Die Taalgenoot van Oktober 1985 dat Dalene se kennismaking met die Knysnabos tot haar groot deurbraak gelei het. Dalene vertel aan Elmari Rautenbach (Die Burger, 27 September 1984) dat sy by ’n kruispad was wat haar skryfwerk betref. "Ek het geweet ek is klaar met kortverhale, maar was nie seker waarmee en hoe om aan te gaan nie. Om nie heeltyd by die huis te sit en daaroor te broei nie, het ek en my man besluit so ’n staptog kan net ’n goeie ding wees. Min het ek geweet ..."

Rautenbach skryf verder: "Want van die eerste tree af het die Bos haar geboei – veral omdat so baie van die vrae wat by haar opgekom het, onbeantwoord gebly het: Waarom is sulke groot dele van die bos afgekap? Wat maak die eik tussen die inheemse bome? Wat het van al die olifante geword?"

Dalene het nie gerus voordat sy antwoorde op haar vrae gekry het nie. Die eerste plek waar sy om inligting aangeklop het, was Knysna se dorpsmuseum, Millwood House. Nadat sy deur die dokumente, briewe en verslae gewerk het, kon sy in haar verbeelding ’n prentjie sien van die lewe wat in daardie jare gesentreer het rondom die Knysnabos, asook die bittere verskille in stand tussen die boswerkers en die Engelse mense van die dorp. Haar navorsing het intense leeswerk oor die bome, die delwers en die olifante behels.

Maar dit was veral die lot van die boswerkers wat sy só aangrypend gevind dat sy besluit om die storie van die Bos neer te pen. En die oomblik toe sy op die storie afkom van ’n man wat sy familie verlaat het om op sy eie geluk te gaan soek dat sy besef het: "Hier is my boek," vertel sy aan Rautenbach. "Sy geskiedenis was so ongelooflik en so nou verweef met die geskiedenis van Knysna in daardie tyd, dat ek nie anders kon as om hom my hooffiguur te maak nie."

Die seun noem sy Saul Barnard en die verhaal word haar bekende Kringe in ’n bos. Dit was hierdie boswerkers se armoedige bestaan wat haar gedwing het om die boek te skryf, want, vertel sy aan Petra Müller (Sarie, 9 Mei 1984), "baie van hulle was verpand aan houthandelaars in ’n soort onbeskrewe feodale bestaan. Dit het daarop neergekom dat hulle die Bos moes uitroei om hul skuld by die handelaars afgewerk te kry en om aan die lewe te bly. ek wou daardie waarheid vertel en dit is vir my die grootste vreugde van die boek: dat sy haar nie voor hierdie vriende hoef te skaam nie. Want op ’n dag het een van hulle na Dalene gekom en vir haar gesê: 'Sal iemand dan uiteindelik voor die Here ons storie vertel?'"

"Die titel Kringe in ’n bos het ek reeds vroeg gekry. Dit gaan oor die patrone van die olifante en die verdwaal van mense – oor die eeue heen is soveel kringe in die Bos geloop," vertel sy aan Nols Nieman. (Volksblad, 7 Oktober 2002)

Aan Koos Prinsloo (Beeld, 19 Mei 1984) vertel sy: "Ek wou probeer om ’n werk te skryf wat ’n bietjie van Rooikappie se sukses het. Dit was ’n poging – as ek baie eerlik moet wees – om ’n glorified fairy-tale te skryf."

Na elf maande se navorsing en nege maande se skryf, was Dalene platsak. Haar "aktetas" waarmee sy die manuskrip na Kaapstad en die uitgewers wou neem, was ’n appelkissie wat met ’n stuk tou aanmekaar gehou is. Haar kinders protesteer egter só heftig dat sy toe maar die manuskrip in ’n OK-inkopiesak vervoer het. Terwyl die manuskrip by die uitgewers lê, pak Dalene en Amanda, haar dogter, die vertaling in Engels aan. "Net gekke en dwase doen sulke dinge. Toe ontdek ek hoe onvertaalbaar mooi ons taal is." (Aan Petra Müller, Sarie, 9 Mei 1984)

Die eerste weergawe is met ’n geel HB-potlood in ’n reeks aantekeningboeke geskryf. Daarna is die hele roman oorgetik, en dit was toe sy die "vanilla" byvoeg. Sy het nooit in die Bos geskryf nie, maar daar gewerk en dan die materiaal teruggeneem huis toe om daar verder daardeur te gaan en te sif en die feite na te gaan.

Dalene vertel aan Nols Nieman (Volksblad, 7 Oktober 2002) dat sy ’n goeie pianis was, maar "die eerste dag toe ek my geel potlode skerp maak om Kringe te skryf – dis die gospel truth – was die laaste dag dat ek aan ’n klavier gevat het. Daarna het ek ook my piano weggegee."

Intussen kom sy te hore dat André P Brink baie van die boek hou, vertel sy aan Müller: "Hier gebeur iets in Afrikaans ... ’n Roman met ’n breedte en ’n diepte en ’n verskeidenheid en ’n wysheid wat ’n hele loop deur ons prosa kom loop," was Brink se kommentaar.

Dalene skryf toe vir hom en vra wat sy met die Engelse vertaling moet doen. "Uit die goedheid van sy hart skryf hy vir sy persoonlike agent, Dinah Wiener, by ’n groot ou Engelse letterkundige agentskap ..." Dinah Wiener laat weet haar dat daar "toorgoed" in Dalene se manuskrip is. Die manuskrip is na van die mees kieskeurige uitgewers in Europa gestuur en die aanbiedinge vir vertalings het begin instroom. Dalene is Bos toe om te gaan dankie sê. Die boek word in Nederlands, Engels, Fins, Frans, Hebreeus, Yslands, Italiaans, Noorweegs, Portugees, Spaans en Sweeds vertaal.

Die Afrikaanse Kringe in ’n bos geniet ongekende sukses en die kritici is almal positief. André P Brink (Rapport, 27 Mei 1984) beskryf dit as ’n "ryk en nuwe bydrae tot die Afrikaanse letterkunde" en vir Wium van Zyl (Die Suidwester, 29 Junie 1984) is dit ’n boek wat jonk en oud, slim en minder slim enduit sal vashou, en Elsa Joubert (Die Vaderland, 2 Julie 1984) beskryf dit as ’n boek waar die gevoel van waarheid vooroop staan met Saul Barnard as ’n figuur wat enig in ons letterkunde is.

Binne twee en ’n half jaar is 118 874 eksemplare van Kringe verkoop en in 1985 ontvang dit die eerste ATKV-Prosaprys vir goeie gewilde Afrikaanse prosa. Dit is bekroon, is daar gesê, omdat dit ’n oorspronklike verhaal is wat op ’n boeiende en vlot leesbare wyse vertel word. Hierdeur word ’n oortuigende verhaalwêreld geskep waarin feit en fiksie mekaar afwissel. Die historiese agtergrond getuig van deurdringende navorsing en die verhaal besit drif en vaart wat nie kunsmatig geskep is nie.

Sedert 1986 is Kringe in ’n bos landwyd voorgeskryf vir standerd 9- en matriekleerlinge en saam met Fiela se kind is dit vir meer as twintig jaar op die voorskryflys.

Die toestroming wat die dorp Knysna beleef het na die publikasie van die boek, word goed benut deur die publisiteitsvereniging van die dorp deurdat hulle botteltjies olifantmis verpak en verkoop het. Dit het glo soos soetkoek verkoop!

Britse resensente was net so ingenome met die boek. Peter Grosvenor van die Daily Express noem dit ’n "haunting novel" en bestempel ’n toneel daarin as "aangrypend genoeg om jou ’n knop in die keel te gee". (Rapport, 2 September 1984)

Maar Dalene geniet dit die meeste om oor die Bos te praat en nie oor die sukses van Kringe nie. Sy vertel aan Angela van Schalkwyk in The Citizen (14 September 1984) dat die Bos ’n entiteit is met ’n siel van sy eie. Wanneer sy daar in loop, kry sy ’n gevoel in haar binnenste. Dit is ook ’n gevoel wat haar hoofkarakter, Saul, goed ken. "The more the Forest closed round him, the lighter his body felt. He wanted to stretch out his hands and touch the nearest trees. He wanted to sit down and feel the cool, clammy moss under his fingers. He drew the forest air into his lungs as if to fill himself with it."

Die sterkste tema van die boek is die verwoesting van die Bos en die ondeurdagte doodmaak van die Knysna-olifante. "Daar was ’n tyd gedurende my navorsing toe al hierdie aaklige verwoesting my baie sterk geaffekteer het. Ek het ’n diepe woede in my gehad en het tred verloor met waarheen ek op pad was. [...] Eenhonderd jaar gelede was daar tussen 400 en 500 olifante in die Bos. Vandag (1984) is daar slegs drie oor. Die Knysna-olifante is die mooiste in die hele wêreld," aan Angela van Schalkwyk (The Citizen, 14 September 1984)

Dalene se navorsing vir Kringe in ’n bos oor die Bos en sy mense het nog ’n boek in die hand gewerk. "Ek was nie eens halfpad nie, toe het ek al geweet daar gaan meer as een boek uit die Bos kom."

In 1985 word Fiela se kind gepubliseer. Die eerste oplaag was 30 000 eksemplare – die meeste wat Tafelberg-Uitgewers nog ooit van een titel gedruk het van ’n boek wat nie voorgeskryf of ’n kroonboek by Leserskring was nie. (Beeld, 22 April 1985)

Dit speel min of meer in dieselfde tyd as Kringe af – tussen 1860 en 1880. Elias van Rooyen, die houtkapper, en sy gesin woon in die Bos. Op ’n dag verdwyn hulle driejarige seuntjie, Lukas, en word as dood aangeneem. ’n Bruin gesin wat aan die ander kant van die berg in die Lange Kloof woon, vind ongeveer dieselfde tyd ’n driejarige wit kind voor hulle deur. Fiela Komoetie maak hom met liefde groot as haar eie totdat hy nege jaar later tydens ’n sensusopname opgemerk word. Elias se vrou wys hom aan as haar verlore seun en hy word teruggestuur na die Van Rooyens, en so word Benjamin Komoetie skielik Lukas van Rooyen en moet hy leer om by die houtkappersbestaan aan te pas. Sy enigste vertroueling tydens hierdie identiteitskrisis is sy "suster" Nina, vir wie hy ’n besondere liefde ontwikkel. Die verhaal, wat op die werklikheid gebaseer is, is aan Dalene vertel deur ’n sekere Elizabeth Grimble en lesers word binne-in die boswêreld geplaas, terwyl hulle ook met die kontrasterende, harde volstruiswêreld van die Lange Kloof kennis maak. (Sarie, 19 Junie 1985)

Weer is die kritici gaande oor die boek. Gert Jooste (Oosterlig, 6 Mei 1985) noem dit ’n "fassinerende brok lewe en ’n plesierryke, bloedlewende vertelling", en vir André P Brink bevestig Fiela se kind op "skitterende wyse dat min mense by Dalene Matthee se onderhoudende vertelkuns kan kers vashou". Cecile Cilliers (Beeld, 29 April 1985) meen dat dit ’n bewys is dat Dalene Matthee twee wenners na mekaar kan skryf.

Teen Januarie 1988 is 83 200 eksemplare van Fiela se kind reeds verkoop. Dit word deur Suzanne van Wyk vir die verhoog verwerk en ’n filmweergawe word onder regie van Katinka Heyns gemaak met Shaleen Surtie-Richards as Fiela Komoetie. In 1993 is dit as ’n Engelse opera deur die studente van die Wits-musiekskool op die planke gebring met die musiek deur prof Carl van Wyk en die liriek deur Andries van der Walt. In 1999 is dit as ’n musiekblyspel in Kaapstad opgevoer deur Ian von Memerty en word dit met twee Vita-toekennings bekroon. Fiela se kind is net soos Kringe in ’n bos ook met die ATKV-Prosaprys vir 1986 bekroon. In 1999 word Fiela se kind as Afrikaanse Boek van die Eeu aangewys. Tolkien se Lord of the rings was eerste, met Fiela tweede en Kringe in ’n bos in die derde plek.

Vir Fiela se kind moes Dalene die enigste meestersgraad ter wêreld oor ’n volstruis deurwerk. "Jy kan nie ’n volstruis in ’n kamp sit met ’n potlood nie. Jy was nog net by die Safari Ostrich Farm op Oudtshoorn. Wat weet jy van ’n volstruis?" (Die Burger, 22 Maart 1985)

In 1986 het Tukkies se Studenteraad vir Dalene vereer deur ’n eremedalje aan haar toe te ken vir haar uitstaande bydrae tot die mense van Suid-Afrika, haar voorbeeldige Christelike karakter en haar integriteit.

Die Raad van die Suider-Afrikaanse Instituut van Boswese het in 1986 eenparig besluit om daardie jaar se Bosbouprys aan Dalene toe te ken. Volgens ’n verklaring van die Instituut het sy die Outeniekwa en die ekonomiese en maatskaplike omstandighede van hierdie gebied in die tydperk 1880 tot 1890 aan die leserspubliek bekend gestel. "Deur haar romans het sy mense vertroud gemaak met die Knysnabos, die vroeë houtkappersgemeenskap en die groei en die ontwikkeling van die houtbedryf in Knysna. Enersyds het sy begrip by die lesers gewek vir die destyds verarmde en dikwels veragterde boswerkersgemeenskap en andersyds het sy die aandag gevestig op die noodsaaklikheid om die inheemse diere en plantegroei te bewaar. Haar romans is gegrond op ’n deeglike studie van die Bos en die houtbedryf van die streek. Die vakkundige, tegniese en geskiedkundige inligting in die romans is juis en bo verdenking." (Oosterlig, 26 Februarie 1986). In 2004 ontvang Dalene weer die Bosbouprys uit erkenning vir haar uitsonderlike diens aan bosbou in Suider-Afrika.

Dalene se derde Bos-boek, Moerbeibos, verskyn in 1987. Vir Dalene was hierdie boek die moeilikste om te skryf, maar sy het altyd geweet dit gaan kom. "Dit is eintlik die boek wat ek heel eerste wou skryf," vertel sy aan Nico van Gijsen in Rapport van 27 September 1987. "Daar reg aan die begin, toe ek begin het om stof bymekaar te maak vir ’n boek, toe ek nog nie eens van Kringe geweet het nie, toe het ek al geweet ek gaan dié een skryf. Dáárdie tyd al het ek gehoor van 33 Italiane – sy-boere – wat in 1882 na die Bos toe gekom het. Dit is vir my een van die mooiste stukkies geskiedenis in die Bos. Ek hoop die mense het geduld vir nog ’n boek."

Dalene vertel dat hierdie Italianers – "uitgesoekte mense, fyn mense, vakmanne – uit Italië bos toe is nadat daar aan hulle gesê is die hele woud bestaan uit moerbeibome. Hulle wou die sybedryf daar gaan vestig. Hulle is sommer net so in die Bos afgelaai. My broer, jy moet sien hoe lyk dit daar. Daar was nie eens ’n pad nie. Hulle moes self ’n pad oopkap boontoe." Sy kon egter nie toe al met hierdie boek begin nie, want die navorsing was te duur. Sy moes eers die ander twee skryf. En die twee ATKV-pryse het ook gehelp.

Moerbeibos word vertel deur die oë van Silas Miggel, ’n tipiese Bos-karakter, omdat "geen volk die reg het om oor ’n ander volk te skryf nie. Jy ken nie sy siel nie. Die naam Silas het ek uit die Bybel gehaal. Die Bos-mense was lief om hul kinders name uit die Bybel te gee. Dit het my drie dae gevat om op daardie naam te besluit. En weet jy hoe bly was ek toe ek sy betekenis gaan opkyk? Silas beteken dan 'uit die bos', 'man van bome'," vertel Dalene aan Nico van Gijsen. (Rapport, 27 September 1987)

Die navorsing vir Moerbeibos was baie harde werk. "Jy weet, ’n mens kry niks verniet nie; jy moet werk; jy moet soek; jy moet uithou. As jy ophou, is daardie ding nie die moeite werd nie." En sy hét uitgehou. In Italië het sy vreeslik gesukkel om by die symuseum uit te kom – niemand daar het van so ’n museum geweet nie. En toe sy hom uiteindelik in die hande kry, lê alles toe onder die stof en vol spinnerakke. "Asof dit nie erg genoeg was nie, gee die konsul my boonop so ’n wulpse jong meisietjie om my te help ... het jy nou al gesien hoedat my ou man sommer net daar en dan die grootste belangstelling in geskiedenis kan ontwikkel?"

In Londen in die Britse Museum het sy lang ure gesit en werk en haar nie van haar stoel af gelig nie – nie eers om toilet toe te gaan nie – omdat sy te bang is iemand vat haar stoel. "Maar dan kom jy by die huis en jy gaan in die eensaamste stukkie tyd van jou lewe in. [...] Ek eet, slaap, werk en dink ... alles doen ek in my studeerkamer. In die begin lees ek nog gereeld my Bybel, maar later kom ek nie eens meer daarby uit nie. En dan vra ek die Here om verskoning. Ek sê vir Hom dat ek later weer gereeld sal lees. Hy verstaan. Ek kan mos net een ding op ’n slag doen." (Rapport, 27 September 1987)

En net soos die eerste twee Bos-boeke is Moerbeibos onmiddellik ’n treffer. Binne die eerste drie maande word 67 500 eksemplare verkoop. Moerbeibos word in 1988 met die ATKV-Prosaprys bekroon. Met die ontvangs van hierdie prys het Dalene gesê: "Ek sluit my sewe bosjare af."

In Dalene se volgende boek, Brug van die esels, wat in 1992 verskyn, verskuif die agtergrond van die verhaal uit die Bos uit en speel dit ook in die moderne tyd af. Sy dwaal egter nie te ver van die bekende af nie – die verhaal het as agtergrond die omgewing van Mosselbaai, Knysna en George in die Suid-Kaap waar sy grootgeword en gewoon het.

Die titel Brug van die esels kom eintlik van ’n ou Latynse gesegde, pons asinorum, vertel Dalene aan Die Oosterlig (23 Oktober 1992), wat sê dat ’n mens ’n brug vir ’n esel moet bou om hom by die waarheid te kry. Dit is dan ook een van die sentrale temas in die boek.

Die verhaal handel oor ’n jong vrou wat die land wil verlaat. Om geld te kry werk sy as eiendomsagent op George en spaar sy elke sent wat sy verdien. Tydens ’n kooptransaksie bied ’n egpaar haar ’n hand vol diamante aan as gedeeltelike betaling vir ’n huis. Sy onthou van ’n man, ’n ryk familievriend, oor wie daar geskinder is dat hy sy geld uit diamantsmokkel gemaak het, en gaan besoek hom. Hy gee haar die naam van ’n koper in Kaapstad en ’n transaksie word beklink. Sy besef sy kan op hierdie manier vinnig geld maak om haar droom te verwesenlik om die land te verlaat.

Dalene vertel aan Hoffie Hofmeister (Rapport-Tydskrif, 25 Oktober 1992) dat sy aan die skryf was aan Kringe toe sy eendag in 1981 ’n foto op die voorblad van die koerant sien van ’n jong vrou wat in verband met diamante in die hof verskyn het. Dalene het die meisie en haar ouers geken en dit het haar laat wonder hoekom sy dit gedoen het. Sy het met die meisie gaan praat en haar gevra of sy vir Dalene sal vertel vanaf die eerste dag toe die eerste diamant in haar hand gelê het. Dalene het vier swaar jare aan Brug van die esels gewerk en nagevors.

Met die skryf van hierdie boek het sy die eerste keer in haar skryfloopbaan tou opgegooi voordat die werk voltooi was. "Dit was die enigste boek wat ek opgegee het. Regtig neergesit het en nie gedink het ek sal dit klaarkry nie. Dit was so driekwart deur die boek. My groot probleem was om die soveel [met wyd uitgestrekte arms] soveel [wys met voorvinger en duim] te kry dat dit nog sin maak." Gelukkig het ’n wonderwerk gebeur wat haar weer aan die skryf gesit het. Oor die wonderwerk wou sy nie teenoor Hofmeister uitbrei nie.

Dalene en lede van haar gesin het, net soos Araminta Rossouw van Brug, dit net voor die skryf van die boek ook sterk oorweeg om Suid-Afrika te verlaat. "Jy kan deur ’n karakter loop," vertel sy aan Willem Pretorius (Beeld, 22 Oktober 1992), "maar as jy nie daai krisis beleef het nie, sal jy nooit so ’n karakter laat leef nie. Ons gesin is deur daardie krisis van jou land wil verlaat. [...] Dis ’n baie ernstige ding as ’n kind van jou aan jou wortels kom pluk. Hulle hou die wonderlikste politieke toesprake. Ek en die karakter het deur daardie toesprake geworstel met die skryf van die boek. En dieper in die boek het die krisis al dieper geword. [...] Nou is ek deur die krisis, maar my kinders nog nie."

Pretorius vra haar of sy voel dat daar plek vir wittes in Afrika is: "Ek voel nou daar is plek vir my. Daarmee saam het die besef gekom dat ek Afrika skuld en hy nie vir my nie. So driekwart deur die boek wou ek emigreer. Net so voor Kodesa. [...] Die keerpunt het gekom toe ek besef ek sal vergaan as ek ophou om in wonderwerke te glo. Daar het toe ’n groot vrede oor my gekom. Elke keer as ek nou in die buiteland is, moet ek ná 21 dae tuis wees. As daai vliegtuig oor George draai, praat die aarde met my. Daarom is dit goed om weg te gaan – sodat jy kan terugkom."

George Weideman (Die Burger, 17 November 1992) skryf in sy resensie: "Stel jou voor jy leef in ’n tyd van ekonomiese probleme, geldvrate en politieke opportunisme, seker die gevaarlikste tyd vir ’n skrywer, want juis dán word die skrywerstem nie maklik bo die klank van geld gehoor nie. En juis dán verskyn ’n roman soos Brug van die esels, as bevestiging van die enigste eerbare rol wat die skrywer nog altyd durf speel het in so ’n tyd: om skeefgetrekte waardes te bevraagteken, om ’n boodskap van opstand en hoop te bring, om korrektief te wees vir opportunisme. Dalene Matthee kry met haar roman die onmoontlike reg. Dit is om ’n haas oppervlakkige, maar boeiende storie met soveel wysheid te laai dat selfs die grootste filistyn nie onaangeraak bly nie."

In 1992 word Dalene aangewys as een van die twee wenners van die Stab-prys. Stab (Stiftung für Abenländische Besinnung) is ’n Switserse vereniging onder leiding van dr Hans Jenny wat jaarliks erkenning gee aan mense wat ’n aansienlike bydrae tot die uitbouing van die Westerse kultuur gelewer het. Dalene word vereer "vir haar warm en kragtige romans wat uitdrukking gee aan haar betrokkenheid by die bedreigde omgewing en iedere mens se intellektuele reg op sy kulturele identiteit".

In 1988 ontvang Dalene die ereburgerskap van haar geboortedorp Riversdal en in 1994 die ereburgerskap van Hartenbos. Sy was die eerste en laaste mens wat hierdie eer gekry het, aangesien Hartenbos by Mosselbaai ingelyf is. Voor Dalene het net die ATKV hierdie erestatus geniet.

Susters van Eva (Dalene se gunsteling van al haar boeke) verskyn in 1995, en soos almal al gewoond geraak het, word dit in 1996 met die ATKV-Prosaprys bekroon. Sy vertel aan Suzaan Steyn dat sy weet dat sy nie altyd "so gaaf" is nie en dat sy soms "’n pyn" is. Sy beskryf haarself ook as "Hartenbos se nie-maklikste inwoner", maar dit is oor sy so "diep omgee". (Volksblad, 26 Mei 1994)

Soos wanneer sy praat oor die vrou aan wie sy Susters van Eva wou opdra – "die vrou wat my op ’n lang reis geneem het deur die wêreld van vrouwees, wat my laat krap het deur die psige van die universele vrou en myself anderkant laat uitstap het om ten minste myself beter te verstaan en al die ’nonsens' wat ek in my lewe aangevang het." (aan Suzaan Steyn, De Kat, 1995)

Vir Susters van Eva het haar navorsing haar geneem na skaapplase in die Karoo, deur die wêreld van die bobbejane, tot by ’n vrou wat sielkundige in Londen is. Sy erken dat sy nog altyd wou weet wat in ’n vrou se kop gebeur. "Waarom ’n goeie, denkende vrou dikwels vooraf baie goed weet wat sy wil sê, maar die oomblik wat sy haar mond oopmaak, sê sy die teenoorgestelde. Of sê wat sy dink daar van haar verwag word om te sê en nie wat sy regtig dink nie. Hoekom?" (aan Suzaan Steyn, De Kat, 1995)

Die boek is geweef rondom vier vrouekarakters wat die vier verskillende soorte vroue in die samelewing uitbeeld: die intellektuele vrou, die intuïtiewe vrou, die sensasievrou en die gevoelsvrou. Die gebeure het sy fyn geweef om en deur die plek wat hierdie vroue in die samelewing volstaan, wat hulle gemaak het wat hulle is en deur watter katarsis hulle moet gaan. Die vier vroue is die geëmansipeerde stoetboer Cecelia, die onderdanige Louise, die wyse bruin Sofia en die wilde Jessie wat die bestel in die Kloof kom omkrap het.

Dalene het in 1988/89 aan die roman begin werk en na ’n ruk begin dink dat die onderwerp te groot is vir haar om reg daaraan te laat geskied. Sy sê haar ander boeke is "eenvoudiger", want dit was geskiedenis en daarvoor gaan jy argief toe. "Wat ’n vrou se kop laat werk, staan nêrens in argiefmateriaal opgeteken nie."

Susters van Eva se kern is om ’n ware storie gebou. ’n Vriend van haar het haar vertel van ’n vrou wat ’n baba verdrink het en Dalene het onmiddellik geweet dit kan die kern wees van die storie oor vroue wat sy nog altyd wou vertel het. Sy is na die omgewing waar die vrou gebly het en het gesoek totdat sy die plek gekry het waar die gebeure hulle afgespeel het. "Nou kyk," vertel sy aan Suzaan Steyn, "ek het ’n redelike sterkte in my, maar iets het op daardie oomblik gebeur waaroor ’n mens regtig nie kan praat nie. Ek het gehuil en vir haar gesê ek is jammer. Oor ek in haar lewe kom krap het." Dalene het besluit om ’n deel van hierdie vrou haar hoofkarakter te maak en het al dieper by haar betrokke geraak.

Vir die sielkundige in Londen het sy gevra: "Ek het ’n vrou. Sy het eers die kind drooggemaak, toe bottel gegee en toe in die water gelê om te verdrink. Help my om te begryp."

Haar navorsing het net meer as drie jaar geduur voordat sy begin skryf het. "Toe ek die dag die laaste sin skryf, het ek besef ek het presies nege maande lank geskryf ... So al asof dit ’n soort geboorte was." Vir Dalene was die vier jaar wat sy aan die boek gewerk het, van die lekkerste in haar lewe. Dit was vier jaar waarin sy die meeste geleer het – oor vrou wees.

Wat haar die naaste aan die hart gelê het, was die bobbejane wat ’n sentrale tema deur die verhaal vorm en (amper soos die olifante in die Bos-boeke) ’n magiese teenwoordigheid word. Sy vertel aan Steyn: "Weer eens was dit die wyfie binne die trop wat my belangstelling geprikkel het. Wat my na bobbejaankenners gestuur het. Berge toe om self waar te neem. Aan die BBC laat skryf het oor ’n program wat ek tien jaar gelede in Londen gesien het en wat hier in Kaappunt oor ’n trop wilde bobbejane gemaak is. Hulle het my ’n afskrif laat kry. Die orde binne die troppe het my bekoor. Hulle is so individualisties, elkeen met sy eie plek in die groep, maar saam vorm hulle ’n bewonderenswaardige eenheid."

Vir François Bloemhof (Die Burger, 25 Oktober 1995) bied die boek baie vreugdes, ten spyte van klein haakplekkies. Dalene tref weer met haar woordspel wanneer sy keer op keer die regte woord op presies die regte plek inspan vir maksimum effek. "En min skrywers kan só met die natuur werk. Matthee het nog altyd die vermoë gehad om mens en natuur met mekaar te verstrengel en hulle mekaar te laat weerspieël. Hier weer is die mens en die natuur één. Die gedeeltes wat die heel meeste beïndruk, kom voor wanneer die bergbobbejane beskryf word. In ’n stadium beskerm hulle Jessie. Dit is duidelik dat Matthee deeglik navorsing gedoen het oor hierdie diere; hulle kry lewe en vorm ’n parallel met die mense in die Kloof. Die Kloof is nog ’n lewe: ’n plek wat opofferings verg van dié wat in hom woon, en hulle soms beloon vir hulle arbeid, en ander kere straf ten spyte daarvan. Brug van die esels was nie so gewild soos die drie Bos-romans nie, dalk omdat dit teen so ’n assosiasieryke agtergrond afgespeel het. Die Kloof is ’n goeie plaasvervanger vir die Bos; die naam alleen roep ’n gevoel van grootsheid op, asof niks wat hier gebeur alledaags kan wees nie. Dwarsdeur Susters van Eva is dit asof die omgewing ’n krag oor sy bewoners uitoefen, soms op ’n demoniese wyse. Al val die roman se fokus op menseverhoudinge, is dit duidelik dat Dalene Matthee niks van haar storievertellersvaardighede verloor het nie."

Alexa Strachan het Susters van Eva tot ’n verhoogstuk verwerk en by die KKNK op die planke gebring.

In Augustus 2000 is Dalene se man, Larius, na ’n lang siekte aan kanker in Hartenbos oorlede.

Dalene se volgende roman, Pieternella van die Kaap: historiese roman oor Pietenella van Eva-Krotoa, word in 2000 gepubliseer. Sy glo hierdie roman is eers deur die gode gestuur toe sy "reg was om die rekenaarknoppe te druk, want daarsonder sou ek nie Pieternella kon skryf nie". Die Nasionale Kunsteraad het in 1998 ’n toelae aan Dalene gegee vir gedeeltelike finansiering van haar navorsing vir Pieternella van die Kaap.

Sy loop al vir jare met die gevoel dat daar ’n vrou is oor wie geskryf moet word – "’n heerlike, slinkse vrou. Sy is ’n Hottentottin, Eva van die Kaap. Maar sy’t nie asem nie. Elke keer as ek begin, gaan sy onder my hande dood." Dalene kontak die bekende historikus Dan Sleigh en vertel hom dat sy met hierdie vrou wil werk. "Maar as ek in die algemene dagregisters van die VOC gaan oplees, is sy ’n spikkeltjie. Tog was sy ’n belangrike mens: die tolk vir handeltransaksies tussen die amptenare van die Kasteel en die Hottentotte," vertel Dalene aan Elmari Rautenbach (Sarie, 22 Maart 2000).

Dan Sleigh gee toe vir Dalene die wenk om eers Eva se dogter, Pieternella, by die Deense chirurgyn Pieter van Meerhoff te gaan soek. Toe Dalene begin werk, besef sy dat sy dit nie alleen sal kan doen nie en vra Dan om haar te help, en stel hom aan. In hul navorsing oor drie jaar het hulle antwoorde gekry op vrae wat tot op daardie destyds nog onbeantwoord was, asook oor details oor minder bekende feite – veral oor die belangrike rol wat die "Godseiland" Mauritius as ’n verversingspos en later as ook as tuiste vir Pieternella gespeel het.

"Ek dink dit is die eerste keer dat Dan saam met iemand gewerk het wat vir hom sê: die feite is vir my onaanvaarbaar," vertel sy aan Elmari Rautenbach. "Hy’t later geweet as ek eers sê my maag sê dis nie waar nie, soek ons van voor af ..."

Dalene se navorsing vir Pieternella het behels dat sy Robbeneiland moes besoek. Daarvoor moes sy toestemming kry om die eiland in sy geheel te leer ken. "Elke baai, rots, pikkewynplek, waar die Uitkyker op Vuurberg gesit het, wat hy gesien het. Daarna begin jy met die dagboeke van die Poshouers en immers begin jy weet waar waarvan hy praat, val dinge in perspektief." (Kaapse Bibliotekaris, September/Oktober 2001)

Om die agtergrond vir die martelkamers na te vors, is sy Nederland toe, want in Den Haag is ’n museum waar al die VOC se ou martelkamers se apparate gehuisves word en waar die kurator jou presies vertel hoe daar gemartel is. Daarna na Amsterdam waar daar by die Skeepsmuseum ’n presiese replika van ’n VOC-seilskip in die hawe dryf. Van hierdie seilskip moet elke hoekie verken word "sodat jy ten einde so korrek as moontlik ’n seilskip op die water kan hou". (Kaapse Bibliotekaris, September/Oktober 2001)

Daarna is sy Mauritius toe waar sy gaan kyk het waar die ou Losie van die Hollanders gestaan het, waar die skepe aan anker gelê het. "Jy fynkam Lamotius se dagboeke, elke brief wat van Mauritius af an die Kaap gerig was." En dit was alles net die punt van die ysberg en het Dalene uiteindelik ’n yslike R59 000 uit die sak gejaag. (Kaapse Bibliotekaris, September/Oktober 2001)

Dalene vertel aan Charles Fryer in Insig van April 2000 dat sy ’n geweldige respek vir die waarheid het, veral as dit kom by haar navorsing: "Dit sal verskriklik wees om te weet jy't ’n lieg geskryf. As ’n skip moet uitvaar, is die windrigting tog belangrik. Pieternella se skip verlaat die Kaap in die winter, dus sal die noordwester waai. En jy moet weet wanneer die seesiek hulle begin tref. Jy moet weet hoe so ’n seilskip werk, hoe die winde loop, hoe die storm hulle slaan, hoe hulle deur die koraalrif rondom Mauritius kom."

Barrie Hough (Rapport, 14 Mei 2000) beskryf Pieternella as ’n aangrypende lewensverhaal van Pieternella en dat dit ’n panoramiese en deurtastende beskouing gee van die lewe aan die Kaap, op Robbeneiland en Mauritius in die sewentiende eeu. Hy skryf: "Matthee dis nie net droë geskiedenis soos wurgpap op nie. Sy sit dit in fyn porselein voor as ’n smulmaaltyd met subtiele speserye, nuwe geure en geheime sousies wat die smaak nog verder prikkel."

Hoewel Dalene na die verskyning van Moerbeibos gesê het dat sy klaar is met die Bos, het sy altyd gevoel daar moet ’n "vierde poot van die tafel" wees (Beeld, 18 Julie 2003). Byna twintig jaar na die publikasie van Kringe in ’n bos skryf sy Toorbos. Dit gaan oor die onsigbare en bonatuurlike in die Knysnabos. "Dié deel van die Bos wat die oë nie kan sien nie. Dis ’n persoonlike, eerlike boek. Ek sou graag vir die Bos wou gaan sê ek het my dankie geskryf. Daar is ’n ding in die Bos wat onsienlik is," vertel sy aan Nols Nieman in Volksblad van 7 Oktober 2002.

Met Toorbos word die verhaal van die mense van die Bos, voltooi. Sy vertel aan Francois Smith (Beeld, 18 Julie 2003) dat sy geweet het dat sy die stories oor die Bos moes afsluit waar die houtkappers die Bos verlaat. "En dít is grootliks die verhaal van die bittere laaste dae van die Knysna-houtkappers, ’n soort maatskaplike realisme wat jy jou nie maklik onder die titel Toorbos kan voorstel nie", skryf Francois Smith. Maar die titel was van die begin af in Dalene se kop. "Daar is ’n aspek van die bos wat van die begin by my was, maar wat nie in die ander boek gehoort het nie. Vandat Kringe in ’n bos geskryf is, sou ek darem baie graag ’n fairy in ’n boek wou hê." As Francois sy skeptisisme wys, antwoord Dalene hom: "As jy ’n Christen sien, kom wys hom vir my. Ek het nog nie een gesien nie. Maar oor fairies het ek nie twyfel nie."

En deur al die jare bly Dalene se skatpligtigheid teenoor die Bos voorop staan. In Toorbos is ’n sin wat lui: "Dit voel vir my die wêreld begin kantel om ons almal na verskillende kante toe af te gooi." Vir Dalene is dit ’n sin wat uit die hart uit kom. "Die wêreld is gatvol vir ons," sê sy vir Francois Smith. "Nee magtag, ons brou te veel. En ons sal onsself pootjie totdat ons by die groot waarheid uitkom, die waarheid agter die groot gelieg."

Die eiesinnige hoofkarakter in Toorbos, Karoliena, het hierdie swaar pad na waarheid geloop. En Karoliena is ’n vrou so na Dalene se hart wat dadelik erken dat sy nie met bang mense werk nie en met "vróúslim" mense. Sy hoef egter nie met Karoliena te gesukkel het nie. "Sy het geweet wie sy is. Maar sy sou dit nie maklik hê nie, nè? Ek moes haar van ’n krans afstamp, want haar verbesondering vind plaas as sy terugklim tot bo. Dis die lekker van Karoliena – ek ken sulke vroue – sy sal haar nie doodval nie. En sy soek nie simpatie nie ..."

Dalene vertel verder aan Francois Smith dat elkeen van haar boeke ’n wysie gehad het. Sy het letterllik na ’n spesifieke stuk musiek gesluister terwyl sy haar Bosboeke geskryf het. En sy het agtergekom dat dit ’n Rossini-wysie is. "Ek het gaan nalees en agtergekom dat Rossini lief was daarvoor om in die woud te gaan stap. Toorbos wou ek egter op ’n Mozart-melodie skryf. Dit sou my slim boek wees. Maar pas nadat ek begin het, luister ek na ’n Joan Sutherland-CD. En skielik hoor ek die éintlike wysie vir my boek. Ek gryp die CD-kassie om vas te stel wat dit is: en weer eens is dit Rossini! Ek skrik my bedonnerd. Maar Karoliena het gejubel."

In Toorbos se geval moes Dalene weer intensief navorsing doen – hierdie slag oor die laaste houtkappers in die Bos en die werk van die Carnegie-kommissie onder die armblankes daar. Sy was gou meegevoer. "Veral MER se verslae was vir my van groot belang. Nadat ek dit fyn gelees het, het ek respek vir haar. Sy was so akademies korrek. Maar ek het haar nie gespaar nie. Sy het probeer, maar sy was te kort in die bos. Sy was een van die spreeus waaroor ek in die boek skryf: dié waarvan Karoliena sê hulle het nog sagte kos nodig. By die regte probleem – dat die boswerkers opsétlik so verarm is – het sy nooit uitgekom nie."

Daar was gelukkig nie net ongelukkige eindes vir die Bos se armes nie. "Uit die armoede het ’n groeipunt gekom. As jy vandag die nasate sien van die bos se eenvoudigste mense: ek kan nie vir jou sê watter sterk, gesonde mense uit daai bos gekom het nie," vertel sy aan Sonja Loots. (Rapport, 27 Julie 2003).

Vir Dalene was een van die heerlikste goed wat sy in Toorbos geskryf het, die toneel waar Karoliena haarself in ’n boom verander het. "Dit het vir my vreugde gegee wat hier uit die solar plexus kom. Jitte, sy was nou ’n nice boom. Was sy nie ’n nice boom nie?" (Rapport, 27 Julie 2003)

Toorbos speel hom af in die 1930's en die sterkste temas daarin is dié van ontmagtiging en bemagtiging van die boswerkers en hulle gesinne en dié van Karoliena. Elize Parker skryf in Sarie (Augustus 2003): "As groep moes die boswerkers en hul gesinne vir hul waardigheid en voortbestaan veg teen die mag van geld, staatsmag en die mag van die natuur. Karoliena het hiervoor en om selfbemagtiging geveg. As vrou en as bosmens moes sy die Bos agterlaat en ’n nuwe lewe vir haarself vind. Hiervoor moes sy letterlik en figuurlik ’n brug tussen twee wêrelde oorsteek."

Dalene vertel vir Elize Parker dat sy sterk op haar eie ervaring staatgemaak het om dit uit te beeld. "Daar is ’n spesifieke plek ná die Gounarivier waar jy oor ’n brug tussen die Bos en die werklike wêreld móét gaan. Voor jy daar kom, moet jy jouself innerlik voorberei om die werklikheid, the real world, in die oë te kyk. Agter jou lê die ongelooflike Bos met sy eie identiteit. Op ’n punt begin dit gewoon dennebos word. Dan kom daar in jou ’n ontevredenheid en dit is ’n hartseer oomblik. Jy verloor iets. Die Bos verloor nie iets nie. Daar is nie ’n mens so slim soos die Bos nie. Jy kan altyd net van die Bos gaan leer."

Nog goed waarvan Dalene moes leer vir die skryf van Toorbos, is die motte wat Karoliena gevang het en wat op die voorblad van die boek uitgebeeld word, asook die veelkleurige dwergverkleurmannetjie. Toe sy die Leto Venus gemonteer gesien het, het dit haar asem weggeslaan. ’n Boswagter, Willie Cooper, het vir Dalene vertel dat hy in sy agtien jaar in die Bos nog nooit ’n dwergverkleurmannetjie gesien het nie, maar saam met Hilary en haar vriend het hulle twee in die Bos gekry.

Thys Human (Rapport, 31 Augustus 2003) skryf dat Toorbos ’n wye draai loop en ’n universele verhaal vertel. "Die roman se mooiste gedagtes is dikwels dié wat ongesê bly, terwyl daar in die mees terloopse opmerkings soms ’n hele geskiedenis en verhaal opgesluit lê. Vir hom is dit ’n boek vol wysheid en warmte, met karakters wat lééf, en dit bevestig Dalene Matthee se statuur as storieverteller."

In 2003 trek Dalene van Hartenbos na Mosselbaai, waar sy Toorbos en Die uitgespoeldes voltooi het.

In Februarie 2005 word Dalene in die Bayview-kliniek in Mosselbaai opgeneem vir hartversaking. Sy sal nie weer die hospitaal verlaat nie en op 20 Februarie is sy oorlede. Vir die hele land was dit ’n geweldige skok en haar dood is bestempel as ’n groot verlies vir die Afrikaanse letterkunde en vir die Afrikaanse leserpubliek. Sy word oorleef deur haar drie dogters, Amanda en Hilary Matthee en Toni van der Walt.

Huldeblyke

  • Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers: "Sy was een van die mees geliefde skrywers in Afrikaans. Met haar boeke het sy die Afrikaanse publiek weer aan die lees gekry en is ’n suksesvolle brug geslaan tussen gehalte- en populêre lektuur." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Elsa Joubert: "Sy het dit reggekry dat mense wat nooit Afrikaans lees nie, Afrikaans lees, en dit is ’n wonderlike bydrae. " (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Wium van Zyl, letterkundige: "Sy was soos Langenhoven. Soms het sy iets vir die intellektuele leser en vir die gewone leser gebied. Sy het die leser blootgestel aan verskeie problematieke. Sy was ’n ekologis en ’n milde feminis wat met aandag en respek na die arm mens gekyk het." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Abraham H de Vries: "As daar nou iemand is oor wie die Afrikaanse skrywersgemeenskap vandag treur, is dit Matthee. Die stem van een van die heel beste storievertellers is dood. Net sy sou daardie bosverhale kon skryf, niemand anders sou kon nie." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • André P Brink: "Matthee was een van die werklik beduidende stemme in die Afrikaanse letterkunde." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Chris Barnard: "Dit is ’n reuse-verlies vir Afrikaans, vir die storie in Afrikaans. Ons het almal gedink sy gaan nog vir ons ’n klomp goed skryf. Ons sal miskien eers agterna besef watter plek sy in Afrikaans gevul het – sy het skielik weer die Afrikaanse letterkunde na die leser gebring." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Willie Burger: "Ek dink sy het mense weer aan die lees gekry. Wat hulle daai tyd gesê het, is dat haar werk tussen gewilde en hoë literatuur was. Met haar romans het sy ’n belangrike rol in dié verband gespeel. Sy het weer begin om 'stories te vertel': op haar manier het sy ’n bydrae gelewer wat betref perspektiewe oor ras, vroue en die omgewing." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Prof Elize Botha: "As romanskrywer het sy ’n unieke gawe gehad. Dit is ’n baie, baie groot talent wat weg is. Sy het groot opgesette romans geskryf waarin daar geweldig baie navorsing en scholarship inbegrepe was. En tog was sy altyd volkome toeganklik vir ’n baie breë leserspubliek. ’n Mens duisel dat Dalene miskien nog – menslikerwys gesproke –meer van die groot werk sou kon gedoen het. Dat dít vir haar en vir ons nie gegun is nie ..." (Volksblad, 21 Februarie 2005)
  • Paul Eilers, akteur: "As enigeen ooit in die bos tussen die varings rondloop, staan vir ’n wyle doodstil: Dalene Matthee sal daar wees." (Volksblad, 24 Februarie 2005)
  • Ds Dawid de Wet, predikant by roudiens: "Sy was een van onse mense, ’n dogter van die Suid-Kaap. Ons het die voorreg gehad om iemand te ken wie se hart ook die bos se hart was. Sy het met ’n verbasende eerlikheid gelewe en was geseën met unieke gawes wat die lewe van almal geraak het." (Volksblad, 24 Februarie 2005)
  • Amanda, haar dogter: "My ma het geglo skryf is harde werk. Sy het nie kortpaaie gevat nie, want 'daar is altyd iemand wat meer weet as jy'. [...] Dalk is dít wat haar skryfwerk spesiaal gemaak het – die kombinasie van nuuskierigheid, eerlike werk en die wysheid om te luister na 'die gevoel op jou maag." (Die Burger, 1 Desember 2014)
  • Shaleen Surtie-Richards, aktrise wat die rol van Fiela gespeel het: "Ek sal altyd daardie wonderlike mens onthou wat haar oë so groot gemaak het wanneer sy "ai, foei tog" vir haar bewonderaars gesê het, sy was so nederig." (Rapport, 27 Februarie 2005)
  • Hennie Aucamp:

Groot gryse

In donker dieptes van die bos
Het ingestort ’n swaar kolos
’n olifant of dalk ’n boom:
Matthee word wakker in haar droom. (Die Burger, 28 Februarie 2005)

  • Charles Fryer: "Dalene was waarskynlik die mees geliefde skrywer naas Langenhoven in Afrikaans. Ná haar skielike dood het ’n gevoel van volslae ongeloof onder haar aanhangers geheers. Met haar vitale teenwoordigheid was hierdie oervrou, hierdie wyse 'ou siel', ’n tydlose mens." (Insig, Mei 2005)
  • Petra Grütter: "Die bos, ’n seldsaaam magtige gegewe, wat alles gee en niks daarvoor terugverwag nie, was haar ware leidsvrou. Haar baarmoeder: Dáár het sy aangekom. En so versigtig daardeur beweeg soos die Grootvoete self, van wie ons nog nie weet hoeveel daar van hul is nie. Maar baie is dié nié." (Insig, Mei 2005)
  • Suzette Kotzé-Myburgh: "Dalene het help afbreek aan die stigma dat Afrikaanse boeke ontoeganklik is." (Die Burger, 1 Desember 2014)
  • Riana Scheepers: "Dalene was ’n moeilike, maar regverdige mens, ’n wonderlike skrywer, ’n verbysterende storieverteller. Sy het ons relatief klein Afrikaanse letterkunde vér oor die grense van ons taal geneem. Ek is op ’n vreemde manier nie verbaas dat Dalene aan haar hart dood is nie; sy het immers met haar haar hele, ruim hart geskryf." (Die Burger, 23 Februarie 2005)

In September 2005 publiseer Penguin Dalene se Die uitgespoeldes, die eerste Afrikaanse boek wat regstreeks deur hulle gepubliseer is. In hierdie roman vertel sy die storie van ’n uitgespoelde by Rietfontein naby Kaappunt en laat sy die gegewe afspeel op drie plase: Springfield, Renosterkop en Ratelrivier. Die verhaal speel hom af van 1950 tot 1960 en draai om twee Britse edelliede, James St Vincent Broke, vyfde baron De Saumerez, en sy Sweeds-gebore vrou, Gunhild Black, lady De Saumerez. Hulle vestig hulle op Springfield.

Amanda Botha (Die Burger, 23 September 2005) vertel dat die stories wat Die uitgespoeldes gevoed het, al vanaf die middel-tagtigerjare na Dalene toe gekom het, maar tussenin het sy vier ander romans voltooi. Soos met al haar vorige werke was Dalene se navorsingswerk weer vir haar die belangrikste. Sy het wyd gelees oor die mense van die omgewing – gepubliseerde en ongepubliseerde bronne – totdat sy begin speel het met wat die hoofmomente van haar verhaal sou word. "Sy had haar eie pas. Vir haar moes die karakters eers gestalte kry, en van daar ontwikkel sy die storielyn. Die gegewe is op die werklikheid gebaseer, maar dit word slegs die bestanddele van haar storie. Sy het herskep en omvorm so in die werk. Sy het dit self só gestel: 'Ek weet wanneer om stadig te loop; ek weet wanneer ek moet draf.' Die 'stadig loop' is wanneer sy intens oor ’n onderwerp lees, en die 'draf' is wanneer haar storie haar op loop neem," vertel Amanda Botha.

Die uitgespoeldes word uiteindelik Moses Swart se verhaal. "Hy is die een wat regtig in Rietfontein se baai uitgespoel het. Daar waar ’n mirakel hom kom optel het, en ’n flentertjie onthou diep in hom agtergelaat het," vertel Dalene aan Amanda Botha. (Die Burger, 23 September 2005).

In Volksblad van 24 Februarie 2005 vertel Suzette Myburgh, uitgewer, dat sy in ongeveer 2004 ’n oproep van Dalene gekry het om te vertel van die manuskrip van Die uitgespoeldes, maar sy weet nie of dit gaan werk nie. Dit is ou stories oor skeepswrakke en skipbreukelinge wat sy in die Overberg opgetel het. Suzette kry die halfklaar manuskrip. Sy vertel dat die storie ’n vreemde bekoring het, "iets van die mistieke verbondenheid tussen mense wat op die onsêbare vlak lê. Heelwat anders as haar Bos-boeke, maar onmiskenbaar Matthee. ’n Paar maande later volg die manuskrip, ’n besonderse storie. Veral interessant, nou by terugskoue, is hoe spesifiek sy hierin oor die dood skryf. Ek dink sy het reggemaak om te vertrek."

Marinda Schutte (Volksblad, 13 Maart 2006) meen dat Die uitgespoeldes nie vergelyk kan word met haar Bos-romans nie, maar dit is ’n "toeganklike verhaal met ’n interessante tema en karakters wat baie leesgenot verskaf en is dit ’n waardige afskeidsverhaal van een van die gewildste skrywers in Afrikaans."

Hans Neervoort (Die Burger, 6 Februarie 2006) skryf dat Moses Swart "een geniale tovervondst" is.

In 2007 word die Nasionale Departement van Kuns en Kultuur se Suid-Afrikaanse Letterkunde-toekenning postuum aan Dalene toegeken.

Dalene Matthee is die enigste skrywer in Afrikaans van wie meer as een miljoen boeke in Afrikaans in Suid-Afrika verkoop is. In 2007 kondig Exclusive Books ’n lys van 101 Books to read before you die aan en beide Kringe in ’n bos en Fiela se kind is op hierdie lys. Slegs drie Afrikaanse boeke het die lys gehaal.

In 2007 gee Tafelberg Uitgewers Om ’n man te koop uit. Dit is ’n versameling van Dalene se heel eerste kortverhale wat in die sestiger- en sewentigerjare in Die Huisgenoot en Sarie verskyn het. Dalene het spottend daarna verwys as haar jeugmisdade. Corné Coetzee (Beeld, 23 April 2007) meen dit is ligte verhale wat volgend die tydskrifresep geskryf is, maar die skrywer kán ’n storie vertel: "Sy teken haar karakters, ter wille van vermaak, effens vereenvoudig, groter en kleurryker as lewensgetrou. Binne die beperkinge wat die meeste verhale as liefdesverhale loop, vind Matthee genoeg ruimte om haar onmiskenbare talent te oefen en soms selfs vlerke te laat kry."

Voormalige president Nelson Mandela het, terwyl hy in die tronk op Robbeneiland was, die boeke van verskeie Afrikaanse skrywers gelees en het veral van Dalene se boeke gehou. Hy het ook die film Circles in a forest in die tronk gesien. Hy het Dalene gebel om haar geluk te wens met Pieternella van die Kaap, wat onder meer op Robbeneiland afspeel.

Jan Liebenberg vra haar in Keur van 11 Maart 1988 waar sy aan haar idees kom en wat eerste kom. "Navorsing bring die storie. Soos dit loop, kruip die storie daaruit. Jy raak hipersensitief vir ’n moontlikheid. Dan word dit ’n dringendheid. Jy wil die storie vertel. Ek is baie bang en baie versigtig. Jy moet seker wees van jou feite. Jy durf nie op hoorsê staatmaak nie. Baie dikwels moes ek ’n goeie storie, ’n episode wat ek weet hiér is ’n ding, weggooi omdat ek nie dokumentêre bewys daarvoor kon kry nie."

En wanneer sy haarself, soos so baie ander skrywers, "geestelik op die kaalhaaivlakte" bevind, vlug sy na haar geliefde Bos toe. Sy sit haar rugsak op haar rug en gaan soms vir ’n paar dae, partymaal net vir ’n dag se stap; alleen of soms saam met ander. Sy het ook al nagte in die Bos deurgebring as deel van haar navorsing. Sy verduidelik aan Jan Liebenberg (Keur, 11 Maart 1988): "Ek gaan Bos toe om te herlaai. Ek is op my gelukkigste in die Bos. Dit maak jou siel skoon, jy raak ontslae van ’n paar onnodige dinge."

Oor haar karakters, soos Fiela, se aardse en mensbeklede godsdiens gesels Dalene met Jan Liebenberg: "Ek as moderne mens lag vir die ou mense se geloof in die duiwel met sy vurk en horings. Vir hulle is dit ’n groot saak. Jy moet rein leef en rein dink anders gaan jy hel toe. Dit is hulle veiligheidsgordel."

"Hulle het ’n eerliker, openliker, reguiter manier gehad met die Skepper. Hulle het min in die kerk gekom en dikwels gevlug as die predikant op huisbesoek kom. Maar hulle het gereeld die Bybel gelees. Beslis elke Sondag.

"My eie beskouing? Dis ’n ontsaglik persoonlike beskouing. Ek is ’n binnekamermens."

Boeke was nog altyd iets waarsonder sy nie kon klaarkom nie, vertel sy aan Isabel Niehaus (Rooi Rose, 29 Oktober 1986). "In die swaarkrydae is ek altyd stad toe met geld in die sak om klere te koop. Maar, ai tog, wanneer ek die pad huis toe vat sonder die klere, maar met boeke in die bagasiebak, het ek skatryk gevoel!" Ander vreugdes in haar lewe was die sterrekunde: "Elke konstellasie wat ek uitken of sien, bied die grootste vreugde ... is mos my vrinne"; en haar tuin: "Elke plantjie word sorgvuldig geplant en het sy eie plekkie."

Baie goed maak Dalene benoud en sy gee maklik weg. "Elke besitting is net nog ’n blok aan jou been. My vanillas is die goed wat geld nie kan koop nie. My kosbare klippe wat ek oral opgetel het, sommer gewone ou klippies, maar elkeen met sy herinneringe ... dinge hoef nie duur te wees om iets te beteken nie." (Rooi Rose, 29 Oktober 1986)

Al die roem wat die skrywery meegebring het, het nie na Dalene se kop gegaan nie. "Daarvoor is ek te realisties. Dankbaar vir alles, dit is ek beslis. My skryfwerk is my brood en botter en dit wat ek ruil vir my brood en botter, moet goed wees. Daarom wil ek niks vir niks hê nie. Vir my man, Larius, is ek steeds die onnooslike vrou met wie hy destyds getroud is en die kinders ... nou ja, wat hulle partykeer oor ma se skrywery kwytraak, is allesbehalwe vleiend," vertel sy aan Isabel Niehaus in 1986. (Rooi Rose, 29 Oktober 1986)

Volgens Dalene kweek ’n skrywer ’n fyn waarnemingsvermoë aan. "Jy ontwikkel ’n sintuig van sien en nie net kyk nie. Jy sien dinge in mense en dinge wat by iemand anders verbygaan. Maar," waarsku sy Lydia van der Merwe (Sarie, 16 Oktober 1991), "jy moet jou verbeelding by die huis los. Anders projekteer jy dit op die dinge om jou."

Isabel Niehaus sluit haar onderhoud met Dalene Matthee af: "Sy het die aardse mens gebly wat sy was, wat die mooi uit die lewe geneem het, hetsy ’n klip of ’n inspirasie uit die bos, en ’n vanilla daarvan gemaak het."

Vanweë Dalene se spesiale verhouding met die Knysna-bos was Hilary, Dalene se jongste dogter, baie ontvanklik vir die idee van Kitto Erasmus, ’n voormalige direkteur van omgewingsake wat Dalene baie met haar navorsing vir haar Bos-boeke gehelp het, om ’n gedenksteen vir Dalene in die Knysna-bos op te rig. Dit was vir Hilary die logiese idee, want die Bos is waar Dalene herlaai het en dit is die plek waar sy op haar gelukkigste was. "Dit is waar sy feetjies gesien het, ’n voëltjie se vlug kon volg en lelies kon bewonder. Dit was haar inspirasieplek."

Nadat die ontwerp geskep is, was die probleem van watter materiaal dit gemaak moes word. Sandsteen is te poreus en verbrokkel maklik en hulle moes ook vandalisme in gedagte hou. Hulle het toe by Dawid Augustyn van JA Clift in die Paarl uitgekom wat ook monumente soos die Rhodes Memorial in Kaapstad en die nuwe Hugenote-monument op Franschhoek opgerig het. Die Italianer Mick D'Aquanno was destyds die enigste vakman in die Kaap wat die inskripsie met die hand op die steen kon sit. Volgens Hilary het die Wildernis Nasionale Parkeraad hulle ook baie gehelp. Hulle het die aansoek verwelkom en uit hul pad gegaan om dit ’n werklikheid te maak.

Die gedenksteen is by die geelhoutboom (Groot Boom) opgerig. Die boom is herdoop na die Dalene Matthee Big Tree. Langs die boom begin die Kringe in ’n bos / Circles in a Forest-sirkelroete van 9 km. Dalene se laaste wens was dat haar as by Krisjan-se-Nek in die Knysna-bos gestrooi moet word. "Dit is waar sy nou rus," sê Hilary. (Volksblad, 3 Maart 2008)

Publikasies:

Publikasie

Die twaalfuur-stokkie

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1991

ISBN

0628034962 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 1991

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

’n Huis vir Nadia

Publikasiedatum

  • 1982
  • 2006

ISBN

  • 0624018164 (hb)
  • 0624044386 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die Judasbok

Publikasiedatum

  • 1982
  • 1999
  • 2008

ISBN

  • 0798113073 (hb)
  • 1874932107 (sb)
  • 9780624046172 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Johannesburg: Viva
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Petronella van Aarde, burgemeester

Publikasiedatum

  • 1983
  • 2006

ISBN

  • 0624019225 (hb)
  • 0624044394 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kringe in ’n bos

Publikasiedatum

  • 1984
  • 1985
  • 1986
  • 1987
  • 1988
  • 1989
  • 1994
  • 1995
  • 1996
  • 2000
  • 2005
  • 2008

ISBN

  • 0624022560 (hb)
  • 062402184X (sb)
  • 0624028178 (sb)
  • 0624038475 (sb)
  • 0624043312 (sb)
  • 9780624046196 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Prosaprys 1985

Vertalings

  • Engels vertaal deur outeur 1984, 1985, 2005
  • Portugees vertaal deur JA Arantes 1984
  • Nederlands vertaal deur Tess van Dongen 1984
  • Frans vertaal deur S Boulogne 1984, 1986
  • Yslands vertaal deur GO Erlingsson 1985
  • Spaans vertaal deur D Zadunaisky 1985
  • Hebreeus vertaal A Porat 1985
  • Duits vertaal deur G Stege 1985, 1986, 1987
  • Sweeds vertaal deur G Snellman 1985, H Lindenberg 1993
  • Italiaans vertaal deur MG Castagnone 1986, 1992
  • Fins vertaal deur M Haapio 1986
  • Noorweegs vertaal deur B Roald 1987

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fiela se kind

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1987
  • 1988
  • 1992
  • 1994
  • 1996
  • 1997
  • 2000
  • 2005

ISBN

  • 0624022692 (hb)
  • 0868121355 (sb) (Grootdruk)
  • 0624025144 (sb)
  • 0624026019 (sb)
  • 0624038246 (sb)
  • 0624043320 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Prosaprys 1986

Vertalings

  • Engels vertaal deur outeur 1986, 1987, 1990, 2005
  • Sweeds vertaal deur G Snellman 1987
  • Duits vertaal deur G Stege 1988, 1991
  • Frans vertaal deur A-M Jarriges 1989
  • Sloveens 198-

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Moerbeibos

Publikasiedatum

  • 1987
  • 1992 (Grootdruk)
  • 2000
  • 2005

ISBN

  • 0624025101 (hb)
  • 086812317X (sb)
  • 0624038912 (sb)
  • 0624043339 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Prosaprys 1988

Vertalings

  • Engels vertaal deur outeur 1989
  • Sweeds vertaal deur S Olsson 1991
  • Duits vertaal deur N Gatter 1993

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brug van die esels

Publikasiedatum

  • 1992
  • 2005

ISBN

  • 0624031586 (hb)
  • 0624043193 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels vertaal deur outeur 1993, 1994
  • Hebreeus 1996

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Susters van Eva

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2005

ISBN

  • 0624034267 (hb)
  • 0624041328 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Prosaprys 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pieternella van die Kaap: historiese roman oor Pieternella van Eva-Krotoa

Publikasiedatum

2000

ISBN

0624037843 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Malcolm Hacksley 2008

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Toorbos

Publikasiedatum

  • 2003
  • 2005

ISBN

  • 062404162X (hb)
  • 0624043665 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Nederlands vertaal deur Rika Vliek 2003
  • Engels vertaal deur outeur 2004, 2006

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die uitgespoeldes

Publikasiedatum

  • 2005
  • 2007

ISBN

  • 0143024906 (hb)
  • 9780143025412 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Penguin SA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2005, 2007

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Om ’n man te koop

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045045 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

 

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Dalene Matthee beskikbaar op die internet

Dalene Matthee se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-11-10 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top