Daar’s Mugabe, en dan is daar Zuma ...

  • 0

Robert Mugabe (Foto: Kremlin.ru) en Jacob Zuma

“Not with a bang, but with a whimper.” Dis hoe die einde van die Mugabe-era in Zimbabwe gebeur het.

Mugabe se einde het baie Suid-Afrikaners met valse hoop na ons eie situasie laat kyk. Valse hoop, want daar is reuseverskille tussen Mugabe en Zuma. Die grootste daarvan is waarskynlik ouderdom. Die mees getroue Mugabe-ondersteuner moet tog besef dat ’n 93-jarige nie die beste hoop op voortbestaan is nie. Hang dan maar eerder die (jonger) plaasvervanger aan, want hy gaan waarskynlik langer regeer. Zuma, aan die ander kant, is nog jonk en magsbehep genoeg om te dink hy kan deur iemand anders regeer. Tensy hy natuurlik ’n manier vind om self te regeer, selfs al moet dit ongrondwetlik gedoen word.

Mugabe se grootste fout (wat ek vermoed selfs ’n groter rol gespeel het as dat hy sy tweede in bevel verwilder het) was dat hy homself met ’n vrou wou vervang. Ons bly nog in Afrika, en Ellen Sirleaf-Johnson is die uitsondering wat die reël bewys. Grace se persoonlike tekortkominge, waarvan daar vele is, het natuurlik glad nie gehelp nie.

Die parallelle met Zuma wat sy gewese vrou ondersteun in haar poging om die volgende president te word, kan nie misgekyk word nie. Nkosazana Dlamini-Zuma word deur baie as die gesalfde beskou, maar sy is net eenvoudig nie dinamies genoeg, of onafhanklik genoeg, om die oorgrote meerderheid te oortuig dat sy met gesag sal kan regeer nie. Boonop kom sy moeg, lusteloos en sonder fut voor, asof sy nou maar net deur die motions gaan omdat dit van haar verwag word. Kritiseer Grace soos wat jy wil, niemand kan haar beskuldig daarvan dat sy nie honger en gretig was om amptelik in beheer te wees nie. Ek reken hoeka dat sy in elk geval geruime tyd al die de facto-president van Zimbabwe was.

Die baie ordentlike, beskaafde staatsgreep wat in Zimbabwe plaasgevind het, gaan in alle waarskynlikheid ongelukkig nie hier gebeur nie. Respek vir wat Mugabe op ’n stadium in Zimbabwe gedoen het, en die lang geheue van die mense, het verhoed dat daar bloedvergieting was. Ons het nie enige institusionele dankbaarheid teenoor Zuma nie. Selfs voordat hy aan bewind gekom het, was hy deurweek met skandes, korrupsieskandale, ’n verkragtingsverhoor en meer. Met Zuma was daar nooit ’n wittebrood-periode waarna ons met nostalgie kan terugkyk nie. Hy was eerder die mishandelende kêrel wat die mishandelende eggenoot geword het. Hy is die abuser wat sy vriende toegelaat het om saam te kom mishandel en misbruik. En ons is die mishandelde vrou wat nog steeds glo dinge sal regkom indien een van dié wat geweet het van die abuse en niks gedoen het nie, beheer oorneem.

Hierdie week alleen is twee ANC-amptenare in KwaZulu-Natal om die lewe gebring. Ek dink nie enigeen met enige kennis van wat in die ANC aan die gang is, verdink eers ander partye as moontlike oortreders nie. Zuma se ANC het geword soos die slang wat homself van sy eie stert af verslind. As lede bereid is om mekaar te vermoor om posisies te bekom en verstewig, of dalk selfs om te intimideer, dan beskaam die hoop op ’n bloedlose bewindsoorname.

Net die tyd sal leer of die militêre oorname in Zimbabwe uiteindelik ’n goeie ding was of nie. My wantroue aan enige bewindsoorname wat nie gerugsteun is deur ’n vrye, onafhanklike, demokratiese verkiesingsprosedure nie, kleur sekerlik my siening. Ons kan net hoop dat die weermag nie so versot raak daarop om absolute mag te hê dat hulle besluit om verkiesings af te skaf nie.

Bewindsoornames is suksesvol net as dit deur die mense op voetsoolvlak ondersteun word en uiteindelik tot groter vryheid vir almal lei. Enigiets anders is uiteindelik net window dressing om te verbloem dat daar nie bewindsoorname was nie, maar net verandering van die mishandelaar terwyl die mishandeling steeds voortgaan.

Ons kan heelwat leer uit die Zimbabwe-situasie. Dis moontlik om van despote ontslae te raak sonder bloedvergieting en saakbeskadiging. Dis moontlik om protes aan te teken sonder om af te breek.

Ons grootste fout is waarskynlik om te veel te fokus op die Desember-ANC-konferensie. Ons heil en redding lê nie by die ANC of enige ander politieke party nie.

Dit het tyd geword dat ons besef net ons kan onsself red. Nie Zuma, Ramaphosa, Phosa, of Dlamini-Zuma nie. Nie die ANC, DA, EFF of enige ander politieke party nie.

Net ons.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top