Is daar nog plek vir burgerlike ongehoorsaamheid in ons nasionale verset-retoriek?

  • 3

Rosa Parks het dit gedoen toe sy gaan sit het op ’n bussitplek wat nie aan haar toegewys was nie. Mahatma Gandhi het dit gedoen. Martin Luther King Jnr. Elke persoon wat in gevangenskap op ’n eetstaking gaan. Elke ekobeskermer wat hulle in die aangesig van stootskrapers aan ’n boom vasketting. Die Anglikaanse biskop David Russell toe hy in 1977 voor stootskrapers gaan lê het en sodoende hul toegang tot Modderdam, waar hulle huise wou platstoot kragtens die Groepsgebiedewet, versper het. Die enkele persoon wat in Tiananmen-plein voor die Chinese oorlogtenks gaan staan het in protes. HD Thoreau toe hy geweier het om belasting te betaal vir ’n dorp wat slawerny ondersteun het.

Waarna verwys ek?

Burgerlike ongehoorsaamheid.

Thoreau het dit in sy essay “Civil disobedience” so beskryf: “If the law is of such a nature that it requires you to be an agent of injustice to another, then I say, break the law. Let your life be a counter friction to stop the machine.”

Burgerlike ongehoorsaamheid, of burgerlike verset soos dit ook soms genoem word, het enkele algemene kenmerke. Eerstens teiken dit ’n wet of stel wette wat ongeregtigheid bevorder. Tweedens is dit altyd vreedsaam. Dit word derdens gekenmerk daardeur dat individue of groepe handel op ’n manier wat direk die betrokke wet verbreek. Laastens verset hulle hulself nooit teen arrestasie nie.

In sy suiwerste vorm is burgerlike verset die hoogste vorm van agting vir reg. Diegene wat hulself teen ongeregtigheid verset, is eintlik besig om hul allegiance aan ’n hoër reg te bevestig, een waar die waardigheid van die mens altyd eerste gestel word. Hulle doen dit selfs wanneer hulle die wette wat deur hulle staat ingestel is, moet verontagsaam.

’n Goeie onlangse voorbeeld van hoedat burgerlike verset kan werk, is dié van die Khwezi-aktiviste wat tydens Zuma se toespraak by die Verkiesingskommissie in Augustus stilswyend plakkate omhoog gehou het. Hulle stilte het harder gepraat as ’n honderd slagspreuke.

Nelson Mandela het aan die begin van sy verset teen apartheid die vreedsame pad gevolg. Later het hy egter die gewapende stryd begin voer – die hoofrede hoekom ek hom nie in die groep hier bo genoem het nie.

Allan Hendrickse se simboliese gebaar toe hy in Port Elizabeth gaan swem het in ’n area wat vir blanke gebruik gemerk was, skiet op dieselfde wyse tekort. Hy was nie bereid om die prys te betaal vir sy verset deur in hegtenis geneem te word of sy setel in die driekamerparlement te verloor nie.

Die Gautengse e-tol-groep wat weier om hulle boetes te betaal, en wat die saak in die hof beveg, voldoen wel aan die vereistes, alhoewel ek wonder wat sal gebeur indien enige van hulle ’n nag in die tronk sou deurbring.

Die verskillende #MustFall-bewegings het van die begin kortgeskiet. Geweld was nog altyd deel van hulle strategie, of dit nou is deurdat standbeelde afgebreek word, of ontlasting geslinger word. Burgerlikeversetters breek nooit een stel wette om ’n punt te maak oor ’n ander stel wette nie. Die wette waarteen burgerlike-ongehoorsames hulle verset, word altyd direk geteiken. Enigiets anders is bloot misdadigheid verskuil as aktivisme en altruisme.

In verskeie lande in die wêreld is daar skrywers en joernaliste in aanhouding, gewoonlik weens een of ander vorm van kriminele defamasiewetgewing. In elke geval is daar kritiek uitgespreek teen ’n despotiese leier, en dan word hulle in aanhouding geplaas. Op die oomblik is daar verskeie joernaliste in veral Iran en Turkye wat op eetstakings is.

In Suid-Afrika is ons gelukkig genoeg om nog ’n redelik funksionele regstelsel te hê. Dit moet egter jaloers bewaak word, want toenemend word ander staatsinstansies en -organe gebruik om een enkele persoon se politieke loopbaan te beskerm.

Dit sal interessant wees om te sien hoe Suid-Afrikaners gaan reageer op die onlangse verwikkelinge in die land. Daar is vele geleenthede vir burgerlike verset, maar die vraag is of ons nie alreeds so verval het in ’n kultuur van gewelddadige verset dat vreedsame verset volksvreemd begin word het nie. Ons sien dit met elke optog. Sonder uitsondering begin dit vreedsaam, maar kort voor lank begin relatief klein groepe slaags raak met die polisie wat monitor, of hulle begin winkels stroop. Die uiteinde is dat die hele optog in ’n reeks bloedige skermutselinge met polisie ontaard.

Ek onthou hoedat studente sit-ins gehou het in die tagtigs. Daar’s ’n woede, gekoppel aan ’n sense of entitlement, wat vandag se studente openbaar wat skynbaar vreedsame protes uitsluit.

Daar is groepe wat TV-lisensiehouers aanmoedig om nie hul lisensie te betaal nie in protes teen die wyse waarop Hlaudi Monoeneng die openbare uitsaaier gebruik het om ’n bepaalde politieke agenda te bevorder. Of die groepe egter genoegsame steun het om ’n beduidende impak te maak, is te bevraagteken. Ditto met diegene wat reken belastingbetalers moet belasting weerhou in protes teen die wyse waarop Pravin Gordhan aangekla is van bedrog.

Die Khwezi-aktiviste het gewys dat dit vir ’n klein groepie moontlik is om vreedsaam te protesteer. Die toets vir Suid-Afrikaners is nou of dit ook in groot getalle kan gebeur.

Bestaan die nodige dissipline om effektiewe weerstand te bied, of moet ons steeds mob mentality vrees?

Die massas wat onderneem het om November op te trek na Pretoria vir Gordhan se eerste hofverskyning, lui hopelik ’n nuwe era van burgerlike verset in. Ons kan nie meer gewelddadige protes bekostig nie – nie in ekonomiese terme nie, maar veel meer belangrik: ons kan dit nie moreel bekostig nie.

Die tyd het aangebreek om terug te keer na basiese beginsels. Ons kan nie bekostig dat ’n irrelevante en korrupte leierkorps ons moraliteit bepaal nie. Ons kan nie bekostig dat ’n woedende jeug met geen belang om in stand te hou of op te bou ons moraliteit bepaal nie.

Die tyd het gekom vir etiese, morele verset gebaseer op rotsvaste beginsels.

The time is now.

  • 3

Kommentaar

  • Uitstekend.
    As al ons Suid-Afrikaners die geduld en kalmte kan aanleer om doodstil te staan of sit op die sypaadjies en in die strate, soos Gandhi se passive resistance, sal ons 'n magtige dreuning veroorsaak.

  • Hierdie is dalk die antwoord op die kern van die moraliteitsprobleem. Die antwoord op die "woedende jeug" is egter meer ingewikkeld. Dalk moet ons daar ook na die basiese beginsels terugkeer - geweld baar geweld.

  • Manie Rossouw

    Ek stem volmondig saam maar ons het al sover verval dat ons nie meer helder dink of sien nie. As die leier van die land dan voorloop in ongehoorsaamheid dan is dit vanselfsprekend dat die nasie gaan volg want dit word dan die norm daarom gaan die waterbeperking moeilik afgedwing word want die mense gee net nie meer om nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top